Showing posts with label De Waal Venter. Show all posts
Showing posts with label De Waal Venter. Show all posts

Sunday, March 6, 2022

Resensie | De Waal Venter – Vrugbeginsel | Naledi, 2021

De Waal Venter – Vrugbeginsel. Naledi, 2021. ISBN: 9781928530855 

De Waal Venter se werk as vertaler van Pablo Neruda, Octavio Paz en Tomas Tranströmer het die Afrikaanse letterkunde verryk. Hy is tereg bekroon met ‘n Akademie-prys vir sy vertalings van Neruda in 2020 wat heet Vandag is boordensvol (2017).

 

Vrugbeginsel is die titel van sy jongste bundel. Ovarium is die geleerde, wetenskaplike naam. Die leser hoor ook die beginsel van vrug. Die soeke na essensie. In die hart van die blom wat ryp word en saad voortbring. 

 

Iets wat dus groei en uitwaaier in meervoudigheid. Die leser, soos die agterplat beduie, se leesproses is só ‘n komplekse een.

 

Die vorige bundel se titel Oop sirkel (2017) vra vir ‘n voltooiing deur die leser.

 

In Vrugbeginsel kan veral die invloed van Paz gesien word. Die stilte, die sagte prosesse wat ongestoord voortgaan, word hier ondersoek. Hierdie dialektiese proses tussen Venter se vertalings van Paz en Neruda én die jongste bundel is vir hierdie leser besonder relevant.

 

So open die bundel se programvers:

 

Verwagting

 

Vroeër vanoggend
het die lewe oopgeplooi,
kroonblare wat wegvou
van die vrugbeginsel,
oop vir die son.

 

*

 

Ongesien in die donker

het selle meioties van mekaar geskei;

een van hulle gaan ’n mens help maak.

 

*

 

Vroeër vanoggend 

het dit alles gebeur,

en dit is nog aan die gang.

Gebeure drom saam

voor die toe deure

van die komende sekondes. (9)

 

“Haikoe” (11) som dan ook die skryfproses op van hierdie digter:

 

Oop hand kelkblare

hou die vrug se beginsel –

vrug met blom in hom.

 

“Die druiwekorrel wat regtig bestaan” (17) aktiveer die gesprek met Zeno. Hierdie bundel sit vol paradokse, soos ons lees in die gedig oor Galileo Galilei en die “eppur si muove” (19) wat eindig met die akkedis wat haar pensie skuif oor die warm klip:

 

Dalk praat sy gesellig

met die swanger aarde

en eet die planeet se wiskunde

soos muggies.

 

Wiskunde en filosofie; dialektiek en paradokse. “’n Onbevredigende romanse” bekyk die rekenkunde van verwerping én die ingeboude pyn van verhoudings (20).

 

In “Haarfyn uitgelê” (25) besin die digter oor fyn onsigbare drade tussen mense sedert die Grieke in die agora en die hede waar die heelal erge vergifting en ekologiese probleme moet trotseer.


Dit word dan uiteindelik alles rommel deur die eeue (27).

 

Dante, Fernando Pessoa en Tranströmer is in die tweede afdeling beduidende gespreksgenote. “Bure in die antroposeen” (48) speel in op Toon van den Heever, Marais en Van Wyk Louw en hoe hierdie digters verwonderd sou wees oor hoe die wêreld verander het. Die Internet, is nou ‘n elektroniese koningin.

 

“Toepaslike soekwoord” (50) wys op die spreker se soeke na vervulling. Maar die soekwoord bly helaas uit. Die digter sal ‘n woord vir sy melancholie moet vind.

 

Geur is dan in ‘n volgende gedig die verganklikste van alles, maar word die langste onthou. In die derde afdeling vind ons aweregse humor soos “Ons weet nie”:

 

Niemand weet

presies wat die sintaksis is

wat bome gebruik wanneer hulle gesels

net voor ‘n storm … (59).

 

Die digter met al die slim verwysings verwys na sy welverdiende graad in onkunde (60).

 

Jammer dat Krige se naam ‘n kleinletter het op bladsy 70.

 

In die slotafdeling spreek die digter sy muse aan en dit word dan ‘n toespeling op Pessoa wat verskillende personas geskep het. Hier is daar ene Yanni Euterpe. “Weemoed is delikaat soos die begin van ‘n droom”, lees ons op bladsy 91. Die verwysings na die tamatie en ui speel in op Neruda se bekende verse oor groentes.

 

Dit is veral die invloed van Octavio Paz, die Meksikaanse digter, wat sterk inspeel op hierdie digter se besinnings. Die oënskynlike, die onbenullige, die toevallige word saamgesnoer in gedigte. Paz word beskryf as surrealisties en eksistensialisties. “Die labirint van eensaamheid” is immers een van Paz se bekendste verse.

 

So vertaal hy Paz:

 

Twee lywe (Dos cuerpos)

Octavio Paz 

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer twee golwe

en die nag is ’n oseaan.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer twee klippe

en die nag is ’n woestyn.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer wortels

vervleg in die nag.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer messe

en die nag is weerlig.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is twee sterre wat val

in ’n leë hemelruim.

 

Uit: Libertad bajo palabra, 1949

(Octavio Paz | Drie gedigte in-Afrikaans vertaal deur De Waal Venter. Besoek 22 Februarie 2022)

 

Die stylgrepe vind die leser terug by Venter: die hier-en-nou en ‘n aweregse blik op die werklikheid met ‘n besinning oor die wiskunde, wetenskap, biologie.

 

Die verwysing na Uys Krige, daardie manjifieke vertaler, gee baie sleutels vir die leser. Soos Lorca se oënskynlik eenvoudige verse …

 

Daar is baie dinkwerk in hierdie gedigte en die leser wat al die verwysings opvolg, word ryklik beloon. Net soos met die lees van sy Neruda-vertalings.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Sunday, February 28, 2021

Resensie | Tomas Tranströmer – Alles keer om (Vertaal deur De Waal Venter | Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020

Tomas Tranströmer – Alles keer om (Vertaal deur De Waal Venter. Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020. ISBN 978 0 620 905022 2

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Die skoonheid van wondere is gevind

 

I

De Waal Venter het met sy Pablo Neruda-vertalings Vandag is boordensvol (2019) die gesogte Akademieprys gewen.

http://joanhambidge.blogspot.com/2019/08/resensie-de-waal-venter-vandag-is.htmlBesoek 24 Desember 2020

Alles keer om is sy vertalings van Tomas Tranströmer se verse wat in 2011 met die Nobelprys vir letterkunde bekroon is. Gebore 1931 en oorlede in 2015 was Tranströmer digter, vertaler en sielkundige.

 

Modernisme, ekspressionisme, surrealisme – so is hierdie gedigte al tipeer. Hierdie digter – soos vele modernistiese digters – is beskuldig van ‘n a-politiese aanslag.

 

Met die lees van hierdie pragtige antologie het hierdie leser weer teruggekeer na die verse van Wallace Stevens, in lewe ‘n baas van ‘n assuransie-maatskappy in Connecticut en volgens homself glo ‘n Sondagdigter, gebore in 1879 en oorlede in 1955.

 

Opperman was ‘n groot bewonderaar van Stevens se poësie.

 

In “An Ordinary Evening in New Haven” (1950) skryf hy:

 

The poem of pure reality, untouched

By trope or deviation, straight to the word,

Straight to the transfixing object, to the object 

At the exactest point at which it is itself,

Transfixed by being purely what it is.

A view of New Haven, say, through the certain eye,

The eye made clear of uncertainty, with the sight

Of simple seeing, without reflection. We seek

Nothing beyond reality.

 

Stevens is duister, verwikkeld, maar soms ook liries. Soos Tranströmer, waar die lees van sy gedigte ‘n bykans hipnotiese effek het op die leser. Die voorblad gee vir ons ‘n ómgekeerde beeld van ‘n idilliese Sweedse huis met bome …

 

Helaas is alles nie pluis hier nie. Ons verneem van ‘n onstelde meditasie en daar is elegiese verse. Telkens word ‘n mens bewus van ‘n dubbele keuse en tyd is ‘n gevange insek:

 

                                               My polshorlosie

gloei hardkoppig met die tyd se gevange insek. (39)


Daar is grimmige ondertone in hierdie verse soos die verwysings na Georges Simenon, die bekende Belgiese speurskrywer en die Bockstenman wie se lyk in 1936 ontdek is in ‘n bog – deurboor & vasgepen met twee houtpenne…

 

Simenon se lewe was ook vol onstuimighede ten spyte van speurder Maigret se beheer oor alles. En Tranströmer skryf oor stilte – nes sy meesterlike landgenoot Ingmar Bergman dit weer op sy beurt uitstekend vertolk in films. Autumn sonata (1978) en The silence(1963) bly gewoon hoogtepunte in die verbeelding van ‘n versmorende stilte wat sy digterkollega eweneens aanspreek.

 

“In klein bleek telegramme van die wêreld” (51, “Lamento”) is die pynlike geskiedenis van die Afrikaanse digter D.P.M. Botes opgesluit.

 

Soos Stevens werk Tranströmer met verwysings, selfs soms met ‘n voetnoot; ander kere moet die leser self die verwysing ontsluit.

 

II

“Oggendvoëls” (65) is betowerend mooi en hierdie ekster gesels met Opperman se narokkong. Die ekster is die hel se voël; by Opperman is die narokkong, via Sangiro se Koors, die draer van slegte nuus. Opperman se “Koggelbos” (Komas uit ‘n bamboesstok)gebruik die narokkong met sy grieselige, eentonige en rou geroep, soos Snyman uitwys in Mirakel en muse (129).

 

Stilte. Eensaamheid. Isolasie. Die soeke na sin en betekenis navigeer hierdie besondere verse vérder. Grimmige humor vind ons ook soos in “Oklahoma” (73) waar die Sweedse besoeker na ‘n Indiaanbyl kyk …

 

In ‘n lewenskets van Grieg (“‘n Kunstenaar in die Noorde”, 79) is die vleuelklavier so beknop ingepas as ‘n swael onder ‘n teëldak. My eksemplaar sit vol uitroepe waar ek so bekoor is deur ‘n mooi beeld.

 

Daar is verse wat kort en kragtig is; selfs ook ‘n villanelle, prosaverse – telkens bly die leser bekoor deur ‘n vers wat jou inkatrol en onkant betrap.

 

Die posseël se vlieënde tapyt

die adres se steierende letters

plus my verseëlde waarheid

swewend nou oor die oseaan. (“Lugpos”, 169)

 

Die digter betrek die geskiedenis, die skilderkuns (o.a. Turner), musiek, en daar is selfs ‘n verwysing na die Transvaal.  Shangai en uit ‘n Afrika-dagboek staan hier.

 

Daar is soos by Wallace Stevens ‘n soeke na die woord wat die regte emosionele lading moet weergee. Soos by Opperman.

 

III

‘n Groot geskenk in hierdie troebel dae hierdie vertalings van De Waal Venter. Hierdie leser ken nie Sweeds nie, maar via die Engelse vertalings imponeer De Waal Venter s’n bepaald.

https://www.poetryfoundation.org/poems/51016/the-indoors-is-endless  Besoek 24 Desember 2020

 

Hy het in Venuti se terme die gedigte huis toe gebring.  In ‘n nawoord gee De Waal Venter redes vir sy keuses en verwys na verskillende vertaalteoretici se sieninge oor vertaling. Sonder vertalings sou ons ervaring van ander letterkundes nie bestaan het nie.

 

Ek is geborge in my skadu

soos ‘n viool

in sy swart kas … (“April en stilte”, 171) 

 

is ‘n melancholiese strofe wat hierdie leser al lankal met haar saamdra, danksy De Waal Venter se bekendstelling van hierdie digter aan ons en een wat ek met sy toestemming as ‘n motto wil gebruik.

 

“Droomseminaar” (148) is ‘n gedig wat sterk resoneer met die tyd waarbinne ons leef …

Die onlogiese, die primitiewe, die droom, stiltes en spiritualiteit word saamgesnoer in wonderbaarlike gedigte met worstelstelsels wat ondergronds práát met ander digters in die “oop en geslote ruimtes” van die digkuns.

 

Daar is soos Neruda mos gewaarsku het: geen digters nie; net een groot digkuns.

 

Bronne:

Shumaker, Wayne. 1965. An approach to poetry. Londen: Prentice Hall.

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

 

 

Lys van bundels:

  • 17 Poems (17 dikter), Bonniers, 1954.
  • Secrets on the Way (Hemligheter på vägen), Bonnier, 1958.
  • The Half-Finished Heaven (Den halvfärdiga himlen), Bonnier, 1962.
  • Bells and Tracks (Klanger och spår), Bonnier, 1966.
  • Seeing in the Dark (Mörkerseende), Författarförlaget, 1970.
  • Paths (Stigar), Författarförlaget, 1973.
  • Baltics (Östersjöar), Bonnier, 1974.
  • The Truthbarrier (Sanningsbarriären), Bonnier, 1978.
  • The Wild Market Square (Det vilda torget) Bonnier, 1983.
  • For the Living and the Dead (För levande och döda), Bonnier, 1989.
  • The Sorrow Gondola (Sorgegondolen), Bonnier, 1996.
  • Prison (Fängelse), Edition Edda, 2001 (from 1959).
  • The Great Enigma (Den stora gåtan), Bonnier, 2004.

 

 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

Monday, August 5, 2019

Resensie | De Waal Venter – Vandag is boordensvol (2019)

De Waal Venter – Vandag is boordensvol. Naledi, 2019. ISBN 9781928426851

Resensent: Joan Hambidge

I

De Waal Venter se vertaling van Pablo Neruda se verse in die versameling Vandag is boordensvol is 'n aangrypende en mooi vertaling. Uys Krige het in Spaanse dans (Human & Rousseau, 1969) Afrikaanse lesers aan die Spaanse digkuns bekend gestel van sowel die Spaanse landskap as digters uit Suid-Amerika.

De Waal Venter neem die projek verder met 'n meer uitgebreide versameling. In 'n onderhoud op die Versindaba (Onderhoud/ Vandag is boordensvol. Pablo Neruda (vert. De Waal Venter). Besoek 21 Julie 2019) erken hy tereg dat van die politieke verse van mindere allooi is. Tog is die beroemde “Alturas de Macchu Picchu”, 'n sterk politieke en historiese gedig, gepubliseer in 1947 en later opgeneem in die Canto general (1950).

Die vertaler interpreteer dan hoe hy elke afdeling sien vir die leser. 

Neruda se politieke posisie – sowel as konsul as aktivis – het hom ongewild gemaak, o.a. by Borges. Borges was meer konserwatief en het probleme gehad met Neruda se politieke standpunte.

Die film Il postino (1994) gee 'n gefiksionaliseerde weergawe van sy lewe: as minnaar, digter en held vir gewone mense. Hierdie film van Michael Radford en Massimo Troisi handel oor die besoek van die groot skrywer aan 'n Italiaanse eiland. Hy moet vlug weens politieke redes en vind asiel op 'n eiland. Hier ontmoet hy 'n posman (wat nie meer 'n visterman wil wees nie) wat verlief raak op 'n meisie en haar oorwin met die digter se verse wat hy “aanpas”. 

Die posman identifiseer met die digter se persona. Hy bewonder sy liefdesverse en sy politieke standpunte.

Ná die jongman met sy skone geliefde trou, word Neruda se ballingskap opgehef.

Mario skryf vir Neruda, maar hy kry geen antwoord nie. Maande later is daar wél ‘n brief met die versoek om al sy besittings terug te stuur na Chili. Die posman wag egter tevergeefs op 'n persoonlike brief van Neruda…

Hy maak egter opnames van die see vir Neruda, en sterf in ‘n kommunistiese opstand. Na sy dood ontmoet Neruda sy vrou en seun.

II

Ek verwys na die film Il postino omdat 'n vertaling, soos 'n film, 'n interpretasie is en op bepaalde keuses berus. Gaan die vorm behou word? Die rympatrone? Kan jy die klanke van een taal na 'n ander oordra?

Daar bestaan geweldig baie vertaalteorie.

Moet daar getrou gebly word aan die oorspronklike of moet jy die teks huis toe bring? Dis Venuti se idee.

Is digters beter vertalers? Waarom kies 'n vertaler 'n bepaalde digter? 

Die leser van 'n gedig wat nie bekend is met die oerbron nie, wil gewoon net voel die gedig dans of sing in die nuwe taal. Dit is dan ook verkieslik om die brontaal op die linkerbladsy te plaas sodat die leser dit kan vergelyk met die vertaalde weergawe.

'n Digter van statuur - soos Neruda - het gedugte vertalers en verskillende weergawes van enkele gedigte bestaan.

Die De Waal-teks kort 'n indeks en die Neruda-leser sou meer wou weet oor die keuses wat hierdie vertaler gemaak het.

Die speurende leser wil vergelyk, want elke vertaling klink immers anders. Geen vertaling is ooit volmaak nie en elke vertaling gee die duimafdruk van die vertalende digter weer.

Wat De Waal Venter wel doen, is 'n heerlike leeservaring.

So begin 'n vers:

Lief, as ek kyk na die vorm
van Amerika op 'n kaart,
is dit vir jou wat ek sien:
die hoë koperkrulle op jou kop,
jou borste, koring en sneeu,
jou slanke middel,
vinnige polsende riviere, pragtige
heuwels en prêries
en in die koue suide eindig jou voete
jou geografie van gedupliseerde goud

(“Pequeňa América” / “Klein Amerika” /, 45)

In die bekende “Ode al libro (I) / Ode aan die Boek (I)” bely Neruda:

Ek sal nie geklee gaan
in volumes nie,
ek kom nie uit versamelde werke nie,
my gedigte
het nie gedigte geëet nie,
hulle verslind
opwindende gebeurtenisse,
hulle verorber
swaar weer,
grawe hulle voedsel
uit die aarde en mense.  (66, 67).

'n Sentrale vers om Neruda se gedigte oor tamaties en uie te verstaan.

By Neruda is die digobsessie altyd aanwesig: die sillabes van water.

In “Ode a Una Castaňa en el Suelo” (“Ode aan die kastaiing op die grond”, 91) lees ons:

Deur daardie opening
het jy die wêreld gesien,
voëls
propvol sillabes,
dou sterskitterend ...

Hierdie vertaler vaar beter wanneer hy eenvoudige odes vertaal. Daar is pragtige vondse soos “En elke wond behou / die vorm van jou wond” (30).  “Ode al traje” (“Ode aan klere”, 74) verklap iets van Neruda se briljante vermoë om uit die gewone poësie binne te gaan, soos die gedig lui.

Die klere word hý:

Julle wapper en tril
in die wind
asof julle my siel is.

Die bekende “Oda ala alcachofa” (“Ode aan die artisjok”) “met sy teer hart / aangetrek soos 'n krygsman”, bly bekoor (77).

Die beroemde “El Cóndor” (“Die kondor”) op bladsy 34 is 'n ars poetica. 

By die sonnette sukkel hy om die strikte vorm van een taal na 'n ander te transporteer.  Kyk byvoorbeeld na hierdie sonnet:


En medio de la tierra apartaré
las esmeraldas para divisarte
y tú estarás copiando las espigas
con una pluma de agua mensajera.
Qué mundo! Qué profundo perejil!
Qué nave navegando en la dulzura!
Y tú tal vez y yo tal vez topacio!
Ya no habrá división en las campanas.
Ya no habrá sino todo el aire libre,
las manzanas llevadas por el viento,
el suculento libro en la enramada,
y allí donde respiran los claveles
fundaremos un traje que resista
la eternidad de un beso victorioso.

By De Waal Venter word die kompaktheid van die vers verontagsaam.

Hy sluit:

en daar waar die angeliere asemhaal
sal ons 'n kledingstuk aanmekaarsit wat die ewigheid
van 'n seëvierende soen sal weerstaan 

(“Sonnet C”, 58).

Weer eens. 'n Vertaler maak sy eie keuses. Bethany and Remy Wilkins vertaal anders as Stephen Tapscott. Of Gustavo Escobedo ...

Ek wil die dors sien
binne die sillabes:
ek wil raak aan die vuur
in die klank:

(“Verbo” / “Werkwoord”, 177).

Soos daardie posman was De Waal Venter ook bekoor deur Neruda en bring hy die gedigte huis toe. In Afrikaans.

III

Om die Canto General te lees terwyl die Urubamba verby vloei, is 'n besonderse ervaring. Ek het Chili een keer en Peru drie keer besoek. As jong digter het ek in 1990 in Verdraaide raaisels geskryf oor Macchu Picchu, en toe kon mens nog tot bo uitklim. “El condor pasa”, so mooi vertolk deur Simon & Garfunkel, het jy orals op panfluite gehoor. Later in Vuurwiel (2009) het ek weer oor hierdie landskap gedig.

Die digter Johann Lodewyk Marais het eweneens my liefde vir Neruda se digkuns aangewakker en in sy debuut Die somer is 'n dag oud skryf hy oor hierdie digter. Hierdie bundel is in 1984 met die Ingrid Jonker-prys bekroon.

In 2015 het ek die verskillende huise van Neruda in Chili besoek en gedigte het in my bundel Indeks (Human & Rousseau, 2016) beslag gekry. Die reis is opgeteken: Woorde wat weeg/ Reisjoernaal/ Chili 2015 (Deel XVIII). Besoek 21 Julie 2019

IV

Die bundel maak ongelukkig moeilik oop in sagteband wat die leesproses bemoeilik.

Naledi moet bedank word vir hierdie projek en Medpharm Publikasies vir hul borgskap.

Tuesday, November 14, 2017

Resensie. De Waal Venter - Oop sirkel (2017)

De Waal Venter - Oop sirkel. Naledi, 2017. ISBN: 978-0-928316-73-5

Resensent: Joan Hambidge

De Waal Venter se bundel Oop sirkel het sopas by Naledi verskyn.

Vorige tekste is Kiem, Pols en Klawer (saam met D.P.M. Botes en Menno Stenvert).

Daar is ook ʼn Engelse digbundel Entangling States of Mind (2010) beskikbaar. Hierdie skrywer is kortverhaal- en jeugboekskrywer. Hy is bekend in die wêreld van verhoog- en radiodramas.

Lesers van Versindaba sal bekend wees met sy goeie artikels oor minder bekende Spaanse digters en vertalings, onder andere van Tomas Tranströmer uit Sweeds en van Pablo Neruda uit Spaans.

Dit sou handig wees as hierdie vertalings in boekvorm kan verskyn – gedagtig aan Uys Krige se Spaanse dans (1991) en Ballades van Villon (1987).

In ʼn stuk op Versindaba (Versindaba » De Waal Venter. Die vertaler as lewerik. Besoek 26 September 2017) wys Venter tereg daarop dat vertalings dikwels verouder; hierom sou ʼn mens inderdaad ʼn klomp digters wou sien wat Neruda of ander groot digters her-vertaal.

Sekere woorde het outyds geraak en hy skryf:
Dit is merkwaardig hoe vreemd die Afrikaans uit die dertigerjare vir ʼn hedendaagse leser kan voorkom. Woorde soos sterfling, ieder digters, swyend-stom, toebeskoor, klaarte ens. verwag mens nouliks in ʼn moderne gedig, om nie eers te praat van gesprekstaal nie.
Die titel van die pas verskene digbundel moet so gelees word: “ʼn Sirkel het geen punt wat as “voor” of “agter” beskryf kan word nie. Enige punt op ʼn sirkel het presies dieselfde status as enige ander punt", aldus die publisiteitspamflet.

Afdeling I & III handel oor die persoonlike geskiedenis, terwyl die tweede afdeling oor die liefde handel. In die vierde afdeling kom die filosofie en wetenskap aan bod. Die vyfde en sesde afdelings betrek humor en ironie en die sewende een handel oor die digkuns. Die laaste afdeling bevat prosagedigte.

In J.C. Kannemeyer se beknopte Die Afrikaanse literatuur 1652 – 2004 word verwys na die ek-gesentreerde poësie van hierdie digter, wat nie ʼn wesentlike beswaar mag wees nie. Hy verwys na die ‘weinig beelding’ en swak liefdesverse (460).

Van die generasie waartoe Venter behoort het met sy beginjare as digter, het Breytenbach die sterkste na vore gekom en ʼn ander tydskrif-genoot, Wilma Stockenström het weer op haar beurt ʼn besondere stempel afgedruk. Die digter het in 1963 gedebuteer.

Venter se verse sluit dan aan by die losser gestruktureerde verse uit die sestiger- en sewentigerjare. Hierdie soort vers werk assosiatief en wentel rondom opsetlik disparate én teenstrydige beelde. Hierom haal hierdie leser dan die kwessie van ʼn ouer idioom aan wat hy aanraak oor vertalings. Vir my gevoel is sy verse in ʼn ander toonaard geskryf as die sterker gestruktureerde verse van Johann de Lange of byvoorbeeld Johann Lodewyk Marais of Martjie Bosman.

Hier is opwindende idees - veral oor die wetenskap en die gedig wat op sigself inbuig - in die bundel te bespeur, maar selde is daar vuurwerke in ʼn gedig. Dikwels is dit net verkapte prosa, omdat die digter slim idee wil oordra, soos “Droom muskiete van elektriese skape?” (73) “Onbekende digter’ (109) klink so:

Hendricus van Laatmijgen
is geheel en al onbekend
in die geskiedenis van die Nederlande
van die sewentiende eeu …”

“Poësie is die ware taal van die ongetemde gemoed!”, meen die digter op bladsy 108.

Hierin probeer hy bepaal wát die ware gedig is, al dan nie. Maar selfs hier in die getob oor die kunsvorm, bly dit net stelling. Dieselfde geld “Poësie as ʼn organisme” (103) waar ons die lewenskrag mis van die gedig.

Ons vind talle self-bewuste of narcistiese verse wat handel oor die digterskap in ʼn voortdurende soeke na die “ware gedig”. Selfs met ʼn gewapende skeut ironie en Linda Hutcheon se Irony’s Edge in jou leessak, sukkel dit.

ʼn Sentrale vers handel oor Einstein en Dr. Seuss wat nie hou van lyn-teorie nie (70).

Einstein en Seuss hou nie van die lyn-teorie nie

Doktor Seuss en professor Einstein
drink bier
in ʼn ersatz Switserse kroeg
in ʼn Los Angeles
wat voortdurend opgedateer word.
Einstein skommel ingedagte ʼn paar dobbelsteentjies in sy hand:
“God speel nie hiermee nie,”
sê hy koppig.
“Tyd is ʼn pretzel,”
antwoord doktor Seuss,
tel een op en hap daaraan.
“Eienaardig dat ek sit en gesels
met ʼn fiksionele karakter,” mymer Einstein.
“Nie so vreemd as die werklikheid nie,” glimlag Seuss
en vat ʼn teug van sy bier.
“Nou watse hoed is dit daardie van jou?”
vra Einstein.
“Ons hou daarvan om verskillendes te dra,
ek en my neef.”
“Neef?”
“Ja, hy’s ʼn bietjie van sy kop af, ʼn hoedemaker.”
Einstein dink ʼn bietjie. En dan: “Watter hoed
dra jy nou?”
“Die een waarin die heelal ʼn ballon is,”
verduidelik Seus en vee sy bolip af.
“Die een sonder vaste lyne.”
Einstein se snor glimlag.

Die leser word uitgenooi om die bundel op enige plek oop te maak en onderlinge verwantskappe raak te sien. Die voorblad (parateks) aktiveer ʼn diskoers van on-eindigheid. Vir my lyk dit na ʼn komputer wat uitmekaar gehaal is - die bord wat jy sien. So maak hierdie bundel prosesse in die digkuns en wetenskap oop.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)