Saturday, February 24, 2024

Rubriek | Joan Hambidge - Wilgenhof en rituele | 2024

I

Waarom die bohaai oor Wilgenhof? Waarom sulke uiteenlopende stemme en stryd? 

Oud-Wilgenhoffers wat alles kontekstualiseer en briefskrywers wat eweneens terugkyk en onthou. Positief teenoor negatief.

 

II

In 1975 is ek ‘n eerstejaarstudent aan die Universiteit van Stellenbosch, meer spesifiek: Huis Erika. Die ontgroening staan my nie aan nie (‘n stoel bo die bed met ‘n glas water bo-op) en simpel uitstappies gereël deur seniors. Van studie is daar maar min sprake. Verpligte uitstappies met ‘n manskoshuis langs die Laan.

 

Sondae die Carpenters se geteem oor ‘n luidspreker in die eetkamer.

 

Ek verlang huis toe. Na my enkelkamer en my vryheid. Aant huise had ek meer vryhede en agentskap as in my eerstejaar waarna ek so uitgesien het.

 

In die koshuis (Blok B) is ons vasgekeer: twee in ‘n kamer in ‘n kubikel met ‘n beterweterige senior (L.O.) uit die domste hoogte. Daar is ‘n koffieruimte waarheen ek ontglip om te studeer. Soggens douvoordag probeer ek studeer; helaas, dit werk nie. Teleurgestel oor die afwesigheid van dit waarna ek uitgesien het.

 

Ek voel vervreemd. Word godesydank geskuif na ‘n enkelkamer om die hoek, omdat ek nie “inpas” nie. 

 

Hierna beleef ek die dubbelspraak van ‘n dameskoshuis en oortree die reëls.

 

Slaap selfs ‘n keer of wat oor in Helshoogte (heel veilig), omdat ek nie betyds my koshuis kon binnegaan nie. Iemand anders teken vir my in. Ek help by twee, drie geleenthede ‘n vriendin (ook laat) om oor die balkon te kom. 

 

Klippies teen die venster.

 

Met ‘n boyfriend wat van onder por en ek wat haar optrek. Een aand kry ons dit nie reg nie en ek (en sy) maak die louvres van die onderste blok oop. Sy klim deur. En die volgende oggend (ten spyte van my nougesette poging om alles te herstel), bliksem die glasstawe uit.

Onmiddellik word ek verdink. Wéér in die koshuismoeder se sitkamer met die primaria en die huiskom.

 

Ek kan nie my straf onthou nie. Ek onthou net die koshuismoeder (‘n oud predikantsvrou) se tirade en geskel.

 

En haar persoonlike, grensoorskrydende opmerkings.

 

Dit was in die dae van tiekiebokse. Ek bel my oudste suster, ‘n onderwyseres in Oos-Londen, wat in Harmonie was en sy troos my.

 

Hierna leef ek buite die koshuis. Kry ‘n kamertjie van ‘n vriend waarin ek tuisgaan, terwyl hy weg is op reis. My ouers dink ek is “gelukkig” in die koshuis. Ek lees en studeer in die kamertjie. Eet steeds in die koshuis. Moes hier bly weens beursverpligtinge.

 

Hier beleef geweldig baie: meisies met bulimi, anoreksia en oënskynlike straight meisies wat op ‘n bed lê en vry. ‘n Koshuismaat wat halfpad deur die jaar verdwyn en weer die volgende jaar stilswyend haar opwagting maak.

 

En my ouers woon ver in die ou-Transvaal. Ek is alleen en worstel met my gay-identiteit. Voel displaced as ‘n vreemdeling uit ‘n ander bestaan. En is boonop nie een van die hoofstroom nie.

 

III

Ek onthou Wilgenhof ook. Anders as die slegte beeld wat nou uitgedra word, het ek studentemaats in hierdie koshuis geken. Hulle was slim en intellektuele gespreksgenote. 

Meesal regstudente en ‘n paar tokkelokke saam met my in die filosofieklas.

 

Beskaafd en beleefd. Edwin Cameron, primarius van Wilgenhof en op die studenteraad. Uitmuntende student. Puik Latyn-dosent.

 

Wilgenhof was nie deel van die hoofstroom nie, as ek reg onthou.

 

IV

In hierdie dae is Arnold van Gennep se beroemde studie oor rites telkemale aangehaal. Van Gennep (1873 – 1957) wys op die oorgange van een toestand na ‘n ander in Les Rites de Passages (1909).

 

Van Gennep is in Duitsland gebore en het in Frankryk studeer.

 

Separasie, oorgang én samesmelting. En Van Gennep sou kon uitwys dat ek nie deel geword het van my koshuiskultuur nie. Ek het buite die ruimte gaan soek na my heil.

 

En die oorgange is prosesse van liminaliteite. (Dalk hierom dat ek so baie van ‘n hotelverblyf hou?) 

 

V

 

Hierdie debakel neem my terug na die film Dead Poets Society waarin Robin Williams (John Keating) klasgee aan die Welton Academy in 1959. Dit is vervaardig deur Peter Weir (1989).

Wat binne ‘n bepaalde ruimte gebeur en dan na buite oorvertel word, lei altyd tot misverstand. In hierdie film word die onderwyser geskors wat die jong seuns die betekenis van Carpe Diem leer én om die digkuns (en lewe) anders te benader. En die selfdood van Neil (omdat hy wil toneelspeel en sy pa dit nie verstaan nie), is ook die onderwyser se “skuld”. Die onderwyser word skuldig bevind (die sondebok), die kinders draai teen hom, todat een kind (Todd vertolk deur Ethan Hawke) die onderwyser verdedig met “O Captain! My Captain”.

 

(Uit Walt Whitman se gedig by die dood van Abraham Lincoln). Dit is tersaaklik dat die toneelstuk hier A Midsummer’s Night Dream is.

 

‘n Komplekse film wat ek hier inkort om te wys op die kodes van die groep (tot stilte gemaan) en die een wat sal uitpraat en verdedig. Die geskorste onderwyser wat wél geraak is deur die ondersteuning; al is dit te laat.

 

VI

Stellenbosch was ‘n ander tyd, ‘n ander plek, in ‘n ander land.

 

Vir sommige mense is ‘n tradisie belangrik. Dit laat hulle geborge voel en deel van ‘n groep. Terwyl ek hierdie stuk skryf, word ek genooi na my skool-reunie (1974).

 

Ek sal nie gaan nie. Ek beweeg altyd buite die groep, maar respekteer ander se sieninge oor samehorigheid en saamtrekke.

 

Hierom begryp ons waarom sekere oud-Wilgenhoffers voel hul herinneringe is aangetas deur hierdie onthullings. En as daar iets buite orde was, moes dit by tog die polisiekantoor aangemeld word?

 

Deesdae word boelies blitsig kortgevat. En gender-neutrale koshuise gaan gewoon nie werk nie. Mans het ‘n ander siening van liggaamlikheid as vroue. (Boonop sal daar verkragting en seksuele gedoentes wees.) 

 

En dit sal beslis nie ‘n oplossing wees vir rituele en rites nie. Kyk maar hoe spook Yale ook om alles uit te wis. Hazingdurf nie; maar kyk na rituele o.a. in sport, wat deel is van maskuliniteite.

 

En (vir die rekord): as alles gesaniteer en gesuiwer en skoon gemaak word, wonder ‘n mens wat is volgende? 

 

Daar word alreeds beswaar gemaak teen transgressiewe boeke. Een van die dae sal daar ‘n simboliese stofsuier alle ontoepaslike gedagtes uitsuig soos in ‘n SciFi-film.

 

Die temenos (heilige sirkel) verskil van waar jy staan. Kom ons respekteer eerder verskillende sieninge en onthoue.

 

Joan Hambidge is tans ‘n Senior Navorser en Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.