Showing posts with label Rolprente. Show all posts
Showing posts with label Rolprente. Show all posts

Friday, February 3, 2017

Burn after Reading (2008)



I
Die idee van skering en inslag kom sterk na vore wanneer ‘n mens die films van die Coen-broers beskou. Die opwaartse draad en die draad wat hierteen gaan.

Ek bekyk tans die films van hierdie uitsonderlike duo. Burn after reading met George Clooney, Tilda Swinton, John Malkovich, Frances McDormand, Richard Jenkins en Brad Pitt.

Dit analiseer twee obsessies van die Amerikaanse kultuur, te wete die fiksheids- en liggaamsbewustheidskultuur en die doen en late van die CIA. Die bo-laag van skoonheid; die onderlaag van paranoia, komplotte en samesweringsteorieë.

Malkovich (Osbourne Cox) word gedemoveer as agent weens ‘n drankprobleem en hy besluit om te bedank. Sy vrou, vertolk deur die onblusbare Tilda Swinton (Katie Cox), het ‘n verhouding met Clooney (Harry Pfarrer). Hy begin sy memoirs skryf en dit beland per ongeluk in die gym. Dan word Malkovich afgepers deur McDormand (Linda Litzke) en Pitt (Chad Feldheimer). Haar mediese fonds wil nie betaal vir plastiese sjirurgie en sy sien dit as ‘n manier waarop sy dit kan doen. (Ten slotte word dit wel betaal. In ‘n ironiese wending.)

Met elke optrede is daar ‘n teen-aksie. Clooney verneuk sy vrou, ‘n skrywer wat op ‘n bemarkingstoer gaan. Maar sy is ook ontrou aan hóm; soos ons sien in ‘n klein vinjet.

Swinton, die pediater, wil van haar man skei en sy moet finansiële inligting aan haar prokureur deurstuur. En so belang die memoirs dus op die verkeerde skyf … en sy vergeet dit in die gym (Hardbodies). McDormand en Pitt besoek selfs die Russiese Ambassade met die hierdie geklassifiseerde inligting!

Clooney trek by Swinton in (haar man is nou uit die prentjie) en Pitt word per ongeluk in die kas doodgeskiet. Boonop is Clooney – soos McDormand – ywerige internetsekssoekers en hulle paaie kruis ook. (Skering en inslag!)

Boonop is Sandy, die skrywer, besig om Clooney, haar man,  dop te hou want sy wil van hom skei. Hy op sy beurt raak heeltemal paranoïes en glo dat McDormand ‘n spioen is wanneer hulle in ‘n park ontmoet. Sy is gewoon net te skaam om te erken dat die man ‘n vorige internetfiksasie is. Clooney hardloop weg, in ‘n toestand, en hy word later gedeporteer na Venezuela.

Cox skiet die hoof van Hardbodies, Ted (Richard Jenkins) dood, omdat hy dink dit is sy vrou se minnaar. Hy, op sy beurt, word deur die CIA raakgeskiet en beland in ‘n koma.

 II
Die dialoog en spel is briljant. In ‘n onderhoud het Tilda Swinton op ‘n keer bely hoe sy en Clooney gelag het oor die karakters wat hulle vertolk het. In die prettige onderhoude met die akteurs kan ‘n mens hierdie knipoog-aksie sien.

Die dialoog is briljant: Iemand se boude is so groot dat jy ‘n bus daarmee kan trek.
“Wie sal tog nou geïnteresseerd wees in jou memoirs?” teef Cox se vrou hom.
En McDormand – in ‘n ironiese oomblik – bely as karakter dat sy met haar gesig en lyf uit Hollywood gelag sou word; terwyl sy ‘n groot sukses is.
Die film eindig met die volgende wysheid van die CIA: “I guess we learned not to do it again”.

Ook die naamgewing is skitterend. Harry is ‘n Deputy-US Marshall; dus nog nie gearriveer nie. Sy minnares, vertolk deur die ysterkoningin, Tilda Swinton, kom uit ‘n ryk familie. Die spottery met die Princeton boys club is spot on. Malkovich se spel wanneer hy ontdek sy vrou het sy rekening leeggetap, is eweneens skitterend.

Is die obsessie met seks meer briljant voorgestel as met die masjien wat Clooney bou met die dildo?

Bradd Pitt as die dom fiksheidsinstrukteur wys sy akteurspiere.

III
Skering en inslag. Met elke optrede van hierdie kwirkie-akteurs, word daar ‘n dubbelspel gemaak.

In ‘n onderhoud met Anne Carson haal sy Lacan aan wat geskryf het dat “The reason we go to poetry is not for wisdom, but for the dismantling of wisdom.”

Dieselfde geld hierdie film: waarhede of geykte sieninge word telkens op die kop gekeer (Paris Review - Anne Carson, The Art of Poetry No. 88. Besoek 2 Februarie 2017).

Volgens die Nederlandse woordeboek aanlyn, beteken skering en inslag dit gebeur gereeld en dit is ‘n slegte ding (Dat is schering en inslag | Dutch Word of the Day. Besoek 2 Februarie 2017).

Anton Prinsloo in sy wonderbaarlike boek, Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, het my op hierdie soektog geplaas.

In Prinsloo se woorde:

Skering is die draad wat in die lengte van ‘n weefsel loop en inslag die dwarsdraad wat deur die skering loop.
Omdat dié proses by wewery nooit wissel nie, word dit aanvaar as die onveranderlike optrede van die wewer; die gewoonte dus (Pharos, 318).

Die Coen-broers (uitgespreek Cohen, nie Koen nie) het die gewoonte om op ‘n dwarse wyse die weefsel van hul samelewing uit mekaar te torring.

Net soos Lacan ook ons aannames oor die digkuns en lewe uitmekaar uittorring.


© Joan Hambidge

Friday, January 27, 2017

La la land

Damien Chazelle regisseur, met Ryan Gosling en Emma Stone

I
Aan die begin van The Pervert's Guide to the Cinema praat Slavoj Žižek, die psigoanalis, oor hoe films ons leer om liefde / begeerte te skep. Die rolprent La la land is enige psigoanalis se droom. Ofskoon dit handel oor Hollywood en al die kodes van die musical as genre gebruik (dancing in to song), behels die film veel meer. Dit is 'n rolprent wat die konstruksie van die self (die een hoofkarakter wil akteur word, die ander een musikant) ontleed.

Ook die konstruksie van die liefde, en in die besonderheid, ónvervulde liefde. Hierom dan die plakkaat van Ingrid Bergman (Casablanca) teen die einde van die film om te waarsku dat die droom dalk nie vervul gaan word nie?

Die titel aktiveer sowel Los Angeles as droomland of om nie met die realiteit in kontak te wees nie.

Die film werk met die kodes van die liefdesverhaal (boy meets girl) en daar is ‘n speelse verwysing na Parys, die stad van drome en die liefde waarheen die aktrise tydelik ontvlug. Sy keer terug, trou met ‘n ander man, raak ‘n moeder – en een aand loop sy weer (toevallig?) in die ou liefde se jazz-plek in waar sy hom sien optree. In sy fantasie beleef hy versoening.

Gaan hulle weer bymekaar uitkom, ja of nee?

Beide Gosling en Stone is bedrewe dansers. Hulle sing goed. Hy speel puik klavier. In die werklike lewe is hy ook musikant. Die sub-genre van die musical word eweneens geaktiveer. Die begin herinner aan West Side Story – en hier is die stemme gebruik van nie minder as Kiri Te Kanawa en José Carreras.

En Mamma Mia! met Meryl Streep kom eweneens ter sprake as ons dink aan goeie musicals.

II

La la land oes tans die een bekroning na die ander in. Wat hierdie kyker eerder interesseer (en boei) is die aktivering van die droomwerklikheid of fantasie. Die belangrike dokumentêr oor die Russiese filmmaker Tarkofski (regie deur Tarkofsky met Erland Josephson as die verteller) lewer belangrike kommentaar op hierdie aspek.

Filmmakers, volgens Tarkofski, wat eerder konsentreer op die droomaspek en ‘n unieke wêreld skep, is minder suksesvol as filmmakers wat ‘n storie vertel. Hy bly altyd deel van sy film, bely hy. Elke skoot, elke objek, elke aspek (selfs ‘n boom), oorweeg hy self. Anders gaan jou film verlore, soos dikwels in Hollywood-films gebeur waar die oorspronklike idee verlore gaan.

Daar word ryklik verwys na Sacrifice – waarin Josephson speel.

Hierdie film handel oor ‘n middeljarige intellektueel wat ‘n nuklêere ramp probeer verhoed deur met God te onderhandel. (Tarkofski, terloops was uiters spiritueel en dit was sy laaste film wat hy gemaak het voor sy ontydige dood en sy derde as Sowjet-ekspatriaat.)

Sy seun in die film is stom na ‘n operasie. (Hierteenoor is daar baie woorde en sang in La la land.)

Josephson was ook te sien in Nostalghia en het veral bekendheid verwerf as ‘n Bergman-akteur. Nou onlangs het ek weer na Scenes from a marriage, 1973 gekyk – met Liv Ullmann, Bergman se vrou – daardie verstommende analise van ‘n huwelik wat desintegreer oor ‘n periode van tien jaar, maar ook nie eindig nie. Tarkofski vermeld in die dokumentêr dat Josephson geen direksie nodig het nie; hy is ‘n uiters natuurlike, instinktiewe akteur. (En hoe meer ek na Tarkofski kyk, hoe meer is ek onder die indruk van sy werk. In hierdie stadium vind ek hom ‘n groter regisseur as Bergman weens die komplekse simboliek van sy films).

III

Bergman het in sy outobiografie na die filmkuns as ‘n magiese lantern verwys (Writings - Productions – Drupal. Besoek 26 Januarie 2017).

Wanneer ‘n film soos La la land ‘n mens inspireer om soveel ander tekste te betrek, dan gebeur daar meer as wat ‘n belewenis mag impliseer.


© Joan Hambidge