Showing posts with label Namibië. Show all posts
Showing posts with label Namibië. Show all posts

Sunday, August 6, 2017

Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel VI)

Met reis word die inpak makliker. Jy begin in jou gedagtes al die klere sien waar dit moet lê in die tas. Die verskillende sakkies met zippies word toegemaak: medisyne, pilletjies, parfuum, tandeborsels, waspoeiers ...

Boeke in 'n aparte handtas met skootrekenaar.

My gids neem my lughawe toe en by die geldwisselaar probeer ek geld omruil om die wisselkoers te probeer bepaal. Helaas geen geluk. Hy het nie geld om te ruil nie. Stadig, rustig met geen sorge nie bepaal hy die koers. Niks jaag hom nie. Nou begin my ou self ontwaak. Ek raak haastig.

Kanselleer die transaksie na 'n halfuur se soektog van die jongeling op sy sel. Vlieg terug en bly sowat drie ure op die lughawe waar ek transaksies afhandel, klere en kos koop en dan huiswaarts keer per skommelbus.

"Are you back, Priscilla Queen of the Desert?", vra 'n kollega telefonies. Nee ek is in die vlees terug; in die gees nog nie.

Elke nag droom ek van die Namib. In een droom is daar 'n gids wat beloof ons sal wildsvleis kry môre. 'n Herhalende droom. Ons ry lang ente oor duine.

Dan ontvang ons wel die beloofde vleis.

Ek lees Kleinboer klaar en dink oor Koos Kombuis se resensie waar hy dit vergelyk met Brink se Die ambassadeur in die ondersoek na ras. Sekerlik tog Kennis van die aand? (Boekresensie/ Hierdie huis deur Kleinboer | LitNet. Besoek 6 Augustus 2017).

Vir dae staan die tas in die slaapkamer, onuitgepak. Klippe van die Etosha en Namib lê op die bedkassie. In die kombuis is daar klippe uit Peru. Op die vensterbank uit Japan.

Die Japannese ruimte: volledig anders as die Namib. Vinnig, modern, elektronies ...

In tempels ervaar jy wel stilte ...

Die bullettrein (sinkansen) wat jou vervoer in 'n oogknip.

Sopas ontvang ek Ernst F. Kotzé se Afrikaans-Japannese woordeboek (Research Institure for Languages and Cultures of Asia and Africa. Tokyo University of Foreign Studies, 2016).

Wat 'n boek is dit nie!

As ywerige woordeboekleser vergaap ek my aan die kundigheid (inleiding in sowel Afrikaans as Engels) oor uitsprake, oornames, tyd, woordordes en wat nog.

Woordeboek is soos horlosies: die slegste is beter as niks, en van die beste kan nie verwag word om presies reg te wees nie - aldus Samuel Johnson (xxx).

Ek dink aan die Tankas ('n vorm wat 1200 jaar oud is!) wat ek probeer skryf het:

Die liefde met haar
‘n Mount Fuji hoog met sneeu
koud, bitter ysig
maar binne waar niemand sien
‘n sluimerende vulkaan

*

haal die sinkansen
oor die ver Japan vreemd  
ek wis bepaald nie
hoe alles sou duur en duur
in ‘n reis andersoortig

*

die maan skyn nou hier
‘n laggende vet Boeddha
oor my wit futon
jou son skyn buite hoopvol
oor ons leë dubbelbed

*

‘n valentynsdag
bring vele kubersoene
te kus en te keur  -
kies vir jou ‘n soen perfek
onbreekbare internet

*

van Nagasaki
tot Kyoto, Osaka
Hiroshima, Tokio -
klink poësie alreeds op
in hierdie vreemde name

*

eens was ons liefde
koestersag soos ‘n duifveer –
nou net ‘n onthou
van ‘n skoolseun se kettie
laat bloedbevlekte merke

*

Saterdagaand één
op ‘n plattelandse dorp
dra ek saam met my
na plekke waar vervulling
‘n fata morgana bly                    

*

Sondagoggend sing
Callas haar liefdesberou
soos daardie Carmen,
die liefde ‘n stiergeveg
met hartstog, haat, dood en rou

(Uit: Ruggespraak. Protea, Pretoria. 2002)

Ek begin lees aan Eben Venter se Groen soos die hemel daarbo (Tafelberg) en lees 'n asemsnakkende mooi passasie oor Japan raak.

Daar is 'n DVD by die Japannese woordeboek wat beteken jy kan in Japan luister na korrekte uitsprake van woorde. Hierdie boek beklee 'n ereplek in my shosai (studeerkamer).

Ek skryf verder in die komende dae oor hierdie rooi woordeboek.

© Joan Hambidge








Thursday, August 3, 2017

Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel V)

Swakopmund en Walvisbaai

Vanoggend vroeg is dit propperse ontbyt by Naukluft. 

Ek is op pad Swakopmund toe met Oom Aggis, die gids deur die Namib, se vader.

'n Engelse ontbyt saam met die twee Hong Kongelinge. O gedoente. Toe hulle wil uitjekkereer, blyk dit hulle het wederregtelik in die hotelletjie oorgebly en nie in die kampeerterrein nie.

En die bestuurderes eis 'n ekstra bedrag. Dit blyk egter gou dat op hul reisvorm eersgenoemde aangeteken staan en nie laasgenoemde nie.

Dit blyk die jongeling het self al die reëlings getref en dus was hy nie bewus van die subtiele verskille nie.

Ewentwel, ek slaan my oë op na die duine. Dis hoekom ek altyd belê in my reisagent, mevrou Cathy Petersen. Loop iets skeef of skuins, e-pos ek haar. Sy is my back-up op meer as een vlak.

Want reis gooi bepaald sy curve balls. Vanoggend ontdek ek 'n goggabie het in die nag gebyt. Seker 'n sandvlooi. Ek vind nêrens in my huisapteek antibiotiese salf nie. En die rooi bytmerke staan. Ek drink 'n anti-allergie-pilletjie en ontdek sunlightseep in my sak!

Ek maak dit effens nat en smeer dit oor die rooi merke.

Daar werk die boereraat soos 'n bom. Die rooi swelsel sak en ek en Oom Aggis, 'n Damara, is in die viertrek (sowat vier ure) na Swakopmund.

Die pad is woes. Bestudeer my Franse grammatikaboekie om die kop stil te hou. Bekyk die landskap en neem die gebruiklike foto's. Oom Aggis vertel van al sy wedervaringe as draaiwer. Sy oudste kind is 30 en die jongste twee. Hy het net agt seuns, brag hy.

Ek gee vir hom 'n footjie en besef hy moet na een terugry Naukluft toe - sonder lunch.
Dis mos nie reg nie?

Nee beduie hy; as hulle oorslaap op 'n plek dan kry hulle kosgeld - andersins nie.

Dis ongeveer twee minute na twaalf en ons stop by die Spur wat 'n lieflike speshúl aanbied: 'n burger teen N$ 50.

Strand hotel

Hy eet alte lekker en oom Aggis laai my af by die Strand-hotel. Hier raak ek liggies bedonnerd toe die concierge my twee tasse neem en verdwyn. Die dame by die inboektafel lyk nie bekommerd nie. Hy het dit glo net agtertoe geneem en sal dit nou-nou kamer toe bring ...

My kamera, my grimeersakkie (haha), selfoonlaaier, et al. is in 'n die klein blou sak. Ek verduidelik vir haar WAAROM ek onrustig is: sowat tien jaar gelede word 'n tas in 'n hotel in Plymouth gesteel toe ek deur Engeland reis. Die hotel trek die skouers op (dit was nie in die kamer nie) en die bustoer is nonchalant (dit was nie op die bus nie).

In transit = geen visum = en route.

Daardie tas is fakala stryt.

Gone.

Die kamer in Swakop is wel lieflik. 

Ek pak my klere uit, hang dit in die kas op. Twee serpe was ek uit: die rooigrond van die Namib spoel uit en 'n jean stof ek af.

'n Kamer moet nou eers my mana oorneem alvorens ek rustig raak.

Daar is 'n helikopter wat oor die Namib vlieg ($N 6 000) en 'n lugballon wat jou eweneens oor die landskap kan neem (ook teen 'n ongelooflike bedrag). Indertyd wel 'n helli geneem oor die asembenemende Victoria-valle ...

Nou beantwoord ek al die e-posse na dae se stilte in die woestyn. Knip my naels en maak my reg vir 'n wandeling deur die stad.

Dit is koud hier. Die see is onrustig. Dis winter hier. Na die hitte van Sossusvlei en die stof, is dit 'n verademing om by die kus te wees.

Ek eet vroeg in die hotel se steak house. Heel skaflik, behalwe vir 'n warm glas vir die rooi wyn ...

En dan is dit bed toe vir die combo: seevaart- & duine-trip.

Lady Gaga 

Die seevaarttrip is wonderlik. Ons word 'n walvis en dolfyne beloof, maar helaas moet ons tevrede wees met 'n pelikaan, ene Lady Gaga wat haar aanmeld op die dek en al bedelend vissies kry. Dan is daar 'n Rakkertjie Rob wat swiep-swiep oor die dek. In die koue oseaan (12 grade) swem 'n hele paar. Die gids neem ons na die eiland waar daar glo 30 000 woon. Hy vertel hoe die moeders 'n suigeling moet agterlaat om kos te soek - dikwels vir twee dae - en dan by haar terugkeer is die kleinding opgevreet. Die natuurwet. Soos die wet van Transvaal ...

Ons sien blou emmers in die water. Dit blyk egter die plek te wees vir die kweek van oesters. Ingewikkeld hoe diep dit onder die water lê en net op die regte oomblik na bo gebring word en uitgevoer word na Hong Kong. En as daar een vrot oester in is, word die hele besending teruggestuur. Ons word oesters aangebied, maar ek dink dit is te vroeg vir so 'n delikatessen.

In die baai staan daar oliebore. En omdat die olieprys gedaal het, is daar geen soektog na olie nie. Die wispelturigheid van die politiek wat vraag en aanbod kan manipuleer, is welbekend.

Die rondvaart is drie ure lank en goed vir die gemoed.  

Hierna is dit duine toe op 'n viertrek met 'n nuwe gids. Hy is 'n behendige bestuurder wat ook veel weet van die natuur en die ekologiese veranderinge van die kusgebied. Hy wys kaarte om te verduidelik hoe die kuslyn verander het. Hier het 'n huis gestaan eens op 'n tyd; nou is daar net 'n paar stukke hout ....

Die huis is begrawe onder sand.

Ons ry terwyl dit hoogwater is en moet koes-koes om 'n brander te mis teen 'n duin. Dan is dit opwaarts. Die Duitsers kreun van plesier en vrees.

Jouissance in sy oorspronklike sin van die woord. Dan beweeg ons na bo en weer - na 'n klein asemophou - skielik na onder.

Onder grom die duine.

"Dit is 'n Landrover-begraafplaas hierdie," spot die gids. Want as jy nie reg mik en trap en ratte bemeester nie, is dit sokke tyd.

Ons stop vir 'n versnapering. Onder 'n duinplant sien ek streepmuise rondharloop. Die gids voer hulle kaas. Dit is opvallend hoe die gidse op die seevaart en by die duine die wilde diere voer.

'n Kleingecko, vertel ons gids, kom ook uit en eet 'n chippie uit sy hand soos 'n hondjie.

Dus op een dag op 'n katamaran en in 'n viertrek.

Ons ry by die klein monument verby in Walvisbaai: die Rynse kerk wat ingevoer is uit Duitsland.

'n Belangrike troop om hierdie land te verstaan wat steeds die Duitse kultuur erken.

© Joan Hambidge