Showing posts with label Polemies. Show all posts
Showing posts with label Polemies. Show all posts

Sunday, April 10, 2022

Polemies | Stevie Wonder | 2022

Skaars het ons herstel van Will Smith se gedrag by die Oscar-aand en Steve Hofmeyr laat hom uit oor komplekse gendersake. 

Vir die rekord: Steve Hofmeyr se loopbaan as sanger en liriekskrywer val buite hierdie bespreking; nes my waardering vir hom as prosaskrywer. Sy Vier briewe aan Jan Ellis (Zebra Press, 2010) bly ‘n klein hoogtepunt in onderstelling en deernis met gewone mense.

 

Destyds het ek geskryf in Rapport

Die novelle is pakkend geskryf en besonder mooi uitgegee met afskrifte van ‘n resep, ‘n psalm, ‘n staatsdokument en ‘n LP, onder andere, wat die verhaal dan ‘n bepaalde historiese aanslag gee. 

 

Dit is ‘n teks wat besonder vernuftig omgaan met die leser se fantasie en kommentaar lewer op die politieke ongeregtighede van die verlede en hoe identiteit gekonstrueer word.

Daar was ook Kapabel (Zebra Press, 2012) en Die Onaantasbares (Zebra Press, 2017), boeiende spanningsverhale.

 

Wat is dit met Steve en sy mannewales (sic!)? Wat is dit met mans wat ander beledig en dan ‘n paar dae later hoed-in-die-hande terugkrabbel met ‘n ek-is-so-jammer?

 

Steve wat Die Stem sing by ‘n kultuurfees en borge ontstig en ander kunstenaars benadeel; Steve wat tee uitgooi oor ‘n joernalis; Steve wat ‘n joernalis oor ‘n tafel bliksem by Oudtshoorn, omdat hy nie van sy kritiek hou nie; Steve se rusie met MTN en Afrikaans is Groot (MTN to 'cut all ties' with Afrikaans is Groot over Steve Hofmeyr's involvement in the show | Channel24. Besoek 10 April 2022).

 

In 2014 het hy gemeen Swart mense was die argitekte van apartheid? 


Deur die jare het ek lowende resensies oor sy prosatekste geskryf en, soos altyd, die mens van die boek geskei.

 

Die jongste uitspraak – waarvoor hy alreeds verskoning gevra het – is binne die huidige tydsgewrig onaanvaarbaar. Om Charlize Theron te kritiseer, omdat haar seuntjie rokkies dra, kom uit die plek van machismo. Meerderwaardigheid en gewaande normaliteit.

 

Miskien weet hy nie van die onlangse debakel by DF Malan-hoërskool in Kaapstad en onsensitiwiteit oor gay-kinders nie. Miskien weet hy nie hoe ouers eerder kinders verplaas het na ‘n ander skool oorlewing ontwille nie. Miskien weet hy nie van groot Hollywood-akteurs (soos Warren Beattie en Annette Bening) wat hul kind in ‘n geslagsbevestigende operasie ondersteun het nie? Of van Cher se kind?

 

Toe ek ‘n kind was in die ou-Suid-Afrika was alles gelaai met eenvoudige opposisies: blou en pienk. Houtwerk/Metaalwerk en Huishoudkunde. Rugby en netbal. Inmiddels het hierdie kwessies verander. Daar is Kokkedore en Koekedore.

 

In standerd drie in die Laerskool Annlin in Pretoria moet ek ‘n babatruitjie brei. Ek kan nie. Ek kom nie verder as die derde ry nie, later bruin gevlek soos my sweterige handjies die wit wol vuilvat. Ek beleef intense spanning.

 

Ek smokkel die onklaar truitjie uit en neem dit huistoe in my bruin skooltassie. My moeder – sonder om iets te sê – brei dit klaar. ‘n Pronkstuk. Ek smokkel dit terug in die klas en plaas dit in die hokkie langs die breipenne. 

 

Die onderwyseres – goddank – dink dis snaaks. Sy weet my moeder het dit gedoen. Saved by the bell!

 

Maar net sowel: ek kon voor die hoof se kantoor gestaan het.

 

Die jongste uitspraak oor waarvoor die + sou staan by die afkorting LGBTQ+ van “andersoortiges” is benede alle peil en onherhaalbaar.

 

Sy verdediging dat hy nie sal toelaat dat Disney se kinderfilms sý kinders “groom” vir aweregse seksuele gedrag nie, is gewoon verspot. ‘n Mens wonder of hy enigsins weet dat gay-mense ook kinders het en liefdevolle, ondersteunende ouers is? Dat hy kinders wat wil uitkom, benadeel?

Steve Hofmeyr het op ‘n keer na homself verwys as ‘n lewensvraat. Reg so. Maar jou mense-van-jou-asem is nie die enigste mense wat asemhaal nie. 

 

Ek sal steeds jou tekste beoordeel. Miskien moet jy eerder skryf (en sing) as om hierdie potsierlike, kwetsende opmerkings openbaar te maak. LGBTQ+ sluit meer in as wat mense dink. Dis ook ‘n akroniem vir vernedering, vermindering en bespotting in jou jeugjare. “Othering” as jy wil.


Steve Hofmeyr, al sê jy jammer, you can’t unring the bell, honey.

 

Joan Hambidge is gay, hou van mans, maar verag machismo.

 

© Joan Hambidge

 

Monday, February 10, 2020

Polemies | Voetnoot of duisendpoot?

Linda Hutcheon in haar studie Theory of parody. The Teachings of Twentieth-century Art Forms (1985) wys op die verskille tussen parodie, pastiche, persiflage, ensomeer. In ons postmoderne en nou metamoderne leefwêreld teer tekste openlik én verhuld op ander tekste. Selfs in die modernisme (ek dink hier aan T.S. Eliot) is hierdie weefwerk aantoonbaar. Wanneer 'n skrywer 'n roman skryf oor 'n historiese figuur en 'n argetipiese roman betrek, weet die ingeligte leser: hier het ons te make met intertekstualiteit.

D.J. Opperman se "Kersliedjie" aktiveer sosiale werklikhede en Die Bybel.

Send ups (parodie) is volop. Anthony Hecht maak van Matthew Arnold se "Dover beach" 'n nuwe, skerp gedig wat hy "The Dover bitch" noem.

The Dover Bitch: A Criticism of Life
Anthony Hecht 

So there stood Matthew Arnold and this girl
With the cliffs of England crumbling away behind them,
And he said to her, "Try to be true to me,
And I'll do the same for you, for things are bad
All over, etc., etc."

Tans is daar gesprekke rondom Van Wyk Louw se tekste op die Versindaba.

Verskeie digters reageer op Louw se werk soms parodies; ander kere 'n blote pastiche - dus 'n teks wat nog aan sy voorbeeld staan.

Hier is dan 'n pastiche van ene Hanna Heimbrücke:

Voorspel, 2020

VWL

Miskien sal ek die wingerd prys
en nooit weer van hom skink
en net in 'n plastiekglas
'n bietjie Oros drink:

dus na jare se donkerte
die rekening brand die sak
en nou geen hangovers 
nie pille dop of dam:

miskien nog van my ou weë weet:
– die kroegpraatjies en die skyn:
maar uiteindelik nugterheid leer ken
en mens wil wees én rein.

Louw se vers kan hier gelees word:

Me. Heimbrücke se vers banaliseer die "koel gedagte" van die digkuns en is potsierlik-banaal. Hier is geen "woord of wonder" te bespeur  nie.

'n Bekende teks behoef nie 'n voetnoot of erkenning nie; ons ken die spel.

So alvorens 'n teks ge-poelpetater word en tot oorskryf of letterdiefstal gereduseer word, moet die leser bepaal:  wat lê tussen die esels en makriel?

Niemand gaan Quentin Tarantino in Once upon a time in Hollywood beskuldig dat hy Roman Polanski se lewe (en werk) "gesteel" het nie. Die Manson-moorde en Sharon Tate is daar, maar nuut verpak. Trouens, die bekende gegewe word op sy kop gedraai in 'n maagdraai-slot. Brad Pitt is tereg met 'n Oscar beloon vir sy uitmuntende spel.

Hierdie soort gesprek-tekste is self-bewus en self-ondermynend. Dit skep 'n tekstuele wêreld wat met 'n endnoot (of daarsonder) aanspraak maak op ingeligtheid. Die bekende kopknik.

Daar is 'n urban legend dat die endnote by T.S. Eliot se Waste land nooit vir publikasie bedoel was en 'n blote  in-grappie tussen hom en Ezra Pound was om lesers op vals spore te lei.

Soms kaap 'n skrywer iemand se lewe (soos wat Saul Bellow doen in Humboldt's gift wanneer hy die digter Delmore Schwartz se lewe fiksionaliseer), maar selfs sonder hierdie voorkennis bly dit 'n verbluffende roman.

Soms word gedigte uit ander tale oorgeneem sonder 'n erkenning dat dit "vertaal" is en dan lig die wenkbroue wel. Selfs hiér is die grense vaag en hang dit van die konteks af. 'n Klassieke Latynse of Griekse gedig word vertaal en nuut gemaak. Dis allemansgoed. Et atque mea Lesbia, odi et amo...

As 'n historiese figuur in 'n roman land en 'n Cormac McCarthy-verwysing (o.a.) speel in op die ondergrond van die teks, weet die leser wáárom. Manlike geweld is universeel dalk? Orals – VSA en hier – is dit so.

T.T. Cloete se satiriese gedig "Die kritikus" verskaf tog antwoorde:

ek fanie vanderbag
is die maatstaf
al wie groter as ek is lag
ek tot formaat af

gee my 'n storie
wat vlot lees skryf net vir my soort
en vir mý wat niks anders wil hoor nie
soos dit hoort

alle skrywers met pryse
en eregrade
al die wyse
literatore en rade

almal hoor hier is dwaas
vra my fanie vanderbag
koerantskrywer graphaas
ek het smaak met gesag

ek weet van klein en van groot
weet ek van eg en oneg
van wie vir kuns of brood
skryf wat goed is wat sleg

luister na my ek groot bee ek,
daar moet tog goeie boeke wees
sê ek fanie vanderbag groot gee ek
soos van "Die skoenmaker en sy lees"

A.P. Grové gebruik dit as 'n voorbeeld in Woord en wonder (1986 uitgawe) om die grootdoenerige, selftevrede kritikus hekelend aan die kaak te stel. Beide Cloete en Grové het vir dagblaaie geskryf, maar altyd met werklike gesag.

Elisabeth Eybers se "Dagbladresensent" (Versamelde gedigte,  2013) is ook vol in die kol:

Waar hy noukeurig aankruip knars die oes
voor die onwrikbre ywer van die vraat
wat ál wat groen en glinsterend is verwoes
en slegs 'n vaal uitwerpsel agterlaat.

Endnoot of voetnoot kan help. Vir die skaapvet, eiers en biltong wat die skrywer nederig in sy / haar teks neersit.

Maar alles het te make met 'n "irony's edge" om Linda Hutcheon weer aan te haal. Op die voorblad van my eksemplaar (1994) sit 'n meisie met haar voete wat hang oor 'n gevaarlike afgrond ...


© Joan Hambidge

Thursday, October 10, 2019

Polemies | Gendersake

Nou onlangs open ek ’n kunsuitstalling. By haar aankoms maak ’n vrou ’n ontoepaslike genderopmerking. Ek wys haar daarop dat ek oor ’n paar minute ’n lesing moet gee, maar sy kyk my net met ’n papmond aan.

In ons rasbewuste samelewing word genderkwessies dikwels na agter gestuur. Ons oorreageer op enige rasonregverdigheid (tereg), maar gendersake word nou bykans ’n vergete kwessie. Behalwe vir die #metoo-aanslag waar nuanses dikwels verlore raak.

Met gendersake bedoel ek gay-regte. En diegene wat buite die heteronormatiewe orde bestaan en hul brood moet verdien of krummels van die tafel opvee.

Een aand laat in ’n restaurant draai ’n vrou by die toonbank om en vra: “So what do you think, you dyke?”

Moet sy vergewe word dat sy gekletter was en dat dit ’n Sondagaand was?

Of was dit net ’n grap?

’n Paar weke terug sit ek en twee vriendinne en kuier – eweneens ’n woman-identified woman – en die kelner kom na ons en vra of ons ’n aansteker het. Want ja, die twee mense aan die oorkant het gevra of ons dykes dalk kan help. Waarop ons toe laat weet: ja, die dykes kan help.

Ek laat weet guitig: met ’n vinger bo die dyk.

Wat is ’n aanvaarbare opmerking? Waarom vind iemand dit nodig om ’n gay-persoon aan te tree met ’n opmerking soos Ek-was-altyd-so-bang-vir jou? Wat beteken dit? Dat jy nie meer bang is nie? Dalk beskikbaar is?

Die sidderende aanname is dat gay-mense gesien word asof  ons sou belangstel in elke straight persoon wat verbybeweeg.

Eleanor Roosevelt het by geleentheid opgemerk: No one can make you feel inferior without your consent. Gandhi sou ook gesê het: Nobody can hurt me without my permission.

Natuurlik makliker gesê as gedaan!

Janet Malcolm in Two lives – Gertrude and Alice (Yale University Press, 2007) ondersoek die troebel oorlewing van twee lesbiese Jodinne tydens die Nazi-regime. 

Wat is waar? En hoe het hulle dit reggekry om in Vichy Frankryk skotvry uit te stap?

En hoe het Stein “serious unpleasantness” ervaar?  Dikwels deur te babbel, te maak asof dit niks is nie (81).

Beide vroue moes sowel vooroordele oor hul Joodsheid as genderrolle bestuur.

Ons ken die anekdote van Ernst Hemingway wat in Parys besoek afgelê het aan 27 Rue de Fleurus, onbewus dat Gertrude Stein en Alice Toklas minnaresse was. ’n Rusie tussen die twee het dit aan die geskokte Hemingway openbaar. (Hy was glo ’n bietjie verlief op Gertrude…)

Ek weier om die Roosevelt/Gandhi, of die babbelroete te volg. Ek moes deur die jare ’n geweldige prys betaal vir my openlike genderkonstruksie en vir my skryfwerk (soos in Die Judaskus of Kladboek), en juis hierom verwag ek hoflikheid van mense wat met my in gesprek tree.

Ek probeer immers sjarmant wees al dink ek jou krullebol is Shirley Temple-agtig en jou parfuum ruik na ou skoen. 

Jy behoef ’n renostervoël om die luise af te pluk wat deurgaan as grimering. Ag, ag ek maak net ’n ou grappie.

Heteronormatiwiteit of ’n straight-kondisie gee nie aan jou die reg om ander te verminder of te beledig nie. Al het jy dit oënskynlik nie so bedoel nie.  Maar kom: wat presies het jy dan bedoel?

© Joan Hambidge

Sunday, September 29, 2019

Polemies | Crito oor Erns Grundling se resensie van Sushi en Shosholoza (2019)


Kritiese kanttekening:

In sy jongste reaksie skryf Crito die volgende:

Sushi en Shosholoza, deur Erns Grundling. Resensie: Marian van Wyk. (Rapport Boeke)

Marian van Wyk se naam duik nie gereeld op as resensent nie. Ook maar goed so. Sy begaan een van die groot sondes van die resensiekunde. Span 1269 woorde in om iets te sê wat in 100 afgehandel kon gewees het. Teen paragraaf vier begin mens wonder hoekom sy so heftig reageer, en haar slotopmerking in parentese laat jou besef presies wat makeer aan haar bespreking. Vlieë-afvangery in die gedaante van kritiek. Mens snap dat Van Wyk au fait is met Japan en Japanse kultuur; die doel van die resensie is egter om aan te toon of Sushi en Shoshaloza ’n goeie, leesbare boek is of nie, en nie om te bewys dat die resensent die boek beter sou geskryf het en ook beter toegerus is om ’n projek soos hierdie aan te pak as Grundling nie (Crito | Just another blogs demo Sites site. Besoek 23 September 2019).

Helaas nie vlieëafvangery nie, Crito. Marian van Wyk wys tereg op die sterk kodes in die Japannese kultuur. Ek was self tweekeer daar en gaan akkoord met Van Wyk se besware.

Kyk gerus na Roland Barthes se Empire of signs.

Geen Engels is inderdaad 'n kode vir iets diepers. Japannese is uiters afstandelik en krities op Westerlinge se gedrag. Tydens my eerste besoek in 2002 het die hotelbestuurder vir my 'n boekie gemaak met alles wat ek sou behoef. En in Nagasaki was daar geen Engels nie.

'n Film soos Hiroshima, mon Amour (Alain Resnais, 1959) kan ook nuttig wees.

En Glencoe is in die Noorweste van Skotland - ek verwys na die resensie deur J.B. Roux van Die wolkversamelaars (Subtiele, boeiende verhaal | Netwerk24).


Bibi Slippers (praise her cotton pantoffels) is enigsins geringskattend oor die jongste Margaret Atwood. Volgens die resensent het Atwoord meer as 50 boeke op haar kerfstok en wanneer sy nie op haar beste is nie, is sy steeds goed. Hierdie uitspraak sou getemper kon word indien Slippers haar oeuvre deegliker beskou het.

Vir 'n liefhebber van haar werk as romanskrywer en digter is daar 'n Atwood vóór die kultusstatus van The testaments (Dis aanhou beweeg en geraas maak | Netwerk24).

Maar nog is het einde niet.

In Rapport 29 deser skryf Karin Eloff 'n baie goeie resensie oor Erla-Marie Diederichs se jongste boek: Seks, leuens en die internet (Soeke na seks bring wysheid | Netwerk24).

Onderaan die resensie protesteer die outeur, omdat daar kritiek gelewer word op haar lewenskeuses. Morele oordele word verwerp en Eloff moet tog nou nie soos 'n Sondagskooljuffrou tekere gaan nie ...

Eloff, vir die rekord (verskoon die anglisisme) is die skrywer van Stiletto, daardie openhartige boek oor haar lewe in die seksbedryf wat in 2009 verskyn het.

Sy vra uiters relevante vrae oor vrouens en dating en die ewige soeke na Mr Right. As genderteoretikus (en 'n woman-identified-woman) het ek hierdie vrae sinvol gevind en wanneer 'n mens 'n memoir skryf wat onthullend is, gaan daar uiteraard reaksie wees.

'n Memoir of outobiografie is helaas nie-fiksie en sal uiteraard kommentaar ontlok.

Wees eerder dankbaar vir die reaksie wat genderkwessies aanraak soos internet-dating en al die fopdossery wat daar plaasvind.

Die grootste wysheid is dat 'n skrywer liefs nie op 'n resensie moet reageer nie. Vra my.

Wanneer gaan Peter van Noord en Karin Eloff weer vir ons 'n Bloots uitbring?

© Joan Hambidge

Sunday, May 26, 2019

Polemies | Sexton – Brink – De Kock

I

Leon de Kock se biografie van André P. Brink (André P. Brink en die spel van die liefde) aktiveer 'n belangrike debats- en brandpunt. Wát mag in 'n biografie opgeneem word en wát moet liefs verswyg word?

Is dit dalk hierom dat Barthes sy outobiografie in die derdepersoon geskryf het: Roland Barthes par Roland Barthes?

V.S. Naipaul het indertyd opgemerk dat hy nie omgee wat oor sy turbulente lewe geskryf word nie. Kennelik 'n man wat gevoel het dat sy romans steeds sou bly staan.

My life is short. I can't listen to banality.

Daar is ook skrywers wat soos 'n poppemeester beheer word deur die biograaf sodat lesers wat die werklike skrywer geken het dikwels voel dis 'n hagiografie.

Mag 'n ander mens ingesleep word by die skrywer se vuil wasgoed wat in die openbaar gewas word? Hoe gemaak met 'n kwalik-bedekte skuilnaam, terwyl almal weet wié Mevrou so-en-so presies is?

Die biografie het nou oorgespoel na 'n ander dimensie met die biograaf wat beskuldig word van rassisme, 'n uitgewer wat hulle glo wil distansieer van hom indien dit waar is en verdere berigte oor 'n opname in 'n inrigting.

Ek het reeds in my resensie geskryf dat 'n Janet Malcolm-analise (via haar knap analise van Plath) gemaak sou kon word van die biograaf se belangstelling in die skrywer – 'n insig gepubliseer vóór die hele debakel. De Kock is immers die skrywer van 'n roman met die titel Bad Sex; Brink het bad sex ondersoek in al sy avatare.

Truth is always stranger than fiction.

II

Kom ons beweeg buitedie arena van Suid-Afrikaanse landskap na die VSA om hierdie problematiek beter te begryp.

An Accident of Hope: The Therapy Tapes of Anne Sexton deur Dawn M. Skorczewski wat by Routledge in 2012 verskyn het, is 'n relevante toetsgeval. De Kock verwys eweneens na Sexton in sy studie.

Anne Sexton (1928 - 1974) was (en bly) 'n belangrike Amerikaanse digter wat belydenisverse geskryf en uiteindelik selfmoord gepleeg het, onder andere weens bipolariteit. Sy sien 'n terapeut, ene dr Martin Orne, wat haar aanmoedig om gedigte te skryf om die pynlike verhouding met haar vader te verwerk.

Sy was 'n tydgenoot van Robert Lowell en Sylvia Plath, beide troebel figure, maar uitstaande digters.

The Awful Rowing Toward God (1975) is een van haar belangrikste bundels. Uiteindelik vergas sy haarself tuis in haar motor.

Diane Middlebrook, haar biograaf, ontvang bande van dr Orne waarin sy suggereer dat sy haar dogter seksueel aangerand het en dat sy deur haar vader gemolesteer is. (Die dogter het toestemming gegee dat Middlebrook dit mog gebruik en nadoods het die dogter Linda Gray as redakteur van haar versamelde gedigte opgetree). Die biografie verskyn in 1991, uitgegee deur Houghton Mifflin Company.

Problematies dat die terapeut hierdie inligting verklap het. En nog meer problematies: wat is waar? Wat is fantasie?

In 1994 publiseer die dogter haar memoir: Searching for Mercy Street: My Journey Back to My Mother, Anne Sexton. (Little, Brown & Company).

Johann de Lange het haar in een van sy vadergedigte verewig en die uwe het eweneens in gesprek getree met haar.

So lui De Lange se vers:

Pa

Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.
Anne Sexton

Ander miskien nie maar ek onthou
dat jy ’n bouer was
met groot hande wat steen
op steen kon pas,
so sekuur was in wat jy doen
& tog tuis alles kon verbrou.

Maar ek vergewe jou.

Die hart hou sy eie almanak.
Stene kon jy beter as woorde vat:
skielik was daar ’n wolkekrabber,
’n padkafeetjie langs die pad;
jy kon lugkastele bou, na cowboy-flieks gaan kyk,
of vuurhoutjiepatrone op my Bybel plak.

Maar ek vergewe jou.

Ander aande het jy mandrax gedrink
& vroeg gaan slaap, moeg,
die woonstel onherbergsaam gemaak
met jou hortende asem. Die kroeg,
enklave waar jy kon ophou kwel,
het sy grys vergetelheid geskink.

Maar ek vergewe jou.

Ek het soveel van jou liefde verwag,
asof dit sement was
wat ons almal bymekaar moes hou.
Ons kon nooit juis waterpas
oor sake sien nie:
ek was haaks & jy was veels te sag.

Maar ek vergewe jou.

Hoe gaan ek daardie trotse onbegrip
ooit weer agterhaal, die gebroke huis weer heel?
My dapper swye verbreek ek nou,
& mag dié onvolkome stene my nie faal.
Onbeholpe cowboy van my jeug,
jou naam bly leef in klip.

Ander miskien nie maar ek onthou.

† 17 April 1936 - 16 Mei 1975

Sexton se gedig "All my pretty ones" is 'n klassiek:

So lui die slot:

I hold a five-year diary that my mother kept
for three years, telling all she does not say
of your alcoholic tendency. You overslept,
she writes. My God, father, each Christmas Day
with your blood, will I drink down your glass
of wine? The diary of your hurly-burly years
goes to my shelf to wait for my age to pass.
Only in this hoarded span will love persevere.
Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.

III

Karina Szczurek © Conrad Bornman

Mevrou Brink die Vyfde het die joernale aan De Kock gegee. En toe sy besef dat die biografie ontspoor, dit probeer terugeis.

Vir my gevoel is sy verantwoordelik vir die skending van mense se privaathede en briewe wat sonder toestemming in die biografie opgeneem is. Uiteraard het dit aan Brink behoort, maar ek is daar seker van dat Brink die outeur nie sou vrede hê met wat nou afspeel nie. Boonop verminder dit sy statuur as romanskrywer. Die dagboeke was doodles en om sy gemoed skoon te maak en beslis nie – volgens my – vir die openbare oog bedoel nie. Al meen die eksekuteurs nou anders.

Hierdie hele onaangename insident bewys opnuut dat dit beter is om net die romans of gedigte te lees en nie kennis te neem van die gebroke / morsige "mens agter die boek" nie.

Joernale mag psigoanalities en teoreties beskou word, maar dan nie met so 'n skinderlistige aanslag nie.

Tuesday, April 30, 2019

Polemies | Charlize Theron

I
  
Die polemiek rondom Charlize Theron wat haar seun, Jackson, as 'n meisie grootmaak, het reaksie ontlok op Facebook en in die pers met negatiewe kommentaar van Steve Hofmeyr.

Ek bewonder haar vir hierdie oopheid en gedurfde optrede, ook dié van Annette Bening en Warren Beatty wat hul kind ondersteun het deur die proses van geslagsverandering (Warren Beatty Discusses Transgender Son – YouTube. Besoek 30 April 2019), want die meeste trans- of homo-kinders word in 'n heteronormatiewe samelewing groot waar die kerk en die skool hulle mag verwerp (het). Ouers en onderwysers is dikwels nie in staat om hierdie kinders die regte raad te gee nie en die kinders se identiteit word gebrandmerk deur skaamte of vermindering.

Daar bestaan vele studies oor die hantering van die queer-kind in die VSA – waar queer nie 'n vloekwoord is nie (Warren Beatty calls transgender son Stephen his 'hero' | Daily Mail Online. Besoek 30 April 2019).

Daar is ook Chaz Bono, Cher se kind. Gebore as Chastity en Cher is openlik oor hoe swaar sy gekry het (Cher opens up about transgender son’s sex change  ‘It was hard for a mother’ | Closer. Besoek 30 April 2019).

En dan is daar ook Shiloh Jolie-Pitt en gissinge oor haar gender-identiteit (Surprising Things You Never Knew About Shiloh Jolie-Pitt. Besoek 30 April 2019).

II 

Gender, terloops, is nie dieselfde as seks nie. Jy het 'n biologiese seks (M, V, bi, trans ...) en die gender is die sosiale strukture wat op jou afgedwing word, soos meisies wat pienk dra en seuntjies blou, of die keuses wat jy maak. (In die WO I was pienk 'n manlike kleur, terloops.)

En hoe arbitrêr sosiale rolle kan wees, weet ons almal. Kyk maar net na kookprogramme (Sex and gender distinction – Wikipedia. Besoek 30 April 2019).

Bespot deur ander, en as swart mense praat van "liquid rascism", weet gay-mense presies wat hulle bedoel. Subtiele blikke van uitsluiting of vermindering. Dosente wat studente in die ou Suid-Afrika met geniepsige stekies op hul plek gesit het, gebeur gelukkig al hoe minder.

In my doktorale studie in 2000 aan die UK onder H.J. Snyman is die genderkonstruksies in die Afrikaanse letterkunde ondersoek en veral die baanbrekerswerk van Hennie Aucamp moet hier vermeld word. Aucamp se Volmink bly een van die belangrikste bakens oor gay-identiteit en sy tekste (digkuns en kabaret ingesluit) karteer die sosiale norme van sy tyd en hoe gay-mense in 'n ander tydvak stemhebbend geraak het.

En "Vir vier stemme" is en bly 'n hoogtepunt in ons letterkunde. 'n Verhaal wat 'n poets behels met Freddy in vroueklere en Beimen Botes wat nie besef dit is nie 'n vrou nie?

Dieselfde geld die werk van Johann de Lange wat sowel in sy prosa as in sy digkuns hierdie kwessies verder neem. Kan ons die polemieke rondom Nagsweet ooit vergeet?

Lesers kan die resepsie van die bundel hier lees – wees gewaarsku, dit is plek-plek verbysterend (Woorde Wat Weeg. Studie: Die resepsie van die digkuns en prosa van Johann de Lange. Polemieke en enkele onderhoude. Besoek 30 April 2019).

Ons onthou die verontwaardiging van ouer literatore wat die bundel nie wou resenseer nie en hoe Etienne Britz in sy resensie die spot gedryf het met die resensiekopie vol merke wat hy ontvang het.  

Those were dem days en jong skrywers vandag het geen benul van wélke ellendes gay-skrywers moes deurgaan nie. 'n Dekaan sou jou betig oor jou gay-identiteit en op subtiele (en minder subtiele) maniere is jy geviktimiseer, omdat jy out is.

In my lewe was Aucamp immer 'n baken van hoe 'n gay-mens sonder skaamte of vrees moes leef.

Hierom vul ek op alle amptelike vorms die volgende in: gay. Nie M of V/F nie.

III

So as Steve Hofmeyr dink Charlize Theron is verkeerd, het hy die ketel aan die tuit beet. Sy is reg, want sy besef presies dat gender 'n konstruksie of keuse mág wees. En dat die jong kind hierdeur bevry word van 'n plek van wroeging, skaamte of vernedering. Charlize Theron gee aan haar kind agentskap. Nie alleen is sy 'n skitterende aktrise nie, maar 'n moeder wat bewondering afdwing.  

En ons kan warempel nie in die jaar 2019 grensverskuiwende tekste ignoreer of die pryse wat gay-mense persoonlik betaal het net van die tafel afvee nie.

© Joan Hambidge

Sunday, November 25, 2018

Polemies | Jeremiade van ’n buiteleser - Repliek

I.
Dit is in belang van die groter gesprek in die Afrikaanse letterkunde om Jean Meiring te antwoord.

Dit laat my dink aan die onderhoudvoerder wat vir Umberto Eco gevra het in sy groot biblioteek: “Wow! Signore professore dottore Eco, what a library you have! How many of these books have you read?”

Die ongelese boeke is net so belangrik as dit waaroor ons skryf.  Of dalk belangriker.

My repliek is dan in breë trekke 'n reaksie op Jean Meiring nadat ek kritiese kanttekeninge uitgespreek het op sy resensie van die Olga Kirsch-biografie (Jeremiade van ’n buiteleser | LitNet. Besoek 24 November 2018).

II.
Om resensies te skryf, is deel van 'n lang gesprek oor kanonisering. Studente lees dit; dosente bekyk dit krities en uiteindelik word dit deel van 'n reaksie in verhandelinge en proefskrifte. 'n Verkeerde of vreemde taksering kan juis tot 'n belangrike antwoord in 'n tesis lei. Of 'n voetnoot word.

Maar die ingeligte gesprek rondom boeke het ingekrimp. Gaan kyk maar net hoeveel verskillende resensente het oor een boek geskryf in die tagtigerjare. Goed daar is blogs en lesersindrukke op Litnet, maar wie hom of haar waag aan 'n opinie moet 'n reaksie te wagte wees. 

Hierom maak ek beswaar teen die opmerking van Meiring dat ek outoritêr is. Hy sien my wat as vegknoper vir die wye demokrasie van stemme"bekendstaan, nou as iets anders ...

My werk is ook metamodernisties, ek hou my besig met psigoanalitiese studies, vertaalteorie, genderkwessies, ensomeer. Nie net met die postmodernisme nie.

Hy tipeer my: "Dis juis daardie spesie literator wat, in die geval van ’n biografie, met blote teoretisering tevrede is vir wie mens moet ligloop." My gevoel: En dis juis 'n leser wat meen daar is simplistiese antwoorde op 'n komplekse lewe en digterskap waaroor 'n mens moet seg ... pasoppa!

Ek het nog nooit die Afrikaanse letterkunde as 'n goddelike tempelskrif ervaar nie en my polemieke, artikels en studies artikuleer 'n teenstem. Trouens, my digkuns is eweneens polemies.

Die feit dat Meiring aankondig dat hy 'n Honneurs in Latyn het, is nie vir 'n gesprek oor die Afrikaanse letterkunde nou tersaaklik nie. Dis wel 'n bonus.

Dus: Heil die leser!


III. Lectori Salutem

Jean Meiring moes alvorens hy die biografie oor Kirsch geresenseer het die bestaande studie oor haar werk gelees het. En kennis geneem het van Jerzy Koch wat 'n tydskrif in Pole oor haar werk gepubliseer het. [1] En Louise Viljoen se uitstekende artikel begrond Kirsch goed. [2]

Sy skryf: “Alhoewel Afrikaans nie haar moedertaal was nie, is dit dus die taal van haar eerste skool-onderrig, haar studieonderwerp op universiteit, haar joernalistieke loopbaan en haar artistieke uitdrukking in die poësie." (28)

Ons verwag in ons beroep: ingeligtheid. En ironies genoeg onderstreep hy juis my kritiese punte. Kennelik het hy steeds nie die teorie begryp of gelees nie, en hierdie teoretiese spesie reageer net op relevante punte.

Ons weet immers dat daar al lange debatte oor die representasie van die San-kultuur in Afrikaans was (vide Krog en Watson), terwyl hy met groot stelligheid vra dat daar nou hieraan aandag gegee moet word. Dit na aanleiding van sy resensie van Riana Scheepers se Stormkind.

Crito het hom reeds hierop gewys: “Wanneer, indien ooit, is toeëiening toelaatbaar en wanneer kom die gebruik van die kultuurgoedere van ’n stilgemaakte volk net op verdere verdelging neer? Ongetwyfeld sal ’n debat hieroor van stapel gaan.” (Tweevuis. Litnet BlogsBesoek 24 November 2018).

Ek meen ’n mens kan van ’n Afrikaanse resensent verwag om bewus te wees van die beskuldigings wat Stephen Watson omtrent ’n dekade gelede teen Antjie Krog gemaak het oor Die sterre sê Tsau. Dieselfde argumente sal dan sekerlik teen Stormkind gemaak kan word. Maak nie saak of ’n mens dink (soos ek) dat Watson ’n paar van sy varkies kwyt was met sy beskuldigings teen Krog nie, dit is die groter saak van toeëiening wat aangespreek moet word.

Sy selfbewuste, selfkoesterende styl is tog so seksie. Die spel met woorde... 

Dit verdoesel helaas nie dat hy soms die breër agtergrond mislees nie.

Om my die Vestaalse Maagd van die Postmodernisme te noem is waarskynlik as witty bedoel. Ek het Meiring sober geantwoord; bepaald nie die ad hominem-geelkaart uitgeruk nie. Hy mag bepaald resensies skryf, maar woord wek wederwoord, nie waar nie?

Die wrede waarheid is dat vele van die sogenaamde onbeantwoorde vrae dalk in die gedigte staan?

Die sogenaamde neerwerp van intellektuele verwysings is nie bespotlik nie. Ook nie satiries bedoel nie. Dis geskryf vir diegene wat dit gelees het en nie 'n posduif, koerier of sekretaresse nodig het om après le déluge te help opmop nie.

En as 'n kritiese reaksie soveel fanfare ontlok, dan moet 'n mens wonder waarom skryf hy resensies? 

Dis tog lewensbloed van die kritiese bedryf dat 'n reaksie mag?

Net soos daar in die regsberoep (en hier is ek nou die buite-leser) verskillende sieninge is en dat 'n Appèlhof byvoorbeeld anders mag oordeel?

'n Institusionele kennis van die resensiebedryf is 'n pluspunt, nie iets negatiefs nie.

Hierom gaan ek Jean Meiring "ylings" tegemoet.


Endnote:

1. Werkwinkel 9(2), 2014, pp. 31-58. © Department of Dutch and South African Studies
Faculty of English, Adam Mickiewicz University, Poznań, Poland. DOI: 10.2478/werk-2014-0011

2. Die opsomming van Louise Viljoen se artikel: “The heart a dry leaf”: Loss, Mourning and Melancholia in Olga Kirsch’s Afrikaans Poetry.

Abstract: Reading Olga Kirsch’s Afrikaans poetry, one is struck by the important role that the experience of loss occupies in her oeuvre. It is evident in the first two volumes ofpoetry she published while still living in South Africa, as well as in the five volumes she published after emigrating to Israel in 1948. Because her poetry, especially the volumes written in Israel, exudes an air of melancholy, this article uses Freud’s writings on loss, mourning and melancholia, as well as the historical tradition preceding his work, as a guideline in exploring the way in which the experience of loss, mourning and melancholy is portrayed in Kirsch’s oeuvre. The article focusses on the way in which loss is portrayed in her poetry: her sense that the Jewish experience of loss over the centuries forms part of her history and identity, the way in which she experiences the loss of South Africa and the language Afrikaans in which she is best able to express herself poetically when she emigrates to Israel, the way in which the loss of her father and mother at different times in her life affected her, her feeling that her experience of loss and the ensuing melancholy are carried over to her children.

© Joan Hambidge