Showing posts with label SlipNet. Show all posts
Showing posts with label SlipNet. Show all posts

Thursday, January 24, 2013

Leon de Kock - Bodyhood (2010)



Leon de Kock Bodyhood. Umuzi Randomhouse, 2010. ISBN 978 1 4152 0099 5.

Resensent: Joan Hambidge

Leon de Kock het reeds as digter Bloodsong en gone to edges gepubliseer. Vir die meeste lesers is hy veral bekend as bekroonde vertaler, onder andere van Marlene van Niekerk se Triomf en nou onlangs van Cas Vos se gedigte. Sy jongste bundel – pragtig uitgegee deur Umuzi in 2010 – heet Bodyhood. Die titel speel in op J.M. Coetzee se Boyhood, maar aktiveer die komplekse gender/seks-debat oor liggaamlikheid. Humberto Maturana is die motto: oor die menslike gedrag as taal of taligheid en hoé alles binne die domein van taal manifesteer. En hierom bestaan of eksisteer ons as sistemiese entiteite binne die dinamiese modulasie van ‘n spesifieke liggaamlikheid.

Ek is weer veral geïnteresseerd in Lacan se siening van liggaamlikheid: hoe die lyf iets kan registreer, vertaal of verraai wat betekenis skep. Siekte wat ‘n domein word van betekenis.  Die woord het vlees geword.

My eerste kennismaking met hierdie sterk, bykans aggressiewe bundel was kort na die publikasie daarvan.
Die bundel het my mateloos geïmponeer en die groei vanaf die vorige bundels was merkwaardig. ‘n Mens beleef ‘n joernaal van die digter en in “journal 1” word ons in “This scent of corruption” ingelei. ‘n Joernaal intimeer iets privaats en jy as leser word dus voyeur of afloerder van die private dimensie. In die openingsgedig, met die slim toespelings op William Blake, word die aftakeling van die liggaamlike aan bod gebring, maar deur ‘n gedig daaroor te skryf, word die proses (tydelik) opgehef of uitgestel. Freud se Fort/Da-proses word ook geaktiveer, want die gedigte speel voortdurend in op die aanwesige/afwesige wat sowel die lewe as die digkuns struktureer.

“It’s this sadness” (10) eindig dan met “Absence and shape / Shape and absence” en vra intense vrae oor “karma, fate and circumstance” of dit wat buite liggaamlikheid bestaan. “Scholars in a Johannesburg garden” (12) voer die digotomie vérder: die kwessie van plesier en hoe liggaamlike plesier (en pyn) buite intellektuele besprekings gehou word. Juis hierom is dit gepas om Roland Barthes se Le plaisir du texte (1973/5) weer te betrek vir die tersaaklike betrekking van lees as ‘n liggaamlike proses, vir die vreeslose besegging van die orgasme in die leesaksie, die jouissance

Hierdie teks word ‘n spel van verglyding wat in die volgende gedig “You are in danger, she said” (13) Barthes se scriptible-konsep geaktiveer: die digter as herskrywer van homself en die tradisie van die letterkunde en die leser wat saam-speel en saam-lees. Die digter is eweneens bewus van die “already said” wat soos ‘n swaard oor sy kop hang en die sy is nie ‘n donna angelicata nie, maar ‘n “bitter bitch”. Die lesende figuur is sarkasties en verminderend oor die digproses en hy bedank haar sarkasties vir die waarskuwing dat hy in gevaar staan om niks te word…

In “Sorry for what, she asked” (15) word Harold Bloom se misreading afgestof:

For a reading of a misreading
A parchment roll of selves, self

Still unscrolling, still rolling
Rolling like a rollercoaster ride…

In hierdie knap vers word die woordverwerker, die verskillende lae van die self as ‘n ondeurdringbare of ingewikkelde teks, saamgeplaas. Ook die gedigte het komplekse onderlinge verhoudings met mekaar soos “The email queue calls” (16, 17) uitwys. Nie alleen speel die gedig terug op die voorafgaande verse nie, maar daar word ‘n onrustige siening van e-pos-kommunikasie gegee as ‘n troebel rivier. Ook hier is alles nie helder of duidelik nie en is die verskillende dimensies of konstruksies wat die “ek” kan aanneem in e-pos-kommunikasie die onderwerp van die gedig. Op ‘n aweregse manier word seksuele innuendo’s en ontmoetings via e-posse geaktiveer waar liefde in die moderne wêreld dikwels werkliker in die kuberruim word as in die Werklikheid daarbuite. “He’s come undone” (18, 19) kan gewoon gesien word as ‘n satire van Derrideaanse denke. Hier word fallogosentrisme opgestuur: die double entendre, die aporia (De Man), die hele boksemdaais. Alles word ‘n intellektuele slagyster en die spreker bely:

I thank this Phallus King
The God at the outer
Outer edge of words
The place where you can
Where, at last, you can
You can just take it….

En lees self die woedende, aggressiewe slot!

Die tweede joernaal heet “The boatman” en ons is nou in die domein van die dood. Hier word verskilende “eindes” geaktiveer: die Boeddha wat in Gauteng aankom en deur die geweld oorrompel word sodat ook hý nie meer verder kan nie; Charon wat moeg gevaar is en huis toe verlang; die einde van ‘n liefdesverhouding waar die spreker nadink oor die verskillende verhale of profiele wat oor ‘n dooie verhouding huiwer. Elke het / is ‘n “shard of history”. Uiteindelik die wegbeweeg, die “bodyhood” versplinter, die “body loneliness” en die uiteindelike verlies van oorgawe. 

In die derde joernaal (“Blood and bone”) word die huwelik van die uiterstes bespreek. Hier word die geliefde weer aangespreek: opnuut met komplekse emosies van versugting na wat was en nooit weer kan wees nie. Sowel Apollo as Dionysus word onder die loep geneem in ‘n toestand van ambivalensie oor skryf en die liefde. Die vierde, en laaste afdeling, heet “In loss” en die gelyknamige gedig lewer skerp kommentaar op die skryfproses as een van verlies en onsekerheid. My gunstelingvers in die bundel is “Anti-Oedipus” – met toespelings op Deleuze en Guattari se beroemde skiso-analise en die verwerping van Freudiaanse psigoanalise – waar hy in woede die komplekse triadiese verhouding tussen minnaar/minnares/digter uitwerk. Die nuwe minnaar is beslis nie haar vader nie, sy is nie sy moeder nie en die ongebreidelde verlange na die geliefde is dus hierom aanvaarbaar!


“Emporium of flesh” (47) snoer al die temas oor liggaamlikheid saam: en hoe ons almal vasgevang is in die voorskrifte van die “bodyhood” en die “supermarket of flesh” waar ons begeertes vir ons bestuur word in ‘n kapitalistiese samelewing. In “The Biology of Love” (55) word die mentor, Maturana aangespreek: en hoe ons vasgevang is in “cages /  of  our selves”. 

Dit is ‘n goeie bundel. Dit dekonstrueer liefdespoësie en die skryf van gedigte as ‘n aangename proses. Daar is ‘n woede, ‘n energie wat hierdie bundel vir hierdie leser besonder aantreklik gemaak het. Die slim toespelings en vernuftige gesprekke is boeiend. Van ongelooflike woede tot Boeddhistiese berusting. Van ‘n aanspreek van die geliefde, selfs aanklag oor die ervaring van verlies wat elke vesel in die spreker se liggaam aantas tot aanvaarding dat daar wel iets is, dalk was soos Die Groot Liefde. Dit is kennelik ‘n bundel wat ontstaan het in ‘n periode van groot verdriet, maar dit het ‘n knap bundel tot gevolg gehad. Ek het hierdie bundel weer saam met Carol Ann Duffy se Rapture gelees en die verskillende prosesse van aflegging (en herbelewenis) in die liefde bly maar iets wat digters inspireer.

Eweneens tersaaklik is hoe die manlike bewussyn van die liggaam ervaar word. Die ou geykte opvatting dat mans in liefdesgedigte kyk en vroue voel (“touch”) word eweneens hier geproblematiseer. Wat is begeerte (“desire”)? Ek het die gedigte saam met Žižek se The pervert’s guide to the cinema gelees. Word begeerte vir ons geskep deur films of gedigte of kan ons soos in “Anti-Oedipus” dit ontvlug?

Bronne:

Barthes, Roland.1973/1975.The pleasure of the text. New York: Hill and Wang.

Bloom, Harold. 1975. A map of misreading. New Haven: Yale University Press.
Bloom, Harold. 2000. How to read and why. New York: Scribner.
Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New Haven: Yale University Press.
Bloom, Harold.1982. The breaking of the vessels. Chicago: The University of Chicago Press.

Deleuze, Gilles & Guattari, Félix. 1972/1984. Anti-Oedipus. Capitalism and schizophrenia. Londen:The Athlone Press.

De Man, Paul. 1971/1983. Blindness and insight. Essays in the Rhetoric of Contemporary Criticism. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Duffy, Carol Ann. 2005. Rapture. Londen: Picador.

Lacan, Jacques. 1966/1977.  Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan.  Londen: Tavistock.

Žižek, Slavoj. 2007. The pervert’s guide to the cinema.  Film.

[Hierdie resensie het vantevore in SlipNet verskyn.]

Leon de Kock - Bad Sex (2010)



Leon de Kock. Bad Sex. Umuzi, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

I

Dit is die verhaal van Sammy / Sam / Samuel L. Baptista oftewel Sammy-Boy se soeke na die self. In hierdie uiters onderhoudende roman, wat ‘n soort raamvertelling is, word die wel en wee van Sammy se soeke-na-self in ‘n Philip Roth-agtige Portnoy’s complaint weergegee. Kom ons wees eerlik. As feministiese en gay-skrywers hulle harte kan oopmaak en ontboeseminge publiseer, mag macho-mans dit ook doen. In hierdie vertelling aan die sielkundige, ene Anna Brink word die lewe van die hoofkarakter weergegee. Dit speel af in sy jeugjare in Mayfair, gewone, nee eintlik kommen mense en die pratende ek vertel alles van sy verwondings.

Liebe dein Symptom wie Dich Selbst verwys na Jacques Lacan, die Franse psigoanalis se siening van die wond wat die self bepaal. Dit is ook die titel van Slavoj Žižek se film oor sy eiesinnige interpretasie van Lacan.

Die leser word dus bewus gemaak van die slim toespelings op “talking therapy” (Lacan se parlêtres) dat daar ‘n sogenaamde “clean slate” moet wees sodat transferensie kan plaasvind. Soos in die toneel waar die hoofkarakter broeklosmaak vir die suigende lippe van ‘n prostituut, word die leser ingelyf by al die intieme bedsake van die hoofkarakter, sy broer, sy grensoorskrydende familie en hul besoekers en les bes: ‘n molesterende dokter.
Die verhaal word aan die gang gesit met die einde van ‘n verhouding. Die magtige en dus kastrerende vroulike baas en minnares, ene Sabina Fairbrother (Sabina Spielrein?), woonagtig te Westcliff Ridge, het probleme met sy tafelmaniere. En so word ‘n hele verlede “ontsluit” van boks-insidente, tot ‘n broer se masturbasie-toneel en manewales wat die ek-verteller psigies skend. Dit is ‘n “cocked-jocked”-roman waarin satiriese uitsprake gemaak word oor die akademie (“The Ideology of Bliss”) en feministiese tekste soos The women’s room.

Die vertelling ontstaan wanneer die terapeut opdrag gee dat die verteller ‘n roman moet skryf en die leser kry dus die volle weergawe van ‘n komplekse man se siening van seks. Die magspel, die vrees vir vroue, kastrasie, die mag van die vader, ensomeer. Maar nou alles is nie loodswaar Lacaneske (all puns intended) vertelling nie. Daar is skreeusnaakse weergawes oor die verteller se jeug waar die ma in gesprek tree met ‘n skinderlistige tante wat die jong kind afloer; skerp opmerkings oor rasverskille van doerietyd; die invloed van Springbokradio en vervolgverhale. Die invloed van die broer op sy lewe lewer ook felle kommentaar op Freud se siening van familiestrukture en die “return of the repressed”. Die jong kind se vrese rondom die broer se oortredings en sy eie vergrype soos winkeldiefstal is werklik aangrypend goed weergegee. Wanneer die broer sy jeugliefde betree, is hy in erge konflik…:

“Remember Charmaine Lotter?” he says.
‘ “Yes, of course, man!” I blurt out.
‘ “Well, I just fucked her,” he announces. “Fucked her good and solid. Half an hour ago . . .”
‘I felt an immediate jolt of bitter outrage. Charmaine Lotter! I was in love with her, Anna! But she’d always seemed so out of reach. She was a lanky, barefooted girl . . . a year or two older than me . . . and impossibly pretty, just like her twin sister, Darlene. They were sandy-haired waifs . . . only just “developed”.
But innocent! And now Nev goes and does this . . . this, with that disgusting dick of his!
‘I feel angry and outraged, but I also feel kind’ve jealous . . . and I have to hide all these feelings away, too, otherwise there’d be further complications . . . Basically, I feel useless and left out.
But still, Nev gives me the horrible details. Tells me the story. This is his moment. Telling me is his real moment of glory. Rubbing it in my face. I am his foil. So this is more or less how he tells it”.

Daar is etlike ongelooflike tonele: ‘n bokstoneel wat weens naarheid stop; ‘n molestering van ‘n jong seun in ‘n dokterspreekkamer; ambivalente intimiteit met Sofia van Staden; ‘n homo-toneel in Kaapstad.

Die boek is in lekker spreektaal geskryf. Op ‘n plek verneem ons van die “moedelose anger” van die karakter wat deur sy terapeut bewus gemaak word van sy wonde. Woede en vevreemding. En ‘n herhaaldelike terugkeer na iets of iemand wat sal begryp…

Op bladsy 133 is die pa in Durban:

“Like that old Durban joke photograph my father once showed me, where he’d positioned
himself behind a board with a painted cartoon on the front, resting his neck and head on the cut-out space as the photographer took the snap. The board showed a ridiculous
figure – now transformed into my dad – with just his head sticking out from the inside of a toilet bowl, his hand on the flush handle, ready to pull. The speech bubble read: “Goodbye, cruel world!”
‘It was the reduction of everything to that level, crude clichés of Durban-by-the-sea in the 1960s . . . a world of bluster and corny white jokes . . . a backwater, mealy-mouthed sense of
inferiority before the greater world, those days when people still saw themselves as colonial small fry, and they resorted to cheap shots, in low-slung drawls: “Yous wanner get ya picksures tayken?”, as if they didn’t deserve better and they knew it. This was the world I thought I had outgrown and outlived.”

Ten spyte van  die moedige pogings van die hoofkarakter, wat aan die Universiteit van die Witwatersrand gestudeer het en dus die geleerde verwysings aanvaarbaar maak, kan ‘n mens tog nie jou jeug ontglip nie. Dis ‘n roman wat met soveel eerlikheid geskryf is dat ‘n mens net eenvoudig bewondering vir die teks kan uitspreek.

Die aanslag is reg. Die karakters praat soos regte mense. Jy hoor die Mayfair-nommers.
Dis eweneens ‘n belangrike tydsdokument: die apartheidsjare, bediendes in agterkwartiere, ras-kwessies en vooroordele.

Die boek lees vlot. Ten spyte van die pyn (en eerlikheid) word die vertelling afgewissel met humor.

II

Die raamvertelling en die opdrag van die sielkundige maak van die leser ‘n medepligtige. Jy word deel van die verhaal en die genesing van die verteller. Jy koekeloer saam met hom en beleef ook die transgressiewe arenas van die jeug. Daar word uitgepraat uit hierdie spreekkamer en die leser wat aanstoot neem, moet gewoon die roman neersit.
Verder is die roman polities-inkorrek en begin dit ‘n debat wat waarskynlik vir sekere feministe aanstootlik sal wees. Die verteller is egter besig om kommentaar te lewer op maskuliniteite en die manlike kultuur en hoe die sensitiewe man hierdeur geraak word. Dit is juis hierdie “double talk”, in Koestenbaum se terme, wat die roman geslaagd en aangrypend maak.

Die analis/analysand-rolle word gekompliseer met die leser wat analis word en soms gepootjie word en in die analysand-posisie geplaas word wanneer jy die Toweels onthou, Springbokradio, die ou-Suid-Afrika en die verteller se soeke na identiteit is ‘n moeilike dog eerlike reis. Op ‘n manier is dit ‘n antwoord ook op Marlene van Niekerk se Triomf, puik vertaal deur De Kock.

Maar in sy geheel: ‘n ongelooflik komplekse roman wat in gesprek tree met psigoanalitiese sienings oor self en verwonding.

Veral Lacan se siening van die knope in die psige is hier relevant. En vir vroue-lesers dalk ‘n onthulling dat man-wees met baie wroeging en vrese gepaard gaan.

Bronne:

Koestenbaum, Wayne. 1989. Double talk - the erotics of male literary collaboration.Londen: Routledge.

Lacan, Jacques. 1988. "The insistence of the letter in the unconscious" in David Lodge(red.): Modern criticism and theory - a reader. Londen: Longman.

Longhurst, Derek(red.). 1989. Gender, genre & narrative pleasure. Londen: Unwin Hyman.

Malcolm, Janet. 1992. The purloined clinic. Selected writings. Londen: Papermac.

Noyes, John K. 1997. The mastery of submission. Inventions of masochism. Ithaca: Cornell University Press.

Ragland, Ellie. 1995. Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan. New York: Routledge.

Singer, June. 1997. Androgyny - Towards a new theory of sexuality. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Žižek, Slavoj. The pervert’s guide to the cinema. DVD.

[Hierdie resensie het vantevore in SlipNet verskyn.]

Kerneels Breytenbach - Piekniek by Hangklip (2010)



Kerneels Breytenbach. Piekniek by Hangklip. Human & Rousseau, 2010. ISBN 978 0 7981 5603 5.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Speurverhaal sonder ‘n speurder? Die speurverhaal sedert Edgar Allen Poe se The purloined letter (waaroor Lacan en Derrida uitgebreid gepolemiseer het) het altyd ‘n speurder, al is dit dan net die leser wat uiteindelik die rol van die speurder vertolk. (Hier is wel dieetspeurders aanwesig wat mense uitvang wat kroek met ‘n dieet.) Kerneels Breytenbach se vorige roman Glimlag (1993) was eweneens aweregs. Soos die kortverhale Morsdood van die honger (1992) word die leser dikwels onkant betrap deur die lewe se ontoevallige-toevallighede.

Piekniek by hangklip aktiveer ook Peter Weir se rolprent Picnic at hanging rock (1975) met sy onseker einde. Wie is die skuldige? Die oop slot van die film het vele kritici lank laat kopkrap. By Breytenbach word die skuldige van die openingstoneel aan ons bekend gestel. En ons getuies wat toekyk hoe die verhaal ontvou.

Joshua Gumbo (van die Lucky Thirteen-sindikaat) skiet Sonja Griessel se ouers per ongeluk dood tydens ‘n mislukte kaping. Sy soen haar kaper op die mond en dit ontstig hom so dat Josua haar dan agtervolg. Hy het deur hierdie aksie sy mojo verloor. Sy vertrek Kaap toe om te traumatiese gebeure te verwerk en vestig haar op Pringlebaai.

Hierdie roman is soos die Maigret-reeks van Georges Simenon. Die fokus nie net op die uitkoms of oplossing nie, maar op die psigologiese spanninge tussen mense. Breytenbach is ‘n fyn stilis en ‘n meester van ironie. Met tonele wat Bakhtin as karnavalesk sou beskryf.
Boonop skep hy ‘n ouktoriale verteller wat van die leser ‘n medepligtige maak met uitsprake soos “boonop weet hy nie wat ons weet nie” en met hofies wat ‘n hoofstuk voorafgaan. Jy word ook as liewe leser aangespreek. Dit is dus ‘n vertelling wat deurentyd kommentaar lewer op die leesproses en die gebeurlikhede soos dit ontvou. En daardie “ons” is dan eintlik die speurder-as-leser.

Henry Fielding (1707 – 1754) se Joseph Andrews en Tom Jones is duidelike intertekste wat die opsomming van die verhaalgebeure verduidelik. Fielding was magistraat; Sonja is ‘n prokureur. Daar is ook toespelings op Pamela / Shamela-parodieë, te wete die antwoord op Richardson se ernstige roman.

Die roman speel in op Etienne Leroux se Een vir Azazel met daardie roman se eiesinnige aanpassing van die speurverhaal. ‘n Mens dink ook aan Erica Jong se Fanny (1991), wat met die tradisie van die Fielding-roman in gesprek tree. Die verhaal van Fanny Hackabout-Jones is ‘n parodie van Fielding se werkswyse. Ons vind ‘n literator (hy is ‘n trassie) wat biografieë skryf onder andere oor Abel Coetzee en Jan Senekal. Karel Schoeman maak ‘n buiging, soos Barend J. Toerien met sy groot neus. (Semioot: jy moet snuffel en al die tekens reg vertolk.)

Op ‘n skerpsinnige wyse word die rol van die verteller en skrywende instansie geanaliseer en die talle verwysings na die bestaan van God, Boeddha, karma, die noodlot wat ‘n meditasie word oor die implikasies van skryf. Flaubert se dictum oor die funksie en rol van die skrywer in ‘n verhaal, word op sy kop gedraai. Die verteller meng die hele tyd in en is nooit afwesig nie.

Ons vind eweneens vreemde name vir karakters, so bekend aan Thomas Pynchon se werkswyse waar dit ‘n simboliese implikasie dra, soos Jaap Schvantz of Cas van Ryneveldt. (Oedipa Maas, eat your heart out. Oedipus, my ass…)

Daar is vele toespelings: na musiek, na kos, volksfabels en ander verhale wat die boek kompleks maak. Dit lees vlot en onderhoudend, maar onder draai die duiwels rond. ‘n Bitter gal in die soetste wyn, as jy wil. En die Afrikaanse digkuns word eweneens betrek.
Kuberkrakers, dieetspeurders, argitektuur, Nietzsche, Latynse frases, spirituele debatte, die soeke na jou mojo, vertrouenswendelaars in religieuse praktyke (soos die United Church of Zambia), maak van hierdie parodies-satiriese roman ‘n ervaring wat jou laat lag (soos oor gedekonstrueerde kookkuns!), maar ook laat sidder omdat dit felle kommentaar lewer op die geweld in ons samelewing. 

Austin Powers skeer die gek met James Bond en júis in sy satiriese antwoorde wys hy op die pornografie van geweld in Bond-films. Hierdie roman wil ons, soos wat Fielding gedoen het, attent maak op die werklikheid daarbuite. Hierom herken ons werklike mense, soos wyle Kobus Pienaar aan wie die roman opgedra is.

Die piekniek tree uiteindelik in gesprek met Sewe dae by die Silbersteins en veelal lewer die roman vernuftige kommentaar op die gesprek tussen Etienne Leroux en Thomas Pynchon. En Fielding se siening oor hoé romans die werklikheid reflekteer. (Die verwysings na Kafka en Henry James verdien verdere speurwerk oor hul sieninge van wat romans wil bereik. Ek hoor ook Nabokov soms in die agtergrond lag. En Aristoteles oor oorsaak en gevolg moet ook opgevolg word!)

Dit is ‘n boeiende teks. Uitstekend geskryf en met hierdie roman lewer hy ‘n teks wat ‘n besóndere plek inneem in ons romankuns. Die kos- en musiekkenner, die rubriekskrywer en uitgewer se ervarings het neerslag gevind in hierdie ryp werk. Dit was beslis die moeite werd om hiervoor agtien jaar lank te gewag het! Ek was so teleurgestel toe ek hierdie boek klaar gelees het…ek wou nog meer lees.

Dit is ‘n roman wat my vreemd genoeg teruggeneem het na Die Mugu: oor hoe toeval jou lewe kan verander.

[Hierdie resensie het vantevore in SlipNet verskyn.]

Wednesday, January 23, 2013

Jasper van Zyl - Die lewe tussen pikkewyne (2010)



Jasper van Zyl. Die lewe tussen pikkewyne. Tafelberg Uitgewers, 2010. ISBN 978 0 624 04681 3.

Resensent: Joan Hambidge

“Pyn is ‘n toubrug” (16) is ‘n klinkende beeld wat die digter Jasper van Zyl in sy debuutbundel Die lewe tussen pikkewyne gebruik. Jasper van Zyl het al lank terug naam gemaak in Nuwe stemme as ‘n jong digter wat as skoolkind die aandag getrek het. So ‘n bemarking van ‘n jong talent kan dikwels die jong digter knou, hoewel dit ‘n onmiddellike “celebrity”-status waarborg. Uitgewers bemark die digters want dit beteken dat die mark vir jong lesers ook aangespreek sal word. Vir die jong digter is dit ‘n gevaarlike oomblik: Antjie Krog het dit oorleef, maar twee ander jongelinge, Theunis Engelbrecht en Annesu de Vos, is waarskynlik deur die kalklig ‘n onreg bewys. Die groen perske het groen gebly en die belofteryke Engelbrecht het ons aan die musiekwêreld verloor.

Die toets van die tyd is waarskynlik maar al wat tel. Die uitgewers se “hype” klink dikwels by nabaat laf en die jong digter moet dikwels deur meer werk as die digter wat net op sy bundel getakseer word.

Jasper van Zyl se debuut is verrassend. Die temas is jonk, die leefwêreld behels jong liefdes en onderwyseresse en skoolervarings, maar die dwingende digterlike talent is ongetwyfeld daar. Hy praat van “winterryp wat soos geskenkpapier kom lê” (32), oor ‘n trein wat soos weerlig word in die verte (33), oor bome wat spook op wind (36). Maar die ware toets van die digterskap kry hy reg: die tegelykertydaspek. Hy skryf oor een saak, maar dit word terselfdertyd ook iets anders soos in die verruklike vers waar Emma haar eerste maandstonde beleef (in die gedig “emma”, 24) en haar pa die brandblusser besig is om die vuur te blus in die woud. Hierdie gedig het verskeie innuendo’s na Rooikappie en die wolf, implisiete (of begeerde bloedskande):

as sy drink, drink sy vir twee
en slaap in die arms van haar vader,
‘n land in puin, waar helikopters
stotter bokant die ontbossing

Ek dink ‘n jong digter wat ‘n vers soos “jy is aan die stuur” (9) kan skryf, is meer as belofteryk. Die geliefde se vingers is groen stingels in hierdie slim liefdesvers:

jou lippe is ‘n heldedaad
in ‘n droewige dorp,
dit blus die brand in die venster
waardeur ek tuur
oor ‘n ewig droërwordende landskap
waar kraaie in die struike vroetel.

in my lieste: dis hier waar ek
jou vingers voel, op die polse
in my binnebene, in die gragte
van my ondergrond. soos ‘n siekte

wat jy uitdryf
breek die stingels
uit my vel:

jou vingers is groen en gee lewe
aan al wat roos is. my skat,

jou nag is my nag. ek groet
jou gewigloosheid in die verbygaan.

Soos hulle seg: klein maar getrein. Belofteryk, ‘n gawe debuut met verrassende beelde, al is dit nog aan die dun kant.

En so van Krog gepraat. Haar telg, Andries Samuel, het onlangs gedebuteer en die kritiek se inlees van ‘n gesprek met die moeder, al dan nie, het myns insiens die werklike bydrae van hierdie jong digter skeefgetrek. Dit is kommentare wat waarskynlik meer sê oor die familieskap van die kritiek, as die werklike gesprek tussen die digters-op-papier. Hier is Harold Bloom se The anxiety of influence (1973) die wegwyser: digters kies hul digterlike ouers waarteen hulle skryf of van wie hulle wegdraai.

[Hierdie resensie het vantevore in SlipNet verskyn.]