Showing posts with label Marita van der Vyver. Show all posts
Showing posts with label Marita van der Vyver. Show all posts

Sunday, May 2, 2021

Resensie | Marita van der Vyver – 'n Baie lang brief aan my dogter | 2021

Marita van der Vyver – 'n Baie lang brief aan my dogter. Tafelberg, 2021. ISBN 978 0624 090014

Resensie: Joan Hambidge


Hoeveel “ekke” dra 'n mens in jou saam?


Die outobiografiese teks of memoir is daardie soort teks wat eweens 'n stel reëls vooropstel. 'n Spel tussen herinnering, opname, optekening en dikwels fiksionalisering, kenmerk hierdie soort teks. 

 

'n Baie lang brief aan my dogter werk dan binne die ruimte van ego-tekste. Die bekende skrywer Marita van der Vyver skryf 'n brief aan haar dogter en in hierdie verslag wys sy op die verskille tussen Frankryk en Suid-Afrika en hoe sy van jongsaf 'n skrywer wou word. 

 

Haar jeugjare as 'n kind uit 'n werkersklashuis word sonder skroom of verdraaiing vertel. Dan weet ons ook hoe haar lewe geraak is deur die dood van 'n kind en ons verneem van die impak wat Griet skryf 'n sprokie op haar lewe gehad het. Haar lewe in aangelapte familie waar sy moet skryf tussen chaos en hoe die brief aan haar dogter ook 'n besinning word oor Afrikaans, die skryfproses en hierdie ongenaakbare tyd van Onsekerheid wat ons tans beleef.

 

Sy verwys na die impak van grendeltyd en hoe mense met eensaamheid stoei. Vir die skrywer Marita van der Vyver gee ander skrywers raad: James Joyce oor hoe jy moet wees om te skryf; Roth oor die genadelose eise van hierdie bedryf. 'n Magdom skrywers gooi hier 'n draai.

 

Dit is 'n feministiese teks met intimiteite oor vrouwees beskryf met 'n sekure hand sónder om die leser te laat bloos. En wat met 'n kind gebeur wanneer sy “verplant” word na 'n onbekende ruimte waar sy nuwe maats moet maak.

 

Hierdie moeder en kind verskil, maar het tog raakpunte. Die wêrelde waarin hul hulself bevind is nie identies nie, maar deur die kind aan te spreek, herbeleef sy haar eie politieke en seksuele ontwaking. So beskou, is hierdie roman 'n waardevolle tydsdokument oor hoe ons as kinders in beheer gehou is met lyfstraf, politieke leuens, familiename en sensuur. As jy wil onthou van inryteaters en LM-radio, gaan jy teruggeneem word na 'n Herinnering aan dinge vir ewig verlore.

 

Daar is baie kodes en aanwysings in die teks wat die leser kan opvolg. Marguerite Yourcenar open 'n hele feministiese diskoers, terwyl die twee skrywers aan wie sy die boek opdra, wyle Ryk Hattingh en wyle Harry Kalmer, die obsessionaliteit van skryf beklemtoon. Ryk Hattingh met sy Huilboek, belangrike dramas en kort romans is nooit na waarde geskat nie. Dieselfde geld Harry Kalmer, 'n produktiewe skrywer, wat eweneens onderskat is.

 

Hierteenoor is Van der Vyver volksbesit. Hierdie boek het my teruggeneem na Dorian Leader se: Why do women write more letters than they post? (1996) en die rol van vroueskrywers in die letterkunde. Sy skryf ook insigryk oor Totius se suster, Marié, en hoe min ons van haar weet.

 

Saam met Yourcenar is daar verwysings na Virginia Woolf met die eksplisiete soeke na en besitname van daardie kamer-van-jou-eie. Behalwe vroueskrywers, verwys sy na Philip Roth wat in sy lewe gestriem is, omdat hy alles en almal om hom gefiksionaliseer het. Hiervan het sy eksvrou nie gehou nie. In haar memoir vertel sy alles: Leaving a doll's house: A memoir wat in 1996 verskyn het. En in die briewe van Saul Bellow aan Roth word daar baie verklap oor al die stryde tussen die geskryfdes.


'n Skrywer is altyd eerstens 'n leser (Susan Sontag) en 'n mens kry hier 'n leesverslag van die werklike outeur wat via Gloria Steinem die patriargale diskoers met humor takel.

 

Hierdie boek lees soos een bewussynstroom ingehok met hoofstukafdelings. Die werklike outeur waarsku teen selfsensuur en die gevare wat dit vir enige skrywer mag inhou. Sy deel ook klappe uit na die Franse se stakingkultuur, klagtes en ipekonders.

 

Sy deel haar liefde vir reis en wandel met haar dogter, die skryf van poskaarte - en ons word deel van hierdie intieme binnespraak.

 

Van die mooiste beskrywings is die besoeke aan biblioteke. En hoe mense ervarings verskillend onthou ...

 

Dit is vlot en onderhoudend geskryf, maar onder draai daar vele duiwels rond. Vir hierdie leser was dit 'n pynlike leeservaring wat verdringde herinnerings oopgemaak het. Voortrekkers, die besoek aan heiligdomme van die Afrikaner wat jong kinders polities gebreinspoel het, word uitstekend beskryf. Lyfstraf, uniforms, Pretoria se skole en die besondere Afrikaanse uitspraak, word verduidelik. Die vermindering van “bediendes” en swart mense word eweneens vertel - reeds by die jong Marita is daar intense opstand.

 

Kyk wat doen die jonge Marita by die graniet-ossewa van Coert Steynberg en lees watter omstrede persoon was 'n huisvriend van die ouers.

 

Die boek is geskryf vir die dogter wat die toonaard van die boek verduidelik: intiem én eerlik. Inderdaad is herinnering, soos Sontag waarsku:

 

Memory is inventive. Memory a is performance. Memory invites itself, and is hard to turn away.

 

Friday, November 15, 2019

Resensie | Marita van der Vyver – Grensgeval (2019)

Marita van der Vyver – Grensgeval. Penguin, 2019. ISBN: 978 1 4859 0379 6

Resensent: Joan Hambidge

Die verlede is ‘n land waarheen jy nooit kan terugkeer nie

I
Ruan Kemp se Gedeeltelik bewolk het vroeër vanjaar by Tafelberg verskyn met ‘n opdrag: vir D.B. Die roman het tot polemiek gelei oor wat behoort het aan die Dave Bishop en wat Kemp bygelas of herinterpreteer het? Dit bly ‘n komplekse gegewe waarop die antwoorde eers later gevind sal word (Woorde Wat Weeg | Resensie | Ruan Kemp – Gedeeltelik bewolk, 2019).

Nou kom Marita van der Vyver met Grensgeval (Penguin) en sy dra haar boek op aan Dave Bishop, haar voormalige eggenoot en ‘n karakter in Griet skryf ‘n sprokie.

Grensgeval is ‘n boek oor die grensoorlog (Angola) en verwys ook na die sogenaamde borderline personality disorder. Dit verwys eweneens na paranoïese skisofrenie en bipolariteit. In hierdie boek – ‘n onthouboek – beweeg die hoofkarakter Theresa Marais terug in haar verlede as ‘n bevoorregte wit kind. Sy besef as ouer persoon hoe min sy geweet het van die bestaan van minder bevoorregtes en nie-wit-mense in die ou-Suid-Afrika. Met die roman wil sy dan probeer bepaal hoé dit gebeur het dat sy so oningelig was. 

Haar man – eintlik eksman Theo – se ervarings wat in ‘n boks opgesluit word, is dan ‘n Pandorakis vol geheime. Die ontdekking van ‘n Kubaanse soldaat se brief aan sy kind neem haar na Kuba om die brief terug te gee. 

Sy oorhandig ook Theo se briewe aan sy moeder in ‘n verloopte Sunnyside. Hier ontdek sy in die rassistiese skoonmoeder se woonstel ‘n foto van haarself. Sy is die bruid op die foto, maar helaas uitgesny uit die kiekie (44).

Die besoek aan Havana is eg beskryf. Sy wil egter meer as ‘n toeris wees en besoekers aan Kuba, soos hierdie reisigerleser, weet hoe outentiek sy die kos, die hotel en die ambiance van hierdie verruklike wêreld beskryf word wat vir soveel jare in jong Afrikaners se gemoed gedemoniseer is.

In die beskrywings van ouer Afrikaners is die gebruik van die woord opneuk erger as die k-woord (94), wat weer eens bewys op watter vasteland ons geboer het.

Sommige ervarings word inderdaad nooit vergeet nie, net onderdruk (107). Hierdie goed geskrewe, hoogs leesbare roman navigeer die pynlike ontdekkingsreis van Theresa.

II
Die roman word onder verskillende titels ingedeel wat die verhaal konkreet begelei, soos “Hemingway se bed” en “'n Vuurwapen”. Hierdie twee hoofstukke wat ek uitsonder, is gelaai met subteks. Die skrywende Hemingway in die hotel Ambos Mundos, is ‘n belangrike kode vir die teks. Hemingway is ‘n toeristiese baken in Havana en sy vriendskap met Castro gee ‘n ander blik op die vertellende instansie wat grootgeword het met ‘n negatiewe indruk van hierdie staatshoof (Woorde Wat Weeg | Reisjoernaal/ Kuba & Mexiko, 2004Besoek 15 November 2019).

Sy het somervakansies beleef, terwyl haar man op die grens was. Hierdie ervaring het hom so verwond dat hy selfs ‘n vuurwapen op haar rig. In die beskrywing van ‘n ongelukkige huwelik wat gekenmerk word deur emosionele geweld, vind die leser ‘n hoogtepunt in Van der Vyver se oeuvre.

Die beskrywing van medespelers in Kuba – soos Ruben, Lazaro en Oreste – word eweneens goed gedoen. Newekarakters (soos die prokureur, Nini, die skoonmoeder en ouers word goed geteken. Die gesprek met die moeder en self is pynlik-eerlik. Ook die kwellinge rondom die lyf en seks, is eerlik.)

Die roman wentel om verskillende opposisies: haar man se troostelose weermagervaring teenoor haar onskuldige ervarings; haar vriendin in Pretoria se ervarings teenoor ‘n bestaan in die Kaap; hede teenoor verlede; die jeugdagboeke teenoor die man se “swart joernaal” (ook ‘n army boks) en die pa se brief.

Daar is oomblikke in hierdie roman wat so pynlik is dat ‘n mens eers die boek moet toemaak.

Dit is ‘n roman van boetedoening (‘n brief wat gevind word en vergifnis wat begeer word) en ‘n ondersoek na die letsels wat oorlog op ‘n mens laat.

Die toneel waar ‘n Munch-koppie uit Theresa se hand geklap word en die “preek” in die kerk, is eweneens dwingend beskryf. (Per ongeluk ‘n dubbelsinnige taaipou: tikland in plaas van Stikland op bladsy 258.)

Metabletika is die konsep van J.H.H. van den Berg: die ontoevallige samehang van gebeure (Metabletica - WikipediaBesoek 15 November 2019).

Twee romans ondersoek Dave Bishop, een vanuit ‘n meer gedistansieerde manlike perspektief; die ander vanuit ‘n vroulike, intiemer hoek.

En ‘n mens kan nie die verlede regmaak of regdokter nie.’n Mens kan alleen dit in die herinnering en in ‘n roman of nie-fiksie besoek. Die brief aan die geliefde dogter (Mi Querida Hija) is ‘n pynlike analise van wat oorlog aan mense doen en die hoop dat ons dit kan vermy.

Die afwesige teenwoordigheid wat altyd sou bly spook.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)


Saturday, March 18, 2017

Marita van der Vyver - Misverstand (2017)


Marita van der Vyver - Misverstand. Penguin Random House, 2017. ISBN: 9781485903505

Resensent: Joan Hambidge

Misverstand is die jongste toevoeging tot Marita van der Vyver se oeuvre. Dit word terselfdertyd uitgegee in Engels as You lost me.

Die verhaal ondersoek etlike kwessies wat die middeljarige en werklike outeur Van der Vyver besig hou. Die rol van ‘n suksesverhaal (Griet skryf ‘n sprokie) waarna kritici altyd terugkeer, terwyl sy ook ander werke gelewer het soos uitstekende kinderboeke en kosboeke.

Hierdie leser het die teks as ‘n tong-in-die-kies-antwoord gesien van die werklike Van der Vyver se “antwoord” op hoe Afrikaanse lesers haar sien as ‘n buitelandse skrywer wat in die “eksotiese” Franse landskap leef.

Frankryk is helaas nie meer ‘n veilige hawe nie. Dis ook nie meer die eksotiese ruimte van toe ons sestigers soos André P. Brink daar vertoef het nie en tekste soos Die ambassadeur en reisverhale geskryf het nie. Ja, daar was studente-opstande – nou is dit terreur post-Charlie Hebdo, bomme op lughawens, aanhoudings in teaters, en migrante wat die hele struktuur van die Stad van Lig en Liefde verander het. ‘n Mens sien hierdie verandering duidelik in die rolprent met sy verskillende filmmakers agter die kamera in die film Paris, je t’aime, 2006. (Besoek 16 Maart 2017). (Haar roman Dis koue kos, skat is verfilm).

Die werklike outeur dekonstrueer in hierdie roman die rol van die skrywer. Haar hoofkarakter is – yes, wait for it – Willem Prins met sy uitgewer Martine Hulot wat sterk voorskrifte het oor ‘poesboekies’ wat goed verkoop. Is dit beter om ‘n vroueskrywer se naam op die buiteblad te plaas eerder as ‘n man s’n? Hier speel Story of O ook in en die nom de plume Lolita Meyer word ‘n ander kode.

Behalwe vir die spottery met hygromans en sukses, word daar ook verwys na die Groot Roman-wedstryd (dit heet die Johanna de Groot-prys!), wat die Afrikaanse letterkunde voortdryf. Groot geld word uitgeloof en die mededinging tussen ons “groot skrywers” pleit al lankal vir ‘n satire. Veral as pryswenners se romans nie verskyn nie of gewoon ‘n flauwe kul blyk te wees. Hoe het sake nie verander nie.

Die hoofkarakter is vrouloos, webwerfloos, agentloos, drankloos (18). Hy het drie eksvroue en die voorblad van Misverstand resoneer met Brink se ‘n Vurk in die pad!

So beskou, word die erotiese skryfwerk van Brink ook opgestuur.

En die skryfproses word verder gesatiriseer:  Szymborska word aangehaal:

Die helfte het ingekom omdat dit reën, die res is familie. O Muse.

Die boek het vele kodes oor skryf en lees. Daar is wonderlike verwysings (vir die liefhebber van Parys). Selfs Sartre en De Beauvoir se kafee gooi ‘n draai hier.

Die fokalisasie wissel snel: van Willem, na ‘n eksvrou tot sy kind. Lana kom ook aan die woord. En Zoë het ook ‘n spreekbeurt soos Sophia.

Daar is ‘n joernalis (ene Jackie van der Merwe van Pniel),  daar is ‘n Proust-vraelys, daar is al die clichés oor skryf (en Parys), spottery met genderkwessies, distopie, die Bad Sex Award (waarvoor Brink al benoem was), Georges Simenon, die “metafisika van seks” (119), die duidelikste knipoog na Die ambassadeur (via Lawrence Durrell).

Presies halfpad in die roman word die grap onderbreek met die “ironie van die noodlot” (137).

Terreur dus,  en hier buig die roman sterk op die werklikheid in. (Om oor ander werklike kodes te skryf, word aan die leser oorgelaat, soos o.a. oor die impak van die dood van ‘n kind op 'n huwelik, oudword, die soeke na erkenning en die brose self.)

Franse woorde word toeganklik en vlot in Afrikaans oorgedra.

Die analise van die temas van kandidate vir die Groot roman-wedstryd is vol in die kol.
Wanneer ons lees van “haar stem breek, soos ‘n tak wat knak” (259) val die roman in die slaggat van die hygroman of populistiese roman en dekonstrueer dit nie genoegsaam die ellende wat beleef word nie. Die eerste helfte werk bepaald. Dis uitstekend!

Dis ‘n goed geskrewe roman wat vlot lees. Vir my gevoel moes die tweede helfte dalk net somberder en sterker gewees het?

Om middelmatigheid en die vrees daarvoor te beskryf, moet jy die “bloody horse” weergee.
Steeds ‘n roman vir Van der Vyfer-aanhangers. Dis nommer 13.

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.)


Sunday, November 20, 2016

Joan Hambidge - The Runaway Jury

El Camino de Santiago

Daar is geen kopiereg op idees nie.

Nou onlangs word daar op Facebook geskryf teen NB-uitgewers wat 'n skrywer se idee sou steel oor die Camino. Die verskillende reaksies op Facebook behoef 'n repliek.

Verskeie mense het al die Camino gestap en daaroor geskryf. ( Walking the Way - National Geographic Magazine. Besoek 20 November 2016)

Ek ken verskeie mense wat ook die spirituele pad geloop het en een het selfs grappend vertel hoe hy saans met 'n taxi vertrek het na 'n hotel! Die volgende oggend was hy weer op sy pos.

Nou as 'n skrywer se boek afgekeur word, is dit 'n pynlike saak. Veral as dit jou ten ore val dat iemand anders se boek aanvaar is en joune nie.

Dit beteken gewoon daardie persoon het beter geskryf, is meer bemarkbaar en val binne die uitgewershuis se idee van wat 'n nie-fiksionele verslag of fiksionele verslag moet behels. Uitgewershuise is finansiële instansies en nie terapie-sentra nie.

Soek eerder na 'n ander uitgewershuis wat jou boek wil publiseer.

Marita van der Vyver

Nou onlangs het Marita van der Vyver in 'n onderhoud bely dat sy graag 'n roman in Amsterdam sou wou situeer, maar Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk het dit reeds so goed gedoen dat sy eerder 'n ander stad gekies het. (Oor middeljarigheid en ontgogeling | Netwerk24. Besoek 20 November 2016)

Die storielyn praat ook implisiet met André P. Brink se Die ambassadeur.

Misverstand vertel die verhaal van Willem Prins, ’n middeljarige Suid-Afrikaanse skrywer wat ná jare sonder veel sukses in Suid-Afrika in Parys is om ’n boekie erotika, wat hy tot sy skaamte onder ’n skuilnaam geskryf het, bekend te stel. Hier ontmoet hy vir Jackie, ’n jong Suid-Afrikaner wat as au pair werk. Dit is Jackie wat saam met hom is dié Vrydagaand die 13de toe terreur in Parys losbars.

Sy ken Parys goed, en Amsterdam is al "gedoen" deur ander skrywers. Maar niks sou enige skrywer verhoed om wel 'n roman in Amsterdam te laat afspeel nie. Trouens, gaan kyk hoeveel ander skrywers in Engels het al hierdie stad as back drop gebruik.

Soos Ian McEwan in 1998.

Daar is terloops ook nie kopiereg op titels van romans nie. Die Judaskus (1998) was my titel vir 'n roman wat Rudie van Rensburg heraktiveer het met 'n speurverhaal. Syne heet Judaskus in 2015. Dit het net lesers weer attent gemaak op die bestaan van die eerste roman.

So gestel daar verskyn drie boeke tegelykertyd oor die Camino.

Dan sal kritici vergelyk wie het die beste boek geskryf en kyk op watter lesersmark is dit gerig. Dis al.

Deon Meyer, Chris Karsten, Rudie van Rensburg en al die verskillende speurverhaalskrywers wat tans in Afrikaans skryf, skryf 'n eiesoortige speurverhaal - gerig op verskillende lesersbehoeftes.

Is dit so goed soos Agatha Christie? P.D. James? Edgar Allan Poe?

Besluit self.

Maar voor jy op Facebook klim en deel word van die "runaway jury", moet jy eers na die beginsels kyk van die saak waaroor jy baklei. (Runaway Jury Law & Legal DefinitionBesoek 20 November 2016). 

© Joan Hambidge