Johan van Wyk. My
name is Angel. CD. Privaat uitgegee. 2001.
Johan van Wyk beklee 'n unieke posisie in die Afrikaanse
digkuns. Mede-digters is uitgesproke bewonderend oor sy werk, terwyl die
kanoniseerders hom nie na waarde skat nie. Sy jongste toevoeging is My name is
Angel but I'm not from heaven in any way (op CD-Rom) in navolging van sy Litnet-rubriek "Gillespie
slenters".
In 'n Bukowski-praatstyl word die wel en wee (en veral
wee) van die naglewe gegee: prostitute, dwelms, Vigs, verraad, uitsigloosheid,
die dood...
Almal leef hier vir die oomblik in die kloaak van Durban
digby die Addington hospitaal. Van Wyk vertel sy stories. Eintlik, hy dra dit
voor in 'n anti-styl: 'n growwe praatstyl vol uitspraakfoute asof hy hoog is.
Die professor-as-hobo word daar skalks vermeld.
Hoë letterkunde word opsetlik debunk in hierdie skrynende
vertellings waar die pyn net-net onder die oppervlak loer. Dit is wonderlik om
die skrywer se stem te hoor en die bewonderaars van sy rubriek sal hierdie
vertellinge des te meer geniet.
Onlangs het die skrywer in 'n onderhoud vertel dat sy
invloede Europees is. 'n Mens sou kon byvoeg: ironies genoeg ook Amerikaans en
Afrika-gerig. Hunter S. Thompson se Fear and loathing in Las Vegas praat ook
hier saam nes die groot guru van die marijuana-kultuur, Allen Ginsberg nie
misgekyk kan word nie.
En die orale tradisie van Afrika is ook hier aanwesig in
die aanbod.
Dikwels is die aanbod intens-persoonlik soos "Letter
to Luisa" en hartooprukkend.
"Sy slaap naak" (uit Deur die oog van die luiperd) is ook 'n geleentheid om Neil
Goedhals te hoor.
Dit is 'n wonderlik luisterbare stuk vertelling.
Waarskynlik nie een wat ons 'ol'e fogies' sal plesier nie, maar beslis 'n
belangrike bydrae van 'n puik digter en Ingrid Jonker-kenner.
Die CD-Rom se klank is nie altyd ewe goed nie en die
produksie in die geheel is beslis nie professioneel nie; maar dit is
waarskynlik juis wat beoog was.
Bestel by: jvanwyk@pixie.udw.ac.za
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]