Showing posts with label Echoing Green Press. Show all posts
Showing posts with label Echoing Green Press. Show all posts

Thursday, February 14, 2013

Dan Wylie - Road Work (2007)



Dan Wylie. Road Work. Echoing Green Press, 2007. ISBN 978 0 9802501 38.

Resensent: Joan Hambidge

Vir sy bundel The Road Out (1996) het die digter Dan Wylie die Ingrid Jonker- en Olive Schreiner-pryse behaal. Sy nuwe bundel heet Road Work.  Jack Kerouac se On the road het die definisie van skryf / reis vir ewig verander. Dit is ook ongelooflik hoe Kerouac en die Beats steeds met ons bly. Ons bly steeds terugkeer na daardie ongelooflike roman wat in een waansinnige vaart geskryf is. Vir my bly Allen Ginsberg onder andere ‘n digter wat eweneens tydloos bly. En die kreatiewe energie kan nie nageboots word nie.

Dit is nie korrek om ‘n bundel te resenseer wanneer jy  as keurder opgetree het nie. Jou subjektiewe oordeel mag deurslaan in jou bespreking. Dit is egter heeltemal aanvaarbaar om ‘n bundel te bespreek indien dit wel élders verskyn. Juis omdat die bundel by ‘n uitgewershuis weggewys is, omdat daar net drie bundels per jaar kan verskyn, mag jy daaroor skryf.

Daar is in hierdie bundel soveel onthoubare gedigte wat verskillende reiservarings karteer. Daar word na etlike buitelandse plekke gereis, maar die Suid-Afrikaanse landskap word terselfdertyd verken.

In Afrikaans is daar die onvergeetlike reisgedigte van Uys Krige. Die reisgedig werk altyd met die spanning tussen die bekende en die onbekende. En dikwels hoé verder die digter van die huis staan, des te beter kan dit begryp word.

Die openingsgedig heet dan “Touchdown” geskryf uit Perth. Met ‘n datum wat aan hierdie bundel ‘n soort reisverslag of –dagboek-aanslag gee.

Wanneer die vader aangespreek word, verwys hy na die “cockpit of dreams”” (p. 5), beelde bekend aan sy lewe. Die vader word later weer aangespreek op ‘n reis in die gedig “Tropic of  Capricorn 4”  (p. 49) wanneer hy besef die vader is sterwend.

In “Three Greek poems”, elegiese verse, word die die dood van die vader gekarteer:

You are my cargo.
You drag like barnacles at my keel.
You are the motor vibrating in my belly (p. 57).

Verskillende kontinente word bestryk in “trains, plains and automobiles”. In die aangrypende vers oor “Chichester Cathedral” (p. 12) word die katedraal van buite beskryf; dit word egter ook ‘n simbool van die digter se belewenis van homself.

Die digter het ‘n voorkeur vir die langer vers en dikwels is daar uitgesponne prosaverse.  Sodanige verse vereis ander bindingseise, omdat die vers dikwels verby ‘n normale slot kan verby beweeg of gewoon ‘n arbitrêre indruk laat oor wat in of uitgelaat kan word. Hierdie soort vers is dan dikwels in wese metonimies van aard, ofskoon Wylie sterk beelde skep wat ‘n mens bybly:

”The stitching of railway tracks”  of  “some deaths elude all archeology”.
Of  “the vulnerable heart is sealed in speed”.

In die vier afdelings word sowel die vreemde as die eksotiese landskap onder woorde gebring. Die gevaar van so ‘n tipe gedig is dat dit maklik in “travelogue” kan ontaard of ‘n blote gevoel van ek-was-ook-daar. Die gevaar word nie altyd ontkom nie, maar in gevalle waar die digter dit laai met mitlogiese verwysings soos “Prometheus in the Andes” (p. 74) of aandag gee aan die skryfhandeling soos in “Café” (p. 69) beweeg die gedig verby die poskaart-oomblik.

If by travelling
we intend to confront the obstacles
of strangeness, then why
does this path along the river
snake along the line
of least resistance?  (“If by travelling”, p. 76).

Daar is vele leesplesiere aanwesig in hierdiebundel.  Aan die negatiewe kant – soms word ‘n gedig aangekondig as ‘n Aubade (p. 32), maar ons sien helaas nie veel van ‘n ondersoek na die eiesoortige eise wat die vorm stel nie.

Hier is wyd en ver gereis: van die Limpopo tot doer by die Tierra del Fego, tot by Perth en dan weer tot in die VSA.

‘n Rustelose siel se dagboek.

Die bundel kan bestel word by Echoing Green Press, Posbus 12194, Empangeni, 3880. Dit beslaan 82 bladsye.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, January 21, 2013

Geoffrey Haresnape - Where the wind wills (2012)



Geoffrey Haresnape. Where the wind wills. Echoing Green Press, 2012. ISBN 978 0 9870099 0 6.

Resensent: Joan Hambidge

I
Ek skryf hierdie resensie as ‘n Afrikaanse digter oor ‘n mede-digter wat in Engels publiseer. Twee letterkundige sisteme, soos ons weet, wat selde bymekaar uitkom. Behalwe wanneer Afrikaanse digters vertaal word of as daar verwyte is van appropriasie soos in die onverkwiklike debat oor Krog se “oorname” van Boesmanverse uit Watson. Steeds bly Engels en Afrikaans apart, en swart-digters het ook hul eie prosesse van kanonisering. Die nuwe Cambridge-kompendium probeer om die verskillende sisteme bymekaar uit te bring, maar lesers weet dat Engelse digters in hierdie land afgeskeep word met ‘n paragraaf-resensie in Engelse dagblaaie, terwyl Afrikaanse digters op Versindaba se webruimte en in dagblaaie beter behandeling kry. Boonop is daar stewige verseboeke en ‘n lang tradisie van kritiek wat digters inskat en essays oor ouer en jonger digters in Perspektief & profiel. En goeie Engels-Suid-Afrikaanse digters is daar soos Douglas Reid-Skinner en Isobel Dixon (o.a.) wat in Engeland bly, maar hier meer aandag geniet (deur Afrikaanse kritici!) en Ingrid de Kok, Stephen Watson, Patrick Cullinan (laasgenoemde twee saliger), Charl JF Cilliers, Rustum Kozain, Gabeba Baderoon, ensomeer. En natuurlik Geoffrey Haresnape.

II
Hierdie jongste bundel van Haresnape word gepubliseer deur Echoing Green Press en die digter het in 1976 gedebuteer met Drive of the Tide. Op die agterblad word die bundel hoog aangeskryf deur Mark Swift vir die “crystal clear intellect” en Rustum Kozain praat van die “critical awareness” By Haresnape was daar nog altyd ‘n sterk vormbeheer en ‘n komplekse gesprek met die Engelse digkuns.

Die bundel behels ‘n lywige 96 bladsye en die slotvers “Garden of Remembrance” (96) is ‘n distigon waarin hy sy vader aanspreek. Die vader se beeld verklap die digter se oudwordingsproses en hierdie is ‘n sentrale sleutel tot die bundel waarin die ouer digter besig is met ‘n bestekopname. ‘n Spieëlteks dus waarin die digter afskeid neem van sy vader se as en terselfdertyd met sy eie eindigheid gekonfronteer word. Gedagtig aan die sterk vormbeheer word die gedig goed in beheer gehou in hierdie “backward glance”.
Die voorblad van Kim Longhurst dui immers reeds selfkonfrontasie en disseksie aan: die bloedvatsisteem, hart en binnewerkinge met ‘n skip na regs (die vaart oor die Styx dalk?).

Twee personas (soos by Pessoa) praat hier saam: Erasmus Eyeball wat gesteld is op vormbeheer en Dr Severance Package wat meer hou van die vryer vers (Afdeling III).
Hierdie nota dui dan reeds daarop dat die werklike digter verskeie vorme van die digkuns ken en verken. En kenmerkend van die goeie digter is daar konkrete beelde (“Far blue mountain ranges zizag like a weather graph”, 3; “False Bay is a great glazed plate”, 6; “the chop shop of the sea”, 13; “the lifeboats dropped away like seed pods from a tree”, 31) en slim toespelings soos in “Beached Whale” waar Moby Dick ‘n draai gooi. Die lofdig (“praise song”) vind ons in die gedig vir die digter se vrou (“At Seventy”, 10) waar die geskiedenis van ‘n verhouding opgeteken word en die digter blyke gee van hoe sy skryfwerk en ‘n reël skryf vir elke jaar saam met haar! Die verse word gedra deur die nostalgie soos in die sterk “The Clan Stuart” (13) waar die wrak ‘n beeld word van die self. Die digter se oë is selfs nou swakker as die vader s’n wat daarop dui dat die digter ook deur sy verlede en familieverbintenis besig is met ‘n bestekopname. In die lykdig “Farewell” (14, 15) word daar afskeid geneem van ‘n vriend:

God knows, I wish you well,
and hate the scorch and liquefaction
of your Viking funeral.

Die eerste afdeling is besonder sterk in die mymeringe, in die liefdesverklarings en nadink oor ‘n vergange tyd. In die tweede afdeling word daar ‘n interne gesprek gevoer in “When and Where” (19) en in ‘n gedig, “HIV and Aids” (20), word die implikasies van hierdie epidemie satiries ondersoek met toespelings oor al die wanopvattinge wat in ons land bestaan. Eweneens satiries gedrewe is “Flibbertigibbet” (23) met klappies na feministiese idees oor die patriargie en al die “gender-driven fibs” knap verwoord in ‘n distigon. Die vaste hand van die digter red telkens ‘n gedig van (oor)emosionaliteit of ‘n wanstaltigheid wat gewoon laf sou wees. Gesprekke met bekende figure soos Lasarus (“Lazarus” in die “act of dying”, 26) en die briljante “An Imagined Dialogue with St Thérèse of Lisieux” bedui op ‘n belesenheid wat getransformeer word in aangrypende en onthoubare gedigte. (Die motto na Roy Campbell wys op die tradisie-bewustheid en Campbell-bloody-horse is immers een van ons groot digters; ook vereer deur Opperman in ‘n magistrale lykdig.) En “The Bass Violin Player’s Last Hymn” gee ‘n nuwe perspektief op die Titanic waar hierdie man steeds bly voortleef met die Noord-Atlantiese oseaan dreunend in sy ore. Herinneringe, indrukke, ervarings van die ouer digter bly eweneens voortleef in sy gedagtes en in gedigte.

In die derde afdeling word Erasmus Eyeball aan die woord gestel en dr Severance Package tree op vermaaklike gedigte waarin “outage” digterlik ondersoek word. (Hierdie gedig moet onverwyld na Eskom versend word.) Die hele Suid-Afrikaanse werklikheid in al sy waansin word onder die loep geneem en ook ‘n plesierige vers ondersoek die betekenis van “Go Fuck Yourself” (48). Telkens imponeer die digter met ryme en halfryme, en humor.

Ook die Vuvuzela word besing (49). En die “maverick poet”, Roy Campbell word dan eweneens beskryf:

Dead set to streak and not to amble,
He kept the proud seat of a Campbell.

In die vierde afdeling is daar weer groter erns soos ‘n besoek aan Poetry International met sy politisering van die digkuns. Asof die digter besef hoe tydelik politieke verse is, word dit voorsien van voetnote om die leser van die besonderhede in te lig. Terselfdertyd presteer hy dit om van die emosionele gegewe, te wete die spanninge in Jerusalem, ‘n gedig te maak. Arthur Nortjé en Patrick Branwell Brontë se lewenslot word beskryf – en hier vind ons sterk ironie, iets waarin Haresnape ook goed geskool is. Dieselfde geld “Nanook”, ‘n Noord-Atlantiese ballade en die leser besef dat die digter telkens gemoeid is met die primordiale aspek van die digkuns: ‘n walvis of enige ander dier word terselfdertyd simbole van die onbewuste.

En ‘n besoek aan ‘n begrafplaas aan Halifax (waar die Titanic-museum is) word ‘n bestekopname van ons almal se lot: ‘n graf.

In die gedigte oor Keats en ‘n besoek aan ‘n kerk, word hierdie gedagte verder uitgewerk.

In die slotafdeling word die belangrikste temas saamgesnoer, te wete tydelikheid en ‘n soeke na metafisiese sin. In “Good Hope” (88) word die dood van die vader so beskryf:

My dad has chosen fire
rather than the worm.

En dit is asof die vader terugpraat vanuit die graf ná die priesterlike seremonie en die digter plaas sy (ons) verganklikheid teenoor die groter einde van die aarde. Ook die TRC – wat resoneer met Indrid de Kok se gedig oor Biskop Tutu – plaas die gegewe terug in die hier-en-nou, in menslike lyding wat so ver teruggaan as die lot van ‘n Taung-kind.

III
Dit is ‘n waardige bundel geskryf deur ‘n gevoelige digter wat jou dwing om na die lewe deur sy oë te kyk – immer die toets vir ‘n geslaagde bundel. Vele van die verse het reeds in tydskrifte verskyn, maar as geheel in hierdie bundel is dit suiwer deurgekomponeer. Dit is ryk aan temas, aan vorms, aan ‘n gesprek met die digkuns.

Bestel van P.O. Box 22233, Fish Hoek 7974

[Hierdie resensie het voorheen in New Contrast verskyn en word afgedruk met vriendelike vergunning van die resensent.]