Showing posts with label Hans du Plessis. Show all posts
Showing posts with label Hans du Plessis. Show all posts

Sunday, July 12, 2020

Resensie | Hans du Plessis – Die opstand van Poppie Nel | 2020

Hans du Plessis – Die opstand van Poppie NelLapa, 2020. ISBN: 9780799399899

Resensent: Joan Hambidge

Hans du Plessis is 'n belangrike taalkundige wat bekend is as dramaturg en prosaïs. Veral sy herskrywing van die Griekwa-Psalms is uitstaande werk. Die jongste roman is sy negentiende fiksieteks wat gepubliseer word deur LAPA.

Die roman Die opstand van Poppie Nel tree in gesprek met al die vroueskrywers wat die afgelope paar jaar vroue-molestering en alles wat daarmee gepaardgaan, beskryf én oopgemaak het. Dit is belangrik dat ons hier 'n manlike perspektief kry op 'n delikate saak wat al deur Annchen Troskie in Ek, Anna en Christine Barkhuizen-Le Roux se My naam is Prins onder die loep geneem is.

Die roman werk met die gegewe dat die karakter dood is en ná die sielkundige moord steeds moet bly lewe. Dit ondersoek eweneens die problematiek van spirituele depressie. Poppie se opstand word vergelyk met Poppie Nongena s'n.

Die skrywer gebruik Bybelname en verwysings na Lukas, Markus en Mattheus laai die roman so met belangrike kodes. Waarom moet dominee Lukas optree as die raadgewer en heler? Die heler hier is egter self verwond. Sy vrou het hom pas verlaat en die persoon voor hom is deur 'n pastoor mislei. 

Poppie staan voor die dominee in haar kuise lang romp en in die roman word die hele kwessie van grooming (aanvoring) ondersoek. Hoe gebeur dit dat 'n jong meisie só mislei en oorrompel word deur die pastoor?

Du Plessis gebruik die kerk (religie) wat misbruik word om 'n onskuldige slagoffer te mislei. Die leser kom onder die indruk van die vlot vertelling oor Poppie (die pastoor se begyn) se Hoogliedafspraak met die pastoor, haar leidsman.

Ons weet ook wat Lukas dink. Hy besef sy mag uit die kerk uit wees, maar die kerk is nog nie uit haar nie. Binne die hele #MeToo-kampanje handel hierdie roman oor die mag van die kerk, van predikante of pastore. Du Plessis gebruik die belangrike kode van kleredrag om sy karakter Poppie se innerlike stryd te beskryf. In háár kerk mag sy net manskoene dra en Alison Lurie se studie oor klere The language of clothes (Heinemann,1981) is hier vir verdere speurwerk tersaaklik.

Het Poppie agentskap? Kon sy werklik só verblind word deur hierdie man? Elke hoofstuk belig 'n ander aspek van hierdie komplekse verhouding tussen gesagsfiguur én slagoffer waar aandadigheid en skuld verplaas word.

Hierdie leser het dit eweneens 'n boeiende vertelling gevind en nagedink oor die "sonde vir die gesondes". In hierdie tydvak waar die slagoffer stemhebbend geraak het, het dit my teruggeneem na die belangrike dokumentêr oor die lewe van Linda Lovelace en in welke mate sý mislei was deur haar eggenoot met die vervaardiging van die pornofilm Deep throat (1972). Kyk jy met 'n agterna-wete na die film, sien jy die vernielmerke op haar arms en besef jy haar suster het gelyk. Sy was mislei deur haar man. In die dokumentêr word daar vanuit alle hoeke gekyk na die problematiek van aandadigheid: Inside Deep Throat (2005). Die regisseur Gerard Damiano stel Erica Jong en Gore Vidal, o.a. aan die woord.

Staan, Poppie, staan
en laat jou gedagtes gaan
dat jy vir my kan sê  
hoe diep die liefde lê.
....

Dit is die rigting-teks waarmee die roman open met 'n storie wat nie aan die outeur behoort nie, maar aan die persoon oor wie dit handel. Die BBC-reeks – Unforgotten,  met Sanjeev Bhaskar en Nicola Walker as 'n vroulike speurder – ontleed in die tweede seisoen die impak van kindermolestering op drie uiteenlopende mense se lewens en hoe dit almal óm hul ook verander.

Elke kyker of leser word dus gedwing om kant te kies. Sonde, belydenis en boetedoening – met skuldgevoelens is die merkers van hierdie soort verhaal. En die narratief by die slagoffer is deurgaans dieselfde: alleen deur die oopmaak van die storie kan daar genesing plaasvind.

Praat is 'n mes met twee snykante, waarsku die implisiete outeur ons (die lesers) in Du Plessis se roman op bladsy 26. Die roman is geskryf vir 'n bepaalde lesersmark (kyk o.a. na die gebruik van die woord "meisiekind" en die verwysings na die kerk). Dit val binne die kategorie van goeie, gewilde prosa en binne hierdie lesersmark is dit oortuigend en pakkend geskryf.

Hierdie roman van Hans du Plessis resoneer met die tyd waarin ons lewe. En ondersoek die impak van iets wat vér terug in die verlede gebeur het.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Monday, January 21, 2013

Hans du Plessis - Die pad na Skuilhoek (2012)



Hans du Plessis. Die pad na Skuilhoek. Lapa Uitgewers, 2012. ISBN 978 0 7993 5161 3.

Resensent: Joan Hambidge

Die pad na Skuilhoek van Hans du Plessis word op die agterblad tipeer as fyn liefdesvertelling, spannende pioniersverhaal én wordingsroman oor ontluikende seksualiteit. Die boek word deur Petra Müller en Jeanette Ferreira aangeprys.

Ferreira is die skrywer van die Die son kom aan die seekant op (2008) waarin sy Trichardt se dagboek (1836) as basis vir haar roman gebruik.

Die vlotgeskrewe roman van Hans du Plessis aktiveer die Van Jaarsveld-geskiedenishandboeke uit my jeug en ‘n mens sal uiteraard kon vra: waarom is daar nou so ‘n belangstelling in die Voortrekker-geskiedenis? Is dit nostalgie of is dit ‘n poging om te verstaan wat nou om ons aan die gebeur is?

Ferreira se insigryke en inspirerende roman oor Trichardt se Kladboek het die basis gelê vir ander populistiese romans wat op ‘n hoogs leesbare wyse hierdie gegewe aanpak en vir die leser oopmaak. As jong kind wat skoolgegaan het in die sewentigerjare, is die Voortrekkers se gegewe geromantiseer en die dramatiese tonele by Vegkop en Bloedrivier bly vandag nog smeul in die onbewuste.

Die pad na Skuilhoek word bemark as ‘n roman vir jong volwassenes. Die vraag is of jong lesers met hierdie outydse gegewe sou identifiseer? Dit is dalk eerder bedoel vir diegene soos ek wat blootgestel was aan daardie geskiedenis op skool en nou ‘n gederomantiseerde weergawe daarvan wil lees.

Die leser word bekend gestel aan rassespanning en geweld. Name soos Meester, Bybeltjie en Vryheid representeer ‘n bepaalde tydvak waar begrippe soos staning eweneens ‘n gelade betekenis het. Swart mense is nasies of “die volk” (205). Hier is daar dus ‘n waarheidsgetroue weergawe van hoe wittes ander mense gesien het.

Die seksuele word subtiel verbeeld met die volgende beeldspraak:”Voor hulle knetter hulle vuur” (217). Daar word verwys na “ou seun” en “oom Hendrik Potgieter” wat eweneens die tydvak raak opsom.

Daar is ‘n handige outeursnota vir die speurende leser en ‘n indrukwekkende bibliografie. Die verteller (fokalisator) se taalgebruik val presies in die karakters se monde, behalwe eenkeer word die begrip “krities” gebruik wat binne die konteks te geleerd klink.

Die roman gebruik die gegewe van die Matabeles wat in die nag van 23 Augustus 1836 ‘n staning Voortrekkers uitgewis het. Net twee jongmense (Lourens en Petronel) en hul vriend, Vryheid oorleef en hulle is die hoofkarakters in die verhaal.

Die prosa is gestroop en sonder fieterjasies. Dit beslaan 240 bladsye. Dit is keurig versorg en sonder enige taalfoute wat vele romans tans ontsier.


Liefhebbers van historiese romans sal hierdie roman besonder boeiend vind. Die roman is soos ‘n diorama.

[Hierdie resensie het voorheen in Beeld verskyn en word afgedruk met vriendelike vergunning van die resensent.]