Showing posts with label Eunice Basson. Show all posts
Showing posts with label Eunice Basson. Show all posts

Monday, November 25, 2024

Resensie | Eunice Basson – ’n Ander wêreld | Protea Boekhuis, 2024

Eunice Basson – ’n Ander wêreld, Protea Boekhuis 2024. ISBN: 978-1-4853-1580-3

Resensent: Joan Hambidge

 

Die digter as argivaris

 

I

Die digkuns, soos die skilderkuns skep, ‘n ander of verbeelde wêreld. Die kunstenaar in ’n gedig of skildery probeer iets vasvang van die wêreld van die jeug of dit wat eens was. ‘n Skildery en gedig laat jou anders kyk na die wêreld. Oscar Wilde het opgemerk in 1891 in The Decay of Lying:

 

“Sunsets are quite old-fashioned. They belong to the time when Turner was the last note in art. To admire them is a distinct sign of provincialism of temperament. Upon the other hand they go on.”

 

Eunice Basson, ook kunskenner, verwys in haar bundel na die “gearseerde vistas van ’n geleefde lewe”, oftewel die aanbring van min of meer parallelle lyne. 'n Tekentegniek wat gebruik word om sowel skakering as tekstuur te skep. Dit staan opgeteken in “Einder” vir John Clarke (1946–2021) op bladsy 28. Donker en skadu’s loop reg deur die bundel waar sy kyk na familie- en ander verbintenisse tussen mense en landskappe.

 

Die sirkelgang is opvallend in hierdie bundel se afdelings: landskap, stillewe, homo homini lupus est en botsels. Met bome wat mense altyd oorleef. (‘n Digbundel gee wel iets terug aan die boom, by wyse van skrywe.)

 

Die slotvers “Op slot” gee soveel sleutels vir die ontsluiting van hierdie bundel:

Hier leef sy al vir baie jare: 

 

’n sakwurm toegespin aan haar eie tak. (68)

 

Die binnewerking van klikkende slotte (en sleutels) en die verweer teenoor die bedreigings van buite. 

Hierdie bundel ondersoek die kruisings tussen mense: swerwers en dié wat boemel.

 

Motte, uile, geitjies, rotte is eweneens van die besoekers wat sy beskou. Motte lyk soos vlaggies wat aan die gordyne hang.

 

Preller se catalogue raisonné oor die Mapoggervroue gee haar besondere werkswyse weer. Van boek en herinnering tot gedig:

 

Menige skilder uit die stad is deur dié kantige

skouspel bekoor voor die natrek 

van ’n ander soort raam oor die ganse land 


(“Anderkant Wonderboompoort”, 25)

 

Dit word eweneens ‘n kunsbesinning.

 

II

Vir hierdie leser is die sterkste gedigte waar die familie in oënskou geneem word soos in die klein geskiedenis opgeteken in “Legkaart” (35) met verbleikte lanferlinte wat die dood van kinders na vore bring. Helaas eers wanneer sy gereed is om daaroor te praat op haar eie sterfbed. Die fokalisator in hierdie gedig maak die stemlose moeder dus stemhebbend. Ook die vader word lewe gegee wanneer sy plante natgooi en onthou dan die pa wat lood oor die roes soldeer in die gedig “Waterdraer” (36).

 

Dit word egter meer as ‘n gedig oor potplante natgooi. Die digter-as-spreker erken haar skatpligtigheid aan die vader vir die lewenswyshede uit sy hand ontvang.

 

Wie kyk? Wie praat? Verskillende stemme word saamgesnoer in die digterblik.

 

Die bundel werk dikwels met rituele en alchemistiese prosesse. “’n Ander wêreld” is ‘n sentrale vers: die moeder se vaas is nou die spreker s’n; nes die doepa-resepte wat die moeder gebruik het om die krismisrose te laat gedy. En die krismisrose blom veral in haar gedig waar toeka se tyd teen nou geplaas word. Só gelees is die verse nostalgies, maar nie sentimenteel nie. Die emosies is verwerk, maar dwingend. “Niemand meer om te vra nie” (38) wys op die verdriet van só ‘n terugkeer in die tyd: dit is vir altyd afgehandel en “lê al jare lank onder beton gekompakteer”; buite bereik van, met ook die digter as die argeoloog …

 

Die dood van ‘n broer word met intense deernis beskryf in “’n Ander soort dood” (43). Die swart enkelma en almal wat buite die orde van die aanvaarbare leef, kry in hierdie bundel ‘n stem.

 

In “Pentekening” word die Griekse digter George Seferis opgeroep danksy ‘n vertaling van Dian Joubert. ‘n Stuk ironie hier: hy was werksaam in Pretoria as diplomaat.

 

III

“Dulce et decorum est pro patria mori” speel in op Horatius en natuurlik Wilfred Owen se klassieke EWO 1 vers “Dulce et Decorum Est”, postuum gepubliseer in 1920. “It is sweet and fitting to die for one’s country.” Dit is ‘n anti-oorlog gedig en uiteraard verpak met ironie. 

 

So praat Basson met die klassieke vers:

 

“Dulce et decorum est pro patria mori”

Gedagtig aan die gedig van Wilfred Owen (1893–1918) 

Vir Piet Liebenberg (1961–1982)

 

Tuis het ’n generaal op ’n ou tafeltennisblad

’n slagveld in die kleine met kontoere en koppies 

van gips gebou en vir struikgewas droë seewier 

groen gekleur.

(…)  op bladsy 57

 

Daar is ook verwysings na Gazala in ‘n ander oorlog en al die oorloë wat ons tans beleef.

 

Plaasmoorde, verbranding en doodmaak vir moetie en die ellendes van ons tyd word ondersoek. Die wreedhede van oorlog word beskryf o.a. in “Die Anatomieles van dr Al-Tubaigy Gedagtig aan Jamal Khashoggi (1958–2018)” (60) met ironiese toespelings op Rembrandt se skildery uit 1632 wat heet The Anatomy Lesson of Dr. Nicolaes Tulp.

 

IV

Irvin D. Yalom, die Amerikaanse psigiater (indertyd verbonde aan Stanford) merk in Love’s Executioner and Other Tales Of Psychotherapy (1989) tereg op: “One of the great paradoxes of life is that self-awareness breeds anxiety”.

 

Lykdigte, portretverse, memorie verse, kunsbesinnings, politieke gedigte en feministiese perspektiewe vind ons hier. Homo homini lupus aktiveer die spreuk: Homo homini lupus est:

 

Die wreedheid van mens tot mens.

 

Hier word die angs, verdriet én melancholie netjies versteek in ‘n goed afgewerkte bundel wat die speurende leser sal bekoor.


Joan Hambidge is ‘n navorsingsgenoot aan die UK. Haar bundel Asindeton verskyn in November by Protea.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Tuesday, July 21, 2020

Resensie | Eunice Basson - By die dag | Protea Boekehuis, 2020

Eunice Basson - By die dag. Protea Boekehuis, 2020. ISBN: 978-1-4853-1117-1 (Kunswerk op die omslag: Tipping point deur Frederik Eksteen)

Resensent: Joan Hambidge

By die dag is die tweede bundel van Eunice Basson. Die titel aktiveer 'n idiomatiese segging gelaai met iets van agteruitgang of verandering. Die bundel word ingelei deur 'n motto van Philip Larkin (Days are where we live),  'n digter van die melancholie en bekend vir sy herskrywings van sy eie verse.

Herinneringsverse en verse wat 'n bepaalde plek of ruimte afbaken, word hier aangebied. Daar is 'n sterk bemoeienis met die natuur en omgewing (“skryftekens geëts teen die lug”) en die lykdigte oor geliefdes – soos oor die vader, moeder, broer en Karen Skawran, o.a. – ruk aan die hart. Daarom kan 'n gedig begin met:

Ek sien haar steeds –

Hierdie lykdig som die ingehoue digaksie ten beste op:

Ek neem my ma se hand
Vir my ma (1912–2005)

My ma krimp ineen soos die jare
haar gereedkry en nommerpas
vir die laaste reis.
Oggendtee se ketel het te swaar geword
vir haar hande, moeg van knie en werskaf.
Gewoonte laat verknoopte vingers
steeds oor ’n tafelblad gly ingeval
stof oornag haar trots versand.
My ma word klein, tinktinkieklein,
onseker, broos, aanhanklik –
en ek vou haar hand in myne
waar ons wag op die agterdeur se klik.

All eternity is in the moment  waarsku Mary Oliver, daardie beroemde digter wat ook lewe kry in Johann de Lange se verse. Ofskoon iets verdwyn, of sal weggaan, word dit bewaar in die herinnering of in die gedig.

Vroue en hul ellendes word onder die loep geneem en 'n ongesiene minnares word helder beskryf in “Voorslag” met sy ironiese titel. Die stilte van vergete, ou vroue word pynlik weergegee in die gedig “In klein maat” waar die African violet stom op die vensterbank staan. Die vader se ellendes – 'n slagoffer van die geskiedenis – wag op sy skeppie oorskietkos. “Sien kom klaar” beskryf die Groot Griep en wat met mense gebeur het; dit resoneer nou met ons ervaringe van grendeltyd.

In klein momente vang die digter iets op soos in hierdie gedig:

Geel

Van Caledon tot by Riversdal
skitter die veld kanolageel.
Onder ’n oorhang in dié geweste
word ’n jag dowwerig in oker omlyn –
kameelperde en ’n string volstruise
wat kol-kol deur wind en water
tot skimme vergeel.

Hier is pragtige beeldverse oor huiswerkers en die lot van mense wat ongesiens verniel word deur 'n sisteem van politieke ongeregtigheid. Soos in alle feministiese en vrouebundels, word vernielsug en haatlikheid teenoor vroue uitgewys. Die moeder wat in die agtergrond moet bly en die hartverskeurende gedig oor die kind Poppie wat deur haar ouers verniel is en wat wye media-aandag geniet het. Hierom word die naam (soos) 'n rondomtalie wat steeds bly roep oor almal wat hieroor stilgebly het.  Hierom word die ellende van die Papawerbruid in Afganistan 'n vuishou in die maag. Die Suid-Afrikaanse landskap word ook teen Aleppo, Herat en Delhi geplaas.

In Hélène Cixous se beroemde essay Uitgange / Sorties wys sy op die spanninge in die verhoudinge van outoriteit, van voorreg en gesag. Hierteenoor is daar die meester en slaaf-verhouding, en die skryfdaad, volgens hierdie teoretikus, hef opposisies en konflik op. En bring uiteindelik herstel.  Cixous het eweneens die verskille tussen háár Franse en Algerynse landskappe beskryf in The writing notebooks (Contimuum, New York, 1974).

Die bundel vra: waar is jou hartlandskap? In die ervaring soos beleef of in die gedig soos agterna-beleef? Is die gedig 'n urne of skatkaart? Dalk duiwelsbrood?

As kunskenner en -teoretikus is Basson se ekfrastiese verse onthoubaar: Irma Stern, Nel Erasmus; en veral hierdie een oor Pierneef:

Pontdrif, Limpopo, Junie 1956
Na ’n potloodtekening deur JH Pierneef (1886–1957)

Sy hartland is hierdie boswêreld
waar hy vroegdag, in sy element,
met ’n leersak potlode en kryt gaan sit,
pyp stop, bewus van ’n kolonie muishonde
wat elke beweging uit die verte bespied
soos hy die veld in grafiet belyn,
met ’n seker hand nuwe lewe gee aan drie,
vier apiesdorings in ’n oopte, omring
deur grysappel, blouhaak en witsering.
Later sal hy nog hier en daar ’n tak ligweg arseer,
terugstaan, hom hierdie toneel bly indink,
moontlik in kleur, op ’n groter doek getransponeer
in sy stil ateljee waar hy die boskorhaan
en kwêvoëls van dié oggend weer wil hoor roep.

Hier is aangrypende lykdigte opgeteken en 'n afskeid aan die jeug en waarskynlik 'n verlore liefde:

Niks meer nie

Kom bly by my, al trek my oë deesdae water.
Hou my sonbevlekte hande vas –
net dit, niks meer nie.
Kom bly by my al sit ons net en peusel
aan dit wat was. Niks meer nie.
Al is my kraag deesdae hoog geknoop,
jou hande onbeholpe en skaam,
sit hier by my, net hier,
en lees ’n geliefde reël of twee.
Net dit, niks meer nie.
Wanneer ek soos ’n blaar lig word
en oor die tuin wegwaai, pluk soos altyd
dan ’n pot vol krismisrose, pienk en blou,
vir die voorportaal, oranjegeel
kappertjies vir geur.
Vir dit wat was. Niks meer nie.

By sommige verse voel hierdie leser dat die slotte dalk skerper kon wees of dalk meer vormgerig? Maar dit is 'n klein persoonlike kanttekening vanuit persoonlike smaak. 

Dit is 'n bundel met potloodsketse wat jou bybly. Jy keer terug na die delikate seggings en die mineurtoon van hierdie tweede bundel met 'n titel wat agteruitgang en verloedering impliseer. Niks is meer soos dit eens was nie.

In klein maat baken hierdie digter haar ruimte af.

Eunice Basson