Fanie Olivier (Samest.). Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Human & Rousseau, 2001. ISBN 0 7981 41301.
Resensent: Joan
Hambidge
Die liefde, soos die donkie, is 'n wonderlike ding! Fanie
Olivier se versameling Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte beleef nou sy
derde, uitgebreide uitgawe. Nog steeds sonder 'n inleiding wat die leser tog
sou wou sien by so 'n bloemlesing.
Want daar is redes vir die struktuur van die
liefdesgedig: soos dat die sonnette van Petrarca sentreer rondom die oktaaf en
sekstet wat 'n voorstelling word van Petrarca se verlangende kondisie. In die
oktaaf droom hy nog oor Laura; in die sekstet word die harde werklikheid waar
dat sy afwesig is.
Miskien het Petrarca sy Laura liefgehad, selfs ontdek ten
einde poësie te kan skryf, aldus die psigoanalis Norman O. Brown. En
Shakespeare se liefdesverse lyk weer anders. En by Neruda vind ons daardie
nostalgiese verlange na die geliefde Mathilda. Ook is daar verse waarin die
liefde vir haar besing word.
Liefdesverse is gewild en ná die film Il postino het die
CD met Neruda se liefdesverse goed verkoop. En ons kan aflei uit hierdie
"derde keur" met sy rooi roos ("Oh my love is like a red, red
rose") dat die liefdesvers in Afrikaans ook gewild is.
Maar dit is 'n moeilike gedig om te skryf en nie verniet
nie het die grote Opperman sy jong studente gemaan om oor iets anders as die
liefde te dig. Ons het lieflike klassieke in Afrikaans soos G.A. Watermeyer se
"Ballade op die dronkparty":
Die liefde is die bitter glas,
die droë glas, die donker glas;
die liefde is die naverdriet
wat in die hart se holte pas.
Dit is altyd 'n samesteller se goeie reg om te besluit
wat vir hom of haar die "mooiste" of "beste" is. Tog raak
enige kritiese leser ongeduldig as 'n mens verneem 'n bloemlesing is sommer oor
'n naweek saamgeklap. Die leser soek representasie, immers "die
beste" van daardie digter. In hierdie opsig is De Lange & Krog se Die
dye trek die dye aan 'n gebalanseerde en gemotiveerde verslag van erotiek en
seks wat goed aangevul word deur Olivier se liefdesversameling.
Breytenbach en Van Wyk Louw se liefdesverse verryk
hierdie versameling. Een van die winste van hierdie versameling is dat Olivier
ook verse opneem van onbekender digters soos Everwyn Wessels of De Waal Venter.
'n Mens wonder waarom word daar verwys na Henning
Pieterse in plaas van H.J. Pieterse en ook waarom daar nie uit die jongste
bundel liefdesverse byvoorbeeld "Artisjok" gekies is nie?
In bykans elke gedig is daar 'n reël of waarheid oor die
liefde. Is dit waar dat die meeste liefdesverse oor die landskap van verlies
handel en dat dit in wese 'n vers van die eensaamheid is? Dat dit gaan om die
winterherberg van verlies?
Later kry ek in my bed
'n haarpatroon, 'n geur;
relieke
van 'n liefdestyd.
Hierteenoor is die verse in die genoemde erotiek-bundel
guitiger, speelser, jagser en waarskynlik meer afgestem op die vervlietende
oomblik. Waarskynlik is daar in die liefdesvers sprake van verlies omdat die
impak van die liefde dikwels eers na die afgelope liefdeservaring beskryf kan
word.
Dit is ook opvallend dat jonger digters meer ironies dig
(ek dink hier aan Marietjie Joubert se "Anatomie-les vir verliefde
digters") en ander digters ook betrek soos Antjie Krog in die pragtige
"My tyd is verby" wat inspeel op Neruda:
my tyd om surrealisties lief te hê is verby
met rose en duiwe ekstatiese tronke
liriese odes verander eventueel in huislike rymskemas
Ook in die liefdesvers word die politieke metafoor
dikwels aangewend sodat die liriese liefdesgedig ook verslag lewer op die
politieke of sosiale toestande van die tyd.
"en liefde, die sagte, gevoelige slang",
waarsku 'n digter tereg!
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]