Showing posts with label Wêreldreis. Show all posts
Showing posts with label Wêreldreis. Show all posts

Saturday, March 9, 2013

Reisjoernaal | Wêreld - Stad 1. Hong Kong, stad van voortdurende verandering of (anitya)

© Barcroft Media/Pharand


Reis-om-die-aarde
Joan Hambidge

maar Tyd en die stede ontkrag ons formules,
nou bly die weemoedwalse, die walse van óu plekname, oor.

Jannie Coetzee, ”Weemoedwalse van ou plekname”


As jong kind het Jules Verne se Around the world in 80 days my bekoor. Ek wou nog altyd daardie reis-om-die-aarde onderneem en toe stel ‘n vriend dit een aan aand voor. Van Johannesburg tot in Hong Kong, Beijing, Tokio, San Francisco, Los Angelos, Chicago, Washington DC, New York, Istanboel.

Op die negende van die negende vertrek ek. Om nege stede te besoek op verskillende kontinente… Twee dae voor 9.11, my geboortedag, ook met die doel voor oë om in New York te wees tydens die herdenking van die terreuraanval. Maar liefs nie op daardie dag nie. Eerder ‘n bietjie later sodat ‘n mens met afstand na die herdenkings kan kyk. ‘n Terugkeer na my geliefde stad, New York, ‘n stad wat ek sedert die aanval nog nie weer kon besoek nie, omdat dit vir my emosioneel te oorrompelend sou wees.

Maar dit word ook ‘n herbesoek aan ánder stede wat ek al in die verlede besoek het,  weliswaar in ‘n jonger gedaante, met meer drif, meer onskuld. Hoe sou San Francisco nou lyk? My eerste bundel Hartskrif bevat immers ‘n gedig oor hierdie stad, soos oor New York, wat in vele bundels my bly agtervolg het.

‘n Re-unie dus. Maar terselfdertyd ‘n meditasie. ‘n Teruggaan-in-die-tyd met die opgaaf om as ouer persoon weer te probeer kyk na ‘n stad soos jy dit die eerste keer ervaar het. San Francisco en LA in 1980, Tokio in 2002, Istanboel in 2008. New York in 1980, 1984, 1990, 2000. Chicago in 1994. Van die Ooste na die Weste tot in die oer-stad: Istanboel. Een kaart per Star Alliance. Reis is dhutanga, oftewel harde praktyk, omdat ‘n mens dikwels soos die Boeddhisme ons leer, goed afweer of uitskud.

 © LocalEats® 2012 | All Rights Reserved

Hong Kong het ek deur die jare goed leer ken. Op die voorblad van Vuurwiel (2009) is daar ‘n foto van ‘n hotelkamer in hierdie stad van deurgang, poort tot ander stede. Ek het eweneens die transformasie van die stad sélf deur die jare beleef: van ‘n stinkende, agterlike stad wat ruik na kos tot ‘n gesofistikeerde, bruisende wêreldstad.

Daar is min geweld en diefstal. Kenmerkend van die stad is die rooi taxis wat vinnig deur die strate vleg. Hong Kong spog met meer skyscrapers as New York en word vandag saam met Tokio as ‘n finansiële hoofstad beskou.

Met my aankoms is Hong Kong besonder warm en swoel. Die Sondagaand beleef ons ‘n monsoon. Maar die reën bring min verligting.

Die Hong Kongers is ‘n uiters gedissiplineerde, gehoorsame gemeenskap wat net stap wanneer die voetganger-mannetjie groen flits met klik-klik geluide wat die stad se hartklop word. Op ‘n nuwejaarsaand, jare gelede, het ek gesien hoe die polisie met behulp van toue skares mense oor die strate help. Wanneer die tou oopmaak, stap almal vorentoe in gelid. Op die oopbus-toere vind ‘n mens oorfoontjies waarmee in die taal van jou keuse (helaas geen T-opsie) die geskiedenis van die stad verhaal word, onder meer hoe Hong Kong in 1997 teruggegee is aan Sjina.

Hong Kong staan in die teken van welvaart. Dis embleme en handelsname net waar jy kyk en geboue word gereeld afgebreek en herbou om nuwe werkgeleenthede te skep. ‘n Voortdurende  facelift dus.

Wanneer ‘n mens reis, agtervolg dele van ‘n ander land jou dikwels. Hier vind mens byvoorbeeld plakkate van Chicago, ‘n stad wat ek later in hierdie reis gaan besoek.

Hong Kong is ‘n stad van transformasie, van ‘n voortdurende wisseling van lywe om met die digter saam te praat.
     
Meditasie:
                                                                                      
‘n Stad is soos ‘n mens,
word oud, steier onder aanslae,
dra letsels, plooie van jare se swaarkry,
uitdagings misverstand.
‘n Stad is ook ‘n spieël,
kaats terug wat voor sig staan.


Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.

Reisjoernaal | Wêreld - Stad 2. Beijing, stad van erbarming of (karuna)



Die groot muur van Sjina wat volgens 'n volkslegende die enigste struktuur is wat van die maan af sigbaar is. Neil Armstrong het hierdie dwaling die nek in geslaan. Om te glo jy kan dit van die maan af sien met die blote oog, is dieselfde as om sê jy kan ‘n haar op ‘n afstand van twee kilometer uitmaak. Beijing se tempels en groot muur is ‘n verpligtige stop, en met elke besoek sien ‘n mens iets meer. ‘n Mens kan wel die muur uit die ruimte (space) sien soos ruimtevaarders al bely het.

Die lughawe is oop en modern met treine wat jou van verskillende afdelings vervoer. Pas op die lughawe aangekom met my tas op ‘n karretjie en ‘n polisieman kom nadergestap met sy snuffelende spanjoel. Die hond snuif driftig aan my tas.

“Het jy kos in jou tas?”, vra die polisieman nurks. Ek wil eers antwoord, ja, Nando’s om julle Peking-eend te troef, maar toe dag ek liefs nie grappies maak nie.

Hy maak my tas oop. Na ‘n tydsame deursoekery blyk dit die spanjoel is deur my sonbrandolie om die bos gelei, en ek word toegelaat om deur te stap.

Aangesien daar geen hotelbussies van die lughawe na die hotel is nie, kry ek ‘n gawe huurmotorbestuurder wat Engels magtig is en my na die hotel neem (gebaretaal is meermale die enigste uitweg). Die rit van die lughawe na die lieflike ouwêreldse hotel Quianmen Jianguo hotel waar ek tuisgaan duur ongeveer 50 minute.

Beijing, © Travelnix.com 

Onderweg gee my huurmotorbestuurder my ‘n imprompto oorsig van die stadsgeskiedenis. Langs die pad hang daar ‘n groot plakkaat van Mao TseTung. Hy vertel my van die studente-opstande op Tiananmen-plein. Dankbaar dink ek terug aan ‘n geskiedenis-module oor Sjina en die Ming-dinastieë. Dit is makliker om die ouer Sjina te verstaan as die moderne een. Dit is meer vertroud.

Taalprobleme sorg vir onthoubare oomblikke. Die aand in die hotelkroeg is die wyn gekurk en na ‘n lang gesukkel met gebaretaal bestel ek maar bier. Die twee kroegmannetjies is bitterjonk.

Toe ek die rekening vra met my vinger wat skryf in die palm van die hand, lag hulle. Die een kom nader met sy selfoon, hou dit na aan my oor: ”Invoice, invoice”, sketter dit op Engels. Hulle lag uitbundig oor hul eie grappie.

Op dag twee is die Groot Muur my teiken. Eers die gewone tempelbesoeke wat die enorme geskiedenis voorstel. En verdomp, ‘n vliegende mier steek my op my arm. Binne ‘n ommesientjie is my arm geswel. Vir my is dit egter ‘n teken van geluk.

In elke stad tel ek ‘n blaar op en pars dit saans in ‘n moleskin-boekie. Ek het reeds soveel klippe van verskillende stede. Nou is dit blare. Een blaar per stad (en een vir my vriend Johann de Lange).

Bygelowe is aan die orde van die dag. By ‘n tempel mag ons nie foto’s neem nie. Ek steur my nie hieraan nie en lê dit vas op my Fuji.

Alvorens die Groot Muur sélf besoek word, is daar die gewone toeristiese verleidings van winkels wat edelgesteentes verkoop. In een van hulle sit 'n man wat met verbysterende geduld uit 'n beeldjie kerf uit agaat met net ‘n lemmetjie aan ‘n boorpunt wat piepklein skaafsels laat neersif.


In ‘n kabelkarretjie op pad na die Groot Muur. Dit suis in my hart, want die deurtjie is nie heeltemal toe nie. Daar is ‘n skrefie waardeur ek my hand kan steek en die plantegroei bewonder. Die Groot Muur: asemsnakkend, uitdagend, ‘n monument wat eers vyande moes afweer, nou vele toeriste opneem in groen kabelkarretjies soos by die Pretoriase dieretuin. In moderne tye word geskiedenis ‘n toeristiese geldmaakbedryf. Kyk maar na Machu Picchu wat sy ongeskondenheid verloor het. Deesdae is daar meer busse berg op as in Pretoriase middestad. ‘n Jongman het ses maande geneem om die muur se 6 000 km te stap, en is padlangs deur weldoeners van voedsel voorsien.

Om my is daar toeriste van alle soorte wat stamp en stoot. Die Sjinese verál het geen sin vir private ruimte nie. Daar word gedurig aan jou geraak hulle dink niks daarvan om jou private borrel te betree wanneer jy met iets besig is nie of terwyl jy nog besig is met iets. Hamba, raas ek toe ‘n man aan my stamp binne die reeds prekêre kabelkarretjie toe ons inklim. Diep in sy wiek geskiet, vra hy om verskoning. Dit is om hierdie rede dat ek my reis in besigheidsklas aangepak het sodat ek nie die ekonomiese voorreg het van ‘n mede-passasier se snorke en reuke nie. En nie kos met ‘n plastiekvoorwerp hoef te benader nie. Of te hoef luister na lewensverhale en ander dergelikhede nie. ‘n Stad stel immers altyd iets van ‘n mens se persoonlikheid voor en dit moet jy diepgaande ervaar. Vir my is Beijing – en meer spesifiek die Groot Muur – gekoppel aan uitdagings, weliswaar moeilik, wat ‘n mens die hoof moet bied en tog oorwin.

Een aand op televisie is daar ‘n program van soldate wat hul honde oplei. Groot diere wat trappies moet ophardloop en dan oor twee sporte moet spring. Onder is daar ‘n vangnet. 'n Hond val af, spartel tussen die toue en word deur die mans gered. Hy het nie ‘n keuse nie. Hy word gedwing om weer en weer te spring totdat hy dit regkry. ‘n Vinjet van wreedheid.

Ek stap een oggend vroeg deur die ou buurt van Beijing. Ek haal my kamera uit om 'n klein slaghuis met sy netjies bereide vleis af te neem. Fout. Die vrou gil en haar man verbied my om ‘n foto te neem. Natuurlik vrees sy dat my foto haar siel sal steel en druipstert stap ek weg.

Vars groentestalletjies, oompies wat mahjong speel, kwispelstertbedelende honde, oumas met kleinkinders (elkeen natuurlik met net één, gedagtig aan Sjinese gesinsbeperkings) vorm die agtergrond van my wandeling. Die babaseuns het almal broekies aan wat sowel voor as agter oop is. Dis hoe hulle die seuntjies hier leer. Die klokkies hang uit en doer ver sit ‘n knapie op sy hurke, terwyl ouma toekyk dat alles vlot verloop. Natuurlik verhoed dit ook dat die kleertjies nat word. Dit gaan alles terug na vroeër tye toe gesinne meer as een kind had en kleintjies maar self moes sorg vir broeklosmaak.

‘n Beijing-riksja is my toergids deur die buurt. Almal wuif. Beijing het ‘n moderne en vinnige lewe teenoor hierdie ou wêreld, gestulp in die tyd. Dieselfde stadige leefwyse as Mosambiek en Kenia. Mense wat geselsies maak, ware verkoop, waarskynlik niks weet van die groter, dwingende wêreld daarbuite nie, dog ook uitgelewer is aan uitdagings, vrese, onsekerhede, geboortes en dood.

In die middag wandel ek deur ‘n buurt agter my hotel waar ‘n ou oom met ‘n loopraam sit. Hy is losweg 90 jaar oud te oordeel aan die plooie en letsels op sy gesig. Oosterlinge word baie oud, volgens navorsing, die oudste op aarde. Hier sit die ou man met sy sikkeneurige ou vrou wat hom die hele tyd die leviete voorlees, as ‘n mens die hoë frekwensie van haar stem in ag neem. Sy wuif haarself koel met ‘n pienk waaiertjie wat sommer ook as vlieëplak diens doen. Sy het ‘n blou pakkie aan en die knie is netjies gelap. Die mense woon in klein pondokke met buite die deur ‘n besempie, potplante, en skoene wat in die son staan.

‘n Kat met ‘n klokkie spring oor ‘n plant. ‘n Verbyganger maak keelskoon en spoeg op straat. Twee jong geliefdes bestel uitgebreid kos. Langs my sit ‘n ander ouma. Ons sit almal onder ‘n ou boom en voer 'n woordelose gesprek. Ek bied vir hulle van my bier aan. Nee dankie, beduie albei beleefd. Die oompie weet natuurlik die hel sal losbars as hy ‘n doppie vat.

‘n Pa stap met sy mongoolseuntjie verby en ‘n dogterjie spring uitgelate op en af. Skielik raak iemand aan my. Dis die ouma met haar kleinseun. ‘n Pragtige dingetjie wat buidel van geluk. Sy haartjies poenskop gesny. ‘n Volledige vinjet van vreugde, hierdie samesyn met die Sjinese op ‘n middag in September. Dié aand is die Peking-eend in die hotel se restourant voortreflik. Alles is perfek.

Tot ek die volgende oggend by die lughawe aankom en twee Zippo-aanstekers moet afstaan. Sjinese lugvaartregulasies. Dit help nie om te neul en te wys op die sentimentele waarde van die aanstekers nie. Wel, gee my dan ten minste die houers en neem net die binnegoedvra ek. Dan kan niemand dit gebruik nie, mor ek in my binneste. (Jou moeder van ‘n Pekinese hond, vloek ek liggies.) Skielik verander die deuntjie. “Ons sal dit aan u terugbesorg. Hier is ‘n kwitansie.”

Alles in Sjina is noodlot, weet hulle te vertelle. En in John Snelling se The elements of Buddhism (Element, 1990) lees ek van koans en waarhede.  

Tafereel

‘n Diepgroen boom
lowerryk, vol voëls wat sing,
staan in die agtertuin van ‘n huisie beskeie
in Beijing. Die oompies speel mahjong,
die tantes spoel al skinderend die wasgoed,
mense fiets verby, dis skoolkomuit-tyd.
Oor hierdie klein tafereel van menslike bestaan
staan daar ‘n voël opgesluit in ‘n hok. Sy kraalogies
draai soos ‘n arend s’n reg om dié gedoente.
Hy droom van ‘n ander bestaan, ‘n beter wêreld,
verby inperkings, vérvandaan, oor groot mure
veel, veel langer as sesduisend kilometer klip. 
‘n Toevallige besoeker sien dit alles, vou dit op
en knoop dit vas in haar geheue. So vredig
om in hierdie oomblik te wees, so ongelooflik eenmalig.


Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element. 

Reisjoernaal | Wêreld - Stad 3. Tokio, stad van koans (storie, dialoog, vraag)


Tokio skyline © shockerz

Dit is my tweede besoek aan hierdie opwindende stad. In 2002 het ek reeds die groot stede besoek en nou vertoef ek net in die hoofstad. Op die lughawe stap ek deur die groen lig, maar word gestop. ‘n Doeanebeampte maak sorgvuldig al my tasse oop. Die lang gesukkel om alles in te pas, word met een veeg ongedaan gemaak. Ek het my ou paspoort, en toe hy sien ek was al vantevore in hierdie stad, raak hy vriendeliker.

Waarna sou hy soek? Hy sien daar is net boeke, notaboekies, ‘n komputer, kamera, pen. Dalk is dit uiteindelik die bottel Isseymiyake wat hom paai en my laat deurstap. Hier het ek nie iemand wat my kom afhaal nie. Ek neem die metro. ‘n Hulpvaardige man beduie waar ek moet afklim. Dan weer ‘n taxi tot by die Shiba park (Y 1000) ‘n katspoegie ver.

Tokio gee niks prys nie. Dis ‘n stad vol geheimenisse, maar uiters georden. Om in Tokio te wees as ‘n besoeker is om ‘n geskenk met vele lae papier oop te vou en aanvanklik niks te vind nie. Net om te ontdek die papier was eintlik jou geskenk. Was dit Barthes wat dit geskryf het? Die strate is nie genommer nie en die mense stap verby sonder om te bodder oor jou. Ek is egter ‘n menskyker. Op die soelwarmdag stap ‘n meisie verby met ‘n rok wat papnatgesweet is agter. Sy bly egter elegant, terwyl ek self deur drie hemde per dag dreun (30 grade Celsius is geen grap nie).


Tokio is geweldig duur. Met $30 (3000 Yen) kan jy sowat tweekeer wasgoed was in ‘n hotelmasjien, of drie biere drink. ‘n Toeriste-dagreis is ver oor die duisend rand, maar beslis die moeite werd. Jy besoek al die bakens: die Tokio-toring, die Shinto-tempel, die groot Boeddhistiese tempel en ‘n bootvaart oor die stad se rivier. Shintoïsme, die aanbidding van die natuur binne ‘n komplekse godesisteem, is naas die Boeddhisme en die Christendom, die amptelike godsdiens. (As jy voor die tempel ‘n munt in die bussie plaas, sal jy voorspoed ervaar, vertel die gids.)

En dan is daar die Yen. Geld en tegnologie speel hier belangrike rolle. Alles is van die duurste en beste. My hotelkamer het gratis internet-toegang sodat ek presies weet wat in land gebeur. Ek stap geweldig ver en eet net Japannese kos. Heerlike organiese kos wat lig is om te verteer en jou baie energie gee. Reis is harde werk. Soos met geboorte gee vergeet mens glo die pyn en onthou net die vreugde. In die proses van reis is daar angs, beplanning, onvoorspelbaarhede, maar uiteindelik die beloning van ‘n vreemde plek beskou en herinneringe wat jy altyd in jou omdra. Ek herken bakens van 2002 se reis. Tóé het ek vervaard trein gery Kyoto toe, en hier, in Tokio, het ek 'n internet-kafee besoek: ek kon dit nog nooit regkry om terwyl ek reis alle kontak met my land te verbreek nie.

In ‘n vreemde stad toets ek altyd my interne GPS. Ek klim op ‘n bus en ry weg van my bestemming, klim af en stap dan terug en kyk op ek my hotel kan vind. ‘n Gevaarlike spel in Tokio, omdat mense jou nie verstaan nie. Maar ek stap my stap. Verby die stasie, oor die brug (onder lê die rivier), na Shiba Park Hotel. Survivor se moses. Hier kom ek. Ek vra net eenkeer ‘n aanwysing. Ek is op die regte pad, maar die man meen fronsend dat dit ver is…maar ek stap.
So ‘n kwartier later stop ek ‘n taxi. Te vogtig. Hoeveel sal dit kos? Dit klink bekostigbaar, en ek klim op. Geen Engels, maar baie humor. En so gaan die gesprek:
“Sukiyaki”, ek.
“Good day”, hy.
“Soesji,” ek.
“Love”, hy.
“Tsoenami”, ek.
“Sex,” hy.
En so gaan hierdie drama van die absurde met leë woorde aan todat die taxi gillend tot stilstand kom en die bestuurderes my verlos uit ‘n buidelende posisie van histerie. Dit bewys net nogmaals dat menslikheid ook in taal skuilgaan. Ek begin ‘n gedig wat ek eers later in San Francisco voltooi.

My lyf

My lyf is soos die naakmodel
in ‘n Lucian Freud skildery:
skrynend vol hompe en hobbels en heuwels
soos in Yerba Buena, oftewel San Francisco
soos in soos in soos in ‘n vergelyking wat nie opgaan.
Soma ook South of Market in hierdie stad van soveel vergelykings
waar die lyf soos slaggoed opgeveil word. 
Die lyf verraai die psige, waarsku Lacan,
iewers in een van sy lesings, opgeteken, vertaal
en dalk ook verfomfaai deur Alan Sheridan.
Is dit egter wat hy sou gesê het?
Dat die lyf ‘n taal van haar eie verraai?
Ons praat tog van body language?
Eens ‘n vesting vir die liefde, koesterende, aaiende hande.
Nou afgesluit met geen begeerte tot die Ander.
Altyd iets versus iets. Is teenoor was.
Skrams vang ek my lyf op in ‘n spieël
(soos wat jy ‘n blik van ‘n ander op jou betrap
in ‘n trein waar jy as vreemdeling uittroon bó reisigers
tussen ‘n stasienaam en ‘n tydelike vesting).
Is dit my lyf? Is dit ek? Is dit hoe ek lyk?
Objet à?
Odds and ends?
Langue maternelle?
Lyf, liggaam, soma.
Die lyf (in corpore sano of dalk soiets)
verniel deur vele reise
is uiteindelik al wat ek hadde
om sonder ‘n vergelyking, te wys.
Die stasienaam is die siel; die tydelike vesting,
hierdie hobbelende, heuwelende, eens heerlike lyf.


Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.