Showing posts with label Marilyn Monroe. Show all posts
Showing posts with label Marilyn Monroe. Show all posts

Thursday, January 10, 2019

Filmrubriek | Obiter dictum

I

– met ‘n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake –

T.T. Cloete

Gentlemen Prefer Blondes is die 1953 musical van Howard Hawks met Marilyn Monroe en Jane Russell. In die onvergeetlike Diamonds are a girl’s best friend is die beeldskone Lorelei (MM) aan die dans en sing. Sy verduidelik waarom ‘n vrou eerder ‘n man met geld moet najaag as ‘n arm man.

Maar dit is met die herbesoek van All about Eve die film uit die vyftigerjare wat ‘n duidelike interteks is in Almodóvar se All About my Mother wat iets verrassends gebeur.

Daar is ‘n klein kamee-vertolking van die einste Monroe met die ongelooflike Bette Davis (as Margo Channing) en Anne Baxter (as Eve Harrington, die understudy). Daar is al geweldig baie geskryf oor hoe die een vrou die ander se lewe oorneem met vleitaal en probeer ontglip aan ‘n lewe van leuens. Dit bly ‘n boeiende film van Joseph L. Mankiewiczen ek ken min films waarin die spel tussen fiksie en werklikheid van die teaterlewe so uitstekend weergegee word. Dit is gebaseer op The Wisdom of Eve deur Mary Orr (All About Eve - Wikipedia. Besoek 8 Januarie 2019).

In sy beroemde gedig oor Monroe (“Marilyn Monroe foto in blou”) skryf T.T. Cloete:

 vir die nakende detail in die bygesprek
– met ‘n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake –

En dis juis hierdie bysaak, hierdie obiter dictum of tersyde wat ‘n mens boei. Marilyn Monroe is in hierdie film ‘n bysaak.

Die tegniek is gewoon oorredend en nie bindend nie.

Vanuit ‘n agterna-perspektief kyk ons wel anders na hierdie klein rol (Marilyn Monroe scenes in All about Eve (1950) HD - YouTube. Besoek 8 Januarie 2018).

II

Gentlemen prefer blondes kan ‘n mens uiteraard nie onskuldig benader nie. Wanneer Lorelei opmerk dat die ergste vorm van eensaamheid daardie gevoel is wat ‘n mens tussen ‘n skare ervaar, is die tersyde ‘n opmerking oor Monroe se lewenslot wat later beklink sou word.

Of as sy en die ryk magnaat, sir Francis “Piggy” Beekman (Charles Coburn) gesels oor Suid-Afrika as ‘n gevaarlike plek, is dit in 2019 inderdaad so.

Op die skip is daar vele intriges en ‘n Olimpiese swemspan wat veral Dorothy se aandag trek. Hier is ook ‘n privaatspeurder, aangestel deur Lolerei se verloofde se pa wat die verhouding met Lolerei in die wiele wil ry.

Na die skeepsreis land Lolerei en Dorothy in Parys. Helaas is die kredietbrief gekanselleer deur die verloofde se vader en die twee is sonder heenkome. Na ‘n dag se inkopies, is hulle ook sonder geld. (Die verhaal is nogal kompleks: dubbelspel, dubbel-troues, diefstal van ‘n tiara, ‘n hofsaak waar Dorothy speel asof sy Lolerei, is van die binariteite wat aangestip kan word.)

En terwyl hulle net geld vir een koppie koffie het, is daar twee Marokkaanse kinders met fezze wat saamsing “When love goes wrong nothing goes right”.

Marilyn Monroe

When love goes wrong
Nothing goes right
This one thing I know
When love goes wrong
A man takes flight
And women get uppity-oh

The sun don't beam
The moon don't shine
The tide don't ebb and flow
A clock won't strike
A match won't light
When love goes wrong
Nothing goes right

The blues all gather round you
And day is dark as night
A man ain't fit to live with
And a woman's sorry sight

When love goes wrong
Nothing goes right
When love goes wrong
Nothing goes right
When love goes wrong
Nothing goes, nothing goes rjght
A woman's a fright, a terrible sight
A man goes out, gets high as a kite
Love is something you just can't fight
You can't fight it, honey
You can't fight it
When love goes wrong, nothin'
No bows, honey, just cigat bars and off
Nothing goes right
Crazy, Crazy oui, oui

Lt's like we said
You're better off dead
When love has lost its glow
So take this down in black and white
When love goes wrong nothing goes right
When love goes wrong nothing goes right
Nothing goes right

Take this town in black and white. Die een kind het ‘n rooi fez, die ander een ‘n swarte - ‘n verdere opposisie wat uitgespeel word.

Hier ervaar die kyker van vandag ‘n tersyde kommentaar op Parys waar vreemdelinge uit veral die ou Franse kolonies woon.

Ironies genoeg vind ‘n mens niks oor hierdie jong akteurs nie. Net oor die jong wit akteurtjie George Karl Wentzlaff, wat Lolerei bewonder.

Hy komplimenteer haar “animal magnetism”.

© Joan Hambidge

Sunday, March 25, 2018

Gedig | Joan Hambidge - Marilyn Monroe: stil lewe in wit (2018)

Marilyn Monroe se lyk in die sterfbed

Weggedraai van die kamera
die foto van 'n lyk
met merke, yke
op die rug uitgekerf
bly sy slaap daardie slaap
van die rusteloses
ingebed en ingelê.
Oordosis of moord?
Die mes van die lykskouer
die hand van elke digter
(en speurende leser)
soekend na antwoorde
of uitsluitsel
in gedig na gedig:
ontleders, agoniste,
poësie-paparazzi,
en ander oopvlekkers
staan langs dié bed
nes die priester,
afwesig en gebedloos,
aan die leuens toedruk
op die imperium se bevel.
Pyn het geen protokol,
dis 'n ongenooide gas,
waarop haar rug
kilbloedig iets
soos 'n sug
van ontvlugting slaak.
'n Bottel slaappille
langs die skrynende
instrumente wat
moes oopmaak
en nooit weer
haar heelhuids
sou kon toekry
nie, nooit weer nie.
'n Onopgeloste saak
met digtende jurielede
terugkerend, soekend
na haar én die oerakkoord:
lewe onverbiddeliker
as dié konserf.

© Joan Hambidge

Friday, October 7, 2016

Bus Stop, Marilyn Monroe: 'n Ander invalshoek

Marilyn Monroe, in Bus Stop © Milton Greene, 1956
I

Met 'n herbesoek aan Marilyn Monroe in die film Bus Stop (1956) word Monroe meteens 'n interpretasie-probleem. Jacques Derrida se Il n'ya pas de hors-texte (daar is geen buite-teks) beteken daar is 'n oneindige aantal tekste wat inspeel op die teks voor jou.

Die verhaal is eenvoudig. Dit is 'n liefdesverhaal met 'n cowboy (en rodeo-ryer) wat verlief raak op die meisie. Hy heet Beau (Don Murray); sy Chérie. Hy spreek haar naam verkeerd uit as Cherry. Op pad na 'n rodeo-wedstryd sien hy sy donna angelicata ...

Die naïewe plaasjapie verstaan nie hoe verkeersligte werk nie. Nog minder begryp hy dat die mooi engel wat hy sien nie 'n engel is nie. Sy is immers 'n danseres en bied mans drankies aan. (Ons as kykers weet wat hier aangaan.)

Hy sien haar, raak dolverlief en neem nie nee vir 'n antwoord nie. Sy vlug op die bus waarop hy en sy maat ook is. Die busbestuurder het sy hande vol en uiteindelik wanneer hulle aankom by Grace se busstop is daar 'n woeste vuisgeveg tussen die busbestuurder en Beau. Met Beau wat in die sneeu byt.

Hy vra verskoning die volgende dag en die jong vrou, Chérie, gee dan vir hom in. Haar aanvanklike renons, gaan oor in ambivalensie en uiteindelik oorgawe. (Nie 'n goeie beeld van die vrou wat uiteindelik maar ingee nie ... of het ons hier iets van Jacques Lacan se sydelingse opmerking dat 'n vrou (en seksuele fantasie) maar net die simptoom is vir die man? Hy merk dit op in sy Seminaar gelewer op 21 Januarie 1975.)

Die gesprek tussen Beau (die onskuldige man) en Chérie (die ingewyde) was waarskynlik in die tyd as komedie bedoel; nou is dit skrynend.

II

Die kyker ervaar ook twee oomblikke wanneer die film buite die grense van die film beweeg.

By die rodeo-wedstryd - waar Beau kaatjie van die baan is - is daar twee Life Magazine-fotograwe wat die beeldskone Chérie afneem. Maar hulle neem eintlik vir MM af.

Op die bus, vlugtend van die lastige Beau, bely Chérie aan 'n jong meisie dat sy eintlik net wil trou en kinders hê. 'n Gesprek wat 'n mens teruglei na die biografiese studies oor Monroe waarin sy telkemale die behoefte uitgespreek het om binne die veilige hawe van die huwelik te wees. En 'n moeder te wees. Dit is egter iets wat haar nie beskore was nie, weens haar sterstatus.

III

Die bus beweeg van Montana tot in Arizona. Ons beleef die lieflike landskap waar die jonge Beau op pad is na sy rodeo-wedstryd en in 'n ander stryd gewikkel geraak, naamlik die liefde.

Chérie, die talentlose sangeres, begeer aanvanklik om 'n Hollywood-ster te word. (In hierdie stadium weet die kyker dat Monroe dit reeds is.) Haar vertolking van "That Old Black Magic" bekoor Beau in so 'n mate dat hy dadelik met haar wil trou. (Monroe, terloops sing wél hier.)

Hy "ontvoer" haar dan later, maar by Grace se busstop, gee sy in vir hom. Sy maat, Virgil (simboliese naam), bly agter.

IV

"There is no fabric without a weave," (Mitchell en Rose, 163) is hier ter sake. Ons kan vandag nie meer op 'n "onskuldige" manier na Marilyn Monroe kyk nie. Sy is die simptoom van ons begeerte en ons ervaring van 'n simbool.

God and the Jouissance of The Woman. A Love Letter. Die vrou bestaan nie; sy is net 'n simptoom van ons fantasie.

En die diskordante onbewuste ervaar jouissance as dit wat plesierig en vreesaanjaend is.

Bronne:

Feminine Sexuality: Jacques Lacan and the école friedienne. redd. Juliet Mitchell en Jacqueline Rose. W.W. Norton and Pantheon Books, 1985.

Marilyn. Norman Mailer. Alskog Inc., 1967.

Vir inligting oor Bus Stop is IMDb - Movies, TV and Celebrities geraadpleeg.