Friday, March 15, 2013

Isobel Dixon - Weather eye (2001)



Isobel Dixon. Weather eye. Carapace poets, 2001. ISBN 1 874923 56 6.

Resensent: Joan Hambidge

Die nostalgie is waarskynlik een van die belangrikste stylkenmerke van die digkuns. N.P. van Wyk Louw, Yeats, Auden is van die voorste beoefenaars van die nostalgie en in Isobel Dixon se debuut Weather eye, wat bekroon is met die Sanlam Letterkundige prys, vind 'n mens die nostalgie as 'n soort  refrein terug in bykans elke vers.

Die digter woon in Cambridge en haar verse roep 'n vergange jeug op. Tristia is geskryf tydens Louw se verblyf in Amsterdam en in Nuwe verse reeds vind 'n mens die blik terug op die jeug en ongeskonde landskap. Die digter romantiseer waarskynlik altyd die jeug soos ons dan ook lees in Dixon se openings- of programvers: dit was nie noodwendig 'n maklike jeug nie. Maar juis omdat die ouer digter terugkyk na die ouers, oor wie daar dikwels ambivalente gevoelens gekoester word, vind sy in hierdie vers 'n versoening met die jeug, die landskap en natuurlik ook die sosiale kodes van die tyd.

Dit is hierdie terugkyk wat Freud tereg as die "Besetzung" in die onbewuste beskryf het: juis dit wat die spreker maak wat sy is.

Ook die "weather eye" suggereer alreeds die veranderlike blik. Die kind versus die volwassene se interpretasie van sake. ('n Mens hoor ook die Afrikaanse woord verweerde inspeel.)

In die openingsgedig word daar dan ook verlang na die tyd toe alles gereguleer en op sy plek was. In "Fruit of the land" artikuleer sy al die elemente van die nostalgiese vers: die hier versus die daar en hoe iets sintuigliks 'n verlore lewe kan oproep:

 each small explosion in the mouth
the precious milk and honey of nostalgia

(p. 11).

In die lieflike "Plenty" (p. 13) werk sy hierdie verbande ook uit. Die afgetelde, suinige jeug waarin "each month was weeks too long" (p.13) geplaas word teenoor die sibaritiese hede. In die epifaniese gedig "Rapture"(p. 16) word die metafisiese in oënskou geneem en in "Nightwards"(p. 17) word die vertrek na die huis - met al sy vrese en gewaarwordinge - goed vasgevang.

"Four things on earth" (p. 19) artikuleer die effek wat gekko's op haar lewe. Die gekko's is volgens die Jungiaanse denkwyse 'n simbool van kreatiwiteit en in hierdie gedig word die implikasies goed beskryf. Ook die kiewietjie se spel met die melancholie word uitstekend verbeeld.

In die haikoe-agtige "valentine" (p. 27) beskryf sy die meer private emosie:

sweet fallacy the heart
this heaving muscle glistens darkly
something like a toad

Waarskynlik kan 'n mens in die skerp "Housewifery" (p. 30) die digter op haar beste sien. daar is 'n speelse verwysing na spiritualiteit, maar terselfdertyd word die samehang tussen alles beskryf en besing. Die gedig verironiseer die gegewe ('n yskas wat Om!), bely dat daar geen spiritualiteit in haar huis is nie, maar tog word die leser aan iets anders voorgestel. 'n Geval waar die gedig sy eie loop neem onder die digter se beheer uit.

Die bundel begin met 'n bestekopname van Afrika en sluit daarmee af - oor biddae vir reën, geweld, hongersnood, verkragting. "Back in the Benighted Kingdom" (p. 44) sien muskietbyte as liefdesbyte van 'n kontinent!

'n Mens lees selde 'n bundel waarin daar net afgeronde verse staan. Isobel Dixon se versameling getuig van vakmanskap en 'n eie stem. Ons vind hier 'n ryk debuut waarin die invloede goed verhul is. Dit is tereg bekroon met 'n letterkundige prys.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]