Showing posts with label Saul Bellow. Show all posts
Showing posts with label Saul Bellow. Show all posts

Sunday, November 4, 2018

Polemies | Skoenmaker: Die ontologie van oningeligtheid en beterweterigheid (2018)

I

’n Buiteblik op die letterkunde is dikwels interessant soos afgetrede regters en advokate (o.a. Regter Kriegler) as resensente heel dikwels bewys. Kriegler het ’n briljante analise van Ton Vosloo se outobiografie geskryf. [1.]

Dit is egter so dat ’n literator se mening oor ’n regsproses dikwels ook net ’n allemans-mening is.  Waarom wonder ’n mens, dink almal dat resensies deur Jan en Alleman sonder letterkundige opleiding geskryf kan word? Is dit omdat mense meen taal behoort aan almal?

My vriende in die regswêreld sug diep wanneer joernaliste of leke nie regsprosedures begryp nie en dink iemand is skuldig, omdat hy so lyk. Of op grond van koerant-bespiegelinge eksperts word.

In sy bespreking van Egonne Roth se biografie oor Olga Kirsch (“Kirsch-geheime bly verhul”, Rapport 28 deser) meen Jean Meiring dat ons nie weet hoekom Kirsch in Afrikaans gedig het, terwyl sy Engels skoolgegaan het.

Hy kritiseer ook die “psigo-Babel van naweldeurprieming” waarin ’n biografie kan ontaard. Hiermee bewys hy dat hy nie bekend is met Thomas Minnaar se doktorale studie ’n Herwaardering van Olga Kirsch se oeuvre: Identiteit, moederskap en ballingskap aan die hand van die psigoanalitiese teorieë van onder andere Sigmund Freud, Jacques Lacan en Julia Kristeva (UCT, 2012).

Dis uiteraard ook duidelik dat hy nie The silent woman (Vintage, 1995) van Janet Malcolm oor Sylvia Plath verreken het nie of veral die taalteorieë van Julia Kristeva nie. Gaan lees maar Desire in language (Columbia University Press, 1982) oor moedertaal.

Sowel Minnaar as Roth wys op die ingewikkelde verhouding met die moeder en die komplekse verhouding met die vader. Dalk keer sy altyd terug in haar gedagtes en gedigte na haar jeug waar hulle outsiders was in die Vrystaat. Die ervaring van “andersheid” as Jode en die soeke na die aanvaarding in gedigte; hierom dat sy as volwassene die jeugdorp alleen wou besoek, sonder die trompetgeskal van die dorpsraad.

My lewe sal gesplete bly:
Groen stamme, as die byl hul kap
kerndiep, sal nooit weer heelheid kry.
Maar aan die staallem klewe sap.

(Uit: Geil gebied, 1976)

Literatore sal anders kyk na Roth se biografie (Naledi) as ’n buite-leser.

’n Komplekse boek soos Roth se studie verdien ’n deegliker besinning.

II

Daar is niks wat ‘n resensent meer vreugde verskaf as wanneer lesers reageer op resensies nie. ‘n Mens voel dikwels asof jy die spreekwoordelike roosblaar in die Grand Canyon afgooi of luister na die geklap van die een hand.

Oma Prinsloo in 25 deser kritiseer my opmerking oor Saul Bellow as die “onbesonge meester” (“Dankie vir dié resensie, maar …”). Ek is absoluut bewus van al die bekronings wat Bellow ingeoes het en lees hom sedert 1976. Elke jaar herbesoek ek Humboldt’s Gift, sy meesterlike omdigting van Delmore Schwartz se lewe (“In Dreams begin reponsibilities” heet Schwartz se 1938-kortverhaal).

Met onbesonge het ek egter bedoel binne die Afrikaanse letterkunde, maar as woorde soos goed, uitstekend, ensomeer kwistig rondgestrooi word wanneer ‘n mens die boek lees, is jy minder geïmponeer, omdat jy besef resensente se verwysingsraamwerke is beperk. As hulle meesters soos Bellow, DeLillo of Perec sou ken, sou hierdie lesers minder opgewonde wees oor ‘n roman.

So gelees, is Bellow wel onbesonge.

Met onlangse besoeke aan die VSA ook gevoel, dalk al vergete?

Die implisiete gesprek met Etienne Leroux moet nog deegliker besoek word en ook Moby Dick (1851) soos Oma Prinsloo uitwys.

’n Oma weet ons ook beteken ’n karsinoom of ’n abnormale groeisel.

Joan Hambidge

Endnoot:
[1.] Hierdie nota het op versoek van Media24 verskyn:

Oor Grense'n lewe in die media in 'n tyd van verandering (Jonathan Ball) van Ton Vosloo is ’n memoir. En hierdie soort teks se sinonieme is outobiografie, lewensverhaal, herinneringsteks, joernaal, reminissie, o.a. verklap sy aard. Dit is ’n sogenaamde “naked I” wat besig is met ’n bestekopname van hoé hy sy lewe onthou en die besondere openbare figuur geword het.

Uiteraard moet ’n mens dan alles deur hierdie optekenaar se bril beskou. Die waarde van so ’n teks is dat dit ’n stuk geskiedenis weergee. Dikwels sterf mense en ’n hele stuk institusionele geskiedenis verdwyn saam met hulle soos die museum in Rio de Janeiro wat afbrand. Artefakte in ’n memoir is daardie oomblikke of oorgange wat mense wat nie oor binnekennis beskik nie inlig oor hoe dinge gebeur het. Hoe het Koos Bekker op die toneel gekom? Hoe het Naspers so ’n magtige maatskappy geword? Wat is (en was) die rol van politieke figure – soos P.W. Botha en Pik Botha – in hierdie tye? Het Naspers nog ’n siel? Was I.L. de Villiers gewoon stroomop?

Agternakennis is ’n eksakte wetenskap, waarsku Vosloo. ’n Man wat swaar groot geword het, maar met ’n enorme dryfkrag hom gevestig het tot die magtige figuur wat hy geword het. Hy gee erkenning aan raadgewers – soos o.a. Elize Botha en Fran du Plessis – en wys die kanselierspos aan die Universiteit van Stellenbosch van die hand. Hy ken sy beperkinge en hierdie posisie sou hom ontoereikend laat voel het.

Hy fokus veral op kwessies buite hom. Persoonlike sake, soos die geboorte van ’n kind wat verswyg word, ofskoon hy pynlik-eerlik skryf oor die dood van ’n broer. 

Hy vra byvoorbeeld: Was die uitbou van Naspers, met die eerste wig die skepping van M-Net,’nwyse besluit?

Hy antwoord: Ná die algemene verkiesing van 1994 het die rol van die ou, regerende
Nasionale Party en die verbintenis tussen die Party en die Pers in Suid-Afrika tot ’n einde gekom (35).

En hiermee verduidelik hy hoe alles verander het. Naspers is ’nreus inderdaad, maar hy waarsku dat ’nmens nederig moet bly; die ekonomie is immer wispelturig. (Het ons nie gesien wat met Steinhoff gebeur het nie?)

Eerder die josefsbeleid as uitspattigheid, is sy motto.

In hierdie geskiedenis van Naspers word vertel van die verskille tussen Vosloo en Bekker. Bekker se gevoel was dat hierdie boek van Lizette Rabe nie moes verskyn nie. “As hulle oor die maatskappy se verlede moes lees, sou dit die aandag van die ANC-regering op die maatskappy vestig en kon dit sy gereguleerde besighede, soos DStv en digitale uitbreidings, in die gedrang bring” (68). Dat dit waarskynlik ’n oorreaksie was, is nou duidelik.

Die woeste stryde en politieke gevegte word goed weergegee: So het dit daaraan toegegaan in dié tye, merk Vosloo ironies op. Daar is Broedertwiste, ’n humeurige PW, dreigemente van sensuur teen grensoorskrydende skrywers, jong joernaliste wat hulle by die WVK uitspreek teen die ou regering en hul base. Maar Ton vergewe en bring almal weer bymekaar.

Van Joyce Waring tot die Inligtingskandaal en Perskor se knoeiery is hier te lese. St. Nelson tot Mandela word ondersoek. Ook oor die toekoms van Afrikaans skryf hy insigryk.

’n Groot storie kan hard slaan, dit begryp hy. Dit is ’n belangrike tydsdokument.

© Joan Hambidge



Tuesday, February 26, 2013

Huldeblyk: Saul Bellow (1915 - 2005)

Saul Bellow in 1982 


Die dood van die bekroonde Amerikaanse romanskrywer Saul Bellow lui die einde in van ‘n belangrike era in die romankuns. Bellow, ‘n Joodse skrywer, ondersoek nie alleen in sy romans die lotgevalle van die Jood nie, maar is soos sy landgenoot, Philip Roth, ook besig om telkemale die landskap van die roman en sy grense te ondersoek. Anders as Chaim Potok of Malamud, skryf hy nie net oor die Joodse wêreld nie.

In sy grootse Herzog (1964) word die psige van Moses Herzog ondersoek in die nou reeds bekende openingswoorde: If I am out of my mind, it’s all right with me, thought Moses Herzog”. In hierdie pakkende vertelling word God en bekende filosowe aangespreek om die sin van die lewe te probeer uitklaar nadat sy vrou hom verlaat het vir sy beste vriend. Maar dit is nooit vervelige prekery nie, omdat al die filosofiese vraagstukke in ‘n storie geanker word. Herzog is in sy eie woorde ‘n man met “a passionate heart, a bad credit risk”. Lewendes en dooies word in hierdie belydenisroman ‘n spreekbeurt gegee.

Teen die agtergrond van sy geliefde Chicago speel sy verhale dikwels af in ‘n sublieme balans tussen hartspyn en intellektuele ondersoek. Ook word die verhale gekenmerk deur guitige humor:  in Humboldt’s gift (1975) waarvoor hy die Nobelprys ontvang het – is daar ‘n grensoorskrydende toneel van ‘n voet wat onder ‘n tafel gemasseer word en plots tussen ‘n vrou se bene land. Boonop is die vrou die verleier hier. In die hande van ‘n mindere skrywer sou dit gewoon banaal gewees het, maar Bellow beskryf dit só goed juis omdat filosofies verantwoord word. Bellow se romans is dikwels polities-inkorrek, omdat hy fokus op menslike gedrag en nie op politieke slagspreuke nie. (In die pers is hy nou ookal berug vir sy speelse opmerkings oor waar die Proust van die agtergestelde gemeenskappe is?)

Net soos die arme Meneer Sammler wat in Mr Sammler’s planet (1970) nie sy verontwaardiging kan verdoesel wanneer hy deur ‘n ekshibisionis verneder word nie, kry die leser ook dikwels die gevoel dat Bellow politiek-korrektheid opsetlik wil kritiseer. Die lotgevalle van die gewone man wat moderne stadsgeweld probeer begryp (o.a. ‘n motor wat deur ‘n woestaard beskadig word of die molestering van ‘n jong kind) is dikwels die tema van sy romans. In Humboldt’s gift – wat o.a. die lewe van Delmore Schwartz karteer – staan die leser verbyster voor die ryk verwysingsveld wat die verteller en passant met jou deel. Ook die rol van die akademikus het hy beskryf in The Dean’s December (1982). 

Sy eiesoortige vermenging van morele en sosiale vraagstukke, metafisika, die filosofie verbind hy met ‘n geloofbare, pakkende verhaal. (Wel, in Henderson the rain king word die verhaal tog “larger than life” wanneer die alkoholis-tycoon Henderson, sy vrou en konvensionele lewe verlaat en op reis gaan na Afrika en ‘n reënmaker word vir ‘n primitiewe stam.) In die aangrypende More die of heartbreak (1987), wat ‘n mens moet saamlees met die jong Bellow van The adventures of Augie March (1953), word die weerlose mens op ‘n nuwe wyse aan ons blootgestel. Sy romans is in wese verhale van transformasie en ‘n mens sou hom as ‘n moderne Henry Fielding kon beskryf. Reis, soektog, ontdekking. Dit is altyd aan die basis van ‘n Bellow-roman waarin die kodes van die grootstadroman en avontuur- of pikareske roman dikwels ook met die peregrinasie-vertelling, vermeng word.

Ook in Ian McEwan se Saturday word Bellow gehuldig met ‘n lang motto uit Bellow, wat saam met Flaubert die interteks word in hierdie kragtige roman wat ‘n mens as Bellowesk kan beskryf, naamlik ‘n versoening tussen intellektualisme en emosionaliteit, die soeke na sin in ‘n wrede wêreld waar morele en etiese waardes voortdurend afgetakel en hergedefinieer word.

Saul Bellow is in 1915 in Kanada gebore en het in Chicago groot geword. Hy bepaal ‘n B.Sc. in Antropologie en is deur die jare deur verskeie universiteite vereer. Hy was onder andere besoekende professor aan Princeton, NYU, die Universiteit van Minnesota en het die afgelope paar jaar klas gegee in kreatiewe skryfwerk aan Boston Universiteit. Behalwe vir die gesogte Nobelprys, is hy ook bekroon deur die Amerikaanse Instituut vir Kuns en Boeke. In 1978 het hy National Arts Club Gold Medal of Honor ontvang en President Mitterrand het hom ‘n Kommandeur van die Legioen van Eer gemaak. Ook het hy die Pulitzer en National Book Award ontvang.

Hy het etlike resensies en essays deur die jare geskryf op 84 weer pa geword. In foto’s word ‘n mens altyd getref deur die modieuse en duur klere. ‘n “Natty man” het hy homself eenkeer grappenderwys beskryf. Persoonlik is daar min skrywers wat op so ‘n volgehoue wyse die storiekuns bevorder en verryk het. In Him with his foot in his mouth (1984) and A theft (1989) is korter, vernuftige prosas en Ravelstein (2000) gee ‘n aweregse blik op die “odd man”.

Seize the day (1956) is by geleentheid as ‘n meesterstuk uitgesonder. Hiermee moet ‘n mens akkoord gaan: Saul Bellow se karakters is altyd besig met ‘n “carpe diem”-daad in romans, novellas of kortverhale wat onthoubaar is.

Elke jaar herlees ek ‘n Bellow-roman net om my daaraan te herinner hoé ‘n groot roman daar moet uitsien: verlede jaar was dit Herzog. Vanjaar weifel ek tussen Dangling man (1944) of The victim (1948). Dalk eerder Mosby’s memoirs (1969)? Nee, miskien eerder To Jerusalem and back (1976), ‘n nie-fiksionele teks.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]