Tom Wolfe. Hooking
up. Jonathan Cape, 2001. ISBN 0 224 06119 4.
Resensent: Joan
Hambidge
Hooking
up van Tom Wolfe dra die sub-titel "essays and
fiction". My sy laaste roman in 1998 A Man in Full het Wolfe waarskynlik
bewys dat hy die langste roman in die wêreld kan skryf sedert Proust se
Remembrance of things past, maar dat hy sy leser ook intens kon verveel.
Tereg is op hierdie roman baie ink verspil in die New
Yorkse boekebylae en tydgenote was nogal katterig oor sy poging tot die
"great American novel". Amerikaanse romansiers poog om hierdie groot
roman te skryf wat die Amerikaanse psige en leefwyse sal opsom. John Updike,
Thomas Pynchon, Norman Mailer, Saul Bellow e.a. het al bygedra tot hierdie
mitiese roman en hoewel Vanity's Rainbow en Humboldt's Gift uitstaande romans
is, sou 'n mens kon aanvoer dat Melville se Moby Dick dit alreeds presteer het.
Maar Wolfe mag miskien misluk het in sy poging om die
Amerikaanse psige via 'n roman goed te karteer, maar as essayis en beoefenaar
van "new journalism" het hy skitterende analises gemaak. The
Kandy-Kolored Tangerine-Flake Streamline Baby (1956), The Electric Kool-Acid
Test (1968), Radical Chic & Mau-Mauing the Flak Catchers (1970) staan sterk in
die herinnering, nes The Right Stuff (1979) of The Bonfire of the Vanities
(1987).
Dit is dus 'n imposante oeuvre en die bydrae tot
kunskritiek The Painted Word (1975) bly 'n baken. Ook is daar 'n doktorale
studies behaal in "American Studies". Op die voorblad van die
jongste versameling, Hooking Up word die dandy Wolfe sitgemaak voor 'n portret
van homself. Gewoonlik is hy voor die tikmasjien; op sigself 'n prestasie om
soveel woorde op dié manier te kon produseer.
In "My three stooges" kritiseer hy Upidke,
Irving en Norman Mailer vir hul snedige aanvalle op A Man in Full. In 'n
briljante analise van die huidige stand van die Amerikaanse roman, besluit hy
dat films waarskynlik die afgelope dekades reggekry het om meer naturalisties
te wees as romans. Hierdie 'apologia pro domo' word 'n uitmuntende analise van
presies wat skort met moderne romans: dit is anoreksies. Die roman is nie meer
in die lewe geanker nie, maar sit vol idees. Lionel Trilling en die hele
akademiese leefwyse word die skuld gegee vir presies wat verkeerd gegaan het
met die Amerikaanse roman. Dit is hoogstaande polemiek, want elke uitspraak
word met 'n voorbeeld toegelig.
Dit is 'n essay wat verpligte leesstof moet wees aan
universiteite wat met film- en mediastudies die studie van klassieke
letterkunde afskeep in 'n poging om jong studente se voorliefde vir die efemere
mediastudies te bevredig.
In die "Foreword:Murderous Gutter Journalism"
word die oeroue waarheid bewys. Moenie met 'n koerantman sukkel nie! Intriges
kry uiteindelik hul lê en die sage met die opgeblase New Yorker word kwistig
vertel.
In 'n puik essay "In the land of the Rococo
Marxists" word nie alleen 'n analise van trends in die moderne denkwêreld
gemaak nie, maar die leegheid van uiversiteitdenke ook aan die kaak gestel.
Dit, hoop hierdie leser, sal elke universiteitsdosent lees. Sy skerp siening
van Stanley Fish ('n "lapsed Milton"-kenner) is in die kol. In
"Hooking up", die eerste essay, word 'n amusante analise gegee van
seksuele kodes en mores in die VSA. Van tieners tot Bill Clinton en die
Lewinsky-sage is daar.
Die versameling bewys dat Tom Wolfe geen gelyke het as 'n
analis van die moderne denke nie. As "new journalist" is hy ook
uitstekend. 'n Mens het hierdie soort skrywer nodig wat soos in "Sorry,
but Your Soul Just Died" kan verduidelik hoe die sielkunde ontwikkel het
van Freud tot neurosielkunde en pilverslawing. Ook in 'n essay karteer hy die
belang van die internet ("Digibabble, Fairy Dust, and the Human
Anthill") wat volgens hom herleibaar is na die werk van Teilhard de
Chardin en Marshall MchLuhan.
Sy definisie van die intellektueel onderstreep sy
sinisme: dit is iemand wat oor alles 'n mening het, behalwe in die veld waarin
hy 'n spesialis is!
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]