Showing posts with label Gabriel García Márquez. Show all posts
Showing posts with label Gabriel García Márquez. Show all posts

Saturday, September 15, 2018

Lesing | Vraisemblance: werklikheid of illusie? ’n Teoretiese en kreatiewe besinning (2018)

What we experience as “reality” is constituted by such a reversal... “reality” is always framed by a fantasy, that is, for something real to be experienced as part of ‘reality’, it must fit the pre-ordained co-ordinates of our fantasy space.
- Slavoj Žižek

I

Die Freudiaanse diskoers word gekenmerk deur 'n komplekse aanbod soos Malcolm Bowie tereg aantoon in sy 1987 studie Freud, Proust and Lacan: theory as fictionFootnotes, asides, analogies, exempla and autobiographical reminiscenses (p. 17)”. 

In al Freud se studies en in sy briewe aan Jung en Wilhelm Fliess is daar 'n tersyde of voetnoot. Hiermee wil hy die leser attent maak op die ingewikkelde raamwerke van interpretasie. En ook op die verhouding tussen binne-landskappe (of die onbewuste) en die werklikheid.  Freud was inderdaad 'n taksonoom van psigiese posisies. In hierdie referaat sal die verskillende aspekte van die voetnoot, die obiter dictum, analogie, exempel en outobiografiese herinnering of besinning onder die loep geneem word.

In sy essay “A Remark on Language and Psychoanalysis” van 1976, beklemtoon George Steiner die belangrikheid van Freud as 'n uitstekende stilis (1978: 48). Die interne eggo, allusie en miskwotasie word eweneens bespreek. Freud het onder andere 'n verwysing na Hamlet verwar met King Lear.

Psigoanalise is vir Steiner hermeneutiek en hy verwys tereg na Lacan se seminale essay, gepubliseer in 1953, “Fonction et champ de la parole et du langage en psycanalyse” waarin die onbewuste gesien word as 'n lacuna of gat en iets wat gevul moet word ten einde die kontinuiteit van bewuste spraak te bewerkstellig (1978: 53). Dit is die sogenaamde discours concret transindividuel.

Psigoanalise is vir Lacan niks minder as toegepaste linguistiek nie.

Lacan meen dat taal die onbewuste skep, en nie andersom nie. Die sprekende subjek plaas homself in die reeds bestaande simboliese orde en hierdeur word begeerte deur die sistemiese prosesse (“pressures”) beheer en georganiseer (Bowie, 109).

In hierdie referaat word daar in die besonder gekyk na uiteenlopende  skrywers se werk en hoe hulle reageer op die “werklikheid”. Hierdie teks volg die Freudiaanse diskoers wat die enkellynige aanbod dekonstrueer.

II

'n Ondersoek na Roland Barthes se siening van vraisemblance in Laurent Binet se The Seventh Function of Language, wat verlede jaar in vertaling verskyn het, is die eerste onderneming. In hierdie teks word die grense van teorie en werklikheid telkens geproblematiseer. Hiermee saam word daar gekyk na 'n representasie van die geboortehuis van Gabriel García Márquez in Colombië (Aracataca) en die beroemde museum van Orhan Pamuk in Istanbul.

Ook word daar gekyk na die roman onder 'n skuilnaam, te wete Die dao van Daan van der Walt deur ene Lodewyk G. du Plessis. En na Arundhati Roy se sieninge van die skryfkuns.

Hier word na die verskillende kante van die sogenaamde “werklikheidsbeginsel”, soos in Binet aangebied as fiksie en by Márquez waar die huis (museum) gerekonstrueer is op die model van die oorspronklike, onder die loep geneem. En 'n roman wat 'n spel speel met die leser soos by Du Plessis waar die boek onder ‘n skuilnaam verskyn. In die kolofon staan daar: Die Skrywer.

Wat lesers as die werklikheid ervaar, is dikwels alreeds 'n rekonstruksie van 'n werklikheid.

Willie Burger merk tereg op dat die realiteit self kan ons nie betrek nie; dit kan nooit die verwysingsveld van enige literêre werk wees nie (2018, 76).

In die outobiografie van Márquez word die werklikheidsbeginsel vooropgestel wat deur museumkenners en -argiviste nagespeur is. Macondo is 'n fiktiewe plek gebaseer op Aracataca. Hier word veral Jay Corwin se studie oor die verskillende vlakke van representasie in Márquez betrek. 

In die outobiografiese-biografie van Barthes getitel Roland Barthes deur (par) Roland Barthes wat in 1975 in Frans verskyn het, word die spel tussen outobiografie en biografie verder gevoer. Die skrywer verklaar homself tot 'n karakter in 'n roman en wil dus só beskou, sy lewe fiksionaliseer.

In Binet se roman word teorie tot fiksie verklaar en die lewens (of dit was ons dink ons weet van teoretici) gesatiriseer. Wat is waar? Wat is gefiksionaliseer?

Barthes se beroemde uitspraak in sy boek is: “All this must be considered as if spoken by a character in a novel” word by Binet verander na “Life is not a novel”.

Waarvan is die teks dan 'n simptoom uiteindelik? Die teks as simptoom (Le texte symptomal ~ the text as symptom) (Roland Barthes, 1977, 172).

En watter leesstrategieë moet die leser volg om hierdie spel te hanteer? Taktiek / strategie (Tactique / stratégie ~ Tactics / strategy) (Roland Barthes, 1977, 172).

'n Teoretikus soos Malcolm Bowie begryp hierdie problematiek in 'n teoretiese studie waar teorie as fiksie benader en toegepas word.

Binet gebruik die troop van die speurverhaal om hierdie representasie-problematiek in fiksie uit te wys.

Watter strategieë moet die leser uiteindelik volg?

In die geval van Binet se roman is Kristeva uitgekryt en valslik beskuldig as 'n spioen. Hier het die roman se werklikheidskodes so oorheers dat dit spel met fiksie verdring het (Die allegorie van lees versus die skilpoppe van interpretasie. Besoek 29 Mei 2015). 

In die reis na Colombië het die werklikheid eweneens fiksionele perspepsies wat hierdie leser oor Márquez gehad het, radikaal verander. In sy geboorteland word skole en huise tot museums verklaar. Daar is foto’s van die outeur en Nobelpryswenner afgedruk, maar terselfdertyd word Gabo se hooghartigheid teenoor sy landgenote benadruk. 

Die besoek aan die land verduidelik eweneens verhulde politieke kodes in sy roman One Hundred Years of Solitude oftewel, Cien años de soledad (1967).

In 1982 ontvang hy die Nobelprys vir letterkunde.

Tydens my reis, skryf ek so oor die besoek:

My gids het my deur die geskiedenis van hierdie land geneem. Gabo se boeke word dikwels onder die maklike noemer van magiese realisme behandel, terwyl sy tekste ‘n sterk politieke bewussyn het. Ook is daar verwysings na Latyns-Amerikaanse musiek en danse. Gabo sélf het op ‘n keer geskryf dat hierdie teks ook speletjies en grappies tussen hom en ander kritici bevat.

Verder het ek my  verwonder aan die landskap wat net soos Mosambiek lyk: plantegroei, huise, piesangs aan bome toegemaak in blou omhulsels sodat dit nie verswart nie (kennelik vir die uitvoermark).

Die reis is vier ure van Cartagena tot in Aracataca.  Dit bly die beste manier om 'n land te sien: deur die ruite van 'n kronkelende bussie.

Gabo se huis is pragtig, eenvoudig. Dit is egter 'n rekonstruksie van die oorspronklike huis. Ek besit 'n miniatuur-huisie as soewenier.

Groot skrywers kom dikwels uit klein dorpies waar hulle van kleinsaf hul fantasie moes ontwikkel om te oorleef.

Die huis is 'n huldeblyk aan sy oupa, Papelo wat hy dopgehou het as jong kind, terwyl hy gewerk het in die huis. Oupa was ook 'n oorlogsveteraan wat sterf toe Gabo nege jaar oud was.

Sy ouers moes om werk te kry hierdie dorpie verlaat en hy het groot geword by sy vertroetelende ouma Mina en oupa Papelo; iets wat sterk herinner aan ons situasie waar swart mense die landelike omgewing moet verlaat om in die stad werk te kry. Kinders word dan groot by hul grootouers.

Dis ook bekend dat Gabo al die stories gehoor het by sy ouers en grootouers - wat later in sy boeke beslag kry. Hy het self op 'n keer beweer hy het al die stories gehoor voor sy agste jaar! Verder lees hy as verveelde regstudent natuurlik Faulkner wat 'n bepalende invloed op sy werk gehad het, nes Kafka. Hy voltooi nooit sy regstudies nie en word 'n skrywer van internasionale statuur. In bykans elke dorp of stad is daar 'n monument vir hom of 'n wapperende vlag teen 'n skoolmuur.

Aracataca huldig hom ook met trots met 'n monument. Uit die gegewe van hierdie kleindorpse bestaan het hy 'n fantasieryke wêreld geskep.

So begin sy beroemde roman:

Many years later, as he faced the firing squad, Colonel Aureliano Buendia was to remember that distant afternoon when his father took him to discover ice. At that time, Macondo was a village of twenty adobe houses, built on the bank of a river of clear water that ran along a bed of polished stones, which were white and enormous, like prehistoric eggs. The world was so recent that many things lacked names, and in order to indicate them it was necessary to point.

José Arcadio Buendía droom van ‘n stad van spieëls in hierdie roman. ‘n Utopia dus. Maar onder die spieëls is daar spanning. Opstande van werkers (en die weermag se binnetrede), is gebaseer op die Banana Massacre of Piesangslagting in 1928. Daar is slegs een persoon wat oorleef en niemand wil sy storie glo oor die opstande en die slagting nie. 

Die verhaal verander van utopia na distopia. Aan die einde van die roman word die hele dorpie deur ‘n orkaan verwoes, terwyl Aureliano ‘n manuskrip lees oor die wel en wee van die familie wat oor vele generasies strek. Daar is ‘n kind wat met ‘n varkstertjie gebore word (die straf vir bloedskande) met 'n vreemde ervaring van tydsbelewenis in die roman. Dit vertel die verhaal van verskillende generasies.

Verskeie lesers het al insigryk oor hierdie roman geskryf soos Jay Corwin in sy studie Gabriel GarcíaMárquezwat in 2016 verskyn het by Palgrave. Harold Bloom het in sy kritiese studie oor hierdie boek opgemerk dat dit ‘n grootse roman is, maar dat dit ‘n estetiese “battle fatigue” word, omdat elke bladsy so vol gepak is met lewe en verwysings dat jy dit gewoon nie as leser kan absorbeer nie. Jy moet elke sin lees. Tog vind Bloom dit 'n baken. Pablo Neruda het dit beskou as 'n moderne Don Kiesjot.

Daar was al etlike pogings om Aracataca se naam te verander na Macondo, maar die owerhede wil steeds nie bes gee nie.

Met hierdie reis na sy geboortedorp besef 'n mens dat 'n groot roman, al werk dit met fantasie en die bo-natuurlike, altyd sterk gebed bly in die werklikheid en die politiek van daardie land. En 'n groot skrywer het die mag om dit oop te maak vir lesers van ander lande en ander kulture.

By Orhan Pamuk in The museum of innocence (2010) word die werklikheid 'n troop. So reageer ek destyds op my blog na die besoek aan die museum:

Jy is die antropoloog van jou eie ervarings. Orhan Pamuk.

‘n Roman speel in op films, ‘n museum, die geskiedenis en lewer kommentaar op al die verskillende vlakke van die werklikheid. Boonop vertel die werklike skrywer vir ons in ‘n regte museum hoe alles inmekaar pas.

Dit gebeur in The museum of innocence van Orhan Pamuk, die Turkse skrywer en wenner van die Nobelprys vir letterkunde in 2006. Die roman van 734 bladsye bevat ‘n naamsregister. Die leser kan dus elke karakter opsoek asof jy ‘n historiese dokument lees en boonop is daar ‘n werklike museum in Istanbul wat die komplekse verhouding tussen fiksie en werklikheid vérder uitbou. Die museum is in April 2012 geopen in die historiese Çukurcuma area.

Die roman handel op die eerste vlak oor onbeantwoorde liefde. Kemal (‘n ryk besigheidsman) se liefde of eerder dalk, obsessie met Füsun (uit ‘n meer beskeie familie) word in besonderheid vertel. Objekte (soos koeldrankbottels en sigaretstompies) word vinjette vir die ervaring van die geobsedeerde verteller wat vir ons meedeel presies hoeveel keer hy haar ouers se huis besoek het net sodat hy naby aan haar kan wees. Daar was 1,593 besoeke aan die Keskin-huishouding waar hy omstreeks seweuur opgedaag het en televisie met die gesin gekyk het. 4, 213 sigaretstompies van sy geliefde het hy bewaar.

En objekte word gegaps sodat hy iets van haar kon behou. Soos hondjies bo-op die televisie of ‘n botteltjie parfuum. Hiervoor vergoed hy later deur geld agter te laat.

Op ‘n dieper vlak word dit ‘n analise van die geskiedenis van Istanbul en soos die verteller ons dan inlig, beleef ons Istanbul as “mental map”. Geboue, bakens, restaurante, die Bosphorus, moskees is alles daar. Besoekers aan die stad herken die roetes wat gevolg word. Die geskiedenis van Turkye en die invloed van Atatürk word ontleed. Ons beleef die stormagtige noodtoestand van die sewentigerjare.

Die roman is eweneens ‘n analise van die liefde en hoé seksualiteit in hierdie tyd ervaar is. Die jong vrou wat voorhuwelikse seks toestaan, “verloor” iets. Hierom moet die man met haar trou of sy word as ‘n Westerse vrou gesien. Daar word kommentaar gelewer op skoonheidskompetisies waaraan jong Turkse meisies deelneem. ‘n Mens sou die hele roman ook kon lees as ‘n analise van die verskille tussen Westerse en Turkse siening van skoonheid. Hoe mense lyk, word in besonderheid beskryf.

Die verteller is aanvanklik verloof – Sibel verlaat hom en gaan studeer in Parys, omdat sy bewus is van sy verskeurdheid. Tant Nesibe, die liefdesobsessie, Füsun se moeder, vertel hoe haar dogter moes trou om van die klad (“stain”) van die verhouding met Kelam weg te kom (385).

Sy trou dan met Feridun ‘n jong man, onbewus van Kemal se liefdesobsessie, wat graag ‘n kunsfilm wil maak. Hy hoop dat ons ryk verteller hom sal borg. Daar word ook kommentaar gelewer op Turkse films en die impak daarvan op ‘n gemeenskap. Turkse films wat dikwels melodramaties is, word geanaliseer. Hoofstuk 59 wys weer op die sterk sensuurstelsel in hierdie gemeenskap waar die filmmaker se vryheid van spraak aan bande gelê was. Fotoboekies was eweneens in die sewentigerjare ‘n ruimte waar vroue buite die patriargale orde kon beweeg.

Grace Kelly is ‘n ikoon in hierdie roman. Hulle kyk na haar films op TV na haar dood en Kemal analiseer hoe sy geliefde reageer op hierdie skoonheid. Hierdie kragtige toneel verduidelik die verskille tussen die Westerse en Turkse vrou.

Die objek-van-begeerte – soos in Lolita van Nabokov – se lot word in jukstaposisie geplaas met ‘n voëltjie in ‘n kou in haar ouerhuis.

Die filmverwysings word ‘n “counter-plot” wat die komplekse spanning tussen fiksie/werklikheid (die museum)/films vérder bevestig. Op die koop toe is daar werklike verwysings na ‘n Pamuk-familie by ‘n troue en ene Pamuk blyk uiteindelik die ouktoriële outeur te wees van hierdie verhaal.

Vir iemand wat al verskeie kere in Istanbul was, word die roman nog komplekser. Jy herken bakens en gewoontes. Die leser word getransporteer deur die komplekse lae van hierdie samelewing: Bizantium, Konstantinopel tot moderne Istanbul.

Diegene met ‘n eksemplaar van die boek, mag die museum gratis besoek. In ‘n stad wat al in 657 VC gestig is. Die komplekse geskiedenis van Istanbul word in The museum of innocence geberg.

En die leser word ook kyker wanneer jy na die BBC-program kyk oor die museum met Pamuk as begeleier.

Die roman dwing ons na verdere werklikhede.

In Istanbul is daar ook kritiek op die feit dat hy tekste oorneem uit ander tekste – kennelik onkunde oor die postmodernistiese speletjies wat hy met die ingeligte leser speel waarvan die wérklike museum ‘n markante voorbeeld is.

As Skrywer is hy in 2005 krimineel aangekla oor sy siening van die vervolging van Armeniërs deur die Turke. Die klag is ‘n jaar later laat vaar, ofskoon hy steeds aangekla word van die feit dat hy “Turksheid” beledig het.

In 2012 vind ons ‘n boek oor die museum: The innocence of objects.

Die leser kan ook 'n toer deur die museum via die internet onderneem. Hierdie skrywer was werklik daar.

III

Die dao van Daan van der Walt is ‘n roman wat eweneens die vraisemblance-beginsel ter sprake bring. Hierdie roman, geskryf onder ‘n skuilnaam, word bemark deur die voormalige uitgewer Frederik de Jager met die hooggestemde woorde dat hierdie roman ‘n golf deur die Afrikaanse letterkunde gaan stoot.

Hierdie anonieme roman (wat gelei het to spekulasie van wie die outeur sou wees) aktiveer Michel Foucault se stelling in “What is an author?”: Since literary anonymity is not tolerable, we can accept it only in the guise of an enigma. As a result, the author-function today plays an important role in our view of literary works”(Lodge, 1988, 203).

Ofskoon dit gepubliseer word onder ‘n nom de plume, verskyn daar ‘n onderhoud in Rapport van 25 April 2018. Francine Prose meen: “Writing under a pen name is like doing an impersonation of someone doing an impersonation”. (Ciuraru, 2011, 18).

IV

Tydens ‘n openbare lesing aan die Universiteit van Kaapstad op 13 Augustus 2018 lewer Arundhati Roy die skrywer van The God of Small Things (1997) eweneens kommentaar op die verhouding tussen fiksie en werklikheid.

The Ministry of Utmost Happiness (2017) waaruit sy voorlees, word voorafgegaan deur ‘n film waarin sy verhouding tussen werklikheid en fiksie uitwys – met ‘n voice over.

Roy wys daarop dat die buite-staander of vreemde leser die kodes van Indië dikwels verkeerd begryp. Ons lees dit as anargie, meen sy, terwyl die hele sisteem gebou is op ‘n grid van fyn netwerke wat alles te make het met die kaste-sisteem. Net die verkeer is, volgens haar, chaoties.

Alles verder fyn verweef en verbind.

In hierdie tersyde van Roy word die leser opnuut bewus gemaak van lesers se soeke na wat agter tekste lê, hetsy ideologie of werklike mense.

VI

Barthes se beroemde essay van 1967 “The death of the author” word ‘n saak van onmoontlikheid, omdat lesers juis die skrywer bo die teks verhef. Barthes argumenteer dat die dood van die skrywer aanleiding gegee het tot die geboorte van die leser. 

Nog nooit is die werklikheid so geproblematiseer met fopnuus en verwysings na skandale van gestorwe generaals en hul ministers nie.

Het die werklikheid dalk 'n nuwe ondeurdringbare semiotiese spel geword wat ons voortdurend uitdaag om nuut na ons-self te kyk en na die Ander wat ons bly definieer?

Elke teks skep sy eie werklikheidsdimensie of vraisemblance. Pamuk plaas dit voorop, terwyl argivarisse Márquez se lewe in Aracataca probeer konstrueer in die huis van sy grootouers. Lesers wil weet wie is Daan. Ons kan nie die werklikheid ontglip nie; dit skep 'n beginsel wat die leesproses struktureer en beheer.  Die sewende beginsel dalk waarop Binet via Roman Jakobson sinspeel? Weg van die metalinguistiese of emotiewe na iets buite die teks?


Bibliografie:

Barthes, Roland. 1975 / 1977. Roland Barthes. Londen: The MacMillan Press. (Vertaler: Richard Howard).

                                                     “The death of the author” in Lodge, David. 1988. Modern Criticism and Theory. Londen: Longman.

Binet, Laurent. 2015 / 2017. The Seventh Function of Language. Londen: Harvill Secker. (Vertaler: Sam Taylor).

Bloom, Harold. 2003. Bloom's Critical Interpretations: Edited and with an Introduction by Harold Bloom: “Gabriel García Márquez's One Hundred Years of Solitude”. Philadelphia: Chelsea House Publishers

Bowie, Malcolm. 1987. Freud, Proust and Lacan: theory as fiction. Cambridge: Cambridge University Press.

Burger, Willie. 2018. Die wêreld van die storie. Pretoria: Van Schaik.
Ciuraru, Carmela. 2011. A (Secret) History of Pseudonyms. Londen: Harper.
Corwin, Jay. 2016. Gabriel García Márquez. Londen: Palgrave.

Du Plessis, Lodewyk, G. 2018. Die dao van Daan van der Walt. Kaapstad: Tafelberg.

Foucault, Michel. 1979. “What is an author?” in Lodge, David. 1988. Modern Criticism and Theory. London: Longman.


Márquez, Gabriel García. 2003. Living to Tell the Tale. Londen: Jonathan Cape. (Vertaler: Edith Grossman).

Márquez, Gabriel García. 1967 / 1970. One Hundred Years of Solitude. New York: Harper & Row. (Vertaler: Gregory Rabassa).

Pamuk, Orhan. 2010. The museum of innocence. Londen:Faber & Faber.

                                        http://joanhambidge.blogspot.com/2013/06/orhan-pamuk-museum-of-innocence-2010.html Besoek 5 Augustus 2018

Roy, Arundathi. 1997. The God of Small Things. India: IndiaInk.

Roy, Arundathi. 2017. The Ministry of Utmost Happiness. Londen: Hamish Hamilton.

Steiner, George. 1978. On Difficulty and Other Essays. New York: Oxford University Press.

Van Rensburg, Rudie. 2018. Ys. Kaapstad: Tafelberg.

Artikels:

Lacan, Jacques. 1956. “Fonction et champ de la parole et du langage en psycanalyse”. Psychanalyse I (1956), 81 - 166.

Endnote:

1. ‘n Roman deur Laurent Binet is ‘n eiesoortige speurverhaal wat in 2017 verskyn het. Dit is die opvolg van sy roman HHhH (2010). Binet se roman is ‘n speurverhaal oor die dood van Barthes en maak van die wasgoedlorrie-insident ‘n moordverhaal.

Barthes se beroemde uitspraak in sy boek is: “All this must be considered as if spoken by a character in a novel” word by Binet verander na “Life is not a novel”. Wat weer resoneer met Woody Allen se bekende uitspraak dat die lewe eintlik slegte televisie naboots. In hierdie dae van vele speurverhale, is hierdie roman eietyds. Barthes se dood blyk ‘n komplot te wees met jaloerse kollegas wat op soek is na RB se notas oor die sewende funksie van taal. Dit is ‘n baie slim tegniek, omdat Barthes telkens in sy werk geskryf het oor vraisemblanceen die verhouding wat tekste het met die werklikheid. Hierdie verlore dokument kan glo help om verkiesings te wen. (Binet is in sy werklike lewe ‘n politieke navorser.)

Die speurder, ene Bayard, met die hulp van Simon Herzog, ‘n doktorale student, probeer sin maak van die semioloog se dood. (Ons hoor ook Saul Bellow se Herzog hier en Eco se Die naam van die roos.)  So gesien, word die roman ‘n relevante ondersoek na tekensisteme en die werk waarin Barthes uitgemunt het, soos Mythologies. Die spanning tussen akademiese werk (wat metafories en metonimies is) en polisiewerk (wat op feite gebaseer is), word in die roman uitgewerk soos Lauren Elkin insigryk in haar reeds aangehaalde resensie uitwys. Sy betrek tereg Allen se Midnight in Pariswaar bekende kunstenaars ook “optree”. Judith Butler, Eco, Cixous, Sollers, Kristeva, Derrida, Foucault, Lacan (se minnares) en vele ander is hier aanwesig. Die leser wat hul teoretiese werk ken, gee dus telkens ‘n ander lesing, by wyse van skrywe. Van closedna openteks.

Die ses funksies van taal is deur Roman Jakobson opgestel, maar die sewende een is okkulties; dit behels om beheer te neem oor die toehoorder. 

Satires van die akademie is volop: David Lodge se Changing Places, o.a. en Malcolm Bradbury se tekste, soos Mensonge (Arena, 1987). Patricia Duncker se Hallucinating Foucault (Cox & Wyman, 1996) is eerder akademies-onthullend as satiries.

Bradbury se Mensonge (leuenaar, liegfabriek) word soos volg aangebied:

My Strange Quest for Mensonge, Structuralism’s Hidden Hero. Malcolm Bradbury with a Foreword / Afterword by Michael Tardieu (Professor of Structuralist Narratology University of Paris) translated by David Lodge 

Na links, ‘n foto van Mensonge (kaalkop, van agter geneem). Die fotograaf is onseker. 

Agterin word die leser voorsien van ‘n Bibliografie en Indeks.

Tipies postmodernisties, is die biblioteek van die ondersoeker anti-alfabeties en die Mensonge se boek se titel heet La Fornication comme acte culturel.

Die filosofiese “underpinnings” is vir die ingeligte leser wat die hele moderne teorie hier sien afspeel: van die estetika van stilte tot die geboorte / dood van die outeur. Van die episteem tot die meem. Being tot nothingness.

Daar is verwysings-binne-verwysings en waarskynlik is dit minder toeganklik as die Franse roman. 

En waar is die roman van Mensonge?

In ‘n spel met Derrida se sous rature (under erasure) is hierdie teks se papier met suur vervaardig en hierom vergaan dit en is dit so moeilik om ‘n eksemplaar in die hande te kry.

Duncker se roman is op sy beurt ‘n spel met Foucault. ‘n Navorser wat werk op Paul Michel, ‘n romanskrywer, wat al sy idees op Foucault, die filosoof, baseer. 

Om ‘n tesis te skryf, is ‘n eensame, obsessiewe bedryf en die persoon oor wié geskryf word, is die een met wie jy die meeste tyd spandeer (1996: 4,5). Die anonieme navorser ontmoet sy rokende geliefde in ‘n biblioteek in Cambridge.

Die navorser en sy vriendin probeer Michel opspoor, ‘n skrywer wat ‘n ambivalente verhouding het met Foucault. Hy is 30 Junie 1984 in die begraafplaas van Père Lachaise in hegtenis geneem weens grafskending. Foucault se studies oor gestigte en die gemeenskap se definisie van waansin word onder die loep geneem, net soos die oedipale verhoudings tussen student/mentor, navorser/studie van ondersoek betrek word. Die anonieme fokalisator raak betrokke by Paul Michel en sy geliefde, ‘n Germanis wat ‘n studie skryf oor Schiller het twee vaders. Sy laat telkens notas vir haar geliefde en maak hom attent daarop dat Paul Michel se lewe belangrik is vir sy studie. Michel kan ook nie van sy psigose herstel nie, want sy werklike leser, Foucault, is dood.

Die dood van die skrywer (in navolging van Barthes en Foucault) is die onderbou vir hierdie roman. Teen die einde van die roman is daar ‘n diagram: Paul MICHEL en Michel FOUCAULT waar die twee figure se lewens teen mekaar geplaas word. Die ooreenkomste en verskille; selfs die verwysing na Foucault se eerste selfdood-poging in 1948 word vermeld.

Dit is ‘n boeiende studie oor waansin en homoseksualiteit.

2. Die geboortehuis van Gabriel García Márquez

Mina en Papelo sit in hul afwesigheid steeds aan
by dié tafel gedek vir twee in 'n huis gerekonstrueer.
Hierdie grootouers versorg 'n jong kind, vertel stories:
later vanuit sý optiek gelaai met mucho entusiasmo.
Maar dit is veral die stilte, die eensaamheid volledig,
waaruit Gabo ryklik kon put: vrugte ryp vir die pluk.
Iets glo soos 'n spertyd van die siel, hierdie óór-dig
of natrek van verhale nes dié besoeker in haar destinor.

(Ongepubliseerde manuskrip: Op die keper beskou)

© Joan Hambidge

Saturday, January 20, 2018

Reisjoernaal | Colombië: Deel VII (2018)

Deel VII

Dit is Žižek wat in The pervert's guide to the cinema daarop wys hoe 'n mens se koördinate van die realiteit verskuif word deur grensoorskrydende ervarings. En reis is so 'n een.  Jy is die hele tyd tussen hier/daar; uitgelewer.

5 vm lui my wekker. Elke dag word e-posse beantwoord, studente se tesisse begelei, koerante via die internet gelees - anders word dit 'n onbegaanbare taak om deur die berge van e-posse en koerante te wroet by die tuiskoms.

Maar eers 'n brief vir Die Burger:
Brief Die Burger 17/1/2018
Ek reis tans deur Colombië in Suid-Amerika en Kaapstad se waterkrisis is selfs hiér nuus. Op vliegtuie is dit mense se eerste reaksie wanneer hulle hoor jy kom van Kaapstad. Die media meen hier dat Kaapstad die eerste wêreldstad sal wees sonder water. In 2008 was Barcelona in dieselfde bootjie (verskoon die beeld). 'n Mens hoop dat Patricia de Lille en haar raadgewers die erns van die saak sal insien. Hopelik kan al die rusies tydelik na die agtergrond geskuif word om aan hierdie dringende kwessie aandag te gee. Indien nie, sal daar groot ellende wees vir almal woonagtig in Kaapstad en omstreke. Behalwe dat die infrastruktuur in duie sal stort, voorspel kenners siektes. En geweld. Want net die rykes sal kan water koop.
In die verlede is Mevrou de Lille al aangepraat oor die verslonsing van Kaapstad en die hoë insidensie van haweloses. Hieraan het sy niks gedoen, ten spyte van vele oproepe en briewe. Voorstelle is gewoon van die tafel gevee of dalk lees sy nie dagblaaie nie.
Kan iemand asseblief die klokkie lui? Hierdie aangeleentheid is belangriker as enige persoonlike stryd of verskil. 
Joan Hambidge, Cartagena 
Dan die besoek aan Gabo se huis in Aracataca.

Op die bussie lees ek verder aan Binet se literatuurteoretiese speurverhaal. En wonder wat Judith Butler sou maak van die dildo-scene?

En Derrida? Die begraafplaastoneel is 'n soort Walpurgisnacht. 'n Mens wonder hoe die Franse teoretici voel oor hierdie satire? Is daar laster-eise? Of net 'n skouerophaling?

Verder verwonder ek my aan die landskap wat soos Mosambiek lyk: plantegroei, huise, piesangs aan bome toegemaak in blou omhulsels sodat dit nie verswart nie (kennelik vir die uitvoermark).

Die reis is vier ure van Cartagena tot in Aracataca.  Bly die beste manier om 'n land te sien: deur die ruite van 'n kronkelende bussie.

Iemand anders bestuur - en jy is 'n kamera (dankie, Christopher Isherwood!)

Y era hora.

'n Derde curve ball tref my toe my sms 'n verkeerde balans vir my kredietkaart aankondig. Onmiddellik vrees ek bedrog - toe ek destyds in Mexiko was (op pad na Kuba) het iemand my kaart in 'n hotel gekloon en by my terugkoms was 'n rekening ellendig hoog. Gelukkig het FNB binne 24 uur alles reggestel nadat my bloeddruk deur die dak gegaan het. Meixiko en Havana was ruimtes waar Márquez vertoef het na sy kritiek op sy land.

Ons stop dadelik by 'n bank in Aracataca. Die bankier is vlot op Engels. Jammer, nee hy kan nie help nie. Hierdie bank het geen betrekking met FNB nie. Die ATM gee wel die korrekte bedrag soos ek dit onthou uit 'n vorige transaksie; dus kalmeer ek (tydelik). Die voordeel van so 'n curve ball is dat dit jou laat instap in die lewe van die alledaagse bestaan van dorpenaars. Almal is vriendelik en hulpvaardig - en die gids, Sergio help ook.

Gabo se huis is pragtig, eenvoudig. Egter 'n rekonstruksie van die oorspronklike huis.

Groot skrywers kom dikwels uit klein dorpies waar hulle van kleinsaf hul fantasie moes ontwikkel.

Die huis is 'n huldeblyk aan sy oupa, Papelo wat hy dopgehou het as jong kind terwyl hy gewerk het in die huis. Oupa was ook 'n oorlogsveteraan wat sterf toe Gabo nege jaar oud was.

Sy ouers moes om werk te kry hierdie dorpie verlaat en hy het grootgeword by sy vertroetelende ouma Mina en oupa Papelo.

Dis ook bekend dat hy al die stories gehoor het by sy ouers en grootouers - wat later in sy boeke beslag kry. Hy het self op 'n keer beweer hy het al die stories gehoor voor sy agste jaar!  Verder lees hy as regstudent natuurlik Faulkner wat 'n bepalende invloed op sy werk gehad het, nes Kafka (Writer Gabriel Garcia Marquez, Who Gave Voice To Latin America, Dies / NPR. Besoek 20 Januarie 2018).

Die hele dorpie is vol skilderye en monumente vir hom. Uit die gegewe van hierdie kleindorpse bestaan het hy 'n fantasieryke wêreld geskep.

So begin sy beroemde roman:
Many years later, as he faced the firing squad, Colonel Aureliano Buendia was to remember that distant afternoon when his father took him to discover ice. At that time, Macondo was a village of twenty adobe houses, built on the bank of a river of clear water that ran along a bed of polished stones, which were white and enormous, like prehistoric eggs. The world was so recent that many things lacked names, and in order to indicate them it was necessary to point.
Die gids is 'n skoolkind en duidelik baie ingelig oor die skryfwerk van Gabriel. In verskeie plekke kleim mense hierdie groot skrywer vir hul dorp af. Hier het hy skoolgegaan; hier het hy gebly; hier was hy.

Daar was verskeie pogings deur die jare om hierdie dorpie se naam te verander na Macondo. Helaas sonder sukses.

Carlos Fuentes, Mario Vargas Llosa (met wie Gabo 'n vuisgeveg gehad het oor 'n mooi vrou) en Julio Cortázar se fantasieryke romans is uitstekend. Nes Borges se kortverhale.

Sy loopbaan as joernalis het tot gevolg gehad dat hy die land moes verlaat weens politieke uitsprake. Fidel Castro was glo 'n vriend en raadgewer van sy romans!

Bill Clinton beskou Die 100 jaar van eensaamheid as een van sy gunsteling boeke (50 Truths About Gabriel García Márquez | HuffPost. Besoek 20 Janaurie 2018).

'n Ander gids dring hom op aan ons. Hy wil vir ons wys waar die rivier is. 

Ek laat weet dadelik vir my gids dat ek nie belangstel nie. So 'n betreding is juis waarom ek nie meer alleen reis nie of in groepe. En dit is dikwels hoe diefstalle georkestreer word.

My gids is my oë en ore. Bykans soos wat Michael Corleone (voortreflik vertolk deur Al Pacino) van sy broer eis in die Godfather II.

Na die eerste besoek aan die huis ry ons na 'n ander bank. Hier raak ek ook nie geholpe nie, behalwe dat hulle internet kan  verskaf en my rekening lyk reg. Iewers het 'n fout ingesluip.

Ek neem die gids en bestuurder vir middagete na 'n plaaslike eetplekkie. Ons eet die allerheerlikste hoender en aartappels. Weer met plastiekhandskoene.

Iguana-sop en -eiers

Met die terugreis bied die gids iguana-eiers aan. Ek het al krokodil en pirannha beproef, maar weier hierdie delikatessen.

Dis warm.

Ons eet vrugte wat nie goed met my akkordeer nie, omdat dit kennelik die hele dag in die son gestoom het. Hulde, hulde aan Immodium. Amper word dit Arakakaka.  

En van hier na 'n kostoer.

Suto tando pa kolasó ri palenge!

Vandag is dit kook en geniet in Palenque.

Om tien kom haal Diane my vir 'n kooksessie in die plaaslike village. Sy het 'n netjiese sjefbaadjie aan en na een-en-half uur is ons daar. Hier sit mense wat tromme speel en sing. Ek het 'n groot versameling kookboeke wat ek net letterkundig benader soos C. Louis Leipoldt se magistrale kookboek en vele ander oor vreemde lande. En disse. 

Waar kom 'n bepaalde dis vandaan? 

Ek verslind (!) kookrubrieke soos Errieda du Toit se skitter-werk. En natuurlik Anel met die ponytail s'n in Rapport.

Ja-nee. Life is inderdaad 'n zoo biscuit! 'n Goeie kosskrywer se (t)ekstase, kostase en vreetpak (sic!) blyk uit oor hoé hulle skryf oor 'n bepaalde dis. Gourmands is unieke spesies. Nes wynkenners. Jy moenie met hulle stry nie. 

Ek het vriende wat uitmuntende sjefs is en wat Michelin-disse kan opklop uit niks.

Ons gaan vandag kokosneuthoender eet met bone en rys.

Ek bied aan om te help met die voorbereiding. Sy gee vir my  'n rooi voorskoot (Foodies) en dit kom dan later uit: hier werk hulle ook aan 'n TV-program om inheemse kos te "bewaar". Haar produksiebestuurder bly egter op die agtergrond.

Ek is hier as toeris vandag.

My oë traan toe ek die uie kap. Ek onthou 'n ou boereraat by ou moeder geleer: sit water in jou mond. Dan kap ek die knoffel en haal klein rooi pitjies uit hul hulsels wat oor die piesangs geverf word wat oor die kole stadig braai. Sy verduidelik vir my dit is hulle saffraan waarmee hulle kook.  Hulle roep dit achiote.

Van kook weet ek so min as 'n kat van saffraan, maar ek probeer! 

Terwyl ons kap en gesels, steur 'n Whatasup gekletter die ambiance. Ek vra dat die foon asseblief op silent moet wees. En almal het selfone hier: van die maestro wat tydens ete sit en sms tot die oudste tante. Twee jongelinge ry met motorfietse. 'n Paartjie met kinders (vier van hulle) kom kuier vir die Ouma.

Dis 'n baie primitiewe omgewing. Kos word buite berei op die oop kole. Daar is varke (wat lawaai), 'n perd onder 'n boom, skroppende hoenders en kuikentjies.

'n Jong hond se pensie is opgeswel. Hy het glo 'n giftige padda gevreet.

Die kos is prima. Maar te veel. Die nagereg is 'n soet tert met kokosneut.

Ek probeer beleefd bly, maar die kos is werklik te veel.

Gelukkig neem Diane nie aanstoot nie; ek het immers gehelp met die voorbereiding.

Dan word daar musiek gemaak. Die maestro van die dorp (in sy tagtigs) speel op 'n groot instrument musiek. Dit is letterlik soos 'n trompie op 'n groot houtkas.

In Gabo se huis

Hy bewaar hierdie gemeenskap se taal en kultuur, verduidelik sy. Hy het 'n groot medalje om sy nek. 'n Bekroning wat hy ontvang het vir sy harde bewaringswerk.

'n Groot ou oom is soos 'n sangoma. Hy gesels met my sonder taal.

Ek wys na die skaafplek wat gesond word. Hy glimlag.

Die mense praat met mekaar in 'n dialek wat Diane begryp. Sy vertaal vir my wat hulle sê. Dan dans hulle op die musiek. Die een ou Tante nooi my om te dans, maar ek wil eerder kyk.

Na die ete moet ek 'n vorm invul oor my ervaring wat hulle op hul webtuiste gaan plaas.

"Uitstekend. Lekker kos en my tweede kosles in 'n vreemde land. Die eerste was in Thailand waar ek geleer het om 'n mannetjie in 'n waatlemoen uit te kerf."

Diane lag uitbundig.

Nou moet ons die maestro en sy vrou terugneem na hulle huis.  Op die mure van die huise is daar politieke slagspreuke. Die verkiesing is in Maart en die politici is hier jonk, manlik en vroulik. Glo om die ou régime se rug te knak.

My die terugry Cartagena toe sing ons almal saam met die CD wat ou treffers speel soos "Forever Young", "Yesterday", "Hotel California" ...

Selfs Cat Stevens.

Nou eers vir 'n swemsessie in die hotel, want more vertrek ek vir drie dae na 'n klein eiland.

© Joan Hambidge