Showing posts with label Vervreemdeling. Show all posts
Showing posts with label Vervreemdeling. Show all posts

Monday, February 4, 2013

Huldeblyk: I.L. de Villiers (1936 - 2009)

I.L. de Villiers (1936 - 2009)


Huldeblyk: I.L. de Villiers

Joan Hambidige

I

In my jongsste bundel Vuurwiel (Human & Rousseau) verskyn daar twee verse vir die digter I.L. de Villiers. Die eerste is ‘n parodie van sy bekende “Huisbesoek” en die tweede gedig “Wederom” het ek geskryf nadat ek die mens in lewende lywe ontmoet het. Ons vriendskap het hoofsaaklik telefonies geskied en ongeveer drie weke gelede het hy my uit die bloute opgebel en bely dat hy siek is. Ek het iets in die dringendheid van sy stem aangevoel -  en in retrospek besef ek dat hy as’t ware afskeid geneem het van my.
So klink die twee gedigte:

Huisbesoek
vir Pater Sakkie de Vee

Dis waarlik betredend om agteroor te sit,
die gemeente te beskou – hoe dit alles knyp:
”Ja, dominee net gister was daar ses, my kwit,
moordsake binne die geslote kring. Dit

dui op die verbrokkeling van die gesin.”
Die man blameer die ANC, die vrou die stryd.
Meteens kondig die herder aan: ”In die begin
was die woord wáár. Laat ons weer besin.”

En terwyl hul vir oulaas kniel, in ‘n kring,
dink hy, ja, “things fall apart” en weet hy vir ‘n feit
dat die koerantwese nog méér leed sal bring:
dalk ‘n gebreekte sonnet, distigon of  ‘n fyt.



Wederom
Vir I.L de Villiers

Die eerste keer leer ek jou ken
in ‘n geskifte blou verseboek:
die dominee op huisbesoek.

Toe, later, sien ek jou tersluiks
op ‘n loom namiddag in ‘n hotel
waar jy sonder eerbied die hof hou.

Die derde keer beleef ek jou
by die erediens van ‘n digter –
in ‘n ryk geëmbosseerde toga.

Gister sien ek jou, met ‘n pers hemp
en swierig bypassende das, waarop
jy, per abuis, ‘n druppeltjie mors.

Un coup de chapeau, roep die Franse dit.
En ek haal my groen verbeelde hoed af
vir ‘n manjifieke digter en vriend,

wat van hierdie gegewe ‘n volmaakte,
rymende tersine of distigon sou maak!


II

Veral met sy laaste twee bundels, Vervreemdeling en Jerusalem tot Johannesburg het die digter hom by uitnemendheid bewys as ‘n digter van formaat: iemand wat verstegnies en veral met sy beoefening van die distigon ‘n besondere bydrae gelewer het to die Afrikaanse digkuns.



Oor Vervreemdeling het ek positief geskryf vir Die Burger onder die opskrif “Woordkuns van predikant, koerantman en digter”. Dit kan elders op hierdie blog gelees word deur die skakel te volg.


III

Met sy debuut Leitourgos (1972) tot die slotbundel Vervreemdeling (2008) is die leser deurgaans bewus van ‘n enorme vakbeheer. Tussenin is daar Manna oor die duine (1974), Gelykenisse en ander verse (1975), Leviet en vreemdeling (1978) en Jerusalem tot Johannesburg (2005). In die jongste Groot verseboek is hy wat my betref onderwaardeer en ‘n mens besef skielik dat veral die laaste twee bundels waarskynlik nog ‘n impak moes maak op die keurders en kanoniseerders. (Daar is vanselfsprekend ook ander publikasies: essays en religieuse mymeringe en ‘n boek oor depressie.)

‘n Digter word immers onthou aan die verse wat klassieke status in sy taal bereik het. In hierdie opsig is “Huisbesoek” beslis so ‘n klassieke vers en “Dietrich Bonhoeffer :brief aan homself”:
as niks meer heilig is nie
word alles heilig
en die wind waai waar hy wil

En in die aangrypende vers “Dit is volbring” skryf hy:

mens sien pas voor die oomblik van die dood
glo prente van tevore, kiekies uit ’n laai
wat lank daar lê: die skoolkonsert, die groot
party, son op die agterstoep, ’n skaaprib bruin gebraai

Vir my persoonlik is die gedig oor sy vader,  “Nagedagtenis”, een van die sterkste en aangrypendste gedigte van ‘n kind oor ‘n vader. Ons weet hoe min geld daar in die sak van hierdie stil vader is en die gedig eindig met die tréffende slot:
’n notaboekie
L. de V. gekoop Berlyn Kersfees 1936 Hebr. II vs. 13, 14
sê jy het ’n vaderland gesoek

De Villiers was ‘n predikant en koerantman. In sy bundels vind ons talle religieuse gedigte en veral in Jerusalem tot Johannesburg is daar ‘n besonder aangrypende vers oor die religieuse digter Sheila Cussons. In hierdie gedig word daar in gesprek getree met haar digkuns en kommentaar gelewer op die mens wat as spirituele wese altyd deel bly van die onvolmaakte wêreld uitgelewer aan vlieë wat oor alles loop.

In die titel sien ons dan ook die paradoks wat regdeur hierdie werk loop: dit is die digter van die aardse, wêreldse bestel teenoor die religieuse. Maar die spirituele is sterker, daarom word dit eerste in die titel van die bundel vermeld. De Villiers het eweneens uitmuntende lykdigte geskryf – waarvan die een oor sy vriendin Lorna Vosloo waarskynlik my altyd sal bybly.

I.L. de Villiers se voortreflike hantering van die sonnet, distigon en tersine dwing bewondering af. Ek dink ‘n mens sou uiteraard die digter kon tipeer as die digter van die nostalgie, maar nooit as sentimentele digter nie. Daarvoor is die tegniese beheer so dwingend dat dit die sentimentele of emosionele oordaad uitwis.

Ons vind dikwels die epifaniese moment in sy digkuns, daardie oomblik waar iets oopgaan of ‘n moment verhelderend voor die waarnemer staan.

Uiteraard was die digter ‘n komplekse mens: sowel joernalis as religieuse mens en die gedigte verrai iets van hierdie twee pole. In die digkuns egter word die teenstrydighede versoen, dikwels in aangrypende verse wat om die vormbeheer veral imponeer.

Lykdig
Vir Izak

Het jy ooit kon dink, ou knorpot,
dat jy van bladsy 3 sou uitskuif
vir Roman Polanksi
as groter, relevanter nuus?
As koerantman sou jy waarskynlik
grinnik oor só ‘n skuif.
“Wag, sit neer, ek bel jou weer!”
Wat sou jy maak van dié wandelende Jood
se onverwagse inhegtenisname in Zürich?
Dit was jý wat te vertelle had
hoe sy moeder in Auschwitz die lewe laat,
daarna die jongeling altyd op vlug;
op skool ‘n voorvelletjie gevorm uit kerswas
om Nazi-parades te fnuik; Sharon Tate se dood,
en uiteindelik die media-sirkus:
verkragting van ‘n dertienjarige.
‘n Regter wat sy woord nie hou.
Op ‘n aand kyk ek na Knife in the water,
die klank afgeskakel, toe jy bel.
Boots lewe die kuns hier na
of gebeur dit dalk als ándersom?
Noz w wodzie.
Raak ons moeg gesluk aan lewenswalging
sodat ons begin stik aan blote verontwaardiging?
Die koerantman sou ánders as die digter beslis
omdat hy vervreemdeling én verskoppeling is.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Versindaba geplaas.]

I.L. de Villiers - Vervreemdeling (2008)



I.L. de Villiers. Vervreemdeling. Tafelberg Uitgewers, 2008. ISBN 0 624

Resensent: Joan Hambidge

OP die uiters suksesvolle en bekroonde Van Jerusalem tot Johannesburg volg ’n lywige en pakkende digbundel van I.L. de Villiers. Voormalige predikant en koerantman. Maar veral digter.

Vir my is en was De Villiers se digkuns nog altyd ’n aantreklike vermenging van die diep religieuse en die aardse. 

Maar veral met ’n vormbewustheid wat getuig van ’n vaste digtershand. In dié jongste bundel is daar ’n opvallende aanwesigheid van veral die tersine en distigon.

Die bundel se programgedig handel oor die Groothoofman Sittende Bul, oftewel Tatanka-Iyotanka (1831-1890), met wie die digter ’n soort eensgesindheid voel. Daar is ’n pragtige afbeelding van hom op die voorblad. Vervreemdeling, wat in sig dra sowel vreemdelingskap as vervreemding, is die slagaar van die ware digkuns, dit wat die Russiese formalis Sklovski as ostranenie tipeer het. Om die klip klipperiger te maak. En hier maak Merwe Scholtz dan ook ’n buiging in ’n gedig.

En hierdie buite-blik op die binneste belewenis van menswees vind sy uitval in voortreflike verse wat geknyptang word deur die portret van die Groothoofman en ’n gedig oor Chicago (“Droom van Chicago”).

In die slotvers word die stad ’n hele buurt, ’n hele lewe. Dis ’n nostalgiese besinning oor ’n stad wat léwe en vra vir ’n saamlees met Saul Bellow se beskrywings van hierdie verruklike stad.

Tog is die stad ’n “manjifieke bouval van ’n droom”, en hiermee vind ons dan die toonaard van vele gedigte in dié bundel, waar die digter beweeg tussen die huidige rampokker-belewenisse in Johannesburg (“Gewapende Roof”), waar die verwysing na Ian Fleming se You Only Live Twice ’n ironiese draaislag kry.

Of daar is die moderne wandelende Jood (“Israeliet”).

Alles getuig van suiwer belewenis: ’n mossie wat in die verkoeler vasgevlieg het, aktiveer die Bybelse verwysing. Met die slot waarin die spreker op ’n aweregse wyse ons bewus maak van sy naderende dood . . .

“Aswoensdag” vra weer vir ’n optel van Eliot se Four Quartets en die wete dat die moderne mens se ervaring van spiritualiteit deur geweld en doodslag bedreig word, treffend verbeeld in noodligte wat “toonlere skril”.

Daar is verwysings, talle, na die “benoude alarm”, na sekerheidsmense, met die digter wat wegvlug na ’n ruimte van “ ’n vreemde wêreld van sterre” (bl. 33).

Nie om dowe neute nie is daar ’n verwysing na Gerard Manley Hopkins (“Glenhove-herfs”) wat vir die leser ’n nuttige sleutel gee vir die vormbewustheid in hierdie bundel.

Die hantering van metaforiek is imponerend: die groot lening (“Versoek”) word ’n metafisiese een en daar is deurgaans ’n bewustheid van ’n ander wandelpad, by wyse van spreke (“Ou Egpaar wat Wandel”).

Hierom die “duisterste dinge” in ’n ars poetica (“Digter”) of ’n eenwording met ’n jakaranda, uitheems/verbode.

Tot sover dan die prediker aan die woord. 

Die guitiger, satiriese eks-koerantman kry eweneens ’n spreekbeurt in “Rapport van Oorgawe” met sy skerp blik op Kemptonpark en sy onderhandelinge, en “Sondagrapport” verskaf ’n vers vir die digter. “Aan die assuransie-ghoeroes” ontluister die leuens van foto’s en voorstellings in gladdeblad-advertensies.

En by die ouer wordende mens is daar vele verse waarin die jeug heroorweeg en beskou word; daar is verse oor kinders en kleinkinders in die vreemde. ’n Andersoortige vreemdelingskap het ingetree: die kleinkinders praat Engels.

Daar is hartgrypende lykdigte waarvan “By die Heengaan van Lorna” ’n besonderse blik op vriendskap en verlies gee: “Op hierdie Hoëveldse dag met wintermis en koue weer / wil ek jou laat lééf en sonder trane oor jou treur” som die besonderse band op.

“Skok van Herkenning” sou inderdaad ’n titel wees in hierdie bundel met sy blik-van-buite, waarin die lykswa die spreker aan sy verganklikheid herinner. ’n Voortreflike vers waarin suggestie die botoon voer. 

Eweneens knap is die verse oor Lady Di.

Dit is ’n ryk geskakeerde bundel waarin vorm en inhoud altyd één is. Daar is slim toespelings op Eliot en verder terug na Coleridge en Wordsworth.

Die digter praat dikwels deur konkrete beelde wat simbole word vir sy eie lot of siening van die lewe. Hy laat sy beelde práát sodat die leser by implikasie die afleiding oor die boodskap moet maak – die uitstaande kenmerk van ’n groot digterskap. 

Dit is die werk van ’n vakman met ’n hárt.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]