Wednesday, November 29, 2023

Rubriek | Taalsake | 2023

Joan Hambidge, November 2023 © Philip de Vos

I

Annemie Stoman & Delana Fourie (Reds) - Senior tweetalige skoolwoordeboek | Senior bilingual school dictionaryISBN: 9781868902149 | R220.00 (Sagteband), 640 bladsye


Hierdie woordeboek word as gesaghebbend, gerekend én betroubaar bemark. Vir leerders van graad 10 -12 met meer as 50 000 trefwoorde, uitdrukkings, frases, idiome en spreekwoorde. 

 

Dit is ‘n alles-in-een naslaanbron vir sowel moedertaalsprekers as leerders wat ‘n Eerste Addisionele Taal aanleer.

 

Homonieme, homofone, sinonieme, antonieme, intensiewe vorme, vaste uitdrukkings, samestellings en afleidings word eweneens betrek.

 

Hierdie boek, onder redaksie van Annemie Stoman & Delana Fourie, had die hulp van bekende leksikograwe en raadgewers soos Wanda Smith en Riëtte Botma, onder andere.

 

Op my dag in die Ou Suid-Afrika in Pretoria het ons Afrikaans, Engels, Duits, Latyn en Noord-Sotho as verpligte vakke gehad in standerd ses. By sommige skole was dit Frans of Duits. En jy moes lyste met idiome leer. En grammatika kén. Elke dosent en onderwyser sal getuig van die taalkundige verwaarlosing wat ons tans beleef in hoër onderwys en aan universiteite.

 

Ek is ‘n woordeboek- en grammatikaboek-leser. In my tas is daar altyd ‘n Franse of Italiaanse grammatikaboek wat ek plunder vir nuwe woorde of my uitbring by ander maniere van skryf. Louis Eksteen se Sinoniem-woordeboek is ‘n Bybel. Net soos die taalbaken, nee eintlik ‘n plegankerSpreekwoorde en ander segswyses saamgestel deur wyle Anton F. Prinsloo, Leon de Stadler en Amanda de Stadler in ‘n heruitgawe in 2022 ook deur Pharos.

 

Die belangrikste bydrae van die Senior tweetalige skoolwoordeboek  is dat dit tred hou met die tyd: anoreksie, koronavirus, blitskursus, soekenjin, GPS, onder meer. Maar boendoe vind ons ook hier as ‘n Nguni-woord. (Boendoetrapper as bundu basher).

 

Die gebruiksriglyne is vol in die kol. Die leser kan woordfamilies bepaal en daar is verwysings na woordsoorte, styl- en taalkundige etikette. Die geografie is hier soos vaketikette. Nodeloos om te sê, sal elke onderwyser en leerder, iets wys kan word (174).

 

Bouquet, boutique, chauffeur is weer geskaai uit die Frans en bredie is eg-Suid-Afrikaans. Nes stoep en veld. Chickpea is in Afrikaans kekerertjie. Raai waar kom cheetah vandaan. Chess het geen meervoud in Engels nie, maar chessboards wel. Gekoloniseer is hier, soos gekodeer. Afrikaans as ‘n mengeltaal met invloede word hier duidelik gemaak.

 

Daar is eweneens styletikette, wat tersaaklik is vir enige jong leerder. Eufemismes teenoor letterlike uitinge wat veral vir die onderwyser wat gedigte moet behandel van uiterse belang sal wees. Soos akwifer vir waterklip.

 

Hierdie resensent is geen leksikograaf nie, maar alle digters van toe tot nou kan nie sonder hierdie uitsonderlike woordeboekmakers bestaan nie. Vanaf Van der Merwe tot Rufus Gouws of Francois Odendal, Jana Luther of die De Stadlers en almal wat wonder oor vas of los skryf: kry onverwyld hierdie woordeboek. Onthou: digters is andersoortige woordeboekmakers. Gaan kyk maar na Boerneef. Of Ernst Kotzé se Japanese woordeboek. 

 

 

II

 

Haar siekte

 

Willem Botha verwys na die sogenaamde “haar siekte” in Afrikaans.

 

Is Afrikaans nou uitgelewer aan die nuwe mode om na iemand wat transgender is te verwys as they / julle?

 

En al om die hawerklap die haar eerder as die manlike vorm te gebruik. Soos Botha, woordeboekman, tereg uitwys 17 November (Die Burger: Word Afrikaans en Engels (weer) een taal?”):

Indien die gebruik van haar ‘n poging is tot genderbewuste of gendersensitiewe taalgebruik, word niks bereik nie. Die manlike vorm word bloot vervang met die vroulike vorm: manlike dominansie word vervang met vroulike dominansie.

As genderteoretikus is dit vir die uwe uiters problematies, veral wanneer ‘n mens byvoorbeeld klassieke Franse tekste lees. Roland Barthes se analise van Balzac se verhaal Sarrasine (opgeneem in S/Z, 1970) wentel juis om die hele kwessie van manlik versus vroulik. Sarrasine raak verlief op Zambinella, ‘n kastrato. Barthes lees hierdie teks vanuit ‘n genderperspektief en hoe aannames (skoonheid is vroulik) bestaan in die klassieke mitologie. A.S. Byatt is onlangs oorlede en, veral in haar kortverhale, The Matisse Stories (1993) en The Djinn in the Nightingale’s Eye (1994) aktiveer sy hierdie opposisies.

 

Gestel skrywers begin alles “te haar en te sy”; hoe gaan ons byvoorbeeld liefdesverhale lees? Of Marita van der Vyver? Wat gaan Piet Haasbroek doen?

 

Selfs in gay-tekste (sowel manlik as vroulik) word die opposisies tog erken.

 

Taal werk met opposisies of binariteite. En selfs al verander jy jou biologiese gender, erken jy steeds dat manlik/vroulik bestaan.

 

Praat gerus so tussen vriende, maar wanneer jy skryf, moet taalreëls gehoorsaam word. Dis soos padtekens. ‘n Rooi robot beteken iets anders as ‘n groen een.

 

Natuurlik transformeer tale, maar wanneer slordighede of streektale gelyke status geniet as die norm, raak dit erg problematies. Die norm is daar sodat ons mekaar kan begryp. Streektale is belangrik ja, maar wanneer resensies in dagblaaie verskyn in ‘n streektaal sluit dit uit. Nie in nie.

 

 

III

 

As ‘n mens die psige van ‘n woordeboekmaker moet bepaal, is dit waarskynlik ‘n persoon wat hou van orde. 

 

‘n Pen deur iemand se hart dryf, aldus die oranje Spreekwoorde en ander segswyses gaan letterlik terug na die tyd toe ‘n houtpen deur die neus van ‘n vark gesteek is sodat dit nie kon loskom nie.

 

Nou beteken dit om iemand seer te maak.

 

Woorde kan ons veral seer maak. 

 

Aucamp het ook aforismes saamgestel soos in Pluk die dag: aforismes en ander puntighede (1994).

 

Hy het o.a. altyd gepraat van vernugtering eerder as ontnugtering.

 

Twee onthou-spreuke uit Pluk die dag:

 

"Kies jou vyande met groot oorleg. ’n Toegewyde vyand is ’n groot inspirasiebron." 


"Die bose kom selde toevallig oor ons pad. Ons nooi hom meestal uit." 

 

Nou ja, alvorens ons taai in die bek raak (hardkoppig of dwarstrekkerig wees), mag ons al die taalindoenas salueer. 

 

Daar is min skrywers wat Afrikaans sé kon beheer as Hennie Aucamp, veelkantige skrywer: kortverhaalskrywer, digter, briefskrywer, dagboekhouer, kortverhaal-mentor (Die blote storie), kabaretkenner, kunskenner, aforis, reisboekskrywer, streekskrywer, essayis, kenner van Boesmankuns en versamelaar van “verskuilde en verbygegane gay-tekste” (die sogenaamde Tussengebied).


[Tussengebied/ 'n Persoonlike keuse uit verskuilde en verbygegane gay-tekste (Deel 1) - LitNet Besoek 29 November 2023]

 

 

© Joan Hambidge

Monday, November 6, 2023

Resensie | Michel Houellebecq – vernietig (uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw) | Naledi, 2023

Michel Houellebecq – vernietig (uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw). Naledi, 2023. ISBN 978-1-991256-40-9

 

Resensent: Joan Hambidge


I

anéantir (oftewel: vernietig) van Michel Houellebecq is deur die skrywer-filosoof Johann Rossouw in Afrikaans vertaal. Die titel is in kleinletters, soos Houellebecq dit wou hê, en hierdie roman van by die 500 bladsye, is ‘n belangrike baken binne die letterkunde. Hier te lande en buitelands.

 

Die Franse outeur is bekend as dwars, aweregs, buite die sentrum – soos sy gedigte ook bewys – en hy neem vreeslose standpunte in. Sy gedigte is in Afrikaans vertaal deur H.J. Pieterse en Catherine du Toit.

 

Hy was in die middelpunt van ‘n kontroversie tydens die destydse aanvalle op Charlie Hebdo en met die publikasie van Submission (2015) was daar hewige reaksie oor sy kritiek op die Islam. Hy moes selfs beskerm word. Nes by Salman Rushdie word heilige koeie vreesloos afgeslag.

 

Tog is hierdie voorstander van vryheid van spraak, selfs benoem en gekortlys in hierdie jaar se ronde vir die Nobelprys. Met Salman Rushdie ook daar. Is hierdie skrywers blote provocateurs of is hulle visionêres?

 

II

vernietig is ‘n vreemde, dog pakkende roman met politieke kommentaar op die Franse sisteem, tans gekenmerk deur opstande. Dit speel af in 2026 en 2027 met ‘n presidentsverkiesing. Macron luier hier; nes Marine Le Pen en Ėric Zemmour. Daar is selfs ‘n afdruk van die guillotine.

 

Paul Raison is die hoofkarakter en raadgewer vir die Minister van Finansies, ene Bruno Juge. Paul kan ook dokumente onderstebo lees; aanleg handig te pas gekom tydens eksamens.

 

Dit is ‘n tydperk van kuberaanvalle en Houellebecq wat in hierdie bedryf werksaam was, is hier op sy stukke. Vreemde tipe thriller met die seun wat geheime dokumente moet kry by die vader wat in ‘n vegatiewe staat is. The Matrix, die beroemde scifi-film van die Wachowskis 1999, is ‘n belangrike kode. Net soos die afdrukke en sketse in die roman.

 

Siekte, beroerte en die versorging van die vader, verbintenisse tussen famlielede wat vervreem geraak het, word ondersoek. Die susters Cécile (Katoliek), Aurélien (‘n kunstenaar) en Paul wat fisiese en geestelike ellendes beleef, sorg vir die menslike dimensie van hierdie roman. Hy het tongkanker en die impak hiervan op sy liggaam word uitstekend beskryf. Uiteraard is dit simbolies, net soos die naam van die hoofkarakter, Paul Raison. Hy ontduik die werklikheid dikwels in fantasieë; ook om te ontdek dat kuberoorloëwerklik kan raak. Soos die dood van ‘n moeder en broer.

 

Die hoofkarakter lees Sherlock Holmes en Agatha Christie in sy stryd teen die dood. Met dwarsklappe na krimi’s. Die Markies de Sade en Apollinaire is eweneens belangrike intertekste met seksbeskrywings wat die kop laat duisel met Prudence.

 

Die verdoesel van lyding in begrafnisseremonies word gekritiseer en die roman kyk na die impak (en afwagting van die dood) via die Dalai Lamai en vele Oosterse gelowe. Kübler-Ross is hier en David Servan-Schreiber se sielkundige raad vir kankerlyers. Met ‘n verwysing na Charlie Hebdo en die operasie op Philippe Lançon (die skrywer van Le Lambeause operasie op sy kaak.

 

‘n Soeke na raad om te oorleef en selfs Pascal help hom deur sy beproewinge.

 

Die duiwel en numerologie, ‘n ondersoek na manlike toksika is verdere kwessies wat aangespreek word. Tapirs en Hines. 

 

Daar is eweneens verwysings na kos en hoe riviere in Europa verskillende “persoonlikhede” het. En kritiek op inhoudlose en belaglike televisieprogramme. Daar is eweneens kritiek op die gesin en hoe kinders ouers wil vernietig (422). Freud en Ernst Hemingway word gekritiseer. ‘n Raaiskoot dat hierdie ‘n antwoord wil wees op Balzac se Menslike komedie?

 

Só sluit die roman op bladsy 478:

“Ten diepste behoort Franse skrywers nie te huiwer om hulleself beter in te lig nie; baie mense is lief vir hul beroep en put vreugde daaruit om dit aan leke te verduidelik. Dis blote geluk dat ek afsluit op ’n positiewe noot; dit is tyd dat ek nou afsluit.”

 

En die titel verwys na oomblikke wat gebeur (of nie gebeur nie) en mense se lewens as gevolg hiervan verander en soms vernietig word (456).

 

III

In die nawoord bely Johann Rossouw dat hy in ‘n “’n vlaag van besieling” besluit het om weerstand te bied teen die vervlakking van aktualiteitsprogramme by radiosondergrense.

 

En sy vertaling van hierdie belangrike skrywer is uitstekend. Rossouw se roman Sluitstuk (Penguin/Random House) oor die verbintenis met Karel Schoeman, verbeel en werklik, is eweneens een van die beste tekste van die jaar. ‘n Boek oor mentorskap en ‘n pynlike soeke na ‘n simboliese vaderfiguur.

 

Nou het hy Houellebecq se roman vir ons huis toe gebring in heerlike Afrikaans volgens Lawrence Venuti se studie oor vertalings.

 

Is mandjiespeler die regte woord vir daardie Amerikaanse spel? (404) Charcuterie word wel in Frans behou (51) en gespat (vir dronk) pas volkome hier in. Dalk is snoepgoedoutomaat, soos jong lat, bietjie outyds?

 

Andersins vloei die prosa goed in hierdie aserbiese, maar soms ontroerende roman. Hopelik is dit nie Houellebecq se laaste werk nie. Dit is ‘n roman wat jy eenvoudig nie kan neersit nie. Dit ontglip genre-definisies: parodie van ‘n John le Carré met ‘n skeut metafisika?

 

Joan Hambidge is ‘n Fellow en ‘n Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad. Haar roman Stasies het sopas by Protea verskyn.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)