Showing posts with label Onderhoud. Show all posts
Showing posts with label Onderhoud. Show all posts

Friday, August 18, 2023

Onderhoud | Dominique Botha gesels met Joan Hambidge | Dwarsrivier, 2021

Dominique Botha is die wenner van die 2023 Ingrid Jonkerprys vir haar debuutbundel Donkerberg (2021, Dwarsrivier).

 

Hieronder die onderhoud wat Joan Hambidge op 28 Augustus 2021 met die digter gevoer het oor Donkerberg.

 

Joan Hambidge gesels met Dominique Botha oor Donkerberg / Bloodwood

 

Die retoer van die verlede

is nooit op die brosjures uitgewys nie

 

1. Hoe het dit gekom dat jy in ‘n bundel sowel in Afrikaans as Engels publiseer onder die titels Donkerberg / Bloodwood uitgegee deur Anton Kannemeyer? Het dit iets te make met jou bestaan as hibried: Afrikaanse, Vrystaatse kind wat skoolgaan in Engels? Vertel ons iets van hierdie verskuiwing.

 

Die wêreld waarin ek grootgeword het was meer wit en swart, meer óf Afrikaans óf Engels as vandag. My ouers wou ons graag ‘n breër ervaring van die wêreld bied en ‘n wegkomkans uit die eng politieke siening van Christelike Nasionale Onderwys. Na laerskooljare in ‘n Afrikaanse staatskool op die Vrystaatse platteland is ek na ‘n Engelse privaatskool vir meisies in Natal.

 

Ek was die enigste Afrikaner in die skool. You are not like other Afrikaners….more like us….haha, die Engelse meerderwaardigheid is kostelik. Interessant hoe ‘n nuwe taal jou mond kan moeg maak. Jy gebruik jou tong op ‘n verskillende maniere na gelang van die klanke van die taal.  Dit is natuurlik ‘n belangrike fisiologiese tyd vir taalverwerwing, as jong tiener is jy in ‘n oorgangsfase waar jou vlotheid van spraak vasgelê word en die veerkragtigheid van jou aanleervermoë taan. Ek het myself dus tussen tale bevind, en hulle is jaloers op mekaar. Taalsloping is ‘n dinamiese en konstante gegewe omdat die tale baklei vir heerskappy. Die een wil die ander een van kant maak, of omvorm. Om beide tale gelukkig te hou moet jy vir albei blomme aandra.

 

Ek het my roman Valsrivier in Engels geskryf, maar die slot het uitgeloop in ‘n treurvers roudig wat spontaan in Afrikaans ontstaan het. Ek vermoed poësie word neergelê lank voor jy nog jou eerste woorde uiter. Die klanke, geure en kleure van jou grootwordjare is die gietvorm van die verbeelding.

 

‘n Poolse skrywer het gesê: “Om jou moedertaal te verlaat is om haar nog inniger lief te hê.” Ek was bekoor deur die herontdekking.

 

2. Jou buiteblaaie – uitstaande mooi! – aktiveer Pierneef. Wat is die betekenis hiervan? Pierneef vir my is die skilder van stilte …

 

En vir my is Pierneef die digter van landskap, van hierdie landskap wat ek nog meer en inniger lief het soos ek ouer word. In ‘n onderhoud het die skrywer John Berger hierdie fenomeen so verwoord:

 

We talk about about how it is possible to love a landscape like a familiar face. For Berger, that face is the Haute-Savoie. “This landscape was part of my energy, my body, my satisfaction and discomfort. I loved it not because it was a view – but because I participated in it.”

 

Die leuse ‘Dig where you stand’ as rigsnoer vir skryf en lewe anker jou in ‘n plek en ‘n tydvak. Weens die dubbeldooromslag moes ek twee buiteblaaie kies. Ek het in ‘n kamer ingestap en heel terloops die twee Pierneef kunswerke langs mekaar gesien. Daar word gesê “When the student is ready the master will appear”. In hierdie geval het die buiteblaaie hulself onthul toe die bundel gereed was.

 

Donkerberg weergee ‘n vroeë landskapvan Pierneef, olie op bord, terwyl die Engelse omslag Bloodwood in teleskopeer op ‘n pasteltekening van ‘n treurwilg langs ‘n rivier, so tekenend van die Vrystaatse platteland.

 

Die Afrikaanse titel Donkerberg word ontleen uit die gedig voorbode. Daar is in werklikheid ‘n donker berg agter my huis. Die titel is dus gesetel in die konkrete, maar metafories ontplooi in die gedig en dan visueel vergestalt in die skildery. En in die donker donker huis is ‘n donker donker kamer… Die titel, buiteblad en inhoud kan gesien word as ‘n skilpop met lae van betekenis. Op ‘n soortgelyke manier dien die treurwilg as leimotief vir die elegiese verse.

 

Onder leiding van Anton Kannemeyer en Sean Robertson is die verskeie lae van vormgewing bymekaar gebring in ‘n esteties bevredigende objek – indien dit nie te aanmatigend klink om saam te stem dat die buiteblaaie uitstaande mooi is nie, maar darem nie deur my toedoen nie.

 

3. Hoe verskil die skryfproses van die digkuns met die skryf van ‘n roman?

 

Die roman moet aan sekere verwagtinge van die leser voldoen. ‘n Roman moet ‘n begin, middel en einde hê, natuurlik nie noodwendig in daardie volgorde nie. Stories spruit uit gedeelde ervarings in ‘n soeke na sin, en moet ‘n aantal gegewens ontplooi wat reeds gedeelde begrippe is. In prosa het jy ook die kadens van narratiewe beskrywing en dialoog. Laasgenoemde versnel die intenstiteit van die vertelling, terwyl beskrywing dit verlangsaam. Die onderbou van die roman hoef nie waar te wees nie maar wel geloofwaardig, ongeag die konteks, of dit nou in die buitenste ruimte of in ‘n hallusinasie afspeel.

 

Poësie werk met vervreemding. Dit raak aan die onnoembare, die misterie wat buite die omvang van woorde vibreer. Elke woord in ‘n gedig moet juis wees. En elke woord dra ‘n lading van assosiasies en veelstemmigheid. Dit is wat gedigte so dig maak, en so uitdagend om te vertaal.

 

Die groot verskil in die skryfproses tussen gedigte en prosa is sekerlik die lengte. ‘n Roman het karakters, dinge gebeur, maar gedigte kan ook karakters en ‘n storielyn hê, beide maak gebruik van die musikaliteit van woorde. ‘Iets’ moet gebeur in ‘n roman, ’niks’ kan net in ‘n  gedig gebeur, en jy moet ‘n uitstekende digter wees om ‘die niet’ treffend en betekenisvol te weergee.

 

Die bekende kortverhaal “For sale. Baby shoes. Never worn.” word toegedig aan Hemingway. Dis ‘n gedig, ‘n kortstorie en ‘n roman. Enige stuk skryfwerk is onvoldoende ingekleur. Mens moet nooit vergeet dat die leser die skrywer voltooi nie.

  

4. Vertel iets van die elegiese gedigte. By jou is dit treurverse – wat die Engelse voorblad so aangrypend vergestalt.

 

Ek veronderstel dat die aanvangsreël die heersende toonaard van die bundel bepaal.  Ek reis met die witduif van my oë terug na die mooiweer en warm koninkryk. Met die intrapslag dus ‘n elegiese reis, die mooiweer en warm koninkryk ‘n verwysing na die verlore jeug, die witduif van die oë wat vredig terugkyk.

 

Daar is treurgesange oor die dood van familie, van ‘n vermoorde buurvrou,’n lyksang vir  ‘n jong meisie in die fleur van haar jeug.  Klaagliedere oor die gevreesde vooruitsig van die dood van die ouers. Die verlies aan ‘n droom vir ‘n beter toekoms vir almal. En uiteindelik die dood van die broer wat herbesoek word baie jare later in die afdeling van ‘die kind wat geen perke geken het nie’. Hier weereens, word die skrywe gerig aan die oorlede persoon,  soos die slot gedig uit Valsrivier wat ook in die bundel opgeneem is.

 

Jy is nou ‘n rooigrasvlakte

In die sterfland

Waar laatmiddae aan jou wei

 

5. Ou Boerewoorde kom in jou gedigte voor – wat is die betekenis hiervan: hartjiesgras, douwurmskroefbors, nooienshaar...

Dis amper asof jy hierdie woorde in ‘n museum wil bewaar?

 

Dis eerder ‘steel’ uit die museum as ‘n impuls tot bewaring. Baie ou boerewoorde bestaan nog as kontreitaal, ‘n skatkis van woorde wat veral opgesluit lê in sekere ambagte en maniere van doen.

 

Hartjiesgras is byvoorbeeld die Afrikaanse naam vir eragrostis capensis wat algemeen voorkom op die hoëveld. As kinders het ons deur die veld geloop en die saadhuisies oftewel hartjies met die hand gestroop.

 

Ek dink kinders is baie ingestel op die ligaamlike. Omlope, veldsere, koorsblare, luise, skurwe elmboë, al die gruwels waarmee oor en weer geterg is. Douwurm is ‘n omloop, of roosagtige kruipseer op die vel soos beskryf in die woordeboek.

 

FA Venter se Kambro-kind is een van my gunsteling boeke. Ek het daar gelees van iemand wat sterf weens skroefbors. ‘n Baie treffende beskrywing van ‘n doodsangs of roggel of beklemming, al is die eintlike betekenis duister en nie elders te vinde nie.

 

En laastens verwys nooienshaar na ‘n endemiese plant wat in die Kaap voorkom en soos ‘n wilde bos hare verstrengeld oor ander plante groei.

 

6. “Voorbode” vertel iets van die verhouding met die vaderfiguur. Hoe sien jy die ouers wat telkens in jou gedigte na vore kom. Of is hulle blote argetipes?

 

’n Ouer vriendin het my vertel dat mens ‘n blywende behoefte het om nader aan jou ouers te kom, selfs baie jare na hul dood, en tegelykertyd so ver moontlik te probeer wegkom.

 

Ouers is tog die oorspronklike mitologiese figure met voete van klei, en wanneer jy self later ‘n ouer word begin jy klei trap met al jou eie onopgeloste verwyte en selfverontskuldigings. Jy is nie net in gesprek met jouself en jou ouers nie, maar ook met die generasies wat voorafgegaan het. Of is jy eintlik maar net in gesprek met jouself en die projeksie van jou skadu op ander?

 

Ek skryf baie oor die Pa, my pa. Ek sou hom nie as ‘n muse beskryf nie, maar eerder as ‘n karakter. Ek misbruik hom gereeld as ‘n stylfiguur. Die spesifieke kort gedig “Voorbode”  is eintlik ‘n vooruitskaduing van die vader se naderede dood.

 

my pa word al hoe kleiner

wanneer hy uitstap om my die maanlig

 op die werf te wys

 

soos ’n grys ster bo donkerberg

krimp hy tot
’n tuindwerg ongeverf
tussen die kannas op die werf

 

My oorlede broer het ‘n tuindwerg gesteel iewers op ‘n reis na nêrens, en dit vir my ma terug gebring plaas toe as ‘n geskenk. Die verlore seun is met ‘n gemeste kalf van gemengde gevoelens ontvang. Sy was ontroer deur die gebaar, maar ook afkeurend oor sy gedrag.  In my persoonlike diereriem van simbole is die belaglike tuindwerg verbind met ambivalente gevoelens teenoor die broer. In teenstelling met Percy Bysse Shelley se Ozymandias met sy “two vast and trunkless legs of stone” en die inskripsie “Look on me ye mighty and despair” is die tuindwerg ‘n ietwat komieklike gedenksteen, maar met dieselfde gevolgtrekking: Alles gaan tot niet. Alles is hubris.

 

7. Jy skryf soel, ruige verse – wie beïnvloed jou? Watter digters het jy (ge)lees?

jou grafsteen het geswel

soos ‘n brood uit die sooie …

==

metafoor is die plofstof van skrywe

en die lendene die lont

 

Ek lees The Big Five in Afrikaans, asook the little five en baie van die ander.Ted Hughes, Miroslav Holub, The Encyclopedia of World Poetry, Pablo Neruda natuurlik, Gabriel García Márquez se memoir is een lang gedig. Pasolini. Ferenc Juhazh. Afrikaanse name vir blomme en voëls.

 

Ek hou van verse wat ek kan ruik, soos om in ‘n vertrek in te stap vol geurige tuberose (soetemaling?). Elke keer as ek ‘n nuwe boek lees wil ek soos daardie skrywer skryf. Woorde is aansteeklik. Musiek inspireer my, van Bach tot Bob Marley. Ek is egter lui.

 

8. Vertel iets van die politieke gedigte in jou digkuns. Jy laat jou uit oor Afrikaans en die politiek wat tans rondom alles insypel. (Bladsy 61) Daar is ook verwysings na die boereoorlog. Werkers wat aanwesiges / toeskouers is soos in ‘n Griekse tragedie …

Kommentaar.

 

Afrikaans is gemaak deur al die mense wat dit praat en gepraat het. ‘n Taal is ‘n gemeenskaplike sintuig. Dit behoort nie aan die Nasionale Party nie of die verlede nie. Die sogenaamde taaldebat is ‘n verskreeuing. Dit wil voorkom asof ideologie en modder rondgeslinger word eerder as ‘n oop gesprek waarin die kompleksiteite van die kwessie op ‘n genuanseerde wyse benader kan word.  Mense kan of wil mekaar nie hoor of verstaan nie, al praat hulle dieselfde taal.

 

Indien Afrikaans op tersiêre vlak kwyn sal ‘n hele ekosisteem tot niet gaan. Dit is die hoë boom waaronder uitgewers, koerante, literators, radiostasies, skrywers, digters, kunstefeeste, skole en veel meer floreer. Dit dra by tot die ekonomie en dit neem niks weg nie. Meertaligheid is ‘n nasionale bate.

 

My pa se oupa het die Groot Trek meegemaak, hy was ‘n jong seun in die 1850’s.  My pa onthou nog hoe sy oupa vertel het van hoe lekker die trek was. Daar is gejag, uitgespan, musiek gemaak, en om die vuur gesit. Die Boereoorlog is ook nog deel van my generasie se verwysingswêreld. My oumagrootjie was in die kampe en ek het haar geken. Ouma Miemie. Bittereinders en hênsoppers is (meestal goedgesind) in ‘n tergende luim ondermekaar uitgewys. Hierdie vertellings is aangegee deur ‘n mondelingse tradisie wat besig is om uit te sterf. Daar is soveel nuwe dinge om van te vergeet.

 

Ek sou sê die plaaswerkers en ons lewens was heeltemal vervleg alhoewel ons lewenservarings en vooruitsigte so uiteenlopend was. En ons kom deur generasies, gebind tot en deur ‘n stuk aarde en ‘n stuk gedeelde tyd.  Dis mense vir wie ek lief is.

 

9. Hoekom is Eugène Marais so belangrik vir jou?

 

Omdat hy so mooi was? Geweet het hy is van hier? Hy was adel, hy was aards. ‘n Genie en ‘n mislukking. ‘n Prins en ‘n bywoner. ‘n Dwelmslaaf en die vader van sosiobiologie. Hy het Afrikaans staangemaak. Ek is maar een van vele wat geswig het voor sy onweerstaanbare teenstrydighede.

 

10. Jou broer loop reg deur jou digkuns. Is daar heling in die skryfproses? Of is dit ‘n illusie? Jung het uitgewys dat ‘n mens by herhaling terugkeer na iets totdat jy dit ten volle begryp. Gaan jy akkoord?

 

Valsrivier het beslis heling gebring.  Die maak van iets om op te maak vir ‘n leemte – om te skep waar daar afwesigheid is – ek glo dit is die katarsis van skryf– en wanneer die persoonlike omvorm word in iets wat universeel aanklank vind, dan word dit literatuur.

 

My broer is altyd naby. Sedert sy dood het hy geweldig baie vir my beteken. Ek het ‘n ‘siener’ geraadpleeg net na sy dood toe toe ek amper verswelg was deur smart, en sy woorde aan my, so aangegee deur die siener, was: Ek gaan nou baie beter kan omsien na jou as wat ek gedoen het terwyl ek gelewe het.

 

Ek het vasgegryp aan daardie illusie en dit het my deur diep waters gedra.

 

Natuurlik is daar altyd nuwe geleenthede vir verwonding.  Kuns is ‘nimmereindige katarsis’.

 

Nietzsche het mos gesê: We possess art lest we perish of the truth.

 

11. Jy skryf ook reisverse, liefdesgedigte en ‘n selfs ‘n kaalbas-ars poetica. Kommentaar.

 

Om op reis te gaan is om van jouself ontslae te raak, al is dit net tydelik, want ‘jouself’ daag altyd weer op…’n Nuwe omgewing verskerp jou sintuie, jy sien en hoor soos ‘n kind, in verwondering of afgryse. Jy verstaan nie noodwendig die nuwe milieu nie. Om ‘n vreemdeling te wees is ‘n ondervinding verwant aan die vervreemding en vernuwing wat deel is van die skryf en die aard van poësie.

 

Mens reis ook natuurlik na binne, en na die verlede. En die liefde, soos die dood, is ‘n diep bron van inspirasie, waaruit baie slegte en soms goeie gedigte geskep word.  Daar word gesê dat die enigste werklike onderwerp in literatuur die liefde en die dood is. My kaalbas-ars poetica is maar net ‘n speelse variasie op ‘n oeroue tema:

 

metafoor is die plofstof van skrywe

en die lendene die lont

 

En in daardie slotreël lê die uitdaging van vertaling opgesluit, want die sinspeling, geimpliseer deur die versluierde rymwoord, is die sleutel tot die betekenis. (In hierdie geval vlak eerder as diep, kru eerder as verfynd.)

 

12. Gee ‘n gunsteling in Afrikaans en Engels, asb.

 

die kind wat geen perke geken het nie

 

jou broertjies en susters was so hartseer

soos speenkallers in die reën
nat snoete in die ysterdrukgang
van bloerige naelstring tot slagpaal

pa het in sy bakkie gesit en rook

ma het die goedkoopste kis gekies

om die volkies te wys
mens mors nie geld op dooies nie

 

jou kis het woekery weerspreek
sonder die donker viool van jou hart
die polsende klok van jou heroi
̈ese vreugdes

onder verhewe kruissteek van spreeukloue gestil

op ’n katafalk van planke
was jou vel groen soos jong piesangs
wat ons by die kruidenier
van madeira fruits gekoop het
hy’t nooit engels kon leer nie
wat het ons geweet van die leivore
wingerde en kantwerk van sy vaderland?
met ons skurwe hakskene, veldsere en douwurm

het ons gelag vir die porra

 

die ure het saffraan gesprinkel oor
die gebarste appels van jou oe
̈
ons midas van die alledaagse
deur jou gesien het alles mooi geword

die kere toe ma soms gelukkig was
haar stem ’n geskeurde blom van sy
in die kombuis waarheen ons gewals het

met ’n mandje vol eiers en vere en skyt

om meel deur die sif te mors

 

niemand woon meer daar nie

die vlei fluister deur die gange

uile staan wag op niks

 

jou grafsteen het geswel
soos ’n brood uit die sooie
die vryheid waarna jy gesmag het
andries en sandra se oudste mooiste slimste

was ’n skag in leemte gedolwe
en ’n skuiling teen somer

 

ons het boxertwak gerol
om ’n pappery van nagte te blus

en dronk op jou graf gedans

 

’n kooltjie brand nog soms in pa se oog
fyn linte rook uit die sprokkelhout van katarakte

wanneer hy tastend deur rammelende laaie
vir zambuc, veters, kaart en transport,
die god in hom laat huil

 

ons strydros wat stotterend

weerligkettings
roggelend oor die aarde sleep

 

 

 

northern orange free state

paul botha, july 1987

 

come with me
to the bareback veld

 

along numb horizons the wind has

blown for days blown
blackening the trees between

emptying mielie fields geese are

breaking white beating

a laboured flight
into the wind the blue the thin skeletal sing

of distant telephone wires
across chill blue horizons
rest the wind sculpted thighs
neck palms of cloud
encupping a shy christfire
the once icebright sun smoothed
in the subtle wash of the wind
the wind will always draw
the substance from the sky slow flowing

erode the landscape into obscurity numbing

horizons as it combs the sand
across my huddled landscape:

 

come
come with me
to the bareback veld

where the wind will distilling, blow

 

you into me

me into you

 

 


Tuesday, May 23, 2023

Onderhoud | 13 vrae aan Tom Dreyer | 2023

Hartlik geluk met Nou in infrarooi (ISBN: 978 07957 10728 Kwela, 2023) wat my absoluut aanspreek.

1  In 1997 debuteer jy in Nuwe stemme I met netjies afgeronde verse. Hierna verander jy in ‘n prosaskrywer. Ons letterkundige sisteem kan nie eintlik skrywers hanteer wat van een genre beween na ‘n ander nie.

Waarom nou poësie? 

Baie dankie vir die geleentheid om met jou te gesels, Joan. Ek skat ‘n eerste antwoord is dat poësie vir my ‘n terugkeer na ‘n eerste liefde was. Stories was my nog altyd na aan die hart, maar op ‘n sekere vlak was my bekoring in die eerste plek met woorde – hoe hulle lyk, hoe hulle klink, hoe hulle met ander woorde saamspan om ‘n mens te laat voel eerder as verstaan. Ek onthou hoe ek in my kinderdae mooi woorde en frases versamel het. Tydens die skryf van Nou in infrarooi het ek die euforie van my eerste verse herontdek (hopelik sonder die jeugsondes!), en ek het selfs gewonder of my pad deur die prosa nie dalk ‘n ompad was nie. Maar ek skat ‘n beter antwoord is dat die poëtiese impuls my nooit regtig verlaat het nie. Dit het eerder uitdrukking gevind in my prosa. Resensente het nog altyd die filmiese aard van my skryfwerk benadruk, en slegs per geleentheid iets oor my poëtiese bemoeienisse te sê gehad. Maar vir my was 'n roman soos Equatoria net soveel 'n liriese  besinging van die oerwoud as 'n beskrywing van die lotgevalle van die twee avonturiers. Hier was Chris Barnard se Mahala vir my ‘n inspirasie, daardie lieflike roman wat op die snykant tussen prosa en poësie beweeg, en waarin die bos self ‘n hoofkarakter word. Terloops, dit was vir my besonder verblydend dat toe die Britse uitgewery Aflame Books in 2009 twee Afrikaanse boeke gekies het om in vertaling uit te gee, een van hul keuses Mahala en die ander Equatoria was. Dit het gevoel asof iemand gesnap het wat ek probeer doen. 

 

2  Jy skryf romans, rubrieke en kortverhale. Watter genre spreek tot jou?

Soos hierbo genoem was daar van meet af aan ‘n liriese onderstroom in my prosa (ofskoon dit in sekere tekste meer sigbaar is as in ander). My terugkeer na poësie het na ‘n soort tuiskoms gevoel, ‘n herontdekking van wat presies my hart vinniger laat klop. Hierdie proses was reeds tydens die skryf van Kodachrome vir my waarneembaar. Daardie kort tekste het ‘n gebrek aan uitgesponne vertelling en roteer tipies rondom ‘n sentrale flits of gebeurlikheid – en begin daarom mik-mik in ‘n rigting wat vir my na poësie voel. Op meer as een geleentheid, nadat ek een van hierdie flitse voltooi het, het ek Vasti trompop geloop met die mededeling dat skryf lanklaas vir my so lekker geskop het. En tog, having said that, daar wag meer as een halwe roman op my hardeskyf …  Maar dit voel asof my pad daarheen eers deur nog ‘n digbundel of twee sal kronkel. 

 

3  Jy het nogal ‘n indrukwekkende lys op jou kerfstok:

  • 1998 Erdvarkfontein (roman)
  • 2000 Stinkafrikaners (roman)
  • 2006 Equatoria (roman)
  • 2007 Polaroid (kortverhale)
  • 2016 Dorado (roman)
  • 2016 The Long Wave (Engelse roman)
  • 2022 Kodachrome (rubrieke)

Dikwels is jou verhale oor buitenissige figure of outsiders. Kommentaar.

Ek vermoed my voorliefde vir randfigure is grotendeels ‘n produk van hoe ek aanmekaargesit is. Ek kan nie onthou dat ek ooit om strategiese redes ‘n outsider as karakter gekies het nie. Maar op ‘n tegniese vlak maak randfigure wel ‘n perspektief op ons leefwêreld moontlik wat moeilik vanuit die sentrum verkry kan word. In die hart van ‘n woud, sien jy weinig meer as stamme. En ‘n ander beeld meld sigself aan: ‘n fotograaf wat afbuk of oorbuig om ‘n foto uit ‘n ietwat ongewone hoek te neem. Die gevolg van hierdie vreemdmaking is om ons meer stip te laat kyk, en hopelik intenser te laat ervaar. Die gewone lewe met sy roetine en voorspelbaarheid sus ‘n mens aan die slaap. Die alledaagse is uiteindelik helaas alledaags. Eers wanneer jy iets uit die hoek van jou oog vang, sit jy soms regopper en begin aanvoel dat wat jy as ‘n onveranderbare dimensie van die werklikheid beskou het eintlik kontingent mag wees. Die buitenissige, die flambojante, die groteske kan adrenalien in ons are spuit. Ek herinner my dat Ian McEwan eens gepraat het oor hoe moelik dit is om boeiend oor ‘n doodgewone, gelukkige mens te skryf. Sy roman Saturday was inderwaarheid ‘n uitdaging aan homself om presies dit te vermag. En sy poging is geslaagd, maar dit voel vir my na ‘n uitsondering op ‘n reel. En dalk is dit nie heeltemal toevallig dat etlike bisarre gebeure wel hul pad tot in hierdie roman vind nie.

 

4  Jou gedigte besoek verskillende landskappe, hier en elders, maar dis veral die landskap van fantasie wat jy as digter ondersoek. Die droom, die herinnering, die onopgeloste konflik wat in die psige woed en in die gedig uittuimel.

Kommentaar.

In my verse is innerlike en uiterlike landskappe selde volledig van mekaar te onderskei. Daar bestaan ‘n wisselwerking. Geen plek is eenduidig nie; dit dra altyd die herinnering van ander tye op daardie selfde plek, of selfs op gans ander plekke - want ons staan altyd onder die ban van assosiasies – en ons toentertydse gevoelens en gewaarwordings.  Soos water wat van een houer na ‘n ander gegiet word, word die huidige bemiddel deur alles wat dit voorafgegaan het, en die lokale word bemiddel deur wat op verafgeleë plekke gebeur of gebeur het. Ek noem in een van my verse die hede  “’n gesprek wat die werklikheid met sigself voer” en ek skat dat alle tye en plekke in die agtergrond saam-mompel. Hierdie voel na een van die bemoeienisse van my digkuns: om te probeer uitwys hoe ons aandring om ‘n kontinue wêreld in diskrete kategorieë in te deel, terwyl alles inderwaarheid op ‘n spektrum lê, of selfs nouer verwant as op ‘n spektrum - soos ek dit in gedig “die subteks in jou asemhaling” stel: “hiermee probeer ek kortliks verduidelik / dat elke onderdeel die res impliseer.” Minder gebruiklike indelings van die werklikheid is moontlik, en op ‘n sekere vlak, hoop ek, funksioneer my gedigte as prikkels tot hierdie gewaarwording. Alternatiewe taksonomieë, soos Borges se “speenvarke, sirenes, fabelagtiges … [en diere] wat van ver af soos vlieë lyk” voel slegs absurd vir mense met ‘n gebrek aan verbeelding.  

 

5  En die woord uittuimel is tersaaklik, want ons vind Peter Higgs se idee van die boson. Of Juri Gagarin, die eerste ruimtevaarder geplaas teenoor Ferdinand Magellaan, die ontdekkingsreisiger wat oor die Atlantiese Oseaan na die Straat van Magellaan en oor die Stille Oseaan gevaar het.

Waarom hierdie belangstelling in die wetenskappe, fisika, maanreise, ontdekkingsreisigers?

Daar is ten diepste in die filosofie eintlik maar net twee vrae: waarom bestaan daar enigiets eerder as niks? En wat is die aard van dit wat bestaan? Wat die eerste vraag aanbetref staan ons eintlik maar nog in dieselfde wegspringblokke as ons Griekse voorgangers twee millennia gelede. Met die tweede vraag, wat aan die hart van die wetenskap oftewel natural philosophy lê, het ons dramatiese vordering gemaak. Dalk is my verwondering met die wetenskap uiteindelik ‘n soort gedoemde poging om ook sin van die eerste meer metafisiese vraag te probeer maak. Want uiteindelik voel dit vir my asof ons seker kan wees van bitter min dinge, naas ons eie liggaamlikheid en die teenwoordigheid van objekte, en dalk, net dalk kan ‘n analise van hierdie objekte ons nader bring aan ‘n verstaan van wat hierdie dinge – en ons - in die eerste plek hier soek. Ja, ek weet hierdie is ‘n gedoemde versugting, maar ‘n mens kan tog probeer. Partykeer voel dit vir my die doel van die vuurpyle en verkenningstuie wat ons in die ruimte uitstuur, uiteindelik  maar is om meer oor onsself te wete te kom. 

 

6  Met die voorlees van jou gedigte is die klankmatige aspek van jou gedigte opvallend. Ek dink hier aan “middag in sabrosa” (65). Vertel iets van die ontstaansgeskiedenis van die gedig.

“Middag in sabrosa” is weliswaar die gedig waar Ferdinand Magellaan betrek word. Ek en Vasti was op ‘n ietwat lukrake reis deur die noorde van Portugal (want lukraak is die beste manier van reis). Ons het een aand in die dorpie Sabrosa in die Douro-vallei deurgebring, en reeds met die eerste uitkyk deur ons herbergvenstertjie, het ‘n imposante suil voor die oorkantste huis my opgeval, merkbaar uit voeling met die agtergeblewenheid van die res van die dorpie. Ek het uitgestap en op ‘n plaatjie gelees dat Ferdinand Magellaan in 1480 in daardie huis gebore is, Magellaan, wat aan die roer was van die eerste vaart om die aarde. En skielik was dit asof ek deur twee stelle oë na die wêreld kyk, myne en Magellaan s’n, en daardie wêreld was eweneens verdubbel: die terrasse en winderde en vergesigte oor die Douro wat ek met my eie oësien, en die – grotendeels onveranderde - terrasse, wingerde en vergesigte wat Magellaan eens begroet het. Vir die res van daardie dag het ek in ‘n soort waas voortgestu, soos Magellaan oor seestrate, en toe ons die aand by ‘n straatkafeetjie eet  en Vasti ‘n bootjie uit ons restaurantrekening vou, het ek geweet dat hierdie dag ‘n vers wou word.

 

7  Jy het die AVBOB-prys gewen in 2019 vir jou roerende gedig oor Jaco Botha, skrywer en tydgenoot. Hierdie is ‘n lykdig wat die besondere band tussen julle verbeeld.


slaap jy solank, dan hou ek die fort

vir jaco botha (1972– 2016)


beteuterd soos twee pienk kwitansies

pas ontvang vir twaalf kopieë

van ons ma-verhandelings

dwaal ek en jy na die middel-kampus

van uct platane platane en ʼn flitsblik

van die see ek onthou hoe jy daai aand

in ons gehawende flat digby de waal-park

mooitjies ʼn sigaret uit jou kwitansie rol,

sodat jy weer behoorlik kan asemhaal

ek sien jou soms steeds dáár

te hyper om lekker te sit dalk daarom

deurlopend op soek na iets om aan te steek

of dood te druk of ʼn radio om aan te peuter

of failing all else ʼn liggaamsdeel om aan te krap


onthou jy die nag toe ons meer as enigiets

die more wou sien breek oor magersfontein?

met die wegtrek het jy nonstop gepraat

oor die verskille tussen fisante en patryse,

maar skuins ná drie was die maan kil

oor clanwilliam se water die more ver

patryse net so stom soos fisante

ons was koud en moerig

vir onsself maar meestal vir mekaar

 

onthou jy die week toe ons op rys en mayonnaise

oorleef het, of die keer toe ons die agtersitplekke

van my alfa uitgehaal het op soek na kleingeld

vir checkers se goedkoopste sigarette?


ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis

staan en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla

dis gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel

nes daai aand by die kknk toe jou trane soos whisky

op die kroegtoonbank spat, en jy sê: kom ons gaan slaap

eerder, tom, dan is ons ten minste nie meer wakker nie.

ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag

is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys

intussen sal ek nog vir ʼn rukkie dié kant die fort probeer hou

solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank

 Ook in “herbesoek aan hofpark” (56) is hy weer openlik daar. Dit is ‘n sentrale gedig waarin jy refleksies, skadu’s en flitse as metafore gebruik.

Hermeties of hermeneuties? 

Min dinge het my al so hard geslaan soos die dood van my vriend, Jaco Botha. Moontlik vanweë die komplekse aard van ons vriendskap, waarin kameraadskap en gedeelde passies, net so hard gepraat het soos wedywering en ‘n soort deurlopende psigiese struweling. En nou sou daardie onopgeloste dinge vir ewig onopgelos bly. Ná sy dood het LitNet en etlike koerante my gevra om iets oor hom te skryf, maar ek kon nie, en het eers met “slaap jy solank, dan hou ek die fort”, twee jaar later, sy dood en lewe onder woord probeer bring. Ek verstaan dit self maar net ten dele, maar hierdie gedig was ‘n soort sleutel, wat ‘n gesonder verstaan en onthou van ons vriendskap ontsluit het. Jy vra hermeties of hermeneuties, en ek is self nie heeltemal seker nie. Ek weet net dat die refleksies en skaduwees waarvan jy praat, en die flitsbeelde uit my en Jaco se gedeelde geskiedenis, uiteindelik ooreenkomste met die roumateriale van die alchemis vertoon, materiale wat jy kan saamvoeg om tot groter insigte te kom as wat jy uit die oomblikke self sou voorspel. En wat die tweede gedig, “herbesoek aan hofpark” aanbetref, is hermeneutiek dalk die juiste woord. Want hier gaan dit pertinent oor ‘n teks wat gemyn word vir insigte. Die teks is ‘n ongepubliseerde, en in die woorde van ‘n bekende redakteur “magistraal onpubliseerbare” roman, Skuins voor Armageddon, wat ek en Jaco tydens ons studentejare geskryf het, in daardie einste Hofpark, terwyl ons eintlik aan ons onderskeie MA-verhandelings moes werk. In hierdie gedig word aspekte van die roman, wat parallelle vertoon met my en Jaco se situasie toentertyd, en ook met wat uiteindelik van ons sou word, as sleutels ingespan om ons tweespel te probeer verhelder. Maar, hierdie verheldering het sy perke, want die roman is na alles ongepubliseer, en aan die leser onbekend.  Dit funksioneer daarom as ‘n soort private taal tussen my en Jaco,  iets geheimsinnig en verborge, vol simbole en betekenisse wat die leser maar net kan raai. Want sekere lewens en vriendskappe laat hulle nie so maklik vasvat nie. 

 

8  Waarom is Hunter S. Thompson so tersaaklik vir jou? Wat maak jy van Fear and Loathing in Las Vegas?

‘n Mens se voorkeure is nie altyd rasioneel nie. Sekere dinge raak deel van jou innerlike argitektuur vanweëomstandighede wat wyer strek as net die objektiewe meriete van die kunswerk self: waar jy was toe jy dit die eerste keer teëgekom het, saam met wie, en hoe jou lewe toe daar uitgesien het. Een van die dinge wat so in my kop kom nes skrop het, tussen Eet KreefPulp Fiction, Nirvana se Nevermind en Virginia Woolf se To the lighthouse was Hunter S Thompson se seminale artikel, The Kentucky Derby is decadent and depraved. Daarna sou ek die man baie dinge vergewe. En laat ons maar eerlik wees, daar ís baie om te vergewe. Op sy beste werp hy ‘n skreiende lig op die hede op ‘n wyse wat weinig hom kan nadoen. Ander kere laat hy my dink aan die keer toe ek op ‘n trappie in Rome gesit het, teneergedruk omdat die oorryk truffle-toebroodjie wat so wonderbaarlik begin het, so liederlik kon eindig. Ek vind die fliekweergawe van Fear and Loathing in Las Vegas onkykbaar, maar hiervoor kan ‘n mens beswaarlik vir Hunter blameer. Uiteindelik spook hy by my omdat hy by my spook, en sy spore lê oor my verse. 

 

9  Behalwe vir die obsessie met landskappe is daar ook ‘n bemoeienis met taal (en semantiek). Katrina Esau, verskillende name vir voëls (soos in “mond tot mond”, 64). Is dit dalk jou filosofie-agtergrond wat hier inspeel?

Ja, ‘n bemoeienis met taal en semantiek is beslis ‘n kenmerk van die bundel. En ek dink jy is reg, in sekere gedigte speel my agtergrond in taalfilosofie sekerlik ‘n rol. Ek dink hier byvoorbeeld aan ‘n gedig soos “onvoldoende woorde oor johnson, vermont” waar ‘n woord soos “naaldys” waarmee ‘n mens hierdie wêreld probeer vasvat, beskryf word as ‘n “sinekdogee” wat die “stil pad waar lorriedrywers hul pette lig” makeer, en “die haarnaalddraai waar vermont sy hoogste piek aan my onthul”. Hier skemer iets deur van die ontoereikendheid van signifiers wat eindeloos heenwys na mekaar, sonder om regtig by die werklikheid uit te kom. 

Maar ek moet dadelik byvoeg dat hierdie bemoeienis met taal dikwels op ‘n veel meer speelse en emotiewe vlak geskied as op die koue hoogtes waar die filosofie sy ding doen. Ek het byvoorbeeld iewers ‘n lys van 67 Nederlandse sinonieme vir ‘n liewenheersbesie teëgekom en hierdie name was gewoon vir my so wonderlik en ewokatief dat hulle terstond tot ‘n gedig vervloei het.

 

10  Ek lees Boerneef raak in soos onder andere in “spook & diesel” (50). Waarom Boerneef? Die woordeboekman wat kon speel met taal het tans ‘n herlewing by verskillende digters. 

Kommentaar.

Jy is ‘n stip leser, want ja, ek dink Boerneef boer in die agtergrond van etlike verse,  soos “spook & dieself” waarna jy verwys, of “lepelhond”. Laasgenoemde het ek eenkeer by ‘n poësieaand voorgelees, waarna ‘n mede-digter gebrom het: “dit klink asof jy Boerneef channel”. Ek vermoed hy het dit neerhalend bedoel, maar vir my was dit ‘n kompliment, want ek het ‘n groot liefde vir Boerneef. Die uitbundigheid van volksname bruis deur sy verse, die ontembaarheid van liewenheersbesies wat nooit volledig benoem kan word nie. 

 

11 Jy skryf roerende, komplekse liefdesgedigte soos byvoorbeeld “die subteks in jou asemhaling” (34). Hoe sien jy ‘n liefdesgedig? Soos Watermeyer?

Die liefde is die bitter glas,

die droë glas, die donker glas;

die liefde is die naverdriet

wat in die hart se holte pas.

Of is dit net ‘n gedig soos enige ander gedig nie noodwendig tot ‘n Ander gerig nie?

Ek het nie regtig ‘n oorkoepelende teorie oor liefdesgedigte nie – eintlik nie oor enige gedigte nie, maar veral nie oor liefdesgedigte nie. Met ‘n liefdesgedig, voel dit vir my, is jy bitter naby aan jou skade. Die intensiteit van ‘n mens se gevoelens waarborg allermins die kwaliteit van jou skrywe. Trouens, by die lees van liefdesgedigte voel dit dikwels vir my asof die teenoorgestelde eerder die geval is. Die liefdesversskrywer loop altyd die gevaar om in ekkerigheid te verval,  in onserigheid, of soetsappigheid, of kitsch gepynigdheid. ‘n Geslaagde liefdesvers vra behendige voetwerk; jy maak jouself weerloos en kan maar net hoop dat wat jy al oor die liefde, die lewe en die poësie kon wysraak, jou oor hierdie dun bruggie sal dra. Van die jy’s in my liefdesverse is generies, soos ook in my ander gedigte, maar die bundel is aan my vrou, Vasti, opgedra en etlike van die liefdesgedigte is spesifiek aan haar gerig. 

 

12  Nick Cave is hier. Hy verwys na Wallace Stevens in een van sy songs. "And the waves, the waves were soldiers moving" in "We Call Upon the Author". Uit Stevens se "Dry Loaf". Hoe voel jy oor Stevens?

Vir Nick Cave het ek ‘n sagte plek. En van Wallace Stevens hou ek, al vind ek hom dikwels haas onverstaanbaar.  Of dalk is dit juis waarvan ek hou. “Thirteen ways of looking at a blackbird” tel onder my gunsteling gedigtitels. En enigiemand wat ‘n formeel problematiese reël soos “The bird's fire-fangled feathers dangle down” kan laat werk, verdien my respek.

 

13  Hoe maak jy ‘n lewe? Het dit ‘n invloed op jou skryfwerk?

Ek is ‘n rekenaarprogrammeerder en die direkteur van ‘n IT-maatskappy. Ek skryf simulasie-sagteware, hoofsaaklik vir Amerikaanse en Duitse ingenieursmaatskappye. Wanneer skryfwerk vir my te veel word, bied programmering ‘n ontvlugting. En wanneer programmering my onderkry, is skryf soos ‘n waterryke halte langs die pad.

 

© Joan Hambidge

Tuesday, February 7, 2023

Onderhoud | Joan Hambidge - ‘Ek dig nie meer uit die vuis nie’ | 2023

Skryfproses word vir haar soeke na tegniek

 

Die digter Joan Hambidge se jongste bundel Sanctum is midde-in die ontwrigting van die pandemie geskryf. Sy dig oor verliese en verlorenheid en onder meer die verwoestende brand by die Universiteit van Kaapstad waar sy gedoseer het. Sy het per e-pos met Laetitia Pople gesels.

 

Op die voorplat van die digter Joan Hambidge se jongste digbundel, Sanctum, is ’n tekening van haar oop hand met die woorde “’n gedig word voltrek in stille toeval” in haar hand geskryf.


Die kunstenaar Henk Serfontein het die kunswerk geskep in houtskool en gemengde media vir sy Handskrif-reeks waar hy portrette van vrouedigters saam met hul hande, waarop ’n versreël aangebring is, uitgestal het. Dit en die meegaande reël ontleen aan haar gedig “Die intieme aard van digkuns” uit die bundel Lot se vrou trek die leser in dié digter se jongste bundel in.

 

Die bundel, Hambidge se 26ste, is geskep midde-in die inperkingstyd in Suid-Afrika, ’n tydperk van die grootste ontwrigting en verliese in die moderne tyd tot nog toe.

 

Die resensent Nini Bennett beskryf die bundel in haar resensie in Rapport “as die oopskryf van verlies en die heiligmaking van die gebroke menslike toestand”.

 

In die openingsgedig “Sanctum” dig Hambidge:

 

“My moeder, die tuinier-met-groen-vingers

en my vader, die man-van-versekering, leer my

jou huis is tydelik, temporeel, behalwe vir daardie

Huis van die Vader, buite tyd of verdriet.”

 

Hambidge neem in Sanctum afskeid van vriende – ou bekendes soos die uitgewer Danie van Niekerk, die digters Johan van Wyk en Thomas Deacon asook emeritus aartsbiskop Desmond Tutu. Tog sit sy ook die gesprek met tydgenote soos haar mededigters Johann Lodewyk Marais en Johann de Lange voort.

 

“My lykgedigte is ’n portretvers vir my. Jy kan dikwels iemand eers volledig raaksien ná sy of haar vertrek. Dis ’n soort afskeid, maar ook ’n poging om iets van die digter te probeer bewaar.


“Danie van Niekerk was ’n vriend en uitgewer. Belese, briljant en met ’n taalkennis wat by my bewondering afgedwing het. Sy eggenote, Anneke, en hy is egte, regte boereadel. En ons liefde vir reis het die vriendskap gesmee.

 

“My durende gesprek met tydgenote – soos De Lange en Johann Lodewyk – is tersaaklik. Ons het presies op dieselfde tyd begin dig en my waardering vir hul werk is oorbekend.”

 

Sanctum is die slot van ’n drieluik-digbundels en volg op Hambidge se Konfessies, kaarte en konterfeitsels en Nomadiese sterre. Die drie bundels is in gesprek met mekaar, sê sy. “Rondom die dood van my moeder, die semantikus en letterkundige Henning Snyman se dood en ’n soort herkanonisering van die Afrikaanse digkuns. Daarom die gesprekke met ander digters. Soos my erkenning aan Van Wyk Louw.” Sy woorde uit Tristia “Die groot Tempel, die aktiewe woord” is die openingsmotto van Sanctum.

 

As ’n verkennende mens wat graag reis, reeds wyd gereis het en graag ander horisonne vind, is haar beplande sabbatsverlof en verblyftyd in Rusland deur die virus in die wiele gery.

 

“Wel, ek was op pad Rusland toe tydens my sabbatsverlof met die eerste ‘opsluiting’. Ek wou onder meer die digter Anna Akhmatova se huis gaan besoek en beleef hoe Rusland sedert my eerste besoek in 1991 verander het.

 

“Ek het toe maar al die reisboeke en -joernale weer besoek. En in die kelders van onthou afgegaan. Van die reise na buite (die laaste een was na Tunisië en voor dit Suid-Amerika) het ek nou via die digkuns herbesoek.”

 

Die digkuns werk met die spanning tussen die intieme en die openbare, sê Hambidge. Sy het juis op die onlangse Slow Intimacy-kongres by Stias in Stellenbosch oor “The Intimate Art of Writing Poetry”, met die digter Ottone M. Riccio se gelyknamige handleiding vir jong digters as wegwyser, gepraat.

 

Haar bundel, sê sy, werk met hande – spookbeelde van die uitbeelding van haar hand op die voorplat eggo tussen die afdelings van die bundel.

 

“Diego Maradona en die hand van God; die lewenslyne op ’n hand. Ek het op Harvard Square tydens ’n navorsingsbesoek so ’n handleiding gekoop – oor palms en betekenisse van hande. In die Bybel staan ook opgeteken: ‘Die hand wat gee; die hand wat slaan.’”

 

“Nou is die skryfproses al hoe meer die soeke na tegniek. Ek dig nie meer uit die vuis nie.”

Sy haal aan uit die gedig “Huitain” (die huitain is ’n vers bestaande uit agt reëls).

 

Huitain

 

Ek ruik vanoggend weer harpuis –

jou goedgemikte uitklophou

toe ek papier tref ná jou vuis;

met twee dekades se onthou.

 

Jy’t my in die hoek neergesit;

Liefdesmart word toe skryfgevit:

lees jý by nabaat met berou?

Digters dig nie meer uit die vuis.


Haar werk sluit sterk aan by die Amerikaanse digkuns en in die besonder vind sy aanklank by Wallace Stevens. Sy verduidelik die trekpleister tot die Amerikaners so: “My eerste digbundel Hartskrif het ontstaan in ’n ysige koue in New Haven, Connecticut, toe ek navorsing gedoen het. Ek het seminare bygewoon van Geoffrey H. Hartman, Harold Bloom en Barbara Johnson, en so ’n ander blik op die digkuns gekry. Bloom se werk oor Freud is eweneens boeiend. Wallace Stevens het ek danksy D.J. Opperman ontdek. Hartman was uiters toeganklik en besonder boeiend oor die digter Emily Dickinson. Stevens het my getref met die woorde: ‘Poetry is a violence from within that protects us from a violence from without. It is the imagination pressing back against the pressure of reality.’


“My teoretiese navorsing voed my digterlike werk, en andersom. En klasgee soos die begeleiding van jong digters is eweneens ’n voedende praktyk.”

 

Sy lees daagliks die digkuns van Van Wyk Louw, Opperman wat sy hier noem Dirk-der-Duisende en Elisabeth Eybers. Sy beskryf hulle almal as uitsonderlike digters. “Ek lees hulle vir stylbeheersing en stylveranderinge.”

 

Haar Afrikaanse vertaling van die Amerikaanse digter Sylvia Plath se gedig “Oggendlied” is in die bundel opgeneem.

 

“Plath het my as jong kind bekoor. Haar tegniek, haar taalgebruik – en soos Eybers beweeg sy in ’n soort tussenruimte en ’n ruimte van isolasie.

 

“Die digkuns is soos sang: Daar is baie meer tegniek en beheer as wat die oog of oor besef. Hoe makliker dit lyk of klink, hoe meer werk is ingesit. En die genoemde groot digters het daar-

in presteer.”

 

In Sanctum dig sy oor die 17de eeuse Spaanse skilder Diego Velázquez se skilderye van onder meer “Las Meninas” en ook oor die Nederlandse kunstenaar M.C. Escher se “Waterpoel”.

 

“Ek versamel graag kuns. My vader het aan my ’n skildery van Maggie Laubser gegee. Sy moeder was Laubser se suster, en ek het wonderlike sketse van my vader as jong mens deur Laubser. My oudste suster se seun het dié kunstalent geërf. Ek besoek altyd kunsgalerye; hoe die beeldende kuns aansluit by die digkuns, is vir my belangrik.”

 

Dit is ook bespeur in die keurige uitgawes van haar bundels.

 

Daarby is sy nou betrokke in die analise van rolprente en skryf graag resensies.

 

Sy het ’n uitstekende filmoteek met die werke van die meesters Ingmar Bergman, Federico Fellini, Andrei Tarkofski, en sy geniet ook Agatha Christie en James Bond.

 

“ ’n Goeie rolprent soos Triangle of Sadness dwing by my bewondering af. Ek sou graag ’n rolprent wou maak.”

 

Sy werk reeds aan haar volgende bundel, Asindeton, waarin etlike oggend-meditasies opgeneem is, asook ekfrastiese verse en ’n handvol palinodes en parodieë, sê sy.

 

Asindeton handel oor die opruim van my akademiese lewe, ’n nuwe baken in my lewe. Afskeid en vertrek. Asindeton is ’n stylfiguur waar onder meer voegwoorde weggelaat word (ter wille van bondigheid of die rymskema); ook hoe digterlike taal uitspeel en grammatikareëls ontspoor . . .”

 

Oggendmeditasie 7

 

Die meditasies van die hart

‘n spel met prosodie, posodinie

plus ‘n stel notaboeke en verseboeke.

 

Nagteliks besoek jy my in drome

verwonder soggens oor tathata

se onverwoordbaarheid: die skewe hoeke

 

van onthou word voor middernag

‘n kreeftevers: uitgespel en uitgespeel

in ‘n soort retrograde belewenis

 

dat die dag sal breek in voorwete:

onthou duur langer as vergeet,

verdring staan immer tru voor berou. 

 

■  Sanctum het by Protea Boekhuis verskyn.