Showing posts with label Breyten Breytenbach. Show all posts
Showing posts with label Breyten Breytenbach. Show all posts

Tuesday, March 3, 2020

Okkasie | Maar my voete loop na Wellington (2020)


Op 1 Maart het ek saam met Breyten Breytenbach en Dominique Botha gedigte voorgelees in die Bôrdienghuis te Wellington.

Ons het ook mekaar se verse voorgelees. Breyten het "Uitwaartse reis" vertolk en Dominique het "My pa" voorgelees uit Lot se vrou.

Stilte, die mag van woorde, die verhouding met ouers en landskap het in die verskillende gedigte opgeklink - met Breyten natuurlik as die meester. Sy onlangse gedigte staan op die Versindaba.

Konfessies, kaarte en konterfeitsels verskyn binnekort by Martjie Bosman se Imprimatur in Pretoria.

Hier is my gedigte. 

*

Onder nomadiese sterre

Ubi sunt qui ante nos in mundo fuere? 

So teen hierdie latenstyd 'n terugkeer
na konflik onverwerk; daardie onthoue
en afranselinge opdat jy anders was; 
'n muurblom immer uit pas
met die lewensdans se ritmes
opgeklop deur 'n sketterende simbaal.
Van kleinsaf eenspaaiig, eenrymend, 
stilte beleef, met sinne ópgeskerp:
suurlemoene op 'n bitter tong geproe.
Eerste woorde op 'n lei gekrabbel
en vandaar tot skryf- en kladboek beweeg
waar woorde vlerke klap: lysters op dor gras.
Ligusterbosse, akante, jakarandas gloei
in hierdie vlymende onthouboeke.
In die gebreekte spieël van die self
(iewers verbeeld tot poësie)
oorgange en rituele in reliëf berym.
Telkens 'n self verloor, soos 'n slang
vervel in die klein rondeau of villanelle
van 'n lewe vol sonsverduistering,
skending, smaad en sameswering.
Klein momente van lig en vuur
in woordtestamente bemaak
aan hulle wat ongesiens en ongehoord,
dit wat 'n hartenswoord was, sou verloën.
'n Kalligraaf geword om polisillabies
rooi vuurblomme in die moederstuin
te vertaal tot bloeiende, uitstulpende simbole.
Dáár waar die aarde met die lug dans
op die Hoëveld, een-sillabig, 'n lot beklink:
telkens gereis onder nomadiese sterre.



Bome

Oor bome, treurende bome, soos 'n wilger,
'n sipres, 'n bloekom op die walle van 'n rivier,
staan opgeteken in die familieboom van my gedigte.
Die jaarringe van my gedigbome verklap  
'n lewenshouding van voortvarend tot bloeiend.
Hoe het die lewe my nie gesnoei nie?
My weerbarstige, selfgerigte takke is afgekap
tot vuurhout vir kritiese en ongevraagde lesers.
Nou is dit net die bome, treurende bome, 'n wilger,
'n sipres, 'n bloekom op die walle van 'n rivier
wat nog staan vóór die finale inspit in 'n dennehoutkis.



Hierdie is nie 'n liefdesvers nie

Hierdie is geen liefdesvers nie,
dis 'n gedig oor 'n X
wat geen silwer herberg bewoon
in die sneeu nie, maar ewigdurend
sous rature bly in die aanwesigheid,
my deurkruising ten spyt.

En ja, spyt kom altyd te vroeg
met die eerste voëlgekletter, 
die Katolieke kerk se klokkespel,
'n muezzin se roep na Mekka
en my oggendgebed vergeef-my-
sondes-en-almal-wat- gesterf het.

Hierdie is nie 'n vers vir Fanie Olivier
se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
Dit behoef 'n dubbel-negatief, 'n minaret
waarop ek staan-waar-ek-staan
roepend na jou, my gedig nommer X,
my afskryfvers: onoorspronklik, 'n spel.



Ignatia bid vir haar orde

Dat pyn bestaan is onnodig, Heer
vir wát moet lewe 'n pynboom word
met bitter vrugte van verdriet en afleer
in mý reaksie vol wrewel en ongeduld?

Vergeef my Heer: klontjies pyn
maak die lewe tans ondraaglik:
soveel maal gebid om klaarheid
in 'n soeke na dít wat tog sal rym.



Antigone

i

My verse herskryf ek 
soveel keer teen aanwysings in
van Creon, die kritikus alkriekend.

My tekste, 'n Polinices,
sal ek herbesoek en begrawe
al word ek honend bevlek.

ii

My naam bedui in die plek van my ouers
en nou word ek finaal die optekenaar,
nee buikspreker van my ouers
reeds weg na die ander oord.

Geo. Hambidge teken jy jou briewe
en op Sondag 5 Maart 1995:
"Ek bid elke dag vir ons almal ..."

En op 3 Februarie 1996 vertrek
sy Badplaas toe vir 'n vakansie
om uit te rus saam met my suster.

Elke brief, herinnering geliasseer
in hierdie klein geskiedskrywing
ook genaamd 'n veelgodedom.  

iii 

My pa, soos ek, was 'n opgaarder
'n versamelaar van seëls uit verre lande ...
In 'n brief van sy vriend, Ottie W. Reno
uit die VSA, vertel die afgetrede regter
van hoefysters en sy kinders en sy land.
Hierdie brief verklap 'n diepgaande vriendskap
oor twee kontinente heen tussen twee
ouwêreldse mense wat glo in God, 'n vlag
en 'n president op wie hulle kon vertrou.
Sy klein studeerkamer, 'n heiligdom, 
vol stapels dokumente en boeke: DF Malan
en JF Kennedy, langs 'n atlas van die wêreld.
Voor sonsopkoms betree ek in herinnering
weer daardie ruimte en wonder wáár op godsaarde
hang oom Ottie se geluksbringer nou? 

iv 

'n Lamentoso, 'n pynlike terugkyk:
gebore op 9/11, maar voorspel vir 9/9;
totdat die buurman, 'n astroloog verklaar
dat my ouers met húl sterkonstellaat 
nie 'n hermiet sou kon verwek nie.
Dit was in die Noord-Kaap, Aliwal-Noord
en hierna sou veral die landskap in Chili
my ontspoor in die wêreld van Pablo Neruda.
Soos Sappho onder die sewe gesterntes
afskeid geneem van haar, die geliefde;
by Macchu Pichu tot in La Paz
in vele verdraaide raaisels onder 
onder nomadiese sterre reeds uitgebrand.

v

Vandag word daar 'n nuwe planeet ontdek
en die maan is glo ouer as die aarde,
weet kenners te vertelle, en soos alles
nou draai om dié as en wanneer en as,
wonder ek waar julle jul tans bevind?



Nomaad

νομάδες

Gedagtig aan hulle wat nooit 'n staanplek 
onder die sterre vind vir die voet se holte
soos die Mbuti van die Ituri Reënwoud,
die Negrito's in Suid-Oos-Asië, die Adivasi
in Indië, die Nukuka-Makú in die Amasone:

eens op 'n tyd was hierdie nomaad flink
aan die reis van kontinent na kontinent
wég van ankers en vastighede aan die rinkink
in onveilige plekke ver van haard en huis
net met onrus as die dwingende kompas.

Te lank uit en tuis sodat die self soos die gedigte
altyd op soek was na nuwe, onbegonne weivelde.

(Uit: Nomadiese sterre)



Aflegging

Jou verjaarsdag vier ek sonder jou vandag
daar waar jy nou vertoef in 'n hemelse tuin,
versend ek hierdie boodskap, moeder:
Elke oujaarsdag was daar vieringe
rondom jou geboortedag op die jaarend.
'n Piekniek toe ons kinders was in Kirstenbosch
en later so op die oujaar, het jy klavier gespeel
in jou huis met 'n tuin vol blomme en struike.
Later al reisende het ek uit vreemde ruimtes
 jou opgebel en uit 'n koue New Haven 'n gedig 
gepos,'n hartskrif, ons verskille ten spyt.
Langs die corniche, verby Koeëlbaai bely
jy oor dít wat van jou jeug ons vir altyd sal bybly.
Die skrander kind van 'n Wellingtonse vrugteboer.
Iewers, dit weet ek, word die kind trooster,
optekenaar, bemoediger in 'n diftong van ek/jy.
Vandag sou ek al ons misverstande wou herroep
soos 'n mens 'n e-pos delete, 'n brief opskeur ...
En ek wat my so eindeloos op stilte beroep,
die tweeklanke van verlies verken, berym,
pleit om jou vir oulaas weer op te roep. 



Uitwaartse reis

In ’n droom staan ek en my moeder op ’n hoofbeuk
na ’n eksotiese ruimte, onbepaald en onbekend.
Ek verlaat die kabine op soek na my paspoort,
vind dit inderhaas by my stom reisagent.
By my terugkeer het die skip vertrek
op ’n tyd vroeër as getoon op die swart biljet.
Die kaptein weier toegang, maar ’n stuurman
neem my vervaard na die eerste punt, ’n hawe
waar ek opklim, vergeefs op soek na haar;
sy alreeds op ’n ander vaartuig aan die kim.
My paspoort ongeldig; die visums by verstek.
In hierdie droom was daar geen obool, 
net Charon wat my na Hades wou begelei.



Ons hou begrafnis, ek en jy

Was my taal ’n steppewolf
sou ek en jy nie begrafnis hou
in my verslete memorieboek.
In ’n helder droom staan jy
in ’n begraafplaas met blomme
vol maaiers en insekte,
bykans ’n David Lynch-film.
Ek hoor jou sing uit ’n ou Gesangeboek:
“O goedheid Gods hier nooit volprese”
met ’n opmars van miere en ongediertes.
Ek, die middelman, kyk toe 
hoe woordeboeke –  selfs ’n geelgoue Eksteen – 
saam met verseboeke die donker gat in
afgesmyt word sonder ’n kis
of ’n grafsteen met datums.

O ja, ek memoreer en treur bepaald.
Hoe dan anders? Die merkinke 
van ’n taal en sy mense
laat ’n lyster sy koppie skoppelmaai
“Tjou-tjou,” sing hy. “Kreools,
krioelende mengelmoes,” fluit 
hy verder, want die een ou spook 
was vet en die ander een gaan 
langsaam telluries dood.
Op watter vasteland ons boer,
dit wis daardie Peter Blum beslis.

(Uit: Konfessies, kaarte en konterfeitsels)



My pa

My pa
wou ons Sondae treat
met ‘n ete in die Masonic
of in oom Boetie Michaels se hotel,
ja, daardie hotel wat in die vloed bly staan het
toe sy ma op die boonste verdieping toekyk vanuit die Ark
en die off-sales besteel word en die Vaalrivier oor sy walle stroom.
Ek onthou die spyskaart van daardie Sondae:
Tamatie- of roomsop, vis en spaars gekerfde lamsboud
en doodgekookte groente. Met roomys of dadelpoeding en vla…
En my pa wat smak aan ‘n groen Grünberger Stein
Ek skryf hierdie vers in ‘n Italiaanse restaurant 
met ‘n eksotiese plakkaat van Venesië teen die muur:
hier kan jy jou eie menu saamstel:
Gnocchi of Capeletti, dalk Lam Tortellini
asof in ‘n vreemde land, daardie plek met sy water
en gondolas en water-taxi’s…
Hy het my nie alleen die vreugdes van uiteet
geleer nie, my pa, nee, hy het my véral wysgemaak:
die lewe is ‘n spyskaart,
een wat jý saamstel
met ‘n onbetaalbare rekening.

(uit: Lot se vrou: Human & Rousseau, 2012).


© Joan Hambidge 

Wednesday, February 26, 2020

Okkasie | Drie pare voete loop na Wellington (2020)


Kom luister Sondag 1 Maart 2020 om 18:00 in Die Bôrdienghuis-teater by die Breytenbach Sentrum in Wellington hoe Breyten Breytenbach, Joan Hambidge en Dominique Botha op innoverende wyse en om die beurt van hulle jongste gedigte voorlees. Hulle lees ook mekaar se gedigte. Joan se nuwe bundel, Konfessies, kaarte en konterfeitsels, verskyn later vanjaar en Dominique se debuutbundel, die mooiweer en warm koninkryk is binnekort op die rakke.

Kaartjies is R100 per persoon. Sitplek is beperk, so bespreek nou by Chris by teater@breytenbachsentrum.co.za of Jessica by 021 873 2786. Pizzas en wyn en ander drinkgoed is al van 17:00 te koop en weer na die tyd wanneer gesellig gekuier en gesels kan word.

Saturday, April 27, 2019

Resensie | Breyten Breytenbach – op weg na kû (2019)

Breyten Breytenbach – op weg na kû. H&R, 2019. ISBN 978-0-7981-7862-4]

Resensent: Joan Hambidge

I

Om Breytenbach se jongste bundel te resenseer, konfronteer die leser met al sy belangrikste bundels vanaf sy debuut tot nou. Die bundel laat die indruk van iemand wat opruim (in die goeie sin van die woord), maar ook op-rym. Lesers is al vir soveel dekades geboei en oorrompel deur hierdie digter, dramaturg, polemis, aktivis, skilder en roman-skrywer. Studies oor sy werk is al onderneem, o.a. deur Helize van Vuuren, Hein Viljoen en Louise Viljoen. Marilet Sienaert het gekyk na die verhouding tussen digter en skilder.

Op 'n foto dans hy met vriend Ampie Coetzee, eweneens 'n kenner van sy werk.

Die bundel word aan wyle Tom Gouws opgedra: in sy lewe 'n ondersoeker van Breytenbach se werk.

Só word die boek bemark:
op weg na kû is in vele opsigte ‘n gesamtkunstwerk, soortgelyk aan Katalekte in 2012. Die gedigte word begelei deur ‘n verskeidenheid foto’s, hetsy van landskappe of van Breyten se eie en ook ander kunstenaars se skilderye. Die manuskrip bevat ‘n rykdom bepeinsings, gedagtes, digterlike hoogtepunte en kort-kortverhale, en eindelik word die teks meer as die somtotaal van vers en beeld.
 In die woorde van Andries Visagie: “Dit word ‘n sintese van artistieke talent sonder weerga. Al die elemente in Breytenbach se literêre arsenaal – die voëls, die honde, die maan, die liefde, ballingskap, die metapoëtiese nadenke oor die woord en skryf – is hier aanwesig. Opnuut kan ‘n mens net in verbystering staan oor die oorweldigende digterlike idiolek wat die skrywer ontwikkel het.” Daar is vertalings (hy verwys daarna as vervellings) van sy gedigte in Frans, Engels en Nederlands en hierdie digter wat van buite na binne kyk, laat hom nie vaspen nie. Waarskynlik hierom die verskillende skuilname: o.a Jan Blom en Jan Afrika. Die self word onder die loep geneem, maar terselfdertyd word die narsistiese ek gedekonstrueer. Hy is die lens waardeur lesers gekonfronteer word met die verskillende aspekte van ons komplekse wêreld. Hierdie jongste boek is 'n hibried. Hy argiveer opnuut sy lewendood en soos die voorblad uitwys: op weg na kû. 
Ku is the transcription of the Sanskrit word sunya or sunyata, literally translated as ’emptiness’, a mysterious abstract idea to a Westerner brought up in the theistic and materialistic Judaeo-Christian tradition. In his kusens on the Hannya shin gyo that have just been published in English (translated by Ilsa), Master Deshimaru gives it many meanings: “In origin, sunyata is sûvi which indicates expansion, centrifugal motion, a little like a soap bubble swelling but staying empty inside. It is also zero, existence without noumenon, devoid of identifiable substance, the non-existence of the subjective and the objective, the plenitude of emptiness, original mind …”. (Ask-A-Godo/ What is Ku? - International Zen Association United Kingdom. Besoek 24 April 2019).

Die skildery is van ene Boetatjie van die Kaap wat Boeddhisties na ons kyk. Onder sy bodhi-boom oftewel die arasa maram. Die gesig op die voorblad is ouer, strakker.

“Luister, Shariputra (Leser) …
die vorm (shiki) is nie verskillend van die leeg (kû)
en léég is nie verskillend van vórm nie.
shiki ís kû, kû ís shiki.
‒ Maka Hanya Haramita Shingyo”

Die digter is 'n meester van sowel die liriese vers as die prosadig. In Oorblyfsel /Voice over (Human & Rousseau, 2009) is daar die gesprek met Darwiesj. In Vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte (Human & Rousseau, 2014) praat hy met Rimbaud.

By ontstentenis van visoene, moenie raas met stilte nie, die lieslees (seks), die singende spieëlskerwe, is hoe 'n mens hierdie bundel moet benader. Assosiatief en dromend. Om nie te vers-lib in "skreeuende stilte nie" (73). 

Die liriese vaart van 'n gedig 4.7 sleur mee:

ek droom en besoek die ondergrond
waar digters se skedels in groot sale
lugverkoeld bewaar word (...)

Celan en Leonard Cohen is ankermaats in hierdie gedigte.

Daar is uitveegedigte en leë gedigte, soos die titel al waarsku; maar ook woordoorloopsels. Die digter van die paradoks. Van die lewe wat oorbeur na die dood.


II
Die sub-titel van die bundel is veelseggend: 'n geboorte-memoriaan (vir woorde) hiermee opgemaak tot vermaak en bemaak aan Ene Nee-Een.

Die verskillende afdelings - uiteraard 9 - begin met 'n handvol losstaande verse: 'n Lot se vrou (wat dui op terugkyk); 1 Metaforismes; 2 nagpsalms: WOKNAAKWYFWEESHEID - met 'n toespeling op Blum se waansin-vers; 3 volopmaan se woordoorloopsels; 4 "die dood is 'n oordrywing" 5. Interlude 6. téénwoord / maanwater / skryfvleis 7. Handsange 8. 'n Handboek Skryfnotas vir Leser as Saamnaatmaakmat 9. die einder (sic!) met Notas.

Afdelings loop in mekaar in (heen en weer) met die temas van isolasie, skryf as waan(sin), die dood as 'n pendant van lewe en die gedig as proses of as 'n soort handleiding vir die leser. Blum se woknakwyf word nou woknaak in 'n samestelling van weeskind-wees. (Herhaling is besitname, waarsku hy immers, 252).

Hierdie bundel is volledig bemoeid met die dood en met afskeid, en hierom paradoksaal, juis besig met die lewe.

Hierom vind ons "die onvoltooibare sonnet" wat inspeel op "en die sonnet" (136). Twee spieëlbeelde dus van mekaar.

Om te skryf is om te verlyf (147); net soos om vertaling 'n proses van vervelling is.

Die belangrikheid van skryf en die nutteloosheid daarvan word in hierdie bundel ondersoek - soos Werner Herzog, die uitstaande filmmaker, wat in eensaamheid 'n boek met 'n geleende graaf begrawe het in 'n woud.

Die soeke na tekens en betekenis (en die haal van kromme note) is 'n volgehoue proses waar die digter telkens iets neerskryf en dan weer ophef (of uitwis) in 'n volgende gedig.

0….0

Alles blyk 'n duplikaat te wees en moet 'n afdruk word sodat jy die lewe verstaan (187). Die verkleurmannetjie of karmiljoen word nou 'n verkleursuutjies - 'n tipiese vonds van Breytenbach: verkleurmannetjie en trapsuutjie word so vernuut in 'n nuwe woord.

Die paradoks is eweneens Breytenbach se skerpste kenmerk: moenie raas met die stilte nie (108) waar twee betekenisse van raas geaktiveer word.  Om te baklei en om te die stilte te versteur.

Die mond - 'n beeld van intimiteit om die skryfaksie voor te stel - word hier "mondmaniere" (118).

Ons vind ook verjaarsdagverse - soos die aangrypende een op bladsy 143.

Daar is lettervlesse en beelde wat die leser laat duisel. Die intieme leser word 'n liesleser en dus 'n geliefde. Daar is woordspeletjies, rymers, 'n leë gedig, foto's, reisbeskrywings en woordoorloopsels. En metaforismes. Die metafoor as die ewige proses van metamorfose is immers waaroor hierdie digkuns handel.

Hoewel die gedig as 'n waan gesien word, maak hy ook 'n aanklag oor die toekoms van Afrikaans in hierdie bundel en hoe universiteite die taal, gesalpeter in hierdie land soos hy dit klinkend stel, verminder:

wanneer jy die moedertong
          in my mond laat verdor
neem jy die wêreld weg
verduister jy my geheue
maak jy dat ek as vreemdeling
en sonder ’n eie paar skoene
die toekoms moet ondergaan
(118: 6.9)

Want vir 'n digter is die skryfproses intiem en verbonde aan 'n moedertaal met sy "mondmaniere". Anders word die digter 'n gefuikte papegaai wat gewoon pik-pik in 'n nabootsing.

Van die mooiste liefdesgedigte is deur hom geskryf en sy enorme bydrae as digter val nie te betwyfel nie. My gunstelinge: Die ysterkoei moet sweet (1964), Lotus (1970), Voetskrif (1976), 'Yk' (1983), Papierblom (1998), Die beginsel van stof (2011). En hy is 'n digter van wie ek ten minste tien gedigte uit die hart uit kan opsê.

Of hy surrealisties dig of 'n fantasmagoriese lykdig skryf oor sy moeder of 'n aanklag oor ongeregtigheid, is sy stem onbetwisbaar, herkenbaar: BB.

Breyten Breytenbach word tereg beskou as een van die grootste lewende digters in Afrikaans. 

Friday, January 13, 2017

Die stilte van die skrywers

Stephanus Muller

In 'n onderhoud op Litnet met Naomi Meyer (Onderhoud met Stephanus Muller/ Dekolonisasie van musiek) beweer Stephanus Muller op 12/1:
Hierdie versuim het rampsalige gevolge op verskillende gebiede, waarvan één die voorkeur is vir traangas eerder as colloquia, vir arrestasies eerder as seminare, vir hofstukke eerder as gedigte. Dit wat ons tans in die gesig staar, sal nie deur die polisie opgelos word nie. Die humaniora is kern tot die probleme (en hul oplossings) wat deur die gebeure van 2015 – 2016 aan die orde gestel word, maar dit is deur die slopende effek van die polisiestaat en daarna deur gebrekkige befondsing en korporatisering so verarm dat ons kommerwekkende gebrek aan diepte toon in ons reaksies op die sosiale onrus. Die maatstaf vir die omvang van ons probleme is nie die omvang van die gewelddadige onrus nie, hoe ontstellend dit ook al is. Dit is eerder die beperkte woordeskat van universiteitsbesture, die afwesigheid van die filosowe, die stilte van die skrywers, die onttrekking van die historici, die isolasie van die kunstenaars en oor die algemeen die gebrek aan prominensie van denkers en kunstenaars in hierdie tyd.
Ek wil veral reageer op sy aanklag teen filosowe en die stilte van skrywers. Waarskynlik het hy Johann Rossouw se uiters belangrike analises gemis? Of die replieke van Breyten Breytenbach, skrywers se reaksies via Pen-Afrikaans, en my bydraes op my blog Woorde wat weeg. Hans Pienaar het ook verskeie debatte aangevuur op Litnet en Sonja Loots het in Rapport male sonder tal standpunt ingeneem. Die Gelyke Kans-inisiatief is immers ’n belangrike reaksie wat nie geïgnoreer kan word nie.

Hy kan begin by Protes en anargie (Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge - Protes en anargie (2015). Besoek 13 Januarie 2017).

En: Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge/ reaksieop M. C. Botha brief aan Die Burger. Besoek 13 Januarie 2017.

En hoe universiteite en die werkinge anders bekyk word: Woorde Wat Weeg / Universiteite 2016/ Nie voor dooiemansdeur nie. Besoek 13 Januarie 2017.

Verskeie denkers, skrywers, historici, e.a. lewer kommentaar. Waar ek doseer aan die Universiteit van Kaapstad is daar voortdurend gesprekke, senaatsvergaderings (wat robuust verloop) en kommentaar van universiteitshoofde, dekane, et al.

Ek is nie bewus van 'n stilte nie. Eerder 'n soeke na oplossing. In ’n universiteitsomsendsbrief sopas ontvang word daar tereg gewys op die emosionele impak van die onrus van die afgelope tyd.

Dit is moeilik om in 'n tyd van onrus 'n omvangryke woordeskat te hê.

Wat eerder verontrus, is die polarisering wat tans opmerklik is. Kollegas wat altyd goed oor die weg gekom het, staan nou skepties jeens mekaar.


© Joan Hambidge