Monday, March 25, 2013

Eben Venter - My simpatie, Cerise (1999)



Eben Venter. My simpatie, Cerise. Queillerie Uitgewers, 1999. ISBN 9780795800047.

Resensent: Joan Hambidge

Om na Ek stamel ek sterwe weer 'n roman te lewer van impak, kan waarskynlik nie onmiddellik verwag word nie. Maar Eben Venter se My simpatie, Cerise is 'n goeie roman.  Dit dra ook die stempel van  Venter-vintage: gedronge taalgebruik, 'n vreemde, onverwagse draai in 'n verhaal en 'n meditatiewe aanslag in die derdepersoonperspektief.

My simpatie, Cerise vertel die verhaal van 'n tuinier, Robert en sy komplekse verhouding (die verteller sê, relasie) met 'n meneer en mevrou Cox. Dit is Australië, en meer spesifiek Melbourne. Daar is die Olimpiese bod en geldmaakskemas. En ander vorme van agterbaksheid wat hier aan bod kom.

Die boek wemel van interessante aspekte van die Australiese leefwyse wat verduidelikenderwys aan die leser oorgedra word. Venter skep 'n slim truuk deur sy hoofkarakter Iers te maak en asof hy hierdie vervreemding meemaak. Die uiteindelike bedoeling is natuurlik om die Afrikaanse leser te bereik.

Die sekstoneel tussen Tiffany, die dogter, en die Japannees  bewys dat daar min stiliste is wat by Venter kan kers vashou. 'n Mens sien en ruik hierdie interaksie. Die grootste wins in hierdie boek is die subtiele inligting wat die leser kry oor die karakters. Byvoorbeeld 'n bisarre droom van Mevrou Cox waarin soveel van haar karakter verraai word; of Robert wat terugdink aan sy Mammy wat haarself was oor die kombuiswasbak.

Op 'n uiters subtiele en ekonomiese (en dikwels poëtiese) wyse word die verhaal vertel vol sub-tekste (soos Who's afraid of Virginia Woolf, Superman, Lady Chatterley's lover) en onheilspellende implikasies (soos die konfrontasie tussen Robert en Cox).

Die skrywer het 'n oog vir die klein besonderheid (vergelyk byvoorbeeld die vliegrit na Europa) waarmee hy ontsettend veel van sy karakter se aard verraai (bl. 158). Daar is min skrywers wat simboliek so goed kan hanteer: die wyse waarop faeces en drome gebruik word, dui op 'n manjifieke hantering van subteks en 'n oopmaak van die onbewuste. Hierom dan die dood van die bok!

My simpatie, Cerise is 'n welkome toevoeging tot Venter se oeuvre en tot die Afrikaanse romankuns. Skandalig dat hierdie skrywer weens sy burgerskap van die M-Net-prys gediskwalifiseer is. Wonderlik dat hy die tradisie van die meditatiewe-aanslag van Etienne Leroux weer in Afrikaans terugbring. Die onverwagse slot, is by terugskoue, nie so onverwags. Om te sterf in 'n troebel rivier van die onbewuste, word dus goed voorberei. Want gebeur in die roman vra vir subtiele kyk.

Soos dat daar nooit versoening kan wees tussen Robert en Cerise nie; hierom die vertelling as 'n soort simpatie-brief.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]