Showing posts with label Erika Murray-Theron. Show all posts
Showing posts with label Erika Murray-Theron. Show all posts

Saturday, February 9, 2013

Erika Murray-Theron - Verblyf (2007)



Erika Murray-Theron. Verblyf. Protea Boekehuis, 2007. ISBN  1 86919 148 X.

Resensent: Joan Hambidge

Verblyf is ‘n roman geskryf deur Erika Muray-Theron en dit bevat ‘n lieflike omslag van Tertia Dorfling. In hierdie skildery, wat ‘n soort droomkwaliteit verraai, is daar ‘n huis, ‘n palmboom, ‘n vrugteboom, die son. Waar staan die huis?, wonder die kyker. In die vreemde; dalk Spanje?  Hierdie voorblad skakel met die belangrike verwysings in die teks na Maggie Laubser en Irma Stern en hul unieke siening van die Ander.

In hierdie roman word daar hoofsaaklik gewerk met die binnespraak. Ons het hier ‘n verteller wat van binne na buite vertel. Moderne kwessies soos identiteit, vestiging in ‘n vreemde land, globalisering word op ‘n sensitiewe manier aan die orde gebring. Dit spreek vanself dat stereotipe idees oor die Vreemdeling / Ander in hierdie roman aan bod kom, o.a. in die verbintenis tussen Helene en Alassane, maar ook in die lewens van mense wat in die vreemde hul identiteite moet verander of ontdek dat hulle gay is. En die uitwerking wat dit het op kinders en ‘n voormalige eggenoot.

Die moderne mens is dikwels op vlug na Amerika of Londen – op soek na beter weiwelde weens ekonomiese eise of gewoon die geweld wat mense onderkry. Terselfdertyd is hierdie vertrek nooit eenvoudig of finaal nie. Mense bly verknog aan hul land en hul taal. Aan hul herkoms, Afrikaanse verwysings en gedigte. (Die roman bevat ‘n handige verwysing vir diegene wat nie ‘n gedig herken nie en hoe aangenaam was dit nie om Johan de Jager se Haggadâ vir ‘n wit Afrikaan (1977) weer raak te lees nie. Nou onlangs het Casper Schmidt ook weer “teruggekeer” in ‘n artikel in “By”).

Helena en Nicolene se verhale word vertel met hul aanhangsels en teëspelers. Hulle is twee susters wat behoort tot verskillende kontinente. Op ‘n skerpsinnige wyse word die implikasies van emigrasie ontleed. Nicolene ontdek dat Amerikaners oënskynlik gasvry is (ons weet almal van “let’s do lunch” wat beteken “gaan weg”), maar terselfdertyd hul afstand bewaar en jaloers is op hul vrye tyd oor naweke. Helena, die ander suster, woon in Pretoria en beleef die nuwe-Suid-Afrika en die paranoïa van die moderne samelewing. Sy is verlaat in ‘n verhouding en sy soek naarstiglik na identiteit en hierom beweeg sy terug in jeugherinneringe.

Sy beleef in die nuwe Suid-Afrika al die ellendes bekend aan ons en sy vind aanklank by Alassane, ‘n uitgewekene. Hy het gewoon aan die rand van Mbour, die land van arm mense. Hierdie relasie word ‘n belangrike spieëlteks van Helena se psigiese toestand en dit sal die leser eweneens loon om Sarah Nuttal(red).) se studie Beautiful/Ugly (Duke University Press, 2006) oor Afrika en diaspora estetika te lees waarin vele kodes waarop hierdie boek berus, verder bespreek word.

Die hibriede word raak beskryf in terme van duikbootnavorsing: ‘n gebou wat op die oog af ‘n eenheid het, maar leterlik tot in die fondamente verdeel is (p. 66).Mense woon op vreemde vastelande, maar hulle bly terughunker na die land van herkoms wat hul identiteit gegee het en selfs in die vreemde klou Nicolene nog vas aan familieskap sodat haar suster se gewese eggenoot nog vir haar belangrik bly. Gary weer op sy beurt bly in ‘n kommune in Londen waar jong mense oorlewing ontwille, moet aanpas in ‘n nuwe omgewing en waar “dos-geld” in die kommune ‘n harde werklikheid word. Die roman lewer interessante kommentaar op die veranderende rol van die moderne vader wat kinders uit vorige huwelike oorneem. Of ‘n gay-vader wat begrip by sy kinders ontdek!

Daar is verwysings na moderne tegnologie: mense maak meer onmiddellik kontak met mekaar, maar is ironies genoeg steeds eensaam.

Die roman is besonder vlot geskryf, sonder om oppervlakkig te wees. Die skrywer het reeds vyf romans en ‘n bundel kortverhale gepubliseer en met hierdie teks bewys sy dat sy Afrikaans se Anita Brookner is. Die roman ontglip sentimentaliteit, maar dit word egter nooit ‘n bloedlose analise van dit waarmee elke moderne mens worstel nie.

Lees hierdie roman. Dit was ‘n lonende leeservaring wat my weer teruggeneem het na my Brookner-rak en A.S. Byatt se analise van susterskap in The djinn in the nightingale’s eye.

Daar is baie nagedink oor die onderwerp en al die kompleksiteite van verlyf/weggaan. Dit vul ‘n noodsaaklike gaping in ons leesmark waar daar goeie romans behoef word wat nie net vir ‘n handvol letterkundiges bedoel is nie.

Die outeur erken in ‘n bedankinsgwoord dat sy die briewe van expats gelees het ten einde insae te kry in die psige van sodanige vertrekkers. ‘n Mens kan o.a. ook op Sênet kyk en die toestand van die paradoks begryp: van vertrek, maar verlang. Van weggaan, maar onseker bly oor jou keuse.

Hierom waarskynlik die aanhaling uit die Poolse Jodin Eva Hoffman op bladsy 85:”...the country of my childhood lives with me with a primacy that is a form of love. It lives with me despite my knowledge of our marginality, and its primitive, unpretty emotions...”

Met meer deernis sal ons voortaan die briewe lees op Litnet.

Neet een vraag: wie staan iemand nog vir ‘n bier?

Praat ons nog so?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, February 4, 2013

Erika Murray-Theron - ‘n Tapisserie met klein diere (2007)



Erika Murray-Theron. ‘n Tapisserie met klein diere. Tafelberg Uitgewers, 2007. ISBN 978 0 624 046 18 9.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Tapisserie met klein diere deur Erika Murray-Theron het die Sanlam/Insig-romanprys verower. Ondertussen het twee resensente gebrom oor die postmodernistiese aard van die roman en een het selfs opgemerk dat die roman niks nuuts bybring in hierdie genre nie (“Ragfyn web van gesin-intrriges bevat ook slordige knope”, Beeld 16 Maart ).

En meen Jaybee Roux, ‘n populistiese skrywer, dat sy minder blatant te werk moes gaan as sy ‘n postmodernistiese roman wou skryf.

Sou ‘n mens Donald Barthelme wou versoek om subtiel te skryf? Is dit nie juis in die aard van hierdie soort roman dat stylbreuke, hiate, herhalings aan die orde van die dag is nie?
Die roman titel ‘tapisserie’ dui alreeds op ‘n weefwerk en in die klassieke letterkunde is die sogenaamde fout in die weefwerk juis daar om die outensiteit te verhoog.

Vir my skep die roman egter ander probleme. In vergelyking met haar vorige roman, Verblyf, wat op ‘n hoogs intelligente en leesbare wyse die komplekse kwessie van die ekspat aangespreek het, vind hierdie leser dat ‘n Tapisserie met klein diere net té vlot geskryf is. Die roman kort tekstuur en die komplekse kwessie van die Freudiaanse familie-romanse word nie genoegsaam beleef nie.

Die postmodernistiese aard van die roman is dus nie vir hierdie leser problematies nie, maar eerder die gevoel dat die verhouding tussen die familielede nie genoegsaam ontgin word nie.

‘n Familiebyeenkoms is uiteraard ‘n emosionele gebeurtenis, omdat daar soos hierdie roman aantoon,  onder die opppervlak demone en duiwels skuilhou. Tog word daar te veel verteltyd afgestaan om beuselagtighede aan die leser oor te dra soos in Stiltetyd.

Waar daar wel konfrontasie plaasvind – onder andere tussen Dorothea en Driessen – word dit met geweldige emosionele oortuiging gedoen. Terseldertyd word die onthulling rondom Alet se dood, eweneens aan die been gevoel. Vir my gevoel wou die werklike outeur té veel kwessies aanspreek: selfmoord, tronkstraf, buite-egtelike verhoudings, ‘n ander rasverhouding, vermeende gaywees sodat die leser al die drade vervaard moet saamknoop. Die titel ondervang weliswaar só ‘n beswaar.

Karakter, weet ons uit die moderne narratologie, word deur aksie gekenmerk. En karakters in boeke is “mense van papier”. Dikwels word karakters nie genoegsaam beskryf nie, behalwe vir Driessen wat die leser werklik kan sien. Nou goed: dit kan ook op die rekening van die skrywende aksie in die roman geplaas word wat besig is om die teks te skep en dat ons nog nie die voltooide teks beleef nie.

Ek dink nie dat die werklike outeur (‘n vrou) altyd daarin slaag om die binnespraak van die manlike skrywer / waarnemer suksesvol weer te gee nie.

Verder: die mening oor hierdie boek sou minder fel gewees het was dit nie vir die feit dat dit bekroon is met die Sanlam/Insig-romanprys nie. Hierdie prys is al deur Dan Sleigh se Eilande verower. Alexander Strachan se Die jakkalsjagter, eweneens ‘n metaroman soos Tapisserie, het ‘n romanprys losgeslaan.

As dit die oortuigendste /beste/eerste/indrukwekkendste roman was, sou ‘n mens eerder nie die prys moes toeken nie.

Dit is nie Erika Murray-Theron se beste boek nie en sodanige bekroning vra ernstige vrae oor die pryssisteem en die feit dat BoekeInsig nou met hierdie boek op toer gaan.
Op die voorblad van BoekeInsig verneem ons ‘Toe Harry en Erika ontmoet – twee groot wenners in gesprek’.

Daar is ‘n plek vir die lekkerleesroman, maar nie as ‘n voorstelling van ‘n pryswennende roman nie. Die skrywer word hierdeur ‘n onguns bewys en die leser word mislei.  Skryfstandaarde word aangetas.

Sou die Booker byvoorbeeld gewen word deur ‘n populistiese skrywer?

"Unputdownable" soos Harry Kalmer beweer? Hokaai.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]