Showing posts with label Anne Sexton. Show all posts
Showing posts with label Anne Sexton. Show all posts

Sunday, May 26, 2019

Polemies | Sexton – Brink – De Kock

I

Leon de Kock se biografie van André P. Brink (André P. Brink en die spel van die liefde) aktiveer 'n belangrike debats- en brandpunt. Wát mag in 'n biografie opgeneem word en wát moet liefs verswyg word?

Is dit dalk hierom dat Barthes sy outobiografie in die derdepersoon geskryf het: Roland Barthes par Roland Barthes?

V.S. Naipaul het indertyd opgemerk dat hy nie omgee wat oor sy turbulente lewe geskryf word nie. Kennelik 'n man wat gevoel het dat sy romans steeds sou bly staan.

My life is short. I can't listen to banality.

Daar is ook skrywers wat soos 'n poppemeester beheer word deur die biograaf sodat lesers wat die werklike skrywer geken het dikwels voel dis 'n hagiografie.

Mag 'n ander mens ingesleep word by die skrywer se vuil wasgoed wat in die openbaar gewas word? Hoe gemaak met 'n kwalik-bedekte skuilnaam, terwyl almal weet wié Mevrou so-en-so presies is?

Die biografie het nou oorgespoel na 'n ander dimensie met die biograaf wat beskuldig word van rassisme, 'n uitgewer wat hulle glo wil distansieer van hom indien dit waar is en verdere berigte oor 'n opname in 'n inrigting.

Ek het reeds in my resensie geskryf dat 'n Janet Malcolm-analise (via haar knap analise van Plath) gemaak sou kon word van die biograaf se belangstelling in die skrywer – 'n insig gepubliseer vóór die hele debakel. De Kock is immers die skrywer van 'n roman met die titel Bad Sex; Brink het bad sex ondersoek in al sy avatare.

Truth is always stranger than fiction.

II

Kom ons beweeg buitedie arena van Suid-Afrikaanse landskap na die VSA om hierdie problematiek beter te begryp.

An Accident of Hope: The Therapy Tapes of Anne Sexton deur Dawn M. Skorczewski wat by Routledge in 2012 verskyn het, is 'n relevante toetsgeval. De Kock verwys eweneens na Sexton in sy studie.

Anne Sexton (1928 - 1974) was (en bly) 'n belangrike Amerikaanse digter wat belydenisverse geskryf en uiteindelik selfmoord gepleeg het, onder andere weens bipolariteit. Sy sien 'n terapeut, ene dr Martin Orne, wat haar aanmoedig om gedigte te skryf om die pynlike verhouding met haar vader te verwerk.

Sy was 'n tydgenoot van Robert Lowell en Sylvia Plath, beide troebel figure, maar uitstaande digters.

The Awful Rowing Toward God (1975) is een van haar belangrikste bundels. Uiteindelik vergas sy haarself tuis in haar motor.

Diane Middlebrook, haar biograaf, ontvang bande van dr Orne waarin sy suggereer dat sy haar dogter seksueel aangerand het en dat sy deur haar vader gemolesteer is. (Die dogter het toestemming gegee dat Middlebrook dit mog gebruik en nadoods het die dogter Linda Gray as redakteur van haar versamelde gedigte opgetree). Die biografie verskyn in 1991, uitgegee deur Houghton Mifflin Company.

Problematies dat die terapeut hierdie inligting verklap het. En nog meer problematies: wat is waar? Wat is fantasie?

In 1994 publiseer die dogter haar memoir: Searching for Mercy Street: My Journey Back to My Mother, Anne Sexton. (Little, Brown & Company).

Johann de Lange het haar in een van sy vadergedigte verewig en die uwe het eweneens in gesprek getree met haar.

So lui De Lange se vers:

Pa

Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.
Anne Sexton

Ander miskien nie maar ek onthou
dat jy ’n bouer was
met groot hande wat steen
op steen kon pas,
so sekuur was in wat jy doen
& tog tuis alles kon verbrou.

Maar ek vergewe jou.

Die hart hou sy eie almanak.
Stene kon jy beter as woorde vat:
skielik was daar ’n wolkekrabber,
’n padkafeetjie langs die pad;
jy kon lugkastele bou, na cowboy-flieks gaan kyk,
of vuurhoutjiepatrone op my Bybel plak.

Maar ek vergewe jou.

Ander aande het jy mandrax gedrink
& vroeg gaan slaap, moeg,
die woonstel onherbergsaam gemaak
met jou hortende asem. Die kroeg,
enklave waar jy kon ophou kwel,
het sy grys vergetelheid geskink.

Maar ek vergewe jou.

Ek het soveel van jou liefde verwag,
asof dit sement was
wat ons almal bymekaar moes hou.
Ons kon nooit juis waterpas
oor sake sien nie:
ek was haaks & jy was veels te sag.

Maar ek vergewe jou.

Hoe gaan ek daardie trotse onbegrip
ooit weer agterhaal, die gebroke huis weer heel?
My dapper swye verbreek ek nou,
& mag dié onvolkome stene my nie faal.
Onbeholpe cowboy van my jeug,
jou naam bly leef in klip.

Ander miskien nie maar ek onthou.

† 17 April 1936 - 16 Mei 1975

Sexton se gedig "All my pretty ones" is 'n klassiek:

So lui die slot:

I hold a five-year diary that my mother kept
for three years, telling all she does not say
of your alcoholic tendency. You overslept,
she writes. My God, father, each Christmas Day
with your blood, will I drink down your glass
of wine? The diary of your hurly-burly years
goes to my shelf to wait for my age to pass.
Only in this hoarded span will love persevere.
Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.

III

Karina Szczurek © Conrad Bornman

Mevrou Brink die Vyfde het die joernale aan De Kock gegee. En toe sy besef dat die biografie ontspoor, dit probeer terugeis.

Vir my gevoel is sy verantwoordelik vir die skending van mense se privaathede en briewe wat sonder toestemming in die biografie opgeneem is. Uiteraard het dit aan Brink behoort, maar ek is daar seker van dat Brink die outeur nie sou vrede hê met wat nou afspeel nie. Boonop verminder dit sy statuur as romanskrywer. Die dagboeke was doodles en om sy gemoed skoon te maak en beslis nie – volgens my – vir die openbare oog bedoel nie. Al meen die eksekuteurs nou anders.

Hierdie hele onaangename insident bewys opnuut dat dit beter is om net die romans of gedigte te lees en nie kennis te neem van die gebroke / morsige "mens agter die boek" nie.

Joernale mag psigoanalities en teoreties beskou word, maar dan nie met so 'n skinderlistige aanslag nie.

Thursday, April 14, 2016

Joan Hambidge - ‘n Nota by ‘n Johann de Lange-gedig (2016)


Vrae

En was ek ‘n boek, verslete
& my rug swak,
sal jy nog soms ingedagte
blaai deur die strofes
van my bestaan,
verbrokkelende beelde herroep,
vergete verwysings na jouself
tussen die vergeelde blaaie soek
of ‘n vers dalk weer lees
omdat dit sin gemaak het tóé?
Sal jy hoor hoe ek vertroud
ritsel onder die liefkosings
van jou hande?

Van die baie blaai
sal ek plek-plek
sommer vanself oopval,
my vir jou oopvou
teen die lig.

Hierdie gedig staan opgeteken in Johann de Lange se debuutbundel Akwarelle van die dors.

Op die eerste vlak lyk dit na ‘n liefdesgedig waar die spreker (die “ek”) sou wou voorstel as ‘n boek, en meer spesifiek, ‘n digbundel. Die verwysing na die strofes (stanzas/kamers) van die bestaan aktiveer die digbundel-beeld. Die boek is verslete, vol vergete verwysings na die geliefde en die blaaie is vergeel. Hierdie vergeelde, verslete boek sal plek-plek (van die baie lees!) sommer vanself oopval (oopvou) teen die lig.

Die ek-spreker praat met ‘n jy. Wie is daardie jy? Is dit die geliefde wat aangespreek word? Of dalk ook die vader wat deur De Lange se ryk, geskakeerde oeuvre beweeg, daardie vaderfiguur oor wie hy ambivalent voel?

Ander het die vader vergeet, maar hy nie, skryf hy. En ofskoon hy bely dat hy hom vergewe het vir sy abandonment (versaking), is dit duidelik dat die teken in sy onbewuste een is van totale alleenheid, eensaamheid. Die vader se vertrek deur sy selfdood op 16 Mei 1975 word geaktiveer in die eerste Pa-gedig, wat heet “Pa”. Dit staan opgeteken in Akwarelle van die dors.

Die motto uit Sexton aktiveer die woede en pyn van die ontnugterde spreker  (All My Pretty Ones - Poem by Anne Sexton).

Sy gebruik die woord jinx in die eerste strofe van “All my pretty ones” om hierdie houvas te beskryf:

Father, this year's jinx rides us apart
where you followed our mother to her cold slumber;
a second shock boiling its stone to your heart,
leaving me here to shuffle and disencumber
you from the residence you could not afford:
a gold key, your half of a woolen mill,
twenty suits from Dunne's, an English Ford,
the love and legal verbiage of another will,
boxes of pictures of people I do not know.
I touch their cardboard faces. They must go.

*

Beide digters se ouers regeer vanuit die graf en in Lacaniaanse terme is die teken in die onbewuste die vader-figuur wat die kind beheer. Die dood behoort tot die dimensie van die Real (die Réel) en dit is vervleg met die Verbeelde (Imaginaire) en Simboliese (Symbolique) dimensies. Soos by Freud se ego, id en superego is hierdie triadiese dimensies saamgesnoer in één. Ellie Ragland skryf insigryk hieroor in Essays on the pleasures of death (1995, 199).


Freudiaanse Besetzung, oftewel investissement/cathexis is by sowel Sexton as by De Lange aanwesig.

So beskou, is die gedig “Vrae” dus meer as ‘n liefdesgedig. Dit is ‘n aanklag en versugting. Die slotstrofe:

Van die baie blaai
sal ek plek-plek
sommer vanself oopval,
my vir jou oopvou
teen die lig.

Dit is ‘n uitroep na die vader (die nom-du-père), ‘n versugting dat hy moet lees en kennis neem van al die pynlike verse wat die digter al oor hóm, die vader, geskryf het.

"The libidinal qualities", skryf Ragland op bladsy 182," produced by the gaze, the voice, and so on, are repressed as 'objects' that give rise to unary signifiers marked by a primary jouissance - an attachment to reminiscences of oneness. These signifiers bind the outer world to a seemingly 'inner' void in one single stroke. This minimal Borromean structuring of a signifying chain constitutes what we call 'mind' in a series of triadic units. And since one of these units - the real - infers constant loss, which, in turn, produces anxiety, people use language to seek the emotional comfort of closing out the real".

So gelees, is ‘n “konvensionele” liefdesgedig gelaai met sterk en driftige boodskappe van die onbewuste wat vir Lacan soos ‘n taal gestruktureer is en ‘n begeerte is tot die Ander.


Bibliografie
De Lange, Johann. 1982. Akwarelle van die dors. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.

Ragland, Ellie. 1995. Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan. New York: Routledge.

© Joan Hambidge

Friday, January 17, 2014

Erica Jong en Anne Sexton


I

Nou onlangs voer Willem de Vries van Die Burger met my ‘n onderhoud oor my jongste bundel (Digters bly deurentyd reisigers). 

Ongelukkig het ‘n paar antwoorde en vrae in die slag gebly en vir die volledigheid:

Vrae:

1. In “Meditasie, tyd” word die omslag direk betrek. Vertel asb. meer van die omslag, ‘n belangrike sleutel tot die bundel?

Die foto het ek self geneem – ‘n gelukskoot – van onder die Brooklyn-brug op ‘reis-om-die-aarde’ in 2011. Ek en ‘n vriend het eenmiddag besluit ons gaan so ‘n reis onderneem. Ek het die volgende dag die kaartjies bespreek. Dit was tydens ‘n sabbatsverlof en ek wou weer stede besoek waar my eerste gedigte ontstaan het, te wete die VSA. My gedigte is gevestig in ‘n sterk Amerikaanse tradisie, spesifiek Ooskus-Amerika, en my eerste bundel Hartskrif (1985) het in ‘n koue winter in New Haven ontstaan. Ek het die VSA op verskillende tye besoek en die Brooklyn-brug kan gelees word as ‘n simbool hiervan. ‘n Ingaan in New York, ‘n hartstad, ‘n stad waaroor ek dan ook dig vanaf my eerste bundel tot nou. Ek was in die VSA net voor 9/11 en het vir jare weggebly, omdat ek nie die stad weer kon aanskou nie. Tweejaar terug ervaar ek dan die letsels van 9/11. 


2. Daar is ‘n onderskeid tussen reisiger en toeris. Hou hierdie onderskeid verband met die gedigte in Meditasies?  

Digters is altyd reisigers: jy besoek die stad op ‘n werklike, reële vlak; hierna in die verbeelding, in die herinnering, in die gedig. Toeriste neem net foto’s.


3. Het die gedigte gegroei uit die reise telkens of het dit ná die tyd uit herinneringe aan die reis ontstaan? 

Ek skryf tydens die reis, maak notas, aantekeninge – daarna  slyp en herdig ek. Die eerste gedeelte van Meditasies het tydens die reis ontstaan; die ander afdelings daarna.


4. Gedigte is in die bundel in die teken van brûe; ook dat jy geen rivier op dieselfde plek twee keer kan oorsteek nie. Was die skryf van enige van die gedigte wel ‘n poging om dit te doen?  

Absoluut. Jy is in die kol. Ek het probeer om die jong digter wat ek was weer te begryp. Die verwondering van die eerste keer NY meemaak; ook die verwondering van ‘n mens se eerste digterlike pogings. Hierna word jy slu. Jy dig met woordeboeke en handleidings. Dit staan alles in die gedig oor “Los Angeles” en die leser word versoek om die weerlose, jong digter genadig te wees.


5. Brûe staan in die teken van oorgange, van liminaliteit en jy praat dan ook van “geliefde van die tussenstaat”. Vloei dit voort uit die reismotief? 

Wel die voormalige geliefde is in ‘n tussenstaat, biseksueel en kon dus nooit volledig deel wees van my lewe of bestaan nie. Die ander geliefdes van die tussenstaat is die afgestorwe vader wat ek aanspreek of die reisgenoot wat in ‘n ander stad is en op pad is om my weer te sien in New York. Hy was elke keer in ‘n ander stad agter my. Ons het ontmoet in San Francisco en New York. Ook voormalige geliefdes maak hul opwagting. Hierdie bundel is ‘n bestekopname van my “gom uit die sipres”: van die pryse wat jy moes betaal met die skryf van gedigte. Dit staan dan in die vers oor die drie mentors: Opperman, Eybers en De Lange (“Meditasie, mentorskap”). As jy wil dig kan jy nie ‘n Sondagdigter wees nie. Jy doen dit of volledig obsessioneel of jy moet dit los. Ek dink hier aan ‘n brief wat die jong Erica Jong van Mark Strand ontvang het: “You haven’t been fucked by poetry yet”.

Om te dig is soos om ‘n professionele atleet te wees: dit eis strawwe oefening, opoffering. Jy moet lees en jouself voortdurend vernuwe. 


6. Die stede in die gedigte is telkens “hartstad, dwingende stad, ingewikkelde stad” en die liggaam word ook iets stads (“My lyf”). Die gedagte aan soorte doolhowe sluit aan by Borges. Dit val die leser op dat die gedig op sigself plekke, einders en lense bevat. Iets meer hieroor.

Stede het persoonlikhede. Hulle praat met jou of hou jou buite. Ek is nou 57 en bewus van eindes, oorgange. Die dood van die ouer self en die geboorte van die nuwe self meld sig aan. Die leser sal ook in hierdie bundel verskillende lense kan gebruik: my gesprek met Freud en Lacan, onder andere. Die onbewuste wat die gedig skryf lank voordat jy dit weet en dan op die regte oomblik sig aanmeld. Die “unheimliche” waarvan Freud gepraat het. Lacan se “tuché”. ‘n Mens is dikwels in verwondering hoe die gedig iets magies vergestalt. Borges is immers die grootste voorbeeld van hierdie doolhowe of eerder labirinte wat ‘n mens besoek.


7. In “Ruilhandel van onthou” is eweneens herbesoek aan die self en die wisseling van selwe. Is dit ook te begryp in die konteks van Borges of vra dit om ‘n ander soort lees? 

Borges is belangrik ja as ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens verskillende vlakke terselfdertyd beleef. Hierom die gedig dan “Freud se sofa” wat handel oor ‘n droom met ‘n foto van die beroemde sofa, afgedruk onder die gedig. Ek het hierdie vers gedroom en hierom sluit die vers dan af met ‘n besoek van Cussons, ons immer nooit volprese digter van die “swart kombuis” oftewel van die onbewuste. Die gedig is ook ironies: Freud is virtueel vir ons beskikbaar. Ons lees sy werke (en sy navolgers) en kry sodoende insig in ons donker drifte.


8. In verskeie gedigte is daar die gedagte aan die internet en verbinding (die Borgesiaanse blinde ruimte), wat ook iets weergee van die ingewikkeldheid van verbind te wees en apart. Gedagtes hieroor.

Wel ons almal leef per sms, internet, e-pos, selfone... Dit is alles ekstensies van ons self wat die hele nosie van wie ons presies is, problematiseer en meer verwikkeld maak. Terwyl ek reis is ek in verbinding met geliefde vriende. Ek hef ook alle verbindings op wanneer ek dig.


9. Hou die aanwend van tegnologie beperkinge in vir digter in of verruim dit seggingskrag?  

Dit verruim die seggingskrag bepaald. Dit gee nuwe metafore vir die digter, maar ek dink nie ons het al die impak hiervan op ons onbewuste volledig begryp nie.


10. In “Adrienne Rich” stel die digter die vraag: “Hoe versoen ‘n mens ‘n labirint met ‘n atlas?” Is reispoësie ‘n antwoord op hierdie vraag of verdiep die vraag juis aan die hand van die gedigte? 

Rich is die groot Amerikaanse lesbiese digter en ek vind aanklank by haar digkuns. My bundel Donker labirint tree in gesprek met haar en Erica Jong, ‘n straight vrou, oor die liggaamlike en oopskryf van feminiene ruimtes wat binne ‘n manlike kanon dikwels geïgnoreer is. Maar ons het Eybers, en natuurlik veral Antjie Krog wat vreesloos hierdie ruimtes oopgedig het. Die gedigte in Afrikaans “reis” na die gedigte binne die ander taallandskap. My vers aktiveer ook die bundel Verdraaide raaisels, my reisbundel oor Suid-Amerika.


11. Die bundel is opgedra aan Johann de Lange en jy verwys ook na hom in van die verse. Vertel asseblief iets van jou waardering vir sy werk en het ‘n manier van doen waarby jy aansluiting vind.

Wel dis alles De Lange se skuld dat ek dig. Hy het my eerste verse in Standpunte gelees en my toe aangemoedig om verder te gaan. De Lange is ‘n gespreksgenoot en vriend. Ons respekteer mekaar as digters. Ons is egter nie ‘n Siamese tweeling nie. Ons verskil oor geweldig baie kwessies, maar ons het ‘n diepe lojaliteit teenoor en waardering vir mekaar. Ek skryf dan ook ‘n uitgebreide studie oor sy werk, omdat ek dink hy is ‘n besondere en kompromislose digter. Nagsweet. Wie kan dit ewenaar? Hy is ‘n baie wyse man met ‘n sterk “bullshit detector” wat veral die eendagvlogies en tsetsevliegies van ons bedryf netjies kan uit-Doom.


12. Het die indelings van die bundel organies tot stand gekom of het jy die werk aan die bundel streng programmaties benader?

Die bundel is geskryf tydens die werklike reis. Daarna is dit georden met “ soort-soek-soort”-aanslag. Dus chronologies die stede, daarna die meditasies oor die self wat veral na die reis ontstaan het. ‘n Handvol is uitgegooi, omdat hulle gewoon nie die paal gehaal het nie. Wanneer ek ‘n bundel saamstel, lees ek dit afstandelik as kritikus asof ek dit nie geskryf het nie. 


13. Ek kry die indruk die gedagte aan die stad kry vir jou telkens ‘n speurende karakter, iets waarin sowel die eksistensiële en die postmoderne tuis is (as mens dink aan Paul Auster se New York Trilogy). Is die drome in die bundel verlengstukke van die stedelike ervaring of is dit as iets afsonderliks te begryp?

‘n Moeilike vraag. Ek noem die digter ‘n semioot en speurder. Ek dink hierdie bundel is meer eksistensieel gedrewe soos die titel bedui. Hierom die gesprek met Freud, et al., en die verwysings na drome. Die leser mag natuurlik iets anders raaksien of inlees. 


14. Waaraan werk jy tans?

 ‘n Bundel wat heet Matriks.


 II

Ter voorbereiding van die onderhoud, lees ek weer Erica Jong se Selected poems II (Granada, Londen) wat in 1980 verskyn het. Hierdie digter het ‘n geweldige invloed op my psige gehad en haar vele briewe aan vrouedigters soos veral Sylvia Plath en Anne Sexton het my aangespreek.

In Loveroot (1975) verskyn hierdie vers oor (nee vir) Sexton:

Dear Anne Sexton 
On line at the supermarket
waiting for the tally,
the blue numerals
tattooed
on the white skins
of paper,
I read your open book
of folly
and take heart,
poet of my heart.

The poet as a housewife!
Keeper of steak & liver,
keeper of keys, locks, razors,
keeper of blood & apples,
of breasts & angels,
Jesus & beautiful women,
keeper also of women
who are not beautiful 

you glide in from Cape Ann
on your winged broomstick-
the housewife's Pegasus.

You are sweeping the skies clear
of celestial rubbish.
You are placing a child there,
a heart here. . . .
You are singing for your supper.

Dearest wordmother & hunger-teacher,
full professor of courage,
dean of women
in my school of books,
thank you.

I have checked out
pounds of meat & cans of soup.
I walk home laden,
light with writing you.

In my jongste bundel dig ek soos volg oor hierdie merkwaardige vrou wat uiteindelike ook suicidaire is:

Anne Sexton (1928 – 1974)

Soveel foto’s van jou:
weerlose vrou sittend,
die een toon ópgelig;
op ’n ander afdruk rook
jy ’n sigaret, dwarrel-wolke
verbloem jou mooi gesig,
terwyl jy voorlees: ’n gedig
uit The awful rowing toward God.
Jy kon glo ander na-aap,
iets anders speel, vertolk as jyself:
die digter met die klap van ’n vinger,
uitlokkend, uitdagend, dáár.
In verse sonder aanhalingstekens
soos ’n manlike kritikus jou sou verwyt:
“Notice how he has numbered the blue veins
in my breast. Moreover there are ten freckles.”
Jy sou dig oor die lykbesorger wagtend op jou,
die duiwel, ’n vet Lasarus in ’n rooi pak. Mr. Mine.
Jy was altyd in twee verskeur. Nadoods
word jou verse en terapie-sessies allemansgoed.
“Riding the elevator in the sky”, verby, verby
warrelende, dralende gas met ’n sleutel in jou hand.
“that opens something –
some useful door –
somewhere – 
up there.”


III

Anne Sexton: Controversy Surrounding the Biography

Die kontroversie rondom Diane Wood Midlebrook se biografie en die bekendmaking van konfidensiële bande (“tapes”) van  haar psigiater dr. Orne bly ‘n vraagstuk. Sexton se insestueuse fantasieë oor haar vader en tante is alombekend. Trouens, dit staan reeds in haar gedigte. Sy is alreeds ‘n “open book” soos Jong dan tereg dig. 

Uiteraard het die psigiater etiese kodes oortree – terselfdertyd staan vele van haar ellendes opgeteken in haar verse. Vir Jong, vir my en ook vir Johann de Lange (en vele ander) is sy egter ‘n digterlike inspirasie, juis omrede haar genadelose afbreek van grense.

In sy reeks pa-verse is hierdie een waarskynlik die dwingendste vers van De Lange uit Snel grys fantoom (1986):


Pa
Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.
Anne Sexton

Ander miskien nie maar ek onthou
dat jy 'n bouer was
met groot hande wat steen
op steen kon pas,
so sekuur was in wat jy doen
en tog tuis alles kon verbrou.

Maar ek vergewe jou.

Die hart hou sy eie almanak.
Stene kon jy beter as woorde vat:
skielik was daar 'n wolkekrabber,
'n padkafeetjie langs die pad;
kon lugkastele bou, na cowboy-flieks gaan kyk,
of vuurhoutjiepatrone op my Bybel plak.

Maar ek vergewe jou.

Ander aande het jy mandrax gedrink 
en vroeg gaan slaap, moeg, 
die woonstel onherbergsaam gemaak 
met jou hortende asem. Die kroeg, 
enklave waar jy kon ophou kwel, 
het sy grys vergetelheid geskink.

Maar ek vergewe jou.

Ek het soveel van jou liefde verwag,
asof dit sement was
wat ons almal bymekaar moes hou.
Ons kon nooit juis waterpas
oor sake sien nie:
ek was haaks en jy was veels te sag.

Maar ek vergewe jou.

Hoe gaan ek daardie trotse onbegrip
ooit weer agterhaal, die gebroke huis weer heel?
My dapper swye verbreek ek nou,
en mag die onvolkome stene my nie faal.
Onbeholpe cowboy van my jeug,
jou naam bly leef in klip.

Ander miskien nie maar ek onthou.

7 April 1936 - 16 Mei 1975


So lui die pakkende slot van Sexton se "All my pretty ones".

I hold a five-year diary that my mother kept 
for three years, telling all she does not say 
of your alcoholic tendency. You overslept, 
she writes. My God, father, each Christmas Day 
with your blood, will I drink down your glass 
of wine? The diary of your hurly-burly years 
goes to my shelf to wait for my age to pass. 
Only in this hoarded span will love persevere. 
Whether you are pretty or not, I outlive you, 
bend down my strange face to yours and forgive you.

Daar is geen vergifnis, ook nie by De Lange nie. Hierom verse wat by herhaling oor die vaderfiguur se voortydige dood handel en die digter se verwerking hiervan.