Showing posts with label Tom Dreyer. Show all posts
Showing posts with label Tom Dreyer. Show all posts

Tuesday, May 23, 2023

Onderhoud | 13 vrae aan Tom Dreyer | 2023

Hartlik geluk met Nou in infrarooi (ISBN: 978 07957 10728 Kwela, 2023) wat my absoluut aanspreek.

1  In 1997 debuteer jy in Nuwe stemme I met netjies afgeronde verse. Hierna verander jy in ‘n prosaskrywer. Ons letterkundige sisteem kan nie eintlik skrywers hanteer wat van een genre beween na ‘n ander nie.

Waarom nou poësie? 

Baie dankie vir die geleentheid om met jou te gesels, Joan. Ek skat ‘n eerste antwoord is dat poësie vir my ‘n terugkeer na ‘n eerste liefde was. Stories was my nog altyd na aan die hart, maar op ‘n sekere vlak was my bekoring in die eerste plek met woorde – hoe hulle lyk, hoe hulle klink, hoe hulle met ander woorde saamspan om ‘n mens te laat voel eerder as verstaan. Ek onthou hoe ek in my kinderdae mooi woorde en frases versamel het. Tydens die skryf van Nou in infrarooi het ek die euforie van my eerste verse herontdek (hopelik sonder die jeugsondes!), en ek het selfs gewonder of my pad deur die prosa nie dalk ‘n ompad was nie. Maar ek skat ‘n beter antwoord is dat die poëtiese impuls my nooit regtig verlaat het nie. Dit het eerder uitdrukking gevind in my prosa. Resensente het nog altyd die filmiese aard van my skryfwerk benadruk, en slegs per geleentheid iets oor my poëtiese bemoeienisse te sê gehad. Maar vir my was 'n roman soos Equatoria net soveel 'n liriese  besinging van die oerwoud as 'n beskrywing van die lotgevalle van die twee avonturiers. Hier was Chris Barnard se Mahala vir my ‘n inspirasie, daardie lieflike roman wat op die snykant tussen prosa en poësie beweeg, en waarin die bos self ‘n hoofkarakter word. Terloops, dit was vir my besonder verblydend dat toe die Britse uitgewery Aflame Books in 2009 twee Afrikaanse boeke gekies het om in vertaling uit te gee, een van hul keuses Mahala en die ander Equatoria was. Dit het gevoel asof iemand gesnap het wat ek probeer doen. 

 

2  Jy skryf romans, rubrieke en kortverhale. Watter genre spreek tot jou?

Soos hierbo genoem was daar van meet af aan ‘n liriese onderstroom in my prosa (ofskoon dit in sekere tekste meer sigbaar is as in ander). My terugkeer na poësie het na ‘n soort tuiskoms gevoel, ‘n herontdekking van wat presies my hart vinniger laat klop. Hierdie proses was reeds tydens die skryf van Kodachrome vir my waarneembaar. Daardie kort tekste het ‘n gebrek aan uitgesponne vertelling en roteer tipies rondom ‘n sentrale flits of gebeurlikheid – en begin daarom mik-mik in ‘n rigting wat vir my na poësie voel. Op meer as een geleentheid, nadat ek een van hierdie flitse voltooi het, het ek Vasti trompop geloop met die mededeling dat skryf lanklaas vir my so lekker geskop het. En tog, having said that, daar wag meer as een halwe roman op my hardeskyf …  Maar dit voel asof my pad daarheen eers deur nog ‘n digbundel of twee sal kronkel. 

 

3  Jy het nogal ‘n indrukwekkende lys op jou kerfstok:

  • 1998 Erdvarkfontein (roman)
  • 2000 Stinkafrikaners (roman)
  • 2006 Equatoria (roman)
  • 2007 Polaroid (kortverhale)
  • 2016 Dorado (roman)
  • 2016 The Long Wave (Engelse roman)
  • 2022 Kodachrome (rubrieke)

Dikwels is jou verhale oor buitenissige figure of outsiders. Kommentaar.

Ek vermoed my voorliefde vir randfigure is grotendeels ‘n produk van hoe ek aanmekaargesit is. Ek kan nie onthou dat ek ooit om strategiese redes ‘n outsider as karakter gekies het nie. Maar op ‘n tegniese vlak maak randfigure wel ‘n perspektief op ons leefwêreld moontlik wat moeilik vanuit die sentrum verkry kan word. In die hart van ‘n woud, sien jy weinig meer as stamme. En ‘n ander beeld meld sigself aan: ‘n fotograaf wat afbuk of oorbuig om ‘n foto uit ‘n ietwat ongewone hoek te neem. Die gevolg van hierdie vreemdmaking is om ons meer stip te laat kyk, en hopelik intenser te laat ervaar. Die gewone lewe met sy roetine en voorspelbaarheid sus ‘n mens aan die slaap. Die alledaagse is uiteindelik helaas alledaags. Eers wanneer jy iets uit die hoek van jou oog vang, sit jy soms regopper en begin aanvoel dat wat jy as ‘n onveranderbare dimensie van die werklikheid beskou het eintlik kontingent mag wees. Die buitenissige, die flambojante, die groteske kan adrenalien in ons are spuit. Ek herinner my dat Ian McEwan eens gepraat het oor hoe moelik dit is om boeiend oor ‘n doodgewone, gelukkige mens te skryf. Sy roman Saturday was inderwaarheid ‘n uitdaging aan homself om presies dit te vermag. En sy poging is geslaagd, maar dit voel vir my na ‘n uitsondering op ‘n reel. En dalk is dit nie heeltemal toevallig dat etlike bisarre gebeure wel hul pad tot in hierdie roman vind nie.

 

4  Jou gedigte besoek verskillende landskappe, hier en elders, maar dis veral die landskap van fantasie wat jy as digter ondersoek. Die droom, die herinnering, die onopgeloste konflik wat in die psige woed en in die gedig uittuimel.

Kommentaar.

In my verse is innerlike en uiterlike landskappe selde volledig van mekaar te onderskei. Daar bestaan ‘n wisselwerking. Geen plek is eenduidig nie; dit dra altyd die herinnering van ander tye op daardie selfde plek, of selfs op gans ander plekke - want ons staan altyd onder die ban van assosiasies – en ons toentertydse gevoelens en gewaarwordings.  Soos water wat van een houer na ‘n ander gegiet word, word die huidige bemiddel deur alles wat dit voorafgegaan het, en die lokale word bemiddel deur wat op verafgeleë plekke gebeur of gebeur het. Ek noem in een van my verse die hede  “’n gesprek wat die werklikheid met sigself voer” en ek skat dat alle tye en plekke in die agtergrond saam-mompel. Hierdie voel na een van die bemoeienisse van my digkuns: om te probeer uitwys hoe ons aandring om ‘n kontinue wêreld in diskrete kategorieë in te deel, terwyl alles inderwaarheid op ‘n spektrum lê, of selfs nouer verwant as op ‘n spektrum - soos ek dit in gedig “die subteks in jou asemhaling” stel: “hiermee probeer ek kortliks verduidelik / dat elke onderdeel die res impliseer.” Minder gebruiklike indelings van die werklikheid is moontlik, en op ‘n sekere vlak, hoop ek, funksioneer my gedigte as prikkels tot hierdie gewaarwording. Alternatiewe taksonomieë, soos Borges se “speenvarke, sirenes, fabelagtiges … [en diere] wat van ver af soos vlieë lyk” voel slegs absurd vir mense met ‘n gebrek aan verbeelding.  

 

5  En die woord uittuimel is tersaaklik, want ons vind Peter Higgs se idee van die boson. Of Juri Gagarin, die eerste ruimtevaarder geplaas teenoor Ferdinand Magellaan, die ontdekkingsreisiger wat oor die Atlantiese Oseaan na die Straat van Magellaan en oor die Stille Oseaan gevaar het.

Waarom hierdie belangstelling in die wetenskappe, fisika, maanreise, ontdekkingsreisigers?

Daar is ten diepste in die filosofie eintlik maar net twee vrae: waarom bestaan daar enigiets eerder as niks? En wat is die aard van dit wat bestaan? Wat die eerste vraag aanbetref staan ons eintlik maar nog in dieselfde wegspringblokke as ons Griekse voorgangers twee millennia gelede. Met die tweede vraag, wat aan die hart van die wetenskap oftewel natural philosophy lê, het ons dramatiese vordering gemaak. Dalk is my verwondering met die wetenskap uiteindelik ‘n soort gedoemde poging om ook sin van die eerste meer metafisiese vraag te probeer maak. Want uiteindelik voel dit vir my asof ons seker kan wees van bitter min dinge, naas ons eie liggaamlikheid en die teenwoordigheid van objekte, en dalk, net dalk kan ‘n analise van hierdie objekte ons nader bring aan ‘n verstaan van wat hierdie dinge – en ons - in die eerste plek hier soek. Ja, ek weet hierdie is ‘n gedoemde versugting, maar ‘n mens kan tog probeer. Partykeer voel dit vir my die doel van die vuurpyle en verkenningstuie wat ons in die ruimte uitstuur, uiteindelik  maar is om meer oor onsself te wete te kom. 

 

6  Met die voorlees van jou gedigte is die klankmatige aspek van jou gedigte opvallend. Ek dink hier aan “middag in sabrosa” (65). Vertel iets van die ontstaansgeskiedenis van die gedig.

“Middag in sabrosa” is weliswaar die gedig waar Ferdinand Magellaan betrek word. Ek en Vasti was op ‘n ietwat lukrake reis deur die noorde van Portugal (want lukraak is die beste manier van reis). Ons het een aand in die dorpie Sabrosa in die Douro-vallei deurgebring, en reeds met die eerste uitkyk deur ons herbergvenstertjie, het ‘n imposante suil voor die oorkantste huis my opgeval, merkbaar uit voeling met die agtergeblewenheid van die res van die dorpie. Ek het uitgestap en op ‘n plaatjie gelees dat Ferdinand Magellaan in 1480 in daardie huis gebore is, Magellaan, wat aan die roer was van die eerste vaart om die aarde. En skielik was dit asof ek deur twee stelle oë na die wêreld kyk, myne en Magellaan s’n, en daardie wêreld was eweneens verdubbel: die terrasse en winderde en vergesigte oor die Douro wat ek met my eie oësien, en die – grotendeels onveranderde - terrasse, wingerde en vergesigte wat Magellaan eens begroet het. Vir die res van daardie dag het ek in ‘n soort waas voortgestu, soos Magellaan oor seestrate, en toe ons die aand by ‘n straatkafeetjie eet  en Vasti ‘n bootjie uit ons restaurantrekening vou, het ek geweet dat hierdie dag ‘n vers wou word.

 

7  Jy het die AVBOB-prys gewen in 2019 vir jou roerende gedig oor Jaco Botha, skrywer en tydgenoot. Hierdie is ‘n lykdig wat die besondere band tussen julle verbeeld.


slaap jy solank, dan hou ek die fort

vir jaco botha (1972– 2016)


beteuterd soos twee pienk kwitansies

pas ontvang vir twaalf kopieë

van ons ma-verhandelings

dwaal ek en jy na die middel-kampus

van uct platane platane en ʼn flitsblik

van die see ek onthou hoe jy daai aand

in ons gehawende flat digby de waal-park

mooitjies ʼn sigaret uit jou kwitansie rol,

sodat jy weer behoorlik kan asemhaal

ek sien jou soms steeds dáár

te hyper om lekker te sit dalk daarom

deurlopend op soek na iets om aan te steek

of dood te druk of ʼn radio om aan te peuter

of failing all else ʼn liggaamsdeel om aan te krap


onthou jy die nag toe ons meer as enigiets

die more wou sien breek oor magersfontein?

met die wegtrek het jy nonstop gepraat

oor die verskille tussen fisante en patryse,

maar skuins ná drie was die maan kil

oor clanwilliam se water die more ver

patryse net so stom soos fisante

ons was koud en moerig

vir onsself maar meestal vir mekaar

 

onthou jy die week toe ons op rys en mayonnaise

oorleef het, of die keer toe ons die agtersitplekke

van my alfa uitgehaal het op soek na kleingeld

vir checkers se goedkoopste sigarette?


ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis

staan en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla

dis gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel

nes daai aand by die kknk toe jou trane soos whisky

op die kroegtoonbank spat, en jy sê: kom ons gaan slaap

eerder, tom, dan is ons ten minste nie meer wakker nie.

ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag

is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys

intussen sal ek nog vir ʼn rukkie dié kant die fort probeer hou

solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank

 Ook in “herbesoek aan hofpark” (56) is hy weer openlik daar. Dit is ‘n sentrale gedig waarin jy refleksies, skadu’s en flitse as metafore gebruik.

Hermeties of hermeneuties? 

Min dinge het my al so hard geslaan soos die dood van my vriend, Jaco Botha. Moontlik vanweë die komplekse aard van ons vriendskap, waarin kameraadskap en gedeelde passies, net so hard gepraat het soos wedywering en ‘n soort deurlopende psigiese struweling. En nou sou daardie onopgeloste dinge vir ewig onopgelos bly. Ná sy dood het LitNet en etlike koerante my gevra om iets oor hom te skryf, maar ek kon nie, en het eers met “slaap jy solank, dan hou ek die fort”, twee jaar later, sy dood en lewe onder woord probeer bring. Ek verstaan dit self maar net ten dele, maar hierdie gedig was ‘n soort sleutel, wat ‘n gesonder verstaan en onthou van ons vriendskap ontsluit het. Jy vra hermeties of hermeneuties, en ek is self nie heeltemal seker nie. Ek weet net dat die refleksies en skaduwees waarvan jy praat, en die flitsbeelde uit my en Jaco se gedeelde geskiedenis, uiteindelik ooreenkomste met die roumateriale van die alchemis vertoon, materiale wat jy kan saamvoeg om tot groter insigte te kom as wat jy uit die oomblikke self sou voorspel. En wat die tweede gedig, “herbesoek aan hofpark” aanbetref, is hermeneutiek dalk die juiste woord. Want hier gaan dit pertinent oor ‘n teks wat gemyn word vir insigte. Die teks is ‘n ongepubliseerde, en in die woorde van ‘n bekende redakteur “magistraal onpubliseerbare” roman, Skuins voor Armageddon, wat ek en Jaco tydens ons studentejare geskryf het, in daardie einste Hofpark, terwyl ons eintlik aan ons onderskeie MA-verhandelings moes werk. In hierdie gedig word aspekte van die roman, wat parallelle vertoon met my en Jaco se situasie toentertyd, en ook met wat uiteindelik van ons sou word, as sleutels ingespan om ons tweespel te probeer verhelder. Maar, hierdie verheldering het sy perke, want die roman is na alles ongepubliseer, en aan die leser onbekend.  Dit funksioneer daarom as ‘n soort private taal tussen my en Jaco,  iets geheimsinnig en verborge, vol simbole en betekenisse wat die leser maar net kan raai. Want sekere lewens en vriendskappe laat hulle nie so maklik vasvat nie. 

 

8  Waarom is Hunter S. Thompson so tersaaklik vir jou? Wat maak jy van Fear and Loathing in Las Vegas?

‘n Mens se voorkeure is nie altyd rasioneel nie. Sekere dinge raak deel van jou innerlike argitektuur vanweëomstandighede wat wyer strek as net die objektiewe meriete van die kunswerk self: waar jy was toe jy dit die eerste keer teëgekom het, saam met wie, en hoe jou lewe toe daar uitgesien het. Een van die dinge wat so in my kop kom nes skrop het, tussen Eet Kreef, Pulp Fiction, Nirvana se Nevermind en Virginia Woolf se To the lighthouse was Hunter S Thompson se seminale artikel, The Kentucky Derby is decadent and depraved. Daarna sou ek die man baie dinge vergewe. En laat ons maar eerlik wees, daar ís baie om te vergewe. Op sy beste werp hy ‘n skreiende lig op die hede op ‘n wyse wat weinig hom kan nadoen. Ander kere laat hy my dink aan die keer toe ek op ‘n trappie in Rome gesit het, teneergedruk omdat die oorryk truffle-toebroodjie wat so wonderbaarlik begin het, so liederlik kon eindig. Ek vind die fliekweergawe van Fear and Loathing in Las Vegas onkykbaar, maar hiervoor kan ‘n mens beswaarlik vir Hunter blameer. Uiteindelik spook hy by my omdat hy by my spook, en sy spore lê oor my verse. 

 

9  Behalwe vir die obsessie met landskappe is daar ook ‘n bemoeienis met taal (en semantiek). Katrina Esau, verskillende name vir voëls (soos in “mond tot mond”, 64). Is dit dalk jou filosofie-agtergrond wat hier inspeel?

Ja, ‘n bemoeienis met taal en semantiek is beslis ‘n kenmerk van die bundel. En ek dink jy is reg, in sekere gedigte speel my agtergrond in taalfilosofie sekerlik ‘n rol. Ek dink hier byvoorbeeld aan ‘n gedig soos “onvoldoende woorde oor johnson, vermont” waar ‘n woord soos “naaldys” waarmee ‘n mens hierdie wêreld probeer vasvat, beskryf word as ‘n “sinekdogee” wat die “stil pad waar lorriedrywers hul pette lig” makeer, en “die haarnaalddraai waar vermont sy hoogste piek aan my onthul”. Hier skemer iets deur van die ontoereikendheid van signifiers wat eindeloos heenwys na mekaar, sonder om regtig by die werklikheid uit te kom. 

Maar ek moet dadelik byvoeg dat hierdie bemoeienis met taal dikwels op ‘n veel meer speelse en emotiewe vlak geskied as op die koue hoogtes waar die filosofie sy ding doen. Ek het byvoorbeeld iewers ‘n lys van 67 Nederlandse sinonieme vir ‘n liewenheersbesie teëgekom en hierdie name was gewoon vir my so wonderlik en ewokatief dat hulle terstond tot ‘n gedig vervloei het.

 

10  Ek lees Boerneef raak in soos onder andere in “spook & diesel” (50). Waarom Boerneef? Die woordeboekman wat kon speel met taal het tans ‘n herlewing by verskillende digters. 

Kommentaar.

Jy is ‘n stip leser, want ja, ek dink Boerneef boer in die agtergrond van etlike verse,  soos “spook & dieself” waarna jy verwys, of “lepelhond”. Laasgenoemde het ek eenkeer by ‘n poësieaand voorgelees, waarna ‘n mede-digter gebrom het: “dit klink asof jy Boerneef channel”. Ek vermoed hy het dit neerhalend bedoel, maar vir my was dit ‘n kompliment, want ek het ‘n groot liefde vir Boerneef. Die uitbundigheid van volksname bruis deur sy verse, die ontembaarheid van liewenheersbesies wat nooit volledig benoem kan word nie. 

 

11 Jy skryf roerende, komplekse liefdesgedigte soos byvoorbeeld “die subteks in jou asemhaling” (34). Hoe sien jy ‘n liefdesgedig? Soos Watermeyer?

Die liefde is die bitter glas,

die droë glas, die donker glas;

die liefde is die naverdriet

wat in die hart se holte pas.

Of is dit net ‘n gedig soos enige ander gedig nie noodwendig tot ‘n Ander gerig nie?

Ek het nie regtig ‘n oorkoepelende teorie oor liefdesgedigte nie – eintlik nie oor enige gedigte nie, maar veral nie oor liefdesgedigte nie. Met ‘n liefdesgedig, voel dit vir my, is jy bitter naby aan jou skade. Die intensiteit van ‘n mens se gevoelens waarborg allermins die kwaliteit van jou skrywe. Trouens, by die lees van liefdesgedigte voel dit dikwels vir my asof die teenoorgestelde eerder die geval is. Die liefdesversskrywer loop altyd die gevaar om in ekkerigheid te verval,  in onserigheid, of soetsappigheid, of kitsch gepynigdheid. ‘n Geslaagde liefdesvers vra behendige voetwerk; jy maak jouself weerloos en kan maar net hoop dat wat jy al oor die liefde, die lewe en die poësie kon wysraak, jou oor hierdie dun bruggie sal dra. Van die jy’s in my liefdesverse is generies, soos ook in my ander gedigte, maar die bundel is aan my vrou, Vasti, opgedra en etlike van die liefdesgedigte is spesifiek aan haar gerig. 

 

12  Nick Cave is hier. Hy verwys na Wallace Stevens in een van sy songs. "And the waves, the waves were soldiers moving" in "We Call Upon the Author". Uit Stevens se "Dry Loaf". Hoe voel jy oor Stevens?

Vir Nick Cave het ek ‘n sagte plek. En van Wallace Stevens hou ek, al vind ek hom dikwels haas onverstaanbaar.  Of dalk is dit juis waarvan ek hou. “Thirteen ways of looking at a blackbird” tel onder my gunsteling gedigtitels. En enigiemand wat ‘n formeel problematiese reël soos “The bird's fire-fangled feathers dangle down” kan laat werk, verdien my respek.

 

13  Hoe maak jy ‘n lewe? Het dit ‘n invloed op jou skryfwerk?

Ek is ‘n rekenaarprogrammeerder en die direkteur van ‘n IT-maatskappy. Ek skryf simulasie-sagteware, hoofsaaklik vir Amerikaanse en Duitse ingenieursmaatskappye. Wanneer skryfwerk vir my te veel word, bied programmering ‘n ontvlugting. En wanneer programmering my onderkry, is skryf soos ‘n waterryke halte langs die pad.

 

© Joan Hambidge

Wednesday, November 2, 2016

Tom Dreyer – Dorado (2016)


Tom Dreyer – Dorado. Penguin, 2016. ISBN 9781415208984

Resensent: Joan Hambidge

Water, son en sigarette

I
Tom Dreyer is die skrywer van Erdvarkfontein, Stinkafrikaners, Equatoria en het in Nuwe Stemme 1 gedebuteer as ‘n digter om dop te hou. Daar het ook kortverhale uit sy pen verskyn en hy het kreatiewe skryfwerk onder Etienne van Heerden aan die UK gevolg en aan die Universiteit van Iowa die skrywersprogram gevolg. Hy is bekroon met die Eugène Maraisprys.

Deur die jare het ek gereeld op sy tekste gereageer – met entoesiasme. (WoordeWat Weeg | Tom Dreyer. Besoek 30 Oktober 2016).

Die roman Dorado, uitgegee deur Penguin, word as ‘n magiese roman bemark: “so tergend en onpeilbaar soos die sterrehemel van die Karoo”. Op die buiteblad word dit deur Willem Anker bemark as ‘n ontmoeting tussen David Lynch en Wim Wenders sou hierdie twee filmmakers ooit ‘n road movie hier kom skiet. Hy skryf: “Tom Dreyer ken die taal wat teerpad praat.”

Die verwysing na hierdie twee filmmakers is in die kol. Lynch se verwringing van die werklikheid wat dikwels ‘n nuwe realiteit open en Wenders se keiharde analise van verbrokkelde drome (Kings of the road in 1976) en verlooptheid soos in Paris, Texas (1984) word dus geaktiveer deur die omslagwoorde as ‘n soort subliminale aanwysing.

Die mahi-mahi

Dorado (dolfynvis / mahi-mahi) is ‘n vis wat van kleur verander buite die water. Dit is ‘n pragtige vis en ook bekend daarvoor dat dit ontsettend vinnig groei. Die vis word ook geassosieer met Hemingway se The old man and the sea. (Wikipedia | Mahi-mahi. Besoek 2 November 2016).


II
Gilbert du Toit verwerk die dood van sy pa. Hy probeer tot rus kom in Kuilsriver, PE en in die Karoo. Sy waarneming word aangetas deur sy medikasie: “Snellerien is vir Gilbert net ‘n woord; hy weet nie dat dokter Menkowitz se pille deurspek is daarvan nie, ook nie na dat dit, na gelang van die dosis, óf euforie óf stuiptrekkings kan veroorsaak nie. Hy weet net dat hy verrassend goed voel toe hy ‘n paar ure later by die Springbok bar insweef …”(20).

Die roman speel ‘n besondere spel met die leser rondom waarneming. Wat is waar? Wat is verbeel(d)? Waarskynlik is die kode van die Dorado hier van belang wat van kleur verander.

Gilbert is in outydse romanterme, ‘n onbetroubare verteller. Oor die sogenaamde storyteller-as-liar is daar al baie geteoretiseer, en die Lynch- en Wenders-kodes aktiveer eweneens ‘n spel hiermee. By Lynch is selfs die kamera nie te vertrou nie, soos ons weet uit Žiżek se analises in The pervert’s guide to the cinema. ‘n Meisie sing op die verhoog; maar dis nie sy nie; dis ‘n geblikte stem.

Woonstelblokke is met opset verkeerd genommer.

Gilbert dink aan die kartonknipsels uit sy jeug waardeur ‘n mens jou kop steek om in iets anders te verander (34). Die helioskoop word betrek (35) en telkens moet die leser uit die inligting oor visse en fossiele en parke kophou om die verhaal te navigeer. Hierom word daar verwys na ‘n teodoliet. (En ‘n semantiese studie van H. J. Snyman gebruik die teodoliet as metafoor.)

Die verbintenisse tussen dinge (J. H. H. van den Berg se metabletika) en Blunt se Fossil Reptiles of the Karoo, die Boereoorlog en die spel tussen klein menslike geskiedenisse en die groter historiese werklikhede, maak van hierdie roman iets besonders.

Wie kyk? En bestaan dít wat ons sien? Of is Gilbert se obsessie met visse en reptiele tersaaklik?

Die leser ervaar ‘n oorrompelende spanning tussen werklikheid en fantasie by die Groot-Karoo Musiekfees. En daar is die Howlers.

Gilbert is getraumatiseer (What is eating Gilbert Grape?) na die dood van sy vader en sy houvas op die realiteit is ietwat prekêr. Die roman het ‘n sterk filmiese kwaliteit. (Die roman spruit voort uit die teks Polaroid lees ons in die nawoord, en Dreyer se gebruik van die kamera en foto is dus bekend.)

Ook die ervaring van musiek op die hoofkarakter se psige word puik beskryf (88). Dit gaan dus telkens om ‘n primordiale geroer en die soek na patrone in hierdie roman.

III
Die eerste afdeling “El Dorado lê ver” word opgevolg met “Fortuna”. Dan is daar “Op besoek vanaf ‘n verre rif” (wat die visbeelde aktiveer).

Fortuna op Latyn is die godin van geluk: goeie of slegte geluk.

Natuurlik stuur hierdie roman op laasgenoemde af. Ek wil nou nie hier spoilers gee nie, maar ‘n ongeluk – briljant beskryf – aktiveer ‘n jeugtrauma (107 – 111).

Dit lewer uitstekende kommentaar op die binnespraak van die apofeniese persoon wat in sy hallusinasies boodskappe raaksien.

En die impak van medikasie op waarneming.

Filmies, helder, aangrypend. En so slim gekonstrueer: visse en verwysings; hallusinasies en die Ichtus-beeld. Dis ‘n boek oor ‘n verslingerde reis in die herinnering; een van verglyding en verwoesting. As die roman ooit verfilm word, moet Johnny Depp beslis Gilbert vertolk!

‘n Aangrypende, uitstekende roman geskryf in poëtiese prosa. 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Tuesday, March 26, 2013

Tom Dreyer - Stinkafrikaners (2000)



Tom Dreyer. Stinkafrikaners. Tafelberg Uitgewers, 2000. ISBN 0624038556.

Resensent: Joan Hambidge

Dis nie 'n boek vir sissies nie. So waarsku die mediaverklaring wat ook weet te vertel dat hierdie boek herinner aan Raymond Chandler en Quentin Tarantino. 'n “Oop” teks dus in Umberto Eco (The role of the reader) se terme, omdat die leser kan oorinterpreteer.

En die mees uitdagende aspek van die postmodernisme is dat dit juis die verhewe letterkunde wil gelyk stel aan die populistiese. Tom Dreyer gebruik die thriller om sy storie te vertel.

Die genre van die thriller is alreeds deur Jerry Palmer (Thrillers - Genesis and structure of a popular genre, 1978) deeglik onder die loep geneem en Stinkafrikaners doen presies wat hierdie soort boek doen: elke aksie, beweging, gebaar van Joe Pereira is 'n vinjet. Net soos in James Bond-verhale. Ian Fleming se karakter (en nou praat ek van die romans en nie die films nie) se gedagtegang en maniërismes is 'n kortpad vir die latere gebeure.

Dis duidelik dat Tom Dreyer al hierdie skrywers ken. Sy boek lees lekker, dis goed geskryf. Dis net: na Erdvarkfontein en Stinkafrikaners is dit waarskynlik tyd om nou 'n nuwe rigting in te slaan. 'n Teks met meer diepte. Miskien is ek dan 'n sissie.

'n Sissie vir sub-teks en interteks. Vir iets meer as die gegewe van dwelmbase in die agterstrate van Parow. Dobbellisensies. Bendes. Koelbloedige moorde.

Wat is die punt van die roman?, vra ek myself. Miskien wil dit 'n anti-roman wees. Maar waarom dan die hoofstukindelings wat duidelik inspeel op die ouktoriële roman van die negentiende eeu. Die hoofstuk kondig as't ware die gebeure aan.

Miskien het ek net te veel Raymond Chandler gelees. En miskien het Jeanne Goosen met Ons is nie almal so nie die kultusboek oor Parow geskryf.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Sunday, February 17, 2013

Tom Dreyer - Equatoria (2006)



Tom Dreyer: Equatoria. Tafelberg Uitgewers, 2006. ISBN 9780624044437.

Resensent: Joan Hambidge

Tom Dreyer is die skrywer van Erdvarkfontein (1998) en Stinkafrikaners (2000). Hy is ‘n begaafde digter wat al sy buiging gemaak het in Nuwe Stemme 1. Hy en sy tydgenoot, Jaco Botha, skryf romans waarin die pop-aanslag opvallend is. Die roman het plek-plek ‘n Tin-Tin-aanslag! Hulle is beduidende beoefenaars van ‘n nuwe styl waarin die visionêre en die komiekstrip versoen word. Die navolgelinge van Quinton Tarantino se Reservoir Dogs en Pulp fiction.

Die jongste roman heet Equatoria en die leser word voorsien van ‘n fragment van ‘n kaart waarop Brazzaville, Quesso, Leopoldville en ander bekende name staan. Die hoofstukindelings is Iringa, Ikelemba, Ituri, Liwe, Lethe met erkennings wat nie deel uitgemaak het van die bladsyproewe wat ek onder oog gehad het nie. Hierdie naskrif is vir die leser van waarde en uit die polemiek rondom die Afrika-skrywer, Yambo Ouloguem se Le devoir de Violence (Bound to Violence). Wat die skrywer ‘plunder’ binne ‘n postkoloniale diskoers, maak vir die leser die teks óóp en dikwels is hierdie soort ‘diefstal’ van ‘n kultuur of leefwyse, ‘n soort oorwinning wat die leser moet verreken in die leeservaring.

Boonop is die openingswoorde al ‘n direkte verwysing (of gesprek) met ‘n toneel in Etienne van Heerden se In stede van die liefde waar die blou okapi in ‘n toneel verewig word. Hier vind ons ‘n versoening van die (mitologiese) eenhoring en ‘n soektog na die blou okapi in die Kongo.Vir die psigoanalitiese leser is dit relevant om te weet dat Dreyer ‘n student was van Van Heerden in ‘n kreatiewe skryfkursus aan die UK en hierdie kniebuiging en intertekstuele spel gee ‘n verdere dimensie aan die twee romans.

Daar word in die teks definitiewe erkennings aan bekende reisjoernale gegee en die roman wil kennelik die mitiese Afrikaanse reisvertelling (à la Elsa Joubert) op ‘n nuwe wyse aanspreek – by Dreyer is daar egter ‘n ander, amper neo-romantiese blik op Afrika.

Ons het hier bykans ‘n moderne Uit oerwoud en vlakte. Lees hier:”Op sy bed is hy weerloos teen die stroom geluide uit die oerwoud: die getjir van insekte, die minnesang van paddas, af en toe ‘n gesteun van seekoeie hoër op in die rivier...”(p. 31). Lees maar die reisgidse en donker Afrika word nou geromantiseer; dit is nie meer ‘n ruimte van wreedheid of barbarisme nie.

Of is dit?

Hierdie roman aktiveer vele mitologiese opvattinge oor Afrika op ‘n subtiele manier; o.a. die mites rondom Vigs en aapbloed (p. 44); die soeke na oerdiere, jagtogte, voorvadergeeste se beskerming; die ontstaan van dialekte...

Die beskrywing vn die ekspedisie om die okapi te vind, word besonder konkreet vertel. Loflik is die mitiese hantering van die gegewe en die verbintenis met die soeke na die Heilige Graal. Die verliesmotief  sowel die binnetrede van drome as die hunkering na die dood, word behendig hanteer. Tom Dreyer skep hier ‘n fyn netwerk van motiewe wat op ‘n bewuste en onbewuste vlak saamspeel. Joseph Conrad se Heart of darkness word in die herinnering geroep wanneer die Equatoria verskyn (p. 158).

Eerste negatiewe punt: die toneel rondom die opgrawing van die okapi is vir my smaak té melodramaties en hooggestem beskryf (p. 154).  En op bladsy 152 vind ons hierdie sin: "Dit was asof ‘n vlies tussen hom en die wêreld geskeur het, sodat hy weer een was met al die lewens van die bos, die trillende, bloeiende, ontsettende koor”. Om die okapi te verbind aan die poel van naamlose dinge en aan die primordiale mag só wees vir Willis, maar ‘n subtieler suggestie sou beter gewerk het as ‘n uitsê van die ervaring.

Tweede negatiewe punt: hier teen die einde begin die roman bykans parodies raak. Is dit dalk omdat die skrywer se soeke na die okapi (heilige graal?) misluk het? Of dalk omdat die simboliese gegewe só kompleks is?

Derde negatiewe punt: slotte is sleutels, het ‘n groot digter vemaan. Luister hier: "‘Ahooi!’, roep hy. Sy stem dryf laag oor die water, slaan vas teen die oorkantste oewer, en kom weer oor die water na hom toe terug” (p. 158)

Of wou die skrywer opsetlik ‘n eggo-aspek inwerk? Die eggo met ander skrywers en diskoerse? Terloops: dit is onbewuste, nie onderbewussyn nie.

Dis ‘n hoogs leesbare roman wat getuig van goeie navorsing.

Boonop loop die storie vlot, die eerste en laaste toets vir ‘n geslaagde roman.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Insig geplaas.]