Showing posts with label J.M. Coetzee. Show all posts
Showing posts with label J.M. Coetzee. Show all posts

Saturday, May 30, 2015

David Attwell - J.M. Coetzee and the Life of Writing (2015)


David Attwell - J.M. Coetzee and the Life of Writing. Jacana, 2015. ISBN 978 1 4314 2153 4.

Resensent: Joan Hambidge

David Attwell is ‘n gesiene literator, verbonde aan York Universiteit en ‘n voorste Coetzee-kenner. Ons dink hier aan Doubling the point (1992) met essays en onderhoude wat die weg gebaan het vir talle navorsers.

My gevoel oor Coetzee was nog altyd ‘n komplekse een: enersyds gebruik hy die werklikheid of lewe as ‘n vertrekpunt wat hy daarna inkleur en verander met komplekse fiksionaliseringsprosesse. ‘n Mens dink hier onvermydelik aan die magistrale roman The Master of Petersburg waarin Dostojefski die basis vorm waarteen Coetzee homself posisioneer. Andersyds negeer hy hierdie verband tussen lewe en fiksie.

En die kodewoord is hier kompleks, want ‘n letterkundige teks is nooit op ‘n een-tot-een vlak gelyk aan die werklikheid of die representasies daarvan nie. Imraan Coovadia se polemiese reaksie ‘n tyd gelede op die lewe van Coetzee het dit immers bewys toe Ian Glenn met klinkklare feite gekom het en hom verkeerd bewys het op Litnet. Die punt is egter: wanneer ‘n skrywer self ‘n persoonlike mitologie skep van “privaatheid”, dan skep dit paradoksaal juis meer gissinge. Veral romansiers begryp dit: kyk maar net wat maak Julian Barnes nie alles met Flaubert in Flaubert’s parrot (1982) nie.

In 2003 verower Coetzee die Nobelprys vir letterkunde en aan die UK is daar die Coetzee Collective. Min moderne skrywers het soveel aandag van kritici geniet as Coetzee self en die meeste van hierdie ingeligte of ideale lesers is deurgaans besig met ‘n (besitlike) gesprek met mekaar.

Attwell is duidelik daaroor dat ‘n mens hierdie studie, ‘n kritiese biografie, moet saamlees met die kreatiewe tekste van JMC.  Die outeur is uitgesproke daaroor dat nie alles van Coetzee se lewe tot uiting kom in sy werk nie en die bestudering van manuskripte in die Harry Ransom Sentrum aan die Universiteit van Texas, te Austin was die ondersoekterrein – net soos US se dokumentasiesentrum vir die Opperman-navorser die sentrale navorsingsentrum is.

Wat is “off stage” en wat is “centre stage”? Attwell het begin as ‘n MA-student onder Coetzee se begeleiding: hierna volg Doubling the Point (1992) en J.M. Coetzee: South Africa and the Politics of Writing (1993).

Die bonuspunt van hierdie boek is dat dit uiters vlot en toeganklik geskryf is. Attwell verwag dat die leser Kannemeyer se biografie (J.M. Coetzee: ‘n Geskryfde lewe, 2012) ken en hy fokus op die ragfyne drade tussen (die) lewe, intriges (soos sensuur) en die skryfproses. Die skrywer se taalidentiteit, wisselend tussen Afrikaans en Engels, word aangespreek. Coetzee se beroemde (berugte?) uitspraak teen Gordimer dat ‘n mens alleenlik krities mag wees oor Afrikaans en die Afrikaner as jy self een is, word ondersoek (43). Coetzee is ‘n histories gesien ‘n “Afrikaner”, ‘n persoon wat altyd met my vlot in Afrikaans gekommunikeer het as toenmalige kollega aan die UK. Sy taalidentiteit, nes al die ander “wisselinge van lywe”, is die voortdurende spel wat JMC met sy publiek speel as die enigmatiese, nie vaspenbare verkleurmannetjie. Dalk die beste voorbeeld van hoe ‘n skrywer homself kan “herskep”, ‘n nuwe identiteit kan skep? Van rekenaar-fundi, linguis tot gerekende postmodernis; ook dalk faux-biograaf.

En Attwell hou al die balle in die lug soos ‘n bedrewe jongleur. Hy skep moontlikhede, posisies, hy haal aan, hy wys op feite en latere implikasies in die skryfwerk.

Vir my is ‘n aangrypende afdeling oor die rol van sy moeder en hoe dit beslag gekry het in Age of Iron. Die pynlike verlies aan die moeder en die kartering van haar onregverdige posisie binne die gemeenskap met ‘n man wat haar nie genoegsaam kon ondersteun nie, word uitstekend ontleed. Juis hierom dan die erkenning aan die moeder by die ontvangs van die Nobelprys.

‘n Groot skrywer is altyd veel te danke aan sy lyfkritikus wat sy lewe, dokumente en uiteindelike werk verstaan en goed kan verpak vir ‘n leserskorps. So ‘n kritikus is uiteraard altyd die Ideale Leser, daardie een waarvan Wolfgang Iser praat.

Daar word afdrukke van notaboeke gegee en die migrasie tussen teks en lewe, ander tekste en eie tekste, vind dan beslag op “geleende” eksamenboeke van die Universiteit van Kaapstad. Waarskynlik omdat skryf uiteindelik ‘n proses van self-eksaminering is …

Miskien sou ‘n mens meer wou sien oor die verhouding met Paul Auster en hul uitruiling van idees? Die sentrale idee van hierdie studie is weliswaar die “face to face” met JMC. ‘n Skrywer wat telkemale ten spyte van persoonlike ellendes, soos die tragiese dood van ‘n kind of ‘n non-funsksionerende vaderfiguur, ‘n indringende en komplekse roman skryf. Mites rondom die outeur se vertrek na Australië word die nek ingeslaan. Die beplanning rondom sy vertrek het lank voor die ANC se kritiek op Disgrace gekom. Vir hierdie leser is Coetzee op sy beste in die reeds genoemde Master of Petersburg en In The Heart of the Country.

Dit is ‘n manjifieke boek. Met J.M. Coetzee as die formidabele akteur en David Attwell as die regisseur én souffleur. Hierdie boek analiseer die “inner workings” van ‘n belangrike skrywer.

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Beeld geplaas)

Wednesday, February 27, 2013

J.M. Coetzee - Slow man (2005)



J.M. Coetzee. Slow man. Secker & Warburg, 2005. ISBN 0 436 20611 0.

Resensent: Joan Hambidge

Slow man is J.M. Coetzee se jongste roman. Coetzee, die tweede Nobelpryswenner in Suid-Afrika, het ookal tweekeer die gesogte Booker-prys verower. Sy roman Disgrace kan waarskynlik steeds as ‘n mylpaal binne die letterkunde gesien word. Coetzee se handtekening as skrywer die spaarse, minimalistiese styl en die ontginning dikwels van grensoorskrydende situasies.  Hierin munt hy uit wanneer hy situasies aan sy leser voorstel waar die óngewone belig word. ‘n Mens dink hier aan die vader se besoek aan sy seun in Master of Petersburg, Lurie se botsing met sy student se kêrel en die afskeidstoneel tussen seun en moeder in Elizabeth Costello.

Hierdie vinjette in sy skryfkuns, en daar is vele, is oomblikke wanneer die vertelling bykans ‘n gelade, poëtiese kwaliteit kry. Die romanskrywer is dan ook soos Bahktin tereg uitgewys het, ‘n skepper van ‘n polifoniese wêreld. Maar één van daardie stemme, veral as dit outentiek is soos die belerende, didaktiese Elizabeth Costello, word ‘n soort metakommentaar op die onderhawige roman en die romankuns in sy geheel.

Slow man is weer eens ‘n verhaal van ‘n mens in ‘n spanningstoestand. (Lurie, soos ons weet, word geskors na ‘n verhouding met ‘n student; in Age of iron word die armoede van ‘n plakkerskamp ‘n nuwe werklikheid vir ‘n Shakespeare-kenner). Paul Rayment se been word geamputeer tydens ‘n fietsongeluk. (Die kenner van die skrywer se nie-fiksionele werk oor fietsry, onthou reise deur die suide van Frankryk en word hier relevant.) Die ervaring op sy liggaam en gees word gekarteer voor die leser wat eers meemaak hoé hy ‘n pedantiese, vet verpleegster se attensies en verkleinering (in die letterlike sin van die woord) minag. Wanneer hy Marijana as oppaster huur, besef hy dat hulle albei ‘n Europese verlede deel. Sy kinderjare was in Frankryk, terwyl sy in Kroasië grootgeword het. (Wil die skrywer dalk hiermee ook ‘n implisiete politieke dimensie inwerk, wonder die leser?) Dan, hora est, verskyn Elizabeth Costello, ‘n karakter en sal ons sê, alter ego, op die toneel. (Wil die skrywer dan hiermee ook ‘n soort meta-fiksionele kwaliteit inwerk? Is dit ‘n kommentaar, dalk kritiek op die postmodernistiese werkswyse waar fiksionele karakters as’t ware ‘n lewe en dimensie van hul eie kry?)

Die leser weet dat hierdie soort truuk onder andere bekend is aan die werk van Julian Barnes wat in Flaubert’s parrot die verskillende aspekte van Flaubert se skryfkuns ondersoek en in sy jongste roman ook aan Arthur Conan Doyle se romankarakters ‘n bykans werklikheidsdimensie toedig.

Die skerpste bydrae van hierdie roman is die gesprekke tussen Costello en Paul Rayment waarin daar vele kodes oor die prikêre spanning tussen werklikheid en fiksie uitgewerk word. Die verhouding tussen Paul en Marijana en haar kinders word ook pynlik helder geskets en daar word snydende kommentaar gelewer op die struktuur van die ‘nuwe’ gesin. Die verhaal van die Jokićs, word geplaas teen die verhaal van‘n man wat met sy moeder trou (p. 66) en aktiveer die Oedipus-verhaal en in hul naam hoor ‘n mens Jokaste. Dus aan die basis van hierdie vertelling lê Koning Oedipus, verblinding en vadermoord en Freud se vele interpretasies van die kind se reaksie op sy ouers. Paul vertel ook aan Costello van sy passie vir ‘n jong assistent en hoe hul interpretasies van ‘n liefdesverhouding verskil het. Hoe een mens vir twee mense kan liefhê en wat gebeur, onvermydelik, wanneer die ontoelaatbare uitgespeel word.

Die hoofkarakter se passie is fotografie en hy verafsku alles wat tweedehands, vals of namaaksel is. Hierom kan hy nie prostese verduur nie. Dus, ook aweregse kommentaar op die skryfkuns dat dit oorspronklik moet wees, maar die (post)moderne skrywer is helaas oorbewus van die onmoontlike opgaaf. Die Freudiaanse stramien lê deur die teks en daar is duidelike verwysing na Freud se Grap-boek en hul verhouding tot die onbewuste (p. 259). (Is Coetzee dalk besig met swart-humor in hierdie roman, wonder hierdie leser? Besig met ‘n soort parodie van die skrywer wat besig moet wees met die hoër, intellektuele spel en eintlik gefassineer is in ‘n soort Balzaciaanse menslike komedie? So gelees, is die roman grimmige kommentaar op die outeur se verblyf in Australië en die nuwe eise wat sy posisie as hoogs-bekroonde aan hom stel. Die skerpsinnige leser sal die motto “Malleus maleficorum” ook so interpreteer.) En wanneer Freud geaktiveer word, is Shakespeare daar, soos Harold Bloom ons herinner: ons moet eerder ‘n Shakespeareaanse analise van Freud maak. Dus is die name van karakters, veral die kinders s’n eg uit Shakespeare wat ook ‘n ander verwysingsveld laat kantel.

Dis ‘n verhaal wat glad en vinnig verloop, maar die intertekste is veelvuldig. Dit is ‘n roman wat die leser terugdwing na Coetzee se meesterstuk, Elizabeth Costello en Disgrace, sodat die spel met eie romans ook ‘n andersoortige leeservaring oplewer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Thursday, February 14, 2013

J.M. Coetzee - Diary of a bad year (2007)



J.M. Coetzee. Diary of a bad year. Harvill Secker: Londen, 2007. ISBN 978 1 846 551 208.

Resensent: Joan Hambidge

In 2003 verwerf J.M. Coetzee die gesogte Nobelprys vir letterkunde. Gesog en terselfdertyd ‘n omstrede prys, omdat daar gerekende skrywers is wat nie bekroon is nie. Sy roman Disgrace is waarskynlik een van die grootste mylpale in ons troebel land waarin daar priemend-intens met spaars woorde geskryf word oor verkragting, seksuele misdrywe en volledige ontnugtering. Die jongste heet Diary of a bad year en alreeds die dagboek – as ‘n intense vorm van die belydenisroman – aktiveer ‘n hele arsenaal van tekste binne die wêreldliteratuur. En is die dagboek in die moderne rekenaartyd met vinnige e-posse nie alreeds ‘n sub-genre wat aan’t kwyn is nie? Wie skryf nog briewe of hou ‘n dagboek in ‘n elektroniese tyd waar die “delete”-knoppie dikwels byderhand is?

Die opvallende aspek van die roman is die uitleg. In die inhoudsopgawe is daar nommer 1 “Strong Opinions” en dan 2. “Second diary”. Verder val die teks aanvanklik in twee dele uiteen, te wete ‘n intellektuele gesprek / essay / artikel met ‘n lyn waaronder ‘n ek-verteller bely, vertel:”My first glimpse  of her was in the laundry room” val hy met die deur in die huis. Dadelik het ons hier die manlike subjek wat kyk, afloer teenoor die intellektuele analise van die bogaande, te wete ‘n analise van die staat in navolging van Thomas Hobbes.

Hierdie breuk het dus amper die funksie van ‘n voetnoot (wel ten minste vir hierdie leser) en later word die bladsy selfs in drie verdeel.

Dat Coetzee met die leser kat-en-muis speel, word duidelik in die feit dat hy behalwe vir die gebruik van die dagboekvorm die verhouding tussen fiksie en werklikheid problematiseer. ‘n Sewentigjarige skrywer woonagtig in Australië (feit) word genooi om deel te neem aan teks, Strong Opinions (fiksie). Hy lewer bydraes oor die rol van die staat en terrorisme (amper ‘n feit as ons na Coetzee se essays kyk). Hy ontmoet ene Anja, vir wie hy werk aanbied as sy sekretaresse (fiksie) en haar vriend, Alan, is jaloers op haar vriendskap met die ouer man (‘n verwysing terug na Disgrace). Doubling the point? Absoluut.

Die leser se kennisname met Elizabeth Costello en haar uitsprake oor die literatuur, het dus ‘n figuur / persona buite Coetzee leer ken. Sy maak ook ‘n buiging in Slow man, maar in die jongste roman is dit asof die skrywer hómself tot objek-van-analise verklaar. Die dood van die outeur word hier die Wederopstanding van die outeur wat bykans soos ‘n poltergees ons wil herinner aan sy aanwesigheid. Ek is dood-verklaar, maar steeds hiér.
As ‘n mens Foucault en Barthes se tekste lees, is dit ook nie om dowe neute nie dat die meisie in die laundromat ontmoet word. Die poststrukturaliste meen mos dat ‘n mens selfs uit die wasgoedlys van ‘n skrywer iets te wete kan kom. Ha!

Die boek sit dus vol speletjies vir die literatuurteoretiese leser wat lus het vir ‘n “paper chase”.

Vaderland, nes ons gedink het dat “the death of the novel” ‘n werklikheid geword het, kry ‘n skrywer soos J.M. Coetzee dit reg om iets nuuts na vore te bring.

Dalk is die spel met verhewe analise en belydenis ‘n uitspeel van die twee fasette in die werklike outeur? Of die onderste gedeelte die dinamo vir die bogaande? Dalk die spel met bewuste en onbewuste?

Dit is nie ‘n roman wat jy sommer net lees nie. Jy word deur die stylbreuke onderbreek – bykans asof die skrywende instansie homself in die rede val.

En dan onthou jy dat die dagboek immers ‘n private teks is en jy lees dus wederregtelik iemand anders se aantekeninge en private gedagtes. So hou jou smoel.

Die afloop van die verhouding met Anja, wat haarself ten slotte as ‘n bewonderaar sien, is voorspelbaar.

Die slotgedeelte neem die leser terug na The Master of Petersburg en die werklike outeur se kennis van die Russiese letterkunde. Trouens, hierdie roman – waar die vader met die kind se kledingstuk in sy hande sit – is waarskynlik een van die aangrypendste oomblikke in Coetzee se oeuvre.

Alles het ten slotte met retorika te make, word ons op bladsy 223 gewaarsku.

Word daar met so ‘n uitspraak dalk kommentaar gelewer op die vele etiese kwessies wat aangesny word? Dat die romankuns in wese net retorika is?

Vanselfsprekend is dit Anja se versugting dat die skrywer sy “soft opinions” ook sal deel met ons. Die toespelings (die Torings, o.a.) op 9/11 tree weer in gesprek met Don de Lillo se jongste roman, Falling man en die skrywer laat hom uit oor terrorisme.

Ons lees egter intelligente kommentaar oor Bach, godsdiens, ennui en poësie.

En jou moedertaal. (Hier besluit die hooffiguur dat Engels die taal is waarin hy die beste kommunikeer wat weer al die ander gesprekke uit Youth aktiveer.) Die rol van die klassieke teks – veral Dostojefski en Tolstoi – word opnuut onder die loep geneem.
Zeno en die wiskunde maak ook hier ‘n draai. Ons weet dat Coetzee (feit) opgelei is in die wiskunde.

Die funksie van die moderne universiteit word eweneens gekritiseer. In hierdie verband het Elizabeth Costello sterk satiriese kommentaar gelewer op wát van die moderne akademikus verwag word.

Dit wil dan voorkom dat hierdie teks al die prikkels vir die leser gee vir hoé Coetzee voel oor ‘n magdom van onderwerpe. Maar hy buikspreek dikwels deur ander. Onder andere gebruik hy Harold Pinter – die meester van innuendo en dubbelspraak – as ‘n voertuig vir sy sieninge. Dis ‘n fassinerende teks wat die intellektuele en die fiktiewe versoen en laat bots. Die opvatting dat moderne lesers net ‘n blote storie wil hê, word deur hierdie teks verkeerd bewys. Die roman is in wese ‘n hibridiese vorm wat enkellynige, begin / einde, stories ondermyn en problematiseer.

Met hierdie roman word ‘n nuwe rigting in die romankuns bevestig.

Op Bladsy 23 word ons gewaarsku teen die “unforeseen reading”.

En dit hoe die roman ten beste opgesom kan word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]