Tuesday, March 26, 2013

Irvine Welsh - Filth (1998)



Irvine Welsh. Filth. Jonathan Cape, 1998. ISBN 0 224 04118 5.

Resensent: Joan Hambidge

Met een woord: verstommend. Filth van Irvine Welsh kan 'n mens nie anders beskryf as met uitroepe nie. Verstommend, walglik, ontroerend, ontstellend, verskriklik. En briljant.

Die vuige lewe van Bruce Robertson, 'n polisiespeurder beland in Amsterdam om 'n saak op te los. Hy is egter korrup tot in sy siel toe: hy is verslaaf aan kokaïne, seks (met allerlei genitaliese probleme wat in fyn détail vertel word), skroom nie vir geweld nie. Trouens, hy is speursersant Maigret (van Georges Simenon) se vollledige teenpool. Waar Maigret handewringend hom bekommer oor die gemeenskap se agteruitgang, is Bruce deel daarvan.

En ons verneem dan ook die redes hiervoor. Lesers wat nie hul pret bederf wil hê nie, of nie 'n sterk maag het nie, moet nou asseblief nie verder lees nie. Bruce is verwek in 'n aaklige verkragtingsituasie en die stem van sy vrou werp lig op sy morele verval.

Ook het hy 'n wurm-probleem, en hierdie lintwurm, ja glo my vry, word 'n “stem” wat kommentaar lewer en dikwels sommer oor die vertelling spoel! Nou daar's vir jou 'n nuwe bewussynstroom-tegniek wat James Joyce waarskynlik in sy graf laat tol! Dit sal waarskynlik ook as blasfemies ervaar word deur die meer puriteinse leser, maar 'n mens moet ágter die vergelykings met die Katolisisme kyk.

Irvine Welsh het die wêreld verower met Trainspotting, 'n roman wat my nie geraak het nie, omdat ek nie die dwelmkultuur begryp nie. Maar ek moes dit lees om my studente beter te verstaan ten einde te weet waarmee hulle identifiseer. Ook die film het gewys dat mense hou van sy aweregse lewenshouding. In een van die motto's word Arthur Schopenhauer aangehaal en sy siening van “desengano” en dat die lewe uiteindelik afstuur op ontnugtering.

Daar is min skrywers wat so 'n troostelose beeld van die mens kan gee en jou terselfdertyd kan gevange hou. Dit is 'n roman wat waarskynlik die debat van “welgevoeg” en “welvoeglik” sal aktiveer. Maar feit bly staan: die skrywer het 'n kreatiewe energie wat min hom kan nadoen.

Dis 392 bladsye van 'n ongelooflike leeservaring -- tot by die stertjie van die wurm.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]