Showing posts with label Chocolat. Show all posts
Showing posts with label Chocolat. Show all posts

Thursday, September 15, 2016

Filmresensie. Chocolat (2016)

Hierdie film deur Roschdy Zem vertel die verhaal van Chocolat (eintlik Rafael Padilla) wat in 1886 die eerste swart nar geword het. Omar Sy is skitterend in die hoofrol en James Thiérrée vertolk die rol van sy wit narre maat.

Die film lewer kommentaar op rasvooroordeel (ja, haal jou Fanon uit) en die impak van 'n pynlike jeug op jou identiteit (lees gerus maar Alice Miller se The drama of being a child).

Waarvoor lag mense? Vir stereotipes, rasvooroordeel, vir dit wat jy vrees en moet kleiner maak sodat jy in beheer bly (hier sal Freud help).

Die film begin uistekend: ons sien hoe mense in sirkusse verniel en mishandel word. Hoe die baas-klaas-stelsel werk op die Franse platteland.

Dan kom die deurbraak vir die swart nar, Chocolat, sonder papiere en identiteit, dus. Hy kry skielik agentskap wanneer 'n swart intellektueel hom aanpraat oor hoe hy verniel word in optredes.

Die Paryse gedeelte lyk soos 'n opera-verhoog. Gekunsteld. Toulouse Lautrec is ’n interteks. Ons kyk die film met die wete van die huidige migrasie-krisis in Parys en hoe chauvinisties die Franse is (en was).

Die spel is uitmuntend. Beide mans het die kuns van die nar goed onder die knie. Die verhaal is op die werklikheid gebaseer (aan die einde is daar ’n dokkie) en dit is gebaseer op Chocolat, clown nègre. L'histoire oubliée du premier artiste noir de la scène française deur Gérard Noiriel.

Soos alle boodskap-films begin die preek deurslaan hier teen die einde se kant, verloor dit krag. Die film is dan gewoon te lank en dit eindig verby die natuurlike slot. Uiteraard is die probleem dat dit gebaseer is op 'n werklike verhaal, maar 110 minute is ver te veel. Met die musiek van Gabriel Yared wat te dramaties help saamvertel.

Wanneer dit suggestieryk is (soos aan die begin) en die toertjies uitgestal word, imponeer die film. Die twee hoofakteurs is uitstekend. Liggaamsbeheer en gesigsuitdrukkings wat jou bybly.

As 'n mens die dieper boodskap uithaal en die lot van Chocolat analiseer wat met 'n vertolking van Othello skitter, maar die wind van voor kry en uiteindelik ellendig sterf, word jy skoon bedruk oor rasspanninge. Het ons in die jaar 2016 al losgekom van die wit/swart-spanninge? Of is ons altyd besig met 'n ons/julle-gesprek?

En kyk wat lees die jong Chocolat snags in sy tentwoning.

Footit (James Thiérrée), Chocolat (Omar Sy) & Roschdy Zem

© Joan Hambidge


Tuesday, March 26, 2013

Joanne Harris - Chocolat (2000)



Joanne Harris. Chocolat. Black Swan, 2000. ISBN 0 552 99848 6.

Resensent: Joan Hambidge

Het jy al Chocolat gelees? vra 'n bekende uitgewer my nou die aand. Dis lekker, veral as jy van sjokolade hou! Chocolat is egter meer as dit. Dit is 'n vlymskerp analise van 'n gemeenskap se (voor)oordele, bewaring van waardes en reaksies op 'n vreemde indringer. Die storie lui soos volg: Vianne Rocher, 'n kenner van die Tarot en 'n reisende persoon, land met haar dogtertjie in die Franse dorpie Lansquenet. Sy begin 'n sjokolade boetiek (soos in 'n biltongboetiek wat 'n mens altyd op ons platteland aantref) regvoor die kerk.

Vader Reynaud vind dit  'n bedorwe situasie, veral as sy boonop op Sondae begin handel dryf. Ook lewer die roman lekker kommentaar op die gemeenskap se doen en late. Die hele roman word rondom Lent (Vastyd) gesitueer en het verwysings na “Shrove Tuesday” en “Ash Wednesday”.

Konvensionele geloof word teen die Tarot geplaas. Dit word egter alles so spaars gedoen dat dit nooit die storie te swaar laat word nie. Die hoofkarakter lees Jung en Hesse en sy weet dat die Tarot ons eintlik vertel wat ons alreeds weet. Elke gemeenskap funksioneer op dieselfde argetipes: die vrees vir verlies (die kaart van die Dood); die vrees vir buite wees (die Toringkaart) en die vrees vir verandering (die koetskaart).

Daar is ook hope humor hier te lese. En wysheid.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]