Showing posts with label Fine Music Radio. Show all posts
Showing posts with label Fine Music Radio. Show all posts

Monday, August 19, 2019

Resensie | Kerneels Breytenbach – Hond se gedagte (2019)

Kerneels Breytenbach - Hond se gedagte. Human & Rousseau, 2019. ISBN 9780798179294

Resensent: Joan Hambidge

Met Morsdood van die honger en Piekniek by hangklip het Breytenbach homself goed gevestig as ‘n aweregse roman- en kortverhaalskrywer. Hond se gedagte is ’n satire, dalk eerder ‘n versnit van die werklike outeur se kennis van musiek, rugby en kos. 

Hierdie roman aktiveer die twee belangrike rugbyromans in Afrikaans aan my bekend: Stywe arm van Braam van der Vyver (1994) en Louis de Villiers se onderskatte Karma-polisie ontmoet die bokke (2012) (Woorde Wat Weeg/ Louis de Villiers - Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke (2012) Besoek 17 Augustus 2019).

En die tv-reeks Getroud met rugby.

Dat rugby ‘n soort godsdiens is, is oraloor bekend. Trouens, sport is gelyk te stel aan afgodery en kyk maar net hoe word groot sportsterre soos gode hanteer. Toe David Beckham beseer is, het die poet laureate van Engeland, Carol Ann Duffy so oor hom gedig:

Achilles
(for David Beckham)

Myth's river – where his mother dipped him, fished him, a slippery golden boy – flowed on, his name on its lips. Without him, it was prophesised,

they would not take Troy.

Women hid him, concealed him in girls' sarongs; days of sweetmeats, spices, silver songs . . .

but when Odysseus came,

with an athlete's build, a sword and a shield, he followed him to the battlefield, the crowd's roar,

and it was sport, not war,

his charmed foot on the ball . . .

but then his heel, his heel, his heel . . .

En dit mag. Hier is ook ‘n digter: Pedrovene Smith.

Die titel aktiveer alreeds iets omineus.

Om wantrouig te wees, lui die idioom,  en gaan kyk net hoeveel idiome bestaan daar in Afrikaans vir hond in Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom van Anton F. Prinsloo (Pharos, 2004)

Hond-se-gedagte aktiveer 'n Franse klug van Feydeau vertaal deur Nerina Ferreira onder dieselfde titel. 

Die storielyn klink so:

Fleur de Villiers is nie 'n kenner van rugby nie. Wanneer haar ou pel Maurice Kumalo haar vra om 'n biografie oor die Springbok-rugbykaptein Katstert Nel te skryf, is sy om die minste te sê teësinnig. Haar voorliefdes in die lewe behels eerder fynere dinge, soos ondersoekende joernalistiek, goeie kos en wyn.

En die leser wonder ook: wat weet sy tog van rugby op die vooraand van die wêreldbekertoernooi in 2025. Was daar nie toeka se tyd ‘n joernalis met dié naam nie?

Van rugby beweeg dit flink na die Corpus Christi met Jaap Schvantz en Krystle. Ook dubbelsinnige name, meen hierdie leser wat 'n rugby- en sokker-kyker is.

En Schvantz is Jiddisj vir penis. Aha. Breytenbach se voorliefde vir Thomas Pynchon se grappies en Etienne Leroux se simboliese name skemer deur.

‘n Man wat boonop sy adult nappies bevuil.

Kerk, kos, rugby en seks.

Soos sex, drugs and rock and roll.

Grappies wat onder die oppervlak skuil. Sub-tekste ingeplant. Popol Vuh. Socks Mulaudzi. (Jy hoor soms die verteller innig knor, brommend van genot.)

Wat ‘n mens herinner aan die grap van Dorothy Parker toe sy ‘n sin moes maak met die word horticulture: You can bring the whore to culture, but you can’t make her think.

Fleur (o blomtyd se Moses) is ‘n dolla wat egter kan dink. Boonop ontdek sy tydens die projek dat sy nie eintlik van mense hou nie. En ‘n artisjok as ‘n simbool word ingespan en afgeskil (189).

Daar is letterlike honde: honde wat ingeboek word in hotelle, hondbesetenes, internasionale hondeskoue, ensomeer. En daar is Dawk. 

Dok Craven word ge-channel (ek wil nie meer verklap nie).

En luislangbollie en die stank wat sulke slange in aanhouding skep. Vuilspel agter die skerms en bekkenluise laat jou verder gril.

Fleur se ma plagieer Emsie Schoeman se etiket-handboek en Die-regte-manier-om-te-lewe word opgestuur.

Voyeuriste. Mitologie (rondom honde, die nofret, Ikarus) en verwysings na J.M. Coetzee se slimmighede oor rugby, vra vir dieper kyk (228). 'n Filosoof van die viernaatbal is hy immers, bely die verteller.

Melancholie na 'n geliefde se dood is ingebed en vrae oor Fleur se troebel verhouding met haar ouers aktiveer oeroue kwessies. 'n Onverwagse dood aktiveer weer die reëls van 'n moord- of spanningsverhaal. 

Nes die verwysing na die briljante literator Réna Pretorius se Ryk domeine ander leeskodes aktiveer. En 'n tersluikse verwysing na wyle Harry Kalmer.

‘n Lekker analise van sosiale kodes en gewoontes. En hoe vinnig vriendskap kan oorgaan in vyandskap.

Elke hond kry sy dag; lyk soos 'n hond wat vet gesteel het; moenie slapende honde wakker maak nie is eweneens hier ter sprake.

'n Mix van speurverhaal en sosiale mores. Prisplooi en sekswerkers. Corpus Christi teenoor rugby. Die obsessie met Britse adel is ook hier en hul manewales wat die pers aan die lewe hou.

En die name: Katstert, Lektriek, Slapogie, Consuela, Pedrovene, Funky DD ...

Soveel siele, soveel gebede. Soveel spanne, soveel reëls. Soveel kaartjies, soveel parkeerplekke. Soveel lesers, soveel menings.

Veral rugby-kenners en -liefhebbers sal die roman geniet.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]

Tuesday, May 14, 2019

Resensie | Tobie Wiese - Wreed én mooi is die dood (2019)

Tobie Wiese - Wreed én mooi is die dood. Jonathan Ball 2019. ISBN 9781868429431
Resensent: Joan Hambidge

I
Ons is nie hier vir die verblyfste nie; ons is hier vir die vergaanste - so troos Ant Trooitjie, 'n jong Antoinette Pienaar, toe haar liefling worshond dood is. En van die oomblik wat ons gebore word, begin ons sterwe. Vele skrywers en digters het al oor die dood geskryf, en die impak hiervan op die gemoed.

Die dood van 'n geliefde snoer mense saam; tydelik word verskille en rusies ópgehef en word ons herinner aan die broosheid van ons bestaan. Mense het uiteenlopende sieninge oor die dood en boonop gaan mense verskillend dood. So het 'n narkotiseur-vriend, die digter Hendrik J. Botha, wat die digbundel Atropos geskryf het, my geleer; iets wat die sterwensbegeleier, Peter Fox beaam. 

Dikwels kan 'n mens juis ná die dood van 'n persoon hulle beter begryp en is dit asof die fokus verskuif van die negatiewe na die positiewe aspekte van hul lewens. Op ander kere is die verlies ondraaglik soos wanneer iemand ontydig of wreedaardig sterf.

Die Tibettaanse boek van lewe en dood het my al gehelp om hierdie prosesse te verwerk en beter te verstaan. Die lewendood, soos Breytenbach dit noem. Wilhelm Jordaan, sielkunde professor en rubriekskrywer, wys via Van Wyk Louw op die paradoksale verbintenis tussen lewe en dood: die dood as die finale afwesigheid van teenwoordigheid, soos hy dit klinkend stel.

II 
Hierdie boek bevat essays, indrukke, herinneringstukke en besinnings oor die dood uit die perspektief van verskillende mense. Skrywers, teoloë, joernaliste, filosowe, 'n paramedikus, 'n sterwensbegeleider kom onder meer aan die woord.

Afhangende van jou persoonlike siening van die dood en die ervaring van 'n geliefde se afsterwe of onverwagse vertrek, sal 'n spesifieke bydrae met jou práát. Karin Brynard ontroer met "My lief", oor die dood van haar eggenoot; Willem Landman is onderhoudend en insigryk oor Karel Schoeman se selfdood met die titel, "Sy laaste dae en wense". Merwe Wiese se "Die dood is 'n palindroom" gee 'n jonger mens se perspektief op die dood. Marita van der Vyver se "Die begin van 'n storie" saam met Ingrid Winterbach se "Sofie neem kennis", 'n uittreksel uit haar roman Die aanspraak van lewende wesens (uit 2012), het my opnuut diep getref.

Elkeen van hierdie bydraers se aanbod is anders en uniek, en verklap sy of haar siening van die dood. Brynard s'n is rou en pynlik. Landman, as teoloog-filosoof en lid van die Uitvoerende komitee van DignitySA, skryf besinnend oor jou regte om hierdie aarde te verlaat wanneer jy nie meer kan of wil nie. Merwe Wiese skryf as paramedikus ontroerend oor wat gebeur wanneer jy iemand moet red, en veral, wat gebeur met jóú as paramedikus, as dit te laat is. Marita van der Vyver se inskrywing is een van intense melancholie én treur oor 'n kind wat voortydig oorlede is en die durende verlange in die private ruimte van haar ellende. Winterbach se karakter besoek 'n lykshuis en in die kliniese (of oënskynlik afstandelike) blik word die verlatenheid van 'n lyk beskryf. 

Die gekose bydraes wys op die verskillende emosionele ladings van die tekste. Amper soos 'n roman in die derdepersoon geskryf teenoor 'n belydende ek-vertelling.

III
Alles is darem nie net loodswaar van die erns nie. Daar is die allerheerlike stuk van Annelie Botes wat vermaaklik en vol selfspot sit.  "By my afsterwe, met komplimente" gee sy aanwysings vir haar "inspitting". Onder ander moet daar 'n banksakkie wees met 'n paar vyfrandmunte ingeval sy die poortwag moet tipEn die naaldekoker-oorkrawwels moet in tissue toegedraai word vir as sy aan die Oorkant 'n toespraak moet lewer.

Maretta Bellingan oor 'n korrelkop-ma ontlok 'n glimlag. (En op 'n ernstige noot: moet in vadersnaam nie begin met daardie sin 'ek het slegte nuus vir jou nie', vra sy.)

Ander skrywers kyk meer gedistansieerd en klinies soos oor die dood róndom rituele (Cas Wepener) of hoe 'n lyk en 'n outopsie veel verklap (Gert Saayman). Partykeer besef 'n mens die skrywer is nog te na aan die geliefde se dood om werklik volledig daarna te kan kyk. Die gebruik van die woord selfdood eerder as selfmoord is eweneens beduidend.

Die gerf verskillende perspektiewe op 'n moeilike onderwerp is 'n belangrike baken vir alle lesers.

Die dood as 'n skemersone (Saayman) en die nadink oor die idiome oor die dood (Jordaan) bewys hier is baie navorsing gedoen. Of dat daar nooit 'n logiese padkaart kan wees vir en uit die landskap van droefheid nie (Jordaan). Peter Fox se raad is uiters handig vir enigiemand wat 'n geliefde in 'n outehuis of hospies moet bystaan, soos Kobus Anthonissen se handleiding. Is daar rechem of troos? Cas Wepener help met die soeke na nuwe rituele.

Farid Esack se bydrae "Elke lewende wese sal dit smaak" help Christene om die Moslem-bestaan beter te begryp, terwyl Danie van Zyl die Afrika-begrip verduidelik soos die aanroep van voorouers en die belangrikheid van grond. "Lewe is die begin van die dood", lui die Afrika-spreekwoord immers.

George Claassen kyk wetenskaplik na die dood as 'n natuurwet. Hy is, soos ons weet, teen die idee van 'n hemelse verwelkomingskomitee.

Elkeen van hierdie stukke is intelligente "troosstukke". Met nog vele ander bydraers wat werklik uitstekend is: Willa Boezak, Christina Landman ...

Lees en koop die boek en sit dit op jou bedkassie vir lees en herlees. En terugblaai.

IV
Vele digters het wonderbaarlike lykdigte geskryf. En hierdie een van die Ierse digter Paula Meehan bly immer ontroer:

Child Burial 
Paula Meehan

Your coffin looked unreal, 
fancy as a wedding cake.

I chose your grave clothes with care, 
your favourite stripey shirt,

your blue cotton trousers.
They smelt of woodsmoke, of October,

your own smell there too. 
I chose a gansy of handspun wool,

warm and fleecy for you. It is 
so cold down in the dark.

No light can reach you and teach you 
the paths of wild birds,

the names of the flowers 
the fishes, the creatures.

Ignorant you must remain 
of the sun and its work,

my lamb, my calf, my eaglet,
my cub, my kid, my nestling,

my suckling, my colt. I would spin 
time back, take you again

within my womb, your amniotic lair, 
and further spin you back

through nine waxing months 
to the split seeding moment

you chose to be made flesh, 
word within me.

I'd cancel the love feast 
the hot night of your making.

I would travel alone 
to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth 
drop by bright red drop.

(‘Child Burial’ by Paula Meehan. Besoek 14 Mei 2019)

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Saturday, May 12, 2018

Resensie | Koos Kombuis – Vandag wil ek my blou skoene dra (2018)

Koos Kombuis – Vandag wil ek my blou skoene dra. Naledi, 2018. ISBN: 978-1-928426-08-0

Resensent: Joan Hambidge

Koos Kombuis het as digter gedebuteer met Brekfis vir Vier: André le Roux du Toit, Daniel Hugo, Peter Snyders & Etienne van Heerden was saam by hierdie ontbyt. Toe was Koos nog André le Roux du Toit wat later sanger en wonderlike roman- en kortverhaalskrywer geword het (Woorde wat weeg | André le Roux du Toit, Daniel Hugo, Peter Snyders & Etienne van Heerden - Brekfis met vier. Besoek 24 April 2018).

Hiervan is Somer II (1985), Suidpunt-Jazz (1989) en veral Raka die Roman (2005) uitsonderlike hoogtepunte.

In van sy romans het hierdie skrywer al herkenbaar ‘n draai gegooi. Dit was ‘n bewys van sy spel met fiksie en werklikheid wat in die hoogbloei van die postmodernisme aan die orde van die dag was.

Verder is hy as sanger bekend en deel van die Voëlvry-beweging.

Sy pas verkene bundel Vandag wil ek my blou skoene dra met ‘n omslag waar ‘n paar angswekkende lelike Crocs met aaklige beenhare op die voorblad pryk, word gepubliseer deur Naledi. Die digter sien dit as ‘n ryp-word-bundel en ‘n geskenk aan homself. Hierdie bundel verskyn dan twintig jaar na die debuut in ‘n tyd waarin hy drugs gelos en ‘n gesin begin het.

As student op Stellenbosch het hy in die koffiewinkels gesit en geskryf. Bevry van die dwinglandy van klasse bywoon en toetse skryf, is hy bewonder deur menige student. Kombuis is ‘n volksfiguur met ‘n groot aanhang.

So wat ‘n akademikus sou dink van sy gedigte, sou hom waarskynlik nie skeel nie. Die gedigte is nader aan songs as wat dit gedigte is. 

Die kenmerkende opstuur-aanslag is hier aanwesig – ‘n voetnota wat die leser waarsku dat die digter weet dit is rymdwang. Daar is ‘n parodie wat heet, “vier gebede by jaargetye in die boland” met ‘n sorry aan Louw wat waarskynlik bewys dat die digter besef dat die gedig sleg afsteek by die oorspronklike vers. Koos Kombuis se indertydse parodieë opgeneem in Foster & Viljoen se Poskaartehad meer om die lyf.

Te min weerstand, te dun, te obvious. En groot songs kan gedigte wees. Dit het Leonard Cohen vir ons bewys. Hier is dit nog vis nog vlees.

Miskien soos hy dit self opsom in “dis my laaste gedig (sê ek elke keer baie dramaties)” (46) is die probleem presies net dit:

Ek is klaar gewroeg,
genoeg gespoeg,
verby geswoeg,
lewensmoeg
en grys bebaard.
(47)

Die leë landerye verklap inderdaad die einde van die digterlike reise …

Hy skryf verder:

tussen calvinia en mordor
van bronkhortspruit na madagaskar
deur leë landerye
waar van gogh-swart kraaie vlieg
en joan hambidge
oor haar vele minnaars bieg.
sela.

‘n Bietjie van ‘n maklike uitweg, nie waar nie?

‘n Mens kan egter net dig as jy nog passievol oor die bedryf.

Hier is twee beter verse:

vandag wil ek my blou skoene dra

vandag wil ek my blou skoene dra
want vandag is ’n blou dag,
blou soos die half-
edelgesteente van die oggendlig,
blou soos saffiere.
blou.
.
vandag wil ek my blou hemp dra.
vandag wil ek blou
deur die lewe loop
soos ’n briesie deur ’n wasgoedlyn,
gewigloos
en geurig.
blond en blou.
blosend, bronstig,
diepblou
soos die aand wat stadig aankom.
.
vandag wil ek vaar soos ’n skip
oor blou deinings,
wieg soos die meeue in die wind,
woel soos ballonne
wat vrygelaat is by ’n kinderpartytjie,
soel en soepel en swewig en snoesig
soos die oggenddou,
soos die briewe
van my
aan jou.
.
soos die smarterige jare wat van my afval
ou bloedpleisters weg in die grou
van al my christelike gisters.
groet daardie dae,
want hulle is
vir altyd verby.
.
hulle is ingesluk.
verby is al die rou.
ja, hulle is ingesluk
vandag
.
en nou proe alles
soos die soene
van ’n waterdraer-vrou.
.
aquarius.
libido.
net blou.
.
so lief
is ek vandag
vir jou.



 huis vol kitare

eendag wil ek aftree
in ’n huis vol kitare
met ’n uitsig oor die see
waar die wind spoel
deur die snare
 .
eendag wil ek koffie drink
op ’n veranda vol herfsblare
en deur ou digbundels blaai
terwyl ek ryp word
met die jare
 .
eendag wil ek huis toe gaan
eendag
wil ek als verstaan
eendag
wil ek opstaan
uit my graf van woorde
en leë gebare
 .
eendag wil ek wegkom
van die groot jillende
skare
 .
eendag wil ek aftree
in ’n huis vol kitare

In rock&roll.karoo was daar 33 digitale gedigte gepubliseer in 2014. So klink die openingsgedig:

gedigte = stukkende liedjies
liedjies wat nie meer kan sing nie, 
gebreekte liedjies. 
net hartseer liedjieskrywers soek hul toevlug 
@ poësie. 
poësie is d koraalriwwe v kuns. 
gedroog, verbleik, geteister deur tegnologie, 
verarm deur d opkoms v rock’nroll, 
woorde gevries @ stilstuipe.
massagrafte op papier. 
ek = mal vir poësie.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Sunday, November 5, 2017

Resensie | Karel Schoeman – Skepelinge: Aanloop tot ‘n roman (2017)

Karel Schoeman – Skepelinge: Aanloop tot ‘n roman. Human & Rousseau, 2017. ISBN 0-7981-7610-5

Resensent: Joan Hambidge

I
Hierdie inskrywing is net ‘n paar kanttekeninge by Schoeman se jongste teks, nadoods gepubliseer as Skepelinge – aanloop tot ‘n roman.

Vir Schoeman-liefhebbers is daar die plesier van lees, navors, nadink, terugkeer. ‘n Boek met endnote. In die koda bely die outeur dat die gedagte vir hierdie boek by hom uitgekom het tydens twee afsonderlike besigtigings van Sokoerof se film Russiese ark (2002), ‘n film wat ek waarskynlik al ses keer besigtig het, met al die onderhoude en nabetragtings rondom hierdie verruklike film.

Oor hierdie magistrale film het ek op 5 Julie 2017 geskryf en die verbintenis tussen Dan Sleigh se roman 1795 en hierdie film uitgewys wat die geskiedenis problematiseer en her-interpreteer (Woorde wat Weeg/ Rubriek | Dan Sleigh se 1795Besoek 25 Oktober 2017). Dit is ‘n 87 minute eenskoot-film. In die post-produksie is die film wel ge-“reframe": en gedeeltes is vertraag of vinniger gestel. (‘n Belangrike stuk inligting vir die leser van ‘n historiese roman; elke navorser interpreteer en raam sy roman vanuit ‘n bepaalde hoek. Dan Sleigh benader sake anders as Schoeman).

Hierdie dikke roman dek (in beginsel) die tydperk 1652 – 1795 en konsentreer op die uitseilende skepe van die VOC tussen Nederland en die Kaap.

Die outeur self beskou hierdie boek as ‘n hibriede skepping, iewers tussen feit en nie-fiksie; selfs as ‘n “historiese improvisasie”.

Hy gebruik die /Xam-gedigte in die Engels, want hy voel nie “gemaklik” met Antjie Krog se Bleek & Lloyd-rendisies nie, ofskoon hy dit wel “verblydend” vind dat dit bestaan. (In sy laaste outobiografiese tekste is daar ook stekies na Afrikaanse kritici te vinde.)

In die koda skryf Schoeman: “Die boek is saamgestel uit histories en wetenskaplik verantwoorde tekste, wat egter op suiwer subjektiewe en onwetenskaplike wyse gebruik is om ’n bepaalde siening van die verlede oor te dra, verweef met insidentele persoonlike betragtings oor geskiedenis, navorsing en skrywerskap.” Vir Johan Rossouw, ‘n besondere leser van Schoeman, is hierdie enkele sin die laaste woord oor die temas waaraan hy sy hele lewe gewei het. (Schoeman se laaste sin oor sy lewenswerk | Netwerk24. Besoek 25 Oktober 2017).

Die leser word ook verras met verwysings na T.S. Eliot se "Little Gidding" - kyk na voetnoot 551.


II

Hierdie teks moet benader word as 'n werkboek of 'n aanloop tot 'n roman. Dit vergelyk met postume tekste van bekende skrywers. 'n Mens dink hier aan Vladimir Nabokov se roman wat nadoods deur sy seun Dmitri saamgeflans is. Dit heet The Original of Laura (2009) en is gepubliseer ten spyte van die skrywer se versoek dat sy tekste vernietig moes word.

Wat wel tersaaklik is van sulke romans-in-wording, is dat dit die leser 'n kykie gee in die skrywer se manier van doen en dink.  By die skryf van hierdie bespreking luister ek na Dan Sleigh op RSG (28 Oktober omstreeks 1 nm) wat uiters kundig gesels oor presies wat 'n chronometer is en oor die betekenis van skeepsvaart. (Woorde wat Weeg/ Rubriek | Dan Sleigh se 1795Besoek 25 Oktober 2017).

Wat sou van hierdie boek geword het as die skrywer Schoeman verder hieraan sou werk? Of is die sjarme juis geleë in die onvoltooidheid?


III

Aanloop soos in program: aankondiging. 'n Roman met endnote en bronne. Asof jy hier in die werkkamer van die groot romansier staan wat vertel hoe hy skryf en uit sy groot omvangryke historiese boekery nog 'n boek maak. (Daar is glo veertien ongepubliseerde Schoeman-boeke op pad.)

Van Jung se beroemde droom tot Eliot en Fellini.

Van skeepsdokumente terug tot Shakespeare se Hamlet en The Tempest (hier is 'n woord aangepas, nota 453).

Van John Campbell se Journal of travels in South Africa terug tot by Bontekoe!

"Met vriend die God geleyde" (311) kyk na die betekenis van persoonlike briewe. Individue uit die Kompanjiestyd sou immers iets verklap van daardie tyd ...

Meeste werknemers van die VOC kon nie skryf nie; verder is dit geskryf in standaarde wat toe gegeld het en meeste van hierdie briewe het verlore geraak.

40 000 onafgelewerde briewe is wel gevind op Nederlandse skepe. Hierdie oorlogsbuit - deur Brittanje - het in die Public Record Office in Kew beland en is gedeeltelik getranskribeer as Corpus Brieven als Buit.

Tog bied hierdie briewe min insae vir die navorser, maar analiseer hy wel 'n tersaaklike woordewisseling.

"Woorde. Stemme. Mense wat eens geleef en in kroeë gedrink en baklei het, of mekaar doodgesteek het met messe of met bierkanne, stoele of banke geslaan het sodat die bloed vloei" (318).

En dit is wat Schoeman uitsonderlik maak. Om stemme van die gewone mens aan die vergetelheid te ontruk. Om namens hulle te buikspreek.

As reisiger het hierdie leser die afdeling "Passasiers" insigryk gevind.

'n Diensmeisie kon net een kis met klerasie saamneem (vier voet lank, 2 voet hoog en breed). En sommige van hulle het op die vloer geslaap of op 'n skeepskis naas die kooi van hul werkgewer in die konstabelskamer.

Indien hulle wel 'n huwelik aangegaan het, het hulle 'n identiteit gekry.

Indien nie, identiteitsloos, blote "passasiers"; blote passante of deurreisendes. Dus ook misbruiktes. En hier lewer Schoeman sterk sosiale kommentaar wat feministiese skrywers lank sal besig hou.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Sunday, April 16, 2017

Nicky Stubbs - For Friends & Family (2017)



Nicky Stubbs - For Friends & Family. Human & Rousseau, 2016. ISBN 9780798171250

Resensent: Joan Hambidge

I

‘n Kulinêre liefdeslied. So word hierdie pragboek bemark.

Kookboeke is nie net resepteboeke nie. Dit is in wese geskiedenisboeke. Dit vertel die verhaal van ‘n samelewing se siening van kos. Ek, terloops wantrou mense wat nie van eet hou nie.

Peter Veldsman se opdatering in 2010 van Leipoldt se kosboek (van 1933) bly ‘n belangrike argief. Daar  word vertel hoe Leipoldt as dokter van huis tot huis gegaan het en resepte opgeskryf het. Veldsman noem hierdie boek: “‘n prikkel tot die wonderwêreld van plaaslike kos sowel as die kookmetodes van Europese en ander kosghoeroes. Dit bly ‘n droomboek waaruit jy ongedroomde kosdrome kan droom”.

Die oudste kookboek is die Chinese Hong Ts.


In sy inleiding skryf Leipoldt dat die kookkuns so oud soos die mensdom self is. Vir hom is die kookkuns internasionaal. Ons manier van kook en kosbereiding verskil nie van ander lande nie. Elke land het wel sy eie skottels. Dit wat ons as eg Afrikaans ervaar, is geregte onder ‘n ander naam. Tog het ons wel unieke veldkos soos wateruintjies, veldkool, jakkalskos, ensomeer. Hy spreek eweneens die kwessie aan dat ons hier ‘n man vind wat resepte byeenbring; in daardie tyd was dit immers die terrein van die vrou.

My moeder was ‘n begenadigde kok wat kon eksperimenteer met wildsvleis met groot stukke knoffel daarin. Een van my gunsteling-geregte uit my jeugjare is haar gerolde beesvleis met toutjies opgebind. Of daardie varktjoppies wat sy sag laat stowe het in die oond met rys en appelmoes. Of haar beetslaai met uie in. Haar aartappelslaai met fyn gekapte ui, pietersielie en gekookte eiers. Met tuisgemaakte mayonnaise.

Een van my geliefde boeke – op my kombuisrak – is die Biba’s Italy (New York, 2006) se resepteboek oor Italië.

Die Fegato alla Veneziana het ek al getraai. Lieflik.

II

Nicky Stubbs se boek is ‘n glansryke antwoord op Kook en geniet, daardie treffer wat Huisgenoot se wenresepte nooit kon troef nie. Sy het ‘n Cordon Bleu-kookkursus voltooi en in sowel Londen as in Frankryk gekook. Verder het sy in restaurante gewerk, kooklesse gegee en vir tydskrifte geskryf. Sy ken dus die bedryf van binne en buite. Skrywer én resensent, as jy wil!

Die toets glo om te besluit of ‘n resepteboek werk, is om van die resepte in jou kombuis te beproef. Kook is nie my forté nie, maar my bedrewe buurvrou het ‘n paar resepte op die proef gestel en sy is beslis beïndruk. Trouens, ek moes pleit om my boek terug te kry om die resensie te voltooi met die allerpragtigste foto’s. Ek mog wel proe aan die baksels!

Sy haal Elizabeth Luard aan wat in Family Life ons attent maak op die genesing van kos. “Take a short view of life. Look no further than dinner or tea.”

Toe my oorlede moeder se Kook en geniet met ‘n trek na die aftreehuis verlore geraak het, kon ek onmiddellik haar troos met ‘n tweedehandse een. En Peter Blum se vrou het, toe Koos Human haar na jare in Londen raakgeloop het, gevra vir hierdie einste boek toe meneer Human wou weet wat hy vir haar kon stuur.

Nicky Stubbs praat dus met ‘n meer moderne gourmande en kok. Sy gee vir ons foto’s van haarself (en familie) wat hierdie resepteboek dan persoonlik maak. Die grootouers - woonagtig buite Kokstad - waar die kinders vrugte en groente gaan pluk het.

Dis dus enersyds ‘n nostalgiese reis die verlede in, maar andersyds ‘n uiters praktiese boek vol wenke. Sy vertel jou wat jy behoef om te kan kook. Ook wat jy in die spens benodig. Byvoorbeeld die soorte mosterd wat sy aanhou.

Tussen al die “grênd” resepte, is daar ook ‘n afdeling wat heet “Simple meals”.  Soos Hamburgers & Chips. En Makaroni & kaas, ‘n dis uit my jeug wat my nog steeds bekoor. Om my te nooi vir boerekos (dit weet my buurvrou), is die grootste treat denkbaar, omdat ek bykans elke aand van my lewe uiteet. Dit is my plek van sosialisering, maar met die voordeel: die volgende dag smul ek aan ‘n “doggie bag” en vermy slegte kafeteria-kos soos die pes. (Dit was immers Susan Sontag wat beweer het dat die slegste kos op aarde by universiteite te vinde is. # Badfoodmustfall, dink ek.)

En kyk watter gelukkige man lag uitbundig op bladsy 72!

Die kos is mooi gefotografeer; die “roast potatoes” (88) laat die mond behoorlik water. Haar raad: “keep it simple and as unfussy as possible”. In die afdeling oor “Beef & Lamb” – ek is nie vegetaries nie, maar lesbitaries – het my mond gewater. Dis amper weer tyd vir oxtail (osstert klink vir my terloops, obseen), en Saigon in Kaapstad is onoortroffe met ‘n Oosterse glimmer daarby. En die afdeling “Pork” – na Philida met my as romankarakter – is dit welige, wulpse, woeste hamboude vir die stadige kookproses.

‘n Soettand het ek nie, maar ‘n mens kan hier onder andere duidelik die Franse invloed sien.

Dis ‘n lieflike boek wat ‘n mens inspireer. Miskien gaan ek tog iewers in hierdie dae ‘n kookkursus aanpak. Vleis kan ek braai en jare gelede beman ek en vriende ‘n gastehuis op Swellendam. Ek braai die fillet en vra vir die gaste of alles wel is. Weke later besoek mense weer die plek en die man vra: “What happened to your excellent chef, the rather large lady?”

Lees en geniet. Dis nadat jy ook gekook het.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Thursday, April 13, 2017

Pirow Bekker — Voor ek my kom kry (2017)



Pirow Bekker — Voor ek my kom kry. Protea Boekhuis, 2017. ISBN: 978-1-4853- 0648-1 (gedrukte boek), 978-1-4853-0743-3 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

Jy

Jy is die vol leegte voor my,
niks is vol sonder jou
en niks is leeg met jou nie
jy is die laagte vol voor my.

Moenie weggaan nie, nooit nie,
anders sal die leegte leeg wees
en die volheid laer as leeg. (76).

Hierdie mooie vers is uit Stillerlewe (2002).

Sopas verskyn Voor ek my kom kry wat al die bekende handgrepe en temas van Bekker bevestig: die spel met ouer tekste, gedigte oor die siekte en naderende dood, die verganklikheid van alles, sosiale kommentaar.

In Rasuur (1993) parodieer hy Leipoldt se “Boggom en Voertsek” en maak daarvan die spel met kanker en genesing.

En hierdie bundel is ‘n belangrike publikasie, omdat dit die eis van vernuwing die nek inslaan. ‘n Digter hoef nie nuwe temas te ondersoek nie; of dramaties te vernuut nie. Solank daar bestendigheid is, behoort die digkuns-leser tevrede te wees. ‘n Mens dink hier aan Eybers wat dieselfde temas bly ondersoek het: met groter en selfs met minder drif – maar altyd goed. Veral die kritikus Neil Cochrane hou die eis van vernuwing voor asof dit ‘n geel kaart is vir die digter as dit nie presteer word nie!

So klink ‘n vers uit die bundel:

3. Weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie
(N.a.v. ‘n uitspraak van Randall Jarrell)

Om as geniaal in die literêre annale op te gaan
sal ‘n hoopvolle digter hom in ‘n storm maak staan,
maar om seker te wees, sal daar onder sy boom,
die weerlig hom vyf of ses keer raak moet slaan. (47)

Vir my was die grootste leesplesier die verse oor die digterskap: die gesprekke met Leipoldt, Totius, Marais: “Vergete is die aarde nie” (16) wat vra vir ‘n saamlees met Totius se klassieke “Die wêreld is ons woning nie”; “Erd-af mens” (28) wat Leipoldt onder die loep neem; en die “suinige digter” Marais wat deur vele verse trek.

Omdat die bundel is van ‘n ouerwordende digter, moet dit gelees word as ‘n bestekopname.

“Mededingerding” (33) wys op hierdie “anxiety of influence” (in Bloom se terme uit die gelyknamige bundel van 1973) waar die digter soek na ‘n plek in die kanon. In sy oorsig in die jongste Perspektief& Profiel (2015) wys Phil van Schalkwyk hoe moeilik dit is om ‘n oorsig te skryf oor so ‘n veelkantige skrywer, en dat die relatief min kritiese reaksies op sy werk hom genoop het tot ‘n nuwe inskatting. Moontlik, meen Van Schalkwyk, is die gevarieerdheid en ingewikkeldheid van sy werk iets wat ‘n rol speel om navorsers te ontmoedig? Of dalk ook sy rol as iemand wat buite modes of klieks staan? In sy besinning gee Van Schalkwyk ‘n komplekse en geïntegreerde lesing van die oeuvre en tree hy so in gesprek met ander kanoniseringspraktyke wat eerder chronologies of genre-gebaseer is.

En dit is bepaald so. Daar is die ouerwordende digter wat terugkyk na sy “precursors” of voorlopers in Afrikaans – en hulle steeds as belangrik ag.

As digter is Pirow Bekker se satiries-ironiese gedigte uitstekend. ‘n Mens dink hier aan die gedig “Nuutskepping” (39) waar die woord “selfmoord” nou “selfdood” geword het, maar die ellende is helaas steeds met ons. Die lagie suiker kan die galpil nie versoet nie, meen die digter.

Die digter besin oor die funksie van taal in “Diachronie van ‘n rymelaar” (63):

sinnigheid vir woorde
sterf in hul diaspora
met betekenisse smokkel
swerf hul na oorde
waar net die eggo’s koggel
wyd en wyer lê die spore
tot ook dié in kieselbrak verbrokkel

wat inskuif op die vers “Sinsbou” (68) met sy pynlike slot:

en hier te beaam hoe tiek ‘n sin, hoe
lewe ‘n gedig nog lank ná die “ame” sê.

In “Boedel” (61) is daar ‘n belydenis oor wat kritiese of gewone lesers met die digter se tekste maak. Dit beland in “onbekende kontekste, in ontnugterende verbande, Babeltale” en die digter besef:

….
ek raak by die dag kaler,
uitgewis uit die geheue van manuskripte,
tussen die velle met donkie-ore,
my geboorte net die dun skreeu
van ‘n luginhalige.

Benewens my leesreaksie wat die gedigte oor die digterskap uitstekend vind, is daar liefdesgedigte soos “Teen die weerloosheid” (76) wat hopelik in Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte opgeneem sal word:

….
My lank vertroude jas,
As verliefde dubbelgroot gekoop,
nou jare ouer en verslete,
vind ek het makliker geword
vir my om jou, beminde,
in hom, by my
teen wind en weer
nog vas te knoop.

En dit word weer opgetel deur die klein “As jy” (82), ‘n erkenning van die liefde se rol in ons lewe.

Dit is ‘n ryk-geskakeerde bundel: soveel temas, soveel besinnings. Oor die natuur, oor die politiek, oor die dood, oor siekte, oorlog  – en ‘n briljante een “Wie is Bart Nel?” (55)

Inderdaad ‘n skrywer en digter wat sy eie padkaart volg en oor die aarde en ekologie skryf; terugkyk tot sover as die Voortrekkers en in sogenaamde “stormvorme” kyk na ‘n biopsie of ‘n blokhuis. Die slot vers is die titel – amper ‘n soort (gemaakte?) verbasing oor wat hy meegemaak het. In “Gentlemen’s wars” (93) palinodeer hy Toon van den Heever met ‘n wrang-ironiese slot.
Veral die digter se punt-digte of sy korter verse is uitstekend.

Hierdie digter het in 1965 gedebuteer met Die klip sing. Daarna volg Toekomstige betrekkinge, Definisies deur die bloed, Eskarp, Rasuur, Stillerlewe,  Van roes en amarant in 2008. Atlas teen die vergeetrivier verskyn in 2013.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)