Showing posts with label Oscar Pistorius. Show all posts
Showing posts with label Oscar Pistorius. Show all posts

Tuesday, July 5, 2016

Joan Hambidge - Oscar en Reeva



 Reeva Steenkamp & Oscar Pistorius, fatale ontmoeting

Toe die Oscar Pistorius-saak gebeeldsaai is, het ek elke dag daarna gekyk om 'n student wat 'n doktorsgraad hieroor skryf, te begelei. Soos alle kykers was hierdie toeskouer emosioneel meegesleur. 'n Mens se besluit oor skuld/onskuld, simpatie/vergelding is telkens rondgeskommel.

Foto's van 'n huilende en selfs opgooiende Oscar. Beeld het ook TV-analises gemaak en met regsgeleerdes gepraat oor elke dag se aflewering.

Die tragedie is ook verwoord in twee gedigte oor sowel Oscar as Reeva in Matriks (Human & Rousseau, 2015). Die pynlike verlies van haar ouers versus die moderne tragedie van die gevalle held. George Steiner se The death of tragedy (Faber and Faber, 1961) kom ook in die visier. Is daar werklik sprake van tragedie na die sewentiende-eeu? Die media-verhoor het soos 'n sepie afgespeel, ook met metakommentaar en analises. Selfs boeke wat kort na die hofsaak te lese was.
Na die uitspraak - waar dolus eventualis deur elke leek bespreek en gekritiseer is - het die appèl-saak gevolg.

Nou is ons by die verhoor met moord en nie meer strafbare manslag nie. Nog 'n hoofstuk waarin ons nogmaals geskok word.

Hierdie keer met Oscar wat op sy stompies moet loop om sy weerloosheid te bewys (op versoek van Adv Barrie Roux) en Reeva se lyk wat vir die wêreld gewys moet word (op versoek van Adv Gerrie Nel).

Dat laasgenoemde met die toestemming van die ouers gedoen word, vind hierdie kommentator skokkend. Ons dink aan die onlangse verlede waar ouers geprotesteer het oor die lyk van 'n kind op die voorblad, omdat dit teen die Joodse geloof indruis (in die Goldin/Bloom-saak) en ouers wat Carte Blanche by die persraad aangegee het oor die onregmatige publikasie, juis omdat hulle die hof verlaat het toe dit gewys is (in die Inge Lotz-saak).

Nou is daar media-besluite oor of Reeva se foto's gebruik mag word. Vir my gaan dit nie om die konsep van die gesinskoerant nie. Jong kinders het waarskynlik alreeds haar foto op die internet raakgeboor, wetend hoe bedrewe hulle is met hierdie ekstensie van ons bestaan.

Dead Marilyn, by Marlene Dumas

Dit gaan eerder om respek vir die afgestorwene. Daar is in hierdie wêreld ook foto's van Marilyn Monroe beskibaar op die internet en ja, digters het ook al hieroor geskryf en Marlene Dumas het 'n skildery hiervan gemaak. Maar die verskil tussen 'n gedig oor iemand en 'n brutale, realiteitsfoto is hemelsbreed.

Is dit twee regsgeleerdes wat nou alles in hul vermoë doen om hul kliënt te verdedig? Die een wat 'n familie se verlies wil vergeld; die ander wat Oscar Pistorius uit die tronk wil hou en pleit vir korrektiewe toesig?

Gert Coetzee, redakteur van Beeld se Vrystaatse susterkoerant, Volksblad, sê “ja vir Oscar se stompies, maar nee vir Reeva se lyk".

In 1957 het Roland Barthes in Mythologies (Jonathan Cape, 1972) die volgende woorde geskryf:"What I claim is to live to the full the contradiction of my time, which may well make sarcasm the condition of truth" (12).

Hy verwys ook na die ideologiese misgrype van koerante wat in sy tyd nie die epiese afmetings van die moderne media enigsins kon verdiskonteer of voorspel nie.

In ons tyd met die internet en Facebook is die grense só verskuif dat die kyker/leser telkemale verbyster staan voor nog 'n krisis/hofsaak. In die beroemde essay oor stoei verwys Barthes na die "spectacle of excess" (15) en dit is hoe 'n mens die jongste aflewering van ons eie The bold and the beautiful moet interpreteer. 'n Samesnoering van Griekse drama, bulgeveg en spektakel.

Maar mites leeggemaak van hul oorspronklike inhoude of geloof soos Steiner klinkend argumenteer in sy studie (37)

*

Reeva

Kon jy weet
daardie laaste keer
by die hekke van die Silwer Huis
en Rooi Badkamer
'n sekuriteitsbeampte
sou Heilige Petrus vir jou speel?
Was daar 'n geel gloed óm
jou gehul, soos Jung beweer,
wanneer ons wetend-onwetend dié oorgang
in volledige eensaamheid, dus solo, maak?
Sou jy kon raai dat die beroemdheid
waarna jy smag jou 'n ereplek sou gee
in die galery langs JFK en Marilyn Monroe?
Jou oë gesluit soos Marilyn s'n
in die Brentwood-lykshuis in Los Angeles;
jou kop oopgeklief nes Jack s'n.
Kon jy dink realiteitstv was net 'n voorspel
tot 'n hofsaak met jou as die aanwesige-Afwesige?
Foto's geneem, selfs uit 'n lykshuis geskaai,
verkoop, vervleg, verpand, versend
met opgeswelde oë asof jy jou verweer
teen die ongerymde, die vervorming;
ja, selfs teen hierdie gedig,
'n vérdere openbare skending.

*

Oscar Pistorius

George Steiner had gelyk
in The Death of Tragedy
hoé onmoontlik dit blyk
te wees om ná Nietzsche
te praat van iets soos tragedie.
The Blade Runner
word The Blade Gunner:
in ’n wenkslag begryp
ons “he could turn on a tickey”.
Soos ’n koeël uit ’n geweer,
’n moderne Achilles,
met voete van plastiek.
Hubris? Hamartia?
Straf die gode die ongehoorsames?
Of moet ons volstaan
soos Pier Paolo Pasolini
in sy film oor Oedipus Rex:
in ons verwonding lê
ons krag
én ondergang?
© Joan Hambidge


Sunday, October 26, 2014

Repliek op André-Pierre du Plessis


Repliek op André-Pierre du Plessis

Inderdaad het die Oscar Pistorius-hofsaak ten einde geloop.  Dit word beskou deur internasionale media-kenners as die hofsaak van die eeu. Dit was ons OJ Simpson-saak. 'n Besondere verwikkelde een wat regstreeks gebeeldsend is en waaroor kenners nadink: het dit dalk 'n impak gehad op die getuienis wat gelewer is? Sou die staatsadvokaat en die verdediging minder dramaties opgetree het indien daar nie kameras was nie? Ek begelei tans 'n PhD-student wat hieroor navorsing doen: die representasie in die media en die rol van media-kommentaar (koerante, Twitter, Facebook, ensomeer) met verwysing na die werk o.a. van Baudrillard.

In Die Burger van 25 deser skryf André-Pierre du Plessis in hieroor : Einde van die Oscar Pistorius-‘hofsepie’ (Ek haal ter wille van my repliek sy stuk volledig onderaan hierdie bladsy aan).

Hy skryf: " ’n Bekende skrywer wat by ’n koffiewinkel in die Kaapse strandgebied die Pistorius-verhoor gekyk het, sal nou ’n ander rede vir haar daaglikse besoek moet vind. Sy het glo daagliks gevra dat die musiek afgedraai en die televisie se klank harder gedraai moet word sodat sy die dag se hofverrigtinge kon volg oor ’n kaasomelet vir ontbyt."

Ek is daardie bekende skrywer en die spitsvondige toespeling op kaasomelet, dui dan ook hierop. Inderdaad is die hofsaak hier gevolg, maar ook later op kantoor. Trouens, ek het elke dag hierna gekyk omrede my werk as studieleier en my verpligtinge kom ek nougeset na.

Dit was egter nie 'n sepie nie. Beslis nie Dallas of Sewende laan nie, omdat hierdie hofsaak verreikende gevolge het vir sowel Oscar Pistorius as vir die Steenkamp-gesin. Waarskynlik ook vir ons wat jurielede geword het.

Hy skryf ook: "Feite is dikwels vreemder as fiksie – en meer vermaaklik op TV." Is dit egter blote vermaak?

Ek is van mening dat die Oscar Pistorius-saak 'n paar belangrike kwessies opnuut onder ons aandag gebring het, soos dat dieselfde mense wat die palmtakke swaai, uiteindelik sal deelneem aan die kruisiging.

En dat die ongekende Schadenfreude van mense skokkend is. Sowel Oscar Pistorius as die Steenkamp-gesin behoort bejammer te word.

Oscar het alles verloor: sy aansien, sy sportloopbaan, sy geld, sy vriende, en, nota bene, sy geliefde. Hy het geen simboliese kapitaal meer nie.

Reeva het haar lewe verloor en haar ouers hul kind, hul toekomsverwagtinge en haar vader se gesondheid is ook in die weegskaal.

Hier is geen wenners nie.

En waarna sal ons nou kyk? 

Ons waarskynlik nadink oor konsepte soos hubris en hamartia en weer na George Steiner se belangwekkende studie terugkeer: The death of tragedy. Dit is in 1961 deur Faber & Faber gepubliseer. 

En tob oor waarom mense so - asof hulle by 'n rugbywedstryd was - hulle hande in die lug gegooi het toe Oscar tronkstraf opgelê is.

The medium is, after all, the message. Hy argumenteer dat ná die sewentiende eeu het God uit die wêreld verdwyn en ons is self hier aandadig. Hoe ironies dat Steiner argumenteer: "the great bang takes place off stage" (79).

Wat ons meegemaak het, is rekonstruksies, vertellinge, belydenisse, sms'e, getuinenis: representasies wat nie die werklike insident kon weergee nie.

Die ware tragedie, aldus Steiner, maak van min woorde gebruik: hoeveel tekste en bespiegelinge bestaan daar nie reeds oor Oscar en Reeva nie?

Maar ofskoon dit nie ware tragedie - soos Oedipus rex of Macbeth - is nie, is dit steeds nie 'n sepie nie.




Einde van die Oscar Pistorius-‘hofsepie’

Deur André-Pierre du Plessis Saterdag 25 Oktober 2014 4:30 vm. 

’n Bekende toneel wat nou nie meer op ons TV-skerms gaan wys nie.

Wat gaan ons kyk noudat Oscar Pistorius se hofsaak tot ’n einde gekom het? Wat gaan op die televisie teen die muur van jou gunstelingrestaurant flits of herhaaldelik op die groot TV-skerm in die ry by die bank speel?

’n Bekende skrywer wat by ’n koffiewinkel in die Kaapse strandgebied die Pistorius-verhoor gekyk het, sal nou ’n ander rede vir haar daaglikse besoek moet vind. Sy het glo daagliks gevra dat die musiek afgedraai en die televisie se klank harder gedraai moet word sodat sy die dag se hofverrigtinge kon volg oor ’n kaasomelet vir ontbyt.

Sedert 2 Maart hou ons bykans daagliks dop wat in ’n vaal vertrek tussen Madiba- en Proesstraat plaasvind in die hooggeregshof in Pretoria. 

Net soos ’n televisiesepie was daar aanvanklik maar min aksie. Die akteurs het dag in en dag uit dieselfde swart klere aangetrek en die rol wat elkeen vertolk het, het nooit te ver afgewyk van daardie eerste week toe elkeen ’n kans gekry het om te praat nie. 

Ons was so gefassineer deur die karakters in hierdie marathon-werklikheidsreeks dat ’n gedokterde foto van regter Thokozile Masipa wat inkopies doen wêreldwyd aandag geniet het.

Vir die kameramanne van die onderskeie nuusorganisasies kon die televisiekameras in die hof ook ’n paar lesse leer – soos hoe om ’n kamera stil te hou. Statiese skote het geen afbreek aan die drama in hofsaal GD tot gevolg gehad nie. 

Vir webblaaie en produksiemaatskappye het die rou beeldmateriaal veel meer oogballe en kykers gebring as wat hulle ooit kon verwag het. 

En vir die joernaliste wat deel was van die televisiedrama, kan dit alles nou ’n moontlike bykomende inkomste beteken uit ’n boek of ’n dokumentêr. 

Maar hoe het Pistorius se verhoor Suid-Afrikaanse televisiekykers en die plaaslike televisielandskap verander, indien enigsins? 

Die feit dat MultiChoice besluit het om ’n hele kanaal toe te ken aan die hofverrigtinge mag moontlik beteken dat daar in die toekoms veel meer toegang tot plaaslike nuusinhoud sal wees. 

Daar is reeds baie geskryf en gepraat oor hoe ongewoon die besluit was om televisiekameras in die hof toe te laat. As ’n mens dink dit het nou die deure vir nuuskameras na alle toekomstige hofverrigtinge oopgegooi, maak jy egter ’n fout. 

Die uiteindelike besluit berus steeds by die regter. 

Al is die meeste van Pistorius se hofverrigtinge sedert Maart nou beskikbaar op YouTube en ander videoplatforms, kan dit ook net so maklik verwyder word.

Die Suid-Afrikaanse parlement het byvoorbeeld onlangs veel meer toegang tot komiteesittings begin gee deur gereeld hul eie YouTube-kanaal vol te laai met die soort beeldmateriaal wat eintlik net op die parlementskanaal op DStv (kanaal 408) te sien was. 
Die meeste plaaslike nuuskanale het nie net die Pistorius-hofsaak op YouTube geplaas nie, maar het ook begin om toesprake van onder andere die openbare beskermer te wys. 
’n Mens kon selfs in ’n stadium op die parlement se YouTube-kanaal kyk hoe 20 EFF-LP’s die nasionale vergadering ontwrig het met hul dreunsang van “Pay back the money”. Duisende het dié video oor en oor gekyk totdat iemand in Pleinstraat besluit het om dit te verwyder.

As daar dan wel nie weer ’n TV-kanaal die lig sien wat 24 uur ’n dag op slegs een plaaslike nuusgebeurtenis fokus nie, kan ons altyd oorskakel na die parlementêre kanaal in die hoop op ’n bietjie opwinding. 

Die twee jongste nuuskanale op DStv – SABC News en ANN7 – het ook ’n geweldige klomp geld uitgegee om kykers toegang tot die een of ander staatsaankondiging te gee.

Ek hoop wel daar is êrens ’n regter wat vroeg volgende jaar sal instem om kykers weer binne-in ’n hofsaal toe te laat. Want, soos met die Pistorius-verhoor, weet ons almal nou tog te goed: Feite is dikwels vreemder as fiksie – en meer vermaaklik op TV.

■ André-Pierre du Plessis is hoof van Afrikaanse TV by Media24