Polana-Hotel
I.
Reis is nog
altyd vir my gekoppel aan kreatiwiteit. In 2000 het ek die millennium-oorgang
op die hotelstoep van die Polana ingedans – op “Volare”. In die jare 1999 tot
2000 het ek hierdie land verken en my bundel Lykdigte het hier sy beslag gekry en vele ander kreatiewe
opstuwings is geregistreer.
Die paradoks
tussen armoede en rykdom leer jy hanteer. Die verval van die midde-stad met sy
stinkende vullishouers leer jy pypkan. Maar dit bly aanwesig, daar...
Vir my is
Maputo, die ou Lourenço Marques, ‘n stad wat ek assosieer met kreatiwiteit. En
dit het my veel geleer van die koloniale verhouding tussen baas en kneg en hoe
laasgenoemde die taal van sy verdrukker leer sodat die moederland vir hom /
haar kan oopgaan.
As Hélène Cixous
praat van “nostalgeria” (1) om haar liefdevolle verbintenis met Algerië te
besing, wil ek praat van Maputisme. Hier het ek in die see geswem, die Polana
besoek, tot in Pemba gereis, in ‘n Rav rondgery en ‘n gelukkige verhouding
gehad. Vir my was die ervaring verseël in goeie herinneringe soos garnale eet,
die Inhaca-eiland besoek en oor stormwaters vaar, lang gesprekke en koorsige
hitte. Maar afgehandel.
Totdat ‘n
reisgenoot voorstel dat ons die land vir ‘n kort heen-en-weertjie moet besoek.
Op ‘n Getaway-aanbod. Vir ses dae in die Polana; vlug ingesluit.
II.
Ek keer nie
terug na plekke waar ek gelukkig was nie. Ek probeer dit in my herinnering
bewaar soos wat dit was. Plekke verander, maar ek laat my ompraat en ná ‘n taai
eerste kwartaal, besluit ek om tog weer te gaan.
Die reis begin
op ‘n verkeerde noot toe die Polana Hotel se bussie nie daar is nie. Ons is wel ‘n
halfuur laat, maar al die ander hotelle se gaste word afgehaal.
Ek bel. Enigsins
knorrig, omdat my reisgenoot ongedurig raak, en in die mistige motreëntjie is
ons binne ‘n kwartier by die hotel. Die gehuggies langs die pad is inmiddels
opgeknap – nogal met Vodacom-advertensies op die mure! Ek hoor hoe iemand praat
dat daar selfs ‘n Casino gebou is en ‘n Makro. Die Holiday Inn is kort
voor my laaste besoek begin en daar is glo talle nuwe wooneenhede opgerig. Die
stad is steeds vuil, beskyt en morsig.
“Dis nou vir jou
Afrika,” hoor ek die Tante agter my mor.
“Kan hierdie
mense tog nie leer om skoon te maak nie?”, vra die Bitsbek langs haar.
Ek sien hoe my reisgenoot
gril.
III.
En dan staan ons
voor my geliefde Polana!
Ek is dadelik in
‘n goeie luim en vergeet om te skel oor die laatkommery en die bestuurder se
afwesige Engels wat veral my reisgenoot oneindig irriteer.
“Bom Dia!”, groet
ek.
Die inboekery
verloop flink en die tasse staan op ‘n trollie voor die outydse hysbakkie.
Kamer 322 (2) kyk oor die swembad en die vaalsee uit. Die kamer se mure is groen
geverf en my reisgenoot meen die intérieur moet opgeknap word.
“Gmf. Biggie
Best”, meen die Visi-snob. Ondertussen het die Polana deel geword van die
Serena-groep en op wasgoedsak pronk ‘n nuwe logo.
Ek draf ondertoe
om ons vergete kas wyn te gaan haal.
“Dis nie gesteel
nie, want jou foon lui nog. As dit gesteel was, sou dit nie lui nie en iemand
sou alreeds die binnegoed verkwansel of weggegooi het,” meen Ontvangs.
Die selfoon, sou
ek ‘n dag later verneem, is teruggevind. Dus: nie alles word in Afrika gesteel
nie, meen my reisgenoot. Ek dink aan my slotvers in Lykdigte en die ou koloniale opstand wat waarskynlik uitgewoed
is... (3)
IV.
In Augustus
vertrek ek na die ICLA-kongres oor die prosesse wat inspeel op die digter se
gemoed wanneer sy haar eie verse vertaal: “The body as text / the text as body”
en in Mosambiek ontdek ek dat vertaling presies werk soos die verhouding tussen
moederland en kolonie.
Die kolonie wil ontheg, los wees, weggaan. Die tweede
vers kom in opstand teen die eerste vers. Dit kan net slaag as dit ‘n aparte
entiteit word. Die kongres vind plaas in Rio de Janeiro en die verhouding
tussen kolonies / moederland begin oorspoel in my siening van vertaling. Uys
Krige se wonderbaarlike Brasilië sing
– wat M.M. Walters redaksioneel versorg het in die Poësie uit verre lande-reeks (Perskor, 1990) help my verder om hierdie
punt raak te sien. Dus was hierdie besoek noodsaaklik om iets in te adem van
die verhouding tussen ‘n kolonie en moederland...
Dis aandete-tyd.
‘n Buffet beduie my reisgenoot wat reeds buite gaan stap het, terwyl ek skryf
op my laptop, kompakte Hewlett Packard.
V.
Ek kan ‘n
buffet-ete nie verduur nie. Dit bring herinnerige terug van Sondae toe my ou
vader besoeke aan hotelle as ‘n “treat” beskou het. Vir my gevoel is ‘n buffet
te veel van alles, en te min van die uitsonderlike. Maar hier word ek verkeerd
bewys in ‘n aanskoulike uitstalling van al die Portuguese disse denkbaar. En
die kolonie se “antwoord” en “toepassing” daarvan. Sekere van die geregte
herinner ook sterk aan disse wat ek in Kuba geëet het.
“Dit bewys dat
arm mense se kosse universeel is,” meen my reisgenoot.
Die
seekos-buffet die volgende aand is ‘n kulinêre hoogtepunt en jy stoei met die
Koningin garnale op jou bord wat groter is as ‘n kreef in Suid-Afrika.
Smaaklik, gul, wonderbaarlik.
“Die diens is ‘n
bietjie traag,” mor ‘n groep Duitse toeriste langs ons. Ons hoor hoe hulle meen
die wit uniforms van die kelners stylsel kort; ‘n getjipte bord word uitgewys
en daar word geknor oor botter wat nie op die tafel staan nie.
Hulle is nie
onaangenaam nie; net feitelik.
“Dis Afrika,”
merk ek op. Hulle hoor my, draai om en ‘n plesierige gesprek ontstaan.
‘n Vergelyking
tussen toe en nou word uitgespeel.
VI.
Ek negotiate my pyn
My beste
vriendin
lê gemessteek
ses voet diep;
my pa is wég na
‘n ander oord.
My girlfriend
versaak my,
nee, ek verlaat
háár.
O bring my die
ou-ou tyding
hier is alweer
fokken lyding.
My grootste konfidante
is al twee jaar
lank weg;
my Dad nou al ‘n
jaar lank dood.
My girlfriend
verwyt my,nee, ek stry met háár.
O bring my die
ou-ou tyding
hier is alweer
fokken lyding.
My nuwe
vertroueling,
‘n Mnemosyne,
se partner
meen haar
skryfsels ‘n ónding;
My voormalige
liefling,
oor my
skryfwerk, al kwater.
O bring my die
ou-ou tyding
hier is alweer
fokken lyding.
Die dooies stoot
dysies,
die skrywers
koop oorpluisies.
O bring my die
ou-ou tyding,
hier is alweer
fokken lyding.
L’envoi:
Hoe nou gemaak?
Almal is seer en
kwaad;
Dis nou maar
wors,
en botterskors!
Voetskrif:
1. Zeus het 9
keer met haar geslaap en so 9 muses geskep.
VII.
Ek dink na aan
oor die beginsel van “alambique” waarop die woord Mosambiek inspeel. Ek bestel
vir ons koffie.
Drie keer bel ek
kamerdienste.
Maar geen
koffie.
‘n Dag kan nie
begin sonder filterkoffie nie.
Ons wag ‘n uur.
Toe bel ek die
bestuurder.
“Ek het al vantevore
in u hotel tuisgegaan,” kla ek beheersd,
“maar die diens is nie meer wat dit was nie. My positiewe herineringe word nou
bederf.”
“Ek vra om
verskoning. U kan ‘n gratis middagete op die terras geniet.” Ek bedank hom
hoflik en die koffie is onmiddellik voor die deur. Een oproep en die hele hotel
se diens is meteens flink.
Dieselfde aand
is daar ‘n brief en ‘n bottel rooiwyn – vir Mrs Humbridge waarin verskoning
aangeteken word. Ek laat op my beurt ‘n nota van bedanking.
VIII.
a·lam·bi·que
m. still, alembic
Idioms:
pasar por el alambique to scrutinize, go over with a
fine-toothed comb
por alambique sparingly
Inflected Forms: alambiques
– masc
Voetskrif:
Daar is 164
kamers en 23 suites in die Polana hotel en volgens google is daar meer as 393
000 inskrywings vir hierdie hotel. Ek klik op ‘n ruimte wat ‘n kamer wys. In my
roman Kladboek – wat volgende jaar by Protea Boekehuis verskyn – is in die Polana
begin:
Hoofstuk 1
Daar is iets tentatiefs
aan die begin 'n verhaal soos die begin van 'n verhouding. Dit dink Die
Skrywer, terwyl sy haar gereed maak om op reis te gaan na haar geliefde in Moçambique. Dit is nie vir haar maklik om haar tas te pak nie, want sy het - sonder waarskuwing - emosioneel betrokke
geraak by 'n ander vrou. Boonop is sy presies halfpad met die voltooiing van 'n
nuwe boek en sy weet dat die reis dikwels nuwe, onbeplande wendings mag
meebring.
"Mag ek
jou bel?"
"Natuurlik",
sê Die Vrou. "Daar is niks agterbaks aan ons relasie nie."
Haar geliefde
wag haar in.
"Waarom
het jy soveel tasse saamgebring?", vra Geliefde.
"Ek moet
'n teks voltooi oor die self. Ten einde toelating in die VSA te kry as
gasdosent. Ek noem dit Being Joan
Hambidge," bely Die Skrywer.
"Alweer 'n
roman oor 'n roman oor 'n skrywer wat op soek is na 'n storie?"
"Ja, maar
met teorie. Ek moet kan bewys lewer dat ek die teorie onder die knie het vir
die winterkursus aan Harvard oor psigoanalise & letterkunde."
Maar sy
weet dis 'n halwe waarheid. Sy moet hierdie teks voltooi om die verbintenis
tussen haar en Die Vrou te probeer begryp. 'n Vrou wat sy twintig jaar gelede
as student ontmoet het en wat nou, onverwags, weer haar verskyning gemaak het
in haar lewe. 'n Vriendskap wat hoofsaaklik deur Die Vrou begin en volgehou is
totdat sy op 'n dag - na 'n handvol ontmoetings - besef dat sy betrokke is by
Die Vrou.
“Dis
besonder warm, maar ons gaan in die luukse Polana
tuis. Dis my kersgeskenk aan jou.”
Sy bedank Geliefde vir die duur
geskenk. Die hotel lê prentjiemooi soos 'n afdruk uit 'n kinderinkleurboek voor
hulle. Hulle het 'n duur suite, kamer 219, wat op die swembad uitkyk. Die
palmbome ritsel in die tropiese nag. Sy slaap diep en droom van Die Vrou. Hulle
sit saam in 'n bioskoopsaal en kyk na die stories van hul lewens. Die volgende
oggend skryf sy die droom neer op die luukse papier van die hotel. Sy skakel
haar laptop Compac Armada aan.
IX.
Dit is ‘n reënerige dag en ons moet binne bly. More sal die son weer skyn en kan ons die stad verken, die markte besoek en swem.
Ons sit in die teekamer en lees. Agter ons sit Albie Sachs met sy vrou en kindjie. Hy is druk in gesprek met gespreksgenote oor die “struggle”.
“So lyk die
onbewuste dalk!”, merk ek speels op.
Laatmiddag kyk
ons ‘n DVD. Persona (1966) van Ingmar
Bergman met Liv Ullman en Bibi Andersson waar die twee vroue se identiteite
oormekaar loop en die een se verhaal die ander een s’n word.
Ek onthou toe ek die film die eerste keer gesien het, hoe uitsonderlik die impak was. Nou sien ek die interspel tussen twee minnaresse van Bergman: Bibi Andersson die voormalige geliefde teenoor Liv Ullman wat ná hierdie film sy geliefde geword het. Die film het ‘n subtiele lesbiese sub-teks en die wyse waarop die twee vroue met mekaar praat, die intimiteit tussen hulle, sou deur ‘n ander filmmaker – dalk ‘n vrou? – anders ontgin kon word.
Die film bly boeiend,
pakkend. In ‘n stadium – in ‘n soort metarefleksie? – sien die kyker hoe die
film as’t ware breek en word jy bewus gemaak van die feit dat jy na ‘n film
kyk. Jy betree die slipperige arena van die onbewuste: ‘n aktrise wat stom geword
het en tydens ‘n produksie van Elektra
nie verder kan toneelspeel nie. Die verpleegster wat haar versorg, is egter self
‘n gekompliseerde persoon met jeugherinneringe van verkragting en ‘n aborsie
wat gesinkopeer word met die aktrise se pynlike ervaring van moederskap. Alma
(die verpleegster) verteenwoordig die siel; die aktrise (Elizabeth Vogler) staan
vir die persona in Jungiaanse terme (5).
Die film
illustreer ook dat die verhouding tussen analis en analysand in Lacaniaanse
terme wat nie stabiel is nie. Die rolle word voortdurend verwissel. Ullman, die
aktrise, moes verskillende personas aanneem in haar lewe. Die verpleegster neem
egter haar persona oor.
Is Ullman
psigies siek?
Of het sy gewoon
besluit om stom te word?
Die verpleegster
ontdek dat sy wél kan praat en dat sy haar manipuleer met haar toestand ten
einde die storie van die verpleegster aan te hoor...
Met die
verpleegster wat haar konfronteer oor haar onvervulde rol as moeder: dat sy
haar baba doodgewens het en gehoop het die kind is stom by geboorte.
X.
‘n Stad het ‘n
onbewuste, verduidelik ek aan my reisgenoot, ‘n alter ego.
Die verrottende
stad met al sy Ambassades kan as die paradoks beskou word. Enersyds verrotting,
andersyds beheer/orde.
Maar ek moet
“beyond binarisms” beweeg, versoek my ICLA-kongresvoorstel. Die derde ruimte.
(Destyds) Suite
219 en (nou) Kamer 322 toesluit en ‘n ander ruimte betree.
Om te skryf, is
om iets te behou, te bewaar, in ‘n argief.
Maar dit is ook
om dood te gaan. Met elke teks maak jy die vorige stuk geskiedenis dood.
Met
elke restorasie van die Polana hotel, is die vorige weergawe dood verklaar.
Ek kyk na die
foto’s teen die mure.
“Vertel my iets
van die geskiedenis van die hotel,” vra my reisgenoot.
“Eendag lank
lank gelede....”, begin ek. In al die hotel se netjiese pamflette word die
geskiedenis nie vermeld nie. Ek sou indertyd my vader kon vra. Ek is skielik
oorval deur ‘n weemoed en verlange na my vader se kennis van die geskiedenis.
Ek probeer kalm
bly.
“Kyk hier is
vele uitstappies. ‘n Halwe dag-stadstoer, ‘n volle dag, Maputo by Nite, ‘n
Sunset Cruise, ‘n Inhaca-toer teen ‘n stywe R1000 p/persoon. En natuurlik ‘n visvang-ekspedisie,
vroegoggend.”
“Gmf. Jy
visvang!”
“Ek het al. Ek
het ‘n piranha in die Amasone gevang toe ek daar gereis het. Met ‘n vislyn en
stukkie rou vleis en agterna die vis gebraai. Dit proe tussen hoender en vis.”
Laatmiddag huur
ons ‘n taxi vir ‘n R100 per uur: op die Marginal tot by Costa do Sol. Terug tot
by die stasie en tot by die beroemde stadsmark.
XI.
In die kroeg probeer ons die paradokse van die stad begryp en dekodeer.
Die spanning
tussen armoede en rykdom. Die klomp Ambassades wat hier pronk: selfs die
Japannese het hier ‘n vesting en die Sjinese Ambassade lyk soos ‘n stukkie
kitsch Sjina.
“Ek dink dit is
‘n konsulaat,” merk my reisgenoot op.
“Afrika-artefakte,
geslagte diere, bokke vasgerem aan ‘n paal, oopbek-Baracudas.
Dit representeer
Afrika vir jou.” My bitter-Skots begin
nou terugpraat. Ons taxi-gids het na ‘n uur-en-half R200 geëis in sy
sukkelende, swoegende stokou-tjor.
“Die garnale so
groot soos krewe, die vriendelike mense, die hulpvaardige kelners...”.
“En ‘n dekonstruksie
van wat jy dink jy gaan kry en wat die werklikheid inhou. Nie waar nie? “ My
reisgenoot se Pink Nellie begin ook praat.
“Ja, maar ek
dink steeds dit is ‘n skokkende ervaring. En die hotel moet gerestoureer word.
En vaderland, hoe kan die busbestuurder se Engels so afwesig wees?”
“Dink so
daaraan: ‘n perfekte vyfster-hotel, soomloos, alles op sy plek, gestyfde lakens
en uniforms, sal perfek wees. Maar dit gaan jou verveel. Bittergou. Dit is juis
omdat jy die hele tyd tussen twee plekke beweeg en in jou gedagtes ‘n derde
moontlikheid of ruimte skep, wat hierdie reis so uitdagend maak.
XII.
Ek gaan kamer
toe om verder te skryf aan my referaat. Daar is baie leeswerk en verpakking
nodig. Ek begin om ‘n vers te vertaal, maar haak vas. Wat is Derrida se siening
van die onbewuste presies? In Writing and
Difference (Routledge & Kegan Paul, 1978) verwys hy daarna as dit wat
daar is, maar ook afwesig is. Soos ‘n argief wat alreeds transkripsies is.
Sonder ‘n
sisteem. Geen indeks.
“A weave of pure
traces.”
“Nachträglich”.
‘n Aanhangsel.
‘n Verskil waar
betekenis en krag verenig word.
Alles begin met
reproduksie, skryf hy.
“Originary
prints”.
Ek maak die boek
toe. Gister het daar twee palmtakke van die boom afgewaai en amper-amper op my
geval. Moe gaan ons terug. Per bussie na die lughawe: Maputo tot in Kaapstad.
Ek stap na die
besigheidsarea om my e-posse te lees en boodskappe te versend.
To: etiennev@mweb.co.za
Dag daar
Hiermee my essay
– soos beloof – oor die Polana. Kan jy dit op Litnet plaas sodat al die verwysings na foto’s en intertekste die
leser laat inbeweeg in die hiperteks?
Ek sit gou in
die besigheidsarea van die hotel. Hoop die essay geval jou.
Sal jy vir die
tweedejaars laat weet ek kan hulle eers om elf sien? En dat hulle Lehman se essay oor
postmodernisme by die sekretaresse moet afhaal?
My vlug is
vertraag!
Jy weet hoe dit
is. Nou val al die dominoe-blokkies om.
Het jy gesien
NALN is in die spervuur? Vaderland, wat is volgende!
Dit was tog ‘n
belangrike argief vir die Afrikaanse skrywer en leser. My manuskripte staan
gelukkig alles in my persoonlike argief.
Ek vind dit
moeilik om afskeid te neem van ou tekste. Ek moet altyd weer terugkeer na dit
wat ek reeds geskryf het – al is dit net om te besef dat ek nie meer daardie
mens is nie. ‘n Mens gaan met elke boek dood: figuurlik gesproke en die
katterige opmerking van ‘n jong digtertjie dat hy sou selfmoord gepleeg het as
hy al soveel kritiek as ek moes verduur het, het my laat nadink.
Met elke boek
gaan jy dood: staan jy figuurlik op uit die dode....
Nou ja.
Binnekort is ek terug. Gister terwyl ek lans die swembad lê en lees, val daar
meteens twee palmtakke amper bo-op my.
Narrow escape!
Beste wense,
JH
mwj.ham@mweb.co.za
*
margaret@mobileemail.vodafonesa.co.za
Dag daar
My vlug is
vertraag en ek oop jy het die kommentaar op jou ms. gekry.
Dit is ‘n
aangrypende boek – waarskynlik sal lesers eendag die gesprek tussen my en jou
in Palindroom uitwys. Dalk nie.
Dankie vir jou
e-pos.
Pase in die
Polana.
Dit was
ontredderend. Enersyds ‘n ontspanning (ek het heerlik geswem en gelees), maar
andersyds onthutsend.
Daar is maar
altyd die spoke wat loop...
Dit was vir my
nogal pynlik om te dink hoe was toe; en hoe is nou.
In iedere geval:
ontgin in jou roman die verhouding met die mentor.
Jy bly dit
uitstel. ‘n Mens kan net skryf as jy vreesloos inbeweeg in jou Bloubaardkamer.
Tot later,
JH
*
Kreatiewe
skryfwerk@mweb.co.za
Dag
Ek sien julle
Vrydag om 3nm. Bring ‘n gedig en jou essay oor Cussons. Die vorige verse is
puik. C die volgende mantra is vir jou:
“Ek mag soveel
dig as wat ek wil, ek mag welig dig, ek mag dig so veel as wat ek wil, ek mag
welig dig.”
Sit die kritiek
agter jou.
JH
mwj.ham@mweb.co.za
Joan Hambidge
April 2007
Endnotas:
1. Cixous se
term “nostalgeria” verwys na die nostalgiese verlange na Algerië, die plek van
haar geboorte. Dit is ruimte waarna daar nie teruggekeer kan word nie. Dit is
verewig in die geheue, in herinnering, in fantasie. Vide Ginette Michaux en
Sarah-Anais Crevier Goulet : Derrrida & Cixous in die gesprek oor
“nostalgeria” wat o.a. deur Derrida gebruik word om haar obsessie te beskryf of
haar sogenaamde “algeriance’. muse.jhu.edu/journals.
2.Work in
progress geskryf in Kamer 322:
Ek keer terug na
Moçambique,
‘n eens geliefde
stad,‘n stad in die trope.
In jou naam ‘n
sirkelgang opgesluit.
Hoekom is jy ‘n
land van weemoed?
‘n Land van die
fado, die treurlied,
soos jou
moederland, Portugal?
Waarom die ewige
nostalgie?
Oor dit wat vir
ewig verlore is:
jou ryk lanings
vertel van ‘n vervloë era
toe mans met
sigare en ou brandewyn en port
kon praat oor
die plantasies op hul villas,
agtergelaat in
ou statige Lisboa,
hul vrouens
steeds met sis-aandrokke,
verlangend na
hul vaders en ongeskonde jeug.
Knegte wat op
elke versoek of knik
stip reageer; ‘n
handgebaar
of vinger flink
geïnterpreteer.
Lang
aandwandelinge in boomryke lanings,
lanterns
feestelik versier: die dienskneg
op sy plek vir
die baas van sý plaas.
Hierdie mense
het verdwyn. Soos ‘n gordyn
toegetrek vóór
‘n lang reis. En later
housparre oor
vensters gekap. Hortjies gesluit.
‘n
Verkoop-bordjie skryn oor die skewe hek.
Roes, onkruid en
ligene die enigste teken van lewe.
Opstand skiet
bitter saad in die boulevards.
Die eienaars het
nooit weer teruggekeer nie.
Nie eens in
hierdie gedig nie.
En nou?
Nou verlang
hulle in Lisboa terug
na Lourenzo
Marques
wat in hul
afwesigheid
sonder hul
medewete of goedkeuring
of swaai van die
vinger,
ná ‘n bloeiende
opstand,
Maputo geword
het.
Ons liefde
Ons liefde nou
soos ‘n ou
koloniale hotel
wat iets verraai
van ‘n vorige bloeityd
duur ware,
kandelare, ‘n outydse hysbakkie
à la daardie
Modern Milly (steek
tussen die
eerste en tweede vloer vas),
‘n getjipte
bord, kamerdiens wat sloer
- twee koffies,
asseblief –
kelners in ‘n
net-net nie-skoon uniform,
‘n soutpot wat
leeg gaap,
‘n merk (bloed)
op ‘n effe geskifte laken.
Maar laat ons
nie voortborduur nie.
Daar was ‘n
tyd (dis nou ek en jy)
toe alles kliksag
verloop het.
Veral die
kamerdiens was perfek:
oor lakens wat
hartstog het jy my laar gly.
Dit was ‘n
broeityd, toe.
Nou gaap die dag
sy stink asem.
En die gedig
haak vas in herinnering,
in mymering. Wie
sal die binneversiering
verander?
Wanneer begin die restourasie tog?
Villanelle vir haar
Sy het my vir
altyd verlaat,
my
allerliefling, sy is nou dood.
Sy het my vir
altyd verlaat.
Gisteraand
ontdek ek te laat,
‘n brief uit ‘n
ander oord.
Sy het my vir
altyd verlaat.
Ek noem haar my
toeverlaat,
my lief gekoppel
aan moord.
Sy het my vir
altyd verlaat.
Ek hunker nog,
helaas te laat,
in herinneringe
en gedigte voort.
Sy het my vir
altyd verlaat.
Daar is niks
meer oor vanaand,
‘n vers soos ‘n
ragfyne koord.
Sy het my vir
altyd verlaat.
Al versoek sy ek
moet dit laat,
weet ek: soort
soek soort.
Sy het my vir
altyd verlaat,
Sy het my vir
altyd verlaat.
3. Uit Lykdigte (Tafelberg, 2000):
41. Lyksang uit die trope
I.
Agter die
ruïnes
en verlate
geboue,
stukkende
misrabele puinhope
lê 'n eens
verlore wêreld opgesluit:
stoets,
imposant, glorieryk, groots.
Maar as die
maan oor die oseaan hang
en lig
terugflits oor 'n soel somersaand
kry herinnering
lewe en vertel ooggetuies,
onbelemmerde
waarnemers soos
miere, klein
oerdiere, armadillos
hoe dit eens
was in 'n stad
waar Lisboa in
Afrika kon saambestaan:
'n fado gedans
tot 'n trom speel...
mans wat skaak
speel en koek eet
met oopnekhemde
en panamahoede
en soet bier
drink in op skuld-kroegies
en vrolike
straatkafees. Soms kibbelend
oor 'n conta of opstandige vrou
of werker wat
die roede in liefde sou
voel. Maar alle
berou kom bittergou,
want selfs die
liefde kreools bedryf.
II.
Dit kon nie net
dias de tolerância
wees nie.
Waarom dan die verlate, halfgeboude
konstruksies
wat letsels dra soos pokmerke
op 'n gesig, 'n
geamputeerde liggaam?
'n Stad is soos
'n lewende liggaam
voel kouevuur
en verbeelde pyn;
'n verlore
ledemaat bly registreer
in 'n vloed en
eb van onthou, vergeet.
Oorlog se
testament nooit finaal beredder;
nasate
opstandige, onrustige onterfdes
wat jarelank
treur oor afgebrande plantasies,
verlore besittings,
'n nuwe familiewapen:
perdas e danos, perdas e danos.
III.
'n Land dra sy
landmerke soos 'n reisiger
sy paspoort vol
stempels: Xai-Xai, Inhambane,
Beiras, Dondo,
Quelimane, Angoche, Nampula, Pemba
erodeer, negeer
'n vervloë bestaan.
Geskeurde
paspoort met visas verval
of ongeldig: nao entrada.
In 'n Katolieke
kerkie in Pemba
bloei Christus
se wonde
vir die
vryheidsvegter,
vir die
bedelaar,
vir die dolende
hoer,
vir die blinde
melaatse:
'n ewigheid
verbrou.
IV.
Name dra
poësie, teken die reisiger
in 'n notaboek
aan. Soos woorde
jou immer
agtervolg: palimpses, ruïne,
landkaart, monument, vervloë tyd.
Iets vertekends
in hierdie landskap,
merk jy op,
onbewus dat ons woorde
alles aan die
vergetelheid mag ontruk.
"Ése fue
mi destino y en él viajó mi anhelo"
skryf Pablo
Neruda. "Dit was my bestemming
en hierin lê
die reis van my begeerte."
Om 'n onbekende
landskap te karteer
soos om poësie
te vertaal: die regte begrip,
nuanse,
implikasie word 'n onbeplande reis.
V.
"Dit was
my bestemming
en hierin lê
die reis van my begeerte."
word my mantra
in die bedompige trope.
Dit stuifreën
vandag. Die paaie onbegaanbaar,
die uitsig
belemmer. Relieke, raaisels,
noem jy op. 'n
Gedig skryf sigself:
twee sisteme
bots in oorlog,
'n metafoor vir
die woordreisiger.
VI.
"Niks kon
ons voorberei op hul haat",
berig 'n ou
kolonis met sy snor
sadisties
geknip. "Hulle gesigte soos maskers
uit hout
gesny." Hy skryf hierdie woorde op,
in Portugal ver
van sy skade, na aan berou...
"Pyn het
geen datum van ontslag."
Sy ebbehoutmes
kerf tabakrolle
soos hy aan
herinnering pruim:
VII.
Die laaste dag
in Lourenco Marques
onthou hy goed:
hoe almal opruim
inderhaas die
stad verlaat
hulle haas weg
weg van die marsende,
opruiende,
opstandige massa
'n vloed van
haat en opgekropte onreg
perdas e danos perdas e danos
VIII.
skroei deur die
briesende strate.
Dekades later
stap die digter
deur die eens
glorieryke wêreld:
hoe lyk 'n stad
wat sterf?
Hy dra die
stank van ontbinding
soos sweet- en
uitskotreuke.
'n Park word 'n
asvalhoop.
Die embleme van
'n ou bestaan verborge
onder verval,
verderf, verwering.
Saggies
skarnier die kerkhofhek:
'n forel in
reënboogkleure
spuit oor groen
mos sy helder water.
Woordelys
dias de tolerância: dae van verdraagsaamheid
nao entrada: geen ingang
perdas e danos: verlies en skade
Hoe verskil die
ervaring nie van die glanspapier nie!
5. Oor Ingmar Bergman.
"Why has
the music stopped?
Why is there
such silence?"
Osip Mandelstam
[Hierdie artikel
word met vriendelike vergunning van Litnet
Seminaarkamer geplaas.]
(c) Joan Hambidge