Showing posts with label 2013. Show all posts
Showing posts with label 2013. Show all posts

Tuesday, February 9, 2016

John Williams - Stoner - a novel (1965/2013)


John Williams - Stoner - a novel (1965). Heruitgawe Vintage, 2013. ISBN 978-0099561545

Resensie: Joan Hambidge

I

Hierdie besonderse roman van John Williams het op my lessenaar geland nadat ‘n vriendin dit aanbeveel het. 'n Mens dink onwillekeurig aan die genre van die kampusroman en in my kantoor staan die volgende tekste: The Groves of Academe van Mary McCarthy (1952), Lucky Jim van Kingsley Amis (1954), Pnin van Vladimir Nabokof (1959), The Dean's December van Saul Bellow (1982), Changing Places van David Lodge (1975),The human stain van Philip Roth (2000), Disgrace van JM Coetzee (1999) ...

Vir 'n uitgebreide lys, besoek gerus Campus novel - Wikipedia, the freeencyclopedia.

Lodge wat hoofsaaklik as satirikus die wel en weë van die akademika bespreek, is ook 'n gesiene samesteller van literatuurteoretiese essays. Changing places, ‘n uiters vermaaklike roman, ondersoek en satiriseer die verskille tussen die Britse en Amerikaanse kampus. Dit word as volg opgesom:
Changing Places is a comic novel with serious undercurrents. It tells the story of the six-month academic exchange program between fictional universities located in Rummidge (modelled on Birmingham in England) and Plotinus, in the state of Euphoria (modeled on Berkeley in California). The two academics taking part in the exchange are both aged 40, but appear at first to otherwise have little in common, mainly because of the differing academic systems of their native countries.The English participant, Philip Swallow, is a very conventional and conformist British academic, and somewhat in awe of the American way of life. By contrast the American, Morris Zapp, is a top-ranking American professor who only agrees to go to Rummidge because his wife agrees to postpone long-threatened divorce proceedings on condition that he move out of the marital home for six months. Zapp is at first both contemptuous of, and amused by, what he perceives as the amateurism of British academia.As the exchange progresses, however, both Swallow and Zapp find that they begin to fit in surprisingly well to their new environments. In the course of the story, each man has an affair with the other's wife. Before that, Swallow sleeps with Zapp's daughter Melanie, without realizing who she is. She, however, takes up with a former undergraduate student of his, Charles Boon.Swallow and Zapp even consider remaining permanently. The book ends with the two couples convened in a New York hotel room to decide their fates. The novel ends without a clear-cut decision, though the sequel Small World: An Academic Romance, reveals that Swallow and Zapp returned to their respective countries and domestic situations (Changing Places - Wikipedia, the freeencyclopedia). 
Jare gelede het ek 'n kampusroman Kopïïs begin oor die kwellinge van kreatiewe skryfwerk en die invloed daarvan op mentor en mentee.

Dit is nooit gepubliseer nie, want ek was nie reg vir die gegewe nie.

My eie roman Judaskus was waarskynlik 'n interteks vir Coetzee se Disgrace.

Die kampusroman handel dan oor die akademiese ruimte: studente, professore, intriges, nydighede, ambisie, gesagstrukture, kurrikula wat moet aanpas en verander. 'n Leser sal dit lonend vind om te sien hoe literatuurteorie byvoorbeeld verander het en C.G. Jung en D.H. Lawrence o.a. uit kompendia "verdwyn" het met die opkoms van strukturalisme en poststrukturalisme. In Stoner is die hoofkarakter telkens daarvan bewus hoe letterkunde doseer word deur dosente wat dit nie "geniet" of "waardeer" nie.. 

Ons weet hoe daar sekere (politieke) modes op kampusse is: seksuele teistering wat hoogmode was ‘n dekade of wat terug; nou is dit klagtes (vermeend of waar) oor rassisme; die hele debat oor transformasie en hoe akademici dit uiteenlopend vertolk, is ook aan die orde van die dag. Jane Gallop, die literatuurteoretikus, Woman accused of sexual harassment, is ‘n belangrike teks oor die politiek van hierdie proses. Hierdie studie het in 1997 verskyn.

II

Wat maak Stoner so treffend? Toe die roman in die sestigerjare verskyn het, was dit nie so ‘n suksesverhaal as met die heruitgawe in 2003 nie. John Williams, die outeur, het in Denver gestudeer, ‘n PhD behaal aan die Universiteit van Missouri. Hy het teruggekeer na Denver waar hy vir meer as dertig jaar letterkunde en die “craft of writing” doseer het. Dus is dit iemand wat die “binnewerkinge” van die kampus ken en eerstehands hieroor kon skryf. (Die outeur is oorlede in 1994).

Ek wil nie graag die storie verklap nie. Die leser word ingetrek by ‘n ongelukkige huwelik, eensaamheid, ‘n komplekse verhouding met ‘n kind, ouers en skoonouers.

Uiteraard is daar die “moeilike” student wat spanning tussen home n ‘n kollega skep, maar as beginselvaste persoon weier hy om in te gee wanneer die student in ‘n mondeling swak vaar. En hierdie stryd tussen hom en die kollega gee aan die kollega ‘n magtige wapen teen hom wanneer hy met ‘n voormalige student ‘n verhouding begin. Vir ‘n volledige opsomming van die verhaal, lees Stoner Summary & Study Guide (Besoek 9 Februarie 2016).

Die jong seun – wat aanvanklik landbou studeer – word begeester deur die letterkunde. En dit is, myns insiens, die onderliggende boodskap van hierdie boek. Te midde van o.a. WOI – as die backdrop waarin tydgenote sterf – verraad, die selfdood van ‘n skoonvader, ‘n liefdelose huwelik, die swangerskap van sy dogter (wat waarskynlik swanger raak om uit die troostelose huis te kan ontvlug), ‘n gemene baas, Hollis Lomax – wat boonop ‘n misvormde mens is – is die letterkunde die Oorwinnaar.

Aan die einde hou hy die rooi boek vas wat hy geskryf het en hy is geraak deur die inskripsie van sy geliefde (wat die universiteit verlaat het weens die drukgroepe) voor in haar studie.

Teen die einde van die roman: ”But he read little, though the presence of his books comforted him” (282).

Hierdie roman is deur Tom Hanks hoog aangeslaan en Julian Barnes noem dit “a terrific novel of echoing sadness”.

Hartseer. Eensaam. Dit begin soos volg: ”William Stoner entered the University of Missouri as a freshman in the year 1910, at the age of nineteen. Eight years later, during the height of World war I, he received his Doctor of Philosophy degree and accepted an instructorship at the same university, where he taught until his death in 1956”.

Kyk wat hy sê wanneer hy aftree …

En in hierdie opsomming – soos in ‘n Nabokof-roman – word ‘n hele lewe vertel. Een van ‘n eensame, dog beginselvaste man wat ‘n klein moment van liefde ervaar en telkens te staan kom voor ongelooflike isolasie.

Soos Karel Schoeman wat uit die ongeleefde ervaring iets groots kan maak, karteer hierdie roman presies dít.

John Williams
Endnote:

Vir ‘n indrukwekkende indeks van die kampusroman, besoek Campus novel - Wikipedia,the free encyclopedia.


Thursday, January 23, 2014

Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - vertaal deur Johann de Lange (2013)



Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. 'n Keur deur Craig Mackenzie en  Stephen Gray, vertaal deur Johann de Lange. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-6446-7/ISBN 978-0-7981-6447-4 (epub)/ISBN 978-0-7981-6448-1 (mobi)
Resensent: Joan Hambidge

In my hoërskooljare had ons 'n Engelse onnie wat vir ons Bosman voorgelees het. Met sy voete uitgestrek op die lessenaar voor hom het hy ons jong Afrikaanse kinders voorgestel aan die unieke vertelkuns van Herman Charles Bosman. So het hy nie alleen jong kinders vir die beste van Bosman gewen nie, maar het hy ook op die spel tussen Engels en Afrikaans aan ons voorgestel. En ons attent gemaak op die ironieë in sy verhale. Nou nog kan ek Patrick Mynhardt se vertolkings onthou en hoe ons in die saal gelag het vir sy  begeesterde vertolking van "A Bekkersdal marathon".

Sopas het Johann de Lange Bosman getransporteer van Engels na Afrikaans, pragtig uitgegee deur Human & Rousseau. The best of Bosman - daardie klassieke keur van Craig Mackenzie en Stephen Gray.

De Lange is 'n kranige vertaler. Besoek gerus sy blog Kaapse paragrawe. Hy begryp dat die vertaler ook die oorspronklike vorm moet eerbiedig. 'n Sonnet moet 'n sonnet bly; 'n distigon 'n distigon.

In die voorwoord vind die leser die volgende handige biografie:

Herman Charles Bosman is gebore in 1905 in Kuilsrivier naby Kaapstad. In 1916 het die familie na die Transvaal getrek, waar hulle hulle eers in Potchefstroom en daarna, in 1918, in Johannesburg gevestig het. Nadat hy aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Normaalkollege gestudeer het, is Bosman as ’n jong onderwyser gestuur na ’n plaasskool naby Zwingli in die Marico-distrik, van wat toe die Wes-Transvaal was. Dit was daar dat hy ’n gemeenskap ryk aan storievertellers teëgekom het – baasvertellers wat wonderbaarlike stories oor die Boereoorlog en ander onvergeetlike gebeure kon vertel.
Hy sou hierdie figure later verewig in sy eie oom Schalk Lourenskarakter. Sy verblyf in die Marico is skielik beëindig toe hy gearresteer en skuldig bevind is aan die moord op sy stiefbroer tydens ’n vakansie by die familie se huis in Johannesburg. Aanvanklik is hy tot die dood veroordeel, maar sy vonnis is versag en hy het vier jaar uitgedien in die Pretoria Sentrale Gevangenis.
Ná sy vrylating in 1930 het hy as joernalis begin werk en kortverhale begin skryf. Van sy vroegste werk was oom Schalk Lourens-verhale, wat hy deurgaans geskryf het tussen 1930 en 1951, die jaar van sy dood. In 1950 het hy die “Voorkamer”-reeks begin skryf, en het altesaam ongeveer 80 van hierdie stukke geskryf. Hy het ook sporadies stories geskryf wat hy in sy eie stem, as skrywer, aangebied het; hierdie stukke is in 2000 versamel as Old Transvaal Stories. Al drie hierdie vertelmodusse word in hierdie keur verteenwoordig.
Bosman het in Oktober 1951 skielik aan ’n hartaanval gesterf. Hy het slegs drie van sy werke in sy leeftyd in druk gesien: Jacaranda in the Night (1947), Mafeking Road (1947) en Cold Stone Jug (1949), sy tronkherinneringe.

Die voorwoord situeer die verhale ook vir die leser: die Oom Schalk Lourens-verhale, die voorkamerstories en dan die laaste verhale waarin 'n skrywer as die verteller optree. Daar word ook verwys na die distillaat van die mondelinge tradisie en iets wat hierdie talentvolle skrywer baie goed kom saamsnoer in sy eie aanslag. Die boereverhaal - boeregrap - is dan ook iets wat Bosman gebruik en Aucamp se "Vir vier stemme" (Volmink, 1981) is duidelik in gesprek met hierdie tradisie waarbinne Bosman gewerk het. Anekdote, kroegverhaal, "tall story" en geskiedenis word op 'n gesofistikeerde wyse aangebied vir die leser - wat Bosman tereg modern maak. Soos Mackenzie dan opmerk:

Bosman se stories neem hierdie hele greep geskiedenis in. Sy verdieping in sy agterveldse inkleding is dus slinks bedrieglik: Sy karakters is takhare, maar hul boerse wysheid en hul skepper se vermoë om hulle tydlose kwaliteite te gee, maak dat die stories wat hulle vertel vandag nog geldig is. Bosman se blywende gewildheid vir meer as ’n halfeeu is veelseggende bewys hiervan. Mag hierdie keur van sy beste verhale sy gewildheid nog baie jare laat voortleef.   (14)

*

Die vertaling van 'n teks behoort altyd die "grein van die stem" te behou, daardie relevante term van Roland Barthes.

"Makapan se grotte" - met sy politiek-inkorrekte aanslag en oordrywing - hou 'n mens gevange. Jy kan nie glo wat jy hier lees nie en hoe jy as leser ingesleep word by 'n komplekse verhaal wat die geskiedenis (Kruger en die Trekkers) aktiveer en die rassepolitiek van die tyd. Hoe swartmense saamgeveg het. In die navrante slot - wat besonder goed deur die inleiding voorberei word, ruk Bosman as't ware die stoel onder jou uit. Dit is 'n "buddy"-verhaal en die herkenning teen die einde, ruk aan 'n mens se hart en strot.

'n Goeie prosavertaling vloei. Die teks ruk nie. Dit is nie 'n letterlike vertaling nie en die vertaler transporteer die verhaal van een taalsisteem na 'n volgende. Dit moenie soos 'n melktrein wees nie; nee, eerder die sjinkansen wat blitssnel van een stasie na die volgende beweeg. Wanneer 'n mens die bronteks met die nuweteks vergelyk, kom jy onder die indruk van De Lange se talent as vertaler. Hy hou die leser in die palm van sy hand. Jy lees 'n vertelling en jy hoor dit en ek het een van sy stories vir 'n vriend hardop voorgelees om my punt te bewys.

Die leser word inderdaad deel van die vertelkontrak:

Dit het alles natuurlik baie lank gelede gebeur, sê ons vir mekaar in Jurie Steyn se poskantoor. Deesdae is die Marico baie anders, sê ons vir mekaar. Daardie ou boere het nie die voordele gehad wat ons vandag geniet nie, sê ons. Daar was geen Afrikanerbeestelersvereniging in daardie dae nie, selfs nie die Dwarsbergvarktelersvereniging nie, en jy sou nooit ’n voortuin met flappe gesien het nie – trouens jy sou geen voortuin hoegenaamd gesien het nie (130).

Johann de Lange se vertalings van Bosman is in die kol. Ek hoor nog steeds meneer Scholtz se dralende stem en sy lagbuie.

Wat 'n skrywer was / is hy nie en wat 'n puik stuk vertaling.

Bronne:

Roland Barthes. 1977. Image-Music-Text. New York: Hill and Wang.


Boeke deur en oor Herman Charles Bosman:

Mafeking Road and Other Stories: Anniversary Edition (1998)
Willemsdorp: Anniversary Edition (1998)
Cold Stone Jug: Anniversary Edition (1999)
Idle Talk: Voorkamer Stories I: Anniversary Edition (1999)
Jacaranda in the Night: Anniversary Edition (2000)
Old Transvaal Stories: Anniversary Edition (2000)
The Rooinek and Other Boer War stories (2000)
Verborge Skatte: Anniversary Edition (2001)
Seed-time and Harvest and Other Stories: Anniversary Edition (2001)
A Cask of Jerepigo: Anniversary Edition (2002)
Unto Dust and Other Stories: Anniversary Edition (2002)
My Life and Opinions: Anniversary Edition (2003)
Young Bosman: Anniversary Edition (2003)
Wild Seed: Anniversary Edition (2004)
Homecoming: Voorkamer Stories II: Anniversary Edition (2005)
Life Sentence: A Biography of Herman Charles Bosman, deur Stephen Gray (2005)
The Complete Oom Schalk Lourens Stories (2006)
A Bosman Companion: from Abjaterskop to Zwinglideur Craig MacKenzie & Tim Sandham (2011)
The Complete Voorkamer Stories (2011)


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]

Thursday, January 9, 2014

Viëtnam – ‘n digterlike reisverslag


Poets travel the dark roads.  - Ruth Padel


I.

My reis na hierdie landstreek begin toe ek per ongeluk wyn mors op my paspoort: ‘n teken van geluk!

Ek reis besigheidsklas gewoon omdat dit geriefliker is en ‘n mens nie vir dae daarna nog sukkel met jet lag of spierpyne nie. Boonop is die kos en wyn op Singapore lugredery onoortroffe. ‘n 2009 Château Loudenne Médoc Cru Bourgeois uit die Bordeaux-streek troef die Taljaanse Marchesi de Frescobaldi Tenuta di Castiglioni uit die Toskaanse streek. Beide is uit 2009 en verander ‘n mens se palaat ten goede.

Hiermee smul jy aan Oosterse satay met uie, komkommer en ‘n grondboontjiesous. Die salm kry net ‘n peusel van my, want ek wag die Franse hoenderkerrie in met gesouteerde groente. Dis nie wys om garnale op ‘n vlug te eet nie en hierom kies ek die hoenderkerrie bó die Indiese garnaalkerrie. ‘n Wok werk nie vir my en pangeroosterde vis is te alledaags.

Hierna kies ek ‘n kaasbord met Caprini bokkaas en Forest Hill camembert. Met ‘n klein glasie Taylor 10 jaaroud Tawny Port uit Portugal.

Dan kyk ek na die Duitse rolprent Die wit lint wat net voor die Eerste Wêreldoorlog in Duitsland afspeel en ‘n ontstellende onthulling is van kindergeweld en –wraak, vertel vanuit ‘n agterna-perspektief deur ‘n onderwyser wat die ruimte verlaat, maar vir ewig daardeur verander is.

*

Toe ek Saigon binnestap, voel ek asof die landskap maar net ‘n blote herhaling van ander Oosterse landskappe gaan wees. Maar dit is nie so nie. Die subtiele verskille tussen hierdie landskappe kan ‘n mens waarskynlik ten beste met wyn vergelyk: die subtiele smaakverskille tussen ‘n Merlot, Shiraz of Pinotage.

Vir my skuil daar altyd poësie in vreemde landskappe. Jy beweeg weg van die bekende in die onbekende of voorstelling in van dit wat jy dink jy ken of waaroor jy gelees het. Of films gekyk het. Daar bestaan immers ‘n reeks uitmuntende films oor hierdie land waaroor Žižek ook praat in The pervert’s guide to ideology [1]. Hy verwys veral na Full metal jacket om die betekenis van ideologie in al sy duidinge te behandel.

Ons is vier mense in die reis van Saigon tot Hanoi: twee uit Sydney, een uit Melbourne, die uwe en ‘n gids. Vreemdelinge vir mekaar. ‘n Moeder en dogter uit Sydney en ‘n vrou met kanker uit Melbourne. Die ouer vrou en ek uit Sydney skiet dadelik op. Sy is van Persië oorspronklik en ons gesels land en sand oor die Duisend-en-een-nagte, die Persiese kwatryn Omar Khayyam, Iran en die Shaj van Iran. Sy is ‘n Direkteur van HR en ons vind ook hier aanklank oor al die uitdagings wat ‘n mens moet oplos wanneer jy aan die hoof van ’n organisasie staan.

Presidensiële Paleis, Saigon

Iewers in die bunker
van ‘n president se Uniegebou
hier in Saigon
wonder ek
te midde van hitte
en toeriste
waarom nog ‘n reis?

Miskien omdat ek telkens
plante uit ‘n hoogste gebou
sien spruit? Of met bewondering
toekyk hoe ‘n tuinman ‘n boom
snoei? Of die presisie van motorfietsryers
gadeslaan?

In daardie bunker
staan daar teleksmasjiene, radio’s
en ander outydse maniere van kommunikeer.
Oor die morsekodes
van verlang het ek my veelvuldig
uitgelaat, skuilgehou in ‘n gedig
teen die aanslae van insurgente.

In die draaigang
van hierdie bunker
stilgestaan in elke kamer
bundels geskryf na elke slagting.

Oor verdraaide raaisels
- ja wie het Kennedy werklik geskiet? –
en die aantal soldate uit die VSA
in strak nommers teen die muur aangeteken:

“om poësie te skryf dan
net om oorlog te maak?”


II. 12 Desember

Die eerste dag besoek ons die Notre Dame katedraal, gebou tussen 1886 en 1890. Ons verkyk ons aan die invloed van die Franse boustyle in hierdie netjiese stad.

Daar is nêrens ‘n papiertjie op straat nie (anders as in Hanoi) en die bome is gesnoei soos ‘n weermagoffisier se snor.

Op die eerste dag in Saigon besoek ons ook die oorlogsmuseum, ‘n aanskoulike weergawe van die oorlog en die impak daarvan op die Viëtnamese psige. ‘n Klein mannetjie ry op ‘n driewiel. Hy het ‘n oranjepakkie aan: hy is ‘n simbool van die Oranje-bom en die impak van Amerikaanse vergelding.

Die museum bestaan uit drie vlakke. ‘n Mens word met elke vlak al hoe meer bewus van die uitwerking van die oorlog op hierdie land. Die foto’s is verdoemende getuienis van sewentien jaar se oorlog. Ironies genoeg is daar ‘n uitstalling van fotograwe wat omgekom het in die oorlog. En al die wapens wat gebruik is. ‘n Mens staan skielik in Apocalypse now, Good morning Vietnam, Platoon en Full metal jacket. Om nie te vergeet van The deer hunter en The killing fields nie.

Ons besoek die Reunification Palace [2] waar ‘n Noord-Amerikaanse tenk deur die hekke gedreun het aan die einde van die oorlog.

Die president (van Suid-Viëtnam) se woning is op die bo-vlak ‘n aanskoulike uitstalling van die rykdom. Gebou in die sestigerjare stap ‘n mens van vlak tot vlak en sien die onderhandelinge met die Weste. Dan stap ons af na die ondergrondse bunker. Hier is al die retro-produkte van kommunikasie: teleksmasjiene, outydse walkie-talkies, radio’s… Hier het die president bevele gegee oor waar die volgende aanval afgeweer moet word.

Ek neem foto’s van die kaart teen die muur en stap in die kronkelgang waar selfs sy ou Mercedes Benz uitgestal word. Daar is ook ‘n kaart om te verduidelik hoeveel mense het in hierdie oorlog omgekom.

‘n Reisgenoot merk op dat Kennedy waarskynlik geassasineer is, omdat hy hierdie oorlog wou stopsit…

Daardie nag droom ek van die footage wat ‘n mens in die museums sien: vrouens en kinders wat kennelik doodgeskiet is toe hulle op vlug geslaan het. ‘n Dooie baba in die arms van sy ewe dooie moeder, slapend, dog verewig in ‘n foto teen onreg.

Oorlogpropoganda van een kant af?

Mag so wees, maar wanneer ‘n mens hier stap, kan jy nie anders as om die universele boodskap dat oorlog sinneloos is, begryp nie. Hierna is dit middagete in ‘n restaurant waar Bill Clinton ook was. Hy staan langs kelnerinne en glimlag sjarmant. Die Ben Thanh-mark gee ek ‘n rojale mis.

Na ‘n oggend van konfrontasie met ‘n bloedige geskiedenis, sien ek nie kans vir shopping nie.


Dag twee. 13 Desember, Mekong-delta

Ons beleef ‘n bootvaart. Ons ry vir twee ure per bussie na die bote en op die eiland is daar die soetste vrugte denkbaar. ‘n Klein orkessie speel vir ons musiek met ‘n sangeres wat saamsing en beveel “Clap your hands if you’re happy”. Ek vermy die heuningtee weens my allergie vir bysteek.

Hou maar by water.

‘n Boa konstriktor is op uitstalling en al die toeriste storm nader vir ‘n foto-sessie met die slang gedrapeer om hul nekke.

Nee dankie, beveel ek. Ek is immers nie Nastassja Kinski nie.

Nou is dit verder stap op die eiland. Dit laat my terugdink aan eilandjies buite Maputo. Net so warm en soel. Met zoemende insekte wat verby jou woer.

En dalk ook Manaus? Dieselfde plantegroei, dieselfde gevoel van afsluiting van die res van die aarde wat net om die volgende draai gedekonstrueer word wanneer hy ‘n T-hemp kan koop van die Hard Rock Café Saigon.

Dan is dit weer ‘n klein vaart op ‘n skuitjie. Tussen die liane en ongediertes vaar ons net twee mense op die skuitjie.

Dan weer op land. Ons stap na ‘n klein winkeltjie waar ek ‘n Viëtnamese hoed koop en toekyk hoe hulle kokosneut-fudge maak.

Wanneer dit koud is, word dit opgesny in presiese stukkies en in pienk papiertjies toegevou.

Voortaan sal ek meer respek hê vir hierdie werk.


Dag drie. 14 Desember

Cu chi-tonnels. [3] Ons besoek die tonnels, terwyl die kwik verby 32 grade Celcius dreun.

Cu chi-tonnels in Viëtnam

Hier beleef ‘n mens ‘n soort rekonstruksie van die tonnels wat die Viëtnamese gegrawe het om die Yanks te fnuik.

Die park – dan: parkinstallasie – gee ‘n waarheidsgetroue weergawe van die tonnels waarin jy kan afklim (op voorwaarde jy is klein van postuur) en toeriste word getrakteer op ‘n video-opname van presies hoe slinks die klein mensies was in hul stryd teen die Amerikaners. ‘n Mens stap van punt tot punt saam met jou gids wat jou ook vra om langs die plastiekmodelle te poseer vir ‘n foto. In die agtergrond knetter geweerskote. Teen $1 kan jy ‘n AKA kry en ‘n skoot skiet.

Realiteitsvermaak?

Ons is vasgekeer onder die bome wat alles kloustrofobies maak en die humiditeit is hoog.

Ek ken die geskiedenis goed. Ek weet die Yanks het ingedreun, maar ek neem aanstoot oor die wyse waarop die gids verduidelik hoe hierdie lokval werk en daardie een. Met ‘n foto van ‘n jong Amerikaanse soldaat wat soos ‘n dier in ‘n gat getrap het en wie se been deur vier penne deurboor is. Om hom staan vriende en dokters wat probeer help.

Oorlogspropoganda werk na twee kante toe. Daar is nie een regte en ‘n verkeerde kant nie.

Op die pamflet word ‘n mens ook uitgenooi om hier te kom kampeer met jou studente. En met jou verkyker rond te stap. By my kom ‘n ander herinnering op. Ek is in Standerd drie en lid van die Voortrekkers. Ons het ‘n middernagmars. Ons het deur die dag geleer om messe te gebruik, toue te knoop en die “vyand” te oorrompel. Dit was die ou-Suid-Afrika. Afrikaner-nasionalisme. Weerbaarheid. Ek het presies een naweek gehou, want ek kon aanvoel in die stories wat die ooms te vertelle had, dat iets nie pluis was nie.

In 1960 – 1975 het hier ellendige tonele afgespeel wat nou op ‘n pamflet as “victories” uitgebasuin word.

Ons hoor hoe daar plakkies gemaak is met spore wat agtertoe wys om die Yanks op ‘n dwaalspoor te plaas!

In die agtergrond is daar skote wat knal. Mense speel argeloos oorlog-oorlog.

Miskien oorreageer ek na my oggend van ‘n mars deur een van die ellendigste installasies nog.

Hier kan jy selfs ‘n soldate-rantsoen eet. Netjies verpak as ‘n toeristiese maal.

Op ‘n pamflet lees ek:

Viet Congs: North communist Vietnamese supporters of the communist Front in South Vietnam during the Vietnam War (known in Vietnam as the American War).
The Viet Congs fought against both the government/military of South Vietnam and the armed forces of the United States between 1959 and 1975. They were initially a loose grouping of guerrilla fighters.
Quick Note: South Vietnam/South Vietnamese didn’t want the communist takeover from communist North Vietnam, they wanted to be a Democracy country, U.S. entered the War to stop the spread of communism and support the democratic South Vietnam.

Hierna is dit na ‘n tempel waar Confusius-aanhangers, Boeddhiste en Rooms-Katolieke saam aanbid.

Dit heet die Cao Dai-tempel geleë in Tay Ninh. Die geloof is Cao Dai wat al die verskillende gelowe saamsnoer en ook die verskillende argitektoniese aspekte van ‘n Chinese pagoda en Westerse katedraal saamsnoer.

Almal sit op die vloer. En ja, ek vind dit betredend dat toeriste met kameras die spirituele oomblik binnedring, terwyl mense aanbid.

Dan is dit weer per bussie terug Saigon toe na ‘n ete in die dorpie.

Die bestuurder is flink met sy hantering van die wiel. Dikwels vermy ons ‘n ongeluk net-net en die aantal motorfietsies werk op die senuwees. ‘n Hele gesinnetjie sommer op een fiets: Pappa, mamma en tussen hulle staan die kleintjie met die hond agterop!

Vier ure later is ons terug in die hotel. Lan Lan 1 hotel in die Thu Khoa Huanstraat.

Dan op pad uit.

Om vis en noedels en vark te eet.


Dag vier. 15 Desember

Ons vertrek na Danang vir Hoi An per vliegtuig. Land dan in ‘n minder soel omgewing en bekyk ‘n grot in die berg. Die gids verduidelik dat dit die hel voorstel: mense wat met hulle na bo uitroep om hulp en dit is die gemeenskap se plig om hulle te red uit hul ellende.

Die dorpie Hoi An is outyds en sjarmant. Indertyd genoem Faifo, is Hoi An vandag ‘n vae herinnering van die belangrikheid as hawe tydens die Sy-roete. Dit is vandag ‘n UNESCO bewaringsarea en ‘n mens kan vandag die invloed van verskillende kulture sien op hierdie stad. Juis omdat dit ‘n hawestad was het verskillende mense hier aangedoen soos Japannese, Franse, Chinese en Portugese…

En die verskillende invloede kan ‘n mens sien in hierdie kleurvolle stad.

Dit begin liggies te stuifreën.

Die soel hitte van Saigon lê ver agter ons.


Dag vyf. 16 Desember, Hoi An

Die pragtige ou stadjie verken ons per voet na ‘n bootvaart van die hotel.

Orals stap mens op straat en verkoop ware aan toeriste.

Laatmiddag swem ek in die hotel se swembad. Dit heet die Vinh Hung resort en die hotelbestuur is baie vriendelik en behulpsaam. Tweekeer sluit ek myself uit my kamer, maar elke keer kom ‘n vriendelike persoon en red my uit hierdie dilemma.

Tipies soos alle Oosterse swembaddens is daar ‘n kroegie wat die swemmers bedien met drank. Daar is ‘n waarskuwing om nie te swem as jy dronk is nie en ek probeer ten minste – so hard as wat ek kan – laatmiddag verbete te swem om my fiksheid op te bou. Ons stap geweldig ver en die reisgenote is shopaholics. Terwyl hulle koop, sit ek en bekyk die mense wat verbystap. Drentel voort in hul daaglikse lewe. Orals is daar voëls in koue. Mahjong, die Oosterse spel, is rondom al die verskillende voëlspesies uitgewerk soos wat Confucius dit bepaal het.

Ek koop vir myself ‘n klein cyclo, ‘n pragtige speelding vir my versameling.

In die aand word rooi lanterns opgehang wat deel vorm van ‘n feestelike tyd.

Ons eet by ‘n pryswennende restaurant wat tereg elke prys moes wen met  sy stoomrys en vark. En hoendersop. In hierdie sop is daar stukkies vark en seekos. ‘n Vreemde, dog heerlike mélange.


Dag ses. 17 Desember, Hue

Die digter Juanita Louw praat van “button up your chakras” om jou te verweer teen aanslae.

Liefdesgedig as reisgedig:

1 Om uit te check

Ek het jou verlaat
soos uit ‘n hotelkamer
gecheck: sonder adres
of foonnommer,
boonop nat handdoeke,
‘n onopgemaakte bed
agtergelaat
met ‘n vullisblik
vol verwyte,
foltering en verset.
My tas voor die deur
en die kodenommer
van die slot (soos my hart)
nou net aan my bekend.
Bykans vergeet
om vir die ekstras
van ons liefde te betaal.
Die rekening
hiervoor
sal waarskynlik
vir altyd
onvereffen bly.

2 Deur die doeane

‘n Packlite-rugsak, handtas,
dagboek, kamera, selfoon,
beursie, rekenaar, paspoort
geskandeer
om dalk iets ongehoords uit
te wys? Soos ‘n a-ritmiese
hartklop? ‘n Onthou-virus?
Dalk ‘n verwytende klont?

Tog bly hierdie sisteem
in gebreke

om ‘n handvol verse
se metriese patroon
vas te stel.

Jambies of anapes?
Dit wis ek nie.
Weet net
jy het immer
elke gedig oor jóú
hartgrondelik verpes.

3 Zip up your chakras

In ‘n droom verskyn
jy vraend aan my:
wat het ek gedoen
om hierdie stilte
te moet verduur?
Woordeloos, ek,
net om later
my nogmaals
te verweer
teen astrale vrae
ná voltooiing
van dyn en myn.
Nou’s dit
“zip up your chakras”
soos die liedjie lui;
dog geen woundology,
geen gedig.

4 Spoorsny

‘n sms
bazoeka
deur ‘n tonnel
waar ek
skuilhou
teen jou:
weer jou af
en vee
voetspore
dood
deur ons
te delete:
nou loop
ek vorentoe
en fnuik jou
met sandale
se spore
wat agtertoe
wys.

Na vier ure se reis per bussie oor die Hai Van-pas kom ons ongedeerd in Hue aan. Die paaie oor die berg is seepglad weens die reën. Beeste dwaal oor die pad en die bestuurder toeter hulle weg. Te midde van die gevaar is daar baie motorfietsryers op die pad. Argeloos oor die gevaar, lyk dit. Tog is daar ‘n subtiele verbintenis tussen motors en motorfietsryers. Almal gee vir mekaar ruimte. Die ryslanderye staan diep onder water. Daar word glo vier keer per jaar rys geplant en ge-oes, maar in sulke nat weer kan hulle nie plant nie. Die rys vrot gewoon.

Die tifone bedreig eweneens die boerderye, verduidelik die gids. Daar is altyd waarskuwings en dan slaan almal op vlug. Die dakke word afgewaai en almal begin van voor af. Die huise staan gatkant na die see sodat mense se voordeure wég is van die waters wat binnekort oral alles mag stroom en hulle ten minste kans gee om op vlug te slaan.

Dit is skielik snerpend koud. My baadjie is in my groot tas en na die hitte van Saigon is dit dramaties nat en koud. Ek sit ‘n serp om my nek. Gelukkig is die bussie warm.

My een reisgenoot het gister slegte nuus ontvang: haar skoonsuster het in ‘n motorongeluk gesterf. Sy wil terugdraai, maar ons oorreed haar om eerder die reis te voltooi. Die begrafnis is immers eers na Kersfees. Wat kan sy nou doen aan die geliefde skoonsuster se lot?

Sy probeer vrolik bly, maar ek kan sien dat dit haar geweldig steur. Veral omdat ek weet dat sy kanker het en hierdie reis vir haar simbolies geweldig baie inhou.

Dink aan nou, probeer die landskap en die oomblik geniet, praat ek haar moed in.

Ons ry deur die landskap en besoek etlike besienswaardighede soos die Minh Mang se tombe [4]. Hier staan lieflike beelde: primordiale diere soos olifante en drake wat die wag hou.

Hue Khai Dinh

Hue Khai Dinh

10 000 mense het hier gewerskaf om alles so op te bou tussen 1820 – 1840.

In die Park hotel **** wag ‘n alterkasie my in. Die kroeg is gesluit vir die aand en daar is net ‘n lobby lounge met kroegstoele en jongelinge wat op die stoele lê en slaap.

Die ontvangsdame beweer ewe kontant ek moet maar soheentoe – dit is die drinkgat vir die aand.

“Waar is die bestuurder?”, grom ek.

‘n Vrou kom aangestap nadat die manlike bestuurder dringend sy selfoon moes beantwoord.

Sy maak verskoning en stuur ‘n gratis Heineken na my kamer. Nie goed genoeg nie, dink ek. Reis is harde werk; mens moet kan uitspan.

Na ‘n rit deur berge en dale, storms en ‘n lang, vermoeiende tog deur ‘n pagoda – met hierdie tweede gids wie se Engels baie eina is – het ‘n mens beslis lus vir iets méér “doenliks”.

Beslis in ‘n hotel met vier sterre.

Boonop is die ete hierdie aan in die Banana Flower ‘n teleurstelling: die kos is ‘n klap voor die bek: hard gekook, smakeloos, taai…


Dag sewe. 18 Desember, Hue

Die sogenaamde Imperial City en Forbidden Purple City. Dit word steeds gerestoureer na die aanvalle van die Amerikaners tydens die oorlog in Viëtnam.

Ons besoek ‘n pagoda en die steil trappe loop ek sterk uit. Thich Quang Duc [5] se motor is hier te besigtig. Hy het homself in 1963 aan die brand gesteek voor sy motor in protes teen die krisis oor die regering se vervolging van Boeddhiste.

Thich Quang Duc


Thich Quang Duc Mausoleum

Ons sien ‘n monasterium. Hier leef mense in eenvoud. Die kombuis is aan die stowe met groentes en allerlei disse. Die reis na Hue geskied moeiteloos. Tog – ten spyte van nog ‘n boortvaart – kan ‘n mens nie die impak van die Viëtnam-oorlog uit jou gemoed weer nie. Laatmiddag in die reën is ons in ‘n cyclo. Te lekker om hierdie Oosterse riksja te beleef.

Na middagete, vlieg ons Hanoi toe. ‘n Vinnige eenuur vlug.


Dag ag. 19 Desember, Hanoi

Ho Chi Minh Mausoleum

Ons besoek die beroemde mausoleum van Ho Chi Minh wat in staatsie lê. Ek het Lenin in Moskou ook gesien. Onvermydelik dink ‘n mens aan Mandela en mense wat enigiets sal doen om vir oulaas hul geliefde simboliese verlosser te sien. Die toue is lank en soldate wys: haal jou hande uit jou sakke uit, stap in gelid. Geen kameras word toegelaat nie. ‘n Mens weet: hier moet jy beslis in jou spoor trap!

Toe ons afstap, wys ‘n soldaat egter simpatiek dat ons aan die relings mag vashou.

O gedoente. Die vrou uit Persië kry ‘n asma-aanval en haar spuitjie is in die bussie, omdat geen sakke toegelaat word nie. In aller yl drafstap ek saam met haar na die bussie wat ver van die museum is vol plakkate van die geskiedenis en hoe Oom Ho, soos hy liefdevol genoem word, almal hier gehelp het uit hul ellende.

Hanoi is ‘n ouer stad as Saigon. Dit is nie so freneties as Saigon met sy vele motorfietse wat om jou woer nie. Die pas is rustiger en ons gaan tuis in die ouer gedeelte van die stad.

Die Confucius-museum is vol jong mense wat graad gekry het in die museum rondstap met hul togas. Daar is ‘n ligte byt in die lug. ‘n Paar dae terug was ‘n hemp letterlik van bo tot onder waternat. Nou is dit winter. Ek verruil my plakkies vir toe-skoeisel. Daar is skielik weer ‘n serp om my nek. Van 32 grade na 15 grade binne enkele dae!


Dag nege. 20 Desember, Hanoi na Halongbaai

Vroegoggend verlaat ons die hotel vir ‘n reis na Halongbaai. Dis vier ure per bussie. Die pad is lank en swaar en die Viëtnamese laat onse taxibestuurders na beginners lyk. Dis gewoon toeter en ry. En die stof waai. ‘n Keer of wat vrees ‘n mens dis die einde, maar die behendige bestuurder weet hoe om die aankomende verkeer te pypkan. Op pad is daar ‘n vark agterop ‘n motorfiets vasgebind. Dit blyk ‘n lewendige vark te wees, want ek kan sien hoe hy vervaard sy oë knipper.
“Hulle is op pad mark toe,” merk die gids emosieloos op.

Is hierdie mense wreedaards? Voel hulle niks vir diere nie? Of is hulle gesigsuitdrukkings net ondekodeerbaar?

Langs die pad – want dit is nogal koelerig – sien ek ‘n ou hond met ‘n woljassie aan. ‘n Ent verder sien ek ‘n kind speel liefdevol met sy hond.

Uiteindelik kom ons by die Bhaya Classic I aan. Na ‘n halfuur is ons aan boord en daar is verskeie uitstappies: swem in die baai, grotte besoek, sien hoe ‘n klein gemeenskappie leef, visvang en ‘n kosles.

Die film Indochine [6] word vertoon om ons iets te vertel van die verhouding tussen hierdie land en Frankryk.

Ek neem National Geographic foto’s van die lieflike rotspunte. Salig, salig om op hierdie skip te rus in ‘n kabine na die afgelope tyd se rondhardloop van pagoda tot tempel, van tempel tot toring, van toring tot mausoleum, van mausoleum tot museum.

Vir oulaas is daar ontvangs op die wifi en sms. Dan is ons afgesluit van enige kontak met die buitewêreld. Dit gee ‘n mens kans om te rus en ‘n bestekopname te maak. Ek stuur verjaardagwense vir Johann de Lange.

Ek kyk na die galery foto’s wat ek geneem het en hoe dit op sy beurt weer ‘n ander storie vertel van hierdie reis.

Daar is ‘n happy hour met die bekende een glas gratis vir die een wat jy koop. Ek drink voortreflike wyn uit Chile.

En ek weet hoekom mense meen dat jy eers Viëtnam beleef het as jy hierdie wonderskone baai gesien het.

Gedig

HJS

‘n Reis soos ‘n gedig
loop immer op twee vlakke.
Moord eis speurder
soos ‘n liefdesvers
jy en myn(e) opeis:
liefde word tog dood-slag?
Iewers tussen Saigon
en Hanoi op pad na
Halong-baai
pleeg die digter
‘n pleonasme rapat
soos ‘n onbebroeide eier
raak dié referensie
kant nog wal.
Ek hoor jou vra:
hoe was die landskap
in IndoChine?
Blaas my siel.
Daar is geen mirakels
of muses hier.
Niks wat Cleanth Brooks
sou behaag;
net die Japannese linguis
ter harte neem
oor gevaarlike woorde…
Dus nou náskryf in stof.
Die leser, nes die digter
word vervlaks gefnuik.


Dag tien. Hanoi

Reis is vermoeiend en aan die begin van ‘n reis – voordat alles op jou begin inwerk – is jy gedistansieerd, selfs skepties of jy die regte ding gedoen het. Dan begin alles inspeel en jy begin die reis op verskillende vlakke ervaar. Teen driekwart van die reis – daar waar ek nou is – begin jy vermoeid en onrustig raak. En dan skielik – soos met ‘n atleet gebeur in die pylvak – kry jy nuwe energie.

Ars poetica

Ek sien ‘n man
toue knoop
om vis te vang.
Daar was glo
‘n Visser
van mense,
‘n fyn wewer
van nette,
kon broodjies
en vissies ver-
meerder:
betekenis
is jy gevang?
Of bly beeld
met toepassing
‘n netwerk:
iets tussen
handewerk
en misterieus
Idees opvang?


Dag elf. 22 Desember

Ek droom die hele nag van bekendes. In die middel van die nag hoor ek die bure in die aangrensende kamer stry. My twee reisgenote, die vrou uit Sydney en haar dogter, vertrek vandag. Die ander een het ons agter gelaat en sy is op haar eie, waarskynlik reeds terug.

Ek vermy die ontbyttafel: ek haat afskeide. Hulle het my e-posnommer. Ek eet alleen ontbyt en kyk CNN, die reisiger se kontak met die buite-wêreld. ‘n Program oor hoeveel mense per jaar in die VSA omkom weens wapenmisbruik, maak die ontbyt onplesierig. Dit blyk 10% meer in die VSA te gebeur as in ander lande. Selfdood is ‘n nuwe siekte, word beweer. Daar is selfs ‘n program oor die UK se operaskool en die ongelooflike nuwe talent wat hier te vinde is.

Nou hier in Viëtnam en met die besoek aan al die oorlogmuseums kan ‘n mens nie anders as om die geweld van die VSA opvang?

Invalle en aanvalle.

Aan die een kant hipergesofistikeerde intellektuele, aan die ander kant koppesnellers.

Die reisagentskap het vir my ‘n middagtete gereël in ‘n klein naburige restaurant. ‘n Jong kelner kom haal my en ons stap twee blokke na die restaurant waar Kersmusiek dreun oor die luidsprekers. Ek vra hoflik vir stilte en begin peusel aan die slaai, vis en wagtend op ‘n geroosterde varkgereg.

Die kortstondige stilte word verbreek deur ‘n groep Yanks. Luid. Hul gids, van hier, neem die hele vertrek oor en begin vir hulle verduidelik wat te ete en te drinke is.

Ek kners op my tande en wuif hom nader. Verduidelik hier is ook ander mense in die restaurant; kan hy asseblief sagter?

Hy gee bes.

Maar die stilte duur nie vir lank. Die Amerikaners begin dan luidkeels hul menings uitbulder oor dit en dat.

Die aand is dit National Geographic wat ‘n program aanbied oor tsoenami’s en hoe weerloos die mensdom is voor natuurrampe.

Ek kyk in my notaboek en probeer alles verstaan wat ek deur die dag neergeskryf het.


Dag twaalf. 23 Desember

Reis is altyd aan die einde problematies. ‘n Mens begin reeds oppak in jou kop en nou is daar vele ure voor jou. Jy is nie meer lus vir besienswaardighede nie.

Om te reis beteken vir my ook dat jy soms net moet sit en niksdoen. Voor die hotel is daar ‘n klein winkel en die eienaar het twee honde. Die een slaap voor in die winkel; die ander een is aan ‘n boom vasgemaak en grom vir verbygangers.

Ek drink die dag in. Neem alles waar. Die cyclo-bestuurders, mense wat stap, ‘n ou man (waarskynlik 95) groet my vriendelik. Buite taal verstaan mense mekaar ook en mense kan iets oorsein na mekaar sonder woorde.

Maar ek is skielik uit-ge-Oosters. Genoeg van die kos gehad, die klanke, die mense, die omgewing. Ek wil terug.

Die Weste begin terugroep. Ek lees die internet en sien dat Ryan O’Neill die Warhol-skildery [7] van sy geliefde mag hou, ten spyte van die Universiteit van Texas se dringende teenstand.

Ek begin peuter aan ‘n vers:

Farrah Fawcett,
‘n Charlie’s angel,
hang oor Ryan
se bed
perfek
soos net
Andy Warhol
‘n portret
kon skep.
Hulle Love story,
glo my vry,
sal niemand beny:
die engel sterf
aan kanker anaal
en in ‘n hofsaak,
net so banaal,
gestry en baklei
of O’Neill,
geprostaat-,
gevelkanker,
sy gevalle engel
uit die verderf
mag red?

Tussendeur kyk ek na ‘n DVD (The Escape artist) [8] wat sommer dadelik die gemoed lig. ‘n Lekker speurverhaal in drie dele. Hierna gaan ek na die restaurant waar die bloedjong sjef en die kelnerin my inwag. Ek noem haar mini-Madam (omdat sy nog jonk en ongetroud is) en hulle lag so lekker hieroor.

“Maak vir my asseblief ‘n bord Spaghetti Bolognaise.” Hulle begryp. Ek het genoeg gehad van Oosterse kos. Genoeg vark en vis en soja en noedels en hoender vir ‘n leeftyd.

Sy plak ‘n glas wonderlike Viëtnamese Da Lat-rooiwyn voor my neer. Daar kom die Spaghetti aan soos die Alibama. Ek vra vir rissies. Ek sien hulle lag skelm.

Hulle weet egter nie hulle het met die grootste rissie-eter op aarde te maak nie en net vir hulle plesier maak ek of my mond brand. Hulle lag alte lekker. Die spaghetti is prima!

Die kelners hier hou ‘n mens altyd dop, terwyl jy eet. Anders as by ons waar jy die kelners moet inwuif soos ‘n vliegtuig op die lughawe.

Dan bedtyd. More vertrek ek.


Dag dertien. 24 Desember

So kom die afskeid dan in die Demantoid-hotel. Om 3.30 is dit Silk Air en dan Singapore Airlines terug huis toe.

Ek kyk na al my aantekeninge en gedigte in wording: die reis was goed vir my.

Op pad lughawe toe is daar ‘n vrou op ‘n motorfiets met twee geglasuurde honde. Ek gril. Almal is feestelik; selfs vyf mense op een motorfiets op ou Kersaand.

Ek tjekkereer in. Wil afklim op Johannesburg vir ‘n familiebesoek in die Noorde, maar helaas is die verandering nie aangedui soos ek per e-pos versoek het nie.

Ek pleit en dit gebeur.

Silk Airlines tot in Singapore- dan die lang reis terug na 1vm tot in Johannesburg. Daar is net een deur en almal stroom deur dieselfde deur wat die ambience van besigheidsklas versteur.

Ek is ongelukkig hieroor, maar ‘n glasie Chivas kalmeer die gemoed. Katherine Jenkins sing wonderbaarlik “You never walk alone” en ander opera-klassieke.

Genadiglik slaap ek onversteurd: uitgestrek op die bed. Tot brekfis. Heerlike vrugte en Post Toasties.

Johannesburg wag my reënerig in.

Dis Kersdag en al die amptenare wens jou ‘n Geseënde Kersfees toe.


Aantekeninge:

Taal:

‘n Mens kan dikwels net uitbars van die lag oor die wonderlike taaluitinge. Sekere klanke is kennelik onuitspreekbaar. “Fruits” word “froosh”. S-klank kan nie. Hy verdwyn sommer.

“Smoothy” word “moothy”.

Ja, ons soek muti. Gelukkig het ek ‘n frase-boekie byderhand wat handig te pas kom.


Kos:

Dit is waarskynlik nie ‘n onderbeklemtoning om te beweer dat hierdie land tans voor in die ry staan met van die beste cuisine op die aardbol nie. Vark en seekos word met groot swier saamgevoeg in ‘n rolletjie. Elke keer dink ons: nou was dit die lekkerste ete nog. Net om die volgende keer ‘n spyskaart te ervaar wat iets besonders is. Op hierdie georganiseerde toer is dit ‘n vaste spyskaart met sop, vis, groente, noedels, vleis, nagereg.

Maar telkens is die verrassing groot: die sop (hoender, garnale of groente) is iets besonders. Ek het waarskynlik van die lekkerste varkvleis nog hier gehad; en dit sluit Venezia in.

Gebraai, gekook, gestoom in ‘n ronde potjie, in bolletjies en rolletjies – lieflik. Hulde aan Porca!

Met stoomreis. Soms selfs vars vrugte daarop geskil soos mango of kokoneut.

Die vrugte is soet. Waatlemoen, pynappel, nartjies…

Telkens probeer ek en Mevrou Direkteur, wat kennelik ‘n besondere sjef is, uitwerk hoé ‘n dis tot stand gekom het.

Sy steel met haar oë.

Toegegee, om elke dag Oosters te eet, word op die duur te veel en ons almal skaterlag toe ons by die sewende dag wil rus en pizza bestel.


Gedigte-in-wording:

III.


My hart
eens in Noord en Suid
verdeel:
‘n bloedige Viëtnam-oorlog –
stryd, opposisie
word nou én én.
Nou streef ek
na versoening
van opposisies
uiterstes,
hede word verlede,
in die ervaring
van die heuglike nou,
maintenant, now
in dit wat was
se uitspoel in windstreke
van ‘n lewensreis.


IV.

‘n Reis
nes ‘n landskapvers
eis geduld;
‘n wagtou
deur sekuriteit,
‘n ondersoekbeampte
wat ‘n tas se inhoud
gadeslaan.


V.

Plante groei bó in betonblokke:
‘n liefdesmetafoor
om die onmoontlikheid
van ons liefde te beskryf.
‘n Man snoei ‘n boom
nes oortollige beelde
en herinneringe
kil, afstandelik
uitgegooi word.
Ek vermy – soos jy eis –
om oorlog te verklaar
en in ‘n bloedige loopgraaf
stelling in te neem.
Ek beskryf eerder die lotus,                                                       
Nelumbo nucifera
en my gedig
sal bly saadskiet,
betekenis uitwaaier,
lank na my en jou vertrek.


VI.

Vir oulaas
sien ek die skemer
oor Hanoi sak:
die rooi oog
van die son
bebloed.

Ek kyk af van die boonste verdieping van die hotel Demantoid en sien die son sak. Ek probeer dit in ‘n foto vasvang, maar helaas dit word skielik donker.


Post mortem:

Dis moeilik om die liggaam en psige te sinchroniseer. Die vlees is gewillig… Die psige neem helaas langer om weer hier aan te kom, bykans soos horlosies in ‘n hotel waar verskillende tye in stede aangekondig word.

Met my terugkeer kyk ek na die bekendste films oor Viëtnam. Ek begin met The deer hunter, [9] Michael Cimino se klassieke film met Robert de Niro en Meryl Streep. Dit is in 1978 die eerste keer vertoon. Die herkenbare landskap maak die film des te meer ondraaglik. Die Russiese roulette-toneel bly steeds ontstellend en Stevie (John Savage) se reaksie van amperse waansin, beklemtoon presies hoe wreedaardig hierdie oorlog was. Die vuil varke wat in die grond rondkrap, is ‘n duidelike simbool van hierdie misdadigheid.

Burgerlikes word in bunkers vergas deur Viëtnamese van ‘n ander ideologiese oortuiging – wat ons terugneem na Žižek se analise van hierdie konsep. The deer hunter is ‘n buddy-film: vriende wat mekaar bystaan tydens die sinnelose oorlog en ‘n vriend wat met ‘n meisie trou wat swanger is by ‘n ander man. Russies-Amerikaanse staalwerkers uit ‘n dorpie, Clairton in Pennsylvanië, se wedervaringe in Saigon word in ‘n drieuurlange film ontleed. En De Niro is die “deer hunter”, die een wat die bok doodskiet, maar ook sy vriend met ‘n gebreekte been uit die water red en op sy rug dra. En by sy vriend se vriendin betrokke raak. Na die oorlog kan hy egter nie ‘n bok raakskiet nie. En die Russiese roulette uit die oorlog word herhaal wanneer hy ‘n vriend teister. En ten slotte is dit ook hierdie verdoemende spel wat Nick (Christopher Walken) se einde beteken. En by die begrafnis word “God save America” gesing, wat terugspeel op die banier in die eerste toneel, wat die patriotisme van die gemeenskap beklemtoon.

Die film begin met ‘n troue en eindig met ‘n begrafnis.

Die film het indertyd vyf bekronings by die Amerikaanse Akademie ingeoes en word steeds as ‘n klassieke oorlogfilm beskou. Die Russiese roulette-toneel het indertyd groot opslae gemaak nes die dood van een van die akteurs aan kanker, John Cazale, wat ‘n verhouding met Streep gehad het in die werklike lewe.

En wie sal ooit die lied Cavatina, vertolk deur John Williams, kan vergeet uit hierdie rolprent?

Tog was daar ontstoke kritici wat die film as rassisties en eensydig beskou het. Ek is van mening dat die ideologiese aspek van die film juis deur die simbool van Russiese roulette gekompliseer word: geluk of ongeluk. Die film word egter deur sy besondere akteurs gedra en die feit dat dit gaan om die werkersklasmense wat ingesleep word by ‘n groter ideologiese oorlog waarvan hulle nie werklik die implikasies van kon begryp nie. Walken is indertyd bekroon, ofskoon Streep en de Niro as uitstaande akteurs van hul tyd uitgewys is vanweë hierdie film.

Full metal jacket [10] is Stanley Kubrick se unieke analise van hierdie oorlog. “In Vietnam the wind does not blow, it sucks,” waarsku die poster van hierdie aanprypende en ontstellende rolprent. Die film is in ‘n ander sleutel gemaak as The deer hunter.

In die eerste helfte van die rolprent word die strawwe oefenprogramme met ons as kykers gedeel – met die ideologiese subjektiwiteite. Die wrede offisier, Gunnery Sergeant Hartman, met sy beledigings en vergrype verteenwoordig die ideologie van die tyd, soos Žižek tereg uitwys.

Die vetseun, die outsider, maak die offisier dood na vele vernederings en pleeg selfdood: ‘n skokkende kommentaar op die posisie van die outsider binne die gedrewe weermagswêreld. In die tweede helfte is die Marines in Viëtnam. Matthew Modine, ene Joker, die hoofkarakter, is die fokalisator waardeur ons alles waarneem. Nancy Sinatra se “These boots are made for walking” kondig die tweede helfte aan.

Die hoofkarakter dra ‘n “peace”-simbool en op sy oorlogpet staan daar: ”Born to kill”: ‘n duideliker voorbeeld van verwarring kan die kyker nie vind nie. Hy is oorlogskorrespondent en die kyker beleef hoe daar gelieg word oor die oorlog.

As hy uitgevra word hieroor, bely hy sy dualiteit in navolging van Jung.

Die musiek dekonstrueer telkens die erns en lewer kommentaar op die uitsiglose bestaan wat oorlog inhou.

Daar is angswekkende tonele van oorlogmaak en die effek daarvan op jong mans. Kubrick lewer ook siniese kommentaar deur die uitsprake wat die oorlogskorrespondent maak oor die redes waarom die oorlog gevoer word. Die soldate is naïef. In ‘n toneel word ‘n Oosterse vrou opgeveil vir seksuele avonture – teen betaling. Hier kom ras-stereotipes na vore.

“Put a nigger behind the trigger”, merk ‘n swart soldaat sardonies op wanneer hulle die verkeerde rigting ingeslaan het.

Wanneer hulle in ‘n lokval gelei word, tree die waansin in en bevele word verontagsaam. Hier is dit die volle impak van oorlog wat ontgin word deur Kubrick.

Die koppesneller saai amok.

Soldate ondersteun ‘n sterwende buddy.

Hulle is almal “broos”.

Dan blyk die koppesneller ‘n jong meisie te wees waarmee Kubrick dwingende kommentaar lewer op hoe alle mense deel geword van die oorlog.

Ten slotte pleit sy dat hulle haar moet doodskiet, terwyl sy bid tot haar god.

En dit gebeur – in die slot wat ‘n mens altyd sal bybly. Uiteindelik het Joker die “thousand yard stare” en is hy dus nou ‘n werklike vegter.

Die gebruik van byname is opvallend: om dalk te illustreer dat vegter ander personas – soos Cowboy of Joker – moet aanneem om te kan doodmaak?

Die film sluit met die sogenaamde Mickey Mouse-mars.

Is oorlog uiteindelik dan net ‘n spel?

Apocalypse now [11] van Francis Ford Coppola is in 1979 bekend gestel. Die opera-aanslag van die film is alreeds uitgewys: Wagner se Rit van die Walkuries en die slot waar Brando uit Eliot lees en The Golden bough en From Ritual to Romance gewys word, aktiveer eweneens ‘n primordiale lesing van die film wat intense vrae oor die spanning tussen die goeie en die bose. Frazer se beroemde studie en Jessie Weston se werk, soos die digkuns van Eliot, is belangrike sleutels vir die begryp van die film. So beskou, is dit meer as ‘n oorlogsfilm. Dis eerder ‘n intense analise van primordialiteit en dat die goeie die “horror” sal oorwin. Martin Sheen, Marlon Brando, Robert Duvall en Dennis Hopper lewer uitstaande vertolkings in hierdie film wat die oorlog se waansin uitwys. Soos die bekende opmerking:”I love the smell of napalm in the morning” – en hierdie reuk word geassosieer met oorwinning.

Playboy girls word ingevlieg om die soldate te vermaak.

Joseph Conrad se The heart of darkness word getransponeer na die Ooste. Die musiek van The doors is eweneens belangrik vir die begryp van hierdie rolprent.

Coppola maak ook ‘n klein verskyning as ‘n joernalis wat die oorlog verfilm: “Don’t look at the camera, keep on fighting!”

Die “voice over” skep ook hier distansie, afstand soos in Full metal jacket.

Dis ‘n film met geweldige intriges: Sheen se hartaanval, stelle wat deur die weer verwoes is, Coppola se ongelukkigheid met Keitel se aanvanklike vertolking van Willard en hierom het hy Sheen verkies bó hom, Pacino wat nie wou meedoen nie, uit vrees dat hy mog siek word, ‘n onvoorbereide, oorgewig Marlon Brando…

Die dokkie van Eleanor Coppola, loon die moeite om al die probleme raak te kyk – soos dat dit ook ‘n geweldige duur film was. 

Cimino, Kubrick, Coppola, ‘n geweldige triade in die filmkuns.

Veral die volgende films word as tersaaklike rolprente beskou deur kritici:

* Francis Ford Coppola‘s Apocalypse Now (1979)
* Oliver Stone‘s Platoon (1986)
* Stanley Kubrick‘s Full Metal Jacket (1987)
* John Irvin‘s Hamburger Hill (1987)
* Oliver Stone’s Born on the Fourth of July (1989)
* Brian De Palma‘s Casualties of War (1989)
* Robert Zemeckis‘s Forrest Gump (1994)

Joan Hambidge
Desember 2013



Bibliografie:


Verwysings:

1Slavoj Žižek: The pervert’s guide to ideology. DVD. [http://en.wikipedia.org/wiki/Nelumbo_nucifera. Besoek 14 Desember 2013]

2. Reunification Palace [http://en.wikipedia.org/wiki/Independence_Palace. Besoek 24 Desember 2013]

3. Cu chi-tonnels. [http://en.wikipedia.org/wiki/Củ_Chi_tunnels. Besoek 14 Desember 2013]

4. Minh Mang se tombe [http://www.vietnamtourism.com/Hue/e_pages/lt_lminhmang.htm. Besoek 26 Desember 2013]

5.  Thich Quang Duc [http://en.wikipedia.org/wiki/Thich_Quang_Duc. Besoek 24 Desember 2013] 

7. Ryan O’Neill die Warhol-skildery [http://www.hollywoodreporter.com/live-feed/ryan-oneal-says-farrah-fawcett-667508] 


Films:
6Indochine [http://en.wikipedia.org/wiki/Indochine_(film). Besoek 24 Desember 2013]

8The Escape Artist [http://en.wikipedia.org/wiki/The_Escape_Artist_(TV_series). Besoek 14 Desember 2013]

9The deer hunter [http://en.wikipedia.org/wiki/The_Deer_Hunter. Besoek 26 Desember 2013]

10. Full metal jacket [http://en.wikipedia.org/wiki/Full_Metal_Jacket. Besoek 29 Desember 2013]

11. Apocalypse now [http://en.wikipedia.org/wiki/Apocalypse_Now. Besoek 30 Desember 2013]

The white ribbon [http://en.wikipedia.org/wiki/The_White_Ribbon. Besoek 14 Desember 2013]


Boeke:

Collins Vietnamese phrasebook. 2007. Londen: HarperCollins.
Ruth Padel. 2007. The poem and the journey. Londen: Chatto & Windus.
Henning Snyman. 1983. Mirakel en muse. Kaapstad: Perskor.