Showing posts with label The human stain. Show all posts
Showing posts with label The human stain. Show all posts

Tuesday, March 26, 2013

Philip Roth - The human stain (2000) [1]



Philip Roth. The human stain. Jonathan Cape, 2000. ISBN 0 224 06090 2. [1]

Resensent: Joan Hambidge

The human stain van Philip Roth, die skrywer van die opspraakwekkende Portnoy's complaint en vele ander gerekende romans, is met een woord pakkend. Ek het hierdie metaroman 'n Saterdagmiddag begin lees, 'n afspraak vir die aand gekanselleer en die volgende dag nog met stygende bewondering verder gelees.

Roth is, soos dit alle goeie romanskrywers betaam, ook 'n implisiete kritikus van sy gemeenskap. In hierdie geval die skynheiligheid van die Amerikaanse gemeenskap wat bykans 'n president laat sneuwel het weens 'n indiskresie in die Oval House. Dit gaan nie om hierdie transgressie vir Roth nie, maar om die wyse waarop die media en die hele gemeenskap hierop gereageer het.

Inderdaad soos sy nou reeds bekende skrywer-in-die-roman Nathan Zuckerman opmerk: in daardie somer was die penis van die president van Amerika in almal se gedagtes. Teen hierdie agtergrond plaas hy die verhaal van 'n Jood (wat nie werklik Joods is nie), Coleman Silk, 'n dekaan, wat skuldig bevind word aan rassisme. Hy verwys na twee afwesige studente as “spooks” en alle hel bars los as die studente wel swart is.

Dit lei tot 'n heksejag (universiteite is immers die plek waar implisiete byltjies geslyp word as so 'n skandaal hom aanbied). Nie alleen verloor hy sy werk nie, maar sy vrou sterf ook weens die spanning. (Disgrace en Donkermaan praat bepaald saam.) Meer nog, Silk begin 'n verhouding as 71-jarige met 'n jonger, oënskynlik ongeletterde vrou en die skrywer, Zuckerman, speur die redes vir die skandaal èn nuwe die verhouding na in 'n verhaal wat 'n mens eenvoudig op sowel 'n storievlak as morele dimensie moet bewonder.

Ook die verhouding met die ongeletterde word as “verkeerd” en uitbuiting gesien. 'n Anonieme brief, ná forensiese analises, blyk 'n vroulike kollega van die universiteit te wees wat destyds op die dekaan jag gemaak het. 'n Hoofstuk oor haar is suiwer erudisie en storievertel op sy beste soos die hoofstuk oor die skrywer.

Nathaniel Hwathorne se The scarlet letter is 'n ander belangrike interteks, soos Thomas Mann se Death in Venice, die pivotale roman oor onbeantwoorde liefde of obsessie. Op 'n behendige wyse word die verteller se prostaatkanker en impotensie (ook inkontinensie) geplaas teenoor Silk se herontdekking van sy seksualiteit. Viagra, selfone en e-pos word ook hier rolspelers.

Coleman Silk se studieveld is die klassieke en Sofokles se Koning Oedipus word direk by die naam genoem. Hierdie klassieke werk analiseer immers die betekenis van menslike lot wat nie ontsnap kan word nie (p. 127). Die titel word met groot sinisme verduidelik dat puring onmoontlik, in wese futiel is, omdat daar teruggegaan word na die klassieke en hoe wraaksugtig en ontugtig die gode was (p. 242). Die kollege waar alles afspeel en leuens kleintjies kry, heet nie om dowe neute nie Athena.

Die roman sluit aan by die tradisie van die akademiese roman (soos The groves of academe en Saul Bellow se The dean's December)  en is 'n moet vir die ernstige romanleser. Dit bewys ook dat daar iets soos Jungiaanse sinkronisiteit bestaan: drie gerekende manlike skrywers pak as't ware dieselfde onderwerp.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Philip Roth - The human stain (2000) [2]



Philip Roth. The human stain. Jonathan Cape, 2000. ISBN 0 224 06090 2. [2]

Resensent: Joan Hambidge

Party romanskrywers het dit gewoon net. So een is Philip Roth. Met elke roman is hy meer aserbies, prikkelend, onderhoudend en vernuwend. The human stain ondersoek die debakel rondom 'n  vermeende klag van rassisme en die effek wat dit op die hoofkarakter se lewe het.

Coleman Silk se gebruik van die woord “spooks” (onwetend dat die afwesige studente wel swart is), het 'n funeste uitwerking op die kollege Athena. Natuurlik is Koning Oedipus van Sofokles 'n interteks en die impeachment-verhoor rondom Bill Clinton.

Nathan Zuckerman is weer die romanskrywer in hierdie metaroman wat vooroordeel en politieke korrektheid tot op die been oopsny. Op die koop toe begin die hoofkarakter 'n verhouding met 'n 'ongeletterde' vrou wat toe wel kan lees. Ook is Silk ('n klassikus) se antagonis 'n vroulike dosent.

Hier word heerlike steke uitgedeel na die moderne literatuurteorie en die groot geleerdheid. Die vroulike kollega se gebruik van e-pos ten einde 'n vendetta teen die protagonis te begin, is werklik verbluffend hanteer.

Nes jy dink jy het die “waarheid” beet, ondermyn die vertellende instansie dit. Dis 'n onderhoudende roman: by tye woedend oor die leuenagtigheid van die Amerikaanse gemeenskap wat so deur die “vicarious thrill” op ander se psiges ry, maar terselfdertyd 'n briljante gesprek met die akademiese roman vanaf Mary MacCarthy, David Lodge, Saul Bellow tot by J.M. Coetzee.

Philip Roth se jongste roman maak 'n analise van die moderne samelewing (en al sy ekstensies soos e-pos, selfone, Viagra) en hoe alles nog steeds deur ou waarhede gereguleer word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]