Showing posts with label Theo Kemp. Show all posts
Showing posts with label Theo Kemp. Show all posts

Monday, April 22, 2019

Resensie | Theo Kemp – Strafjaart (2019)

Theo Kemp – Strafjaart. Penguin, 2019. ISBN: 978 48590 388 8

Strafjaart is die tweede publikasie van die skrywer Theo Kemp wat indertyd 'n sterk debuut met Skool gelewer het. Die jongste teks is egter nie 'n konvensionele roman nie. Dit wil meer wees as dit. Dit het 'n verteller-as-navorser as hooffiguur wat besig is met 'n skripsie oor die verdwene skeepswrakke aan die Suid-Afrikaanse kus. Dit plaas die teks dan ook in die ruimte van die faksionele. Sy lewe word onverwags ontspoor deur 'n oproep uit Pollsmoor waar sy tante, Lizette, sy pa se laatlamsuster, haar bevind. Die verteller is veertig; die tante in die tronk, is onkonvensioneel-gay en vyftig jaar oud.

Met besoeke aan hierdie tante kry die leser 'n blik op die onderwêreld van hierdie bestaan. Dit is 'n kloaak, met reëls en regulasies. Trouens, die tronklewe, soos Michel Foucault al uitgewys het in sy studie oor tronke en straf Discipline and punish: The birth of the prison (1979), beheer ook die samelewing daarbuite. En tronksisteme verklap iets van 'n gemeenskap se omgee vir ander. In Strafjaart is die tronke vol en kondisie onmenslik. (Hierom beskryf hy ook betogings teen die sisteem.)

Kemp spreek etlike etiese kwessies aan. Hoekom is die geweldenaars daar? Ofskoon sy tante 'n witboordjie-oortreder is, word sy saamgeplaas met werklike kriminele en selfs 'n moordenaar. Sy skryf – as geletterde persoon – hartverskeurende briewe ter strafversagting aan die regters en landdroste.

Hoe lyk 'n samelewing waar mense dreig om mekaar te verbrand, en 'n broer dan in die tronk gesmyt word? Mense word nie in hierdie tronke gestraf nie; hulle word ont-mens.

Die verteller is wit en bevoorreg. Hy weet hy is 'n voyeur: “Ek kan myself nie weerhou om in die museum van verrotting en verwering te kom loer nie. Die voyeur van die tronk” (164). Maar deur oor sy tante te skryf, kom hy nader aan homself en sy familie – en oor afwesige vaders (ook in gegoede families).

Sy teenspelers is eweneens almal in 'n krisis. Sy vrou, M is swanger en naar; Esmarie, die buurvrou, die goeie mens wat ander help by die kerk, het 'n seun wat buite die huwelik verwek is; Edith is vasgevang op die Kaapse Vlakte en behoef hulp.

Daar is Hans die kroegman wat ellende begryp. Wilson wat raad gee. Frederik du Toit wat werk vir die Instituut vir geregtigheid en versoening.

Nes die staatsadvokaat wat sy insigte deel.

Die teks lewer kommentaar op 'n rotteplaag in die tronk. Is mense dood aan leptospirosis of is hulle doodgeslaan?

Mabel Jansen se uitspraak oor verkragting wat as rassisties geïntepreteer is, kom aan bod; nes die moord op Hannah Cornelius en die dood van haar moeder.

Tronke is ruimtes wat liminaliteite aktiveer. Al die karakters wat teenspelers is, beleef 'n krisis of 'n oorgang. Wat met die buurvrou gebeur, is skokkend en vir die leser wat al soiets beleef het, des te meer skokkend. Die gegewe wil ek nie verklap vir die leser wat sélf die geweld moet beleef.

Die toneel met die kleine Moses wat opgetel is in 'n sak en versorg word deur Nomsa met haar silweroorbelle word aangrypend weergegee. Hierdie sake staan opgeteken in ons dagblaai: daagliks. 

Slim intertekste, soos verwysings na Johnny Steinberg (The number) en Tertius Kapp (Rooiland), laat die teks oopwaaier verby die fiksionele. Don Pinnock se Gang town en Denise Ackerman, die teoloog se studie Surprised by the man on the borrowed donkey is eweneens hier aanwesig. En: Frankl se Man's search for meaning, o.a. Mandela word teenoor Zuma geplaas. Die Bybel is hier nes hallelujaliedjies. Die karakters praat outentiek.

Die skrywer gebruik die skeepsvaart-navorsing as 'n soort raam om die gegewe te beheer. Die boek eindig op 'n hoopvolle noot met die geboorte van M se kind.

Hierdie boek is soos Eybers se dubbelswaan: fiksie teenoor die harde werklikheid. Dit is 'n boek wat my sprakeloos gelaat het. 

'n Mens bewonder die skrywer se gedurfdheid en eerlikheid. 'n Mens moet uiteraard dink aan Truman Capote se In cold blood (1966), daardie baken van die New Journalism, en Norman Mailer se The executioner's song wat in 1979 verskyn het. Capote, soos alombekend, het sy roman geskryf sonder om aan die etiese aspek van sy besoeke te dink.

In hierdie hibriede teks van Theo Kemp het jy 'n skrywer wat vrae vra oor die ongelykhede van ons samelewing wat mense uitsigloos maak. En geweldenaars. Hopelik sal Korrektiewe Dienste kennis neem van hierdie boek se aanklag.

Die voorblad is alreeds 'n klein tekensisteem: 'n groen ID-boekie, tandeborsel en sakkie binne-in 'n plastiekbakkie. Is dit vetkryte onder in die bakkie?

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)


Wednesday, January 23, 2013

Theo Kemp - Skool (2010)



Theo Kemp. Skool. Tafelberg Uitgewers, 2010. ISBN 978 0 624 05305 7.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman ondersoek die skoolsisteem in Suid-Afrika. Op die mooi voorblad is daar ‘n das van ‘n privaatskool en agterop ‘n verfrommelde en gebreekte band (“tape”), waarskynlik om te wys hoe onmoontlik dit was om die volle impak van hierdie verhaal te vertel. Dit kan beskou word as New Journalism daardie soort teks wat veral in die VSA geskryf is deur figure soos Tom Wolfe en Truman Capote waarin werklike insidente of “trends” onder die loep geneem word. Dit is dan in die eerste instansie ‘n soort tydsdokument. Skool deur Theo Kemp beskryf en ondersoek die skoolsisteem en die probleme daaromheen in ‘n kwasi-outobiografiese vertelling. Ons lees dat dit Theo Kemp is, maar ek benader hierdie teks eerder as ‘n fiksionalisering van die “ek”, net soos wat die vertellers by Wolfe en Capote gefiksionaliseer is. Dit is die skrywer, maar ‘n skrywer gefabriseer deur die skrywer.

Dit is ‘n pakkende vertelling wat die stinkende aspekte van geweld, tik-verslawing en gebrek aan dissipline aan die kaak stel. Die vertellende instansie gebruik ‘n diktafoon om die aspek van waarheidsgetrouheid te onderstreep. Die leser is regdeur die vertelling bewus van die illusie van waarheid wat geskep én volgehou word. Daar is onderhoude met mense en die verhaal se egtheid word verterk deur herinneringe aan ‘n jeug waar die vertellende instansie as ‘n outsider vir die leser geskets word. Hy is dus van jongs af buite ‘n sisteem en soos dit dan bekend is aan vertellinge waarin hierdie soort karakter optree, is die waarneming duideliker en ongekompromitteerd weens die blik van buite.
Kemp maak ook gebruik van Michel Foucault (veral Discipline and Punish) se siening van die panoptikum op bladsy 125: die bewaarders kan die gevangenes sien, maar nie andersom nie. Foucault gebruik dit as ‘n metafoor vir hoe die mens se sigbaarheid hom weerloos maak vir die onsigbare magstrukture waaraan hy uitgelewer is. Hierdie filosoof het gesaghebbende studies geskryf oor hoé magsisteme gedrag aan bande lê. ‘n Skool is immers ‘n plek van dissipline en ‘n ruimte van opvoeding. Wat gebeur as die “leerders” in opstand kom of uitgelewer is aan geweld op verskillende vlakke soos armoede, dwelmverslawing, bendes?

Ivan Illich se Deschooling Society kom ook aan bod wat die “new journalism”-aanslag beklemtoon. Enersyds is daar fiksionele ervarings; andersyds beleef ons werklikhede en die Amerikaners tipeer dit tereg as faction.Die verteller vra inderdaad hoe hierdie Foucault hom kon help om mag en instellings beter te begryp. 

Die jeuggedeeltes is besonder konkreet en helder vertel en die roman lewer ‘n soort utopiese blik op die plaaswêreld wat in felle kontras staan tot die distopia wat die nuwe Suid-Afrika impliseer met konflik, bedrog en verlaging in skoolstandaarde. En die onveiligheid van skole.

Sogenaamde tuis-onderrig, leer ons, is ook nie onproblematies nie, omdat dit geweldig duur is en enorme eise aan die ouers stel. Boonop word hierdie praktyk ook as rassisties gesien.

Die hoofstuk op bladsy 228 kan as ‘n kort-kortverhaal gelees word, ‘n besondere deug van hierdie roman wat daarop dui dat hoofstukke goed afgewerk is en nie net sommer saamgeflans is nie. Die verhouding tussen die ek en Dindi dra die vertelling. Die outeur skryf gedistansieerd en emosieloos, sodat skerp en onthutsende oomblikke ‘n mens dikwels eers later tref.

Verskeie lesers het die boek gelees, veral bekende romanskrywers en literatore. Hierdie tendens om almal te bedank raak erg problematies. Het jong skrywers nie genoeg selfvertroue nie? Kritiese lesers mag vra hoe sou die boek gelyk het sonder die insette van al die buite-lesers.

Nietemin, ‘n roman wat ek met groot plesier gelees het, al 232 bladsye. Dit mis dalk die meedoënloosheid van In cold blood of die ironies-aweregse aanslag van Radical Chic & Mau-mauing the Flak Catchers, maar vir ‘n debuut is dit knap. Die roman is voltooi as ‘n projek in Kreatiewe Skryfkunde onder leiding van Marlene van Niekerk aan die US.

[Hierdie resensie het vantevore in Rapport verskyn.]