Showing posts with label Filmrubriek. Show all posts
Showing posts with label Filmrubriek. Show all posts

Monday, November 14, 2022

Filmrubriek | Triangle of Sadness, regiseur Ruben Östlund | 2022

Resensent: Joan Hambidge 

 

I

 

Triangle of Sadness (Frans: Sans filtre:  Sonder filters) het sopas die loket getref. Ruben Östlund se debuut as Engelse filmmaker.

 

Die film het by Cannes die gesogte Palme D’Or verower en is, wat my betref, sover die film van die jaar. Die regisseur is Sweeds en sy aweregse blik op die mensdom het ons reeds beleef in The Square (2017) en Force Majeure (2014).

 

Nou ja, Sweeds maak jou bewus van die ander meester: Ingmar Bergman wat filmtaal absoluut kon beheer. Nes Tarkofski, die Rus.

 

Die “triangle of sadness” is letterlik die vel tussen jou wenkbroue wat ‘n model kan manipuleer met emosie. (Of wat Botox mag onderdruk.) En regdeur die film word daar gefokus op gesigsuitdrukkings.

 

Hierdie film praat duidelik met Robert Altman se satire van die modewêreld Prêt-à-Porter (1994) met ‘n kopknik na Fellini. Marcello Mastroianni, Anouk Aimée is in Altman se film.


Met Kim Basinger, Julia Roberts, Sophia Loren en Stephen Rea.

 

En hierdie niksheid (en doelloosheid) vind ons in Triangle of Sadness.

 

 

II

 

Ryk mense word hier gesatiriseer. Die verhaal word in drie dele vertel wat duidelik waarsku dat jy in die hande is van ‘n filmmaker wat beheer en orkestreer. Eers in die modelle-bestaan; dan op die rykmanskip wat die twee jongelinge “gewen” het, en dan met die skip se Titanic-agtige einde en ‘n eiland waar net ‘n handvol van die passasiers oorleef.

 

Die begin: Yaya (Charlbi Dean Kriek) en haar vriend Carl (Harris Dickinson) maak rusie oor ‘n rekening in ‘n duur restaurant.

 

Dit gaan nie vir hom om die geld nie, maar genderkwessies. Hoekom moet hy betaal as hulle gelykes is? En sy vra weer: wat maak jy in my hotel op my rekening?

 

Die middel: Dan die bootreis. Dit ontspoor vinnig en die klassestryd word hier uitgewerk met die hoofvrou-oor-die-kelners, Paula (Vicki Berlin) wat met ‘n dronk skeepskaptein opgeskeep sit: Woody Harrelson op sy beste as Captain Thomas. Veral as hy saam met die Rus, Dmitri (wat kunsmis verkoop) oor die mikrofoon politieke wyshede uitslinger, terwyl die ship of fools deur die stormwaters woed. Met ‘n kaartspel waarin albei dronker word.


Wanneer die skeepskaptein onder andere uit Noam Chomsky aanhaal, is die vet in die vuur. Kaptein en Rus troef mekaar met al die clichés. Van Lenin tot Ronald Reagan.

 

Jy beleef kotsende en skytende passiers. ‘n Kopknik na Julia Kristeva se Powers of Horror (1980) en ons vrese vir die abjekte. Of die grillige.

 

Hier word almal gelyk.

 

Die einde: En op die eiland word alles op sy kop gekeer wanneer Abigail (Donny de Leon) agentskap kry.

 

Sy is nie langer in beheer van toilette nie. Sy is nou baas want sy besluit wie kry kos en water. En manipuleer die jonge Carl met seksuele afpersing. Vir kos.

 

Daar is lieflike vinjette. Die Rus, vertolk deur Zlatko Buriċ, wat oorleef en sy vrou se juwele van haar lyk afhaal. ‘n Lykskleed het nie sakke nie, weet ons.

 

Die doodmaak van ‘n donkie word ‘n woke-gesprek. Daar is analises van die swart-blik versus die witte. En ‘n tekening van die donkie op die rots met al die implikasies van grottekeninge.

 

En die vrees dat jy mag aanstoot gee. Ge-cancel mag word.

 

Visvang teenoor die diefstal van Pretzels.

 

 

III

 

En ironie is ook volop hier. Die twee rykgatte, Winston en sy vrou, vervaardig handgranate. En sterf aan hulle eie huishoudelike “brand”.

 

Carl lees Ulysses, terwyl hy in die son baai.

 

Die bekwame regisseur beheer alles met slim intertekste en toespelings na ander films (en modegiere).

 

Hy dolwe die leegheid van ons bestaan om. Uiteindelik blyk die gevaarlike eilandbestaan 'n illusie te wees. Daar is ‘n luukse hotel net om die draai; so al die leed, honger en ellende was verniet.

 

Jy kan die hyser van die strand neem na bó. Soos in ‘n James Bond-movie.

 

Charlbi Dean Kriek, wat een van die hoofrolle vertolk, is ‘n Suid-Afrikaner en vroeër vanjaar oorlede. Wanneer sy op die dek lê, sien die kyker ‘n operasieletsel.

 

Toevallig uitgestal? Of ‘n verdere kommentaar dat ons almal verwond is deur die vreemde tye waarbinne ons leef?

 

Satire werk met oordrywing (of hiberbole) en die uitwys van sothede met sarkasme en ironie. Ons lag in (h)erkenning en besweer tydelik ons vrese met die ervaring van so ‘n film wat my weer terugneem na Stanley Kramer se Ship of Fools (1965).

 

Satire stel altyd die norm teenoor die verkeerde en in die uitwys van die onaanneemlike, moet die norm sigbaar wees, aldus Henning Snyman in Mirakel en muse (Perskor, 1983: 181).

 

Al dra ‘n aap ‘n goue ring …

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

 

Friday, February 4, 2022

Filmrubriek | The power of the dog | 2021

The Power of the Dog, ‘n Jane Campion-film, word bemark as ‘n Western-psigologiese drama. En dis presies wat hierdie pakkende film behels. 

Die film oes lof in oorsee en na haar ongelooflike rolprent The Piano (1993) sit sy nie ‘n voet verkeerd nie. Gebrek aan kommunikasie, stilte – met hierdie teks, vertolk deur Harvey Keitel (as George Baines) en Holly Hunter (as Ada McGrath), het Campion ‘n standaard geskep vir talle filmmakers na haar. 

 

The Power of the Dog ontgin ook onvervuldheid en stiltes. Die hele kwessie van homoseksualiteit in ‘n gerepresseerde samelewing kom hier aan bod. In hierdie opsig behandel dit dieselfde kwessies as wat Hennie Aucamp in “Vir vier stemme” (Volmink, 1981) ontgin via die boeregrap. Roger Austen in sy studie Playing the Game wys daarop dat die gay-persoon in konvensionele tekste geoffer word en doodgemaak word deur die omstandighede wat nie gay-identiteit aanvaar nie. 

 

Die titel verwys na Psalm 22:20, NIV: “Deliver me from the sword, my precious life from the power of the dogs.”

 

Peter, die jong seun van Rose, word deur Phil gespot, omdat hy verwyfd is en lispel. Dit is ook Peter wat die beeld van die hond in die berg raaksien en hiermee sy eie krag ontgin. Hy neem later wraak op Phil wat hom afgeknou het en verneder het voor ander.

Phil se broer, George, trou met Rose, tot die saggryn van Phil. Dis egter die seun Peter wat later onthul dat sy vader selfmoord gepleeg het. Phil boelie die jong Peter, wat egter nie heeltemal onskuldig is nie. Hy loer Phil af wanneer hy kaal swem en ontdek ook sy weggesteekte porno. Ons sien hoe hy ‘n hasie in sy kamer dissekteer; tot sy moeder se ontsteltenis. Sy wend haar na alkohol.

 

Phil is hatig en verminderend oor haar, en woedend wanneer sy die beesvelle aan Indiane verkoop. 

Phil is intelligent & in die klassieke tale opgelei aan Yale, maar is vuil en slordig. Hy weier ook om te bad wanneer daar besoekers oorgenooi is vir ete. George nooi sy ouers en die goewerneur en sy vrou om Rose te ontmoet.

 

So intimiderend is Phil dat Rose nie kan klavierspeel nie. Haar tong is uitgesny, soos Holly Hunter s’n. Die klavier is hier ‘n simbool van kultuur, wat afgewissel word met Phil se naakswemtonele en sy masturbasie met ‘n sakdoek van Bronco, sy oorlede vriend en mentor, wie se saal ‘n totemplek inneem in die stal.

 

Hy laat Peter ook daarop sit; ‘n prospeksie van dit wat kom. Die moeder is bewus van die verleiding van haar seun. Sy probeer selfs keer dat hy weggaan met Phil.

 

Phil maak ‘n lasso vir Peter, ‘n soort toenadering en seksuele simbool, uit repe vel van die dooie koei waarop Peter afgekom het tydens ‘n solo verkenningstog. Die koei is waarskynlik dood as gevolg van ‘n antraks-infeksie. Peter het handskoene aangetrek voor hy ‘n stuk van die koei se vel afgesny het. (Hierdie toneel moet in jukstaposisie geplaas word met die handskoene wat die moeder in ruil ontvang van die Indiaan se kind as geskenk en betaling en waarmee sy selfs slaap.)

Wanneer Peter en Phil ‘n hasie doodmaak, beseer Phil homself macho sonder handskoene. Hierdie oop wond op sy hand veroorsaak dat hy infeksie kry wanneer hy – omdat Rose die sy velle aan die rondreisende Indiane weggegee het – van die besmette vel gebruik om vir Peter die lasso te vleg. Hy bely ook sy gevoelens oor Bronco vir Peter. Peter op sy beurt, bely dat hy sy vader – wat homself gehang het – moes lossny.

 

Phil word egter siek weens die besmette vel en hy sterf. Voor sy dood probeer hy die lasso vir Peter gee, maar in sy deliriese, koorsige toestand kan hy hom nie opspoor nie.

 

Dit is beduidend dat die jong Peter nie na die begrafnis gaan nie en dan die Bybelteks lees wat die titel aktiveer: “Deliver me from the sword, my precious life from the power of the dogs.”

 

‘n Vorm van boetedoening?

 

Hy plaas die lasso (steeds met handskoene aan) onder sy bed waar dit uit die oog is – soos Phil se seksualiteit? Hy kyk deur die venster en sien sy moeder en stiefvader: glimlaggend en gelukkig. Sober & “gesond”.

 

Die “bose” homoseksualiteit is besweer. Die onderliggende boodskap van die film is ontstellend; homoseks word bestraf.

In die hande van ‘n mindere regisseur sou dit nie oortuig nie, maar Jane Campion vang die tydsgees (onthou dis Montana, 1925) goed vas. Nes Aucamp se “Vir vier stemme” eweneens die tragiek van ‘n gemeenskap se vooroordele ontgin en wat lei tot die selfdood van Freddy. 

 

By Aucamp word dieselfde verhaal vanuit vier perspektiewe vertel: 'n Grap is 'n grap; Aan alles moet 'n einde kom; En hadde de liefde I; En hadde de liefde II; by Campion is daar afdelings wat wys op ‘n gedistansieerde, amper romanagtige vertelling wat in hoofstukke afspeel.

 

Beide tekste gebruik die Bybel met skuld en boetedoening. Beide tekste is briljant. Campion het die draaiboek geskryf wat gebaseer is op Thomas Savage se gelyknamige roman wat in 1967 verskyn het.

 

Teenoor die klavierspel is daar die klank van ‘n banjo. Phil wat steeds musiek kan maak; Rose wat nie meer kan speel nie.

 

Die landskap is hier sterk aanwesig as ‘n krag. 

 

Bronne:

 

Austen, Roger. 1977. Playing the game. The homosexual novel in America. New York: The Bobbs Merrill Company, Inc.

 

Tersaaklike rolverdeling:

 

Benedict Cumberbatch as Phil Burbank

Kirsten Dunst as Rose Gordon

Jesse Plemons as George Burbank

Kodi Smit-McPhee as Peter Gordon

 


 © Joan Hambidge 


Friday, January 14, 2022

Filmrubriek | The Roman Spring of Mrs Stone (1961)

I 

Tennesee Williams is sinoniem met self-verloëning en -misleiding. Min dramaturge kon die spanning tussen waansin en normaliteit so uitstekend ontgin as hy. Blanche DuBois. Of ‘n ongeleefde lewe so briljant weergee. Amanda Wingfield. Of Brick Pollitt as gerepresseerde gay.

 

The Roman Spring of Mrs Stone is die uitstekende filmweergawe van 1961 wat op sy novelle gebaseer is. José Quintero is die regisseur van die film met Vivien Leigh, Warren Beatty, Jill St. John en Lotte Lenya as die belangrikste akteurs. Lotte Lenya sou net hierna in Bond (From Russia with love, 1963) die booswig speel. Gavin Lambert het die draaiboek geskryf wat die essensie van Williams raakvat.

 

II

 

In ‘n klein dokumentêr (as ‘n addendum tot my DVD) is daar ‘n interessante beskouing oor die film te siene. Hoe Vivien Leigh se huwelik met Lawrence Olivier tot ‘n einde gekom tydens die produksie van die film en hoe Warren Beatty, as ‘n jong onbekende akteur, gereis het na ‘n eiland in Puerto Rico waar Williams vakansie gehou het om hom te oortuig dat hy die rol van Paolo moes vertolk. Met ‘n sogenaamde man tan en ‘n Italiaanse grammatika- en fraseboek onder sy blad, het hy Williams oorrompel. Beatty het die rol bó Alain Delon gekry, omdat Williams ‘n inset kon lewer oor wie die akteur moes wees. Dit blyk ook dat hy ten spyte van sy aantreklikheid gesukkel het om kop bo water te hou en selfs dramaskool as ‘n jongeling moes verlaat om werk te vind in New York. Maar hierdie film het hom gevestig as ‘n ernstige akteur, omdat hy bereid was om téén die stereotipiese opvatting van die beefcake in te speel.

 

Sy loopbaan het hiermee ‘n hupstoot gekry, terwyl Leigh se loopbaan  – ten spyte van enorme sukses met A streetcar named desire en Gone with the wind – besig was om met rasse skrede agteruit te gaan.

 

Is dit kuns wat lewe naboots of andersom?, vra een van die kommentators.

 

III

 

Hierdie film som waarskynlik Williams se aard op as onvervulde mens, uitgelewer aan andere en fata. Met ‘n ingewikkelde verhouding met sy familie en die eise om telkens ‘n belangrike dramateks te lewer, het sy lewe toenemend ingewikkelder geraak met allerlei verslawings.

 

The Roman Spring of Mrs Stone vertel die verhaal van ‘n aktrise wat tydens haar vertolking van Rosalind in As you like it besef dat die vertoning ‘n mislukking was. Sy besluit – met die hulp van haar welgestelde eggenoot – om die produksie te kanselleer. Die kyker is bewus van die New Yorkse vriende wat haar beskinder en verminder. Ons is bewus van sy gesondheidsprobleme wat gebruik word om die produksie te eindig.

 

Sy vertrek op vakansie met haar eggenoot, Tom Stone, na Rome en hy sterf op die vliegtuig aan ‘n hartaanval. Hy is veel ouer as sy.

 

In Rome word Karen Stone, die ryk weduwee, die slagoffer van skindertonge en die Contessa Magda Terribili-Gonzales (uitstekend vertolk deur Lotte Lenya), wat haar manipuleer en indwing in ‘n verhouding met ‘n marchetto, ene Paolo di Leo (Beatty). Die Contessa leen ook geld van Karen Stone wat haar daarop attent maak dat Amerikaners nie so naïef is as wat hulle in films voorgestel word nie.

 

Karen raak egter verlief op Paolo, terwyl hy haar manipuleer vir geld. Haar vriendin, Meg lewer besoek af en waarsku haar oor die skindertonge en die paparazzi se uitlatings.

 

Meg, ‘n politieke joernalis probeer haar oorreed om terug te keer New York toe, maar Karen volg haar hart.

 

Want dit was Paolo wat haar waarsku dat ryk vrouens kan sterf aan die hand van ‘n besoeker. Rome, waarsku hy, is ouer as jy; meer as 300 jaar. Jy is net 50 jaar …

Sy is egter vreesloos wanneer hy haar bang praat. Sy antwoord:

"All I need is three or four years. After that, a cut throat would be a convenience".

 

Is Karen die dramaturg van haar eie lot? Sy lieg immers vir vriende uit die VSA wat op besoek is in Rome dat sy aan ‘n ongeneeslike siekte ly.

 

Meg is die een wat haar probeer beskerm. Meg is reeds weg is wanneer Karen en Paolo se verhouding breek.  Karen haal sy foto uit die raam en ons sien na die vertrek van die gaste wat na die film-footage moes kom kyk of Paolo in ‘n filmrol sou kon speel, net ‘n leë raam.

 

Tydens hierdie besoek aan haar weelderige palazzo is Paolo roekeloos-afsydig en hy flirteer openlik met Barbara Bingham om ‘n rol te kry. Sy oppervlakkigheid word weergegee in sy gesprekke oor ander tydens besoeke aan die barbier. Hy lê ook in sonbaai op haar palazzo se dak.

 

Hy is ‘n opperse emosieswendelaar wat duur klere van Karen ontvang en haar belieg oor ‘n vriend se geldnood. Ofskoon sy weet hy lieg, laat sy hom begaan. 

 

Die geliefde vertrek. Daar is niks meer oor nie. 

 

In die film kyk Karen voortdurend in spieëls. Oomblikke van self-konfrontasie? Of die ouer aktrise wat narsisties na haarself kyk en besef sy het oud geword?

 

Alles beweeg, die sterre, die swaels, waarsku die gigolo. 

 

Ons is bewus van ‘n jong man wat onder haar palazzo bly en haar dophou. Uiteindelik gooi sy ‘n sleutel af na hom. Hy kom na haar kamer en in die slot vermoor hy haar waarskynlik.

 

Jill St. John in die ektra-kommentaar, meen dis ‘n nuwe begin vir Karen Stone. Die kenner van Tennessee Williams weet dis nie so nie. Dis immers ook tersaaklik dat Vivien Leigh Jill St. John tydens die produksie van hierdie film op die filmstel geïgnoreer het. ‘n Deurwinterde Williams-vertolker weet immers hoe sub-teks werk. Jill St. John was immers ‘n Bond-meisie in Diamonds are forever (1971).

 

In ‘n wonderlike oomblik in The Roman Spring of Mrs Stone laat Vivien Leigh (as Karen Stone) vir Jill St. John weet sy het nog geen van haar films gesien nie.

 

En jy as kyker weet dis ‘n klap na die harde, harde werklikheid. Alles in hierdie film gaan oor betreding en om die vyand in jou private ruimte toe te laat. Sleeping with the enemy. Tydens een van die besoeke van  Contessa Magda Terribili-Gonzales maak sy beledigende opmerkings voor ander gaste oor Karen Stone, wat dit hoor, maar ignoreer. (Lotte Lenya het tereg ‘n Oscar ontvang as beste byspeler vir haar rol.)

 

En dis eweneens relevant dat Rosalind ter sprake kom in hierdie film. Rosalind is immers bekend vir haar skerp tong, skoonheid en vermoë om te oorleef.

Ironies bepaald. Want Karen Stone oorleef nié.

 

 

IV

 

Die belangrikste vertolkings:

 

Vivien Leigh as Karen Stone

Warren Beatty as Paolo di Leo

Lotte Lenya as Contessa Magda Terribili-Gonzales

Coral Browne as Meg

Jill St. John as Barbara Bingham

Jeremy Spenser as Young Man

 

Vir ‘n analise van die novelle: Theoharis Theoharis Constantine - The kindness of strangers : savage rescue in Tennessee Williams' The roman spring of mrs. Stone. Besoek 9 Januarie 2022.

 

© Joan Hambidge

Monday, July 19, 2021

Filmrubriek | Inspector Morse | 2021

I

Die morsekode in die musiek sinjaleer iets van hierdie reeks wat ek sopas voltooi het. Morse en Lewis. ‘n Moderne Sherlock Holmes-series? Morse, wie se vader ‘n liefhebber van Captain Cooke was, doop hom Endeavour. (Wat hy later as ‘n blokkiesraaiselwenk vir Adele Cecil, ‘n kortstondige geliefde, gee …)

 

Almal noem hom Morse. Of Chief Inspector Morse blaf hy vir ‘n joernalis. 

 

Aan Oxford was sy bynaam Pagan. Lewis noem hom ook nie op sy voornaam nie; hy noem Lewis gewoon Lewis en in ‘n tere oomblik word Lewis wel Robbie. Ander kere korrigeer hy sy Engels en die verkeerde gebruik van who/whom. Twitchery is bird watching leer Morse, die pedant ons, en hy vang ‘n man uit wat ‘n verkeerde voëlnaam gee as ‘n verdagte.

 

Morse (John Thaw) is ‘n alleenloper, kenner van opera en klassieke musiek; ‘n ywerige blokkiesraaisel-kenner met ‘n swak vir sy pint en whiskey. Intellektueel meerderwaardig – hy het immers aan Oxford studeer – maar terselfdertyd vasgevang in sy slim hipoteses dat Lewis hom dikwels moet reghelp.

 

In die slot van die reeks wat handel oor die sukses en vervaardiging van die reeks, praat sy baas, Chief Superintendent Strange (vertolk deur James Grout) oor hom asof hy werklik bestaan. Wanneer ‘n fiksionele karakter so tasbaar word, bewys dit dat die reeks werk. (Ons dink hier aan Poirot of Maigret.)

 

Colin Dexter is die skepper van hierdie briljante figuur wat ten spyte van menslike foute wêreldwyd erkenning en aandag geniet. Of dalk juis weens menslike oordeel wat hom soms in die steek laat. Hy is ook polities-inkorrek en seksisties teenoor ‘n vroue joernalis of patoloog wat hom reghelp. Hy weer kap terug dat vroue juis in hul vroulikheid iets vermag. In een episode word daar selfs ‘n boek gedekonstrueer (geskryf deur ‘n Amerikaanse navorser) om te bewys dat verkeerde persone galg toe gestuur is.

 

Selfs die Koningin van Engeland het versag teenoor Rebecca Eaton, in die VSA toe sy hoor dat sy die vervaardiger van hierdie reeks is, op besoek aldaar. Daar bestaan ‘n bustoer waar jy in Oxford kan gaan kyk na die bakens in die reeks. In menige aflewering word daar gespot met die verskille tussen Britse en Amerikaanse universiteite en ‘n hoogtepunt is met Sir John Gielgud as die kanselier van Lonsdale, die fiktiewe kollege.

 

Dexter is soos Hitchcock aanwesig in sy reeks. Daar stap hy verby; hier dirigeer hy die koor.


Die ónperfekte speurder met ‘n enorme kennis van die Engelse digkuns (van Tennyson tot Eliot) sjarmeer hierdie kyker gewis. Wanneer Lewis (Kevin Whateley) ‘n bekende aanhaling toedig aan sy tennisklub, weet Morse dis Kipling. Hierdie kognitiewe dissonansie skep baie humor. 

 

Miskien is ons só sat vir geweld en vals boodskappe dat iets mensliks ons raak. 

Morse, so meen Thaw in ‘n onderhoud, wil net weet hoe gebeur dat gewone mense optree soos hulle optree.

 

II

Hierdie Britse reeks het in 1987 begin met 750 miljoen mense in 50 lande wat dit kyk en waardeer.

 

Die reeks hou jou op jou tone met musiek wat ‘n leidraad bied of ‘n verwysing soos “earth to earth / ashes to ashes/ dust to dust”.

 

Britse gewoontes, die invloed van die kerk en hoe ‘n gemeenskap funksioneer word geanaliseer. Morse sing selfs in ‘n koor en die Latynse verwysings verleen eweneens gravitas aan die reeks waar Anthony Minghella selfs ‘n buiging maak as draaiboekskrywer.

 

Wanneer Morse sterf aan ‘n hartaanval, ervaar die kyker saam met Lewis enorme verlies met die dood van hierdie skrander man van die Thames Valley Police.

 

‘n Skaakspeler boonop met ‘n enorme kennis van Wagner (wat hom help om die spanning tussen die bose en goeie te navigeer) en pragtige etse teen sy mure, o.a. van Piranesi. Sy vintage Jaguar (nommerplaat 248 RPA) is eweneens aanskoulik.

 

‘n Speurder met ‘n hart wat bely in Cherubim and Seraphim dat hy as jong, misplaaste kind op ouderdom 15 self selfmoord oorweeg het wanneer hy sy niggie se dood ondersoek.

 

En hoe sal ons ooit die patoloë vergeet: manlik en vroulik. Die vroue wat hom liggies betig oor sy seksisme en tog hom ook aantreklik vind. Maar dis Dr Max DeBryn (Peter Woodthorpe) wat die primordiale Britse patoloog vertolk. Beterweterig, maar ook reg. En Thaw die akteur speel met sy oë.

 

My DVD-agent het vir my diskette ter geskenk gegee. Dit word bewaar soos ‘n kleinood langs my duur whisky.

 

© Joan Hambidge

Thursday, July 8, 2021

Filmrubriek | William Friedkin | 2021

Filmrubriek | William Friedkin | 2021

 

In hierdie tyd word klassieke films besoek en herbesoek. Fellini. Bergman. Tarkofski. Maar ook meer populistiese films.

 

Die werk van die Amerikaanse filmmaker William Friedkin is uitstekend. Hy behoort tot die sogenaamde “New Hollywood”-beweging en my filmverskaffer beveel aan: The French Connection en The Excorcist.

 

Uit 1971 en 1973. Beide het ek as jong kind by Sterland in Pretoria gesien. Wat hierdie films besonder interessant maak, is wanneer ‘n mens na Friedkin se analises van sy eie films luister. Jy kyk eers die film en dan luister jy na sy vertellinge van hoé die film gemaak is.

 

The French Connection wys sy vindingrykheid met die aksiefilm. As voormalige dokumentêre filmmaker gebruik hy tegnieke van die realisme en hy erken sy skatpligtigheid aan Jean-Luc Godard. 

 

Die verhaal is oorbekend. Dwelms wat gesmokkel word van Marseilles na New York. En netjies weggesteek in ‘n motor se panele. Die werklike speurhoof en die man wat die motor uitmekaar dolwe, was betrokke in die oorspronklike saak. So wil die filmmaker die vraisemblance van die film bevestig. ‘n Werklike saak, met werklike mense, met werklike lotgevalle. Die arme televisie-ster, Henri Devereux,  is die enigste een wat in die tronk beland en hy word wol oor die oëgetrek deur die Franse dwelmbaas. (Ons sien teen die einde van die film dat hy die enigste een is wat aan die pen gery het en dat Charnier weggekom het.)

 

Jimmy “Popeye” Doyle (Gene Hackman) en Buddy “Cloudy” Russo (Roy Scheider) agtervolg die swendelaars. Doyle raak obsessioneel en in een van die angswekkende jaagtonele, agtervolg hy ‘n boef met ‘n motor (wat hy sommer afneem by ‘n onskuldige). Die boef is in trollietrein en die bestuurder beswyk aan ‘n hartaanval. Hackman het glo self bestuur en 5 motors is opgefoes in die proses. Mense is afgeneem sonder hul medewete en daar is selfs ‘n wederregtelike verkeersknoop op die Brooklynbrug (met polisiebeamptes) geskep.

 

Fernando Rey is per ongeluk gekies vir die rol van Charnier, maar bely Friedkin, hy het perfek in die rol gepas as die suave dwelmbaas wat Popeye Doyle treiter in New York. 

Friedkin was gaande oor Luis Buňuel se Belle de Jour en die Francisco Rabal se spel. Hy het ongelukkig nie sy naam geken nie. Die produksiespan het toe per abuis Fernando Rey gekontak wat nog Engels nog Frans magtig was …

 

Die twee polisiemanne (good cop, bad cop) sien een aand in die Copacabana hoe ene Boca en sy vrou met ‘n ongure karakters rondhang. Doyle en Russo begin Boca en sy vrou dophou (en afluister) in Brooklyn en so toevallig word ‘n hele ondergrondse netwerk onthul – met Weinstock, die prokureur wat geld moet oorbetaal aan die Franse, lont ruik en dan by implikasie help skep aan die broeiende drama in NY met onderhandelinge wat eerder in Washington bespreek word. Boonop weet Charnier hy word agtervolg en een van die kernoomblikke in die film, speel hy kat-en-muis met Popeye Doyle. In en uit die underground … Wanneer Doyle hom finaal ontmoet, wys hy dieselfde handgebaar vir hom.

 

Toe die film verskyn het, was die gesiene filmmaker Pauline Kael uiters negatief oor die film in die New Yorker (Oktober 30, 1971). Sy het die film veral gestriem, omdat daar so min onthoubare oomblikke in die film is. Kurosawa beskou dit egter as een van sy gunsteling-films!

 

In 2021 kyk hierdie filmkyker anders na die film. Daar is belangrike oomblikke: soos die Krismistoneel met Doyle as Vader Krismis wat Jingle Bells met kinders sing; Doyle wat in ‘n jaagtoneel ‘n vrou met kind in ‘n kinderwaentjie rakelings mis; ‘n satmoeë Doyle wat verby ‘n seuntjie op ‘n driewiel stap na sy woonstel waar ‘n shoot-out op hom wag; die beroemde toneel waar die obsessionele Doyle die trein jaag; en die slot: nadat Doyle per ongeluk, die FBI-man, Mulderig doodskiet met ‘n laaste skoot in die donker waarmee die film eindig.

 

Dit is een van die eerste films wat die nou verdwene WTCentre wys. (Toe was nog net die Noordelike Toring voltooi.)

 

Charnier is ‘n opperse skelm. Ons sien hom op skrootwerwe waar hy ou motors opkoop waarmee hy dan uiteindelik die geld (weggesteek) kan terugstuur Frankryk toe.

 

In ‘n besonder mooi toneel kom Devereux se Lincoln Continental Mark III in New York aan met joernaliste wat die TV-held interview.

 

En hoe weet die polisie dat hierdie motor die dwelms vervoer het?

 

Die motor word geskut en hier sit die werklike polisieman wat by die slenterslag betrokke was in ‘n hokkie.

 

Cloudy maak almal daarop attent dat die motor 120 pond swaarder geweeg het by die aankoms …

 

Tereg het hierdie film pryse ingeoes: beste regisseur, beste akteur (Hackman), beste redigering, beste verwerking, beste kinematografie, beste ondersteunende akteur (Scheider), usw.

 

En as bonus: hierdie film het The Three Degrees beroemd gemaak met hulle vertolking van Jimmy Webb se “Everybody Gets To Go To The Moon” – nog ‘n spel met die werklikheidsdimensie.

 

Friedkin erken is sy voice over: hy sal nie vandag soveel kanse kan waag nie.


© Joan Hambidge


Tuesday, June 22, 2021

Filmrubriek | Fellini: La dolce vita | 2021

I

 

Om hierdie komplekse film uit 1960 te waardeer, vereis soveel herbesoeke en weerkyke. Hierdie filmmaker verstaan die rol van agtergrond, familieskap, die kerk en genderpolitiek.

 

In die beroemde openingstoneel sit die hoofkarakter Marcello Rubini (Marcello Mastroianni) in 'n helikopter terwyl daar met 'n Jesusbeeld oor Rome gevlieg word.

 

In 'n danstoneel met Sylvia (Anita Ekberg) sê hy vir haar: "You are everything. You are the first woman of creation. Mother, sister, lover, friend ... An angel, a devil, the earth, the home. That's what you are. The home! " 

En dan beveel hy haar om terug te keer Amerika toe, omdat hy totaal oorrompel is deur haar skoonheid.

 

Hulle dans op "Arrivederci Roma" en hierna jive sy met die Amerikaanse akteur, ene Frankie Stout, wat haar in die lug rondgooi  (Arrivederci Roma in La Dolce Vita di F. Fellini (1960) - YouTube. Besoek 22 Junie 2021).

 

Wanneer Marcello Sylvia ontmoet, neem hy haar na St Petrus-plein. Sy hardloop die trappe uit en merk op dat dit 'n goeie plek is om gewig te verloor.

 

Haar hoed waai af wanneer sy uitkyk oor die stad en hiermee aktiveer Fellini haar verlies aan denke; net soos wat sy haar skoene agterlaat na die danstoneel. Marcello neem dit op nadat sy deur haar vriend beledig is. (Later in die aand wanneer sy tuiskom, klap hy haar deur die gesig.)

 

Hierna volg die beroemde toneel by Caracalla en later by die Trevi-fonteine. Die aankomstoneel, by die Ciampino-lughawe, van Me. Sylvia Rank waar die paparazzi haar inwag, is al telkemale in advertensies verïkoniseer.

 

Paparazzi's op Vespas bevolk en teister die bekendes. Sylvia tel 'n katjie op en versoek Marcello om melk te soek vir die kat. In die nag soek hy heenkome vir hom en haar. Hy kan haar nie huis toe neem nie, want sy jaloerse minnares wag tuis. 

 

Sy het ook pas probeer selfmoord pleeg. Hy bel dan sy vriendin, Anouk Aimée, vir heenkome.

 

Al hierdie glinster- en huisdramas word afgewissel met ernstige vrae oor godsdiens. Marcello ontmoet sy vriend, Steiner in die kerk, wat eers jazz op die orrel speel en dan Bach, omdat hy betig word deur die monsignor. Later by 'n besoek aan sy huis – waar vele pseudo-intellektuele praat oor die lewe – sien ons Steiner in 'n ander lig. Hier is selfs 'n "oracle alcoholic". 'n Skildery van Morandi word aangeprys as sober. In 'n roerende gesprek met Marcello meen Steiner 'n mens moet buite tyd leef. (In die kerk wys Steiner vir Marcello sy Sanskrit-grammatikaboek.)

 

Hy pleeg uiteindelik selfmoord nadat hy sy kinders doodgemaak het. Wanneer sy vrou meegedeel word van die tragiese gebeurde, is die paparazzi weer eens aanwesig met flitsende kameras.

 

Ondertussen word daar in Rome gekyk na die mirakelboom en mense wat glo dat hulle die Maagd Maria (Madonna) gesien het. "Italy is filled with supernatural forces", verneem ons. Die filmspan word 'n kommentaar op die film as sodanig: 'n film-binne-in-'n-film. (Anita Ekberg, besef ons, kan gesien word as 'n moderne Madonna.)

 

In die ontmoeting met sy vader, neem Fellini die genderdiskoers vérder. Die vader besoek die stad en gaan saam met sy seun na 'n nagklub. Hy vertel van 'n klub in sy jeug waar daar 'n meisie met lang bene was en toe ontdek hulle dat 'sy' 'n penis het ...

 

In die Chachacha-klub dans die vroue in 'n pseudo-sirkusopset met 'n sweep wat klap.

 

Die vader – ‘n afwesige een – verlaat uiteindelik sy seun en vertrek huis toe. Die konflik is duidelik onopgelos.

 

In die slot tydens 'n huisparty ontklee 'n vrou en sit Marcello op die vrou asof sy 'n perd is en hy takel haar met hoendervere.

 

II

 

Misogonisme? Of verraai dit iets van die tydvak?

 

Die slot met die groot, dooie vis is dalk 'n religieuse simbool: Marcello word gekonfronteer met die vis: Jona in die walvis, maar ook die Leviatan? En die dooie vis signifieer waarskynlik vir hom die dood van geloof vir die hoofkarakter.

 

Die slot van hierdie film neem ons terug na die begin waar die Jesus-beeld in die lug hang.

 

Genderpolitiek en vrae oor geloof word afgewissel in hierdie briljante film wat alles verklap van die tydsgees waarin dit gemaak is.

 

Die kyker vandag in 2021 besef hoe briljant die film tussen verskillende dimensies beweeg van selfmoord tot ligsinnigheid; van die paparazzi tot die invloed van die kerk.

 

La dolce vita is uiteraard ‘n ironiese titel met die hoofkarakter wat as joernalis beweeg tussen verskillende insidente en eintlik ‘n skrywer wil wees. En die verwysing na Giorgio Morandi, die kunstenaar wat spesialiseer in stillewens soos “Metaphysical Still Life” …

 

© Joan Hambidge

 

Thursday, June 10, 2021

Filmrubriek | Fellini se Otto e mezzo

I

Fellini se Otto e mezzo word inderdaad beskou as een van die klassieke films van ons tyd. Die afgelope tyd het verskillende films van Fellini my weer bekoor.

 

Hierdie handel oor 'n filmmaker wat besig is om 'n film te maak en terselfdertyd verslag te doen oor sy lewe, die vroue in sy lewe en sy jeug. Hierdie terugkeer na die jeug is waarskynlik een van die belangrikste temas in sy werk: die siening van ouers, die grootword jare in Rimini, die invloed van die Rooms-Katolieke kerk en 'n besinning oor die rol van die filmkuns.

 

Otto e mezzo (81/2) dui op die middeltyd van sy lewe. 'n Tyd tussen films. Dit is 'n metafilm met 'n kyker (jy /ek) wat sien hoe die filmmaker (Marcello Mastroianni) in 'n filmhuis sit en kyk na die film wat gemaak word. Die film is vrygestel in 1963 en ek het dit eerste keer gesien by die Stellenbosse filmvereniging in 1979.

 

Hierna het ek dit telkemale weer bekyk en met die jongste ervaring weer geluister na die filmkritici wat sinryke kommentaar lewer oor die produksie van die film.

 

Die kamera en die kyker se bewuswees van die kamera, maak van die kamera die hoofkarakter.

 

Die spieëltekste is eweneens belangrik: Mastroianni speel (asof) hy Fellini is en die gerinkink met vroue aktiveer sowel akteur as filmmaker se vele verhoudings met vroue. Daar word deur hierdie kritici belangrike informasie gegee oor werklike akteurs en hul verhouding met Fellini. Boonop is die slottoneel op die strand verfilm presies waar Pasolini vermoor is. Op die strand in Ostia is Pasolini 2 November doodgemaak. 

 

Ons word eweneens vertel van Fellini se werk as komiekstripkunstenaar. Kyk mooi wanneer Luisa (Anouk Amée) haar man se minnares in die straatkafee sien hoe sy jaloerserig haar neusgate wikkel en hoe die eggenoot aan sy neus vat asof hy 'n Pinocchio is. Alles in hierdie film werk rondom waarheid en verdigsel. Konterfeitsels dryf die film vorentoe.

 

Guido, die filmmaker, ly nie net aan 'n filmmakerblok nie; hy is 'n narcistiese, selfbehepte vrouejagter, wat beskuldig sou kon word van 'n inflasie van die ego in Jung se terme. Maar dit word sjarmant en speels vertel. In die toneel waar hy die verskillende vroue - op die maat van Wagner se Walküries - met 'n sambok in beheer probeer hou, sal waarskynlik vandag se kykers vervreem oor die misogonisme. Maar dit word egter satiries hanteer deur die wérklike fillmaker Federico. Kort voor hierdie toneel word ons teruggeneem na sy jeugjare wat hierdie toneel verduidelik en kontekstualiseer.

 

Guido se fantasie oor die singende hoer (Eddra Gale) op die strand, laat hom in die moeilikheid beland by die priesters en sy moeder, veral is verwytend. Boonop verklap die kommentators dat hierdie vet vrou - 'n argetipe - 'n werklike operasangeres in Chicago was. Fellini is al die verwyt gemaak dat hy sy jeug fetisjeer. In die toneel voor die priesters - vertolk deur vroue-akteurs - sien ons egter hoe straf die jong kind vir ewig gekwes het.

 

Die priesters word vertolk deur vroue, verneem ons, omdat mans van daardie ouderdom - deur drank verwoes -  nie so goed lyk as vroue nie.

 

En in 'n toneel hoor ons dat Fellini teen intellektuele kommentaar op sy films was. Is dit dan, wonder ons saam met die kommentators, hoekom hy die kritikus ophang en nie laat sterf nie? Kunstenaars behoef immers kritiese reaksie.

 

II

 

Die film begin met 'n droom waar Guido in 'n motor sit en probeer uitkom. In die motor langs syne is sy minnares besig om seks te hê met 'n man. Dan vlieg hy in die lug op en land op die strand voor sy agent. Die filmkommentaar beklemtoon dat Fellini telkens sy karakters werkliker maak as wat hulle was. En die film werk met die verlede, hede en "conditional time", die sogenaamde tyd van moontlikhede en fantasie.

 

Dit is relevant om te weet dat Fellini in hierdie tyd 'n Jungiaanse analis besoek het om sy werkblok te probeer ophef.

 

Fellinesque, daadie kwaliteit wat hy aan sy vrouekarakters gee, is vandag alom bekend. Hy werk teen die Neo-Realisme van Rossellini en beweeg soos Visconti en Antonioni in die wêreld van konstruksies en drome. Daar word beklemtoon dat ten spyte van sy sjarmante aanslag met akteurs, het hy dikwels mense gebruik en na die film voltooi is, nooit weer gesie nie. Donald Sutherland is uiters negatief oor Fellini as regisseur in My life as a liar.

 

Elke vinjet in hierdie rolprent dra betekenis. Die moeder (in die werklike lewe Vittoria de Sica se vrou) transformeer van moeder tot sy eggenoot in die film.

 

Die priester in die hysbak laat die kyker voel asof hy in 'n bieghokkie staan. Straf en boetedoening is ‘n belangrike motief in hierdie film.

 

Die gebruik van Matroianni as sy alter ego illustreer Fellini se kennis van Jung.

 

Die film sit vol kwinkslae - soos die horlosie as geskenk vir die vervaardiger, wys op Fellini se reaksie toe sy vervaardiger, t.s.v. al die geld wat 'n film gemaak het, net vir hom 'n horlosie as geskenk gegee het.

 

Otto e mezzo het eers La bella confucia geheet, 'n belangrike sleutel om die rol van al die argetipiese vroue in die rolprent te verstaan. Wanneer die kritikus in die film hom uitvra oor Marxisme, is dit met opset. Fellini se film lewer nie politieke kommentaar nie. Hy gaan in die primordiale in: asa nisi masa is die spreuk wat die jong kinders ken en die dansende goëlaar is in die werklike lewe 'n Sufi. Die film dui op 'n spirituele krisis in die lewe van Fellini en hierom is die film 'n soeke na harmonie en antwoorde. Hierom waarskynlik die konfrontasie met die kardinaal in die stoombad wat nie raad kan gee nie.

 

Net soos Guido geen draaiboek vir sy akteurs kan gee nie, was daar geen draaiboek vir die werklike film nie. Daar is elke dag geïmproviseer; iets waarop Sutherland ook wys toe Casanova vervaardig is.

 

Liefde, seks, die huwelik en vriendskappe is vir Fellini verskillende dele van sy lewe. Die een aspek het volgens die kommentator niks met die ander te make nie. Guido en Luisa is vasgevang in huwelik van stryd. Hierom dalk dat die twee vroue (eggenoot en minnares) met mekaar dans buite beheer van die man om geluk te vind?

 

III

 

Die tekstuur van die film word bepaal deur duplisiteit en 'n dubbel-lewe. Die slot sou eers 'n treintoneel gehad het, maar dit is verander na die ruimtetuig op die strand. Al die karakters kom hier byeen.

 


Die treintoneel was vermoedelik te negatief – met ‘n vorige bestudering van die film sou dit kon lyk asof die karakters almal sterf in die slottoneel.

 

IV

 

Hierdie film uit 1963 bly ‘n klassieke film wat resoneer met ander groot films. En die kritici se voice overs is uiters boeiend, veral wat betref die werklike mense, aktrises en intriges van daardie tyd in Italië.

 

 

Bibliografie:

Damian Pettigrew.2002. Fellini: I'm a Born Liar

 

© Joan Hambidge