Showing posts with label Charlotta. Show all posts
Showing posts with label Charlotta. Show all posts

Monday, March 25, 2013

Jeanette Ferreira - Charlotta (1999)



Jeanette Ferreira. Charlotta. Human & Rousseau, 1999. ISBN 0 7981 3908 0.

Resensent: Joan Hambidge

Jeanette Ferreira is digter (Waar een mens saam is) en romanskrywer. Haar kampusroman Sitate om 'n rewolusie wys op 'n fyn hantering van simboliek. Die afgelope paar jaar onderskei sy haar as hygromanskrywer. Ook van populistiese romans soos Babette, Catharina en Charlotta.

Die jongste uit die Human & Rousseau-stal heet Charlotta. Die roman is besonder goed nagevors, die vertelling boeiend. Ferreira volg en ootree die kodes van die liefdes- en spanningsverhaal op slim maniere. Daar is liriese intensiteit en passie met 'n hoofletter. Inderdaad word die menslike lyding en pyn na ons gebring soos datums en veldslae nie kan nie.

Van die Boereoorlog weet Ferreira veel. Hieroor het sy al ernstig geskryf en 'n knap bloemlesing saamgestel. Dit is net dat haar oorlogromans hierdie leser voor 'n kritiese probleem stel. Jaarliks bied die uwe 'n kursus aan oor vrouefiksie en die kodes van hierdie soort romans is welbekend aan my. Ook die feit dat Ferreira bewustelik hierdie soort boek wil skryf.

Maar juis omdat die leser telkens voor die vlot spanningslyn, die goeie karakterisering en storie pluspunte uitdeel, is die vraag: waarom hierdie soetsappige styl? Veral as sy plek-plek afwyk van die kodes van die liefdesverhaal?

En nou kan 'n mens argumenteer dat die karakter hierdie soort sentimentaliteit regverdig. Die probleem is egter dat dit in die verteller en implisiete outeur ingebed is.

Vide p. 81:” Die eenvoudige Boerewoord is teer, dis nie te vergelyk met die onbeholpe liefdesverklarings van oom Petrus se kanidate wat haar vroeër te beurt geval het nie.”
Of: binne die konteks van interessante waarnemings oor die oorlog, verneem ons:”Maar die kind wat terlangerlaas ontkiem het, ken nie tyd nie, net lewe. Gou, baie gou, sal haar liggaam sagter en ronder word.”

Dit is asof 'n mens 'n Jeanette MacDonald en Nelson Eddy-rolprent kyk: al die bestanddele is daar maar vir die moderne mens is die  schmaltz te veel.

'n Mens wil die hoop uitspreek dat iemand van Jeanette Ferreira se talent haar weer wil toespits op ernstige romans. En dat my kritiek in hierdie lig gelees sal word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Jeanette Ferreira - Charlotta (1999)



Jeanette Ferreira. Charlotta. Human & Rousseau, 1999. ISBN 0 7981 3908 0.

Resensent: Joan Hambidge

Ek het Jeanette Ferreira se jongste roman Charlotta tydens 'n slaaplose nag begin lees. Die uitgewerspampflet bemark Jeanette Ferreira as 'n populêre en ernstige skrywer. Maar nou lees ons:”Jeanette Ferreira se twee vorige romans wat tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel, Babette en Catharina, het menslike lotgevalle tydens hierdie oorlog na lesers gebring soos die datums en veldslae van dokumente dit nooit kan doen nie.” Is die soet gevoel dalk die laatnag vyekonfyttoebroodjie wat ek onder my tande proe?

Nee, want ons verneem verder:”Charlotta vertel vanaf die jaar voor die oorlog tot en met die vredesluiting, van bedrog en familietwis, van een vrou wat die oorlog met 'n Rooikruisvlag in haar hande en drif in haar siel tegemoetgaan.”

Die liriese intensiteit en passie is gewis daar. Dit is voorwaar 'n epiese verhaal maar sonder enige ironie of afstand. Deurentyd is die leser bewus van die enorme navorsing wat dit moes gekos het en dwing die historiese navorsing respek af, maar alles is so hooggestem, so histeries, dat die leser (en veral hierdie leser) dat die die vyekonfyt later aan alles begin vaskleef. Tag, dink jy: is dit die verdomde toebroodjie of die roman?

Jeanette Ferreira kon myns insiens 'n goeie roman geskryf het. Nou het sy iets geskep wat tussen 'n goeie populêre roman en ernstige roman deurval. 'n Mens kan nie twee literêre gode dien nie. Populêre skryfsters se ernstige werk word altyd deur 'n middelmoot-aanslag gekortwiek. 'n Mens kry dieselfde gevoel by Eleanor Baker wat dit slegs met Verbeelde werklikheid kon ontglip.

Maar as jy lus is vir iets op die vlak van 'n Gone with the wind is hierdie roman aan te beveel. Vir die leser wat onder meer respek had vir Ferreira se kampusroman en haar poësie, is Charlotta 'n boek vir die laatnag mét vyekonfyt en 'n nat lappie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]