Showing posts with label Michel Houellebecq. Show all posts
Showing posts with label Michel Houellebecq. Show all posts

Monday, November 6, 2023

Resensie | Michel Houellebecq – vernietig (uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw) | Naledi, 2023

Michel Houellebecq – vernietig (uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw). Naledi, 2023. ISBN 978-1-991256-40-9

 

Resensent: Joan Hambidge


I

anéantir (oftewel: vernietig) van Michel Houellebecq is deur die skrywer-filosoof Johann Rossouw in Afrikaans vertaal. Die titel is in kleinletters, soos Houellebecq dit wou hê, en hierdie roman van by die 500 bladsye, is ‘n belangrike baken binne die letterkunde. Hier te lande en buitelands.

 

Die Franse outeur is bekend as dwars, aweregs, buite die sentrum – soos sy gedigte ook bewys – en hy neem vreeslose standpunte in. Sy gedigte is in Afrikaans vertaal deur H.J. Pieterse en Catherine du Toit.

 

Hy was in die middelpunt van ‘n kontroversie tydens die destydse aanvalle op Charlie Hebdo en met die publikasie van Submission (2015) was daar hewige reaksie oor sy kritiek op die Islam. Hy moes selfs beskerm word. Nes by Salman Rushdie word heilige koeie vreesloos afgeslag.

 

Tog is hierdie voorstander van vryheid van spraak, selfs benoem en gekortlys in hierdie jaar se ronde vir die Nobelprys. Met Salman Rushdie ook daar. Is hierdie skrywers blote provocateurs of is hulle visionêres?

 

II

vernietig is ‘n vreemde, dog pakkende roman met politieke kommentaar op die Franse sisteem, tans gekenmerk deur opstande. Dit speel af in 2026 en 2027 met ‘n presidentsverkiesing. Macron luier hier; nes Marine Le Pen en Ėric Zemmour. Daar is selfs ‘n afdruk van die guillotine.

 

Paul Raison is die hoofkarakter en raadgewer vir die Minister van Finansies, ene Bruno Juge. Paul kan ook dokumente onderstebo lees; aanleg handig te pas gekom tydens eksamens.

 

Dit is ‘n tydperk van kuberaanvalle en Houellebecq wat in hierdie bedryf werksaam was, is hier op sy stukke. Vreemde tipe thriller met die seun wat geheime dokumente moet kry by die vader wat in ‘n vegatiewe staat is. The Matrix, die beroemde scifi-film van die Wachowskis 1999, is ‘n belangrike kode. Net soos die afdrukke en sketse in die roman.

 

Siekte, beroerte en die versorging van die vader, verbintenisse tussen famlielede wat vervreem geraak het, word ondersoek. Die susters Cécile (Katoliek), Aurélien (‘n kunstenaar) en Paul wat fisiese en geestelike ellendes beleef, sorg vir die menslike dimensie van hierdie roman. Hy het tongkanker en die impak hiervan op sy liggaam word uitstekend beskryf. Uiteraard is dit simbolies, net soos die naam van die hoofkarakter, Paul Raison. Hy ontduik die werklikheid dikwels in fantasieë; ook om te ontdek dat kuberoorloëwerklik kan raak. Soos die dood van ‘n moeder en broer.

 

Die hoofkarakter lees Sherlock Holmes en Agatha Christie in sy stryd teen die dood. Met dwarsklappe na krimi’s. Die Markies de Sade en Apollinaire is eweneens belangrike intertekste met seksbeskrywings wat die kop laat duisel met Prudence.

 

Die verdoesel van lyding in begrafnisseremonies word gekritiseer en die roman kyk na die impak (en afwagting van die dood) via die Dalai Lamai en vele Oosterse gelowe. Kübler-Ross is hier en David Servan-Schreiber se sielkundige raad vir kankerlyers. Met ‘n verwysing na Charlie Hebdo en die operasie op Philippe Lançon (die skrywer van Le Lambeause operasie op sy kaak.

 

‘n Soeke na raad om te oorleef en selfs Pascal help hom deur sy beproewinge.

 

Die duiwel en numerologie, ‘n ondersoek na manlike toksika is verdere kwessies wat aangespreek word. Tapirs en Hines. 

 

Daar is eweneens verwysings na kos en hoe riviere in Europa verskillende “persoonlikhede” het. En kritiek op inhoudlose en belaglike televisieprogramme. Daar is eweneens kritiek op die gesin en hoe kinders ouers wil vernietig (422). Freud en Ernst Hemingway word gekritiseer. ‘n Raaiskoot dat hierdie ‘n antwoord wil wees op Balzac se Menslike komedie?

 

Só sluit die roman op bladsy 478:

“Ten diepste behoort Franse skrywers nie te huiwer om hulleself beter in te lig nie; baie mense is lief vir hul beroep en put vreugde daaruit om dit aan leke te verduidelik. Dis blote geluk dat ek afsluit op ’n positiewe noot; dit is tyd dat ek nou afsluit.”

 

En die titel verwys na oomblikke wat gebeur (of nie gebeur nie) en mense se lewens as gevolg hiervan verander en soms vernietig word (456).

 

III

In die nawoord bely Johann Rossouw dat hy in ‘n “’n vlaag van besieling” besluit het om weerstand te bied teen die vervlakking van aktualiteitsprogramme by radiosondergrense.

 

En sy vertaling van hierdie belangrike skrywer is uitstekend. Rossouw se roman Sluitstuk (Penguin/Random House) oor die verbintenis met Karel Schoeman, verbeel en werklik, is eweneens een van die beste tekste van die jaar. ‘n Boek oor mentorskap en ‘n pynlike soeke na ‘n simboliese vaderfiguur.

 

Nou het hy Houellebecq se roman vir ons huis toe gebring in heerlike Afrikaans volgens Lawrence Venuti se studie oor vertalings.

 

Is mandjiespeler die regte woord vir daardie Amerikaanse spel? (404) Charcuterie word wel in Frans behou (51) en gespat (vir dronk) pas volkome hier in. Dalk is snoepgoedoutomaat, soos jong lat, bietjie outyds?

 

Andersins vloei die prosa goed in hierdie aserbiese, maar soms ontroerende roman. Hopelik is dit nie Houellebecq se laaste werk nie. Dit is ‘n roman wat jy eenvoudig nie kan neersit nie. Dit ontglip genre-definisies: parodie van ‘n John le Carré met ‘n skeut metafisika?

 

Joan Hambidge is ‘n Fellow en ‘n Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad. Haar roman Stasies het sopas by Protea verskyn.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Sunday, June 24, 2018

Resensie | Michel Houellebecq – Tussen die abjekte en die eteriese. ’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq (2018)

Michel Houellebecq – Tussen die abjekte en die eteriese. ’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq. Vertaal en ingelei deur H.J. Pieterse. Protea Boekhuis, 2018. ISBN 978-1-4853-0796-9 

Resensent: Joan Hambidge

Die goue seun van die Afrikaanse letterkunde, Uys Krige het ons digkuns verryk met sy skitterende vertalings uit Frans, Spaans en Portugees. Sy Spaanse dans (ook met bekende Suid-Amerikanse digters soos Neruda) het in 1991 verskyn en sy Verse vir Lorca (Human &Rousseau, 1987) bly onoortroffe bakens.

Deesdae is daar "google translate" en 'n digkuns-vertaler het selfs bely dat hy nie die oorspronklike taal ken nie, maar ruimskoots gebruik maak van hierdie diens. Op Versindaba verskyn daar gereeld goeie vertalings van Helize van Vuuren wat dan gesprekke ontlok wat wys hoe kompleks hierdie proses is. Verskillende vertalers vertaal immers uniek.

H.J. Pieterse se Rilke vertalings was uitsonderlik en nou waag hy hom aan die werk van die Baudelaire-van-die-supermark: Michel Houellebecq. Catherine du Toit, Franse dosent het in 2012 saam met studente so 'n projek gepubliseer deur Hond uitgewery.

Pieterse het in 2000 laas 'n solo-bundel gepubliseer en vertalings het waarskynlik vir hom 'n kreatiewe uitdaging geword.

Daniel Hugo het onlangs in Vers & kapittel (Kraal uitgewers) tereg uitgewys dat vertaling dikwels komplekser is as wat ons dink. Wat verlore gaan, skryf hy, is versklank, kulturele weerklanke, betekenisassosiasies, meerduidighede, subtiele registerwisselinge en nuutskeppings. Daardie vibrasies, soos hy dit tereg noem, wat net deur die moedertaaloor opgevang kan word (80). Die chora dan in Kristeva se terme.

Die grootste toets is: dans die vertaling in die nuwe taal of is dit gewoon net 'n rendisie van die oorspronklike teks? Ons vind 'n deeglike analise van Houellebecq se komplekse en dwarse lewe by sowel Pieterse as by Du Toit. Daar verskyn ook 'n uitgebreide artikel van Pieterse op Litnet vir verdere speurwerk.

Pieterse skryf dat Houellebecq se gedigte in vier tipes gekategoriseer kan word: vormvaste gedigte of gedigte met vaste rymskemas, vrye verse, prosagedigte en hibridiese vorme (’n kombinasie van vormvaste en vrye of prosaverse) en alle van die gedigte is uiters kompleks weens die diep en ryk filosofies-teologiese en kosmologiese idees wat dit onderlê. 

Pieterse skryf: "Frans verskaf verskeie probleme met betrekking tot onder meer woordorde – die adjektief volg gewoonlik op die naamwoord wat die metrum omvergooi in vertaling – en Houellebecq gebruik dikwels die teenwoordige deelwoord wat argaïes kan oorkom in Afrikaans" (42).

Hierdie vertaler maak dit duidelik - in navolging van Venuti, vertaalteoretikus - dat hy eerder die leser oorsee stuur as om hom terug huis toe te bring.

Met Pieterse se inleiding en teoretisering kan 'n mens nie fout vind nie. Dit is egter wanneer 'n mens die gedigte begin lees dat jy soos by die lees van D.M. Thomas se stokkerige Akmatova-vertalings nie vrede het nie.

Die doel van 'n vertaling is altyd dat die leser, onbekend of bekend met die brontaal, dit moet kan geniet of waardeer in die eie taal. Lesers gaan immers nie sit en brom oor hierdie of daardie woord wat Krige gekies het in die Afrikaans vir die Spaanse een nie; jy wil dit eerstens lees as gedigte.

Houellebecq gebruik dikwels in sy verse die dansbeeld, soos in “Système sexuel mariniquais” met “les ébats amoureux, les danses en paréo” met sy siening dat ons gevangenes is van ons eie deursigtigheid. Kortom, agter sy gatvol parlando-aanslag sit ‘n sterk vormbewustheid wat moeilik oordraagbaar is na Afrikaans. Eweneens weens die stiltes en stamelinge en die binnemondse dreunbrom – soos Du Toit dit perfek opsom in haar nawoord, 207). [1]

Kom ons kyk na 'n paar gedigte om my besware te illustreer:

Onversoend

My pa was ’n eenselwige, barbaarse doos;
Dronk van verydeling, alleen voor sy TV,
Hy het flou, erg bisarre planne herkou,
En hom dan vreeslik verlekker as dit skeefgeloop het.

Die slotreël van die eerste strofe sou vlotter soos volg geklink het:

En hom dan vreeslik verlekker as dit skeefloop.

Die digkuns werk immers met die iteratief-duratief en die verlede tyd is hier gewoon lomp, nes die gebruik van die dubbele negatief:

Ek het nie meer die moed om myself in die spieël te sien nie.
Soms lag ek ’n bietjie, ek trek gesigte;
(87)

Die vyand van die digkuns (die wat) word gebruik soos “die hart wat bons” (89) kon goedskiks "bonsende hart" geword het.

Iets van Houellebecq se sjarmante ryme gaan ook verlore nes sy unieke praataanslag.

Enkele verse kom wel die mas op as vertalings, maar vir die leser wat die gedigte in Frans kan lees, gaan daar werklik baie verlore. Waarskynlik weens die struktuurverskille tussen Frans en Afrikaans met eersgenoemde taal as kompakter.

Byvoorbeeld:

Exister, percevoir word: om te bestaan, om waar te neem (281).

Fantôme de transcendance word fantoom van transendensie. Dalk fantoom van die transendente / metafisika? (261).

Dans mes jeunes années j’avais un dictaphone
Et j’aimais répéter d’une voix ironique
Des poèmes touchants, sensibles et narcissiques
Dans le coeur rassurant de ses deux microphones.

Dit word so vertaal:

In my jong dae het ek ’n diktafoon gehad
En ek het daarvan gehou om met ’n ironiese stem
Ontroerende, sensitiewe en narsissistiese gedigte
In die gerusstellende hart van sy twee mikrofone te herhaal. (255)

Die ryme gaan verlore en die vertaling is gewoon letterlik.

Iets van Houellebecq se sjarmante ryme gaan ook verlore nes sy unieke praataanslag.

Enkele verse kom wel die mas op as vertalings, maar vir die leser wat die gedigte in Frans kan lees, gaan daar werklik baie verlore. Waarskynlik weens die struktuurverskille tussen Frans en Afrikaans met eersgenoemde taal as kompakter as laasgenoemde.

Die bundel weifel nie tussen die abjekte en die eteriese nie. Dit hang iewers tussen die letterlike en die amper-poëtiese.

Van die blasende bulagtige figuur op die Du Toit-bloemlesing, ‘n kunswerk deur Anton Kannemeyer, is hier nie veel van sprake nie. In die woorde van Roy Campbell, vriend van Uys Krige: “but where's the bloody horse?”

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad.

Bronne:

Oorspronklike Franse tekste:
La poursuite du bonheur © Éditions Flammarion, Paris 1997
Le sens du combat © Éditions Flammarion, Paris 1996
Renaissance © Éditions Flammarion, Paris 1999
Configuration du dernier rivage © Michel Houellebecq & Éditions Flammarion, Paris 2013

[1]. In Du Toit se eie woorde: “Franse prosodie word nie deur heffings en dalings bepaal nie omdat daar geen noemenswaardige aksent op lettergrepe geplaas word nie. In Frans gaan dit oor die aantal lettergrepe en die manier waarop die lettergrepe getel word is ’n redelike subtiele oefening. Die klassieke versreël in Frans is die twaalflettergrepige Aleksandryn; ’n wonderlike soepele reël waarvan die ruspunt klassiek in die middel val (6 || 6), maar vanaf die negentiende eeu willekeurig verskuif is na 3 | 3 || 3 | 3 of 4 || 4 || 4 of selfs ander ongelyke dele. Rym in Frans is ook prettig. Nie alleen moet manlike en vroulike rym volgens die klassieke reëls afwissel nie, daar moet ook gelet word op ryk, voldoende en arm rym. Houellebecq gaan kreatief met die reëls om en die leser moet kophou by die tel van die sillabes om die metrum te identifiseer en die ruspunt korrek te plaas. En dan is die gedig nog steeds in Frans.
      Om te vertaal is in die eerste plek om keuses uit te oefen en ons het wel diep en deeglik besin oor die mate waarin ons in die vertalings aan die oorspronklike vorm en rym wil uiting gee. ’n Eerste vraag was: indien ’n mens Houellebecq se gebruik van die klassieke Franse Aleksandryn in Afrikaans wil weergee, sal ’n mens dan van ’n “klassieke” Afrikaanse vorm soos die jambiese vyfvoetige versreël gebruik maak? Of die Aleksandryn annekseer? Met die plasing van die ruspunt op dieselfde plek? En hoe hanteer ’n mens manlike en vroulike rym? (210)”.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Wednesday, March 6, 2013

Michel Houellebecq - Tagtig gedigte en twee essays (2012)



Michel Houellebecq. Tagtig gedigte en twee essays (Vert. deur Catherine du Toit e.a.). Hond Uitgewers, 2012. ISBN 9781874969181.

Resensent: Joan Hambidge

Ons is gevangenes van ons eie deursigtigheid. – Michel Houellebecq


I.  Die digter as lewende selfmoordenaar

Tagtig gedigte en twee essays, so heet hierdie boek, vertaal deur Catherine du Toit en medewerkers. Houellebecq (Uitspraak: Houellebecq = [wElbek]) is waarskynlik vir meeste Suid-Afrikaanse lesers eerder bekend as romanskrywer as digter. In Frankryk het hy die gesogte Prix de Goncourt in 2010 gewen en geniet hy geweldige kritiese aandag, dikwels weens sy omstrede uitlatings in die pers. Hierom het hy waarskynlik ʼn tyd lank buite die grense van sy geboorteland vertoef. Dit is egter so dat die Franse glo ʼn skrywer moet eers goed dood wees voordat gekanoniseerde studies geskryf sal word. Dalk ʼn mite, maar die werklik deurtastende studies oor Camus en Jean Genet kom nou eers na vore. Tog is daar al ʼn uitgebreide kongres in Frankryk oor Houellebecq gehou en die skrywer geniet veral onder jong mense ʼn geweldige aanhang.

Ek onthou toe ek die eerste keer sy gedigte gelees het. Onmiddellik was ek aangetrokke tot die sober, aweregse blik. Die aanspraak op my psige het sy lê gekry in Lot se vrou met begeleidings van hierdie digter. Die gedigte is boeiend – so onthou ek met die eerste kennismaking juis vanweë die dwars, siniese blik. Die Eiffeltoring word onttroon en ʼn mindere toring neem sy plek in. Die Baudelaire van die supermark is hierdie digter al genoem. Simbolisme-op-sy-kop-gekeer. Défaitisme en Nihilisme. Maar om te dekonstrueer, so weet ons uit Derrida, moet jy wesenlik die impak van die simbool verstaan. Die digter is teen “le libéralisme” en ons lees van sy ongelukkige jeug, sy studies in die landbou en aan ʼn filmskool en sy besoeke aan sielkundige inrigtings.

“Daar is dus ’n verskeidenheid ruimtes in Houellebecq se ontwikkelingsjare: die tropiese eiland, die helse kosskool, die gebroke en ongelukkige kinderjare, die natuur en ’n volwasse lewe verdeel tussen ’n enkelingbestaan en ’n knooppunt van kommunikasie en populêre vergestalting. Die tyd was ryp vir ’n eietydse weergawe van die Baudelairiaanse drama van spleen en ideal,” aldus die voorwoord. Die 1968-opstande sien hy anders: hy onthou met plesier hoe die stakings die sosiale masjien aan bande gelê het in daardie tyd, wat hy sien as ʼn verergering van die liberalisme.

ʼn Bekende uitspraak is: “Letterkunde aanvaar alles, pas by alles aan, vroetel in die vuilgoed, lek die wonde van ellende. ’n Paradoksale poësie van angs en beklemming kon dus verrys omring deur hipermarkte en kantoorgeboue (13)”.

Die noue verwantskap met Schopenhauer en die Situasioniste (Guy Debord en Raoul Vaneigem) word behandel. Die strydlustige, provokatiewe essay “Om te bly lewe” (“Rester vivant”) word betrek. Enige leser wat vir die eerste keer met hierdie digter kennis maak, sal kan getuig van klap op die derdeoog en as toegif, een in die maag. Hy keer letterlik alles op sy kop.

“Om te leer om ’n digter te word is om die lewe te ontleer,” is so ʼn onvergéétlike stelling. Vermy selfmoord, want ʼn dooie digter dig nie meer nie, troef hy sy leser nogmaals met sy veglustigheid. En:” bly lewe.” En: “Struktuur is die enigste manier om aan selfmoord te ontsnap.” En hier bedoel hy digterlike struktuur. Die digter is die lewende selfmoordenaar, tier hy voort in sy woedende siening van die lewe wat net pyn en lyding inhou met die liefde wat alle probleme kan oplos, maar nie gevind kan word nie. By elke stelling waarin hy skel op sy ellendige, verworde jeug, staan ʼn mens met bewondering en ontsteltenis stil. Hy is ʼn verloorder in die sosiale hipermark en sy redakteur Sorin het hom tereg beskryf as die “Baudelaire van die supermark”; ook in sy gebruik van die tradisionele prosodie, en veral met betrekking tot die gebruik van die Aleksandryn. Hierdie nuttige inligting word deur Gavin Bowd verskaf. Hy is die vertaler van die skrywer se romans en doseer Frans aan die Universiteit van St. Andrews.(Ryk Hattingh was hier die kundige vertaler.) Om te bly lewe: ’n Handleiding is die digter aan die woord. Leser, my broer, my suster, my ewebeeld, wees gewaarsku! Maak jou sitplekgordel vas, want hierdie man sal jou kop laat spin.

So begin hy, hierdie hardekwas, hierdie ou turksvy met die soetste hart:

“Die wêreld is lyding in aksie. Dit word voortgebring uit ’n knoop van lyding. Elke bestaan is uitsetting en vergruising. Alles ly, tot dit begin bestaan. Die niks bewe van pyn tot dit tot wording kom: in ’n jammerlike paroksisme” (19).

En:

“Wesens varieer en word meer kompleks sonder om iets van hulle oorspronklike aard te verloor. Wanneer hulle ’n sekere vlak van bewussyn bereik, word ’n kreet geproduseer. Daaruit kom poësie voort. So ook geartikuleerde taal” (19).

Nou wil ek die leser aanspoor om hierdie stuk nihilisme in sy volledigheid te ervaar en nie in ʼn geredigeerde of verkorte weergawe nie.

Wag, miskien nog een:

“Ontwikkel ’n diep wrewel teenoor die lewe. Hierdie wrewel is nodig om enige ware kuns te skep” (21). Ouch.

En dan gaan hy verder in Om te artikuleer ’n Krag word beweging wanneer dit ’n aksie word en in tyd ontwikkel.

“As jy nie daarin kan slaag om jou lyding in ’n gedefinieerde struktuur te artikuleer nie, is jy gefok. Pyn gaan jou rou opvreet, van die binnekant af, nog voor jy tyd gehad het om enigiets te skryf. Struktuur is die enigste manier om aan selfmoord te ontsnap. En selfmoord is nie ’n oplossing nie. Stel jou voor as Baudelaire se selfmoordpoging op drie-en-twintig suksesvol was.

Glo in struktuur. Glo ook in oeroue metriese ritmes. Versbou is ’n kragtige stuk gereedskap in die bevryding van die binnelewe.”(22).

En die digter is ʼn heilige parasiet, leer hy ons in ʼn verdere essay. “Om te oorleef” (25). In “om te slaan waar dit tel,” artikuleer hy dieselfde siening oor die verhouding tussen poësie en filosofie as Opperman in sy raad vir jong digters:

 “Hierdie ooreenstemming van die doel van beide filosofie en poësie is die oorsprong van die geheime sameswering wat hulle verbind. Dit manifesteer nie hoofsaaklik deur die skryf van filosofiese gedigte nie; poësie moet die werklikheid op sy eie manier ontdek, suiwer intuïtief, sonder om deur die filter van ’n intellektuele rekonstruksie van die wêreld te beweeg. En nog minder deur filosofie wat digterlik uitgedruk word want dit is dikwels net ’n miserabele oëverblindery. Maar ’n nuwe filosofie sal altyd onder digters sy ernstigste lesers vind, die mees oplettende, die mees vrugbare. Op dieselfde manier sal slegs sekere filosowe daartoe in staat wees om die verskuilde waarhede in poësie raak te sien, te ontbloot en te gebruik. In poësie, net soveel as in direkte waarneming – en baie meer as in vorige filosofieë – sal hulle die stof vind vir nuwe uitbeeldings van die wêreld. Respekteer filosowe, moet hulle nie na-aap nie; jou pad is ongelukkig elders” (26).

Die digter se werk is om die wond in sy samelewing te vind en hard daarop te druk, aldus Monsieur H.
 

II. Die aandeel van Hond en ander subversiewes:

“Letterkunde aanvaar alles, pas by alles aan, vroetel in die vuilgoed, lek die wonde van ellende. ’n Paradoksale poësie van angs en beklemming kon dus verrys, omring deur hipermarkte en kantoorgeboue. Hierdie poësie is nie vrolik nie; dit kan nie wees nie” (43).

Dit is ʼn versameling van vertaalde werk, uitgegee deur Hond met Ryk Hattingh wat Gavin Bowd se inleiding vertaal het. Reeds die voorblad van Anton Kannemeyer wys op die subversiewe aard van die digter se werk. Ons sien ook die medewerking van Ryk Hattingh hier as vertaler en redigeerder. Twee alternatiewe stemme binne die Afrikaanse letterkunde. Rook sal uit jou ore trek!

 ʼn Sentrale vers in hierdie bundel klink so:

Die dag klim en groei, val weer oor die stad
Ons het die nag deurleef sonder verlossing
Ek hoor die busse en die subtiele gedruis
Van sosiale verkeer. Word deel van die teenwoordigheid.

Vandag sal gebeur. Die onsigbare oppervlak
Omgrens in die lug ons wesens bestaande uit swaarkry
Vorm en verhard teen ’n verskriklike spoed;
Die liggaam, die liggaam is nogtans ’n behorenheid.

Ons het vermoeienis en begeertes deurreis
Sonder om weer die smaak van ons kinderdrome te vind
Daar steek nie meer veel agter ons glimlagte nie,
Ons is gevangenes van ons eie deursigtigheid (47).


III. Die vertalings:

Daar is al vele studies geskryf oor die transportasie van ʼn gedig van een taal na ʼn ander. Vertalings is verraaiers. Dis ook, soos onder andere Uys Krige ons geleer het, om ʼn ander man se bruid deur ʼn sluier te soen. Dit is ook (taal)moord en in ʼn belangrike studie skryf Richard Higgs oor al die aspekte van vertaling na aanleiding van Anna Akhmatova se “The last toast” asof dit ʼn moordsaak is wat ʼn speurder moet oplos. 

Wanneer werk ʼn vertaling wel? As dit reg klink in die nuwe taal. En wanneer die vertaler die vorm eerbiedig van die oorspronklike gedig. Dit is bepaald ʼn moeilike taak en een wat Robert Frost sinies beskryf het dat dit wat verlore gaan tussen die oorspronklike vers en die vertaling die werklike gedig is. 

Die leser kan beweeg van die oorspronklike teks na die vertaling. Om ʼn gedig in vertaling te lees, is soos om na ʼn film in onbekende te kyk met onderskrifte. Jy hoor en lees tegelykertyd. Dikwels kan ʼn mens selfs by tweede kykslag ʼn ander taal se onderskrifte kies om die vervreemding te versterk. Jy fokus elke keer op iets anders. Met ʼn film dikwels op die beelde as die taal onbekend is.

Ek het hierdie vertalings op reis geneem na Venezia en elke dag na ʼn paar verse gekyk. Dit hardop voor gelees.

Die kraak

In die onbeweeglikheid, die ontasbare stilte,
Is ek daar. Is ek alleen. As iemand aan my stamp, beweeg ek.
Ek probeer om iets bloederig en rooi te beskerm,
Die wêreld is ’n bepaalde, onversetlike chaos.

Ek is omring deur mense, ek voel dié wat asemhaal
En hul meganiese treë kruis mekaar op die maasdraad.
Ek het nietemin weer smart en woede gevoel;
Baie na aan my, teenaan my, ’n blinde sug.

Ek oorleef alreeds ’n lang tyd. Dis snaaks.
Ek onthou só goed die tyd van hoop
Net so onthou ek ook my vroeë kinderjare,
Maar ek dink hierdie rol is nou my laaste.

Jy weet ek het dit vanaf die eerste sekonde begryp,
Dit was effens koud en ek het bloed gesweet
Die brug was stukkend, dit was sewe-uur
Die kraak was daar, stilswyend en diep (141).

Hoe praat hierdie vers nie met my in Hotel Antigo Trovatore nie, ʼn hanetree van die San Marco-plein! Dit inspireer my selfs om ʼn gedig te skryf [1].

Reis is ʼn ruimte van eensaamheid en waarskynlik praat hierdie verse hard en duidelik met my tans.

Berusting

Stoksielalleen in die dagbreek – ’n helder eensaamheid
’n Mantel van mis daal neer van die rivier
Die hartseer het uiteindelik die haat verdryf,
Ek is reeds nie meer deel van die wêreld van dinge nie (143)

was so:

Apaisement

Tout seul au point du jour – solitude sereine
Un manteau de brouillard descend de la rivière
La tristesse a fini par dissiper la haine,
Je ne suis déjà plus du monde de la matière.

En nou kom die vertalers nie heeltemal die mas op met die verbluffende ryme en halfryme nie. My Eksteen-sinoniemwoordeboek lê tuis en ʼn wonder watter sinonieme daar vir

“helder eensaamheid” sou bestaan? Hoe sou die digter Daniel Hugo hierop gereageer het? En die opposisie tussen “tristesse” en “haine”?

Tout seul au point du jour – infinie solitude
La rivière charrie des monceaux de cadavres
Je plane à la recherche de nouvelles latitudes,
Un caboteur poussif remonte vers Le Havre.


Stoksielalleen in die dagbreek – ’n oneindige eensaamheid
Die rivier karwei stapels kadawers
Ek sweef op soek na nuwe koördinate,
’n Hygende kusvaarder kry weer koers na Le Havre.

Die metriese patrone is eweneens nie eerbiedig nie. Vertalende digters soos Johann de Lange en Charl JF Cilliers vertaal net verse as hulle die vorm perfek kan naboots. In die nawoord skryf Catherine du Toit insigryk oor die prosodiese probleme en hoe ingewikkeld dit is om die Aleksandryn na Afrikaans te transporteer en moeilike kwessies met betrekking tot die metriese patrone.

In Du Toit se eie woorde:

“Franse prosodie word nie deur heffings en dalings bepaal nie omdat daar geen noemenswaardige aksent op lettergrepe geplaas word nie. In Frans gaan dit oor die aantal lettergrepe en die manier waarop die lettergrepe getel word is ’n redelike subtiele oefening. Die klassieke versreël in Frans is die twaalflettergrepige Aleksandryn; ’n wonderlike soepele reël waarvan die ruspunt klassiek in die middel val (6 || 6), maar vanaf die negentiende eeu willekeurig verskuif is na 3 | 3 || 3 | 3 of 4 || 4 || 4 of selfs ander ongelyke dele. Rym in Frans is ook prettig. Nie alleen moet manlike en vroulike rym volgens die klassieke reëls afwissel nie, daar moet ook gelet word op ryk, voldoende en arm rym. Houellebecq gaan kreatief met die reëls om en die leser moet kophou by die tel van die sillabes om die metrum te identifiseer en die ruspunt korrek te plaas. En dan is die gedig nog steeds in Frans.

Om te vertaal is in die eerste plek om keuses uit te oefen en ons het wel diep en deeglik besin oor die mate waarin ons in die vertalings aan die oorspronklike vorm en rym wil uiting gee. ’n Eerste vraag was: indien ’n mens Houellebecq se gebruik van die klassieke Franse Aleksandryn in Afrikaans wil weergee, sal ’n mens dan van ’n “klassieke” Afrikaanse vorm soos die jambiese vyfvoetige versreël gebruik maak? Of die Aleksandryn annekseer? Met die plasing van die ruspunt op dieselfde plek? En hoe hanteer ’n mens manlike en vroulike rym? (210)”.

 Of hierdie kwessies werklik sorgvuldig opgelos is, sal daar kritiese onsekerheid heers. Daar is ook by die outeur aangeklop vir raad met die vertalings om die presiese betekenis uit te vis.


IV. Lees dit:

Dit is ʼn versameling wat elke poësie-liefhebber beslis moet lees. Dis ʼn besliste voorgeskrewe werk vir studente in kreatiewe skryfwerk en ʼn moet vir jong digters wat meer aandag gee aan hul openbare optredes as die dwingende eise van die digkuns.

Wat beslis opval, is die toegewydheid waarmee jong mense meegedoen het aan hierdie vertalingsprojek onder die kundige leiding van Catherine du Toit. Ons sien ook uit na H.J. Pieterse se vertalings wat in die pyplyn is.


Bibliografie:

Higgs, Richard. 2012. Translation of poetry as homicide, with reference to Anna Akhmatova’s ‘Last Toast’. Dissertasie Kreatiewe Skryfwerk, UK.


Eindnote:

 1. Dood in Venesië
What fresh hell is this?
Dorothy Parker

In ʼn Venesiaanse stegie
loop ek my vas in haar:
lank terug, ʼn ewebeeld
van my,
in hierdie stad
van vergissing
en begoëling.

Koop ʼn masker toe
om my
ontreddering
te maskeer.

ʼn Masker
word ʼn gesig,
soos spotspraak
ʼn gedig verweer.

Hoe broos
hierdie stil herwinning.
Bykans twee dekades later,
ja, teen dusketyd,
haal ek my masker af
en goël met haar woorde:
“die liefde se verdwaaltyd
bly my steeds agtervolg.”

Venezia

9/12/2012

(Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur die finansiële steun van die Nasionale Kunsteraad van Suid-Afrika, die Franse Ambassade in Suid-Afrika en die Institut Français.)

Joan Hambidge
Desember 2012