Showing posts with label Cas Vos. Show all posts
Showing posts with label Cas Vos. Show all posts

Friday, September 1, 2017

Polemies | Van den Vos der Caskenades

I
 
Op Saterdagaand lees ek op Versindaba dat Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (Lux Verbi) deur Cas Vos saamgestel is. Boonop word my van as Hambridge aangegee en die webpamflet weet te vertelle dat daar ook nuwe verse spesiaal vir die bloemlesing geskryf is.

Maar behalwe nou vir die rare naamvergissing (wat die uitgewer Lux Verbi wel regstel op die advertensiebiljet na 'n foonoproep), is die eintlike kwessie dat ek vir die eerste keer van die bloemlesing te hore kom op die Versindaba webruimte. In al die dertig jaar plus wat ek by NB publiseer, was daar nog altyd die hoflikheidsgebaar om toestemming van skrywers te vra. (Skrywerskontrakte bepaal dat die uitgewer tekste in ander publikasies mag oordruk sonder toestemming van die skrywers, en Lux Verbi is deel van NB.)

Vir Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte met Fanie Olivier as samesteller, het digters ‘n brief ontvang. Vir skoolboeke altyd ‘n e-pos. Wanneer kleiner uitgewers my nader, veral vir skoolboeke, gee ek graag toestemming. Sonder betaling.

Soos my vriend Werner altoos Robert Graves aanhaal: “There's no money in poetry, but there's no poetry in money, either.”

Lux Verbi se terugkrabbeling dat digters betaal sal word, is nie my hoofbeswaar nie.

'n Digter bestuur sy of haar werk. Jy het - volgens my - die reg om te weet dat jou gedigte "gebruik" gaan word. 'n Gedig binne bundelverband het 'n ander betekenis as wanneer dit opgeneem word in 'n Lux Verbi-bloemlesing.

Die titel was glo eers Die mooiste Afrikaanse geestelike gedigte wat waarskynlik minder problematies is as die huidige titel, Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte. En daar is, soos ons weet, 'n groot verskil tussen Christelik en geestelik.

Die nuwe titel maak opnames van M.M. Walters, Wilma Stockenström en Daniel Hugo problematies. Laasgenoemde bely op Versindaba dat hy ja gesê het vir opname onder die vroeër titel met ‘n geestelike inslag, maar nie Christelik nie. Hy skryf:
Ek het gedigte tot hierdie bloemlesing bygedra toe die werkstitel nog was: “Die mooiste Geestelike gedigte in Afrikaans”. By publikasie blyk dit nou dat die “Geestelik” in “Christelik” verander is. Ek voel mislei deur die samesteller en uitgewer, aangesien ek myself beslis nie as ‘n Christelike digter beskou nie. (Nuwe publikasie/ Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte Bloemlesing. Besoek 24 Augustus 2017). 
II
Wat sake verder kompliseer, is wanneer 'n mens Cas Vos se Voorwoord lees. (En nota bene, N.P. van Wyk Louw word in die register onder Van Wyk Louw geplaas en nie onder Louw nie. Maar dit net tersyde.) Vos verwys na Orhan Pamuk se bekende “My father’s suitcase” (2007), sy Nobellesing, om sy keuse te regverdig as "Landskap van die reis". Pamuk se uiters komplekse voordrag verloor hier resonansie. (Orhan Pamuk - Nobel Lecture/ My Father´s Suitcase. Besoek 24 Augustus 2017).

Vos se uitasem-voorwoord is so aanvegbaar dat 'n mens nie weet waar om te begin nie. Hoe enige kundige leser Wilma Stockenström se “Die ballade van die bitterarm dood” en “So ook maar maaksel” as Christelik kan lees, is verbysterend. M.M. Walters, I kid you not, staan ook hier!

D.J. Opperman se “Paddas” is eweneens opgeneem:  Ek haal Vos daaroor aan:
D.J. Opperman se voortreflike gedig 'Paddas' handel oor die plae in Egipte: meer spesifiek, oor die stortvloed reën wat die 'tortels van die modder' oral laat toeslaan, van sloot tot kombuis. Hulle staan in God se diens om sy volk te bevry. Daarom roep hulle 'op Hom die groot hosannas'.
Olga Kirsch se opname word verdedig, o.a., omdat die Ou Testament ook ‘n boek vir en van die Christen is (17). Hoe klop dit egter met die titel van die bloemlesing?

En skryf hy verder: al is al die gedigte nie streng gesproke Christelik nie, is dit weldeeglik versoenbaar met Christelike oortuigings.

Die feit dat Pasolini ‘n film oor Jesus gemaak het, maak nog lank nie van hom ’n Christen nie,

Ons Boeddhis Breytenbach staan ook in die inleiding (al is daar nie 'n gedig opgeneem nie), soos ook Ernst van Heerden se siektevers “Aan die verhuisingsmanne”.

Die finale gevoel wat hierdie bundel laat, is dat die samesteller enigiets in hierdie groot soetkys sal insmyt. Van 'n tandeborsel tot sunlight-seep. Ou klere tot nuwes. Lina Spies en Loftus Marais.

“Op ons reis is ons nie alleen nie. God is met ons op pad na die nuwe Jerusalem”, skryf hy.

Gaan plaas hierdie bloemlesing neffens C.J.M. Nienaber en M. Nienaber-Luitingh se Die braambos brand (1987) en F.I. J. van Rensburg se Jubilate! Loofgedigte in Afrikaans (1995) en dan wonder ‘n mens oor die doelstelling van hierdie antologie.

Is daar werklik kundig gelees en nagedink?

Bernard Odendaal en Marlies Taljard het van raad bedien. Het hulle die finale manuskrip gesien? En die nota van die uitgewer dat hulle probeer het om almal op te spoor, maar dit was nie moontlik nie? In die dae van e-pos, Facebook en telefone?

Ek is tans besig met 'n bloemlesing Vreemde liefde oor lesbiese verse en ek dink ek gaan een van Cas Vos se verse opneem. Uiteraard sonder toestemming. So laat ons nie jakkalsdraaie gooi of vosserig raak nie, 'n Christelike gedig is nie net sommer 'n gedig wat geloof aanspreek of dit kritiseer nie.

En om te kumbaya met komplimente soos "voortreflik" help gewis nie om 'n slordige, oorhaastige keuse te regverdig nie.


Marga Stoffer, NB se uitgewersbestuurder, reageer namens Lux Verbi:

N.a.v. die kwessie oor toestemming: Sommige digters is genader om toestemming te verleen, maar ons het nie vir almal toestemming gevra nie. Soos Joan noem, is dit nie ’n vereiste nie maar ’n hoflikheidsgebaar om dit te doen in die gevalle waar NB (waarvan Lux Verbi deel is) die regte bestuur.

Ek vra dus om verskoning dat ons nie vir almal toestemming gevra het nie. En ja, ten spyte van e-pos, Facebook en selfone was daar inderdaad enkele digters en/of digters se erfgename wat ons nie kon bereik nie of van wie ons geen reaksie ontvang het nie.

Ek is reeds in Rapport aangehaal oor die titelverandering en herhaal: Die werkstitel was aanvanklik Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte, ons het ’n ruk lank met die werkstitel Die mooiste geestelike gedigte in Afrikaans gewerk, en toe het ons teruggegaan na die oorspronklike titel.

Lux Verbi (met sy lang en trotse tradisie as Christelike uitgewer) het beslis nooit beplan om enigiemand met ’n slapriem te vang om teen hulle sin in ’n Christelike werk opgeneem te word nie.

Dit is, dink ek, relevant om op rekord te stel dat twee letterkundiges die finale samestelling noukeurig beoordeel het. Hulle het ook verdere gedigte voorgestel en dié gedigte is toe inderdaad ook in die bloemlesing opgeneem. 

© Joan Hambidge


 (Hierdie rubriek word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Sunday, February 12, 2017

Cas Vos – In ’n oomblik (2017)



Cas Vos – In ’n oomblik. Naledi, 2017. ISBN 9780928316445

Resensent: Joan Hambidge

Die belangrikste bydrae van hierdie bundel van Cas Vos wat heet In ’n oomblik is die herdigtings van Konstantinos Kavafis en Georgos Seferis se gedigte.

Verskeie Afrikaanse digters het al hierdie digters na Afrikaans getransporteer. Eersgenoemde deur Uys Krige, ekself, Johann de Lange; laasgenoemde deur Dian Joubert.

Vos het die voorsprong dat hy met die oorspronklike Grieks kan werk. Ons dink hier aan onder meer Fragmente uit die Ilias.

Steeds moet ’n gedig egter in die nuwe taal as gedig oortuig. Dit gebeur oortuigend in “Die siele van ou mans”.

Die bundel bevat belangrike endnote oor die digters wat vertaal is en Auden se bekende uitspraak oor die probleme rondom vertaling.

Volgens Auden kan interne alliterasie, vergelykings en metafore behou word; liriese komponente, homofoniese assosiasies, en ritme staan aan die verloorkant.

Vos se kennis van Grieks kom nuttig te pas en die vertalings van hierdie twee digters is ’n bydrae tot die vertaalkuns wat veral deur M.M. Walters geboekstaaf is as redakteur van puik bloemlesings. (Uys Krige se Spaanse dans bly die beste.)

Wanneer Vos egter uit die Engels vertaal, is dit minder imposant: onder meer Gregory Orr se “Na ’n dood”. ’n Mens wonder ook waarom Afrikaanse digters probeer om klassieke Engelse verse te vertaal. Ons verstaan almal tog Engels.

Dit is egter wanneer ’n mens oor Cas Vos se eie belewenisse nadink, dat die ou hebbelikhede weer hier aandoen: sentimentaliteit, lawwe beelde, gedigte wat tegnies en dus nie vormlik afgerond is nie, rymdwang, verkapte prosa, woordoordaad, die verhewe aanslag, ensomeer.
Siekte en ellende waarborg helaas nie ’n goeie gedig nie.

Daar word onder andere oor siekte (diabetes) geskryf: Nou het ons in Afrikaans E.W.S. Hammond se Doodsteek van ’n diabeet; ons het Ernst van Heerden se operasie-verse; ons het Opperman se inbeweeg in die onbewuste in die onoortroffe Komas uit ’n bamboesstok. Onlangs was daar Marlise Joubert se Splintervlerk.

Daar is T.T. Cloete en Sheila Cussons wat uit verwonding en pyn magistraal bly dig het.

Maar siekte en ellende waarborg helaas nie ’n goeie gedig nie. Opperman was onder meer gaande oor Hammond se spaarse, woordsuinige verse.

Die siekteverse hier by Vos lewer die volgende op:

Diabeet

Al is ek deurtrek van suiker,
bly ek die Here se stroopsoet seun. (38)

of

Gebed vir ’n ortopeed
Trap jy net versigtig op jou voet,
drink jou antibiotika en wees soet. (52)

Die lykdig vir Bertie du Plessis, “Aan Helderberg se voet”, is gewoon potsierlik. Is die digter ernstig wanneer hy skryf:

Ons het Sondagaande
by die Doll’s House
aan hamburgers gesmul.
Die lewe het ons op die hande gedra
en ons woorde land en sand gestrooi.
oor ons nagvrese en trillende verwagtings (17).

Daar is verse oor die liefde. Picasso en Muhammad Ali. Goethe en Vincent van Gogh. Lykdigte en beeldgedigte dus.

Diskoerse, dispute en dialoë. Paul Celan word helaas verminder (40). Daar is opdragte vir vriende, geliefdes en ’n ortopeed.

In die publisiteitsnota verneem ons: “Die intertekstuele gesprek met Homeros en Dante as reismotief om ’n langdurige ongeluk en operasie poëties te verwoord, is nuut in die Afrikaanse digkuns.”

Die klassieke toespelings dalk; digterlik faal dit.

“Ek is, daarom taal ek,” heet ’n afdeling. Die toespeling op “cogito ergo sum” is fasiel.

En die lofuiting vir hierdie bundel wat verwys na sonderlinge poëtiese vondste, oortuig nie.

Die kritiek het nou al by herhaling sekere mankemente uitgewys en ’n mens wil nie hamer op dieselfde besware nie.

Dit is net jammer dat iemand met soveel kennis van die klassieke, verval in ’n bundel wat nie deurgekomponeer is nie.

Die toespelings op groot digters soos Wislawa Szymborska, Anne Carson, Breytenbach en Mallarmé vra vir ’n sterker ars poëtiese aanslag.

Hierom in “Om ’n gedig te maak” (8) word “gereedslaap” wat inspeel op gereedskap ’n ironiese (en onbedoelde) ondermyning van die vers.

Motto’s is nie net aanhangsels of oorbelle nie. Dit moet ’n gedig voortstu.

Daar is net te veel verspeelde kanse en gedigte wat nie verby ’n eerste weergawe kom nie.

Hierdie gedigte is lekkende siwwe soos die digter iewers oor sy niere skryf.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)