Showing posts with label Philip Roth. Show all posts
Showing posts with label Philip Roth. Show all posts

Wednesday, May 23, 2018

Huldeblyk | Philip Roth 1933 - 2018

Philip Roth in 2013 © Taylor Hill

I

Philip Roth is 'n uitsonderlike romanskrywer. Sy boeke, vanaf Portnoy's Complaint (met die berugte lewer-toneel) verskyn in 1969 tot sy latere dik romans soos The Human Stain (2000), beklee ereplekke in my huis. Hulle staan in my kombuis.

Dit moet vermeld word hier dat dit die grootste skande bly dat hy nooit bekroon is met die Nobelprys vir letterkunde nie. In die briefwisseling met Saul Bellow, sy Joodse kameraad en gespreksgenoot, kry 'n mens 'n blik op hierdie komplekse man. Claire Bloom, die aktrise, het haar voormalige eggenoot in Leaving a Doll's House (1996) beskuldig van verbale aanranding en die misbruik van haar familie in sy romans. In I Married a Communist (1998) kap hy terug. 

Vreesloos het hy deur die jare die Amerikaanse kondisie oopgeskryf: A Human stain (hoe 'n onskuldige uitspraak as rassisties gesien word aan 'n universiteit, met gevolge vir die dosent wat die woord “spooks” gebruik oor afwesige studente) of The Plot against America in 2004 (wat 'n alternatiewe geskiedenis weergee met Charles Lindbergh wat Roosevelt verslaan in die verkiesing van 1940).

Hy skep dan ook alter ego's – soos Zuckerman – waarin hy na die skryfproses kyk en dikwels afstandelik en krities is oor die toekoms van die roman.

American Pastoral (1997) bly een van my gusteling-romans, saam met The Great AmericanNovel (1973) en wanneer 'n mens Roth lees en sy enorme bydrae tot die romankuns, besef jy watter stem nou stil is. Agt van sy romans is verfilm - die sub-teks gaan egter dikwels verlore, juis omdat sy tekste so inspeel op dit wat nie gesê word nie.

Goodbye, Columbus; Portnoy's Complaint; The Human Stain; The Dying Animal, adapted as Elegy; The Humbling; Indignation enAmerican Pastoral is almal verfilm, en The Ghost Writer is verwerk in ‘n televisie-reeks.

Uitgesproke ateïs, enorme stilis - dit was hý.

Elke jaar, word daar vertel, het hy per trein na sy uitgewer gegaan en dan weer moedeloos vertrek as hy nogmaals oorgesien is vir die Nobel. In 2011 ontvang hy wel die Man Booker Internasionaal en hy is waarskynlik een van die mees bekroonde skrywers van sy generasie. ‘n Vroulike kritikus het wel te velde getrek teen die bekroning vanuit ‘n feministiese perspektief. Ms. Callil, van Virago uitgewers, moes egter later erken sy had ‘n vriendskap met Claire Bloom, Roth se eks. Boonop het sy mevrou Roth se memories gepubliseer waarin Roth belaster word.

Gelukkig het Rick Gekoski tot Roth se redding gekom:
In 1959 he writes Goodbye, Columbus and it's a masterpiece, magnificent. Fifty-one years later he's 78 years old and he writes Nemesis and it is so wonderful, such a terrific novel ... Tell me one other writer who 50 years apart writes masterpieces ... If you look at the trajectory of the average novel writer, there is a learning period, then a period of high achievement, then the talent runs out and in middle age they start slowly to decline. People say why aren't Martin [Amis] and Julian [Barnes] getting on the Booker prize shortlist, but that's what happens in middle age. Philip Roth, though, gets better and better in middle age. In the 1990s he was almost incapable of not writing a masterpiece—The Human Stain, The Plot Against America, I Married a Communist. He was 65–70 years old, what the hell's he doing writing that well? (Philip Roth - Wikipedia. Besoek 23 Mei 2018).
II

Die bekende Britse kritikus en biograaf, Hermione Lee, het volgens my twee uitsonderlike werke gelewer: haar biografie oor Virginia Woolf, en ‘n klein, kompakte studie oor Roth se romans. Ofskoon sy nie met die skryf daarvan kon weet hoe ‘n belangrike skrywer hy sou word nie, verskaf haar werk belangrike sleutels tot sy werk.

Harold Bloom, die gesiene kanoniseerder, sonder hom ook uit as ‘n groot romanskrywer.

Deur die jare het hierdie leser gereeld oor Roth geskryf (Woorde Wat Weeg | Philip Roth. Besoek 21 Mei 2018).

Soos Roth tereg opmerk in een van sy romans:

“Literature is not a primary reality but a kind of expensive upholstery to a sage himself so plumpy upholstered...”

En terwyl ek hierdie obit skryf, val my oog op die swart uitgawe van Everyman (2006) in my kantoor. 

'Old age isn't a battle,' he observes, 'it is a massacre.'

‘n Skrywer wat oor soveel fasette van menswees geskryf het én terselfdertyd die grense van fiksie ondersoek én verbreed het, is iets besonders.


Bronne:
Hermione Lee. Philip Roth (Routledge Revivals).London: Routledge, 2011.

© Joan Hambidge

Tuesday, March 26, 2013

Philip Roth - I married a communist (1998)



Philip Roth. I married a communist. Random House, 1998. ISBN 0 224 05258 6.

Resensent: Joan Hambidge

Philip Roth het deur die jare bestendige werk as romanskrywer gelewer. Tog sal hy waarskynlik altyd onthou word vir die genoeglike Portnoy's complaint wat die verhaal vertel van 'n jong Joodse seun se ontdekking van seksualiteit en homself.

Sy jongste heet I married a communist, 'n lang uitgerekte roman wat klaarblyklik gelees moet word as 'n antwoord op sy vrou, die aktrise Claire Bloom se memoirs, Leaving a doll's house (1996).

Dit is dan ook 'n bittere stryd tussen die twee figure en toe die memoirs van Bloom indertyd gepubliseer is, het almal hul uitgespreek oor haar dwaasheid om hierdie vuil wasgoed in die openbaar te was.

Dit is ook goed om te weet dat hierdie soort “revenge between covers” nie net eie aan die Afrikaanse letterkunde is nie, maar ook in die Amerikaanse letterkunde afspeel.

Leaving a doll's house vertel van Roth se senuwee-ineenstorting en sy rusies met sy vrou. Dit het hy as verraad in die ergste graad beskou. Bloom onthul die donker en negatiewe kant van Roth se persoonlikheid, natuurlik tot die outeur se chagrin.

Daar is ook insinuasies dat Bloom haar memoirs gepubliseer het om finansiële redes aangesien haar eggenoot enigsins suinig was in sy onderhoud aan haar.

I married a communist – met die opsetlik omgekeerde buiteskut - is 'n fassinerende en hoogs leesbare roman. Dit gaan in op die na-oorlogse Amerika, en meer spesifiek, Newark, New Jersey. Die Levovs en die Ringolds en wat dit alles behels het om in Amerika teen die regering van die dag te wees. Hierom dat Steven Spielberg nie kon hande klap vir Elia Kazan nie.

Dit was harde, verraderlike tye. Of Mevrou Roth hiervan gaan hou? Net sy sal werklik kan bepaal waar en hoe sy seergemaak word, as sy haarself as Eve sien. Roth verdedig homself op bladsy 278:”Literature is not a primary reality but a kind of expensive upholstery to a sage himself so plumpy upholstered...”

As fiksie is dit 'n waardige toevoeging tot Roth se romankuns.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Philip Roth - The human stain (2000) [1]



Philip Roth. The human stain. Jonathan Cape, 2000. ISBN 0 224 06090 2. [1]

Resensent: Joan Hambidge

The human stain van Philip Roth, die skrywer van die opspraakwekkende Portnoy's complaint en vele ander gerekende romans, is met een woord pakkend. Ek het hierdie metaroman 'n Saterdagmiddag begin lees, 'n afspraak vir die aand gekanselleer en die volgende dag nog met stygende bewondering verder gelees.

Roth is, soos dit alle goeie romanskrywers betaam, ook 'n implisiete kritikus van sy gemeenskap. In hierdie geval die skynheiligheid van die Amerikaanse gemeenskap wat bykans 'n president laat sneuwel het weens 'n indiskresie in die Oval House. Dit gaan nie om hierdie transgressie vir Roth nie, maar om die wyse waarop die media en die hele gemeenskap hierop gereageer het.

Inderdaad soos sy nou reeds bekende skrywer-in-die-roman Nathan Zuckerman opmerk: in daardie somer was die penis van die president van Amerika in almal se gedagtes. Teen hierdie agtergrond plaas hy die verhaal van 'n Jood (wat nie werklik Joods is nie), Coleman Silk, 'n dekaan, wat skuldig bevind word aan rassisme. Hy verwys na twee afwesige studente as “spooks” en alle hel bars los as die studente wel swart is.

Dit lei tot 'n heksejag (universiteite is immers die plek waar implisiete byltjies geslyp word as so 'n skandaal hom aanbied). Nie alleen verloor hy sy werk nie, maar sy vrou sterf ook weens die spanning. (Disgrace en Donkermaan praat bepaald saam.) Meer nog, Silk begin 'n verhouding as 71-jarige met 'n jonger, oënskynlik ongeletterde vrou en die skrywer, Zuckerman, speur die redes vir die skandaal èn nuwe die verhouding na in 'n verhaal wat 'n mens eenvoudig op sowel 'n storievlak as morele dimensie moet bewonder.

Ook die verhouding met die ongeletterde word as “verkeerd” en uitbuiting gesien. 'n Anonieme brief, ná forensiese analises, blyk 'n vroulike kollega van die universiteit te wees wat destyds op die dekaan jag gemaak het. 'n Hoofstuk oor haar is suiwer erudisie en storievertel op sy beste soos die hoofstuk oor die skrywer.

Nathaniel Hwathorne se The scarlet letter is 'n ander belangrike interteks, soos Thomas Mann se Death in Venice, die pivotale roman oor onbeantwoorde liefde of obsessie. Op 'n behendige wyse word die verteller se prostaatkanker en impotensie (ook inkontinensie) geplaas teenoor Silk se herontdekking van sy seksualiteit. Viagra, selfone en e-pos word ook hier rolspelers.

Coleman Silk se studieveld is die klassieke en Sofokles se Koning Oedipus word direk by die naam genoem. Hierdie klassieke werk analiseer immers die betekenis van menslike lot wat nie ontsnap kan word nie (p. 127). Die titel word met groot sinisme verduidelik dat puring onmoontlik, in wese futiel is, omdat daar teruggegaan word na die klassieke en hoe wraaksugtig en ontugtig die gode was (p. 242). Die kollege waar alles afspeel en leuens kleintjies kry, heet nie om dowe neute nie Athena.

Die roman sluit aan by die tradisie van die akademiese roman (soos The groves of academe en Saul Bellow se The dean's December)  en is 'n moet vir die ernstige romanleser. Dit bewys ook dat daar iets soos Jungiaanse sinkronisiteit bestaan: drie gerekende manlike skrywers pak as't ware dieselfde onderwerp.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Philip Roth - The human stain (2000) [2]



Philip Roth. The human stain. Jonathan Cape, 2000. ISBN 0 224 06090 2. [2]

Resensent: Joan Hambidge

Party romanskrywers het dit gewoon net. So een is Philip Roth. Met elke roman is hy meer aserbies, prikkelend, onderhoudend en vernuwend. The human stain ondersoek die debakel rondom 'n  vermeende klag van rassisme en die effek wat dit op die hoofkarakter se lewe het.

Coleman Silk se gebruik van die woord “spooks” (onwetend dat die afwesige studente wel swart is), het 'n funeste uitwerking op die kollege Athena. Natuurlik is Koning Oedipus van Sofokles 'n interteks en die impeachment-verhoor rondom Bill Clinton.

Nathan Zuckerman is weer die romanskrywer in hierdie metaroman wat vooroordeel en politieke korrektheid tot op die been oopsny. Op die koop toe begin die hoofkarakter 'n verhouding met 'n 'ongeletterde' vrou wat toe wel kan lees. Ook is Silk ('n klassikus) se antagonis 'n vroulike dosent.

Hier word heerlike steke uitgedeel na die moderne literatuurteorie en die groot geleerdheid. Die vroulike kollega se gebruik van e-pos ten einde 'n vendetta teen die protagonis te begin, is werklik verbluffend hanteer.

Nes jy dink jy het die “waarheid” beet, ondermyn die vertellende instansie dit. Dis 'n onderhoudende roman: by tye woedend oor die leuenagtigheid van die Amerikaanse gemeenskap wat so deur die “vicarious thrill” op ander se psiges ry, maar terselfdertyd 'n briljante gesprek met die akademiese roman vanaf Mary MacCarthy, David Lodge, Saul Bellow tot by J.M. Coetzee.

Philip Roth se jongste roman maak 'n analise van die moderne samelewing (en al sy ekstensies soos e-pos, selfone, Viagra) en hoe alles nog steeds deur ou waarhede gereguleer word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, March 4, 2013

Philip Roth - The plot against America (2004)



Philip Roth. The plot against America. Random House, 2004. ISBN 0-224-07453-9.

Resensent: Joan Hambidge

Een van my grootste leeservarings was Philip Roth se The human stain. Daar is min skrywers wat die groot teenstrydighede van die Amerikaanse landskap in sy sosiale en politieke stryd so skerp kan verwoord as hierdie Joodse outeur. Saam met die Nobelpryswenner Saul Bellow kan Roth se American pastoral en I married a Communist as grondverskuiwende romans gesien word.

Roth se romans is altyd historiografies in aanbod. ‘n Belangrike geskiedkundige, half-fiktief, half-werklik, word onder die loep geneem en hy plaas ‘n mens, altyd Joods, binne hierdie raamwerk. Hy skryf dus van binne-af oor die effek wat die buite-werklikheid op die mens se lewe het. Sonder om te preek, word die sosiale ongeregtighede aan die kaak gestel en die uitwerking van ‘n oorlog of ideologie helder en dikwels ironies belig. Tereg is hy bekroon met gesogte pryse soos die Pulitzer en die Amerikaanse Akademie het hom al met ‘n goue medalje vereer en hiermee word hy dus saam met John Dos Passos, William Faulkner en Saul Bellow gereken. Ook die Library of America het spesiale edisies van sy laaste boeke saamgestel.

The plot against America (hoor ons sy ironiese toespeling op die huidige situasie?) handel oor Charles A. Lindbergh, die aviasie-held, se “oorwinning” op Franklik D. Roosevelt in die 1940 presidensiële verkiesing. In ‘n radio-onderhoud blameer Lindberg die Jodedom vir die Nazi-oorlog en hy gaan ook allerlei vriendskaplike ooreenkomste met Adolf Hitler aan. En die uitwerking hiervan op die Joodse gemeenskap word dan onder die priemende soeklig geplaas met ‘n werkkersklas Amerikaanse gesin in Newark as fokus en natuurlik, met ‘n jong verteller se waarnemings van die gebeure. Is daar nog ‘n skrywer, behalwe Robert Pinsky in Jersey rain, wat die lot van die Joodse kind met sóveel deernis kan beskryf as Philip Roth?

“Fear presides over these memories, a perpetual fear” is die intrapwoorde van die roman. Gesien die oë van ‘n kind waar selfs oorlog deel van hul daaglikse spel word, raak die leser verstrengel in die bestaan van dreigende uitwissing. Die vader se bestaan en soeke na hul eie huis, word met soveel ironiese krag gelaai, omdat die kind as onskuldige mededeler vir die leser die implikasies oordra van  ‘n lewe waar die rekeninge elke maand net-net klop.
In ‘n balspel trek hulle teen die muur sirkels met ‘n land se naam binne-in. In hierdie soort aangepaste hopscotch word die ouers se angs na die kinders oorgedra. Dit is ‘n bestaan van angs en aanval. Die bal mag jou dalk volgende tref.

Die Joodse letterkunde kan ten beste deur die lens van paranoïa begryp word en geleerdes soos Harold Bloom en Geoffrey H. Hartman beklemtoon hierdie onderliggende energie in die Joodse skryfkuns wat terugkeer na die ‘breaking of the vesssels’ en die verhouding met die Tora en Kabbala. En selfs by agnostiese skrywers is hierdie tradisies vir die goy-leser steeds aanwesig en voelbaar.

Hierdie vermenging van feit en fiksie kry ‘n mens ook by Robert Coover in The public burning en D.M. Thomas se Flying into love waarin die lewens van die Kennedy’s vermitologiseer word. Die vraag is in welke mag die skrywer so mildadig met die geskiedenis speel? Watter grense moet steeds bewaar bly? 

In Roth se roman het die oordrewe spel tot gevolg dat die leser op ‘n nuwe manier na die geskiedenis kyk. “Charles Lindbergh Biography”verskaf belangrike insigte oor Lindbergh en sy kritiek op Roosevelt. Volgens hom was die Jode o.a. die rede vir die Amerikaanse toetrede tot die oorlog. Vir gewone mense was hy ‘n Nazi-simpatisant omdat hy geweier het om die medalje wat hy van die Duitsers ontvang het, terug te gee. Die ontvoering en dood van sy kind, wat geweldige sensasionele berigte ontlok het, word ook in die roman aangeraak. Dit is duidelik dat Roth feite oor die vaderfiguur gebruik om ‘n ánder perspektief aan die gelyknamige seun te gee.

Is dit egter ‘n goeie roman hierdie verregaande spel tussen fiksie en werklikheid en die oordrywing van die werklikheid? En alleen leesbaarheid mag myns insien die maatstaf wees in die romankuns: nie of iets werklik gebeur het en of dit histories of feitelik korrek is nie. Daarom dat ‘n skrywer ‘n gegewe begrens of eerder ont-grens in ‘n roman. Dit is ‘n verbluffende, asemsnakkende roman van ‘n fyn stilis en grootse storieverteller.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]