Showing posts with label Ruan Fourie. Show all posts
Showing posts with label Ruan Fourie. Show all posts

Wednesday, July 12, 2017

Polemies | Orakel Gouws

In sy bespreking van Ruan Fourie se debuutbundel (“Digter nie teen homself beskerm”, 10 deser) misbruik Tom Gouws die gesiene literator A.P. Grové se naam. Dit is én bly die goeie reg van ‘n resensent om sy siening oor ‘n boek se gehalte neer te pen, maar wanneer die resensie in ‘n onsmaaklike “urban legend” ontaard, moet beswaar aangeteken word.

Ek het professor Grové in 1980 ontmoet toe hy dekaan was aan die UP en ek daar wou begin studeer op ‘n nagraadse vlak. Ek het hom hoflik en beskaafd gevind. Daarna het my deur die jare uitstekende verslae oor my bundels geskryf en ek was ook by geleentheid ‘n gas aan sy huis.

Dit val te betwyfel dat hierdie literator ‘n jong student so ‘n banale woord sou toevoeg oor sy werk. Selfs al was hy krities oor ‘n bundel was hy altyd beleefd en intellektueel deurdag. Grové kon ook Latyn lees en ek beskou sy studie oor Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok as ‘n besondere insigryke werk. Trouens, min kritici het met soveel eerbied na ‘n digter se werk gekyk as hy. En waar hy oordeelsfoute begaan het – o.a. oor Breytenbach se debuut – is sy bydrae tot die literatuurkritiek enorm.

Hy sou bepaald nie die volgende geuiter het nie:
Volgens oorlewering het Breyten Breytenbach ná ’n lesing by Tukkies saam met prof. A.P. Grové vir middagete gestap toe ’n voornemende digter hulle trompop loop en sy gedigte in die gasspreker se hand druk en na sy mening vra. Prof. Grové het die stapeltjie gedigte ferm uit Breytenbach se hand gevat, sy oë vlugtig laat val oor die yl skribbeling. Ná ’n paar sekondes se lees, gee hy dit terug aan die verdwaasde student, kyk hom stip in sy “igtiomorfe oë” en sê sag, dog ferm: “Dis suiwer kak.”
Hoe gaan daardie ou liedjie nou weer? “Vat jou goed en trek Ferreira …”. Ons het nie sulke potsierlikhede nodig nie.

Die volledige resensie kan aanlyn gelees word. (Digter nie teen homself beskerm | Netwerk24. Besoek 12 Julie 2017). 

Op dieselfde dag lees ons ‘n uiters positiewe resensie op die Versindaba oor Johan Myburg se Uittogboek. (Versindaba » Blog Archive » Resensie/ Uittogboek (Johan Myburg)Besoek 12 Julie 2017). 

Ek gaan akkoord met die positiewe resensie, maar die volgende stelling laat ‘n mens tog nadink:
Johan Myburg is ʼn digter wat hom langsaam haas – hy word bepaald nie deur ʼn publikasiewaansin gedryf nie.
Is die digter wat lank wag noodwendig “beter” as die digter wat meer publiseer? Sou Gouws dit op Breytenbach, Johann de Lange of Daniel Hugo, o.a. van toepassing wou maak?

Dit neem ons terug na die “intentional fallacy” en “affective fallacy” van Wimsatt & Beardsley. Hierdie twee New Critics het ‘n punt beet gehad wanneer dit by letterkundige beoordeling kom.

Wanneer ‘n mens snedige en afbrekende resensies lees – soos oor Ruan Fourie - dan verlang ‘n mens na literatore wat tekste sien as ‘n “verbal icon” of “well wrought urn”.

Ongelukkig is die gemiddelde leser van ‘n dagblad onbewus van die netwerke van rusies en stryde en ambisies – van resensente wat byltjies te slype het met mede-resensente, keurders of uitgewers – en dan die resensie lees as die Waarheid.

Om iets te weet van die bedoeling van die skrywer of die impak van ‘n teks, sal die gehalte moet bepaal en dit is ‘n drogredenasie, aldus Wimsatt & Beardsley. Wat jy bedoel het, moet uit die teks spreek; en die impak (of verkope) is tog nie ‘n teken van gehalte nie. Dan was Tryna du Toit ‘n groter skrywer as Wilma Stockenström.

Om lank te wag op ‘n teks wat stadigggggg in die laai stof vergaar is helaas ook nie ‘n waarborg vir gehalte nie. ‘n Bundel wat lank in die laai lê, mag ook dateer en as “outyds” aandoen.

Daar is ook iets soos die regte tyd en oomblik vir ‘n bundel. Laat digters dig soos hulle gebek is. Laat hulle publiseer as hulle iets bydra.

© Joan Hambidge


Wednesday, June 28, 2017

Resensie | Ruan Fourie - ‘n Ope brief aan Dorian Gray (Protea Boekhuis, 2017)

Ruan Fourie - ‘n Ope brief aan Dorian Gray. Protea Boekhuis, 2017. ISBN:  978-1-4853-0747-1

Resensent: Joan Hambidge

Die jong debutant is ‘n blootgestelde een. In Afrikaans had ons die jonge Antjie Krog beleef, die skooldogter van Kroonstad. Hierna Theunis Engelbrecht en toe Annesu de Vos. En hoe ons na debutante kyk, het altyd te make met ouderdom. Hierom sien ons Pieter Fourie, op 77, as die oudste debutant in Afrikaans. Krog het die storms van ‘n jong debuut oorleef en gegroei tot ‘n unieke stem in Afrikaans. Ander jong digters oorleef nie die té vroeë blootstelling en media-hype nie.

In die Franse digkuns het Verlaine en Rimbaud as jeugdiges die grense verskuif. Op 21 was Rimbaud uitgeskryf.

Francoise Sagan het as jeugdige met Bonjour tristesse (1954) die Franse aan die praat gehad toe sy as agtienjarige haar debuut gelewer het. En Oscar Wilde is interteks in hierdie roman van ontnugtering: “Sin is the only note of vivid colour that persists in the modern world.”

Die titel van die roman is ontleen aan  Paul Éluard se “À peine défigurée”.

Sopas verskyn daar by Protea uitgewers ‘n bundel met die titel ‘n Ope brief aan Dorian Gray deur Ruan Fourie, ‘n Honneursstudent aan NWU. In 2015 het hy ‘n prys gewen by Aartklop (ATKV-Aartvarkprys vir Grensverskuiwende Werk).

Die bundel handel oor ‘n mislukte liefdesverhouding en gebruik Wilde se The Picture of Dorian Gray as interteks. Dit is die tema.

Die begeerte om jonkheid te behou, is immers waaroor Dorian Gray handel.

Die teks is kontemplasie oor hedonisme, morele verval en die verhouding tussen kuns/werklikheid.

Om so ‘n komplekse teks as interteks te gebruik, skep uiteraard ‘n besondere verwagtingshorison. Hoeveel kan die jong digter se werk “dra”? Hoeveel van sy gedigte kan die veelvuldige morele en kunsteoretiese vraagstukke beantwoord?

Of is dit gewoon net ‘n masker wat die digter gebruik?

So klink ‘n gedig op bladsy 31:

as ek saam met jou is
is ek Wronski
wat probeer om jou
met my oë te vermy,
maar soos die son sien ek jou
selfs al kyk ek nie.

voel ek minder by jou?
soos om te vra of ek
elke minuut van die lewe
iéts wil wees
in plaas van
niks.

jou bekoorlike mag maak van jou kuns:
ek wonder
wat in jou kop aangaan:
hoe dink ’n kunswerk?
polichroom? beweeglik?
in jambes?

die gekruisigde wêreld traak my nie
as ek my
in soveel skoonheid
kan verslinger nie.
ek word ’n Modigliani-portret
met tongvisvormige holtes
waar my oë sou wees.

hedonis

Uit bovermelde vers is dit duidelik dat die leser nou met Wronski te make het (die karakter uit Tolstoy se Anna Karenina). En ook met Modigliani. Elders is ons by Nabokof; dan weer by Colette …

Kortom, soveel verwysings oor die liefde en kunsteorie word hier aangebied vir die leser wat moet ontleed en opsoek. Jonathan Culler se ‘framing the sign’ word geaktiveer met die voorblad van ‘n foto teen ‘n muur asof dit in ‘n galery opgehang is. ‘n Soort Rorschach-toets, lyk die voorblad vir my. Dat dit wat jy oor die bundel skryf, iets gaan verklap van hoe jy voel oor redeneringsdigkuns of verse gepubliseer in ‘n post-pomo-arena.

Hier is baie talent – baie oomblikke van kognitiewe dissonansie in die digter se eie woorde. Die bundel is iets van ‘n catch-22: die krag is waarskynlik geleë in die aftelrympies, die talle verwysings, die gebruik van vele maskers en ander stemme: “’n chiaroscuro van barokke oordaad” (25) in die digter se woorde oor die geliefde, kan op die bundel van toepassing gemaak word.

met ‘n Duitse potlood
in ‘n Franse notaboek
in ‘n Thaise hotelkamer
sal jy steeds
‘n Afrikaanse gedig skryf.

Veeltalig (35)

Die kuns omwille van die kuns. Dit is ‘n bundel van dandyisme, vol akrostiese slotte en sleutels.
Daar is selfs ‘n verwysing na Alice in Wonderland (by die hasegat!).

Wat tersaaklik is dat twee debutante, te wete Ruan Fourie en Bibi Slippers (Fotostaatmasjien) wél uit die gevormde kuns steeds bly kuns haal.