Showing posts with label Don Maclennan. Show all posts
Showing posts with label Don Maclennan. Show all posts

Thursday, March 28, 2013

Don Maclennan - Notes from a Rhenish Mission (2001)



Don Maclennan. Notes from a Rhenish Mission. Carapace, 2001. ISBN 1874923558.

Resensent: Joan Hambidge

Die bundel begin met die bekende aanhaling van Lawrence Durrell:”Far off events, transformed by memory, acquire a burnished brilliance because they are seen in isolation, divorced form the details of before and after, the fibres and wrappings of time”. Durrell het hier ook die gedig in gedagte gehad: die stollingsvermoë van die egte gedig.

Helaas, helaas is dit hier waar die epifaniese moment eindig. In Don Maclennan se bundel bly die vers dikwels net stelling en mis dit daardie inbeweeg in die “burnished brilliance” waarvan hy via die motto praat.

In vers 10:
Without myths the world is empty.
I smell the Mission garden
dug black and loamy after rain.
Is there no entry, then, for me? (p. 11)

In nommer 16:

To what do we aspire?
Do hyacinths know their fragrance,
or clouds the colour the acquire?

Is dit 'n gedig? Of bly dit blote stelling?

Gedig nommer 27 wil-wil 'n vers begin, maar die gedigte laat die indruk by die leser van indrukke wat nog nie werklik getransformeer is tot gedigte nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, March 25, 2013

Don MacLennan - Of women and some men (1998)



Don MacLennan. Of women and some men. Firfield Poetry Press, . ISBN 1 875058 16 8.

Resensent: Joan Hambidge

Nou die dag sit ons in die teekamer en gesels oor Gary Larson, daardie onoortroffe, nooit volprese kunstenaar-cum-digter. Kyk, Larson kan 'n skets maak en dit van 'n onderskrif voorsien wat jou vir ewig en altyd bybly. Ogden Nash se Moses!

Soos die wonderbaarlike een van die klein protozoa wat ween op die bed en haar ouers wat troos:”Toemaar, daar is nog baie protozoa in die see!” Of die een van die oubaas wat neffens sy ou koei staan en sê:”Ja, gelukkig het jy nie malkoei-siekte nie”. Die volgende blokkie: Die koei skop haar poot op en sê:”I am Napoleon Bonaparte!”

Gus Ferguson het ook al hierdie humor lieflik vir ons gegee. Die een wat bybly: die mier wat sê dat sy Oupa het vir Eugène Marais geken.

Don MacLennan was verbonde aan Rhodes Universiteit en is 'n bekende digter en toneelskrywer. Sy boek - voorsien van sketse -wil waarskynlik poësie toegankliker maak vir die gewone leser. En 'n letterkunde kan nie net ernstige poësie hê nie. Dit moet, dit moet absoluut ook die  guitige, die speelse en die spulse bemark - of voorwaarde dat dit goed is.

Nou wat is goed wanneer 'n mens sulke gedigte lees? Dit moet kort wees - met 'n stelling wat jou bybly:

Women

Women question
logic and philosophy,
the abstractions men indulge in.
Yet they are quick enough
to spot a contradiction
or a lie.

The truth is their intelligence
is no different from ours -
it just keeps different hours. p. 4

Dit vra dan om saam gelees te word met die gedig “Men”:

We seem ineffectual
compared to women:
we do not ask to be
explored like continents;
do not invite new life;
have no healing power;
cannot make a place;
offer neither mystery
nor grace.     (p. 6)

Soos dikwels die geval met hierdie soort vers waarin Ogden Nash uitmunt, is dat ernstige kwessies op 'n bykans nonchalante manier oorgedra word - soos dat my ma my geleer het hoé om 'n vuur aan te steek, maar nooit vertel het hoe om dit te blus nie. Om hierdie rede is die bestes dan ook die soort gedigte wat 'n “sting in the tail” het, soos “Some women are too good”(p. 12).

Om hierdie rede hou ek nogal “In the orange twilight”(p. 14) waar daar gemeen word dat 'n mens moet leer om lief te hê wanneer jy trou.

“If you loved me
you would marry me”

“If you married me
you would learn to love me”.

Die misterie van die vrou en die man se onvermoë om haar te begryp kom in hierdie gedigte aan bod. Ook lekker skerp is “Portrait of a lady”(p. 20) wat natuurlik (ha, ha) inspeel op Henry James se oer-ernstige roman.

Die bundel sluit af met 'n navrante gedig oor die ouers. Die bundel is voorsien van sketse deur George Coutouvidis wat homself beskryf as 'n “post-modemist”. Dit is waarskynlik 'n boek wat 'n mooi geskenk sal maak. 'n Glimlag gaan ontlok. Dit kan bestel word van Firfield Poetry Press, 30 Firfield Road, Plumstead 7800.

Dit is natuurlik die uitgewershuis van Gus Ferguson wat die Engelse poësie lewend(ig) hou. Sterk gerugte doen die rondte dat ons groot Afrikaanse uitgewershuise voortaan slegs twee bundels per jaar kan publiseer.

Dit beteken dat die Afrikaanse letterkunde 'n letterkunde van bekende name gaan word, omdat nuwe digters in alle waarskynlikheid nie die geleentheid sal kry om 'n deurbraak te maak nie. 

En die twee tydskrifte wat nou onlangs nuwe name daar uit Pretoria vir ons aangebied het, is nog te wankelrig. Waar is die dae toe die Suid-Afrikaanse letterkunde gebruis het met nuwe digters en nie net doof geslaan is met die algehele stilte nie?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Insig geplaas.]

Tuesday, March 5, 2013

Don Maclennan - The road to Kromdraai (2002)



Don Maclennan. The road to Kromdraai. Snailpress, 2002. ISBN 187492363-9.

Resensent: Joan Hambidge

Op die voorblad is daar ‘n mooi foto van die digter: sy een oog is donker, die ander is helder verlig.  Op die agterblad bely hy dat sy gedigte gaan oor die wete dat daar iets soos diepere insigte bestaan. Hierom is die bundel dan ook een wat handel oor die dood en die wete dat die dood juis paradoksaal die lewe bevestig.  Maclennan is ‘n bekende digter, kortverhaalskrywer en dramaturg. ‘n Ou hand dus.

Veral die tweede gedeelte van hierdie bundel bevat wonderlik ontroerende verse wat as epifanies getipeer kan word. ‘n Klein moment of insident verraai dikwels vir die digter ‘n dieper waarheid . In “East London incident” word ‘n swart vrou waargeneem wat haarself was voor sy werk toe gaan.  Dit word egter meer as ‘n wastoneel: sy adem ook die primordiale krag van die see in.

Ook oor sy liggaamlikheid, al is die liggaam ouer en afgetakel, skryf hy eerlik en ontroerend. Sy begeerte tot vroue (veral ‘n jong vrou) en sy blik op sy vrou is gelaai met soveel selfbewussyn en -kennis. Die metafisika spreek uit die alledaagse: ‘n klip, ‘n blom. Die verganklike word telkens teen die Ewige geplaas, maar met die wete van die Emerson-motto: Other world? There is no other world; here or nowhere is the whole fact.”

En dit is hoe ‘n mens waarskynlik die bundel moet lees: ‘n soort ‘carpe diem’-benadering wat ook deur ‘n Boeddhistiese lewenswyse ondersteun word. “Being alive” kan gelees word as so ‘n wyse bestekopname. In “Originality” ook die wete dat die digterlike proses al beter deur ander verwoord is, maar hierdie leser voel sterk daaroor dat MacLennan ‘n eiesoortige visie het wat kenmerkend is van die suksesvolle digterskap: tegniese beheer en eerlikheid.

Daar is niks ‘phoney’ aan hierdie gedigte nie. Dit is geskryf deur iemand wat presies weet wie hy is, die lewe gesien het, die erotiek nog sterk beleef, vreugde het aan die natuur en omgee vir sy medemens. Dit word alles sonder tierlantyntjies beskryf.  Die slotvers “Kromdraai” is ‘n ars poetiese gedig:

Auden thought art
was our chief means
of breaking bread with the dead.
in his canny way
he knew that rock creates
the only truly human landscape.

“Three skeleton pieces” moet hiermee saamgelees word. ‘n Mens kan nie veel van die digkuns leer nie, meen die digter; tog elders voel hy weer dat die digproses belangriker as brood is. In die lykdig “An epitaph for Guy: 26th April 2001” word die kortstondigheid van die lewe tenoor die durende skryfproses geplaas.

Dis ‘n goed afgeronde bundel. Dikwels lyk gedigte met ‘n eerste lees maklik of toeganklik, maar dit is daardie soort eenvoudigheid wat deur tegniese behendigheid, èn met die ouderdom, tot stand kom.  En daar is ook ‘n respek vir ‘n digterlike tradisie en wysheid van soveel millennia:

I am still groveling
at the roots
of consciousness,
trying to read its scrawl. (“To live”).

“Going to Ithaca” is ‘n lykdig oor die selfmoord van ‘n vriendin; vir hierdie leser ‘n dubbele pynlike ervaring omdat sy toevallig die persoon en omstandighede ook geken het.  Dit het dan ten slotte van hierdie bundel ‘n dieper leeservaring gemaak omdat hierdie gedig ook kon heling bring.

Daar is wel ‘n ander wêreld en dit is die een van die gedig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]