Showing posts with label Martjie Bosman. Show all posts
Showing posts with label Martjie Bosman. Show all posts

Monday, August 1, 2016

Martjie Bosman - Vloeibare middelpunt (2016)


Martjie Bosman - Vloeibare middelpunt. Protea Boekhuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0584-2

Resensent: Joan Hambidge

In 2003 debuteer Martjie Bosman met die bundel Landelik (2003) waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang het. Die tweede was Toevallige tekens (2010). Haar derde bundel, Vloeibare middelpunt, het sopas verskyn.

Die tweede bundel is altyd ‘n gevreesde hekkie binne enige digterlike bestaan. Hieroor het die digter moeiteloos geseil en met ‘n derde komplekse bundel, wat handel oor musiek, die liefde, dood, reis en landskappe, bevestig sy haar besondere posisie. Dit is ‘n bundel wat gelees moet word as ‘n argief-van-die-bestaan en die “vloeibare middelpunt”:

Barðarbunga

Bo en onder is sonder betekenis
vir riviere van magma vliedend
uit die bal se vloeibare middelpunt,
soekend na ’n bres in die brose kors,
wat gloeiend sal verskyn voor verskrikte oë:
Ontsaglik magtig is die Skeppingswoord.

(uit die gedig “Wordende landskap”, 73).

"Things fall apart; the centre cannot hold", hoor ons dus. Die digter as argivaris, maar ook as ekoloog in navolging van Yeats.

Die titel het ook ‘n mitologiese lading, soos ons opmerk in die volgende gedig:

Þingvellir
Mitologiekongres, Háskóli Íslands

Þat mon verða satt, es vér slítum í sundr lögin, at vér monum slíta ok friðinn
(Dit sal bewys word dat as ons die wet verdeel, ons ook die vrede sal verbreek.)

Die breukvlak van die plate waarop twee vastelande rus
dryf jaarliks met elke skudding verder uit mekaar
asof Þor, die ou geweldenaar, net ’n aks te hard getik het
met sy wonderlike hamer, en verbaas moes toesien
hoe die planeet begin te skeur
en wou-wou wegsink
in ’n vlak groen meer…
(70)

Ons vind dan hier ‘n digter wat op ‘n intelligente wyse besig is met ‘n bestekopname en in vreemde landskappe haar eie digterlike woorde plaas teen ‘n groter "backdrop". Ook die liggaam word blootgestel wanneer indrukke of ervarings deur haar "metafore bars". Maar die maak van kuns en gedigte word ook gesatiriseer in “Openbare kuns” (72). Dis is alles nie loodsware erns nie, want die tantes wat in ‘n winkel sit in brei lyk na die langwol-Yslandskaap.

‘n Hoogtepunt is dan die vers “Reykjavik” met die speelse sub-titel: Ash happens (Yslandse T-hemp).

In Reykjavik praat die goedige mense
’n isolerende taal grinterig soos lawaklip (69)

en dis hierdie oor wat oop is vir vreemde tale en ‘n oog wat baie stip kyk na ‘n vreemde landskap, wat die verse so gelade maak. Alles in hierdie bundel het dan met ‘n mitologiese proses van transformasie te make; van metamorfose en vervreemding.

Ook die Britse en Skotse landskap word onder die loep geneem: Edinburgh, Oxford, Cambridge.

Boerneef

En Peter Blum skuil in ‘n lieflike verse (“brewwe ligmoment”) in ‘n gedig oor King’s College. Is dit nie opvallend hoe daardie twee kragte, Peter Blum en Boerneef, nou skielik weer terugkeer in ons digkuns nie? Selfs met Duitse vertalings van laasgenoemde.

Die buitelandse ervarings word ook met die bekende Suid-Afrikaanse landskap vergelyk: Turner teenoor Oerder. Daar is uitstekende beeldverse (o.a. oor Maria Stuart, Onegin, Schubert) en ‘n hartverskeurende liefdesgedig (“ Die verbode vraag”, 43).

Moderne ervarings (stadsverkeer, ‘n stadservaring) se ondergrond word geplaas teenoor die mitologie en argetipes van die menslike bestaan. Hierom is die programgedig een oor Oedipus en ook Achilles maak hier ‘n draai. Die “knooppunt van die paaie”, die oorgange tussen sekerhede, die prosesse van liminaliteit, word in hierdie bundel ondersoek. Freud het immers die verhaal van Oedipus her-interpreteer en vir die psigoanalitiese leser is hier baie sleutels na die onbewuste op sowel persoonlike as historiese vlak. ‘n Gedig soos “Vlermuis” (21) vra vir baie her-lees en nadink oor die skemertye van die jeug.

Die politiek van die dag (straatname wat verander), ongelykhede en die sensitiewe spreker wat hierop reageer, kom aan bod. Digterlik woon die mens inderdaad op hierdie aarde, soos die motto van Friedrich Hölderlin aantoon.

Soos die digter self skryf: die sublieme is subliminaal en mites (mitologie), die metafisika hou dikwels skuil ondergronds, maar die sensitiewe en intelligente persoon kan dit aanvoel en verwoord.

Sole survivor
Ets 15/15, Jahni Wasserfall

’n Skrikslag – ’n ruit, die deur, die dak?
Maar langs die klavier lê die ets
langs swart merke op die vloer
onder twee gate in die muur.
Iets prik my duim waar ek skerwe
van die swart raam saamskraap:
Sal ek nou soos in ’n sprokie
’n honderd jaar moet slaap;
millennia lank versteen bly swyg
tot ’n etser uit klip weer lewe wek?
Maar kyk, die glas is steeds intak,
die rooi montering ongedeerd
en in die gapende hoeke glim
vlymskerp spykers soos tande
in ’n swart muishondbek.
Onversaag oorleef die mammoetboom. (58)

Die ekologiese dimensie is ‘n ander belangrike kode in hierdie bundel wat die leser weer neem na die bloemlesing Ons klein en silwerige planeet van Johann Lodewyk Marais en A.D. Zuiderent wat in 1997 verskyn het. Hierdie bundel bevat egter nie ekologies-politiek gedrewe of “groen” verse nie; dit is eerder gedigte wat die mens se weerloosheid openbaar teenoor die groter drif van die natuur se “skadupatrone” wat soos “grys brokke in ‘n kaleidoskoop” voorkom.

‘n Goeie gedig word uiteindelik méér as die boodskap; vra vir verskillende maniere van lees en taksering, soos Vloeibare middelpunt bewys.

Dis ‘n ryk bundel – vir herlees, nadink en weer besoek. Veral die reis- en landskapverse maak ‘n unieke bydrae tot hierdie sub-genres.

Die voorblad van Ryan Loubser, "Spookhuis in die reën", is werklik besonders.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)


Wednesday, March 6, 2013

Martjie Bosman - Landelik (2002)



Martjie Bosman. Landelik. Protea Boekehuis, 2002. ISBN 1 86919 006 8.

Resensent: Joan Hambidge

Met haar debuut in Nuwe Stemme het Martjie Bosman uitgestaan as ‘n belofte. Haar debuut, Landelik (uitgegee deur Protea Boekehuis, tans ons staatmakeruitgewershuis vir die digkuns) bevat ‘n handvol sterk, onthoubare verse.

Digters uit sulke versamelbundels wil vanselfsprekend solo-bundels publiseer. By die meeste is die beste verse reeds ge-oes; by sommige, soos Bosman, is daar egter ‘n sterk poëtikale visie en blik op die wêreld wat ‘n enkelbundel moontlik maak. Die digter kyk na die ekologie, die mens se verbintenis met die heelal. Vir ‘n debutant skryf alreeds wég van die self (‘n bonuspunt) en veral die bespiegelinge oor die heelal bewys dat die digter ook iets te sê het.

“Laaste luiperd” is waarskynlik die sterkste vers in hierdie bundel en een wat getuig van ‘n duidelike talent. Fantasie, bespiegeling en skerp sintuiglikheid kenmerk hierdie vers. Die digterlike onbewuste in hierdie bundel val uit in ‘n kartering van die letterlike en fantasmagoriese wêreld (“Soektog van die eenhoring”). Dikwels is daar nog ‘n kinderlike verwondering te bespeur en juis hierom is die wrede pyn van hierdie land vir die spreker soms onhanteerbaar.  Die Afrika-gegewe word ook aangespreek, nie met hooghartigheid nie, maar met eerbied.

Die bundel kan dan op ‘n sekere vlak ook as post-kolonialisties getipeer word, omdat hier gekyk word na die identiteit van ‘ons’ binne Afrika (“Voorgangers”). Ook word die plaasdebat behandel in “Verskroeide aarde”, “Verraad”, “Graffiti”.

In “Gastehuis” word die stand van Afrikaans en die lotgevalle  van die Afrikaner ondersoek. Dit is vir die digter ‘n ‘verworde land’ wat verander en een wat vir die ongebore kinders min troos of uitkoms bied. Op haar beste is ‘n vers soos “Aand, Sendingstasie” wat ‘n melancholie, ‘n moment vasstulp. Dit is juis dit wat verswyg word, wat van hierdie vers iets kragtigs maak.  Dieselfde geld “Dorpsbegrafnis” met sy navrante slot. Die kortstondigheid van die lewe is die “pers van bobbejaanstert”.

Die religieuse verse in die vierde afdeling soos “Paaslied” en “By die Sondagmaal”  is treffend en “Kafka in die kombuis” gee ‘n metafisiese blik op die kakkerlak.  In hierdie afdeling word die goddelike in die klein voorwerp of moment raakgesien, ‘n soort spirituele klaarheid wat alles bepaal. 

Die gestalteverse in die vyfde afdeling (soos oor Lady Anne Barnard, Isak Dinesen, Albert Schweitzer, e.a.) is onthoubaar, maar almal ewe tegnies bedrewe nie. Bosman is op haar beste as sy oor die stiltes van situasies skryf of sub-tekste ontgin. Persoonlik verkies ek haar emosionele verse bó haar intellektueel-bespiegelende gedigte.

In die sesde afdeling is daar ekologiese of omgewingsverse aanwesig, waarvan “Laaste luiperd” uittroon bo alle verse in hierdie bundel.  Soos “Voorstad” wat bo die programmatiese politiek-korrekte aanslag van hierdie afdeling staan. Gedigte werk myns insiens juis as dit die waansin agter stelsels ontgin, nie politieke of sosiale stellings probeer maak nie.

Dis ‘n gawe debuut. ‘n Strenger keurdershand kon moontlik van die mindere verse, veral aan die begin van die bundel, uitgelaat het en ‘n bietjie langer wag, kon hierdie bundel nog sterker gemaak het.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Saturday, February 2, 2013

Martjie Bosman - Toevallige tekens (2010)



Martjie Bosman. Toevallige tekensProtea Boekehuis, 2010.  ISBN 978 86919 400 0.

Resensent: Joan Hambidge 

In 2003 debuteer Martjie Bosman met die bundel Landelik waarvoor sy bekroon word met die Ingrid Jonker-prys. Soos die titel van die tweede bundel Toevallige tekens dan ook suggereer, moet die leser die tekens en spore in hierdie bundel met nougesette aandag volg. Die teken as teiken dus en ‘n mens word telkens bewus van ‘n volgehoue semiotiese spel met die leser.

Van Wyk Louw rig dan ook die bundel in ‘n motto:

…dié Woord
vol bybetekenisse en bowe-tone,
té vol vir bloot net beteken of betekenis.

Die digter aktiveer die Afrika-wêreld waar mense die “tekens van gemene besit / op allemansgrond, gebied onder koningsgesag” beleef (“Meent”, 15). Die bundel spreek ‘n Afrika-landskap aan en so tree die bundel in gesprek met Opperman-kodes. In die gedig “Grondeis” (35) spreek sy Opperman dan direk aan. Dirk-se-erf is nou ‘n beleërde plek waar die digter haarself moet verweer met guerillategnieke.

Bosman aktiveer telkens op ‘n konkrete wyse ‘n sintuiglike dimensie wat sy plaas teenoor die “angs van binneruimtes”. Vigs (“groter siekte”) is ‘n harde werklikheid waaraan geloofsgenesing niks kan doen nie.

Die Mosambiekse landskap word eweneens ontgin met Maputo as ‘n vervalle stad. Vir hierdie leser wat die landskap intens en gereeld besoek het, is die beskrywing van die menslike ellende en die hospitaal-dienste, helder weergegee. En Bosman skryf eweneens oor die nood van vrouwees in so ‘n bestaan waar verkragting en liggaamsgeweld ‘n harde werklikheid blyk te wees. Hierom is daar ‘n motto by “Mutilados” wat verwys na Dine van Zyl se Die verminktes. “Die kind van Kigali” (24) tree weer in gesprek met Ingrid Jonker se ikoniese gedig “Die kind”.

Die Rwanda-werklikheid kom eweneens aan bod in hartgrypende verse oor die volksmoorde aldaar. Die digter hou die pynlike en transgressiewe gegewe in beheer met sterk metafore. In die hande van ‘n mindere digter sou hierdie gedigte skel kon oorkom. Maar dit is júis wat hierdie verse onderskei van ‘n berig in Time: sy gebruik herhalings wat ‘n soort pynlike inkantasie word van die koeëls wat “in sagte vlees wegsink”. Die iteratief-duratief (wegsink in plaas van die verlede tyd weggesink) aksentueer dat die pyn voortduur in die menslike gemoed.

Die bundeltitel word verklaar in “Eendagskoon” (27) waar die verval in Afrika weergegee word. Hierdie gedig tree eweneens in gesprek met Ina Rousseau se voortreflike tuin/Eden-verse en kan gelees word as ‘n ars poetica. In “Soet seisoen” (80) soek sy na ‘n metafoor om die verval van ‘n stad te verbeeld, maar die gedig bly die aftakeling ontwyk. Juis deur ‘n gedig te skryf kan sy haar verweer teen die sloping wat sy meemaak en is die tekens van die gedig “’n tuin van alle liefde”.

In die personifikasie van ‘n skreeu (“Die skreeu”, 31) word die weerloosheid van mense binne ‘n geweldgeteisterde Afrika-werklikheid belig.

Die slim toespelings op Toon van den Heever en Marais skep winste vir die gedigte, nie alleen in die vervloë wêreld wat dit oproep van ‘n verlore stam nie, maar ook ‘n bewusmaking vanwaar die Afrikaanse digkuns tans staan.

Hierom is daar waarskynlik ‘n bestekopname van die digter se verlede met aangrypende en nostalgiese gedigte oor die jeug. Ons vind reeds in die herinneringsverse ‘n slim kind as waarnemer wat tekens probeer dekodeer en nou as volwassene terugkeer na die verbeelde wêreld wat sy beleef het. In “Kispak” (58) vind ons ‘n lykdig wat weer terugwaaier na T.T. Cloete se vers oor die verskillende rokke van sy vrou. Hier is dit die kispak:

Dan word die pak diep weggepak
tot dié dag wanneer die kis
die pak weer waardig is.

Martjie Bosman bewys met haar tweede bundel dat sy ‘n knap digter is wat aan elke beeld en woord aandag gee. Haar leser word bekoor deur die tekens wat jy moet snap: foto’s, musiek, mense, diere se geluide. Daar is verse oor bekendes (soos Wena Naudé) en gedigte oor die Spaanse landskap.

Die gedigte lyk op die oog af sober en in beheer – onder is daar ‘n melancholie wat by elke herlees ‘n mens  dieper tref.

Dit is ‘n bundel oor “vae en ontwykende drome” wat helder en stip verwoord word.
Alles is hier dringend in klein tekens op papier gemerk, om die digter aan te haal.
Daar is ‘n opbloei in ons digkuns: Johann Lodewyk Marais, Tom Gouws en andere wat bewys dat ten spyte van die geweld en onsekerhede wat ons beleef, bly digters in Afrikaans belangrike werk lewer.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]