Showing posts with label Cordis Trust. Show all posts
Showing posts with label Cordis Trust. Show all posts

Sunday, April 1, 2018

Resensie | Antoinette Olivier – Optelklippies (2018)

Antoinette Olivier - OptelklippiesKreativ SA (geborg deur Cordis trust), 2018. ISBN 978 1 928374

Resensent: Joan Hambidge 

Op die agterblad word hierdie debuut Optelklippies van Antoinette Olivier as haikoes beskryf, 'n digvorm wat 'n vlugtige natuurindruk weergee én suiwer wiskunde is. Die versvorm bestaan uit drie reëls met sillabetelling 5-7-5. Die haikoe, 'n Japannese versvorm, illustreer ten beste die tegelykertydsaspek van die digkuns. Sy pendant heet die senryu, oftewel 'n somberder, siniese vorm van die haikoe.

Oor klippe is daar al veel gedig in Afrikaans: Opperman se bekende "Te klip om te boom" en Maria Snyman het 'n belangrike MA-verhandeling (UNISA) geskryf oor klippe in die Afrikaanse digkuns. Daar is Ina Rousseau, Wilma Stockenström, Johann de Lange ...

Klippe, soos weet hulle te vertel, verraai iets van die bepaalde landskap en in Japan (by Hirosjima en Nagasaki) voel en lyk die klippe anders. Hulle was immers stil getuies van ‘n kernontploffing.

Olivier se bundel is nie rasegte haikoes nie. Trouens, min digters kry dit reg in Afrikaans (en hierom praat ons eerder van boere-haikoes), maar haar verse is bepaald genoeglik in die delikate waarnemings wat dit registreer.

Die essensie van hierdie soort gedig is die jukstaposisie tussen twee wêrelde of indrukke. In die tradisionele haikoe word dit 'n vertikale lyn waar die twee sieninge één word; in die Westerse tradisie vind ons dan die 17 sillabes (in 3 reëls) opgebreek met 'n sentrale woord wat die kireji of snypunt is in die gedig. Gewoonlik is dit in die slotreël van die gedig. Hierdie snypunt of draaipunt vind die leser en interpreteer dan die gedig róndom hierdie woord.

In tradisionele haikoes het 'n bepaalde woord 'n simboliese betekenis wat gewoonlik aan die natuur gekoppel is. Die leser lees dus assosiatief en laat die gedig in die gemoed gebeur. 

Die nuuskierige leser kan hier verder oor die haikoe lees:

herinneringe
uit 'n optelklippieboks
skiet in rotstuin uit 
(31)

Langs elke gedig word klippe opgestapel. Klein totempale?

geure en kleure
vars oor die tafel gestrooi
die ene monét 
(27)

Monet, die impressionis word hier geaktiveer, en sy siening van die plein-air-landskapskilderye wat ‘n reaksie was teen salonkuns.

Hiermee wil die digter Olivier dan ook die natuur-like beklemtoon, weg van die gedigte wat waarskynlik te “slim” en “geleerd’ aandoen …

wilgerboom skadu's
verf oë vir die gesigte
op die oorhangrots
(95)

vanoggend skielik
glip die somervenster oop
hoe rank die jasmyn
(87)

op een been staan hy
so probeer flamink flamink
in die vywer speel
(61)

Elke vers sal ‘n ander assosiasie oproep vir die leser.

Met hierdie bundel neem sy 'n plek in langs Eveleen Castelyn, meesteres van die haikoe en tanka. (Die tanka se vorm, terloops, lyk so: 5-7-5-7-7).

‘n Klassieke Castelyn-vers:

Roosblare bêre
hartvormig in die laaie
die as van liefde

(Uit: Minder as die engele uit 1990).

En Hélène Kesting in 'n "klein akkoord", moet eweneens nie vergeet word nie.

Kan bestel word van: Posbus 4404, George-Oos, 6539.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Saturday, March 26, 2016

Fransi Nieuwoudt - ’n Vlerkslag van kleur (2016)



Fransi Nieuwoudt - ’n Vlerkslag van kleur. Cordis Trust, 2016. ISBN: 978-0-9922057-8-2. R140.00

Resensent: Joan Hambidge

’n Bundel soos hierdie is nie ’n nuttelose publikasie nie.

Ofskoon die doelstelling was om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder, bereik dit tog hierdie doelwit op ’n indirekte manier. Dit word ’n handleiding vir alle dosente in kreatiewe skryfwerk om presies uit te wys wat die moets en veral moenies is van die digkuns.

Die iteratief-duratief van die digterlike hebbelikhede soos:

* die gebruik van die verhewe woord (soos ruising) of aanslag;
* die gesprek met Ingrid Jonker (done to death, verskoon die woordspeling):
jy wat die glasskerwevan weggooibottelssoos ’n geheim in die grondkon bêre . . .;
* die gesogte beeld (“duiwe swalp ’n sinkerson”);
* die arbitrêre gebruik van leestekens;
* die flirtasie met katachrese;
* die pap eindes (“ ’n wilger by strome van rus”);
* ’n gebrek aan vorm en algehele onkunde wat verstegniek behels;
* ’n uitblertsing van emosie soos laas in die 1970’s aangetref . . .;
* verspotte samestellings (“verbronsvlerk”);
* die invoeging van ’n geleerde verwysing of woord soos impasto wat die gedig “Verhewe” moet maak.

Die kort, haikoeagtige verse op bladsy 61 het wel moontlikhede.

’n Mens is wat jy eet. ’n Digter is dit wat sy of hy lees. Hierdie bundel getuig van min leeswerk in die digkuns.

Dankie, Cordis Trust, dat julle so blymoedig bly vlerksleep by die Afrikaanse digkuns. Hebban olla vogala!


Hier het die digkuns die digter uit die nes geskop.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Sunday, March 20, 2016

Neels Jackson - Wit, Afrikaanse man (2016)


Neels Jackson - Wit, Afrikaanse man. Cordis Trust, 2016.

Resensie: Joan Hambidge

’n Onafhanklike uitgewer is altyd ’n belangrike teenstem waar digters wat vir die oomblik buite die modegiere of voorskrifte van die kanon val (hetsy polities of esteties) ’n tuiste vind. Dikwels word die alternatiewe ook hoofstroom, of dit verdwyn (soos Taurus of Hond dalk nou). Cordis Trust vervul tans die funksie om voorsiening te maak vir digters wat nie die lang waglys van die hoofstroom kan haal nie. Gawe gedigte per bundel (selfs vyf) maak so ’n bundel onthoubaar.

Neels Jackson se Wit, Afrikaanse man neem standpunt in teen die sogenaamde elitistiese gedig. Sy bundel is bedoel vir die intelligente leser wat hou van ’n toeganklike gedig wat iets oor die lewe sê. Hierom is daar ’n storie om die gedigte te plaas om die gedig vir die leser te verduidelik. Aldus die agterplat.

Inderdaad is daar dikwels lesers wat “vervreemd” voel van moderne gedigte wat hulle uitsluit weens slim toespelings of woordverwysings. Maar gaan kyk net hoe gewild is T.T. Cloete of hoe Breyten Breytenbach selfs in sy latere bundels steeds ’n aanhang geniet onder lesers.

Met Jackson se perspektief oor die “wit, Afrikaanse man” het die uwe vrede. ’n Gedig is goed indien dit die wêreld wat dit in woorde aanbied, oortuig. En nie om die ideologie of persoonlike aanbod nie. The Well Wrought Urn of De glanzende kiemcel kom hier ter sprake.

Waar die bundel met ’n denkfout werk, is dat die digter moet verduidelik hoe sy verse werk. ’n Goeie gedig, of dit nou ’n Karoo-sang of nonsensvers is, moet sonder ’n narratief of getuigskrif oortuig of meesleur.

’n Handvol verse is op pad om iewers uit te kom, soos “Solomon Mahlangu” (28) en die speelse limerieke (38). “Horlosies” (41) is oulik. Maar die hele bundel word bederf deur die tierlantyntjies róndom die vers. Goed dat die digter die haikoe of distigon beoefen, maar helaas nie met sukses nie omdat die spesifieke vorm-eise nie nagekom word. Sillabes is by laasgenoemde belangrik (gaan kyk maar na Eybers) en as daar ’n afwyking plaasvind, moet dit deur die gedig werk.

En daardie bliksem van ’n rymnukker pootjie ook van die verse. Net in die hand van ’n behendige oortuig dit, anders haak die vers vas soos ’n kous wat leer. Of ’n CD wat vashaak.
Die aanpak van die ars poetica (onder meer bladsye 42 tot 44) steek sleg af by bekende gedigte wat al met hierdie beeldmateriaal gewroet het.

Die liefdesverse is intiem-persoonlik en moes liefs net vir die geliefde se oë gebly het. Daar is ’n hele skat van uitstekende liefdesverse in Afrikaans waarin rymwoorde soos spel/sel/hel net te maklik raak.

Johann de Lange se klassieke vers oor Ingrid Jonker word erken en die digter borduur voort op die vers en dit word ’n pastiche. Niks meer nie.

Politiek kom dikwels aan bod: die Grensoorlog, Mandela, Mbuli en Israel (“Kana”, 72). Ook reise en gebede tref ons hier aan.

Soos die digter bely:

Daarom steek dié verse vas in strewe,
teken dit bloot die buitelyne van ’n lewe.

En dit is die uiteindelike oordeel: te veel buitelyn, te min fokus.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)