Showing posts with label Little Brown. Show all posts
Showing posts with label Little Brown. Show all posts

Tuesday, March 26, 2013

Patricia Cornwell - The last precinct (2000)



Patricia Cornwell. The last precinct. Little, Brown and Co., 2000. ISBN: 0 316 64624 5.

Resensent: Joan Hambidge

Patricia Cornwell het in die oorwegend manlike domein van die speurverhaal al goed naam gemaak. Behalwe vir Agatha Christie, is hierdie soort verhaal nog altyd met manlike name geassosieer, soos die vader van die moderne speurverhaal, E. A. Poe se beroemde The purloined letter; Sherlock Holmes & dr Watson; Georges Simenon se Maigret-reekse...

Tog kom daar al hoe meer belangrike vroulike skrywers na vore: Elizabeth George, Minette Walters, Faye Kellerman, Ruth Rendell en natuurlik, die wonderbaarlike P.D. James.

Simenon se lewe was kenneliik troebel en suggesties van bloedskande aldus sy dogter, het hierdie werksdrif bepaal, terwyl Cornwell ook al in  die nuus was oor 'n grensoorskrydende obsessie met 'n vrou. Haar speurder genaamd Kay Scarpetta is al 'n persona soos Hercules Poirot en Maigret. Die struktuur van die speurverhaal - die soeke na 'n skuldige - word ook by haar omskep in genderpolitiek en vrae oor vrouwees.

Haar niggie Lucy is gay en sodoende word daar kommentaar gelewer op die ander lewe. In hierdie roman word gaywees (en die vooroordele daaromheen) aangespreek. Soos in 'n Patricia Cornwell-roman te wagte, word daar weer 'n lykskouing in kliniese besonderheid beskryf.

Dit is hierdie bate waaroor die voorste patoloog in die VSA beskik, wat die raaisel help oplos rakende 'n reeksmoordenaar. Daar word ook wetenswaardighede verskaf oor presies wat met mense gebeur na 'n geliefde persoon vermoor word. Dit is hierdie soort sielkundige analises wat Cornwell se boeke verhef bo die populistiese vlak.

'n Mens sou hierdie verhaal se weerwolf-aspek diepsinnig kon ontleed en die fenomeen van die reeksmoordenaar verwys duidelik na Jeffrey Dahmer en ander Amerikaanse voorgangers.

Plek-plek dik vir 'n daalder, maar nou ja: dis lekker geskryf.  As dit jou tweede ervaring van hierdie skryfster is, gaan jy miskien minder opgewonde wees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Thursday, March 21, 2013

James Patterson - Pop goes the weasel (1999)



James Patterson. Pop goes the weasel. Little Brown, 1999. ISBN: 9780316693288.

Resensent: Joan Hambidge

Pop goes the weasel van James Patterson neem nie verniet 'n blitsverkoperplek in nie. Dit het al die elemente van die goed geskrewe speurverhaal: die leser soek saam met die speurder na die moordenaar. Tog is hier 'n interessante afwyking, omdat die leser saam met sowel die speurder (in die eerstepersoonperspektief weergegee) as die moordenaar (in die derdepersoonperspektief vertel) beweeg.

Die leser het dus as't ware 'n voorsprong omdat hy/sy binne in die moordenaar se kop kan sien. (Hierdie roman bewys dan ook teoretici se standpunt korrek dat die derdepersoonperspektief meer onthullend is oor die binnelewe van 'n karakter as die eerstepersoon). Ook word moderne tegnologie ingespan soos e-pos en internet-konneksies om die roman meer spannend te maak. 'n Komputerspeletjie word vir een van die deelnemers “waar”.

Die verbintenis tussen Geoffrey Shafer (die “weasel”) en Alex Cross, die speurder word met oortuiging vertel. Voeg hierby 'n voorliefde vir speurverhale en 'n belangstelling in die psige van die reeksmoordenaar se psige en hierdie psigologiese riller behoort jou eweneens te inspireer. Dit is ligte leesstof, maar nie “trashy” nie.

Die roman se verdere wins is dat die rolle van moordenaar en speurder omgekeer word sodat laasgenoemde in die beskuldigdebank staan. In hoofstuk 121(!) bely die speurder hoe moeilik dit is om slagoffer te wees.

Daar is talle verwysings na moderne Amerikaanse kultuur soos Oprah Winfrey, O.J. Simpson, psigobabbel, ensomeer. Veral die Simpson-saak blyk 'n kode te wees in hierdie roman. Hiermee wil hy beklemtoon dat die leser met die werklikheid te make het. Hierom ook die noukeurige beskrywings van die hotel waarin Ian Fleming gebly het.

Hierdie tegniek skep dan verdere spanning te midde van ontvoering, moord (ook op 'n kollega) en duplisiteit.

Ook berus baie van die ontknopingspatrone op manies-depressiwiteit en medikasie vir hierdie psigiese toestand.

Patterson is waarskynlik die Deon Meyer van die VSA: hy skryf onderhoudende speurverhale wat deurgaans van intelligensie getuig. Soos in die film Reservoir dogs wat gebruik maak van 'n spel, Cludo, word hier ook met 'n speletjie gewerk.

Vir hierdie leser was dit ook relevant om te sien in welke mate die moderne tegnologie die patroon van die speurverhaal verryk, terwyl die basiese struktuur steeds dieselfde bly.

En die leser se verwagting ook. Wat hier deeglik gepop word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]