Showing posts with label Pirow Bekker. Show all posts
Showing posts with label Pirow Bekker. Show all posts

Thursday, April 13, 2017

Pirow Bekker — Voor ek my kom kry (2017)



Pirow Bekker — Voor ek my kom kry. Protea Boekhuis, 2017. ISBN: 978-1-4853- 0648-1 (gedrukte boek), 978-1-4853-0743-3 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

Jy

Jy is die vol leegte voor my,
niks is vol sonder jou
en niks is leeg met jou nie
jy is die laagte vol voor my.

Moenie weggaan nie, nooit nie,
anders sal die leegte leeg wees
en die volheid laer as leeg. (76).

Hierdie mooie vers is uit Stillerlewe (2002).

Sopas verskyn Voor ek my kom kry wat al die bekende handgrepe en temas van Bekker bevestig: die spel met ouer tekste, gedigte oor die siekte en naderende dood, die verganklikheid van alles, sosiale kommentaar.

In Rasuur (1993) parodieer hy Leipoldt se “Boggom en Voertsek” en maak daarvan die spel met kanker en genesing.

En hierdie bundel is ‘n belangrike publikasie, omdat dit die eis van vernuwing die nek inslaan. ‘n Digter hoef nie nuwe temas te ondersoek nie; of dramaties te vernuut nie. Solank daar bestendigheid is, behoort die digkuns-leser tevrede te wees. ‘n Mens dink hier aan Eybers wat dieselfde temas bly ondersoek het: met groter en selfs met minder drif – maar altyd goed. Veral die kritikus Neil Cochrane hou die eis van vernuwing voor asof dit ‘n geel kaart is vir die digter as dit nie presteer word nie!

So klink ‘n vers uit die bundel:

3. Weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie
(N.a.v. ‘n uitspraak van Randall Jarrell)

Om as geniaal in die literêre annale op te gaan
sal ‘n hoopvolle digter hom in ‘n storm maak staan,
maar om seker te wees, sal daar onder sy boom,
die weerlig hom vyf of ses keer raak moet slaan. (47)

Vir my was die grootste leesplesier die verse oor die digterskap: die gesprekke met Leipoldt, Totius, Marais: “Vergete is die aarde nie” (16) wat vra vir ‘n saamlees met Totius se klassieke “Die wêreld is ons woning nie”; “Erd-af mens” (28) wat Leipoldt onder die loep neem; en die “suinige digter” Marais wat deur vele verse trek.

Omdat die bundel is van ‘n ouerwordende digter, moet dit gelees word as ‘n bestekopname.

“Mededingerding” (33) wys op hierdie “anxiety of influence” (in Bloom se terme uit die gelyknamige bundel van 1973) waar die digter soek na ‘n plek in die kanon. In sy oorsig in die jongste Perspektief& Profiel (2015) wys Phil van Schalkwyk hoe moeilik dit is om ‘n oorsig te skryf oor so ‘n veelkantige skrywer, en dat die relatief min kritiese reaksies op sy werk hom genoop het tot ‘n nuwe inskatting. Moontlik, meen Van Schalkwyk, is die gevarieerdheid en ingewikkeldheid van sy werk iets wat ‘n rol speel om navorsers te ontmoedig? Of dalk ook sy rol as iemand wat buite modes of klieks staan? In sy besinning gee Van Schalkwyk ‘n komplekse en geïntegreerde lesing van die oeuvre en tree hy so in gesprek met ander kanoniseringspraktyke wat eerder chronologies of genre-gebaseer is.

En dit is bepaald so. Daar is die ouerwordende digter wat terugkyk na sy “precursors” of voorlopers in Afrikaans – en hulle steeds as belangrik ag.

As digter is Pirow Bekker se satiries-ironiese gedigte uitstekend. ‘n Mens dink hier aan die gedig “Nuutskepping” (39) waar die woord “selfmoord” nou “selfdood” geword het, maar die ellende is helaas steeds met ons. Die lagie suiker kan die galpil nie versoet nie, meen die digter.

Die digter besin oor die funksie van taal in “Diachronie van ‘n rymelaar” (63):

sinnigheid vir woorde
sterf in hul diaspora
met betekenisse smokkel
swerf hul na oorde
waar net die eggo’s koggel
wyd en wyer lê die spore
tot ook dié in kieselbrak verbrokkel

wat inskuif op die vers “Sinsbou” (68) met sy pynlike slot:

en hier te beaam hoe tiek ‘n sin, hoe
lewe ‘n gedig nog lank ná die “ame” sê.

In “Boedel” (61) is daar ‘n belydenis oor wat kritiese of gewone lesers met die digter se tekste maak. Dit beland in “onbekende kontekste, in ontnugterende verbande, Babeltale” en die digter besef:

….
ek raak by die dag kaler,
uitgewis uit die geheue van manuskripte,
tussen die velle met donkie-ore,
my geboorte net die dun skreeu
van ‘n luginhalige.

Benewens my leesreaksie wat die gedigte oor die digterskap uitstekend vind, is daar liefdesgedigte soos “Teen die weerloosheid” (76) wat hopelik in Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte opgeneem sal word:

….
My lank vertroude jas,
As verliefde dubbelgroot gekoop,
nou jare ouer en verslete,
vind ek het makliker geword
vir my om jou, beminde,
in hom, by my
teen wind en weer
nog vas te knoop.

En dit word weer opgetel deur die klein “As jy” (82), ‘n erkenning van die liefde se rol in ons lewe.

Dit is ‘n ryk-geskakeerde bundel: soveel temas, soveel besinnings. Oor die natuur, oor die politiek, oor die dood, oor siekte, oorlog  – en ‘n briljante een “Wie is Bart Nel?” (55)

Inderdaad ‘n skrywer en digter wat sy eie padkaart volg en oor die aarde en ekologie skryf; terugkyk tot sover as die Voortrekkers en in sogenaamde “stormvorme” kyk na ‘n biopsie of ‘n blokhuis. Die slot vers is die titel – amper ‘n soort (gemaakte?) verbasing oor wat hy meegemaak het. In “Gentlemen’s wars” (93) palinodeer hy Toon van den Heever met ‘n wrang-ironiese slot.
Veral die digter se punt-digte of sy korter verse is uitstekend.

Hierdie digter het in 1965 gedebuteer met Die klip sing. Daarna volg Toekomstige betrekkinge, Definisies deur die bloed, Eskarp, Rasuur, Stillerlewe,  Van roes en amarant in 2008. Atlas teen die vergeetrivier verskyn in 2013.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Tuesday, March 5, 2013

Pirow Bekker - Stillerlewe (2002)



Pirow Bekker. Stillerlewe. Protea Boekehuis, 2002. ISBN 1 919825 96 7.

Resensent: Joan Hambidge

Na wat voel as ‘n langerige stilte verskyn daar by Protea-boekwinkel ‘n skitterende bundel van Pirow Bekker: Stillerlewe. Die titel dui op die gedig as stollingsproses, maar dit verwys ook na die stilwording of inkeer wat die ouderdom meebring. ‘n Mens word in hierdie bundel getref deur ‘n veelheid van onderwerpe wat gedek word soos die liefde, die tuimeling van die tweelingtorings, die dood van Lady Di, Jack the Ripper, die natuur. Ook die mag en funksie van die digkuns word in vernuftige ars poeticas onder die loep geneem.

Nie alleenlik het hierdie digter iets te sê nie, maar hy sê dit so goed.  By die ouerwordende mens (en digter) is daar ook selfkastyding en -ironie te bespeur. In die pragtige “Wat het geword van Poësie?) – waarskynlik opsetlik gespel met ‘n hoofletter – sluit die digter af met :

Hierdie Bekker het nie meer ‘n bek nie
net ‘n meesmuilende mond (p. 90).

In sy reeks lykdigte oor beroemdes word ‘n nuwe blik op bekendes se doen en late gegee. “Diana lei haar agtervolgers koud”, “Papa Hemingway vind dooierus”, “Muhammad Ali versus Parkinson”, “Jack the Ripper” getuig van iemand wat goed nagedink het oor hierdie mense en wat hulle vermag het.  So ‘n gedig word dan ook ‘n dubbel-beeld: die digter se eie lewenshouding word verraai deur sy teorie of bespiegeling oor hierdie bekendes.

Van die mooiste verse in hierdie bundel is belydende liefdesverse, geskryf uit die hart, hoewel Bekker se métier ook die gestaltevers is. Dit is ‘n speurende oog wat ‘n gedig kan raaksien in ‘n meeu wat onverwags deur ‘n fratsgolf neergevel word of ‘n gesprek kan aanstig tussen Ian Fleming en sy karakter James Bond! 

Ook die intertekstuele spel is genoeglik: Ek het ‘n huisie aan die Rand” word ‘n wrange antwoord op “Ek het ‘n huisie by die see” van H.A. Fagan; “Winternag se aand” is ‘n seksuele antwoord op Marais se “Winternag”; “Stillerlewe” aktiveer Die Stem. “Jy” speel met Van Wyk Louw se woordspel in Tristia.

Jy is die vol leegte voor my,
niks is vol sonder jou
en niks is leeg met jou nie
jy is die laagte vol voor my.

Moenie weggaan nie, nooit nie,
anders sal die leegte leeg wees
en die volheid laer as leeg. (p. 76).

Die leser kan ook nie behendige inspeel op die Bybel miskyk nie. Die ses afdelings
aktiveer die Bibliese, ook asof die digter ‘n oordeel oor homself uitspreek en die mense se nuwe metafisika in ‘n tyd van kloning, geweld, tragiese rampe, teenoor die ou filosofie plaas.

Selfs ‘n slak (“Posbestelling”) se lewe word iets waaroor die digter tob en “Immuungerus” en “Gewas” neem die digter stelling in teen siekte. In “Wals vir ma” word die verpletterende ervaring van die moeder se dood deur ander gerelativeer: dit het immers gereën! In elke gedig is daar soveel menslikheid en deernis; ‘n verstommende insig in die menslike kondisie met al sy pynlike, en terselfdertyd, nietige ervarings.

In “Stilfees” word die huweliksliefde van soveel jare seksueel gelaai: die leeftyd se ruiker word ‘n droë rangskikking. En dit is ook die liefde van die digter wat so goed verbeeld word in vele verse. “Dink ‘n bietjie mooi” word ook ‘n ars poetica en die belang van taal: dat dood altyd dieselfde bly (“Wat’s in ‘n taal? Dood is vandag, more dieselfde”).

Daar is ‘n hele klomp uitstaande verse soos die reeds genoemde programgedig oor New York, “Monochroom”, skitterende verse oor ‘n ouman in ‘n ouetehuis, ‘n persoon in ‘n tronk, om enkeles uit te sonder.  Maar dis veral die verse oor die liefde en dood wat so goed tref. 

Dit is ‘n ryk, goed afgewerkte bundel. Die leser word ook telkens teruggedwing om weer te lees, weer na te dink. Dit is die werk van ‘n beleë mens en behoort die poësiefynproewer en gewone leser te behaag. As net een bundel hierdie jaar kan bekostig, kan u gerus hierdie een koop.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Wednesday, February 6, 2013

Pirow Bekker - Van roes en amarant (2008)



Pirow Bekker. Van roes en amarantProtea Boekehuis, 2008. ISBN 978 1 86919 258 7.

Resensent: Joan Hambidge

Die digkuns van Pirow Bekker word met sy jongste bundel Van roes en amarant, netjies uitgegee deur Protea, bestendig in ‘n hele handvol gedigte wat ‘n wrang-ironiese, speelse en selfs satiriese blik verklap. Die stryd van die ouerwordende mens uigtgelewer aan slopende siektes en tanende liggaamsfunksies word in hierdie bundel ondersoek. In hierdie opsig tree dit selfs in gesprek met Barend J. Toerien se Huisapteek (2001).

Bekker is waarskynlik een van ons onderskatte digters, dikwels op die agtergrond, maar wanneer daar ‘n bundel verskyn, is dit vir die poësieleser ‘n plesierige onderneming om sy bydrae te lees.

Van roes en amarant (so verduidelik die woordeboek dit: Amaranthus, collectively known as amaranth or pigweed, is a cosmopolitan genus of herbs. Approximately 60 species are presently recognized, with inflorescences and foliage ranging from purple and red to gold. Members of this genus share many characteristics and uses with members of the closely related genus Celosia.) se voorblad is na ‘n foto van Rothea Olivier en versorg deur Martjie Bosman, daardie oerdeeglike redakteur van Protea uitgewers. Die plant wat nooit sterf nie, teenoor die roes of verdigris is die twee pole waaromheen hierdie bundel gebou word.
Die verskillende afdelingtitels gee ‘n bemoeienis met die digkuns weer en ‘n aanpassing by die oomblik (onder andere, “om tans aan te neem”).

Ons vind gesprekke met ander digters soos Gerrit Achterberg, Uys Krige, Leipoldt, Van Wyk Louw, e.a. Die markies de Sade word direk aangespreek. In “Anatomie van ‘n miskenning” (p. 99) word die skrywerslot van Toon van den Heever bekla. Van den Heever was te “uitheems” en:

Sy bundel is summier die lug ingeskiet
en die stukkies vir bloemlesings gevang.

Van den Heever se posisie is egter ook gelyk te stel aan die spreker in die gedig wat al self verby die “hardlywige keurder se kaak” moes kom.

Daar is speelse, selfs guitige verse in hierdie bundel soos “Lyfkaart” (p. 72) wat inspeel op Opperman se bekende gedig:

Die pad na ‘n man se hart
loop deur sy maag, sê hul – of wat?

Dan eindig die gedig met die ironiese einde:

Alle paaie, die hele kaboedel,
kom bymekaar in ‘n motorhektril.

Daar word oor ‘n wye verskeidenheid van onderwerpe gedig. Siekte, die dood, ‘n testament, die rol van die digkuns, tuinmaak, die natuur en wat nog. In ‘n klein religieuse gedig, “Opstanding” (p. 65) staan daar:

Sou jy na al jou tastings in die duisternis
jou in die dood as enigste genesing wil berus,
dink aan ‘n graf by Jerusalem: Nooit was iets leegs
ooit weer vir heling so vol betekenis.

Die paradoks wat hier uitgewerk word, is part en deel van vele van die gedigte. In “Verknog” (p. 64) word die wete dat dit wat ons begeer of wil hê, juis nie gevind word nie. In “Duskant Cookham Lock” (p. 60) word sterk sosiale kommentaar uitgespreek. Die glorieryke geskiedenis wat bewaar word teenoor die ervaring van die Afrikaanse reisiger bring uiteraard skerp ironieë na vore soos die konsentrasiekampe, die verskille tussen die Teems en die Apiesrivier. Met Krige se “Tramode” as die interteks word daar gekyk na die name (en versugtinge) van kultuurverskille én die verengelsing van die moderne wêreld.
Daar word ‘n ode aan die onrus geskryf en Jacqueline du Pré tree in gesprek met haar tjello en die wete hoe haar siekte uiteindelik haar kuns aangetas het.

Dis veral die ironiese blik wat vir hierdie leser die leeservaring besonder aangenaam en boeiend gemaak het. In die gedig “Sundowner” (p. 27) word die dood in terme van die blou-uur beskryf. Daar word afskeid geneem van die tuin en huis:

Kyk, ék los, word wêreldburger,
was lank genoeg faktotum-waterdraer.
Ek sal ‘n London fog op julle lig:
Die mis kom orals eenders nader.

Dit spreek vanself dat dit vir hierdie leser ‘n uiters boeiende en opwindende leeservaring was. Wanneer ‘n bundel my aanspreek, maak ek donkieore by die gedigte waarna ek altyd weer sal en wil terugkeer. In hierdie bundel, ‘n besonder lywige een, staan daar ‘n hele paar van hulle.

Die digter neem vele dinge waar: ‘n tsoenami, ‘n toktokkie, die noodlot wat jou lewe verander (“Gestadig”, p. 19).

In “Die doppieklinker” (p. 22) posisioneer die digter homself as ‘n “ek-is-wat-ek-isser”. En dis hoe die meeste gedigte is: sonder swier, praal: met ‘n skerp blik onder die roes en verdigris deur.

Die bundel ondersoek dus die ewige spanning bekend aan die digkuns tussen dit wat taan en dit wat behoue bly; dit wat vernietig en dit wat genees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]