Showing posts with label Versindaba. Show all posts
Showing posts with label Versindaba. Show all posts
Wednesday, November 19, 2014
Rubriek: Die stand van sake
Die funksie van keurverslae en resensies is om ‘n kritiese en gedistansieerde reaksie op ‘n boek te kry. ‘n Resensent skryf ‘n eerste, kritiese reaksie op ‘n teks, wat ingelig en eerlik behoort te wees.
Binne ‘n klein letterkunde is alliansies en vriendskappe uiteraard daar. My vriendskap met Johann de Lange is bekend, maar wanneer hy ‘n boek aan my opdra, resenseer ek dit nie. Ek is besig met ‘n studie oor sy werk – krities en gedistansieerd – maar ons vriendskap vorm nie deel van hierdie projek nie. Trouens, ons verskil oor etlike letterkundige kwessies.
Nou onlangs vra ‘n webmeester van ‘n digkuns-webblad vir my om ‘n bundel te resenseer. Ek wys dit van die hand, omdat ek die eksaminator was van die MA in kreatiewe skryfwerk aan ‘n ander universiteit. Ek was onder die indruk van die bundel, maar het tog gevoel dat ‘n resensie ‘n duplisering van my mening oor die bundel gaan wees. En dat ek deel was van die totstandkoming van die bundel met aanwysings en kanttekeninge. So gesien, dus deel van die proses.
Net so min as wat ek my studente resenseer wat binne die kreatiewe kursus aan die UK onder my werk en publiseer, vind ek dit nie in orde nie wanneer iemand in die kursus (wat dus nog nie gepubliseer het nie), ‘n pas gedebuteerde resenseer en allerlei wyshede die wêreld instuur. Ek resenseer ‘n klasmaat, of voormalige klasmaat; hoe “objektief”, “gedistansieerd” kan dit wees?
Vanoggend maak ‘n kollega in die Engelse departement my daarop attent dat daar sopas ‘n resensie van In a burning sea verskyn het, en, voeg hy fronsend by, ek meen die kritiek in die Cape Times is deur Brink se vrou geskryf? Het Brink dan nie die voorwoord geskryf en gehelp met die keuse van die gedigte nie? Dit het 14 November verskyn.
‘n Nederlandse klassikus het sopas Fragmente uit die Ilias van Cas Vos aangekoop en die resensie op die Versindaba gelees. Die resensent, ene Gerhard Swart, dosent in Antieke Tale aan die Universiteit van Pretoria, word bedank in die voorwoord vir die wenke wat hy aangebied hy by die vertaling. So wie resenseer Swart? Cas Vos of homself? Hierdie grys area maak my dadelik waaksaam vir die geldigheid van die resensie ten spyte van die goeie insigte en die waarde van die uitgebreide inleiding.
Teen die einde van die resensie skryf Swart: “’n Kunstenaar wat sy kunsvorm goed beoefen, verdien applous; ontvang applous; erken applous.”
Koos Kombuis skryf ‘n lesersindruk op Litnet oor Herman Lategan se Binnekring van spookasems, met ander woorde, hy vertel die storie agter die storie en hoe dit gekom het dat hy die “shout” vir die boek geskryf het. Dis ‘n lieflike, skreeusnaakse verslag, maar die leserreaksies onderaan laat blyk dat dit tóg as ‘n resensie ervaar word al is dit ‘n rubriek, en ons word dan ook verwys na die werklike (?) resensie deur Martie Meiring-Retief.
Nou onlangs word ek gevra om In a burning sea te resenseer. Ek verklaar onmiddellik dat ek hierin opgeneem is en sou miskien oor die vertalings iets kon uitwys. Beide die boekeredakteur en ekself besluit wyslik oor ‘n koppie koffie dat dit nie korrek sou wees nie. Nie heeltemal verkeerd nie, maar soos om ‘n bed te deel met die keurder/inleier van ‘n bundel wat jy resenseer in die openbare domein. Boonop staan daar: “André Brink’s introduction gives a short historical overview of Afrikaans poetry and its various trends, placing the selection in context.”
Miskien het die kultuur rondom sosiale media soos Facebook tot gevolg gehad dat grense vervaag. Dat alles gemoedeliker geraak het. Dat ons sommer gou-gou iets skryf en “post” en nie nadink oor die langtermyn-implikasies in 'n vinnig veranderende wêreld nie.
Maar dink daaroor na. Die resensie mag positief en gloeiend wees, maar die ingeligte leser is skepties, en op die lange duur is dit nadelig vir die boek en die hele bedryf waartoe sowel skrywer as leser behoort. En die proses van kanonisering kan nie ligtelik opgeneem word nie.
Daar was ‘n tyd toe D.J. Opperman, ‘n gesiene kanoniseerder, sowel keurder was vir Tafelberg as Human & Rousseau uitgewers. Nodeloos om te sê: dit het gelei (gely?) tot konflik en ongelukkigheid wanneer ‘n digter tweekeer afgekeur word deur dieselfde keurder!
Hierom skryf ek keurverslae onder my eie naam en versoek ek altyd dat daar by ‘n tesisverslag my naam geplaas moet word.
Want dis belangrik. Wie het wat en wie het wat waar geskryf.
Joan Hambidge
Kaapstad, 18 November 2014
Thursday, March 27, 2014
Huldeblyk: Hennie Aucamp (1934 – 2014)
Hennie Aucamp (Foto: Edrea du Toit)
“Nogtans sal hy nooit van ons weggaan nie, hy sal deel word
van die landskap wat ons liefhet, en mettertyd sal hy meer en meer by ons wees,
pleks van minder en minder. Want die lewe word meteens helder na sy dood.
Terwyl die mens nog leef, verhinder sy gestalte jou om hom duidelik te sien.
Net sodra die liggaam weg is, kom die onvernietigbare gees na vore, en kom
staan in alle helderte voor jou. Dan sien jy ook dat ons bestaan, van óns kant
af gesien, ‘n ondeurdringbare raaisel is, ‘n newel in party opsigte, wat eers
moet weggaan voordat ons tot sien kan kom. Die klein, vodsige bekleedsels van
aardse struwel en trawal verdwyn meteens uit die gedagte en net die wesentlike
bly oor. Daardie wesentlike maak die agtergeblewene sterk, omdat dit self die
krag van ‘n hele lewe bevat.”
- Petra Müller, in ‘n brief aan E. Kotze aangehaal in Slag
van die breekbrander
I Enkelvlug
Op 20 Januarie het ek Hennie Aucamp die laaste keer gesien.
By On the Rocks. ‘n Heerlike saamkuier en vrolike geskerts met akademiese vriende
om sy verjaarsdag te vier. Daarna het ons ‘n paar keer telefonies gesels en my
skatpligtigheid aan Aucamp mag ek nie onbetuig laat nie. In Die Burger van 22
Maart maak ek die volgende punte:
1. Hy is waarskynlik
die skrywer met die meeste fasette: kortverhaalskrywer, aforis, bloemleser,
digter, dagboekhouer, kabarettis, liriekskrywer, resensent, Boesmankenner,
kunskenner, genderteoretikus…
2. Hy het skrywers, veral gay-skrywers, geleer om sonder
skroom oor hul ervarings te skryf;
3. In sy kortverhaalhandboek, Die blote storie (1986), leer
hy jou veel van die tegnieke van skryf;
4. Die belangrikste raad wat ek ooit van hom ontvang het: jy
moet eers ‘n ervaring emosioneel verwerk alvorens dit “werk” as verhaal of
gedig;
5. Sy verlies binne ons letterkunde is enorm en Johann de
Lange se Vreemder as fiksie (1996) belig hierdie kompleksiteit met die wete dat
Prinsloo, Danie Botha et al. nie sou kon doen sonder Aucamp as baken nie;
6. Sy jongste digbundel Skulp het sopas verskyn by Protea.
II Die lewe is ’n
grenshotel
Met sy dood, beleef ons die einde van ‘n belangrike era.
Daar is geen gay-skrywer wat nie iets aan Aucamp verskuldig is nie en hierdie
belangrike aspek het Johann de Lange alreeds gekarteer in sy kortverhaalbundel
Vreemder as fiksie (1996) met ‘n voorblad waar drie gesigte, Aucamp, Prinsloo
en De Lange, een word. Aucamp se “Vir vier stemme” – opgeneem in sy bundel
Volmink wat in 1982 verskyn het, is ‘n kragtoer. Gebaseer op ‘n werklike
verhaal wat die skrywer vanuit vier perspektiewe vertel, word die tragiese dood
van ‘n jong man weergegee en die aannames oor seksualiteit aan die kaak gestel.
Die blote storie – met die sub-titel – ‘n werkboek vir kortverhaalskrywers gee
die mentorkant van Aucamp weer. Hy deel wenke en hy plaas elke keer ‘n bepaalde
tegniek binne die wêreldletterkunde. Waarskuwings soos dat die vertelling nooit
verby sy slot moet beweeg nie, is bepaald belangrike raad vir elke skrywer.
Skulp (2014: Protea Boekhuis) dra die veelseggende motto:
Am I indifferent, then, to my own death?
No, it’s not a matter of indifference, but
rather a kind of distance, a sort of
screen which is very difficult to
describe in words.
Amos Oz, Late Love
Rooi ontploffing
Die vrou van die oorkantste balkon
het iets roekeloos gedoen:
twee kleibakke gevul met malvas,
en dood met die lewe versoen.
(30)
Wenresep
Jan Pierewaaier, Jan Pierewiet
hou min konserte en sing één lied.
Hou dit lig, raai hy aan, en dis genoeg:
’n klinkende naam en ’n volbloed-hit.
(44)
Ek het op my blog oor verskeie aspekte van Aucamp geskryf (Hennie Aucamp 80)
Aucamp se belangrike bydrae tot ons digkuns mag veral nie
onvermeld gelaat word nie. As behendige beoefenaar van veral die sonnet, moet
ons hom huldig. Hittegolf, ‘n hoogtepunt in sy oeuvre, het in 2002 by Homeros
verskyn en ek het soos volg oor hierdie bundel geskryf:
Hittegolf (wulpse sonnette met ‘n nawoord) bevat ‘n hele
aantal uiters bedrewe sonnette van die skrywer Hennie Aucamp. En oor die
struktuur van die sonnet het Ronnie Belcher wel deeglik geskryf en ‘n mens sou
ook jouself die vraag kon afvra: waarom vind ons soveel ‘gebreekte sonnette’ by
digters uit die tagtigerjare?
Wat my eerder interesseer aan hierdie interessante
versameling is die gebruik van die voetnoot/verklaring by elke gedig. Hoekom
vind ‘n digter dit nodig om inligting by te sit? In L.S. van Leon Strydom word
hierdie tegniek vermaaklik uitgebuit: die gedig word verironiseer deur die
voetnoot.
Berlin von damals: nóg ‘n fiksie
Maskeer, soos alle skrywers pleeg te doen,
die I.D. van jou oermodel.
Ook Spender speel dié dobbelspel –
en List se naam word blink geboen
tot Lenz, esteet, in sy roman The Temple,
wat met sy foto’s stilweg stempel
die ganse Weimar-kavalkade
voor Sonnenuntergang – und Schade.
Maar Spender – “great big spender’ -
van name, mense en ‘n tyd –
moet jy jong Leavitt dit verwyt,
hom uitroep tot privaatheid-skender,
as hy jou in sý fiksie plaas?
Waarskynlik, ja. Want negatief, helaas.
Dan lui die voetnoot: “Die eerste weergawe van David Leavitt
se boek, While England Sleeps (1993), is onttrek omdat die skrywer en digter,
Stephen Spender, hom te ná gekom gevoel het. Beide Spender en Leavitt gebruik
foto’s van die beroemde Herbert List as omslae: Spender vir The Temple (1988);
Leavitt (saam met Mark Mitchell) vir die bloemlesing The Penguin Book of Gay
Short Stories (1994).”
Dosente leer studente dat voetnotas nodig is. Dit is om
erkenning te gee of om iets te substansieer wat nie in die hoofargument genoem
kan word nie, omdat dit ‘n breuk in die argument kan veroorsaak.
In Johann de Lange se Vreemder as fiksie word verhale ook
van voetnotas voorsien. In Koos Prinsloo se Weifeling is daar endnotas…
Dit is dan eintlik ‘n ironiese gedig hierdie, want die
‘in’-leser herken hier ook ‘n persoonlike dilemma: naamlik hoé Aucamp destyds
moes gevoel het toe Prinsloo sy privaatheid geskend het in ‘n verhaal “Portrait
of the artist” (in 1993) en een wat De Lange behendig uitbrei in sy weergawe “A
portrait of the artist as a young dog” in die genoemde Vreemder as fiksie
(1996). (Dalk het hy nie die ironie besef dat hy ook in verhale oor “bekendes”
geskryf het nie?)
Mag ‘n mens oor (h)erkenbare figure skryf? Veral as die name
nie blink gepoets word nie? Is alle skrywers nie maar wesentlik besig om oor
hul eie lewens en ervarings te skryf nie? Is skrywers nie maar besig met ‘n
Madame Tussauds van die woord nie?
Of die dramatis personae Spender/Leavitt, Aucamp/Prinsloo,
Aucamp/De Lange is, maak nie saak nie. Die gegewe bly identies. Die toneel van
die skrywer.
Die skrywer wat ‘n storie sal vertel ongeag die prys wat dit
mag inhou.
Gedigte het ‘n voetnoot of endnoot. Een wat miskien nie
altyd bekend is aan buite-lesers nie. Maar die ingeligtes, die twee (liefdes)-
of (haat)partye ken dit. Die brose skoonheid van sonnette wat by Petrarca
uitval in die oktaaf en sekstet. Verbeelding en werklikheid. Drif en
ontnugtering. Alles glo te make dat toe hy Laura op 6 April in 1327 in ‘n
kerkie in Avignon gesien het, is hy oorweldig deur die liefde.
Maar as Laura kon praat? Sy wat volgens Norman O. Brown die
rede vir die Canzoniere was: die drif agter die gedigte?
Wat sou sy skryf? En dis hierdie intelligente spel wat
Aucamp in sy reeks sonnette met die leser speel. Of dit is die agtergrond agter
die teks wat hy via ander boeke bekend maak, of dit is ‘n bekende skildery of
ets wat langs die sonnet staan gemaak word via ‘n verduideliking of kundige
skets.
‘n Gedig soos “Pylvak”(p. 49) vra van die leser navorsing of
belesenheid:
Waar begin volwassenheid by ‘n matinee-idool?
As hy ophou om sy hare en brouers te kleur
en jaarliks hom minder aan uitstulpings steur
en meewarig leer kyk na sy stuurse ou voël.
Die rolmodel hier is die filmakteur
wat sy image van vroeër dekonstrueer;
die Fransman Delon – geen spring chicken meer –
speel, wys en ironies, Casanova ontfleur.
Mastroianni is ‘n ander, en Josephson die Sweed,
wat hul ouderdom benut het, en hieruit kon skep
“ronde” karakters, wat jy nooit weer vergeet:
poefters en praalhanse; aftands, verlep;
maar elkeen ‘n mens, en hul oë sein deur,
uit ydel gesigte, ‘n fyn connoisseur.
Anders as die Vlugsout-rubriek en vinnige aforismes op
Litnet is hierdie sonnette werklik uitstekend en goed afgewerk. Dit is gedigte
wat tot in die fynste vesels afgewerk is en wat tegnies behaag.
Dit bevat ook ‘n kundige nawoord en ‘n flapteks van Johann
de Lange wat ons terugneem na Aretino en Brecht se tekste. Aucamp se tekste
bevat dikwels insigryke essays wat die leser van onnoembaar belangrike
inligting voorsien. En hier is hy bepaald in die kol wanneer hy die
skroomvalligheid rondom ruige taalgebruik in die letterkunde bespreek. Tereg
wys hy op Krog se boesem-eerlike gedigte; ‘n mens behoort egter ook die
baanbrekerswerk van Johann de Lange in Nagsweet te vermeld.
Hier speel Aucamp voortreflik met die struktuur van die
Engelse sonnet.
III Allersiele
Aucamp is ook aforis, skrywer van die kortsneller en die
kwatryn. In sy pasverskene bundel Skulp staan daar ‘n paar lieflike kwatryne
wat ek graag met my leser deel:
Die terugkeer
My verse kom skoorvoetend nader,
asof hulle my oproep wantrou;
en ek pleit: Wees geduldig, veral nou,
al ooit gehoor van die Verlore Vader?
(7)
Bliksemsnel
Gister, eergister was hy heel en gesond
en stal hom nakend ten toon;
maar toe slaan toe die Groot Onpartydige,
en nou is hy weg, onverskoon.
(46)
Party is tipies Aucamp snaaks:
Transvestiet
Sy stoppelbaard prik sy grimering
en daar is swelsels onder sy oë,
maar die liggaamstaal en o! die ring!
bevestig sy alvermoë.
(38)
Hierdie leser sien in hierdie bundel ‘n afskeid aan die
lewe. “Moet nooit bitter word nie,” het hy eenkeer gewaarsku, “want bitterheid
maak jou onaangenaam vir ander mense, maar veral vir jouself.”
Ons moet nog nadink oor twee afgeskeepte tekste:
Kommerkrale: ’n AB-jap vir akoliete (1983) en Pluk die dag: aforismes en ander
puntighede (1994).
Toe die digter en regisseur, Stephan Bouwer onverwags oorlede
is, het Aucamp geskryf dat ons nog nie sy impak kan bepaal nie. Dieselfde geld
Aucamp wat op soveel fronte ons letterkunde verryk het. Dis waarskynlik altyd
moeilik om iemand so kort na sy dood “in te skat”, veral as sy oeuvre so groot
was. Hy was ‘n ware gewer, op alle vlakke.
Dit is dan my hartseerwals.
Endnote:
1. Aucamp het die volgende pryse ontvang.
1970 – Tafelbergprys
1974 – W.A. Hofmeyrprys
1980 – ATKV-prys vir Drama
1996 – Recht Malan-prys
1982 – Hertzogprys
1987 – Fleur du Cap-toneelprys
2004 – ATKV-Prestigetoekenning
2004 – Fleur du Cap-teaterprys vir lewenswerk en bydrae tot
teater
2004 – Afrikaans Onbeperk Kanna vir Lewensbydrae
2004 – LitNet se Mont du Toit Kelder-wyngedigtekompetisie
2006 – Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap
2. Op Versindaba se poësieblad kan die leser 'n groot gerf verse van Hennie Aucamp te lese kry (Versindaba » hennie aucamp. Besoek 23 Maart 2013).
Monday, March 17, 2014
Die resepsie van Johann de Lange se Vaarwel, my effens bevlekte held
Vaarwel, my effens
bevlekte held
Vaarwel, my effens
bevlekte held is ‘n bundel waarin die digkuns as talige proses opnuut na
vore kom en die tematiek van die homoseksuele bestaan ontgin word. Daar is
natuurverse en ‘n gesprek met ander digters en vroeë verse. Steeds is daar
verse oor bekende suicidaires en die tragiese lot van Ingrid Jonker en Marilyn
Monroe word steeds ondersoek. ’n Ryk ontginning van die numineuse en die
metafisika word in hierdie bundel aangetref met ‘n soeke na heel-wording (die
mandala in Jungiaanse terme). Vervolgens word die vier belangrikste besprekings
volledig geplaas (Versindaba, Litnet, Beeld en Tydskrif vir
letterkunde).
Die volgende kodes word by ‘n herlees van belang:
1. die voorblad van Chris Diederichs wat heet Death of the inside warrior wat die
aflegging van die ou self beklemtoon. Dit is dan so beskou ‘n bundel van
individuasie en die twee figure op die voorblad is as't ware ‘n boksmaat,
skermmaat in Louw se terme. Ego en alter-ego, maar ook nuwe, soberder digter teenoor
die cruiser. ‘n Mens vind in hierdie bundel telkens verwysings na onttrekking
en stilte wat in die volgende bundel, Stil
punt van die aarde, vérder uitgewerk word.
2. die ars poetica of self-refleksiewe gedigte wat aandag
gee aan taal (“Woorde is my kontinent, / & poësie is my republiek”, 9) word
reeds in die programgedig “Woorde” aangetref. De Lange se soeke na die regte
woord, word telkens deur lesers uitgewys. ‘n Gedig soos “Vismot” (11) word weer
vanuit ‘n ander hoek beskou in Stil punt
van die aarde in die vers “Insek”:
gooi jy, hoe gering ook,
jou skadu,
‘n delikate fyn silhoeët,
onwesenlike klein kamee
tot die fynste detail afgewerk:
die spits skubbe op jou lyf,
jou geartikuleerde harnas
wat die lig vang
& soos olie op water iriseer.
Jy is ‘n stralende stippel.
‘n Kirliaanse korona.
Ek wou jou net o-so-ligweg
aanraak, maar verbrysel jou
onder my vingertop.
Onsigbaar vir my growwer oog
is die besonderhede van jou
verbryseling: net ‘n vuil strepie
sigbaar, klein soos ‘n cédille,
op die onbeskrewe vel papier.
(31)
Die dubbelloop-aksie tussen die twee bundels is nou vanuit ‘n
agterna-perspektief opvallend. Daar is myns insiens eintlik sprake van ‘n
triptiek tussen Vaarwel, my effens
bevlekte held, Stil punt van die
aarde en Algebra van nood
aantoonbaar in die “ligte sirkels van algebra” (13). Hierdie sirkelgang dui op die
individuasie-proses of heelwording in die digter se gemoed. “Brueghel in Parow”
(37) vind sy pendant in die voortreflike “Double exposure” (109) in die jongste
bundel:
Double exposure
Oor wat wanskape is, of gruwelik
was die ou meesters wys. Hoe goed begryp hulle
die onmenslike weersin, die weerkaatsing
as een opkyk van sy foie gras vás
in ‘n gesig vasgedruk teen die glas;
of bejaardes wat verwilderd in tehuise lê
& wag & pleit vir die langbegeerde uitkoms.
Babas saamgesiamees, of sonder ledemate,
& kinders wat kaalkop & gedreineer glimlag
deur die chemo, tot viering van defekte gene.
Op TV paradeer skoonheidskoninginne
van alle ouderdomme oorryp & opgesmuk.
Op ‘n ander kanaal wag ‘n aasvoël aartsgeduldig
vir die kind met verhongering se grimas
om stadig op sy hurke te sit-sterf.
‘n Junkie bedel by verkeersligte,
skaam vir sy stigmas van die naald.
Op Zapruder se film, kyk
hoe al die kameras heel tydsaam
dog onkeerbaar wegkeer van die sluipskutter,
of ophou verfilm sekondes voor die raampie
wat die misterie sou ontrafel het. Die fokus
was elders, & dit was ‘n belangrike mislukking,
perfekte weer & fotograwe ten spyt.
Twee vliegtuie verdwyn vlammend in die Twin Towers
terwyl ‘n stad ontwaak onder gunstige weervoorspellings.
Die vrou wat uit haar juweelkissie iets kosbaars kies,
is te besig om te sien hoe ‘n man gekruisig
verby vaal verdiepings val.
Sy maak reg vir ‘n groot onthaal,
& grimeer rustig & met sorg
die gesig wat na haar terugstaar in die antieke spieël.
(109)
“Hand-held” (43) pleit om ‘n saamlees met “Jake van Londen”
(53) in Stil punt van die aarde.
3. Die natuurverse is egter meer as natuurverse soos die vers
“Binnehof” (19) dan ook aantoon. Die Vermeer-lig val die kamer binne “onberaam”
en tog dwing die digter sy leser voortdurend om met ‘n spel van tekens te
speel: Framing the sign soos Jonathan Culler dit definieer in sy studie (Basil
Blackwell, 1988). Dat die leser semioties moet lees, word in ‘n vers soos “Duisendpoot”
(24) beklemtoon met die “listige S” van die duisendpoot se lyf! Die teken as
teiken, kan ‘n mens uitroep. Die speurende oog kyk na die hemelruim (die Niet
& Al) met sy smal pupil. Voortdurend vind hy tekens wat hy ‘n verband bring
met die oënskynlik teenstrydige. Alles word spieëlbeelde van mekaar (“Sneeureier”,
31).
4. die seksuele dimensie wat in “Platonies” - na aanleiding
van Auden - gelees kan word as ‘n aflegging van liggaamlike uitbundigheid en ‘n
oorgang na die metafisiese dimensie, bykans asof hierdie magistrale herdigting ‘n
afskeid aan liggaamlikheid is.
5. herdigtings en intertekste is eweneens opvallend by ‘n
her-lees van hierdie bundel wat op ‘n uiters gesofistikeerde wyse gelees kan
word as ‘n digterlike bestekopname. “Alleenspraak by donkermaan” (35) maak ‘n
kniebuiging na N.P. van Wyk Louw met die opsetlike beeld van die “digterlike
maan”! “Afskryf” (82) heraktiveer die ou-ou obsessie met Ingrid Jonker wat
regdeur die digkuns loop.
6. die beeldverse soos oor Wilde, Tsjaikofski en Uys Krige
(o.a.) vind weer hul antwoorde in Stil punt van die aarde met onder andere
verse oor Warhol, Pavarotti en Boerneef (o.a.) Die titel is immers ‘n huldeblyk
aan een van Afrikaans se grootste beelddigters Johan van Wyk.
7. die lykdigte vir die gestorwe diere word in beide bundels
tot ‘n hoogtepunt gevoer.
*
Hunkering se grein: Vaarwel, my effens bevlekte held
Joan Hambidge (Versindaba)
Kort na die verskyning van Weerlig van die ongeloof, ‘n
besondere knap bundel met kwatryne en vierreëlige verse, verskyn daar ‘n bundel
Vaarwel, my effens bevlekte held met ‘n besondere mooi omslag van Christiaan
Diedericks “Death of the inside warrior”, wat reeds die toonaard van hierdie
bundel aandui, te wete die aflegging van die ouer self, die cruising digter en
die soektog na heelheid. Weerlig van die ongeloof is ‘n oorgangsbundel om tot ‘n
beter begrip te kom van Vaarwel, my effens bevlekte held, kortliks dan ook iets
oor die sogenaamde kwatrynbundel wat tussen Algebra van nood en die jongste bundel
aflegging staan. “Vaarwel” dui op, finaliteit en hierdie titel speel in op ‘n
reël van Johan van Wyk. “Bevlekte” aktiveer die vele verse van self-bevlekking,
sover terug as Snel grys fantoom wat die gesprek met Van Wyk Louw aktiveer.
Die bundeltitel verwys na ‘n gedig van Johan van Wyk:
Vader Vark
Vader Vark
het na die oorlog gegaan en Moeder
die riviersloepmaagd is in rosige stukke
gekruisig; daar is rommel op die dokke,
die flou aroma van spelende robbe
en die klank van sy horing
op soek na ‘n dooie nimf.
Vaarwel my effens bevlekte held.
In hierdie bundel word die programgedig ars poëties gerig en
die digter posisioneer homself teen die oorrompelende digproses as ‘n
kontinent. In “Taal” (10) word die gedig verbind aan die Pegasus-beeld waar die
digter stoei met die onbuigsame woord, maar uiteindelik ten spyte van die
onbuigsaamheid daarvan, steeds in die saal bly.
Gesprekke met bekende voorgangers (Marais, Cussons, Louw)
word in “Vismot” (11) aan die orde gestel in ‘n soort aweregse ars poëtica. Wat
hierdie bundel besonder interessant en opwindend maak, is die herskrywing van
vorige gedigte (die programvers speel byvoorbeeld in op vorige verse oor die
San Andreas-fout) en die hiermee gepaardgaande gesprek met digters wat ons ook
al aangetref het soos Marais, Louw, Cussons en andere. Meer as ooit tevore, is
die bewuswees van die digproses as ‘n talige proses:
Uit sy vrugbare penpunt kom voort:
vlugte, blou seereise & aardse sange,
galeie & oorloë. Sy skryf is ‘n gier
na roem, of seks, hy laat ander
aan sy pen ry, skryf uit wraak
of weerwraak, of om te plesier.
Hy los sy spore op papier.
(“Narwal”, 12)
Die “Leeuvis” (22) wat gesuspendeerd agter glas hang, is ‘n
beeld vir die skryfproses: net soos wat die vis ‘n “onwesenlike watermerk” is,
verplaas die gedig net soveel veerlig wit. Beide die leeuvis en die gedig is
objekte wat getransformeer is: die vis is eers iets wat op ‘n niksvermoedende
prooi wag; later lyk dit soos ‘n beskilderde objek. Die gedig spruit immers
eers uit iets wat beleef is en dan beskryf word. Die begrip hologram is hier
die kode vir die begryp van die gedig waar vis en gedig één word.
Benewens die skryfproses word die homo-erotiese tematiek ook
ontgin, onder andere in die uitstekende vertaling van Auden se oorrompelende
vers, hier getitel “Platonies” (59). Ook
die herdigting van Takahashi Mutsuo “Myself met ‘n motorfiets” (op Litnet) dra
hierdie tematiek besonder helder oor. Die sterk natuurverse is eweneens weer
deel van die tematiek. Dit is egter méér as ‘n blote natuurvers, omdat die
natuurgegewe of landskap immer aan ‘n groter metafisika verbind word soos in
die vers “Genade” (17):
Ek wou hom vinnig red
van die skroeiende lug,
smak hom neer & gryp ‘n mes
vir vinnig sny nét agter die kieu –
Maar my lem was stomp.
Nou staar die aluminiumfoelieoog
emosieloos & onbevrees –
die lyf spartel glibberig in my greep,
‘n silwer reënboog half verslyt,
& die mond gaap oop & toe
in geluidlose verwyt.
Hierdie vers met sy sterk epifaniese moment, aktiveer die
digkuns van Sheila Cussons. Die gelykstelling van die vis se lyf as ‘n silwer
reënboog, verbind die aardse met die metafisiese. Die vis is ook ichtus,
simbool van die Christelike geloof. Die vis buite die water kan nie oorleef
nie. Die spreker wou die vis red, maar word gedwing om hom dood te maak, juis
omdat die vis buite die water blootgestel is. Die spreker is egter nie in staat
om die vis vinnig dood te maak nie, omdat die lem van die mes stomp is. Iets
wat die spreker in ‘n daad van genade wou uitvoer, lei egter tot ‘n
(self)verwyt. Hierdie komplekse vers aktiveer verskillende aspekte van die
menslike lewe: geloof, die verbintenis tussen lewe én dood en uiteindelik hoe
die skryfproses ‘n tydsame proses is wat die spreker vasvang tussen
verskillende dimensies. In “Duisendpoot” (24) word die metafisika van die
biddende en vloekende duisendpoot ook ontgin. Die geslote sirkel of mandala
beteken hy bid; wanneer hy wild krul of kartel beteken hy vloek God.
Die verwysing na beeldende kunstenaars (soos Rembrandt en
Vermeer) maak die gegewe groter. In “Binnehof” (19) word die stilte en wit lig
van Vermeer geaktiveer om volledige eensaamheid te vergestalt; in “Stillewe met
tulp” (20) word met die helder kleure van die tulpe die kontras met die
donkerder Rembrandt geaktiveer. Hierdie gedig benut die paradoks – iets waarin De Lange
uitmunt: Weens die onafheid, die fout het die twee mekaar
geliefdes mekaar lief.
“Evolusie van die oog” (29) is ‘n sentrale vers in die
bundel waar die blikhoek op die jeug en die verganklikheid van alles telkens
onder die loep kom. Dit word deur sterk natuurbeelde gedra en in haikoe-agtige
vers word die weerloosheid van alles weergegee:
Kroonden
Die kroonden lê omgeval
beenwit grynswit in die son.
(30)
Die vers “Mausoleum” (90) word tereg as ‘n visioen getipeer
met die sterk toespelings op Cussons. Die gedigte raak nou afwerend; dit
beskerm nie meer die spreker teen pyn of ellende nie.
Wat die verganklikheid van die liefde betref, waarskynlik een van die sterkste verse in die bundel, is die gedig “Brueghel
in Parow” (37), wat inspeel op 9/11, en terselfdertyd praat met Auden se klassieke vers “Musée des
Beaux Arts”: “About suffering they were never wrong, / The old masters”. Hierteenoor staan die kragtige
jeugherinnering in “Oom Niek” (39) en die “boetpsalms” van ‘n teisterende oom
wat die spreker as volwassene nou ervaar en inspeel op die ander verse rondom
skuld en verwyt. Die ouma word bykans ‘n mitiese figuur en sy word verbind aan
die Kristeviaanse chora, daar waar digterlike taal skuilhou: die pre-simboliese
of simbiotiese dimensie.
vir Joan
My ouma stuur my na ‘n boord
om vye te gaan pluk. My vingers
proef die skurwe vel, my tong
flikker oor iets ontwyk-
end soos ‘n woord,
of proe ek reeds die antidoot
van ‘n gedig? Die mandjie, soos ‘n lyf,
rus rond & kwesbaar in haar skoot.
(41)
Die minnaar (“My minnaar”, 44) word gekoppel aan die sterk
Jeffrey Dahmer-verse uit vorige bundels waar die liefde gesien word as
grieselig en veral in die skryfproses word die geliefde doodgemaak.
“Nóg die heuning nóg die by” (45) neem hierdie proses verder wanneer die spreker afreken met ‘n jeugdige persoon se ervarings van
gay-wees met die klinkende en siniese slot:
Mooi om na te kyk, selfs te begeer, of atleties te gebruik.
Maar daai untravelled fuck sal jou immer bly ontwyk.
Die speurende leser sal vele intertekste kan uittorring wat
deur die vaardige digter verskuil word.
Die seksuele is immer ‘n “republiek van begeerte”, “hunkering
se grein”, soos die vers wat eindig op ‘n reël van Cussons dan ook aandui.
Marilyn Monroe kom weer onder die loep in ‘n vers, ironies
beskryf as ‘n optelgedig, waar sy buite beeld (dus “off camera”) staan en nie
die persona MM is nie. Hierdie vers rig dikwels ander verse in hul toevallige,
dog skerp waarnemings. Alles is ook reeds geskryf in die digterlike oeuvre,
maar elke vers keer terug na ou temas op ‘n nuwe wyse: inderdaad ‘n nuwe
liedjie op ‘n ou deuntjie. Portretverse bekend aan hierdie digterskap, word
uitsonderlik uitgevoer in die gedig oor Uys Krige: “In memoriam: Uys Krige”
(74), wat die Spaanse denk- en leefwêreld verder voer. Daar is eweneens verse
oor Anne Frank en Tsjaikofski. Hiermee saam loop die religieuse stramien deur
die bundel tot uitvoer gebring in verse soos “Die diensbaarheid van bome” (71),
en “Google Golgota” (93).
Die gedig oor John Berryman se selfmoord “Skielik skemer”
(78) ondersoek die implikasies van selfmoord rondom uitdrukkings soos “water
onder die brug” en “oor die muur”.
Skielik skemer
– What happen then, Mr Bones?
– I had a most marvellous
piece of luck. I died.
John Berryman
Hoe dikwels het jy nie deur jou kantoorvenster
na die brug gestaar nie. Gewonder of dit jou weg
kon vat. Soos Hart Crane oor die relings
van die ss. Orizaba & in sy vaar-
waters in. Hy het glo sterk & doelgerig wéggeswem,
sy skoene netjies op die dek.
Art Hitman, skryn-
werker op kampus het jou op die brugreling sien sit,
met ‘n streep weg & teen die grein,
voor jy sonder terugkyk vooroor gekantel het
om buite sig skipbreuk te ly, die grys beton te vlek.
Uitgeken net aan jou bril & ‘n blanko tjek.
Jou laaste gedig is sonder slot: ‘n eerste weergawe
van jou dood wat jy op jou lessenaar vir Kate wou los
om te lees. Ten slotte trek jy ‘n laag-
waterlyn daardeur & smyt dit in die snippermandjie vir
Kate
om op af te kom. Maar toe was jy al oor die muur
& water onder die brug. Vaarwel, my effens bevlekte held.
Hierdie gedig aktiveer die titel van die bundel en so
beskou, is Berryman (& die ampersand) ‘n sentrale vers in die bundel.
In die lang galery van selfmoordverse en verse wat handel
oor die dood van bekende figure soos Eugène N. Marais, Ernst van Heerden en
Koos Prinsloo, o.a. word die spreker in die vers volledig een met die
onderwerp. Die toeval van Art Hitman, die skrynwerker wat die digter op die
reling sien sit, beklemtoon hoe die digterlike prosedure dikwels op blote geluk
en toeval berus. Hiermee saam is die digter ook besig met ‘n bewuste spel soos
in die parodie op Jonker se “Bitterbessie dagbreek” in die gedig “afskryf”
(82). (Deesdae moet toestemming verleen word wanneer gedigte gebruik en
geparodieer word van Jonker, ‘n onhoudbare praktyk.)
In die voorlaaste gedeelte word die religieuse en die primordiale aangespreek. In die manjifieke “Tzimtzum” (89) word al die motiewe in die bundel saamgesnoer in ‘n veelvlakkige vers: die religieuse, die seksuele, die aflegging van die self, die dood van die vader (wat soos ‘n swart draad deur die digkuns loop), ontdekkingsreise wat die wêreld verander het, ensomeer. Die moderne tegnologie word goed benut in “Google Golgota” en “Poste restante Auschwitz, 1945” (95). Die bundel sluit op persoonlike verlies, die aflegging van ‘n verhouding en die dood van katte, met die siniese konklusie in ‘n amper laaste vers (105):
In die voorlaaste gedeelte word die religieuse en die primordiale aangespreek. In die manjifieke “Tzimtzum” (89) word al die motiewe in die bundel saamgesnoer in ‘n veelvlakkige vers: die religieuse, die seksuele, die aflegging van die self, die dood van die vader (wat soos ‘n swart draad deur die digkuns loop), ontdekkingsreise wat die wêreld verander het, ensomeer. Die moderne tegnologie word goed benut in “Google Golgota” en “Poste restante Auschwitz, 1945” (95). Die bundel sluit op persoonlike verlies, die aflegging van ‘n verhouding en die dood van katte, met die siniese konklusie in ‘n amper laaste vers (105):
Totdat niks oorbly nie
Totdat niks oorbly nie. Absoluut
niks. Net die naam van die nag
herhaal in ‘n somber slaap,
die omvattende nag in die leegte
& ‘n verdwaalde koorsboom
se eensame saluut.
Die bundel sluit met ‘n sirkelgang. Die slotvers neem die
leser terug na die begin van die bundel, na die talige ontdekking en met die
wete dat die digterlike ondersoek en bedryf uiteindelik die enigste sinvolle
aksie is.
Vaarwel, my effens bevlekte held kan ook gelees word as ‘n
bundel van individuasie of heelwording. Reeds die motto’s “Seeing is bereaving”
van Judith Goldman en “A word is elegy to what it signifies” van Robert Hass
sluit sterk aan by die verliestema in De Lange se werk. Maar die verlies of die
afwesige geliefde/vader word nou met groter gelatenheid aanvaar en dit is asof
die digter die taal, die republiek van woorde, met groter drif en beheer
ontgin. In Jungiaanse terme is hier dan sprake van individuasie: die digter
keer bykans afstandelik terug na dieselfde temas en kan dit nou volledig in die
oog kyk. (Die voorblad aktiveer immers die opposisie tussen ‘n worstelende
engel en demoon.) Die “steil paradokse”, soos dit in openingsgedig staan, kan
bestyg word. Die foutlyne kan genavigeer en erken word; daar word nie
weggeskram van die beperkinge en foute in die self nie. Die volgende gedig is
volstrek ‘n vers van individuasie:
Cirque de soleil
Die Vitruviaanse man rol
verby in dubbelhoepels
& akrobate onder koepels
in veldun kostuums sweef
in halfspirale swaartekrag gevang.
Gimnaste met bepoeierde greep gryp
& los, & koorddansers elk met ‘n sweefstok
ballet ligvoets gebalanseerd
& alles tol binne die ligte
& ligte sirkels van die algebra.
(13)
In Agon – Towards a theory of revisionism (Oxford University
Press, 1982) skryf Harold Bloom verder oor die angs van beïnvloeding. De Lange
se werk vra vir ‘n analise via die heterodokse Gnostiek en sy gesprek met Van
Wyk Louw en Cussons. ‘n Mens dink hier aan Bloom se lesing van Wallace Stevens:
It is the sibyl of the self,
The self as sibyl, whose diamond,
Whose chiefest embracing of all wealth
Is poverty, whose jewel found
At the exactest centre of the earth
Is need… (13, 14).
Daar is geen tekste nie, net uiteindelik die self. “Waar
alles ook al begin, uiteindelik… word ‘n ou onskuld / opnuut aangeleer” skryf
De Lange in die aflegging van die ouer, cruising self om tot self-insig te kom
in hierdie boek van afskeid & vertrek.
Uiteindelik het daar balans in die gemoed van die digterlike
spreker gekom en die “ligte sirkels van die algebra” is die nood nou afgelê.
Die sweefstokkunstenaar soos die nar
Die sweefstokkunstenaar soos die koord-
danser weet van tydsberekening
& van die swaartepunt se gryp
& los, dat die een knap by die ander hoort.
Ook die nar verstaan om ‘n grap
te maak of te vertel, vereis begrip
van spanning skep & skietgee
soos ‘n karwats of ‘n skoot wat klap.
(14)
Alles gaan nou om tydsberekening: ook die skryf van ‘n gedig
eis van die digter die regte oomblik. Juis omdat alles in hierdie bundel in die
teken van individuasie staan, is daar verse oor stillewes en etlike religieuse
of spirituele verse. Gedigte waarin die numineuse na vore kom, is uiteraard
bekend aan hierdie fase in ‘n digter se bestaan. Die sewe verskillende
afdelingtitels aktiveer hierdie proses: Republiek van woorde, Wisseling,
Hunkering se grein, In die vlees, Skielik skemer, Google Golgota, tot I resign
myself to the dusk.
Dit is ‘n bundel wat waarskynlik vergelykings sal uitlok met
Die algebra van nood, die groot bekroonde bundel. Dit sal ‘n saamlees oproep
soos tussen Wordende naak en Nagsweet. Dit is ‘n bundel wat besondere aanspraak
maak op die leser, emosioneel en intellektueel. Die religieuse tematiek (soos
in “Google Golgota”, (93) en “Armageddon” (85) en die aangrypende “Die
diensbaarheid van bome” op bladsy 71 waarin Jesus se liefde vir bome
verironiseer word), liefdesverdriet en ontgogeling (“Totdat niks oorbly nie”
(105) en die dood van geliefde diere; die besondere hantering van die paradoks
en die ontginning van found poetry (soos in “Rust-mijn-ziel, ‘n droom” (99),
die ontginning van drome en visioene, die gesprek met Harold Bloom (“Tzimtzun”,
89) en natuurlik Cussons en Van Wyk Louw (veral Alleenspraak) wys op die ryk
geskakeerdheid van die bundel. Ter opsomming: Verskeie digters kom aan bod
(Yeats, Auden, Theodor Roethke, Krige, Kafavis, Jonker…) en skilders soos
Rembrandt en Vermeer, komponiste soos Paganini en Tsjaikofski word nuut bekyk.
Marilyn Monroe, hoe dan anders?, word opnuut onder die soeklig geplaas.
Imponerend is die sterk slotte en die inskryf op ‘n ander se wysie soos “Gedig
wat eindig met ‘n reël van Cussons” (54).
Dit is ‘n fyn afgeronde bundel wat sterk aanspraak maak op
sowel die emosie as intellek. Die algebra van nood word hier ‘n algebra van
sekerheid.
Opmerklik is die kreatiewe stroom die afgelope tyd en wat
eweneens vermelding verdien, is die besondere knap vertalings en herdigtings op
die digter se blog: Kaapse paragrawe.
Moenie jou laat bluf nie. Selfs ‘n vinnige aantekening met
die linkerhand is tegnies in beheer.
*
Johann de Lange: Vaarwel, my effens bevlekte held
Henning Pieterse (Beeld)
Vaarwel, my effens bevlekte held is Johann de Lange se
tiende digbundel (Judasoog: ‘n keur hier uitgesluit) en volg knap op die hakke
van Weerlig van die ongeloof (2011) en die Hertzogprys-bekroonde Die algebra
van nood (2009).
Die titel en die kragtige bandontwerp (‘n kunswerk van
Christiaan Diedericks, “Death of the inside warrior”) roep die aflegging van
aspekte van die self op. In “Skielik skemer” word die titel van toepassing
gemaak op die digter John Berryman wat in 1972 selfmoord gepleeg het, maar dit
word deurgetrek met betrekking tot die liriese subjek in verskeie verse en
metonimies van toepassing gemaak op die korpus van De Lange se vorige bundels.
By wyse van kursoriese verwysings en aanhalings, tematiek en toonaard tree hierdie bundel tree in interaksie en gesprek met verskeie van De Lange se bundels. Daar is die immer aanwesige bemoeienis met die wóórd self; een van die bundelmotto’s is dié van Robert Hass: “A word is elegy to what it signifies”. Die eerste van sewe afdelings is getitel “Republiek van woorde” en in die eerste gedig lees ons: “Woorde is my kontinent,/& poësie is my republiek” (p 9). “Sneeureier” en “Waterbome” roep “Flaminke” uit die digter se debuut, Akwarelle van die dors, in herinnering; die fragment “Als een dar dolzinnig” (uit die gedig “Nóg die heuning nóg die by”) slaan ook op dié vermelde bundel se motto en in “Sunday morning coming down” word Wordende naak opgeroep. ‘n Band word gelê met Die algebra van nood in “Cirque du soleil”.
By wyse van kursoriese verwysings en aanhalings, tematiek en toonaard tree hierdie bundel tree in interaksie en gesprek met verskeie van De Lange se bundels. Daar is die immer aanwesige bemoeienis met die wóórd self; een van die bundelmotto’s is dié van Robert Hass: “A word is elegy to what it signifies”. Die eerste van sewe afdelings is getitel “Republiek van woorde” en in die eerste gedig lees ons: “Woorde is my kontinent,/& poësie is my republiek” (p 9). “Sneeureier” en “Waterbome” roep “Flaminke” uit die digter se debuut, Akwarelle van die dors, in herinnering; die fragment “Als een dar dolzinnig” (uit die gedig “Nóg die heuning nóg die by”) slaan ook op dié vermelde bundel se motto en in “Sunday morning coming down” word Wordende naak opgeroep. ‘n Band word gelê met Die algebra van nood in “Cirque du soleil”.
Reeds bekend uit vorige bundels is die gay-erotiese
tematiek, kunsteoretiese besinnings oor die skryfdaad en poësie en
verhelderende blikke op verskeie ikone uit die digterlike, musiek- en
rolprentwêreld.
In die eerste afdeling is daar fyn gedigte oor woorde, taal
en digterskap. Die tema van aflegging word versterk in die tweede afdeling, “Wisseling”.
Hier staan die uitstekende “Leeuvis”, met sy simboliese toepassing op
gedig-maak in die tweede deel van die gedig:
Leeuvis
Die leeuvis is ‘n stekelige vlot
van ryspapier beskilder
in roesbruin & loodglit
- onwesenlike
watermerk –
lid vir lid druk hy
teen die water terug
met sy soortlike gewig.
Die gedig woord vir woord
verplaas presies net sóveel
veerlig wit. (p 22)
Daar is wel die aflegging van “lywe & leegtes/& die
leegtes van lywe/wat my gebede & beddens vul” in “Alleenspraak by
donkermaan, p 35” en die liriese subjek mag dalk meen “Ek’s nie langer jagtig
nie” (“Nóg die heuning nóg die by”, p 46), maar die erotiese verse in afdeling
III (“Hunkering se grein”) het dieselfde trefkrag as talle verse in Nagsweet,
een van die digter se hoogtepunte. Reëele cruising word nou verplaas na
kuberhokkies.
“Platonies” (Afdeling IV, “In die vlees”) is ‘n kragtige
vertaling en verwerking van Auden se “A day for a lay” (latere titel: “The
platonic blow”): “Dit was ‘n lentedag, net die dag vir ‘n lê ...” (p 59).
In afdeling V, “Skielik skemer”, is daar enkele mindere
verse (gemeet teen die peil van die ander) soos “Suiwer Africana”, “Die
diensbaarheid van bome” en “Ikone”. Ander gedigte in hierdie afdeling, soos “Pjotr
Iljitsj Tsjaikofski”, “Oor die veiling van Wilde se liefdesbriewe”, “Skielik
skemer”, die briljant speelse en spulse “Paganini se G-string” en “Temper”, sit
weer die hoë standaard voort.
In “Google Golgotha”, die sesde afdeling, staan van die
sterkste verse in die bundel. In die gelyknamige gedig word gespekuleer oor wat
op die sosiale netwerke sou gebeur indien Christus vandag gekruisig sou word. “Mausoleum”
werk met die droom-alchemie van ‘n Achterberg en in die uitstekende “Tzimtzum”
(die Hebreeus-Kabbalistiese term vir God se sametrekking van lig om daarbinne ‘n
heelal te skep) ontvou ‘n grootse kosmologiese gegewe, van mikro- tot makrovlak
(kyk ook “Brandwind” en “My minnaar” vir soortgelyke kosmiese perspektiewe op
die liefde.)
Die somber sewende afdeling heet “I resign myself to the
dusk”. Verganklikheid, smart, dood en selfmoord – durende temas in De Lange se
oeuvre – kom hier aan die bod. Die slotgedig, “Aandlied”, werk met die
paradokse van hegting en ontbinding van alle elemente en loop uit op die
slotstrofe: “Hoe ontheg ‘n hart hom van ‘n heelal/wat aanhou sê: Begin, begin,
begin!” (p 107). Ook in hierdie afdeling is die pragtige “Rust-mijn-ziel, ‘n
droom”:
vry na ‘n droom van Hennie Aucamp
Altyd weer dieselfde droom: winter, & nag
op die Stormberge. Ek is verlate, oud & dors getrek,
kom aan te voet waar Rust-mijn-ziel altoos wag.
Van die opstal is net ‘n murasie oor. Tolbos & sand
bied geen toeverlaat. Net die een vertrek
staan desolaat: die kombuis met ‘n lig wat brand.
Ma sit voor die swart stofie met sy krom pote op die teëls.
Die tafel staan gedek, & by my ou eetplek
is daar netjies ‘n stapeltjie pos met buitelandse seëls.
Ek gaan sit & in my hande lig ek hare, koud en
kromgetrek,
& streel hulle of ek vir ‘n oorsig kon vergoed, of ‘n
gebrek. (p 99).
Vaarwel my effens bevlekte held is op dieselfde hoë peil as
Die algebra van nood. Hier is ‘n digter op die kruin van sy kragte, tegnies en
vormlik, en ‘n liriese subjek wat sê: “Hier groei ek al taaier in verby-/gegane
dinge vas, vermy einders/& smag al gisterend na die hier-&-nou” (“Berglandskappe”
p 25).
*
Die woord leef in Vaarwel, my effens bevlekte held
Henning Snyman (Litnet, 23 Maart 2013)
Dit is duidelik dat Johann de Lange ‘n besonder
geïnspireerde fase in sy digterlike loopbaan ervaar: na ‘n lang stilswye
verskyn Die algebra van nood, wat ‘n Hertzogprys meebring, toe die
kwatrynbundel Weerlig van die ongeloof, waarin die digter hom as ‘n meester van
hierdie moeilike versvorm bewys, en nou Vaarwel, my effens bevlekte held.
Tussendeur het daar ook nog ‘n keur van De Lange se gedigte verskyn onder die
titel Judasoog. Die drie nuwe bundels saam met die gedigte wat vir Judasoog
gekies is, is sekerlik ‘n studie wat wag om vorm te kry.
As ‘n mens ‘n enkele tema by De Lange moet uitsonder – en
dít is altyd gewaagd en omstrede – sou dit “die verkenning van die grense van
die woord” kon wees. In navolging van veral die werk van Cussons en Van Wyk
Louw, en in mindere mate Wilma Stockenström, is die skoonheid van ‘n enkele
reël of die uitlig van ‘n bepaalde woord sentraal by De Lange. Hierdie digter
werk met groot ontsag met ‘n woord, verken sy moontlikhede en bepaal met sorg
die posisie van ‘n woord binne die sinskonteks. Breytenbach speel met woorde,
soms selfs effe onverantwoordelik, maar De Lange gee aan die woord die mistiek
en die musiek om dit in klank en betekenis te laat klink. ‘n Digter met minder
geloof in die krag van die woord mag met woordspel tegnies verrassende effekte
bereik, maar dit bly dikwels steek in daardie moment. By Johann de Lange leef
die woord, subtiel en bedrieglik onopvallend.
Gelees teen die agtergrond van die talle eksplisiete
erotiese en seksueel plat terme in sy werk, sou ‘n leser die vorige stelling
wil kwalifiseer. Tog nie, want deur die gebruik van hierdie terme beklemtoon hy
nie die sogenaamde skokkende dinge nie, maar bevry hy die plat term uit die
gevangenskap van vulgariteit en gee daaraan sin binne die groter raamwerk van
die gedig. De Lange is nie ‘n digter wat pervers wil wees nie; daarvoor is sy
digkuns te getrou aan die woord en sy mistieke betekenis. Per slot van
rekening: Is die “skokkende” woorde ooit regtig skokkend? Verkeerd geplaas, kan
dit bloot vulgêre smaak beklemtoon.
Johann de Lange se gedigte getuig van integriteit. In die
naam van literêre modes wat kom en gaan, kan geredeneer word dat ‘n literêre
teks geen aanspraak hoef te maak op teks-integriteit nie. ‘n Werklik goeie teks
sal egter sy integriteit behou, en ‘n digter wat sou aankondig dat sy of haar
gedigte nie aan die eise van die woord en sy intrinsieke waarde getrou hoef te
wees nie, skuil na alle waarskynlikheid agter ‘n (deursigtige) literêre
vyeblaar. De Lange se verse oortuig die leser dat hy die modernste literêre
teorieë ken, maar dat hy dit nie nodig vind om hierdie kennis in ‘n gedig te
demonstreer nie. Die vryheid van die teoretiese dwingelandy, veral in sy latere
bundels, is sekerlik een van die grootste bates van sy latere werk, kennelik so
in die drie jongste bundels. De Lange se werk is steeds, met elke nuwe bundel,
rigtinggewend, ook en veral vir jonger digters.
Die titel dui op afskeid neem en kan verder dui op ‘n
ongelukkige verhouding wat tot ‘n einde gekom het. Genadiglik is hierdie digter
nie daarop ingestel om persoonlike belewenisse sentraal te plaas in sy werk
nie. Dus sou my interpretasie van die titel, saam met die pragtige
omslagontwerp, lees as ‘n konstante proses van afskeid neem binne die self, en
die bewussyn van die voortdurend wisselvallige rol van die muse. De Lange is “a
poet's poet”, en die digkuns as gespreksgenoot, as die ruimte waarheen die
ontnugterde en die kwesbare toevlug neem, as die hawe wat tydelike rus bied
teen die rustelose branding van die kuns en die skeppingsdrang, dit word die
sentrum van bestaan – ook in hierdie bundel.
Soos die titel van die eerste afdeling lui: woorde is ‘n republiek. Binne hierdie republiek heers die woord, en as die woord heers, is die mens en sy hele register van emosies die inwoners. In DJ Opperman se “Aardkloot” (Komas uit ‘n bamboesstok) “(hang) die aarde (vannag) ‘n groot deurskynende maan” en “die aarde hang, deursigtige grond”; in De Lange se “republiek van woorde” is die mens en sy doen en late ook deursigtig in die geweldig magiese krag van die woord. Die gedigte vertel van diere en plante, van die mens in sy kleinlikheid en sy erotiese drange, van kunstenaars en hulle werke en van die mens in patetiese oomblikke. Kunstenaar of straatmens, digter of die oom met vier bultige seuns wat die nefie se geslag met ‘n gierige greep vasgryp – almal is besig met groot of klein dinge. So ook is kunstenaars, gebaai in kunstenaar-ikoniteit, lustig en belustig, suiwer en walglik, pretensieus en eerlik, uiteindelik maar sterflike wesens en tydelik. Dit is hierdie kaleidoskoop van De Lange se gedigte wat tematiese eenhede ondermyn en wat ‘n saak teken uit eie reg:
Kroonden
Die kroonden lê omgeval
beenwit grynswit in die son.
Moenie hier allerlei betekenisse soek nie – lees die gegewe
vir wat dit is en staan verwonderd oor hierdie toneel en oor die woord.
Die woorde in De Lange se werk “beteken” nie net nie, dit “be-teken”,
en sodoende kom daar telkens nuwe betekenisse uit die verse. Die gedigte in
hierdie bundel behou hulle afstand en is nie opdringerig nie, wil nie ontplof
in die leser se gesig en gees nie. De Lange werk met kontraste, en die intense
menslike drama van leef en sterf word afgewissel deur heerlike spot om aan te
toon dat belangrikheid leef slegs in ‘n gemoed wat die eenvoud van bestaan nie
wil begryp nie. Tog behou hierdie digter deernis met sy digterlike karakters en
met die leser. Die sin vir ironie is altyd naby, soos dit die goeie digter
betaam. Hierdie ironie in die bundel “renders the poet free”, in Kierkegaard se
woorde, en, so skryf Etienne Leroux: “Daardie vryheid is die sine qua non vir
skepping. Die gebondenheid word elke keer besweer; die slot wat die kettings
bind, gaan magies oop.”
In Vaarwel, my effens bevlekte held is daar min aspekte van
menswees, ook die seksualiteit, wat nie deur De Lange se skerp maar gevoelige
digterlike lens in die mistiek van die woord vasgevang word nie. Die gedigte in
hierdie merkwaardige bundel is meelewend én gedistansieerd, innig én
kontrasterend, met humor én wrangheid, maar altyd is daar die woord: delikaat
én kragtig.
Die gedig “Die diensbaarheid van bome” trek heelwat van hierdie
eienskappe van die bundel saam:
Die diensbaarheid van bome
Gedenk Hom wat lief was vir bome,
vir die skrynende aromatiese klank
as die boom onder vaardige hande
sy natuur gedienstig aflê & tafel word,
of laaikas, rusbank met gewronge poot,
of stoel met ‘n steil rug om ‘n rug te stut.
Op sy laaste tog het die kruishout
Hom gedra, die stil olyf
het donkernag van sy smart
weggewring, & die dorings
van die wag-’n-bietjie of withaak
het sy woorde bloedwarm tuisgebring.
*
Vaarwel, my effens bevlekte held, deur Johann de Lange
Marthinus Beukes (Tydskrif vir Letterkunde 50(2) 2013)
Die openings- en slotgedig van Johann de Lange se keurig
versorgde bundel Vaarwel, my effens bevlekte held verwoord ‘n kernspanning in
sy digoeuvre, naamlik die saamvoeg en inpas van woorde ter wille van ‘n “vaste
orde” teenoor die uitmekaartorring en onthegting van samehang(e). In hierdie
elfde bundel van De Lange bevestig hy sy verdiende en gekanoniseerde posisie in
die Afrikaanse digkuns, in besonder vanweë ‘n volgehoue sigbaarmaking van
verhoudinge tussen mens en kosmos; mens en medemens; besit en verlies;
broosheid/verganklikheid/verwonding teenoor herstel en heelmaking.
‘n Bepaalde gesprek word deur die bundeltitel gesuggereer. Met die slotverse, “Die einde” (104), “Totdat niks oorbly nie” (105) en “Aandlied” (107), bevestig die spreker sy groetwoord aan die “bevlekte held(e)”. Meer nog is die keuse van Walt Whitman se “I resign myself to the dusk” (uit “The Sleepers”) bekragtiging van die deerniswekkende motief van “bevlekking”:
“Double yourself and receive me darkness,
receive me and my lover too, he will not let me go without him.
I roll myself upon you as upon a bed, I resign myself to the dusk.”
receive me and my lover too, he will not let me go without him.
I roll myself upon you as upon a bed, I resign myself to the dusk.”
Eensaamheid, verdriet, verlies en sterfte is maar enkele
aspekte van dié bestaansnood. In “Aandlied” word die skoonheid én angs van
en vir sterfte, maar óók ontstaan verwoord. (Terloops: die eggostem van Wilma
Stockenström is aanwesig in dié gedig. Uit haar bundel, Van vergetelheid en van glans, is die eenmaligheid van die menslike bestaan in die volgende woorde,
geskoei op Rilke se Duino-elegieë, só geformuleer:
“Dit is genoeg om te gelewe het, een maal,
een maal in eenmaligheid van chromosome
… te kan dink: ek was eenmaal”.)
een maal in eenmaligheid van chromosome
… te kan dink: ek was eenmaal”.)
As slotgedig is “Aandlied” besonder gemerk— finaliteit is
dus komposisioneel maar
ook inhoudelik vooropgestel:
Eendag, al weerstrewiger vlees & been
ruisende bloed & rats sinaps,
tong wat teëstribbel & troos,
gaan die haglike samehang
van selle & die eensame eenmaligheid
van DNS ophou saambestaan,
& wat my ineengeweef
gehou het, & my salwend in my brein
laat leef het, na alle uithoeke
van hierdie aarde vervreemd
raak, & hierdie hand met pen
sy greep op taal verloor
& los raak van alle woord & sin.
Wie sal in die nag my uitasem
hoor? Wie sal onthou?
Dis amper middernag.
Wanneer daag die dag
waar ek áls verloor wat ek bemin?
Hoe ontheg ‘n hart hom van ‘n heelal
wat aanhou sê: Begin, begin, begin!
Op ‘n byna koloniserende wyse proklameer die digter: “Woorde
is my kontinent, & poësie is my republiek” (“Woorde” 9) om die waarde van
die digterlike woord en die “heersersmag” oor hierdie domein te verwoord. In
die “Republiek van woorde” is die pen(punt) die instrument van die digter om
kaart en transport “afkleimend” te verwoord. Helaas anders as die narwal is die
digter met sy penpuntmerke priemend maar ook skeppend. Hier is nog eens ‘n
element van tweeledigheid of ambivalensie wat ‘n opwindende kreatiewe spanning
in De Lange se poësie daarstel.
Binne die konstruksie van sewe afdelings is die voortstu
vanaf besitterskap en verkenning van die landskap in gedigte oor diere,
landskappe en mense die afskeidsverse wat die broosheid van die menslike
liggaam en psige byna tasbaar verken. In ‘n digoeuvre waarin versgesprekke
inter- en intratekstueel voorkom, is die obsessiewe bewuswees van tydelike
besit en verganklikheid kwellend aanwesig. (Die intertekstuele verwysing na
gedigte oor bome is “Die diensbaarheid van bome” [71] en “Ikone” [73].) As
motivering geld De Lange se bundelvoorblaaie wat méér is as
illustrasiemateriaal.
Die “ontkleedans” van Battis, Mason, Cussons tot Diedericks
vertel ‘n lewensverhaal van die spreker. “Wordende naak(t)” as “verkenning vir
onsself” (51) soos die “Death of the inside warrior” van Diedericks sekuur die
spreker se skeppings- en oorlewingspanning illustreer, staan geteken in die lig
van verlies, leegheid, maar tog ook die nalaat van “sy spore op papier” (12;
vergelyk die motto by dié gedig: “The notion of emptiness generates passion.”).
Dood, woorde as nalatenskap, of orgasme(s), is die “grein
van hunkering” en hieruit is poësiedie neerslag. Sterflikheid, hetsy selfmoord
soos in die geval van John Berryman (“Skielik skemer”, 78), “Selfmoord van ‘n
priester” (106) of die digter se rouverse oor sy geliefde katte (102– 103),
laat die volgende woorde soveel aangrypender klink. Die leser kan die
afskeidswoorde van die bundeltitel in samehang lees as ‘n afstropingsdaad of
aflegging om soosvolg te verklaar:
Eers as ek aflê
áls wat ménslik aan my is,
kan ek verlig & veerlig weet
ons is suiwer siel … (“Brahmaan”, 103)
Afdeling 2 van die bundel stel ‘n definitiewe konflik tussen
besitterskap en verlies op die voorgrond. Teen die agtergrond van groei,
wording en natuurlike seisoenswisseling is die spreker se gelykstelling aan
bestaanseenmaligheid soos volg in die gelyknamige gedig van die afdeling,
naamlik “Wisseling” (26), in die slotversreël gestel:
Die eeukaktus blom glo eers na ‘n honderd jaar
& net één maal, ‘n noeste geel kroon. Stoot
‘n loper uit & maak tydsaam vir sterwe klaar.
Verkenning van die self én die ander (in watter gestalte ook
al — geliefde, natuurelement, ander digters of skrywers en kunstenaars) word deur
die oog van die waarnemer-spreker ge- (re)konstrueer. Die oog, kameralens wat
stipstaar en ‘n besondere fokus ontsluit, is in die derde afdeling van die
bundel, “Hunkering se grein”, die onderwerp van die gedigte. (Hierdie gegewe
kan wyer gelees word teen die metafoor van die “judasoog” se visie.) “DIEVX DV
STADE 2007” (48), “The loneliness of the longdistance shooter” (50) asook “Gedig
wat eindig met ‘n reël van Cussons” (54), verwoord die lens se onderwerp wat
hier die gestalte van manlike skoonheid is. Die waarnemer se oog is ‘n (af)kyk
van die sportfigure se naakwording, ‘n aspek wat in afdeling IV, “In die vlees”
met die sologedig “Platonies” (‘n herdigting van Auden se vers, “The Platonic
Blow”) die fokus word (59–63).
Die waarnemer se oog wat die toenemende verval, verlies of
verwisseling opteken, is
in afdeling V, “Skielik skemer” verwoord. Die randfigure wat
in hierdie gedigte aanwesig is, staan voorop in De Lange se vergestalting van
die versteurde of bevlekte karakters— byna “buite beeld” (om die titel van die
optelgedig oor Marilyn Monroe hier buite konteks aan te haal). In versnellende
ritme teken De Lange die eenkantfigure in hierdie afdeling wat voortstu in “Google
Golgota” en “I resign myself to the dusk”. Marilyn Monroe, Christus van die
houtkruis (“Die diensbaarheid van bome”, “Ikone” en “Google Golgota”), Uys
Krige, Tsjaikofski, Oscar Wilde, Ingrid Jonker en Paganini is onder ander die “bevlekte
helde” wat in die beeld van Cellini (“Temper”) se Perseus & Medusa “oorleef”.
(Terloops: Chris Diedericks se skildery wat as voorbladillustrasie gebruik is, is ‘n
raak tekening van die (voort)durende konflik in Vaarwel, my effens bevlekte held.) Met
die slot van die gedig “Agterhuis” (75) som De Lange die waarde nie alleen van
Anne Frank op nie, maar van die gekwelde figure wat in sy gedigte “oorleef […]/
& in woorde wering soek,/ & rug teen rug […] dig versreël” word. Die
digter verleen dúúr aan die bevlekte figure om “nóg ‘n wyle langer te luier as
ikoon” (“Temper” 81). Insgelyks het die digter met Vaarwel, my effens bevlekte
held ten spyte van die dominante gegewe van verganklikheid, vermindering deur
verlies en aflegging of nietigheid, ‘n nalatenskap van “spore op papier” (12),
of “ingebed in […] onthou” soos dit staan in die gedig “Alleenspraak by
donkermaan” (35):
my in trou & ontrou
vashou, of by die gloed
van ‘n digterlike maan
met die brons beloftes
van bloed nogmaals kul:
julle laat ek een-een gaan
want my woorde lê beenwit
waar die lug te dun vir liefde
& wyn tussen bedrywe vergaan.
My aanhaling is moontlik buite konteks gaan haal, maar
gelees teen die agtergrond van die tema van aflegging, is die slotstrofe
bevestiging van die spreker se ewewigsoeke tussen verlies en behoud. ‘n Verdere
aspek waardeur De Lange in hierdie vers in die besonder verstegnies “ingebed”
bly (afgesien van die inter- en intratekstuele diskoers met “Stil lewe by donkermaan”
(28) én Van Wyk Louw se bundeltitel Alleenspraak.) is die chiasme in versreëls
drie en vier:
Snags by donkermaan
lê ek ingebed in die onthou
van lywe & leegtes
X
& die leegtes van lywe
wat my gebede & beddens vul
In ‘n sekere sin is die digter getrou aan die imperatief
waarmee die aangehaalde gedeelte uit Whitman se gedig “The Sleepers” (vergelyk
die slim spel met die intimiteitsverband tussen slaap, “ingebed” en “beddens”),
afdeling sewe as motto inlei: “Double yourself and receive me darkness.”
Donkerte kan as sinoniem met leegte en verlies gelees word. Op dieselfde wyse “snoer”
De Lange betekeniselemente saam. Die spreker in “My minnaar” (44) sluit die
gedig só af om die kwingkwangbeweging tussen intimiteit en verlies te stel:
in die spiraal-arm van ‘n melkweg
my minnaar is uitgeslinger
in my arms deur sterrestelsels
omdat hy my liefhet
ontvou alle geheime voor my
& sy naam ontsluit
die snoere van konstellasies.
Só kan die leser versverbande uitwys tussen die
diergestaltes in die bundel. In die eerste twee afdelings van die bundel
figureer diere om ‘n besondere netwerk te skep en as ’t ware te dien as
vertroostingsamulet teen die menslike element van verlies en dood. Die diere is
nie alleen aantreklike en veraanskoulike gedigonderwerpe nie, maar De Lange
kaats die mens teen die dier om laasgenoemde se (r)evolusionêre entelegensie te
demonstreer, byvoorbeeld die narwal (12), doringduiweltjie (21), leeuvis (22),
duisendpoot (24) of die sneeureier (31). Daarteenoor is die mens byna minuskuul
onopsigtelik soos De Lange in “Stil lewe by donkermaan” (28) skryf:
Roerloos onder ’n donkermaan
Roerloos onder ’n donkermaan
in ’n roeiboot op die naat van my rug
wieg ek in die middel van ’n dam,
die smal pupil van ’n kat se oog.
Bo my tussen Niet & Al die melkweg
soos ’n motgevrete hangmat wat knus
die boot, die dam, & en my sonnevleg
saam met droom-oog visse sus.
Labels:
2012,
Beeld,
Henning Pieterse,
Henning Snyman,
Joan Hambidge,
Johann de Lange,
Litnet,
Marthinus Beukes,
my effens bevlekte held,
Tydskrif vir letterkunde,
Vaarwel,
Versindaba
Subscribe to:
Posts (Atom)

+%C2%A9+Edrea+Cloete+%5BSmall%5D.jpg)


+1.bmp)

.jpg)







.jpg)




