Showing posts with label Hennie Aucamp. Show all posts
Showing posts with label Hennie Aucamp. Show all posts

Sunday, February 20, 2022

Essay | Vir vier stemme, Hennie Aucamp | 2000/2022

Die jong Hennie Aucamp (JdT versameling)

'n Komplekse verhaal wat die kodes van die transvestiet aktiveer is Hennie Aucamp se "Vir vier stemme", oorspronklik opgeneem in Volmink in 1981. Die verhaal verskyn ook in Wisselstroom, die eerste volwaardige literêre bloemlesing van die gay-verhaal in Afrikaans wat in 1990 verskyn.

"Vir vier stemme" is 'n elegiese verhaal wat vanuit vier perspektiewe aangebied word. Aucamp aktiveer die konvensionele siening van die transvestiet of "moffie", naamlik dat dit as 'n grap of meer spesifiek 'n boeregrap uitgespeel word. 

 

Die verteller, oom Toon Lourens, is waarskynlik 'n Herman Bosman-agtige Oom Schalk Lourens: 'n verteller wat die mores en kodes van die gemeenskap ken en interpreteer namens ander karakters. Die naam aktiveer ook Toon Prens, 'n grootlieg-volkskarakter in Minnie Postma-verhale. Hiermee posisioneer Aucamp homself alreeds binne die boeretradisie.

 

Die verhaal het vier onderskrifte:

 

'n Grap is 'n grap;

Aan alles moet 'n einde kom;

En hadde de liefde I;

En hadde de liefde II.

 

Volgens 'n persoonlike mededeling aan hierdie skrywer, het Aucamp vier weergawes geskryf omdat hy in gebreke gebly het om die komplekse verhaal in een storie te kon vertel. Hierom die sonate-struktuur. Of moontlik kan die verskillende verhale gelees word as 'n jazz-weergawe van die eerste vertelling.

 

Die verhaal handel oor Toon Lourens en sy vriende, Oom Frik, tant Das en hul dogter Let, wat vir Beimen Botes, 'n jongman in die distrik, 'n poets bak. Beimen word om die bos gelei wanneer daar gemaak word asof Freddy, 'n Skotsman wat in Die Hoek herstel van 'n longkwaal, 'n besoekende niggie, ene "Fifi" is.

 

Omrede Let 'n onooglike meisie met 'n vlek is, stel Beimen nie in haar belang nie en word Fifi ingespan om die rol van die vrou te vertolk. Freddy werk in die poskantoor en wanneer dit blyk dat die twee mans werklik op mekaar verlief raak, word briewe geskryf en foto's geneem ten einde die spel te laat voortduur. Freddy pleeg egter selfmoord - 'n onthutsende slot wat wrange kommentaar lewer op 'n konserwatiewe gemeenskap se onverdraagsaamheid jeens homoseksualiteit. Slegs wanneer Freddy speel asof hy 'n vrou is, word dit aanvaar deur die boeregemeenskap. En, meer nog: slegs wanneer Freddy "Fifi" word kan Beimen sy eie aard erken en uitleef.

 

'n Grap is 'n grap

 

Hier het ons Toon Lourens se perspektief. Die vernaamste redes wat hy aangee vir die gebeurde is die droogte en depressie. Weens 'n geldgebrek en kennelik ook verveling word daar saans na oom Frik se huis gegaan vir kaartspeel en boertige vertellinge.

 

Niemand het aan Let as 'n maat gedink nie, weens haar geskonde gesig: 'n pers vlek oor die een kant van haar gesig. Sy is dus 'n blote toeskouer weens haar outsider-posisie.

 

Beimen word deur Toon Lourens gesien as 'n onbelese, aksiegerigte persoon, terwyl Freddy as belese en ook diepsinnig beskryf word. Volgens die eerste perspektief (selfs getuienis) was oom Frik aandadig en die katalisator van die verhaal, want hy het die voorstel gemaak dat hulle Freddy moet vermom as 'n "meisiekind".

 

Wanneer Freddy vra oor sy snor, maak oom Frik 'n bepalende gender-opmerking: "Jy kweek 'n nuwe"(...) "en dié keer bemes jy hom van die begin af, om die brakkolle te wys wie is baas" (Wisselstroom, 1990, 133). Hiermee kodeer hy vir Freddy as wyfie-agtig. Ook dui die opmerking op 'n bepaalde gesofistikeerde kennis van seksuele voorkeure wat van oom Frik 'n bepalende en aktiewe agent maak in hierdie verhaal.

 

Ook die belydenis van die verteller dat hulle so "opgewonde soos skoolseuns" (134) was, kanselleer enige gevoel van onskuld uit.  Wanneer die fopdosser haar verskyning maak, snak hulle na hul asems: 'n stelling wat bewys dat hulle nie net gewoon toeskouers is van die gebeurde nie.

 

Ironies genoeg word almal medespelers en aandadig aan hierdie treurspel: Tant Das se hare word die bolla; Freddy dra 'n ou rok van Let; die vrouens gee raad oor hoe hy moet optree en dit was die twee ouer mans se idee. Die verteller se verontskuldiging aanvanklik bevestig hierdie interpretasie; vir hom is 'n grap 'n blote grap. Tog nadat die foto's geneem word, sien hy homself as 'n medepligtige en getuie.

 

Die gebeure verloop vir Toon Lourens as 'n groteske grap. Ook Beimen se verliefdheid is vir hom en oom Frik frappant. Wanneer Beimen die niggie, Genoveva weer wil sien, vertrek "sy" egter die volgende oggend reeds na Kimberley.

 

Dis weer eens oom Frik wat met die voorstel kom dat hy moet skryf aan haar. Maar sake ontwikkel egter verder wanneer Beimen aandring op 'n foto en Fifi na die plaas moet kom en moet poseer in die klere: so word die hele spel dus weer herhaal of re-enact in Freudiaanse terme. Net soos die vertelling van Toon Lourens die gegewe herhaal of dit weer voorstel.

 

Die poging van die twee ouer mans om die waarheid aan Beimen te openbaar, word deur Fifi geweier. Hiermee word sy emosionele betrokkenheid bevestig en dat hy nie vir Beimen wil beledig nie. Hy was ook bewus van Beimen se betrokkenheid en dat dit hom sou breek. 

 

Uiteindelik is dit weer oom Frik wat met 'n noodlottige voorstel kom, naamlik dat die niggie moet sterf. Hy sou selfs sorg vir die telegram; 'n vreemde inmenging gedagtig aan die feit dat Freddy/Fifi by die poskantoor gewerk het en dit self kon versend. Ironies genoeg sterf Freddy: hy pleeg selfmoord in die mondering asof hy hiermee die aandadigheid van die medespelers wil uitwys. 

 

Die verhaal eindig met 'n onoortuigende verontskuldiging wanneer die verteller die leser wil vra hoe hierdie tragedie sig kon afspeel aangesien hulle almal saam gejag en geswem het. Die leser egter is eerder oortuig van die verteller se gender-bewussyn en latente homoseksualiteit: net 'n ingeligte persoon kan so 'n wrede manipuleerder en medespeler wees.

 

Aan alles moet 'n einde kom 

 

Die tweede vertelling word gefokus op Freddy McTavish se waarneming van Die Hoek. Die leser wat alreeds die treurspel se einde meegemaak het, vind dan reeds die titel omineus. Ook skryf hy 'n brief - in Engels - wat sy outsiderskap stilisties beklemtoon. Waar die eerste weergawe in die eerstevertelling plaasvind, word hierdie verhaal vanuit die derdepersoon-perspektief aangebied.

 

Freddy se aard word goed deur die verteller uitgebeeld. Veral word Freddy as 'n briefskrywer geskets teenoor die aktiewe Beimen. Die ander karakters word ook waargeneem en Toon Lourens word verminderend as 'n "filosoof" beskryf. 

 

Die foto's wat Freddy van die landskap neem, is egter wit-en-swart en uit fokus wat 'n resultaat van sy melancholiese gemoedstoestand is. Ook die vriend wat aanvanklik beloof het om te kom kuier, daag nooit op nie. Hiermee word dan ook 'n implisiete verduideliking vir Freddy se betrokkenheid by Beimen gegee: omdat hy afgesluit is van kontak met eensgenote, raak hy betrokke by 'n onmoontlike situasie.

 

Sy aanvanklike kritiese distansie word opgehef wanneer hy nie meer skinder of skryf oor die boeremense nie. Hy word duidelik deel van die klein netwerk soos reeds beskryf deur Toon Lourens in die eerste afdeling. En, Freddy fokus ook op die bloedstollende en grensoorskrydende verhale wat die mense in die gemeenskap vertel, bykans as 'n onbewustelike premonisie van sy eie ondergang. 

 

Ofskoon hy die ballingskap vrugbaar bestee deur te teken en Dickens te lees, word die volgende uitspraak gemaak: "Maar daar was aande, veral oor die naweke, wat hulle nie laat inbreek het nie; aande waarop die emosie 'n ander fokus wou hê as boeke; aande waarop hy verlate was, en mense wou hê, of beter gesê: een bepaalde mens. Maar dít het hy te laat besef" (1990, 137). Die verteller of stem is dus bewus van die voortstuwende ramp wat die leser alreeds vanuit Toon Lourens se perspektief aantref.

 

Ook word die tersaaklike gender-aanwysing vir die leser gegee oor Freddy se seksualiteit: "Hy kom mooi uitgevul uit die kamer uit, met rooi lippe en wange, en sy strooigeel hare saamgevat in 'n bolla; 'n effens vulgêre vrou miskien, maar met 'n plus-kwaliteit wat nie te ontken is nie"(138). Die personale verteller is eweneens bewus van die ontluikende homoseksualiteit in Freddy se persoonlikheid en die feit dat die omstanders van hierdie insident 'n grap maak. Die werklike behoefte van Freddy aan Beimen en omgekeerd reduseer hulle tot 'n groteske grap omdat 'n gender-afwyking binne die boere-verwysingsraamwerk onaanvaarbaar en ondenkbaar is. Slegs as dit paradeer as grap of uitgespeel word as 'n sirkus kan dit "hanteer" word.

 

Beimen se behoefte om verdere kontak in die vorm van briewe met die niggie te hou, word ook hier beklemtoon. Dit is egter Freddy wat die briewe namens Beimen moet skryf aan die niggie - omdat Beimen nie die ware identiteit van Freddy besef nie. In verhale van transvestiete en fopdossers speel die rol van die ware identiteit en ander karakters se blindheid om waarheid van spel te kan onderskei, 'n belangrike rol: vide The crying game in hierdie verband. Die hele verhaal wentel om hierdie blindekol van Beimen.

 

Die verlange na kontak word aanvanklik deur middel van briewe besweer; later is daar ook 'n behoefte aan foto's: 'n ironie dat die geliefde net deur representasie gevind kan word. Wanneer Freddy dan poseer vir 'n foto is die medespelers onthuts dat die spel nog voortduur - waarskynlik omdat hulle nie verder kon afloer nie, maar ook omdat die grense van die grap sodoende oorskry word: dit mag nou 'n werklike emosionele verbintenis word.

 

Freddy vrees Beimen se vergeldingsdrif: daarom die voorstel dat die niggie moet verongeluk, trou of buiteland toe gaan. En ironies genoeg is dit presies wat met die niggie gebeur: met sorg asof vir 'n huwelik word Let se rok aangetrek en die selfmoorddaad is dan 'n huwelik en 'n binnetrede van die mees ekstreme buiteland, te wete die dood. So tref Beimen, die "huweliksmaat", sy geliefde aan. 

 

Die boodskap van die tweede perspektief is dat slegs binne die domein van die dood die liefdesafwyking geduld kan word waarmee klassieke tekste soos Tristan en Isolde geaktiveer word.

 

En hadde de liefde I 

 

In die derde afdeling word daar personaal gefokus op Beimen Botes se waarnemings van die insident. Dit blyk dat hy gemeenskap gehad het met Freddy en besef dat hy nie 'n vrou is nie. Hy wil terugkeer om te gaan kyk na wat gebeur het. Hiermee aktiveer Aucamp tekste soos Lot se vrou en Orpheus en Euridice: 'n psigologiese toestand van onmoontlikheid om die geliefde/droom/illusie ooit weer ongeskonde te kan besit.

 

Hy gaan slaap dan en droom nie van Genoveva nie, maar van die geskonde Let: die soektog na die Volmaakte Geliefde word gefnuik deur die binnetrede van Let wat die onvolmaakte simboliseer. Hierna gaan swem hy, wat as't ware 'n verdere afdaal in die onbewuste simboliseer.

 

Beimen Botes se skuldgevoelens en onvermoë om sy eie aard te aanvaar, is die fokus van hierdie vertelling. Hy ervaar konflikterende emosies en die grapmakers moet die blaam ervaar. Tog is dit duidelik dat hy voortgegaan het met die liefdesaksie selfs nadat hy Freddy se ware aard ontdek het. (Sy woede en teleurstelling het hy in die liggaam geledig, maar die leser sou kon byvoeg: teleurstelling met die ontdekking van sy ware aard.)

  

In sy rekonstruksie van die aand blyk dit dat sy soeke na liefde hom verblind het. In terugskoue besef hy dat hy mislei is deur die grapmakers, die lamplig en die mise-en scène. Ook besef hy dat Freddy sy onbeholpe gevoelens geleerd vertaal het aan die niggie.

 

Wanneer Freddy hierdie briewe aan die niggie geskryf het, het hy gelukkig gevoel. Hiermee word 'n subtiele aanduiding gegee van Beimen se homoseksualiteit en dat hy dit slegs kon aanvaar wanneer Freddy as vrou poseer het.

 

Hierom die teenstrydige emosies van homself seksueel wreek op Freddy en begeerte. In die slotparagraaf word hierdie interpretasie bevestig. Hy wil Freddy sien sonder sy vervalsing ("sonder smeersels en vals hare"), maar die onthulling van die werker dat Freddy vermink is, verhoed hom. 

 

En hadde de liefde II

 

Die slotvertelling fokus op die Van Onselens, en meer spesifiek, hul verminkte dogter, Let se perspektief, aangebied vanuit 'n derdepersoon of personale perspektief, 'n vertelwyse wat intiem-onthullend is oor 'n karakter se diepste emosies. 

 

Let se ironiese aanslag, wat soms tot sinisme versuur, word hier beklemtoon. In bitter oomblikke sal sy dan ook sê dat sy haar as 'n clown kan verkoop. Hierdie uitspraak posisioneer haar reglynig teenoor Freddy: hy kan homself opmaak, terwyl sy reeds deur 'n geboortevlek geskend is. 

 

Haar medepligtigheid is dan duidelik. Weens 'n gevoel van onvervuldheid wil sy wraak neem op Beimen wat nie in haar belangstel nie en Freddy wat wel kan transformeer in 'n liefdesobjek waarin Beimen sou belangstel. Let daarenteen kan nie transformeer nie. Hierom doen sy mee aan die grap.

 

Haar wrewel jeens Beimen kom duidelik in hierdie perspektief na vore. Sy is 'n  soort diensmaagd of dienende Martha vir hom (wat selfs aan sy klere ruik om iets heimliks van hom te kan besit). In 'n gedagtestroom dink sy: "Laat dit breek. Laat iets gebreek word, iemand of iets" (Wisselstroom, 1990).

 

Haar teenstrydige emosies (enersyds liefde; andersyds verwyt en verbittering) maak van haar 'n ambivalente karakter binne hierdie drama. (Reeds haar naam Let dui ook op 'n lesbiese aard). Sy is negatief oor oom Frik en Toon Lourens en haar positiewe gevoelens jeens Freddy kom duidelik na vore. Hy is 'n  vertroueling en gespreksgenoot. Maar slegs ten dele, omdat hy haar objek van begeerte se aandag trek. In Toon Lourens vind sy ook 'n bondgenoot, omdat hy voor Freddy se koms weer op Beimen se vriendskap kon aanspraak maak.

 

Let word ook as 'n vrou met manlike eienskappe getipeer in hierdie vertelling wanneer sy Freddy skeer. Hieruit kan ons dan aflei dat sy eweneens bewus is van ander gender-moontlikhede en sodoende die mans teenoor mekaar kan opstel. 

 

Wanneer Freddy uiteindelik selfmoord pleeg, is Let die praktiese persoon wat help om die lyk uit te lê, maar haar ambivalensie word benadruk deur die versugting dat dit liewers Beimen se lyf moes wees. Nie net die lyf wat sy seksueel begeer nie, maar die persoon wat sy dood wens.

 

Hierdie vernuftige vertelling werk met etlike sleutels ten einde die gender-spel vir die leser uit te werk:

 

In die eerste afdeling, 'n Grap is 'n grap word die vertelling rondom die raaisel gekonstrueer. In die tweede afdeling, Aan alles moet 'n einde kom, word daar verwys na foto's wat uit fokus is. Die derde afdeling, En hadde de liefde I word veral die onbewuste (die water en drome van Beimen) op die voorgrond geplaas, terwyl in die slotafdeling En hadde de liefde II, daar na die sirkus verwys word as 'n sentrale metafoor. 

 

Die vier verhale gee dan vier perspektiewe op 'n gebeurtenis wat rondom 'n gender-konstruksie gebou is, naamlik die van die transvestiet of cross-dresser. Die verhaal werk telkemale met die beginsel van uitstel of différance: 'n grap waarin die toehoorder die teiken is; 'n brief waarin emosies nie dadelik die ontvanger bereik nie; 'n foto wat 'n representasie van die werklike persoon is; 'n droom wat 'n begeerte of drang simbolies en dikwels verwronge na vore bring; 'n sirkus waarin mense soos dwerge of ander geskondenes 'n rol vertolk.

 

Hierdie uitstelproses word gerepresenteer in die vorm van 'n verhaal wat net 'n perspektief op of interpretasie van die gebeurde is.

 

In Derrideaanse terme, funksioneer hierdie vertelling rondom uitstel of différance: elke verhaal word verklaar in terme van 'n ander verhaal of signifikasie. In Lacaniaanse terme speel hierdie tragedie sig af omdat die wet van die vader oortree word. As die twee hoofrolspelers net voor die toeskouers die spel gespeel het, was die tragedie verhoed. Maar omdat die Wet van die Vader oortree word, loop alles skeef. Beimen is veronderstel om by 'n vrou betrokke te raak. Oom Frik en Tant Das staan vir hierdie orde, maar hulle geskonde dogter is vir hom onaanvaarbaar.

 

Toon Lourens, met suggesties van 'n implisiete belangstelling in Beimen, is op die reële vlak vir Beimen onaanvaarbaar. Beimen kan egter wel sy homoseksuele natuur erken wanneer 'n man vermom as 'n vrou tot hom toenadering soek. Wanneer die spel-verbintenis as onmoontlik uitgewys word, word die orde versteur. Die verhaal aktiveer ook die idee van die pharmakos en die sondebok.

 

Iemand wat buite die orde bestaan maar wat bekend genoeg met die orde is sodat die offer genesing vir die gemeenskap kan bring. Derrida se herlesing ("Plato's Pharmacy" in Dissemination) van filosofie aktiveer hierdie onsekerhede wat betekenisse meebring. Freddy se selfmoord verlos almal van hul gender-ambivalensies en latente homoseksualiteit. 

 

Uit my studie: Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde. PhD. UK. 2000.

 


 BIBLIOGRAFIE

 

Austen, Roger.1977. Playing the game. The homosexual novel in America. New York: The Bobbs Merrill Company, Inc.

 

Aucamp, Hennie.1981. Volmink. Kaapstad: Tafelberg.

 

                                  1990.Wisselstroom. Homoërotiek in die Afrikaanse verhaalkuns -'n Bloemlesing. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Derrida, Jacques. 1972/1981. "Plato's Pharmacy" in Dissemination. Londen: Athlone Press. 

 

Garber, Marjorie. 1992. Vested interests -  crossdressing & cultural anxiety. Londen: Routledge.

 

Lacan, Jacques. 1966/1977. Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Tavistock.

 

 © Joan Hambidge 

Saturday, September 23, 2017

Resensie | Elize Botha - Gespreksgenoot. ’n Brieweboek (samest. Heilna du Plooy, 2017) | Deel II

Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (Samesteller: Heilna du Plooy). Litera Publikasies, 2017. ISBN: 9781-920188535

D E E L  II

In hierdie ryke versameling van briewe, staan ons vervolgens stil by ‘n paar briewe wat vir hierdie leser tot nadenke gestem het. Elize Botha was ‘n gespreksgenoot vir vele uiteenlopende mense binne die literatuur. ‘n Jong M.C. Botha vra haar om raad en sy gee dit. Sonder omhaal van woorde – met respek vir sy werk wat sy toe reeds eien as besonders. In hierdie briefwisseling beleef die leser persoonlike krisisse wat nie by die naam genoem word nie, maar wat die jong M.C. optel. Elize wens hom voorspoed toe met sy voorgenome huwelik en drink vele glasies op hom.

Waarskynlik is die briewe van Jeanne Goosen stukke waarna ‘n mens by herhaling gaan terugkeer. Dis vintage-Goosen, huiwerend tussen surrealistiese waarnemings en suiwer poësie.

‘n Mens huil van die lag oor die verhaal van ‘n man wat by gebrek aan aas met ‘n liddoring vis vang!

Hierdie is ‘n inloer in Goosen se kreatiewe denke. ‘n Mens sien byvoorbeeld hoe sy Om ‘n mens na te boots gekonstrueer het. Waarnemings wat deur die fantasie omgetower word.

“‘n Mens is darem vreeslik absurd – dis nou as jy nie die slag ‘n mens naboots nie.”

Sy vertel van haar vleuelklavier (en Goosen kon vertolk) wat haar verwyt, omdat sy nie meer op hom speel nie (570). Sy voel sy is nie opgewasse vir hom nie.

Hierdie briewe is tydsdokumente. Koos Prinsloo skryf oor Jonkmanskas en van die grens af. Hierby is daar ‘n brief ingesluit van Victor Munnik. Ons verneem van die tragiese dood van Helena Stark – ‘n karakter in ‘n Prinsloo-verhaal – en van Renske Koen se ongeluk, ‘n hartsvriendin van Elize Botha. Vir my ‘n stuk ellende wat hier onverwags terugkeer, omdat ek die vooraand van hul dood by hulle gekuier het en die volgende dag in die koerant dit op straat gelees het …

Hieroor skryf ek ‘n gedig in Bitterlemoene.

Stephan Bouwer se rou brief aan haar – die rou dinge waaroor ‘n mens net kan stotter (601).

Nog ‘n skrywer wat “tannie Elize” skryf, is Fanie Naudé wat vanuit Londen as buitestaander kommentaar lewer op Bram Fischer en die taalbeleid. Hy staan krities teenoor Chris Brink se taalbeleid (598).  En hoe ironies klink sy woorde op in dié brief: “Alhoewel, wie weet, as ek eendag vir ‘n ruk die geleentheid kry om behoorlik te konsentreer op skrywe, kan ‘n mens dalk tog iets daarvan maak” (600). Ek sou wat wou gee om Elize Botha se hantering van die Walter Benjamin-gegewe in die manjifieke Die derde spoel te lees!

Ons sien o.a. hoe komplimenterend is Leroux oor haar raaktasting van Onse Hymie en die aard van die entertainment en satire (via Graham Greene).

In latere jare was dit dan ook een van my verskilpunte met Elize Botha, oor die komplekse voertaalkwessie aan die Universiteit van Stellenbosch. Maar vriendskappe moet verskille en anti-teses kan akkommodeer. Ek onthou ‘n besoek aan haar in die hospitaal, sowat ‘n tweejaar voor haar dood. Ons het toe sterk verskil.

Sy bedank vriende deurgaans vir ondersteuning – soos die uitgewer Marietjie Coetzee – en in ‘n brief aan Heilna du Plooy (608) word ‘n brief ‘n meta-refleksie oor presies dit wat hierdie boek doen: die insameling van perspektiewe en verskillende benaderingswyses …

Tussendeur is daar skrywers wat na vore kom: Margaret Drabble, Anita Brookner, Seamus Heaney …

Op ‘n keer het Elize Botha ou uitgawes van Times Literary Supplement en New Yorkers vir my persent gegee – wat ek steeds bewaar …

Hennie Aucamp word telkens erken as ‘n rigtinggewer: “Terwyk ek lees het ek weer só sterk ervaar hoe begunstig ek deur baie jare was, om in voeling te kon bly met jou werk en denke, hoe rigtend en inspirerend dit in my voortgewerk het”(633).

Dis dan ook Aucamp wat raaksien dat die essay by uitnemendheid Elize Botha se uitdrukkingsvorm is!

Onvoltooide gesprekke, maar genadiglik gesprekke wat deur ‘n kundige en fyn leser soos Heilna du Plooy versamel is.

Die boek sluit dan af met ‘n kort nota van Hennie Aucamp op 7 November 2007:
Liewe Elize
Ek stuur gedagtes en gebede na jou toe uit. Jy was dikwels die sentrum van die groot gebeurtenisse in my lewe, en hiervoor sal ek jou altyd dankbaar bly. Hennie
© Joan Hambidge

Sunday, April 9, 2017

Hennie Aucamp – Die laaste wals (Johann de Lange, samest.) (2017)



Resensie. Hennie Aucamp – Die laaste wals (Johann de Lange, samest.). Tafelberg, 2017. ISBN 978-0-6240-8240-8

Resensent: Joan Hambidge

Die versameling is ‘n keuse uit Hennie Aucamp se verhaalkuns saamgestel deur Johann de Lange. ‘n Jaar voor die bekende kortverhaalskrywer se dood, gee hy ‘n notaboekie persent aan sy vriend, die skilder Jan du Toit. Hierin is daar ‘n lysie opgeteken van sy persoonlike keuse uit ‘n imposante oeuvre. De Lange as literêre eksekuteur het toegesien dat sy wens uitgevoer word. En omdat die meeste van hierdie bundels alreeds uit druk was, kon hy hierdie taak dus verwesenlik.

En wat ‘n wonderbaarlike bundel is dit nie! Wanneer verhale in bloemlesings saamgesnoer word, kry hulle ander en nuwe betekenisse. Verder word die leser ook gedwing om verhale, klassiek of “ouderwets”, opnuut te besoek.  Elize Botha het dit immers al in Een kraal saamgeplaas in 1983. Nou is dit ‘n laaste wals en die dansbeeld (vanaf die eerste verhaal en “Die Caledonner” tot by “Vir vier stemme”) aktiveer immers passies, beheer, drif …

Aucamp se taalgebruik en styl is al by herhaling geloof. Met hierdie lees word die lees voortdurend blootgestel aan ouderwetse woorde (“verbolgenheid” vir woede; mals, bogte, onbesuisde …).

En sy mensekennis is opvallend. Hy kan gewoon ‘n verhaal vertel, omdat hy die la condition humaine ken. Verhale wat ‘n mens bybly om die lewenswaarhede wat weergegee word.

“In die hartseerwals” (uit die gelyknamige bundel van 1965) is dit die potsierlike, vet, dom Hetta (destyds magistraal verfilm) wie se ellende nie verwoord kan word nie wanneer die wewenaar haar oorsien:
Sy wens sy het net treurige plate gehad, maar nou het sy net één treurige plaat en hy is nie treurig genoeg nie. (15)
In “Die baadjie sonder einde” uit Dalk gaan niks verlore nie, 1992 – ‘n verhaal wat so Tsjekofiaans is as wat kan kom – word die geskiedenis en lewensloop van ‘n baadjie beskryf. 

Of die wraak van ‘n jongeling in “’n Piazetta in privaatbesit” opgeneem in Gewis is alles net ‘n grap, 1994. Hier ondersoek Aucamp die mentor-student-verhouding op ‘n pynlik-eerlike wyse en hoe die jongman eintlik wil wraak neem oor die lewe wat hy nie kon uitleef nie. Hy het wel ‘n vrou en twee kindertjies; maar dít wat hy begeer het, is hom nie beskore nie. Hierom is die slot ironies: Karel is nie die werklike wenner nie, ofskoon hy oënskynlik die ouer, gay-man troef met sy gelukkige gesinnetjie.

Dit is waarskynlik alreeds ‘n cliché om  Aucamp se “Vir vier stemme” (Volmink, 1986) as magistraal te beskryf. Hierdie komplekse “boeregrap” waarin ‘n straight man, Beimen Botes, om die bos gelei raak deur ‘n “vrou”, is vintage Pedro Almódovar-materiaal soos sy jongste rolprent Julieta (gebaseer op ‘n Alice Munro-verhaal, maar verplaas na ‘n Spaanse landskap) bewys.

En om Munro te vermeld, is tersaaklik. Aucamp se verhale dra ‘n kwaliteit van háár bestes: mense vasgevang in ‘n lewenslot of uitgelewer aan fata met die landskap as ‘n broeiende mede-verteller. ‘n Mens dink hier aan die Stormberge, ‘n ruimte van uiterstes: die “backdrop” waarteen menslike drama gekaats word.

Daar word dikwels geskryf dat kortverhaalskrywers soos digters dink en struktureer. Dit sien ‘n mens ten beste in die verhaal “Portret van ‘n ouma” (Spitsuur, 1967)  met sy herhalende beelde en skerp metaforiek en simboliek:
Die nag voor die einde het sy in desperate pyn of ’n bedwelming teen die bedtafeltjie geval en haar oog gestamp. Die volgende dag was dit pers en blou en groen, en ek onthou dat ek die gevoel gekry het: die Alsiende Oog lyk só.
God het sedertdien uit baie oë na my gekyk, maar nooit weer so streng soos toe nie. (34)
Die verhale wat Aucamp sélf geskies het, word vir die leser met 'n ikoon aangedui. HA met ‘n veertjie asof dit ‘n inkpotjie is. Aucamp, terloops het met die hand geskryf. Al sy tekste is deur ‘n ander persoon oorgetik en hierom vind ‘n mens nooit ‘n oorhaastige woord of ‘n beduimelde sin nie.

Aucamp het die Afrikaanse letterkunde op verskeie maniere verryk en verruim. Ook sy teoretiese werke verdien vermelding (soos Kort voor lank) of sy essays oor die kabaret (Koffer in Berlyn). 

Maar dit is verhaal sy verhale oor gay-sensibiliteit en die oorspryf van die “annerster soort” wat jonger skrywers geïnspireer het. Die triadiese verhouding tussen Prinsloo, Aucamp en De Lange word in die kortverhaalbundel Vreemder as fiksie (1996) deur De Lange onder die loep geneem.

Die kortverhaalbundel van Johan en Ria Smuts wat Die helder oomblik (2016) heet, tree duidelik ook met Aucamp in gesprek. 

Ek is ‘n liefhebber van die kortverhaal as genre. En hoe jammer dat dit as ‘n “vingeroefening” gesien word deur sekere kommentators hier te lande. 

Borges is in die tagtigerjare vertaal deur Sheila Cussons in die verruklike Die vorm van die swaard en ander verhale. 

Ek verwys opsetlik Na Borges, omdat Aucamp se verhale, soos Borges se stories, boere-stories oorvertel en met klassieke modelle in gesprek tree. Aucamp se kortverhale bewys die hibriede aard van hierdie genre.

En Aucamp laat ons ook kyk na die werk van Dave Eggers of die kortste kortverhaal geskryf deur Ernst Hemingway:
For sale: Baby shoes. Never worn.
Tans word daar 'n debat op Litnet oor Toon van den Heever se "Werkstaking by die kleigat". 'n Mens wonder hoe Aucamp op hierdie bydraes sou reageer met die wete dat 'n teks binne sy tyd en konteks gelees moet word.

Alex Emsley se omslagontwerp vang Aucamp goed vas:  die kenner van die opposisie tussen die volmaakte en die verminkte: die Volmink.