Showing posts with label Carel van der Merwe. Show all posts
Showing posts with label Carel van der Merwe. Show all posts

Monday, October 19, 2015

Carel van der Merwe – Donker Stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog (2015)


Carel van der Merwe – Donker Stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog. Tafelberg Uitgewers, 2015. ISBN 978 0 624 07342 0

Resensent: Joan Hambidge

Deel I

I

Op die skutblad word Joseph Chamberlain (1901), die Britse minister van kolonies tydens die Anglo-Boereoorlog se siening van Marais aangehaal: “Since I wrote last I have seen Mr Marais. He is a very intelligent man & made a considerable impression upon me”. Hierdie mitiese figuur het al etlike reaksies ontlok, onder andere van digters binne die Afrikaanse letterkunde. [1] Leon Rousseau se Die groot verlange bly ‘n baken waarop ander skrywers oor Marais kon bly werk; ook Van der Merwe wat verwys na die “aangrypende verhaal” wat in 1974 verskyn het en die saad geplant het vir sy studie.

Die soektog na leidrade in Londen in 1964 het vir Rousseau niks opgelewer nie; dit was asof iemand al die spore doodgevee het, of anders was die leidrade vals. [2]

Wat egter in daardie vyf jare gebeur het, word Carel van der Merwe se verslag.

Dit is ‘n uitstekende genuanseerde blik op die komplekse figuur Marais. Hy skroom nie op dubbelpratery uit te wys nie en veral verminder hy nie die bydrae van Leon Rousseau se eerste biografie. Trouens, alle studies daarna bou voort op hierdie baanbrekende werk en dit is jammer dat sommige navorsers nalaat om in te sien in watter tyd die eerste biografie geskryf en gepubliseer is: ‘n tyd lank voor gesofistikeerde elektronika.

Carel van der Merwe wys ook na die impak van die morfienverslawing.


II

In hierdie uitgebreide studie vol endnote word die leser veel wys oor die komplekse verhouding met Paul Kruger en Milner. Op bladsy 384 word die volgende brokkie meegedeel, wat vir hierdie leser belangrik is. Leserskring, RSG en BY het in 2011 en 2012 ‘n landswye kompetisie uitgeloof om die gewildste Afrikaanse gedigte uit te soek. Ofskoon die meeste digters gevoel het dat dit outydse refleksie was van die Afrikaanse digkuns en beslis nie verteenwoordigend van die jongste strominge nie, maak Van der Merwe ons attent op die volgende belangrike aspek van hierdie versameling. Uit die byna 1300 gedigte wat genomineer is, het “Winternag” die eerste plek behaal. En, beklemtoon Van der Merwe, vyf van sy gedigte is opgeneem in hierdie seleksie, merkwaardig veral as ‘n mens in gedagte hou hoe “relatief karig” sy oeuvre is. In die endnoot 306 noem hy die ander gedigte:

“Die dans van die reën”, “Mabalêl”, “Skoppensboer” en “Diep rivier”.

Met die 100-jarige viering het Johann Lodewyk Marais ‘n bloemlesing saamgestel met reaksies en palinodes op “Winternag”. Dit het by Praag verskyn in 2006. (HONDERD JAAR LATER – Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905Besoek 19 Oktober 2015)

Vir my bly “Skoppensboer” en “Diep rivier” twee gedigte wat my inspireer.
0, Diep Rivier, 0 Donker Stroom,
Hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom,
Die lem van liefde wroegend in my hart?
In jou omhelsing eindig al my smart;
Blus uit, 0 Diep Rivier, die vlam van haat,
Die groot verlange wat my nooit verlaat.
Ek sien van ver die glans van staal en goud,
Ek hoor die sag’ gedruis van waters diep en koud;
Ek hoor jou stem as fluistering in ‘n droom,
Kom snel, 0 Diep Rivier, 0 Donker Stroom.
En albei belangrike studies vind hul titels in hierdie gedig. Jeanne Els se studie oor selfmoord noem sy As die stroom jou vat: Die raaisel van selfmoord (Tafelberg, 2011).

 

Endnote:

[1] Johann de Lange uit Wat sag is vergaan (Human & Rousseau, 1995).

Eugène N. Marais (1871-1936)
To-morrow, and to-morrow, and to-morrow,
Creeps in this petty pace from day to day . . .
William Shakespeare

Skraal man met die spierwit pak & skoene,
wit panamahoed,
met jou grys
oë, effens geboë
wasbleek neus, ek dink aan jou
in die reën & nat
suurgras met jou honger soos ‘n pyn
waar jy die raar

twaalfboor rig op jou bors, & jou hart skrams
tref, nóg dieper kwes.
Die tweede
loop diep in jou mond
trek jy sonder aarseling
af, & die eggo
sprei deur die triestige bosveldreën,
die druipende

blare van die karee bokant jou lyk.

Alle bewussyn is pyn, wis jy seer
bewus, swewend aan
die silwer
punt van ‘n spuitnaald,
jou panasee teen die syn;
die groot verlange
na ‘n blyplek sewe hemels bo
die sewende.

Van Tierra del Fuego tot aan die ys-
vlaktes van Groenland,
van die Kaap
tot Wladiwostok
hoor pelgrim & Bedoeïen
die smeekkreet wat jou
dag ná dag in geil nagmerries lok:
“Morfien! Morfien!”


[2] My gedig is ‘n palinode op die skitterende vers van De Lange. Joan Hambidge uit Lykdigte (Human & Rousseau, 2000):

Eugène N. Marais (1871 - 1936)
Daar is niks wat jy liefhet wat nie van jou weggeneem sal word nie.
Dorothy Parker
                                                       
I

Hoe durf ek skryf oor jou: ‘n onbekende?              
Gereduseer tot ‘geval’, morfinis, afwykende...
Boonop in ‘n onbekende tyd...
Hoe kan  ons ooit in ‘n gedig regstel
dit wat jou ontneem is (soos ‘n ongeskryfde gedig)
en aan jou toegedig word: ‘n lewe in ‘n verkeerde tyd,
ruimte, dimensie - jou tyd vér vooruit?

II

Die vers broei wekelank in my.
Jy is meer as ‘n ‘groot verlange’;
gestol in die agterruimte van ‘n kleinlike tyd
sien jy alreeds die onbewuste in ‘n miernes;
weet die enkeling is ontersaaklik
vir die groter geheel.
Iets onsigbaars, onsêbaars (noodlot het geen dekorum)
bly talm: hesperiese flitse van verdriet.

III

Daar word beweer die jongste van dertien
‘n Vervloekte met ‘n Kaïnsmerk:
Onsigbare, tastende Derdeoog.
Doodsbalju, kroonprins van die hel
besef as klein kind die wonderwerk van vooraf
weet: ‘n kooltjie vuur stig ‘n bosbrand aan.
(N)iemand kon die lyne in jou palm lees:
die selfmoordenaar, ‘n swart forel, beur stroomop.
Wis van jongs af sy verdoemende lot:
stuur af op ‘n swak gerepeteerde slot.

IV

Iewers vertel die heldersiendes kan ons vervloektes red:
bevry al die visse in die see...
Alles begin oënskynlik met ‘n spel: die smokkel
met sinne eers ‘n heling teen insomnia;
later ‘n nuttelose panacee teen senu-uitputting,
Die dobbelsteen bly verkeerd val;
die kaarte wys ‘n ómgekeerde Skoppensboer.

V

Dit staan geskryf teen die tempels
in moeilik-ontsyferbare hiërogliewe
teen die graf van Ramses II
dat vrede vir die vervloekte wél bestaan.
“Daar sou ek vrede weer besef
waar Tebes in die stil woestyn”...
Die gedig skryf sigself; vang die boodskappe
uit die ander oord onbevange op.
Laasnag droom ek van jou - met jou panamahoed
en dandy-pak in Egipte: 

VI

“O Diep Rivier, O Donker Stroom,
Hoé lank het ek gewag, hoe lank gedroom
Die lem van liefde wroegend in my hart?”
Vir jare sou die koors van berou, verwyt
om jou hang en elke geliefde of flirtasie
weer daardie eerste verlies uitspeel:
‘n droewe deuntjie op ‘n outydse pianola..
En toe jou moeder sterf, in in teen die Groot Niet
kon sy jou ook nie vertroos; net verder ontstig
met haar doodswoorde: “Daar’s niks.”

VII

Ses dekades later in die wagkamer
tussen hier en die on-sienlike Daar
wonder ek: hoe kan ‘n mens jou verlos?
Spiritiste meen mens bly gevange:
herhaal die skoot oor en oor
soos ‘n teisterende droom
sonder logiese begin of einde
maar met die flitsende boodskap:
“O, Diep Rivier, O Donker Stroom...”

VIII

Met drif het jy jou somberheid uitgeleef:
jou pennehouer ‘n skedel...
Die verlies van die verswygde liefde:
soos die pik van ‘n slang.
‘n Wond wat sweer word kouevuur.
Verswelg in koorsdrome ont-
glip jy tydelik: ‘n kobra in deurskynende glas.
Was dit swak-geskommelde kaarte?
‘n Kruis en munt?
Opsluit moes jy dobbel, die dobbelstene skud
in teen die donker dieptes van die stroom:
‘n Walvis sluk jou heelhuids in.

L’envoi

IX

Van gesoignéerde, strydvaardige joernalis
gedemoveer tot bedremmelde, behoeftige boemelaar.
Is daar nog trane vir poësie?
Of leef jy nog in die selfgeskepte hel
van sinsbedrog, ‘n noodlotsroep?
Vanaand swem al die visse
van die Tierra del Fuego tot Groenland,
van die Kaap tot Wladiwostok
en roep: “Hy’s bevry, hy’s bevry!”

© Joan Hambidge

Sunday, February 3, 2013

Carel van der Merwe - Geldwolf (2009)



Carel van der Merwe. Geldwolf. Umuzi, RandomHouse, 2009. ISBN 9781415200773. 


Resensent: Joan Hambidge

Carel van der Merwe het gedebuteer met die roman Nasleep in 2007, ‘n besondere debuut. Trouens, dit is vreemd dat hierdie boek net kortlyste vir verskeie pryse gehaal het – soos die UJ-prys (vir die Afrikaanse weergawe), terwyl die Engelse weergawe No man’s land op die kortlys was vir die M-Net-literêre Toekenning en die Commonwealth Writer’s Prize. Miskien het dit te make met die feit dat hy sowel in Afrikaans as Engels skryf en dat die kritiek nie mooi weet hoe om hom te hanteer nie. Die Afrikaanse letterkunde kan dikwels nie skrywers wat buite die klein vakkies waarin skrywers geplaas word, reg inskat nie. Die jongste roman heet Geldwolf en dit verskyn terselfdertyd met ‘n Engelse weergawe: Shark.
Die skrywer het in 2005 ‘n MA in Skryfkuns aan die Universiteit van Middlesex behaal en dit is duidelik dat hy weet hoé om ‘n storie te vertel.

Stephen Winter is ‘n sakeman, meer spesifiek ‘n ryk sakeman. Sy herehuis is R50 miljoen werd. Hier woon hy saam met sy beeldskone (trofee)vrou en hy onderhandel met die regering vir ‘n transaksie van R50 miljoen.

Geld en gierigheid is een van die doodsondes, weet ons en die roman aktiveer dan ‘n spanning tussen dit wat die hoofkarakter begeer en ‘n onderwêreld waar mense korrupsie pleeg. Trouens, enige leser weet vandag in welke mate politieke figure nie skroom om hul mag te misbruik vir eie gewin nie en nou onlangs beleef ons selfs ‘n interdik teen ‘n biografie wat sinspeel op politieke vuilwassery.

Geld wat stom is, maak alles reg wat krom is.

En Stephen Winter word in hierdie proses gekonfronteer met homself en sy eie verlede. Hy was eers ene Winterbach en wanneer ‘n skoolvriend hom herken, is hy ontstig.

Die roman begin met ‘n motto van Balzac (“Behind every great fortune there is a crime”) en die vraag is: waarom is dit nie in Frans en dan in Afrikaans weergegee nie?

Die skrywer vertel helder en pakkend. ‘n Besoek aan ‘n clairvoyante word in besonderheid vertel. Ons kan die muwwe omgewing sien en ruik. Ons weet presies hoe die hoofkarakter motor bestuur. Ons beleef alles dus van binne af.

Dit is ‘n tipiese ‘rags to riches’-verhaal met ‘n spanningslyn wat jou laat duisel. Die outeur weet kennelik baie van die sakewêreld en ons sien as’t ware die kaartehuis van hierdie geldmagnaat wat in duie stort. Die redes vir sy dryfkrag word algaande vir die leser duidelik: ‘n ongelukkige jeug wat diep wonde laat. In sy verhoudings – met sy kinders, sy eksvrou en lewensmaat – bly hy in beheer. Hy skep die reëls waarvolgens alles gespeel kan word.

En dan ‘n transaksie waarin hy nie die implikasies kon voorsien nie, laat sy lewe skielik uit die veilige, suksesvolle baan swaai.

Die roman is vlot geskryf en dit is nou maar eenmaal so: Carel van der Merwe kan ‘n storie vertel. Hy werk dikwels met implikasie. Die vader se ontmoeting met sy seun, ‘n begrafnis van sy dogter, ‘n telefoongesprek met sy eksvrou, die vrees wat van hom besit neem wanneer hy besef dat hy verraai is, maak van die boek ‘n kragtige vertelling. Ons deurgaans bewus van ‘n mens met innerlike konflik en woede. Sy waarneming van ander karakters is dikwels onsimaptiek en kil.

Op twee plekke het die komputer woorde verkeerd afgebreek en Tolstoy word eers op syn Engels dan op syn Afrikaans gespel (234). 

Hy is ‘n karakter wat feite bo fiksie verkies, weet ons uit sy eie onderhandelinge met ander mense. Vir hom gaan dit alles om onderhandelinge en uiteindelik: oorwinning.

Die slot is waarskynlik vir die leser van spanningsverhale ‘n verrassing, veral met die Bybel as interteks hier.

Dit is ‘n vlot geskrewe roman wat my enduit geboei het. Ek het dit letterlik in een aand deurgelees en geniet.

Slim spanningsverhale het hul plek op my boekrak. Carel van der Merwe staan langs 

Raymond Chandler, Ian Fleming en John le Carré.

Die roman is uitgegee deur Umuzi en beslaan 254 bladsye.

‘n Onneersitbare roman.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]

Monday, January 21, 2013

Carel van der Merwe - Skaduwee (2012)




Carel van der Merwe. Skaduwee. Umuzi, 2012.

Resensent: Joan Hambidge

Carel van der Merwe het hom binne ‘n kort periode gevestig as ‘n skrywer van spanningsromans soos Nasleep en Geldwolf. Hy het die gesogte Eugène Marais-prys verower.  Die skrywer skryf sowel in Afrikaans as Engels. Ek is op rekord dat ek Geldwolf in een sitting deurgelees het.

Die jongste roman word gepubliseer deur Umuzi en het al die bestanddele vir ‘n ontsnappingsroman. Paul du Toit het hom in die Verenigde Koninkryk kom vestig. Hy is ‘n man met ‘n verlede wat Suid-Afrika tien jaar gelede verlaat het. Hy is middeljarig, geskei – boonop is sy werk vervelig en sy huidige verhouding werk nie. Alles dus aanwysings dat hy oop is vir iets nuuts (gevaarliks) en eintlik psigies ‘n bietjie onstabiel dus. Wanneer hy dus ‘n opdrag ontvang van ‘n ryk Londense finansier wat hom terugneem na SA, dus die ruimte waarheen vandaan kom, besef die leser instinkmatig – en veral die leser van spannings- en misdaadverhale of –films – dat die karakter binne ‘n gevaarlike ruimte gaan inbeweeg.

Nou onlangs het ek die eerste drie reeks gekyk van Damages met Glen Close as die onoortroffe, meesterlike en bedriegende Patty Hewes. “Cliff hangers” wat van een episode na ‘n volgende geskep word, sorg vir spanning. Boonop is die storieplan meesterlik uitgewerk – byvoorbeeld: sy het ‘n seun uit ‘n vorige verbintenis wat dus as’t ware ‘n “oop plan” laat vir ‘n volgende reeks. Nou weet jy: die volgende skurk/booswig/kliënt gaan (moontlik) die vader wees. En so is dit dan. Maar wag. Kom ons kyk na presies waarom Carel van der Merwe so suksesvol is.

Die spanningsverhaal word gelaai met persoonlike waarnemings. Ons sien dus die binnelewe van die hoofkarakter en hoe hy ontuis voel binne sy verhouding met ‘n lewensmaat wat pas swanger geraak het. Hy onthou ook sy mislukte huwelik en in die opdrag om ‘n jong meisie se bewegings te monitor, neem hom in donker areas in. Sy gewelddadige optrede – in ‘n onbesonne oomblik aan die begin van die roman – word ‘n ander spanningslyn wat die leser laat voortlees.

Hierdie soort romans word nie om dowe neute nie as “page turners” beskryf, omdat ‘n mens agter die oplossing(s) aanlees. Die eksterne en interne spanninge van die hoofkarakter bepaal dus die plotlyn van die roman. Terselfdertyd is dit meer as spanningsverhaal, omdat die karakter nie bloot oppervlakkig waarneem nie. Die skaduwee van die titel verwys inderdaad na die proses van liminaliteite of grense wat telkens oorgesteek of verken word. In Jungiaanse terme is dit ook dit wat hy probeer onderdruk of verdring in sy quest. Die skrywer gebruik dus die struktuur van die spanningsverhaal wat gelaai word met sterk sosiale en politieke kommentaar soos hoe vreemdelinge voel in Londen en die grondkwessie in Suid-Afrika.

Ek beveel hierdie roman aan vir alle spanningsverhaallesers – daardie tipe wat Le Carré se loopbaan gevolg het en presies weet wat die formules (en afwykings) behels.
Paranoia, emosionele en fisieke uitdagings en die quest maak van hierdie roman ‘n hoogs leesbare teks.

[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]