Showing posts with label Pharos. Show all posts
Showing posts with label Pharos. Show all posts

Monday, October 24, 2022

Resensie | Anton Prinsloo e.a. – Spreekwoorde en ander segswyses | Pharos, 2022

Anton Prinsloo, Leon de Stadler en Amanda de Stadler – Spreekwoorde en ander segswysesPharos, 2020. ISBN: 9781868902194  

Resensent: Joan Hambidge

 

Om taal- of woordeboeke saam te stel, is uiters belangrike werk. Die boek word bemark as gesaghebbend, gerekend en betroubaar. Hiermee moet ‘n mens volledig akkoord gaan.

 

Hierdie naslaanbron van wyle Anton Prinsloo en die egpaar De Stadler is ‘n absolute moet vir elke skrywer, taalpraktisyn en onderwyser. 

 

En taal verander en pas aan. So vertel my buurvrou my dat die Afrikaanse ekwivalent van Not my monkey, not my circus is glo Nie my hol nie, nie my drol nie. Ons wil nie nou ongegeneerd of ongelik wees nie, maar onse taal sit vol van die ongeskikte en vuige uitdrukkings (313).

 

Ongelik letterlik ongelek. ‘n Beer wat nie deur sy ma glad gelek is nie.

 

Of soos die Boere-spreekwoord lui: dis soos ‘n poep in ‘n hysbak. Jy kan nie ontsnap uit die situasie nie. En ons idiome is dikwels op die man af. Soos jou staldeur staan oop (raai!).

 

Hierdie leser lees en bestudeer woordeboeke en grammatika-boeke. Een van Afrikaans se belangrikste digters Boerneef, was ‘n woordeboekman. Ons ken sy werk in die Tweetalige Woordeboek en sy skitterverse in Vlettervlie en Koesnaatjie en Op my Flottina. Wyle Annette Snyman die digter van Klein rondreis (1981) het taalkundige kwessies doseer aan die hand van Boerneef-gedigte in 1975 in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy was die eggenote van die semantikus, wyle Henning Snyman wat op sy beurt implikasie in ‘n gedig kon rááklees.

 

Hierdie resensie wil nie onderhands wees nie, maar eerder onderstreep hoe belangrik hierdie Pharos-publikasie is. Dikwels word woorde verduidelik aan die hand van Nederlands of selfs fabels. Oorlams (skelm) word herlei na Van Riebeeck se dagboek (323). So alvorens ek ‘n oorkonkel kry oor hierdie woord wat tans as kwetsend of rassisties beskou word, gaan lees gerus presies waar dit sy oorsprong had: iemand wat lank terug na die Ooste gegaan het en dus baie ervaring opgedoen het …

 

Ouwywepraatjies (330) is vandag neerhalend vanuit ‘n genderposisie. Maar hokaai: ons kan nie die taal met Jik skoonmaak nie. Sekere woorde is deel van ons geskiedenis, soos in die haaneier trap. (Jammer manne). En natuurlik bly die vraag altyd: het die sogenaamde cancel culture ons dalk so oorsensitief gemaak dat ‘n mens dikwels bang is om ‘n ou Afrikaanse gedig te behandel, omdat iemand ge-trieger kan word?

 

Moet my asseblief nie katkiseer nie, maar taal beweeg, transformeer, verander en dis wat hierdie boek presies uitwys. En ‘n mens kan helaas nie die oseaan in ‘n visbak sit nie. Of die oseaan leegdrink nie. Die knoop sit aljimmers aan die einde van die riem. So vergewe dat my assosiasies jou, liewe leser, dwing om in my kielsog te vaar.

 

Alle grappies op ‘n stokkie.

 

Sekere woorde is sosiaal of lekties gekodeer. Ander is aan alle sprekers bekend. Opwindend om te ontdek hoeveel woorde se oorspronge jy nie mee bekend is nie. Soos: kier. Op ‘n kier is effens oop. (‘n Kier is die smal opening tussen ‘n deur wat nie heeltemal toe is nie, en die kosyn.) 

 

En opnuut die verskil tussen braaf en dapper. En terloops, ‘n mens praat nie van tou in die huis van die gehangde nie.

 

Die handige indeks help enorm in die soektog na die Engelse ekwivalente of verklarings. En die Bybelverwysings onderstreep hoeveel van onse spreekwoorde ontleen is aan die Bybel.

 

Daar is 10 765 idiome en uitdrukkings met 1400 nuwes bygewerk. Wat ‘n enorme prestasie.


Dit wil gedoen wees. ‘n Voetval vir hierdie samestellers. En aanvaar my lofrede voetstoots.


En veral is hierdie boek vir al die windorrels in Afrikaans wat stunning en amazing gebruik, terwyl daar heerlike woorde in Afrikaans bestaan. En nou: mag woorde heerlik wees? A, moet dit smaak of proe?


Hiep-hiep hoera.

 

Wednesday, August 9, 2017

Resensie | AWS (2017)

AWS – Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Pharos, 2017. ISBN 9781868902071.

Resensent: Joan Hambidge

Waar begin 'n mens om so 'n belangrike teks te resenseer? Dit is die 11de omvattend herbewerkte uitgawe - met 'n stieker wat 100 jaar aandui op die titelblad.

By die bekendstelling was Magdaleen Krüger van RSG in gesprek met twee taalkenners. RSG doen geweldig baie om Afrikaans in 'n taalprogram op 'n Sondagoggend by luisteraars uit te bring.

Taalliefhebbers bely dikwels dat hulle woordeboeke of grammatikaboeke lees vir die plesier. Hoe dan anders! Ons kan nie bestaan sonder woordeboeke of aanwysings nie. Die monnikewerk van Ernst F. Kotzé se Afrikaans/Japannese woordeboek (2016) verdien al die erkenning en lofredes denkbaar.

Met die skryf van hierdie bespreking lees ek 'n onderhoud op die Versindaba webwerf waar die onderhoudvoerder praat van "Watter kragtoer!" in plaas van "Wat 'n kragtoer!". Nou sal Gerhard van Huyssteen, 'n goeie rubriekskrywer, waarskynlik meen dis die spreektaal se impak op die meer formele segswyse. Met die bekendstellingsfunksie het hy ook gewys op aanpassings en hoe woorde opgeneem word. (Huidiglik, daardie liederlike Naas Botha-isme, is nog nie aanvaar nie. En dit sal gelukkig ook nie gou gebeur nie, vertel Gerhard van Huyssteen. Taalkenners staan dit teen.)

"Vanself dus wil ons sôre dat ons taal in ieder opsig tot sij reg kom," staan dit opgeteken in die 1917 AWS.

Nou het ons 'n woordelys met meer as 34 000 woorde, 'n bylae (nuwe afdelings oor geldeenhede, Plekname in die Ooste, elemente in die periodieke tabel, die SI-stelsel, o.a.) met nuwe reëls oor leestekens en trappe van vergelyking.

Die handleiding is lesersvriendelik uitgegee.

Die voorwerk (met historiese oorsigte) is goud werd.

Daar word gekyk na 'n paar belangrike (wel ten minste, vir hierdie leser) kwessies. Soos die gravisteken ('n nagmerrie vir die nie-moedertaalskrywer) en leestekens.

En elke dosent se nagmerrie: skryfwyse (los of vas) en jong studente se hebbelikheid om eerder los as vas te skryf. En die komputer word altyd die skuld gegee.

Ons sal hierdie probleem gou kafloop (197). En nie kaf loop nie. (Daar is 'n volledige lys op bladsye 201 - 202).

Dus die hele kwessie van betekenisverdigting.

Wyle Johan Combrink was een van my besielende dosente in die taalkunde aan die US wat belangrike taalreëls so eenvoudig, dog helder kon tuisbring.

Hy het nie taal doodgemaak nie. Inteendeel. Jy kon as letterkunde-student 'n opstel skryf oor 'n letterkundige kwessie wat jy taalkundig moes begrond.

Oor gemoedelik lokale realisme, byvoorbeeld. Of is ek nou gemoedelik-lokaal-realisties?

Modale werkwoorde kry nie 'n ge- nie: Jy het 'n tekening kon maak (226).

'n Mens glimlag lekker vir die begrip McLachlanisme (Tom-die-taalkenner!) op bladsy 175 en ja, die ellipsteken (beletselteken) word met drie stippels aangetoon: ...

Die tameletjie van leenwoorde is ook hier. Ons praat van soesji, geisja of kibboets wat Afrikaans word. Ander woorde behou sowel die "vreemde" as Afrikaanse spelwyse: colloquim of kollokwium; crux of kruks; chronologies of kronologies (237).

Waar ek wel verskil: schadenfreude (leedvermaak of ellende-applous - my woord) of zeitgeist moet eerder met 'n hoofletter geskryf word in navolging van die Duits (236). Bildungsroman (nie bildungsroman) anders lyk dit of jy nie Duits ken nie.

Inkortings gebeur onder die invloed van spreektaal: mezzosopraan word mezzo; palmboom word palm; faksimilee word faks; asseblief word seblief of 'seblief (233).

Goed om te sien daar staan selfdood opgeteken eerder as die aaklige selfmoord (485). Mag ons koerante en boeke dit ook hul eie maak.

'n Ongelede woord is 'n simplekse woord – aldus die handige terminologielys.

Dit is 'n handleiding wat teen grootdoenerigheid gekant is.

Dit is 'n boek wat elke taalpraktisyn, resensent, skrywer, dosent of onderwyser behoort aan te skaf.

Die leser word vinnig van raad bedien.

Iets om oor na te dink: 'n woord uit 'n ander taal wat anders gespel word as in die oorspronklike, kry soms in die informele tekste 'n geurtjie van humor, spot, vermindering, platheid. Soos baisiekel. Of fakala stryt.

Sommige begrippe word net gedeeltelik ver-Afrikaans:

boots en all
fair en square
finish en klaar
gecollar en getie
gepoeier en gepaint (708)

Dit is 'n seksie boek met baie seksies vir die aanhanger van die sekstet of sekstant, wat sektaries is oor skryf.

Verpligte leesstof. En die handleiding werk. Anders as met daardie aanwysingspamflette vir 'n kamera wat jy besef: dis letterlik uit die Japannees vertaal na Engels en hierom maak dit nie sin nie. Dan gaan lees jy maar Ernst se woordeboek.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)